Petrolprys styg skerp

Die petrolprys sal Woensdag tot 88c per liter verhoog word.

Die departement van energie het Saterdag die verhoging vir April aangekondig vir verbruikers wat reeds sukkel met rentekoersverhogings en die gevolge van die droogte.

Die prys van petroleumprodukte het op internasionale markte gestyg met sowat 52c per liter vir petrol en 61c per liter vir diesel.

‘n Liter 95-oktaan-petrol sal dus nou R12,62 kos en 93-oktaan R12,32.

Die prys van diesel sal ook styg en gas word met R1,10 per kilogram duurder.

Die redes vir die verhoging in Gauteng sluit in die 30c per liter styging van die brandstofheffing wat in Februarie deur die minister van finansies aangekondig is.

Dit sluit ook die styging in vervoerkoste van 5,2c per liter in Gauteng in agv die verhoging in Transnet se pypleidingsheffing wat deur Nersa goedgekeur is.

Die departement gaan Dinsdag die pryse vir die res van die land aankondig.

Rand herstel na rentekoersverhoging

Die Rand het Donderdagaand tot R15,10 teen die dollar herstel nadat ‘n rentekoersverhoging aangekondig is.

Die jongste verhoging beteken dat die prima uitleenkoers tot 10,5 persent styg.

Die Suid-Afrikaanse geldeenheid het Woensdag tot R16,20 teen die dollar gedaal nadat die adjunk-minister van finansies onthul het dat die Gupta-familie by regeringsaanstellings betrokke is.

Mcebisi Jonas het bekend gemaak het dat hom die pos as minister van finansies aangebied het.

Die herstel van die rand kom egter nadat die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, bekend gemaak het dat die repokoers met 25 basispunte tot sewe persent verhoog word.

Kganyago sê die Reserwebank verwag dat inflasie vir ‘n geruime tyd meer as ses persent sal bly en het die jongste rentekoersverhoging verbind aan die risiko’s met die inflasie-vooruitskatting.

Die jongste verhoging beteken dat die primauitleenkoers tot 10,5 persent styg.

Rand vertoon stewiger na rentekoersverhoging

Die rand het dadelik stewigers vertoon toe die Reserwebank Donderdagmiddag rentekoerse verhoog het, maar verbruikers gaan sukkel met hoër skuldafbetalings.

Die Reserwebank het Donderdag die rentekoers met 50 basispunte verhoog nadat inflasie van 6,8 persent in die vooruitsig gestel is.

Die rand het tot R16,15 teen die dollar versterk nadat Lesetja Kganyago, Reserwebankvoorsitter, die bank se repokoers van 6,25% tot 6,75% opgestoot het.

Die vooruitsigte vir inflasie het “aansienlik verswak” sedert November, sê Kganyago, grootliks weens ‘n swakker rand en hoër voedselpryse agv die droogte.

Dié verhoging is moontlik ook nie die laaste verhoging vir die jaar nie.

Kganyago sê sedert die vergadering in November het die rand met 13,5% teenoor die dollar verswak en 15,2% teenoor die euro.

Prima rentekoers van banke staan tans op 10,25%.

Die Reserwebank se inflasie-vooruitskatting van bykans sewe persent kan ook binnekort opwaarts aangepas word wanneer nuwe elektrisiteitstariewe goedgekeur word.

Die Bank sê inflasievooruitsigte is gebaseer op tariefverhogings van twaalf persent.

Die adjunkpresident van die Bank, Francois Groepe sê sodra die Nasionale Energiereguleerder ‘n besluit geneem het oor Eskom se aansoek oor ‘n verhoging, sal die Reserwebank sy model aanpas indien nodig.

Ekonome het Suid-Afrikaners intussen gemaan om hulle skuld so gou moontlik af te los.

Die bestuurshoof van Eerste Nasionale Bank, Jacques Cilliers sê die afbetaling van skuld moet verbruikers se eerste prioriteit wees.

Cilliers het ook gesê dit is onwaarskynlik dat die jongste rentekoersverhoging die laaste sal wees vir die jaar.

Die gemiddelde inflasiekoers was 4,6% in 2015.

Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, het aan Netwerk24 gesê die verhoging maak dit duidelik die Reserwebank het baie meer bekommerd geraak dat inflasie hoër as die boonste punt van sy teikenband van 6% gaan beweeg én dan “teen ‘n hoër gemiddelde vlak ingegrawe word”.

Lings verwag dat die rentekoers verder sal styg vanjaar en eindig op 7,5%.

Ontleders meen hoër rentekoerse sal onvermydelik ten koste van groei en werkgeleenthede geskied.

‘n Swak rand, droogtetoestande en hoër kragtariewe wat met hoë rentekoerse aangespreek word, kan die risiko van ‘n resessie beteken.

Volgens ‘n peiling van nege ekonome deur Bloomberg is die waarskynlikheid dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar vir twee opeenvolgende kwartale krimp, hoog.

Verwagtinge van ekonomiese groei is ook laer. Groei in 2015 was na raming sowat 1,3% en gaan na verwagting slegs 0,9% wees in 2016, in vergeleke met vorige vooruitskattings van 1,5% en 2,1% onderskeidelik.

Die hoër rentekeorse gaan toenemende finansiële druk op verbruikers plaas.

Rentekoersverhogings verwag

Die Reserwebank sal na verwagting vanmiddag ‘n verhoging in die rentekoers aankondig ná die bank se monetêre beleidskomitee-vergadering, het RSG berig.

Volgens ekonome sal die bank ook grootskaalse afwaartse aanpassings in die groei-beramings vir die Bruto Binnelandse Produk bekend maak.

Die komitee se taak word bemoeilik deur die verswakte inflasie-verwagting, die voortslepende droogte, die swakker rand en die verhoogde kragtariewe.

Die meeste ekonome verwag dat ‘n verhoging van 50 basispunte aangekondig sal word, hoewel ander meen dit kan slegs 25 basispunte wees.

Amerikaanse markte het intussen laer gesluit na die aankondiging van die Amerikaanse reserwebank dat rentekoerse in die land nie verhoog gaan word nie.

Die bank sê die besluit is geneem in die lig van wêreldwye ekonomiese en finansiële ontwikkelings. Die Dow Jones het na die aankondiging met 0,39 persent gedaal en die Nasdaq met 0,92 persent.

Barclays wil dalk ABSA verkoop

Dit is Donderdag berig dat Barclays, die Britse bank, aktief op soek is na ‘n koper vir sy Suid-Afrikaanse eenheid Absa.

Die Financial Times van Londen het Woensdag ‘n artikel geplaas onder die opskrif, “Barclays wil terugskaal in Afrika”. Die bank is glo besig om sy “lang teenwoordigheid in Afrika te heroorweeg as deel van ‘n hersiening gelei deur Jes Staley, sy nuwe uitvoerende hoof”.

Die artikel beweer dat Staley, wat die leisels in Desember oorgeneem het, vrae het oor die strategiese toepaslikheid van die “groot Afrika-bedryf”, maar dat geen besluit nog geneem is nie.

Die koerant het bygevoeg dat die hersiening “kom nadat beleggersvertroue in Suid-Afrika geskud is deur ‘n besluit van President Jacob Zuma om sy minister van finansies twee keer in minder as ‘n week te verander terwyl die ekonomie onder geweldige druk verkeer”.

Die Rand het vanoggend bestendig op R15.01 teen die dollar verhandel ten spyte van die besluit van die Amerikaanse reserwebank om rentekoerse die eerste keer sedert 2006, met nul-komma-twee-vyf persent te verhoog.

Ekonome het verwag dat die verhoging die Rand verder teen die dollar sal laat daal. Dit volg kort nadat die Rand en Suid-Afrika se ekonomie geskud is deur president Zuma se skielike afdanking van die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene.

Nene is deur David van Rooyen vervang, wat op sy beurt deur Pravin Gordhan vervang is – alles binne die bestek van ‘n paar dae.

Die Johannesburgse Effektebeurs was Woensdag weens die openbare vakansiedag gesluit, maar Amerikaanse en Europese markte het stewiger vertoon ná die rentekoersverhoging.

Verhoging in repokoers ondeurdag sê ekonoom

Die Monetêre Beleidskomitee se besluit om die repokoers met ’n verdere 25 basispunte te verhoog was ondeurdag.
Dit is volgens ekonomiese ontleder en akademikus, André Mellet.

Mellet meen die aanpassing is vreemd in die lig daarvan dat die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, vroeër vanjaar aangedui het dat groei vooruitskattings afwaarts aangepas sal word.

Inflasie, wat net meer as 4% is, is volgens Mellet tans ook nie ’n probleem nie, wat die repokoersverhoging nog vreemder maak.

Mellet het aan OFM gesê die verwagting bly steeds dat Suid-Afrika swakker groei sal toon, en heelwat swakker as in die begin van die jaar.

Hy het gesê die besluit is daarom teleurstellend.

Chinese aandele daal steeds

Chinese aandele het hul afwaartse pad voortgesit ondanks pogings deur die land se sentrale bank om handelaars te paai.

Die indeks het dié week reeds met sestien persent gedaal wat skokgolwe deur die wêreldmarkte gestuur het.

Die Shanghai-saamgestelde indeks het met 1,1% gedaal nadat die markte vroeër wisselvallig vertoon het.

Onbestendigheid in China se markte het beleggers genoop om groot verliese te beperk na vroeëre skerp dalings regoor Asië en die VSA.

China doen skynbaar alles in sy vermoë om vertroue te herstel sodat beleggers nie Chinese maatskappye straf nie.

Die sentrale bank het aangekondig dat groot banke minder kontantreserwes sal hoef aan te hou vanaf vroeg in September, ‘n skuif wat dit makliker vir banke sal maak om geld te leen.

Die land se rentekoerse is nou laer as met die finansiële krisis van 2009, en vrese dat China se ekonomie vinniger verlangsaam as wat voorheen vermoed is, is nog nie besweer nie.

Die rand het intussen effens versterk teen die Amerikaanse dollar nadat China se rentekoerse afwaarts aangepas is om die slagting in aandeelpryse te stuit.

Die plaaslike geldeenheid het gestyg tot net meer as R13 teenoor die dollar, nadat dit vroeër die week tot sy laagste vlak ooit gedaal het.

Ekonome waarsku nogtans dat die plaaslike ekonomie in die moeilikheid is, met negatiewe groei.

‘n Teleurstellende vertoning van die land se BBP (Bruto Binnelandse Produk) sal dit moeiliker sal maak vir die rand om op die langtermyn spiere te wys.

Die Johannesburgse Aandelebeurs het tot net bokant 2,5% persent gestyg.

Goedkoop olie en onsekerheid of die Amerikaanse Resewebank hul repokoers sal verhoog het ook bygedra tot die onstuimigheid.

In Japan en Suid-Korea het die markte effens hoër gesluit, maar nie in Australië nie.

Rand breek deur laagtepunt teen Britse pond

Die Rand het deur die R20-vlak teen die Britse pond gebreek.

Alle oë is nou op die Reserwebank om op te tree nadat die Rand ‘n nuwe laagtepunt gewys het.

Ekonome sê ‘n depresiasie van die geldeenheid sal inflasie-druk verhoog wat die Reserwebank sal noop om strenger op te tree.

Die Rand het ook tot sy laagste vlak teenoor die Amerikaanse dollar in 14 jaar gedaal. In ‘n stadium het die Suid-Afrikaanse geldeenheid teen R12,82 teenoor die dollar verhandel wat die laagste is sedert Desember 2001.

Dit volg op bespiegelinge dat die Amerikaanse Federale Reserwebank aanstaande maand rentekoerse kan verhoog.

Die groep, London Capital verwag dat die Rand binnekort tot R13 rand die dollar kan verswak.

Dit was nie die enigste geldeenheid wat getref is nie. Suid-Korea asook Maleisië se twee opkomende mark-geldeenhede het laer gesluit te midde van bespiegelings dat die Amerikaanse Federale Reserweraad rentekoerse sal verhoog wat die vraag na meer riskante bates beperk het.

‘n Geringe styging in oliepryse met effekte wat laer geneig het, is aangeteken.

Die volgende groot faktor wat die mark kan beweeg, sal die Amerikaanse betaalstaatdata wees wat Vrydag vrygestel word.

Syfers toon sterk groei in werksgeleenthede wat ‘n gesonder Amerikaanse ekonomie aandui en kan die rand onder groot druk plaas wat ongetwyfeld sal lei tot ‘n rentekoersverhoging in September.

Verbruikersvertroue sak tot nuwe laagtepunt

Onder die invloed van beurtkrag, stygende pryse, inflasie en belastingverhogings is Suid-Afrikaanse verbruikersvertroue besig om in duie te stort. Volgens Eerste Nasionale Bank se Buro vir Ekonomiese Naoversing het verbruikersvertroue die laagste vlak in veertien en ‘n half jaar bereik en sal dit waarskynlik nie binnekort herstel nie.

Volgens kenners plaas dit die Reserwebank in ‘n netelige posisie omdat hy weens stygende inflasie rentekoerse moet verhoog, terwyl so ‘n verhoging die ekonomie nog verder tot stilstand sal laat knars.

Tydens die eerste kwartaal van 2015 was die verbruikersvertroue-indeks op -4, waarna dit tot -15 in die tweede kwartaal gedaal het, grotendeels as gevolg van Eskom se kragonderbrekings. Dié syfer volg op ander wat insgelyks op ‘n swak ekonomie dui, soos byvoorbeeld voertuigverkope wat insgelyks skerp afgeneem het.

Verbruiksersbesteding was die grootste bydraer tot ekonomiese groei in die eerste kwartaal. ‘n Ekonoom van Capital Economics, John Ashbourne, sê dat “indien dié groei-enjin gaan staan, sal die ekonomie tot stilstand knars”.

“Reële verbruikersbestdding sal kwalik meer as 2% groei tydens 2015,” sê hy.

Verbruikers is ondervra oor die verwagte prestasie van die ekonomie, hul finansiële welstand, asook hoe geskik die huidige tyd is om duursame goedere soos meubels, huishoudelike apparate en elektronies toerusting te koop.

Die subindekse oor finansiële welstand en duursame goedere het onderskeidelik met nege en 12 indekspunte gedaal, terwyl die ekonomiese vooruitsigte-indeks met 14 punte tot -24 afgeneem het.

 

Alle bevolkings- en inkomstegroepe het ‘n daling in vertroue weerspieël. Die afname was veral groot onder die laagste inkomste-ingroepe.

Reserwebank sal glo repokoers neutraal hou

Ekonome verwag dat die Reserwebank se Monitêre Beleidskomitee die repokoers onveranderd op 5,75 persent sal laat, het RSG berig.

Die komitee sal dit vanmiddag by sy eerste vergadering vir die jaar bekendmaak. Daar word oor ‘n wye front verwag dat die rentekoers sal styg.

‘n Ekonoom by Investment Solutions, Chris Hart, sê egter in die huidige omstandighede kan die bank dalk sy monetêre beleid neutraal hou.

Hy sê die bank kan moontlik aandui dat daar verlagings in die toekoms kan wees óf dat die koers onveranderd gelaat sal word.

Reserwebank stoot repokoers op

Die Reserwebank het die repokoers met ‘n kwart van ‘n persentasiepunt verhoog.

Gill Marcus, die president van die Reserwebank het die koers tot 5,75 persent opgeskuif.

Sy het inflasie as rede vir die verhoging aangevoer. Die hoër koers beteken dat banke hulle prima uitleenkoers tot 9,25 persent sal verhoog.

Marcus sê die swak rand en uitgerekte stakings hou ‘n risiko vir inflasie-vooruitsigte in. Sy het bygevoeg dat die land vanjaar na verwagting swakker ekonomiese groei sal toon.

Sy sê vooruitsigte vir ontluikende markte, insluitende Suid-Afrika, Rusland en Brasilië bly steeds onder druk.

Marcus sê ondanks die slegte vooruitsigte, het verbruikersvertroue verbasend genoeg verstewig.

Rentekoerse dalk onveranderd uit vrees vir vakbonde

reserwebankDie Reserwebank sal na verwagting rentekoerse dieselfde hou op Donderdag se beleidsvergadering van die monetêre komitee.

Volgens Reuters meen verskeie ekonome dat die stygings dalk later vanjaar aangekondig mag word aangesien inflasiedruk kommerwekkend is.

Hulle meen ‘n verhoging in rentekoerse voor die verkiesing sal invloedryke vakbondvennote van die ANC vervreem en die drieparty-alliansie daardeur verswak.

Die algemene verkiesing vind op 7 Mei plaas.

Die Reserwebank het vroeër die maand stappe gedoen om markverwagtinge van skerp rentekoersverhogings te bestuur na ‘n verhoging in Januarie, en gesê hy sal die beleid stadiger verskerp om die druk op die wankelende ekonomie te verlig.

Drie-en-twintig van die 30 ekonome verwag dat die Reserwebank sy repokoers op 5,5 persent sal laat.

Rentekoerse, erfbelasting dwing huiseienaars om te verkoop

Die gekombineerde aanslag van hoër rentekoerse en verhogings in erfbelasting in sommige groot stede is besig om tot paniekverkope deur huiseienaars te lei.

Dis veral in kusgebiede soos Mosselbaai en Jeffreysbaai waar die verskynsel merkbaar is.

Eiendomme wat die ergste geraak word deur stagnante pryse of selfs prysdalings is dié tussen R500 000 en R15 miljoen.

Sommige eienaars wat verlede jaar hul huise gekoop het, sit nou met sogenaamde negatiewe ekwiteit waar hulle meer op die huis skuld as wat dit werd is. Volgens John Loos van Eerste Nasionale Bank is daar nog nie 'n algemene, landwye daling in huispryse nie, maar indien nog rentekoersverhogings plaasvind, kan dit later vanjaar gebeur.

betting withoutФильчаков