Droogte knou rooivleisbedryf, verbruiker

Die prys van rooivleis gaan na verwagting styg weens die ergste droogte in meer as honderd jaar.

Die voorsitter van die Wes-Kaapse rooivleisprodusente-organisasie, John Durr sê kleinskaalse boere sukkel om voer vir hulle vee te produseer en tot by hulle te vervoer.

Die voortslepende droogte gaan ook ‘n verlammende uitwerking op die ekonomie hê vanweë werksverliese in die landboubedryf sê landbou-ekonome.

‘n Verslag rakende die impak van die droogte op die rooivleisbedryf is deur die Universiteit van die Vrystaat saamgestel.

Veeboere het luidens die verslag reeds alle reserwes gebruik om hul kuddes te probeer behou, en waarsku dat dit jare gaan neem om die nasionale kudde te herbou.

Voerkrale, wat meer as 80% van Suid-Afrika se rooivleis produseer, is ook besig om af te skaal weens hoë voer-insetkostes, gekoppel aan beperkte waterhulpbronne.

Verbruikers moet hulself aanstons staal vir ‘n verhoging van 25 persent in voedselpryse, veral wat koring, mielies en rooivleis betref.

Sowat vyf miljoen ton mielies sal vanjaar ingevoer moet word, wat sal beteken dat kospryse met tussen 20 en 30 persent kan styg.

‘n Tekort aan suiker word ook verwag, terwyl die droogte ten minste tot volgende jaar tot ‘n tekort aan lewende hawe sal lei.

NW-boere hou moed dat reën gaan kom

Die huidige droogte in Noordwes word vererger deur die feit dat dit die derde agtereenvolgende seisoen van slegte reënval in dié provinsie is.

NWK se Johan Bezuidenhout het aan OFM gesê weens die herhalende swak reën is grondwater uitgeput. Die onlangse enkele verspreide buie oor die provinsie is ook ver onder die verwagte minimum vir hierdie tyd van die jaar.

Sy kommentaar volg nadat water en sanitasie minister, Nomvula Mokonyane, verlede week ses bykomende tenkwaens aan Noordwes Premier, Supra Mahumapelo, oorhandig het om water te versprei na die gebiede wat die ergste geraak word.

Bezuidenhout sê egter baie van die boere wat hy in kontak mee is hou steeds moed dat die reën gaan kom.

Bek-en-klouseer glo onder beheer in twee provinsies

Die minister van landbou, Senzeni Zokwana sê bek-en-klouseer in Bambanani in KwaZulu-Natal, Mhinga in Limpopo en Marite in Mpumalanga is onder beheer, het RSG berig.

Hy het in Pretoria gesê dit volg na veldtogte in die gebiede om die siekte te beheer.

Bek-en-klouseer in Suid-Afrika het in 2011 aanvanklik in KwaZulu-Natal uitgebreek.

Dit het meegebring dat alle uitvoer van rooivleis en ander landbouprodukte verbied is. Die verbod is intussen opgehef.