Reserwebank hou repokoers maar haal skouers op oor Guptas

Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê die bank het nie die besluit van die handelsbanke om die maatskappy Oakbay Investments se bankrekenings te sluit beïnvloed nie.

Hy het dié opmerking gemaak tydens die aangekondiging dat die repokoers onveranderd op sewe persent sal bly, het RSG berig.

Die president van die Reserwebank het die aankondiging by ‘n vergadering van die Monetêre Beleidskomitee van die bank in Pretoria gedoen.

Dit beteken dat die prima uitleenkoers op 10,5% persent bly.

Die aankondiging is wyd verwag na Statistiek Suid-Afrika se aankondiging dat die inflasiesyfers beter is as wat verwag is.

Die Verbruikersprysindeks het in April op ‘n jaar tot jaar grondslag tot 6,2% verlangsaam.

Kganyago sê hy is bekommerd oor die verwagte styging in voedsel-en brandstofpryse in die komende maande.

Die land se vier grootste banke het hulle verhoudinge met Oakbay verbreek na bewerings dat sy eienaars, die Guptafamilie, ongeoorloofde politieke invloed by president Jacob Zuma het.

Zuma en die Guptas het sedertdien die bewerings ontken.

Kganyago sê Oakbay se enigste opsie is om hof toe te gaan.

Verhoging in repokoers ondeurdag sê ekonoom

Die Monetêre Beleidskomitee se besluit om die repokoers met ’n verdere 25 basispunte te verhoog was ondeurdag.
Dit is volgens ekonomiese ontleder en akademikus, André Mellet.

Mellet meen die aanpassing is vreemd in die lig daarvan dat die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, vroeër vanjaar aangedui het dat groei vooruitskattings afwaarts aangepas sal word.

Inflasie, wat net meer as 4% is, is volgens Mellet tans ook nie ’n probleem nie, wat die repokoersverhoging nog vreemder maak.

Mellet het aan OFM gesê die verwagting bly steeds dat Suid-Afrika swakker groei sal toon, en heelwat swakker as in die begin van die jaar.

Hy het gesê die besluit is daarom teleurstellend.

Repokoers onveranderd maar Eskom bly kopseer

Die Reserwebank het besluit om die repo-koers onveranderd te laat op 5,75 persent.

Die Bank het egter sy kommer uitgespreek oor Eskom se versoek vir ‘n 25 persent tariefverhoging.

Die president van die bank, Lesetja Kganyago sê so ‘n skerp verhoging plaas druk op die inflasievooruitsig.

Ekonoom Amelia Morgenrood sê Donderdag se aankondiging kom as geen verrassing nie.

Die besluit om rentekoerse onveranderd te laat is oor die algemeen verwag. Die ANC het onlangs gesê hy oorweeg die moontlikheid om Eskom gedeeltelik te privatiseer as ‘n teenvoeter vir die kragverskaffer se geldprobleme.

Die regerende party het ook sy kommer uitgespreek oor die invloed wat skerp tariefverhogings in elektrisiteit op die ekonomie sal hê.

Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganjyago, het gewaarsku dat die swak rand tesame met die voorgestelde styging in die prys van krag ‘n groot risiko vir die inflasie-vooruitsig inhou.

Kganyago sê die jongste voorspellings oor inflasie het nie die voorgestelde 25 persent verhoging van Eskom in aanmerking geneem nie.

Hy sê indien die verhoging toegestaan word kan dit inflasie met ‘n halwe persentasiepunt opstoot.

Ekonome verwag dat die rentekoers ‘n hoogtepunt van tussen elf en twaalf persent kan bereik. Die primakoers waarteen banke geld aan verbruikers leen is steeds 9,75 persent nadat die Reserwebank die terugkoopkoers onveranderd gehou het.

Die Reserwebank het egter gewaarsku dat rentekoersverhogings later verwag kan word weens inflasiedruk.

Rentekoersverhogings sal ‘n negatiewe invloed op verbruikers met baie skuld hê.

Repokoers onveranderd maar inflasie wink

Alhoewel Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, gistermiddag in Pretoria aangekondig het dat die bank sy repokoers onveranderd laat op 5,75%, kan die daling in die waarde van die rand en `n waarskynlike opwaartse neiging in inflasie, die Reserwebank dwing om rentekoerse later vanjaar te verhoog.

Na verwagting sal finansiële druk op verbruikers in April toeneem.

Kganyago het gewaarsku dat Suid-Afrikaners as gevolg van die droogte, meer vir kos gaan betaal. Hy sê die afwaarste neiging van inflasiesyfers is nie volhoubaar nie.

Inflasieverwagtinge in Suid-Afrika het binne twee maande aansienlik gestyg en die Reserwebank voorspel nou 4,8% vir 2015, vergeleke met die voorspelling van 3,8% in Januarie.

Die onveranderde repokoers beteken die prima rentekoers van handelsbanke bly 9,25%.

Vooruitsigte van ‘n swakker rand, hoër mieliepryse, brandstofprysverhogings en lone sal die inflasiekoers beïnvloed en die sentrale bank buite die boonste teikenband van 6% dwing.

Mieliepryse het vanjaar al met 30% gestyg wat vleispryse ook sal laat toeneem.

Aankondigings oor repokoers, PPI en brandstofprys verwag

Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee sal vanmiddag sy besluit oor die repokoers bekend maak. Dit is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke uitleen. Die koers is tans op 5,75 persent.

Die meerderheid ekonome verwag dat die repokoers onveranderd gelaat sal word.

Nog ‘n hoofaanduider sal wees wanneer Statistiek Suid-Afrika die Produksieprysindeks vir Februarie bekend maak.

Motoriste wag intussen angstig op die aankondiging van die jongste brandstofpryse môre.

Aanduidings is dat die brandstofprys aansienlik sal styg. Die styging sal aanstaande Woensdag in werking tree, kort voor die Paasnaweek, het RSG berig.

Reserwebank sal glo repokoers neutraal hou

Ekonome verwag dat die Reserwebank se Monitêre Beleidskomitee die repokoers onveranderd op 5,75 persent sal laat, het RSG berig.

Die komitee sal dit vanmiddag by sy eerste vergadering vir die jaar bekendmaak. Daar word oor ‘n wye front verwag dat die rentekoers sal styg.

‘n Ekonoom by Investment Solutions, Chris Hart, sê egter in die huidige omstandighede kan die bank dalk sy monetêre beleid neutraal hou.

Hy sê die bank kan moontlik aandui dat daar verlagings in die toekoms kan wees óf dat die koers onveranderd gelaat sal word.

Reserwebank stoot repokoers op

Die Reserwebank het die repokoers met ‘n kwart van ‘n persentasiepunt verhoog.

Gill Marcus, die president van die Reserwebank het die koers tot 5,75 persent opgeskuif.

Sy het inflasie as rede vir die verhoging aangevoer. Die hoër koers beteken dat banke hulle prima uitleenkoers tot 9,25 persent sal verhoog.

Marcus sê die swak rand en uitgerekte stakings hou ‘n risiko vir inflasie-vooruitsigte in. Sy het bygevoeg dat die land vanjaar na verwagting swakker ekonomiese groei sal toon.

Sy sê vooruitsigte vir ontluikende markte, insluitende Suid-Afrika, Rusland en Brasilië bly steeds onder druk.

Marcus sê ondanks die slegte vooruitsigte, het verbruikersvertroue verbasend genoeg verstewig.

Swak rand nog steeds ‘oorgewaardeer’

randdollarTerwyl die rand en die Turkse lire reeds ‘n derde van hul waarde oor die afgelope drie jaar verloor het, meen groot oorsese banke dat dié geldeenhede nog verder moet val om dié twee ekonomieë mededingend te maak.

Volgens die Switserse bank UBS AG is die Turkse lire 12 persent te duur en die rand 10 persent. UBS het so pas 22 geldeenhede op grond van hul handelsbalanse gewaardeer en vanweë Suid-Afrika se chroniese handelstekorte is bevind dat ons geldeenheid steeds te duur is.

Die politieke en ekonomiese onrus in Suid-Afrika het politieke risiko’s geskep wat die land onaantreklik vir beleggers maak. “Die rand en lire is steeds te duur,” sê Shewta Singh, ‘n ekonoom vir ontluikende markte by Lombard Street Research in New York. “Dié geldeenhede geval nie vanweë die risiko’s.”

Sowel Turkye as Suid-Afrika se tekorte op die lopende rekening het begin daal van hul rekordhoogtepunte, maar hulle is steeds omtrent twee keer soveel soos ander vergelykbare lande, wat verdere valutaverliese aandui. Opsiehandelaars is mees pessimisties oor die lire op ‘n lys van 31 vername geldeenhede wat deur Bloomberg gemonitor word, ná die Argentynse peso. Buitelandse beleggers is egter vir die tweede kwartaal ná mekaar besig om geld vanuit Suid-Afrika se staatseffektemark te onttrek.

Afgesien van die Argentynse peso, is die rand die slegste presteerder teen die dollar op ‘n lys van 24 ontluikende geldeenhede wat deur Bloomberg sedert 14 Maart 2011 gemonitor word, met ‘n daling van 36 persent. In dieselfde tyd het die Turkse lire met 29 persent afgeneem.

Op 30 Januarie het die rand die laagste punt in meer as vyf jaar bereik toe dit teen 11,3909 teen die dollar verhandel het, alvorens dit op 14 Maart tot 10,6711 herstel het. Die lire is omtrent 3 persent swakker sedert die begin van 2014 en het op 27 Januarie ‘n rekordlaagtepunt van 2,39 bereik.

Die Amerikaanse beleggingsbank Morgan Stanley het verlede jaar in Augustus na die rand en die Turkse lire, tesame met die Brasiliaanse real, die Indiese roepee en die Indonesiese roepia, as die “brose vyf” verwys as gevolg van hul afhanklikheid van buitelandse kapitaal om die tekorte op hul lopende rekeninge, die breedste handelsmaatstaf omdat dit beleggings insluit, te finansier.

Turkye se tekort sal vanjaar tot 6 persent van sy bruto binnelandse produk afneem, vanaf 7,4 persent verlede jaar. Dit sal steeds die hoogste in die Groep van 20 wees, gevolg deur Suid-Afrika. Díe land se tekort word vooruit geskat om vanjaar tot 5,5 persent toe te neem.

Enige voordele van valutadepresiasie is moeilik bekombaar aangesien die langsame groei in Europa en China, die lande se vernaamste handelsvennote, die vraag beprek.

Goldman Sachs beraam dat ‘n verswakking van 27 persent in die rand tot 13,50 per dollar nodig is om Suid-Afrika se tekort tot ‘n “volhoubare” vlak van 3,5 persent van BBP te laat afneem. Daardie vlak is laas in Desember 2001 gesien toe die rand tot ‘n rekordlaagtepunt van 13,8401 teen die dollar geval het. Die Turkse lire behoort 13 persent te daal tot sy allerlaagste punt van 2,50 per dollar, volgens die New-Yorkse firma.

Sedert die Turkse sentrale bank die eenweek-repokoers tot 10 persent vanaf 4,5 persent tydens die ‘n nagtelike noodvergadering op 28 Januarie verhoog het, het die lire met 1,8 persent gestyg. Die volgende dag het die goewernante van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Gill Marcus, onverwags die plaaslike repokoers met 0,50 persentasiepunte tot 5,5 persent opgeskuif, wat  ‘n 6,1-persentstyging in die rand veroorsaak het.

Sedert Desember het beleggers $954 miljoen vanuit die Suid-Afrikaanse effektemark onttrek as gevolg van die mynstakings, terwyl die Turkse korrupsieskandaal daartoe bygedra het dat $1,7 miljard Turkse effekte in die eerste twee maande van 2014 verlaat het.

Credit Agricole SA skat dat die rand min veranderd teen 10,60 per dollar teen die einde van die jaar sal verander, maar voorsien ‘n verdere 8-persentdaling in die Turkse lire tot 2,4 per dollar.

“Turkye en Suid-Afrika het albei ‘n tekort aan mededingendheid,” sê Sebastien Barbe, die hoof van ontluikende-marktenavorsing by Frankryk se derde grootste bank. “Dis moeilik om te argumenteer dat dié twee geldeenhede al genoegsaam gedaal het.”

Rentekoersverhoging dalk net die begin

Gill Marcus
Gill Marcus

Woensdag se rentekoersverhoging – die eerste in vyf jaar – kan dalk net die begin wees.

Die goewerneur van die Reserwebank, Gill Marcus het aangekondig dat die repokoers met ‘n halwe persentasiepunt sal verhoog word tot 5,5%. Die primakoers sal gevolglik klim tot 9%.

As jy R1 miljoen op jou verband skuld, sal dit jou sowat R319 meer elke maand kos, volgens Eerste Nasionale Bank se eiendomsontleder.

Hy het huiseienaars gewaarsku om voorsiening te maak vir die styging.

Die rand se onlangse daling het inflasionêre verwagtinge geskep en die sentrale bank genoop om op te tree.

Rentekoers bly onveranderd

reserwebankDie Reserwebank het, soos verwag, sy rentekoers onveranderd gelaat.

Die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen, die repokoers, is sedert Julie 2012 op 5%.

Omdat die rand die afgelope paar weke stewiger vertoon het, was Gill Marcus, president van die Reserwebank, nie genoop om rentekoerse te verhoog nie. Inflasie sal moontlik só onder beheer bly en dus keer dat rentekoerse moet styg.

Die plaaslike inflasiekoers was in Augustus op 6,4% – die tweede opeenvolgende maand wat dit hoër as die Reserwebank se maksimum teikenvlak van 6% was.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan na verwagting vanjaar met slegs 2% groei, die laagste sedert die resessie in 2009. Die swak rand en hoër inflasie het daarvoor gesorg dat ’n rentekoersverlaging om die ekonomiese groei ‘n hupstoot te gee, nie oorweeg is nie.

Die rand se verswakking van 18% in die eerste agt maande van 2013 het tot ’n skerp styging in brandstof- en voedselpryse gelei.

Christie Viljoen, ekonoom by NKC, verwag dat rentekoerse minstens vir die volgende 12 maande onveranderd sal bly. Hy meen selfs dit mag oor die volgende 18 maande onveranderd bly, het Bloomberg berig.