Ooreenkoms in platinumbedryf kom

jseDie rand het effens verstewig teen die meeste geldeenhede nadat sprake van ‘n moontlike ooreenkoms tussen platinum-maatskappye en stakende mynwerkers bekend geraak het.

Die twee twistende partye sal waarskynlik ‘n ooreenkoms bereik om ‘n einde te bring aan die uitgerekte staking in die platinumbedryf.

Die ooreenkoms sal waarskynlik nog dié week onderteken word. Dit sal die einde beteken van die langste mynwerkingstaking in die land se geskiedenis.

Die rand het tot R10,65 teen die Amerikaanse dollar verhandel nadat Amcu in beginsel ingestem het tot Amplats, Implats en Lonmin se nuwe loonaanbod.

Die aandeelpryse van die drie groot platinumprodusente het Donderdag skerp gestyg.

Die vakbond sê die staking in Noordwes se platinum-gordel sal voortgaan totdat ‘n ooreenkoms onderteken is.

Besware is geopper oor 235 werkers wat gedurende die staking afgedank is omdat hulle nie vir noodsaaklike dienste opgedaag het nie. Vakbondlede van Amcu eis dat die werkers heraangestel word voordat hulle die skikking aanvaar.

Lonmin se werkers het die aanbod in beginsel aanvaar, maar het dië voorwaardes gestel.

Stakende mynwerkers het hul vakbondleier, Joseph Mathunjwa, ‘n mandaat gegee om die maandelikse verhoging van ‘n duisend rand vir die laags-besoldigde werkers oor ‘n tydperk van drie jaar te aanvaar.

Volgens kenners in die mynbedryf, sal die produksie binne ‘n week hervat kan word.

Noudat hulle geslaag het, sal Amcu na verwagting alles insit steun om die land se goudmyne ook by die NUM af te rokkel.

Die vakbond kan binne ’n paar weke ook by goudmyne begin staak, mits ’n aansoek in die arbeidshof in sy guns beslis word, sê arbeidskenners. Die saak is verlede week aangehoor.

Die druk by goudmyne na die Marikana-slagting vir R12 500 per maand, laai op.

Amcu verteenwoordig amptelik slegs 17% van die goudmynwerkers, maar is die grootste vakbond by die land se drie grootste en winsgewendste goudmyne, Driefontein van Sibanye Gold, Mponeng van AngloGold Ashanti en Khusasalethu van Harmony.

Nadat die nuus van die deurbraak in die platinumbedryf rugbaar geraak het, het Numsa verklaar dat die voortslepende staking by Transnet se Ngqura-vragterminaal in Port Elizabeth sal voortduur.

Numsa is amptelik steeds deel van Cosatu, maar dreig sedert die begin van die jaar om uit te stap en het nie deelgeneem aan die ANC se verkiesingsveldtog nie.

Agter die skerms beywer die Numsa-bestuur hulself om van Zuma se netwerk van bondgenote in die vakbondbedryf ontslae te raak.

Die vakbond se nasionale tesourier, Mphumzi Maqungo, het die media meegedeel dat Transnet se bestuurshoof, Brian Molefe se meelopers politieke oogmerke koester.

Molefe verkeer glo onder politieke druk om nie in te stem tot Numsa se eise nie, sê Manqungo.

Molefe het egter die vakbond daarvan beskuldig dat hulle Transnet vir eie politieke gewin wil aanwend.

Mynskagte gaan sluit na taakspan ontbind

Ramathlodi
Ramathlodi

Die regering se taakspan het onttrek uit kortstondige gesprekke om die platinumstaking by te lê, het mynmaatskappye aangekondig.

Die regering se taakspan het Maandag ontbind ondanks pleidooie dat hulle nie die handdoek moet ingooi nie.

Amplats, Implats en Lonmin sal Dinsdag aankondigings oor skagsluitings en verwerkingsaanlegte doen.

Dit volg nadat Ngoake Ramatlhodi, minister van minerale bronne, bekend gemaak het dat hy sy taakspan ontbind.

Ramatlhodi en die taakspan het Maandag die hele dag met Amcu en die drie mynmaatskappye vergader. Die besluit om die taakspan te ontbind en aan die proses te onttrek, is egter vroeg geneem sodat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie, die bemiddeling glo kan voortsit.

Die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, bly steeds heftig gekant teen ’n vrywillige arbitrasieproses.

Amcu se eise en die aanbod vir loonverhogings is glo “heeltemal te hoog om arbitrasie te oorweeg”, het bronne binne die onderhandelingsproses gesê.

Dit wil voorkom asof beide onderhandelingspartye nie besonder gretig is om die geskil by te lê nie.

Die buitelandse NRO, Alternative Information and Development Centre (AIDC), het homself tesame met die EFF in die onderhandelinge namens Amcu ingewurm.

“Platinumprodusente neem kennis dat die gesprekke wat deur die minister van minerale bronne gefasiliteer is ongelukkig ontbind is sonder ‘n uitkoms,” het hulle in ‘n gesamentlike verklaring gesê. “Terwyl die produsente verbind bly tot ‘n onderhandelde skikking, sal hulle nou verdere opsies tot hulle beskikking oorweeg.”

Mynmaatskappye sal ook na verwagting Dinsdagoggend aankondigings maak oor die moontlike sluiting van skagte.

Lede van Amcu staak sedert 23 Januarie en dring aan op ‘n basiese maandelikse salaris van R12 500.

Mynmaatskappye het reeds meer as R21,7 miljard in inkomste verloor terwyl werknemers meer as R9,6 miljard in inkomste verloor het weens die staking.

Minister Ngoako Ramatlhodi het kort na sy inhuldiging die taakspan op die been gebring in ‘n poging om die vier maande lange staking tot ‘n einde te bring.

Ramatlhodi sal Dinsdagoggend ‘n mediakonferensie hou oor die regering-taakspan se onttrekking uit die platinumdispuut.

Myne sal Amcu-aansoek teenstaan om SMS’se te verbied

Joseph Mathunjwa en Ben Magara
Joseph Mathunjwa en Ben Magara

Die platinumprodusente, Amplats, Lonmin en Implats sal Dinsdag ‘n dringende hofaansoek deur die vakbond, Amcu teenstaan.

Amcu het aansoek gedoen dat die platinumprodusente nie meer die stakende mynwerkers per SMS mag kontak nie.

Die platinumprodusente het SMS’se gebruik om die werkers regstreeks oor die nuutste loonaanbod in te lig.

Die uitvoerende hoof van Lonmin, Ben Magara sê tot 67 persent van Amcu-lede het aangedui dat hulle wil terugkeer werk toe, maar hulle vrees vir hul lewens.

Magara sê die maatskappye oortree geen arbeidswetgewing deur die SMS’se uit te stuur nie.

Hy sê ‘n derde van die jaarlikse platinumproduksie is al verlore.

Die platinumprodusent, Lonmin, het die staking in Rustenburg in Noordwes as moordend beskryf. Dit duur reeds 17 weke.

Die maatskappy sê dit kan tot sy ondergang lei indien dit nie omgekeer word nie.

Magara, ‘n Zimabwiër, sê die staking gaan herstrukturering en afleggings onvermydelik maak.

Intussen het die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, by ‘n inligtingsessie oor die mynbedryf en die bykans vier maande oue-staking in die platinum-sektor, sy eie rykdom verdedig terwyl werkers krepeer.

Mathunjwa het gereageer op ‘n berig in The Star dat hy “in luuksheid baai”.

Die koerant het berig dat hy drie BMW’s in sy naam geregistreer het teen ‘n beraamde totale waarde van R900 000.

The Star beweer dat hy ook drie huise besit wat in sy naam is. Een van die eiendomme is ‘n vier-ster gastehuis.

Mathunjwa het ook by die ontbytinligtingsessie gesê dat die minerale van Suid-Afrika aan sy burgers eerste behoort voordat dit na ander lande gaan.

“Die minerale moet Suid-Afrikaners eerste bevoordeel voordat dit tot voordeel van die mense in Londen of waar hulle ook al is, gaan” Mathunjwa gesê.

Hy het gesê demokrasie beteken niks as mense op die grond ly nie.

Sowat 200 Lonmin-myners, onder wie ook inwoners van Marikana, sal Dinsdag in die Ga-Rankuwa landdroshof, noord van Pretoria, verskyn.

Die groep word aangekla van openbare geweld, die besit van gevaarlike wapens en intimidasie.

Die mense is op 16 Augustus 2012 in hegtenis geneem, die dag waarop 34 mense deur die polisie doodgeskiet is.

Nog tien mense, onder wie twee polisielede en twee myn veiligheidsbeamptes, is ook destyds gedood toe die mynstaking in geweld ontaard het.

Aanklagte van moord is voorwaardelik deur die hof teruggetrek.

 

Veiligheid opgeskerp by platinummyne

minesVeiligheid by die land se grootste platinummyne in Rustenburg is opgeskerp nadat sowat 70.000 Amcu-lede vanoggend met ‘n onbepaalde staking begin het.

Veiligheidsbeamptes bewaak tans die ingange van die mynskagte.

Duisende werkers sal na verwagting later vanoggend by die Wonderkopstadion stroom waar die president van Amcu, Joseph Mathunjwa die stakers sal toespreek.

Produksie het gisteraand laat tot stilstand gekom.

Werkers het die skagte van die drie groot platinummyne Woensdagaand verlaat en nie vir die vieruurskof opgedaag nie.

Amcu-lede by goudmyne staak nie saam nie, nadat die Arbeidshof Woensdag uitspraak oor die staking voorbehou het.

Cosatu sowel as Fedusa en NACTU het ‘n NEDLAC-konferensie in Pretoria bygewoon om ‘n gesamentlike strategie te formuleer wat vyandigheide tussen vakbonde kan oplos.

Die president van Cosatu, Sduma Dlamini, sê vakbonde moet byeenkom en hulle verskille bylê.

Hy het ‘n beroep op Amcu gedoen om die konferensie by te woon om te fokus op werklike probleme.

Amcu, Alliansie onder druk

waspDie Werkers- en Sosialisteparty, WASP het die mynwerkersvakbond, Amcu teen sy besluit om Donderdag te staak, gewaarsku.

‘n Woordvoerder van die WASP, Mmametlwa Sebei sê Amcu word nie deur die ander vakbonde ondersteun nie.

Amcu het volgens WASP nie steun vir die staking by ander organisasies in die mynbedryf gewerf nie, wat “rampspoedige gevolge” kan inhou.

Twee senior lede van die mynwerkersvakbond, Amcu het intussen aangekondig dat hulle uit die vakbond wil bedank. Hulle gaan na die mynwerkerskomitees terugekeer waar duisende vakbondlede verteenwoordig is.

‘n Woordvoerder vir die wegbreekgroep, Gadaffi Mdodo sê hul lewens verkeer in gevaar nadat hulle doodsdreigemente ontvang het weens hul besluit.

Dié groep is deur die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, daarvan beskuldig dat hulle geld van die regering ontvang ten einde die vakbond te ondergrawe.

Mathunjwa het glo tydens ‘n saamtrek in Rustenburg in Noordwes die naweek die aantygings gemaak.

Die Werkers- en Sosialisteparty (WASP) het hom by die vakbond Numsa geskaar wat die drieparty-alliansie wil laat ontbind. WASP meen die alliansie se tyd is lankal verby.

Die WASP steun Numsa se oproep om die stigting van ‘n werkersparty heelhartig.

Sebei sê slegs werkersorganisasies saamstaan om die werkersklas te verteenwoordig sal tot voordeel van werkers wees en Numsa se optrede is ‘n stap in die rigting van die ware bevryding van die werkersklas.

Staking kom by Lonmin

Joseph Mathunjwa
Joseph Mathunjwa

Duisende mynwerkers van die vakbond Amcu by Lonmin in Noordwes het op ‘n staking om hoër lone besluit.

Die Lonminmynwerkers op Marikana het eenparig besluit om te begin staak.

Dit is nou die tweede staking in die platinumbedryf.

Werkers het vroeër ook by Impala Platinum besluit om te staak.

Die president van die vakbond, Amcu, Joseph Mathunjwa, sê hulle eis ‘n intree-vlak salaris van R12.500. Die mynbestuur het ‘n 8,5% verhoging aanbied.

Hy sê Amcu sal Maandag ‘n 48-uur stakings-kennisgewing op die mynbestuur bedien. Die werkers sal volgende Donderdag begin staak.

Geen einde is nog in sig wat die sitstaking by die Vlakfontein steenkoolmyn by Ogies in Mpumalanga betref nie. Die werkers het Woensdag begin staak.

Werkers is ontevrede oor voorgenome afleggings.

Amcu sê verskeie kontrakteurs se werkers asook administratiewe personeel, neem aan die staking deel.

Amcu reik stakingskennisgewing uit vir Implats

amcuAmculede is van plan om op te hou werk by Impala Platinum (Implats), die tweede grootste platinumprodusent in die wêreld, ná ‘n stem ten gunste van ‘n staking oor lone.

Die vakbond het Maandag ‘n 48-uur-stakingskennisgewing aan die mynmaatskappy uitgereik.

Amcu is vroeër toestemming gegee van ‘n staatsbemiddelaar om arbeidsaksie van stapel te stuur by Implats, Anglo American Platinum en Lonmin.

Gelyktydige stakings by al drie platinum maatskappye sal ten minste die helfte van die globale produksie van die metaal tref en kan soveel as twee-derdes van Amplats se gesamentlike ondernemingsbedrywighede raak.

Die president van die mynwerkersvakbond Amcu, Joseph Mathunjwa het vakbondlede in Noordwes gevra om nie die vakbond te verlaat nie. Hulle dreig om uit die vakbond te onttrek weens beloftes wat wat die voorsitter glo nie nagekom het nie.

Mathunjwa is vroeër deur vakbondlede by Impala se Skag Ses ontbied, weens die ontevredenheid oor beloftes van verhogings en ‘n landwye staking.

Hy het egter aan die meer as vierduisend werkers ‘n sertifikaat gewys wat hulle toelaat om te begin staak. Verdere vergaderings word vir dié week beplan.

‘n Woordvoerder vir Amcu, Jimmy Gama, wou nie sê hoeveel die werkers vra nie en of hulle gaan afsien van hulle eis dat die basiese loon verdubbel moet word nie.

Mathunjwa sê intussen die beskuldigings teen hom is ongegrond en kwaadwillig, en Amcu sal veg vir ‘n beter salaris vir sy lede.

Die Rand kan onder verdere druk geplaas word weens die salarisstaking by Implats.

Loongeskilsamesprekinge by Zondereinde-myn hervat

northamDie mynwerkersvakbond NUM en die bestuur van Northam Platinum se Zondereinde-myn suid van Thabazimbi, sal samesprekings hervat te midde van die staking wat reeds drie maande duur.

Die staking het reeds R500 miljoen aan verlore inkomste gekos, en werkers het R100 miljoen aan lone afgestaan. Dit kom neer op ‘n kwart van die jaar se produksie wat nog nie gemyn is nie.

Northam is Suid-Afrika se vierde grootste platinumprodusent.

Die twee partye sal byeenkom om die loongeskil te probeer oplos. Sowel die vakbond as die bestuur het die hoop uitgespreek dat ‘n ooreenkoms bereik kan word.

Dit is die enigste myn waar NUM steeds die meerderheidsvakbond is. Amcu het ‘n jaar gelede die posisie as die dominante vakbond in die platinumbedryf oorgeneem.

Northam het vroeër ‘n verhoging van nege persent aangebied wat NUM verwerp het, terwyl die werkers 16% eis en ‘n verdere verhoging van 69% in toelaes.

Die bestuur het die eis as buitensporig beskryf.

Intussen het die mynwerkersvakbond, AMCU berigte ontken dat ontevrede lede wil wegbreek om hule eie vakbond op te rig.

Daar is glo beswaarde groepe in Rustenburg wat van plan is om hul eie vakbond te stig.

Amcu is die meerderheidsvakbond by Anglo American Platinum, Impala Platinum en Lonmin-myne en ontevredenes daar sê die voorsitter, Joseph Mathunjwa, het nie enige van sy beloftes nagekom nie.

Amcu het sy bestaan te danke daaraan dat ontevrede lede voorheen van die NUM af weggebreek het.

‘n Nasionale koördineerder van Amcu het egter gesê die dreigemente van die sogenaamde wegbreekgroep is moeilikheidmakers wat die vakbond wil saboteer.