Graderingsagentskap halveer SA se groeivooruitsigte

Die graderingsagentskap Fitch het Suid-Afrika se groeivooruitsigte vir 2017 gehalveer tot 0,6 persent weens die land se swak ekonomiese vertoning en voortgesette politieke veldtog teen president Zuma.

Fitch waarsku dat die beoogde verandering aan die wetgewing oor myneienaarskap dui op radikale populisme wat dreig om ekonomiese beleid te oorskadu.

Fitch het ook die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, se 14-punt-plan om ekonimiese groei te bevorder gekritiseer, en gesê baie van die voorstelle is ou nuus wat waarskynlik geen verskil sal maak nie.

Die plan om byvoorbeeld ook ‘n Nasionale Gesondheidsversekering in te stel, sal ‘n ramp wees, omdat die regering nie genoeg geld sal hê om dit te befonds nie, sê die Vryemarkstigting.

‘n Enkele verpligte mediese skema word voorgestel, terwyl privaat mediese skemas slegs aanvullende dienste sal lewer. ‘n Woordvoerder sê só ‘n nasionale versekeringsplan sal ‘n reuseskema wees, 25 keer groter as byvoorbeeld Discovery Health, en boonop onder staatsbestuur. Staatsinstansies soos die SAL en die Poskantoor sukkel reeds om kop bo water te hou omdat sulke instellings nie doeltreffend bestuur word nie, sê hy.

Sedert Maart verkeer Suid-Afrika in ‘n resessie te wyte aan voortdurende wanbestuur wat beleggersvertroue verder knou. Fitch het die land se skuld ná President Jacob Zuma se omstrede kabinetskommeling tot rommelstatus afgegradeer en dit in Junie herbevestig.

Intussen toon ‘n opname onder ekonome deur Bloomberg dat slegs drie uit 23 voorspel dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank die repokoers vandag sal verlaag.

Volgens inflasiesyfers wat gister bekendgemaak is, het inflasie in Junie meer as verwag teruggesak tot 5,1 persent vanaf die vorige maand op 5,4 persent. Die beleidskomitee sal later vandag sy besluit bekend maak.

Die meeste ekonome verwag dat die uitleenkoers onveranderd gelaat gaan word.

Gordhan kondig minimumloon aan terwyl werkloosheid styg

Die Tesourie het sy steun gegee aan ‘n voorstel dat ‘n nasionale minimumsalaris op R3 500 rand per maand vasgestel word.

Suid-Afrika se werkloosheidsyfer het vir die derde kwartaal van 2016 geklim tot 27,1%, het Statistiek Suid-Afrika vroeër bekend gemaak, ‘n skokkende styging.

Dit sluit nie diegene in wat in die uitgebreide definisie van werkloosheid – dié mense wat opgehou soek het na werk – 36,3%, in die tweede kwartaal bereik het nie, het die statistiekliggaam gesê.

Minister Gordhan het die hoë werkloosheid geïgnoreer en gesê die Nedlac-verslag is ‘n belangrike mylpaal in pogings om lone van werkers te verhoog.

Ondersteuners van ‘n minimumloon sê dit sal groei aanmoedig omdat werkers meer geld sal hê om te bestee en ook ongelykheid verminder.

Kritici dink egter dat dit nog meer werkloosheid kan meebring omdat werkgewers nie hoër lone kan bekostig nie.

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee maak intussen vandag sy laaste aankondiging vir vanjaar oor die rentekoers.

Die Bank het die terugkoopkoers sedert Maart onveranderd gelaat op sewe persent met die prima-uitleenkoers op 10 komma vyf persent.

Vandag se aankondiging sal plaasvind te midde van ‘n steeds trae ekonomie en kommer oor moontlike afgraderings deur kredietgraderingsagentskappe.

Gordhan se aankondiging oor minimumlone in ‘n klimaat van stygende werkloosheid, sal nie die ekonomiese prentjie verhelder nie.

Prys van basiese mandjie kos met 15% op

Die prys van ‘n basiese mandjie kos het in Mei met meer as 15% gestyg in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar.

Dit blyk uit die jongste Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se maandelikse kosmandjieprys-verslag.

Die mandjie bestaan uit 22 items, insluitend dinge soos suiker, melk, eiers, gebakte bone, appels, brood, mieliemeel, stowevleis en hoender, onder andere.

Dit toon dat die koste van die mandjie, behalwe vir lemoene, met net meer as R80, vanaf bykans R520 in Mei 2015 tot meer as R600 Mei 2016 duurder geword het.

Hoenderporsies het die grootste toename getoon, van meer as 58% vir die jaar-tot-jaar prys, met aartappels volgende aan die beurt. Dit is 45% duurder as verlede jaar.

Reserwebank hou repokoers maar haal skouers op oor Guptas

Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê die bank het nie die besluit van die handelsbanke om die maatskappy Oakbay Investments se bankrekenings te sluit beïnvloed nie.

Hy het dié opmerking gemaak tydens die aangekondiging dat die repokoers onveranderd op sewe persent sal bly, het RSG berig.

Die president van die Reserwebank het die aankondiging by ‘n vergadering van die Monetêre Beleidskomitee van die bank in Pretoria gedoen.

Dit beteken dat die prima uitleenkoers op 10,5% persent bly.

Die aankondiging is wyd verwag na Statistiek Suid-Afrika se aankondiging dat die inflasiesyfers beter is as wat verwag is.

Die Verbruikersprysindeks het in April op ‘n jaar tot jaar grondslag tot 6,2% verlangsaam.

Kganyago sê hy is bekommerd oor die verwagte styging in voedsel-en brandstofpryse in die komende maande.

Die land se vier grootste banke het hulle verhoudinge met Oakbay verbreek na bewerings dat sy eienaars, die Guptafamilie, ongeoorloofde politieke invloed by president Jacob Zuma het.

Zuma en die Guptas het sedertdien die bewerings ontken.

Kganyago sê Oakbay se enigste opsie is om hof toe te gaan.

Rand herstel na rentekoersverhoging

Die Rand het Donderdagaand tot R15,10 teen die dollar herstel nadat ‘n rentekoersverhoging aangekondig is.

Die jongste verhoging beteken dat die prima uitleenkoers tot 10,5 persent styg.

Die Suid-Afrikaanse geldeenheid het Woensdag tot R16,20 teen die dollar gedaal nadat die adjunk-minister van finansies onthul het dat die Gupta-familie by regeringsaanstellings betrokke is.

Mcebisi Jonas het bekend gemaak het dat hom die pos as minister van finansies aangebied het.

Die herstel van die rand kom egter nadat die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, bekend gemaak het dat die repokoers met 25 basispunte tot sewe persent verhoog word.

Kganyago sê die Reserwebank verwag dat inflasie vir ‘n geruime tyd meer as ses persent sal bly en het die jongste rentekoersverhoging verbind aan die risiko’s met die inflasie-vooruitskatting.

Die jongste verhoging beteken dat die primauitleenkoers tot 10,5 persent styg.

Verhoging in repokoers ondeurdag sê ekonoom

Die Monetêre Beleidskomitee se besluit om die repokoers met ’n verdere 25 basispunte te verhoog was ondeurdag.
Dit is volgens ekonomiese ontleder en akademikus, André Mellet.

Mellet meen die aanpassing is vreemd in die lig daarvan dat die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, vroeër vanjaar aangedui het dat groei vooruitskattings afwaarts aangepas sal word.

Inflasie, wat net meer as 4% is, is volgens Mellet tans ook nie ’n probleem nie, wat die repokoersverhoging nog vreemder maak.

Mellet het aan OFM gesê die verwagting bly steeds dat Suid-Afrika swakker groei sal toon, en heelwat swakker as in die begin van die jaar.

Hy het gesê die besluit is daarom teleurstellend.

Skoolgeld gaan skerp styg waarsku Fedsas

Die federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas) sê die meeste skole gaan waarskynlik aanstaande jaar hul skoolgeld met baie meer as inflasie verhoog.

Paul Colditz, Fedsas se uitvoerende hoof, sê munispale tariewe, wat oor die laaste vyf jaar met 18% gestyg het, die inflasiekoers en salarisverhogings plaas groot druk op skoolbeheerliggame om hulle begrotings aan te pas.

Colditz sê verder die staat se bydrae tot skole dek nie eers die water– en elektristeitsrekeninge nie.

Woolworths wen voedselinflasie

Woolworths dui nie aan met hoeveel pryse gestyg het op hulle produkte nie en dit is dus moeilik om te bepaal of klereverkope of ‘n toename in kospryse tot hul goeie winste bygedra het.

Die verkope van kos het met 13,5% gestyg te midde van ‘n gemiddelde prysverhoging van 7,7% nadat groter winkels geopen is wat meer voorraad hou.

Dié prysstyging is hoër as die verbruikersprysinflasie vir die land.

In ‘n aanbieding aan beleggers het die kettingwinkelgroep gesê pryse sal ook met ’n enkelsyferpersentasie in die komende tydperk styg.

Vir die komende tydperk gaan sy kosinflasie steeds “bo verbruikersprysinflasie wees weens die mengsel van produkte wat verkoop word, asook die droogte en druk op invoerkoste” weens die swak rand.

Woolworths sê die ekonomiese toestande in Suid-Afrika verkeer onder druk, maar ryk kliënte wat by Woolworths koop is klaarblyklik teen die sulke werklikhede bestand.

Die groep se bedryfswins het met 42% tot R5,5 miljard gestyg na die verkrying van die Australiese aankoop, te wete David Jones.

Die groep se wins vir die jaar was 4,3% hoër op R3,1 miljard.

Rand se vooruitsigte bedroewend

Negatiewe sentiment teenoor ontluikende markte en ‘n verlangsaming in Chinese groei, het die Rand ‘n knou toegedien.

Globale beleggers het hul risiko probeer beperk deur geldeenhede en aandele in ontluikende markte te verkoop met vernietigende gevolge vir die Johannesburgse aandelebeurs asook die Suid-Afrikaanse geldeenheid.

Goud het gestyg sowel as harde geldeenhede soos die Amerikaanse dollar en Britse pond wat beleggers as minder riskante bates beskou.

China as die wêreld se grootste verbruiker van grondstowwe en kommoditeite in hul strewe om hul ekonomie te laat groei, is egter besig om stoom te verloor.

Hulle het daarin geslaag om hul ekonomie met meer as 7% van die afgelope paar jaar te laat groei, maar die verlangsaming in die Chinese ekonomie het China genoop om hul geldeenheid te devalueer in ‘n poging om hul uitvoersektor te stimuleer.

Suid-Afrikaanse blootstelling aan kommoditeite het ook die Rand negatief geraak. Alhoewel die finansiële sektor die grootste bydraer tot die Suid-Afrikaanse ekonomie is, steun die land steeds op grondstowwe.

Elektrisiteitstekorte, ‘n sukkelende vervaardigingsektor, en ‘n oorbemande staatsdiens waar korrupsie gedy, sal die Rand op die langtermyn verder benadeel, meen ontleders.

AA: Hoër brandstofpryse verwag in Julie

Brandstofprysverhogings in Julie wag vir motoriste, het die Automobiel-Assosiasie (AA), Donderdag gesê.

Hulle verwag dat die prys van petrol sal verhoog word met tussen 43 sent en 46 sent per liter, terwyl diesel en paraffien minder geraak sal wees, met prysstygings van slegs sowat 6c.
 
Van groter belang vir die AA is die gemiddelde wisselkoers, wat verswak het van R11.00 tot meer as R12.30 teenoor die dollar sedert Januarie.
 
“As hierdie tendens voortduur en nie geneutraliseer word deur verlagings in internasionale brandstofpryse nie, sal brandstofpryse die vlakke van hul vorige rekord hoogtepunte voor die einde van die jaar bereik,” sê die AA.
 

Repokoers onveranderd maar Eskom bly kopseer

Die Reserwebank het besluit om die repo-koers onveranderd te laat op 5,75 persent.

Die Bank het egter sy kommer uitgespreek oor Eskom se versoek vir ‘n 25 persent tariefverhoging.

Die president van die bank, Lesetja Kganyago sê so ‘n skerp verhoging plaas druk op die inflasievooruitsig.

Ekonoom Amelia Morgenrood sê Donderdag se aankondiging kom as geen verrassing nie.

Die besluit om rentekoerse onveranderd te laat is oor die algemeen verwag. Die ANC het onlangs gesê hy oorweeg die moontlikheid om Eskom gedeeltelik te privatiseer as ‘n teenvoeter vir die kragverskaffer se geldprobleme.

Die regerende party het ook sy kommer uitgespreek oor die invloed wat skerp tariefverhogings in elektrisiteit op die ekonomie sal hê.

Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganjyago, het gewaarsku dat die swak rand tesame met die voorgestelde styging in die prys van krag ‘n groot risiko vir die inflasie-vooruitsig inhou.

Kganyago sê die jongste voorspellings oor inflasie het nie die voorgestelde 25 persent verhoging van Eskom in aanmerking geneem nie.

Hy sê indien die verhoging toegestaan word kan dit inflasie met ‘n halwe persentasiepunt opstoot.

Ekonome verwag dat die rentekoers ‘n hoogtepunt van tussen elf en twaalf persent kan bereik. Die primakoers waarteen banke geld aan verbruikers leen is steeds 9,75 persent nadat die Reserwebank die terugkoopkoers onveranderd gehou het.

Die Reserwebank het egter gewaarsku dat rentekoersverhogings later verwag kan word weens inflasiedruk.

Rentekoersverhogings sal ‘n negatiewe invloed op verbruikers met baie skuld hê.

Repokoers onveranderd maar inflasie wink

Alhoewel Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, gistermiddag in Pretoria aangekondig het dat die bank sy repokoers onveranderd laat op 5,75%, kan die daling in die waarde van die rand en `n waarskynlike opwaartse neiging in inflasie, die Reserwebank dwing om rentekoerse later vanjaar te verhoog.

Na verwagting sal finansiële druk op verbruikers in April toeneem.

Kganyago het gewaarsku dat Suid-Afrikaners as gevolg van die droogte, meer vir kos gaan betaal. Hy sê die afwaarste neiging van inflasiesyfers is nie volhoubaar nie.

Inflasieverwagtinge in Suid-Afrika het binne twee maande aansienlik gestyg en die Reserwebank voorspel nou 4,8% vir 2015, vergeleke met die voorspelling van 3,8% in Januarie.

Die onveranderde repokoers beteken die prima rentekoers van handelsbanke bly 9,25%.

Vooruitsigte van ‘n swakker rand, hoër mieliepryse, brandstofprysverhogings en lone sal die inflasiekoers beïnvloed en die sentrale bank buite die boonste teikenband van 6% dwing.

Mieliepryse het vanjaar al met 30% gestyg wat vleispryse ook sal laat toeneem.

Brandstofpryse op voor vakansie

petrolprysVakansiegangers sal meer moet opdok vir brandstof hierdie skoolvakansie as die prys sal Woensdag met 17c per liter styg.

Die prys van diesel sal met 10c per liter styg, gas met 18c per kilogram en paraffien sal met 22c per liter duurder wees.

Na drie maande se dalings is die prys van 95-oktaan-petrol aan die kus weer op na R12,82 en in die binneland na R13,19.

Verbruikersgoedere sal ook duurder word omdat produkte per pad vervoer word, wat die druk op die inflasiekoers sal laat toeneem.

Van Woensdag sal die brandstofprysformule ook aangepas word, met kleinhandelaars (vulstasies) se winsmarge wat ten koste van groothandelaars (oliemaatskappye) sal toeneem.

Vulstasies verdien tans R1,04 per liter aan marge en oliemaatskappye 58c per liter. Van Woensdag sal vulstasies R1,39 inoes en oliemaatskappye net 31c.

Vonke spat by elektrisiteitskonferensie

Mike SchüsslerVonke het behoorlik gespat by ‘n elektrisiteitskonferensie oor voorgestelde tariefverhogings, met ‘n ekonoom wat ‘n senior Eskom-bestuurder gekonfronteer het oor sy aanspraak dat die pryse “regtig” nie so hoog is nie.

Ekonoom Mike Schüssler het die verhoog geneem en die syfers wat deur Eskom se hoofbeampte vir kragopwekking, Mike Dames, aangebied is, bevraagteken. Hy het die regering daarvan beskuldig dat hulle “in hierdie Marxistiese sosialistiese ‘ontlasting’ wil wees” deur gratis elektrisiteit aan armes te verskaf.

Schüssler se emosionele aanbieding waarin hy Eskom vertel het “julle het nie ‘n fokken finansiële model nodig nie,” het gekom nadat Dames ‘n gepakte vertrek by die konferensie, wat deur Solidariteit vakverbond in Pretoria oor voorgestelde elektrisiteitstariefverhoging gereël is, toegespreek het.

Dames het Eskom se omstrede 35-persent-vir-drie-jaar tariefverhogingaansoek na die Nasionale Energie Reguleerder van SA (Nersa) verdedig en gesê dit werk “regtig” net uit op 16 sent per kwH per jaar.

Boonop sal die verhoging in bydrae Eskom se kapitaaluitbreidingsprogram befonds, het Dames gesê en bygevoeg: “Die bestaande besigheid van Eskom sal regtig net mooi omtrent verhoog in lyn met inflasievlakke.”

Maar Schüssler het aan die gehoor gesê dat hy nie weet waar Dames sy syfers vandaan kry nie en het ‘n voorafgaande verklaring dat Suid-Afrika daarop afpeil om die duurste elektrisiteit in die wêreld te hê, beaam.

Hy het die feit dat bedryfsdeelnemers in Suid-Afrika baie laer tariewe as verbruikers betaal.

“Die probleem is, ons gee die grootste afslag in die wêreld aan industriële verbruikers… Hoekom kom hulle na die res van ons, in ons middelklaswonings, en martel ons tot die dood met hierdie verhogings? En jy hou aan om vir ons te sê ons het goedkoop elektrisiteitspryse, wat nie die waarheid is nie,” het Schüssler gesê.

Indien Eskom nie sulke ontsaglike afslag op sommige van hulle kontrakte gegee het nie, sal dit nie nou hoef te soek vir bykomende befondsing nie.

“Daar’s genoeg geld… jy het nie ‘n fokken finansiële model nodig nie,” het hy onder toejuiging van die gehoor gesê.

Schüssler het ook die verskaffing van gratis elektrisiteit aan arm huishoudings gekritiseer.

“Maar die regering dink nie so daaroor nie. Hulle wil in hierdie Marxistiese, sosialistiese kak wees.”

Om sake te vererger, word ses persent van die elektrisiteit in die land gesteel.

“Dis nie regverdig nie,” het hy gekla.

Aan die einde van sy voorlegging, waarvoor die gehoor luid hande geklap het, het ‘n middeljarige, bebrilde man opgespring en sy hand in die lug gehou.

“Meneer die fasiliteerder, kan ons ons taalgebruik asseblief beheer,” het hy ontstoke gevra, waarop die fasiliteerder, Chris Yelland, geantwoord het: “Dankie vir die voorlegging, Mnr. Schüssler, uitdagend soos altyd…”

Verskeie gaste het hulle oë oor die klag gerol, en Yelland het bygevoeg: “Dinge word warm, ouens,” voordat hy gou die volgende spreker, energiedeskundige Andrew Kenny, voorgestel het.

Met die aanvang van sy voorlegging, het Kenny gewaarsku dat hy Eskom gaan kritiseer, maar het beklemtoon dat dit niks persoonlik teen Dames was nie, en het bygevoeg dat Dames sy stem sal kry vir Eskom se nuwe uitvoerende hoof.

Kenny het toe voortgegaan en Eskom vergelyk met ‘n koplose hoender: “Dit het in geen rigting hoegenaamd gegaan nie, soos ‘n koplose hoender,” het hy gesê, en homself in tertgrafieke en syfers gewerp om sy punt te bewys.

Konferensiegangers het in ‘n lewendige debat tydens die koffiepouse betrokke geraak, met een wat die Eskom-bestuurders van ‘n gehoorgestremdheid beskuldig het: “Daar’s niemand so doof soos iemand wat nie wil hoor nie,” het hy in Afrikaans gesug.

game big bangФільчаков Олександр Васильович