Prys van basiese mandjie kos met 15% op

Die prys van ‘n basiese mandjie kos het in Mei met meer as 15% gestyg in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar.

Dit blyk uit die jongste Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se maandelikse kosmandjieprys-verslag.

Die mandjie bestaan uit 22 items, insluitend dinge soos suiker, melk, eiers, gebakte bone, appels, brood, mieliemeel, stowevleis en hoender, onder andere.

Dit toon dat die koste van die mandjie, behalwe vir lemoene, met net meer as R80, vanaf bykans R520 in Mei 2015 tot meer as R600 Mei 2016 duurder geword het.

Hoenderporsies het die grootste toename getoon, van meer as 58% vir die jaar-tot-jaar prys, met aartappels volgende aan die beurt. Dit is 45% duurder as verlede jaar.

Droogte knou rooivleisbedryf, verbruiker

Die prys van rooivleis gaan na verwagting styg weens die ergste droogte in meer as honderd jaar.

Die voorsitter van die Wes-Kaapse rooivleisprodusente-organisasie, John Durr sê kleinskaalse boere sukkel om voer vir hulle vee te produseer en tot by hulle te vervoer.

Die voortslepende droogte gaan ook ‘n verlammende uitwerking op die ekonomie hê vanweë werksverliese in die landboubedryf sê landbou-ekonome.

‘n Verslag rakende die impak van die droogte op die rooivleisbedryf is deur die Universiteit van die Vrystaat saamgestel.

Veeboere het luidens die verslag reeds alle reserwes gebruik om hul kuddes te probeer behou, en waarsku dat dit jare gaan neem om die nasionale kudde te herbou.

Voerkrale, wat meer as 80% van Suid-Afrika se rooivleis produseer, is ook besig om af te skaal weens hoë voer-insetkostes, gekoppel aan beperkte waterhulpbronne.

Verbruikers moet hulself aanstons staal vir ‘n verhoging van 25 persent in voedselpryse, veral wat koring, mielies en rooivleis betref.

Sowat vyf miljoen ton mielies sal vanjaar ingevoer moet word, wat sal beteken dat kospryse met tussen 20 en 30 persent kan styg.

‘n Tekort aan suiker word ook verwag, terwyl die droogte ten minste tot volgende jaar tot ‘n tekort aan lewende hawe sal lei.

Woolworths wen voedselinflasie

Woolworths dui nie aan met hoeveel pryse gestyg het op hulle produkte nie en dit is dus moeilik om te bepaal of klereverkope of ‘n toename in kospryse tot hul goeie winste bygedra het.

Die verkope van kos het met 13,5% gestyg te midde van ‘n gemiddelde prysverhoging van 7,7% nadat groter winkels geopen is wat meer voorraad hou.

Dié prysstyging is hoër as die verbruikersprysinflasie vir die land.

In ‘n aanbieding aan beleggers het die kettingwinkelgroep gesê pryse sal ook met ’n enkelsyferpersentasie in die komende tydperk styg.

Vir die komende tydperk gaan sy kosinflasie steeds “bo verbruikersprysinflasie wees weens die mengsel van produkte wat verkoop word, asook die droogte en druk op invoerkoste” weens die swak rand.

Woolworths sê die ekonomiese toestande in Suid-Afrika verkeer onder druk, maar ryk kliënte wat by Woolworths koop is klaarblyklik teen die sulke werklikhede bestand.

Die groep se bedryfswins het met 42% tot R5,5 miljard gestyg na die verkrying van die Australiese aankoop, te wete David Jones.

Die groep se wins vir die jaar was 4,3% hoër op R3,1 miljard.