Petrolprys daal, maar voordeel gaan aan joggies, handelaars

Die petrolprys daal van eerskomende Woensdag af met 20 sent per liter, en sal voortaan R12,37 aan die kus en R12,85 in die binneland kos. Maar volgens die ekonoom Cees Bruggemans, moes die prys eintlik met 40 sent gedaal het. Die grootste deel van die voordeel word egter nie aan die verbruiker deurgegee nie, maar aan petroljoggies wat ‘n salarisverhoging van 10% ontvang het, asook aan handelaars en groothandelaars wat voortaan ‘n groter wins vanaf motoriste sal verhaal.

Bruggemans het vanoggend getwiet:

Die prys van petroleumgas sal met 17 sent per kilogram daal.

Die grootste deel van die daling kan aan die swakker internasionale olieprys toegeskryf word, en nie aan die sterker rand van die afgelope paar dae nie. Die rand het teen die dollar en vernaamste geldeenhede versterk toe dit bekend geraak het dat Suid-Afrika se staatskuld nie dadelik tot rommelstatus deur Standard & Poor verlaag gaan word nie.

Benewens die salarisverhoging aan petroljoggies van 10% — in alle ontwikkelde lande gooi motoriste self petrol in en dus is petroljoggies eintlik ‘n oorbodige luukse in Suid-Afrika — gaan vulstasie-eienaars 4,9 sent per liter meer aan winsmarge ontvang. Groothandelaars verkry egter die leeue-aandeel met ‘n verhoging van 15,2 sent per liter petrol en 5,9 sent per liter diesel.

Sakeman aangekeer vir onwettige handel in diesel

‘n Sakeman van Bloemfontein, wat glo duisende liters diesel in groot tenks by sy huis in Langenhovenpark onwettig geberg het, verskyn na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof.

Die 27-jarige man is Woensdagaand by sy huis op ‘n onderverdeelde erf met twee ander huise daarop, in hegtenis geneem.

Polisiewoordvoerder, Wendy Nkabi, sê die polisie het op meer as 8 000 liter diesel ter waarde van meer R46 000 in agt groot houers beslag gelê.

Sy sê die man kon nie ‘n lisensie verskaf wat hom in staat stel om wettig met diesel handel te dryf nie. Hy word aangekla ingevolge die Wet op Petroleum.

AA: Hoër brandstofpryse verwag in Julie

Brandstofprysverhogings in Julie wag vir motoriste, het die Automobiel-Assosiasie (AA), Donderdag gesê.

Hulle verwag dat die prys van petrol sal verhoog word met tussen 43 sent en 46 sent per liter, terwyl diesel en paraffien minder geraak sal wees, met prysstygings van slegs sowat 6c.
 
Van groter belang vir die AA is die gemiddelde wisselkoers, wat verswak het van R11.00 tot meer as R12.30 teenoor die dollar sedert Januarie.
 
“As hierdie tendens voortduur en nie geneutraliseer word deur verlagings in internasionale brandstofpryse nie, sal brandstofpryse die vlakke van hul vorige rekord hoogtepunte voor die einde van die jaar bereik,” sê die AA.
 

Eskom hou openbare verhore oor hoër tariewe

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) sal vandag en môre openbare verhore hou om Eskom se voorgestelde verhoging in die verbruikersprys van elektrisiteit te bespreek.

Die elektrisiteitsverskaffer het Nersa verlede maand genader om die verhoging aan te vra want munisipaliteite verhoog in Julie hul kragtariewe aan verbruikers.

‘n Styging van 12,69% vir vanjaar is reeds vroeër goedgekeur vanaf April vir Eskom-kliënte.

Eskom vra nou ‘n bykomende sowat 12% om glo te betaal vir die ekstra diesel wat verbrand word om die land se ligte aan te hou.

Nersa beplan dus openbare verhore op 23 en 24 Junie in Gauteng oor die hersiene aansoek.

Cosatu-vakbonde het reeds gewaarsku dat hulle gaan betoog teen enige tariefverhogings, en eis ‘n moratorium op die afsny van krag aan munisipaliteite wat Eskom geld skuld.

Suid-Afrika se ferro-chroombedryf sal waarskynlik van sy smelterye moet sluit as gevolg van hoë elektrisiteitspryse wat kan lei tot 200 000 werksverliese.

Die verteenwoordiger van die ferro-allooi vervaardigersvereniging, Jacobus Zaayman, het ‘n voorlegging gemaak by NERSA se openbare sittings oor Eskom se voorgestelde tariefverhogings.

Zaayman sê ‘n styging in tariewe sal produksiekoste verder verhoog en die meeste van die smelterye in Suid-Afrika sal moet sluit.

Eskom het vroeër aangedui dat voorsiening ook gemaak sal moet word vir die twee en ‘n half persent omgewingsheffing in sy aansoek om ‘n bykomende tariefverhoging.

Dit beteken dat die aansoek vir ‘n verhoging op nege en ‘n half persent sal neerkom.

Sonder die omgewingsheffing kom die totale verhoging op meer as 22 persent te staan.

MTN sukkel met diesel in Nigerië

Nigerië se grootste selfoonoperateur, MTN, het gewaarsku dat hy gedwing kan word om sy dienste te sluit weens ‘n tekort aan dieselvoorraad in Afrika se grootste olieproduserende land.

MTN Nigeria het ‘n boodskap op die sosiale netwerk Twitter geplaas en gesê omdat die meeste van sy basisstasies en ander toerusting deur kragopwekkers aangedryf word, kan sy bedrywighede ernstig geknou word tensy hy binnekort brandstof kry.

Dit is die jongste maatskappy wat deur die maandlange brandstoftekort in Nigerië geknou word.

Nigerië word deur brandstoftekorte gekortwiek as gevolg van omstrede subsidiebetalings.

Afrika se grootste olie-produsent beskik oor geen binnelandse raffinaderye nie, en word gedwing om ru-olie uit te voer en verwerkte produkte soos petrol en diesel in te voer.

Om koste aan verbruikers laag te hou, stel die regering pryse onder die markkoers en betaal die verskil aan invoerders.

Maar die daling in oliepryse het die land hard getref.

Eskom gebruik gas om ligte aan te hou

Die maatskappy Sunbird Energy wat in Australië genoteer is, het ooreengekom om gas aan Eskom te verskaf in ooreenstemming met die kragverskaffer se planne om eerder gas te gebruik om sy kragopwekkers aan te dryf as diesel.

Eskom moes die afgelope tyd swaar steun op sy diesel-aangedrewe turbines om die ligte aan te hou, het RSG berig.

Sunbird sê sy Ibhubesi gasprojek in Suid-Afrika sal Eskom se Ankerlig kragstasie in Atlantis vir tot 15 jaar van 30 miljard kubieke voet gas voorsien.

Ankerlig gebruik diesel sedert dit in 2007 gebou is.

Sunbird sê die verskaffing van gas aan Ankerlig sal Eskom in staat stel om aansienlike besparings met sy brandstofkoste te bereik.

Beurtkragdiesel maak naeltegnikus en tandarts stinkryk

Ná ‘n week van hoë drama by Suid-Afrika se kragvoorsiener waarin vier senior amptenare geskors is, het nog skokkende onthullings na vore gekom.

Die maatskappy het selfs nie geskroom om ‘n swart tandarts en ‘n swart naeltegnikus aan te stel om diesel te verskaf vir sy kragopwekkers nie.

Dit beteken dat dié soort verskaffers reusewinste gemaak het uit beurtkrag.

Volgens die Sunday Times, was die tandarts, Dr Maxine Kekana, en skoonheidsdeskundige, Monica Nkosi, onder die verskaffers om brandstof ter waarde van R200 miljoen aan Eskom te lewer.

Kekana se maatskappy Kekoil en Nkosi se firma Kamoso is twee verskaffers wat Eskom gebruik van tyd tot tyd ondanks die feit dat kontrakte met groot olieverskaffers, insluitend PetroSA gesluit is.

Die koerant berig dat die twee vroue nuwelinge was in die energie-sektor en dat hul maatskappye nie voldoen het aan Eskom se breë-gebaseerde swart ekonomiese bemagtigingskriteria toe hul kontrakte met Eskom gesluit is nie.

Kekana het bevestig dat sy diesel aan Eskom voorsien en dat sy ‘n tandarts van beroep is, maar het daarop aangedring dat sy nie die enigste verskaffer is nie. In ‘n brief aan die koerant het sy gedreig met regstappe as die koerant haar naam of die naam van haar maatskappy publiseer.
 
Nkosi, die naeltegnikus, het ook bevestig sy Eskom van diesel voorsien, maar het gesê sy “het nie iets soos ‘n formele kontrak nie”.

Zola Tsotsi, voorsitter van Eskom het vroeër aangekondig dat Tshediso Matona, uitvoerende hoof geskors is, sowel as drie senior bestuurders en gesê ‘n volledige onafhanklike ondersoek sal van stapel gestuur word.

Motors: klasbestes 2015 (deel 3): viertrekdubbelkajuitbakkies

Vandag is die dubbelkajuitbakkie amper meer van ‘n status simbool as ‘n Mercedes-Benz. Ons het na al die handrat- viertrekdubbelkajuitbakkies in die plaaslike mark gaan kyk. Van die vervaardigers se produkte is nou al lank in die tand terwyl ander baie onlangs plaaslik bekend gestel is. Daar is 11 verskillende bakkies om van te kies en almal – van die Duitsers tot die Indiërs – het produkte in hierdie segment.

Die keuse is tussen die Isuzu KB, Ford Ranger, Toyota Hilux, VW Amarok, Nissan Navara, Foton Tunland, GWM Steed 5, Mazda BT50, Mahindra Scorpio,Tata Xenon en Mitsubishi Triton.

Hier is ons bevinding van watter een van die klompie die beste kopie in Suid Afrika is. Hierdie is nie ‘n vergelyking om die beste verkoper of selfs die beste 4×4 aan te wys nie. Die doel van hierdie vergelyking is om vir u die lesers te wys dat as u met u eie geld so ‘n voertuig sou wou aanskaf, wat die beste waarde vir u geld sou wees. Ons gebruik vervaardigersyfers en vergelyk alles van grootte tot waarborg en werkverrigting. Daar is 15 verskillende vervaardigersyfers wat in ag geneem is. Hier is ons bevinding.

1

Mazda BT 50 3.2 DK 4x4 SLE (147KW)  R453 900
Mazda BT 50 3.2 DK 4×4 SLE (147KW)
R453 900

2

Isuzu KB300 D-Teq DK 4x4 LX (130KW)  R498 100
Isuzu KB300 D-Teq DK 4×4 LX (130KW)
R498 100

3

Ford Ranger 3.2 DK 4x4 XLT (147 KW)  R504 900
Ford Ranger 3.2 DK 4×4 XLT (147 KW)
R504 900

4

Nissan Navara 2.5 dCi DK 4x4 LE (140 KW)  R495 500
Nissan Navara 2.5 dCi DK 4×4 LE (140 KW)
R495 500

5

VW Amarok 2.0 BiTDi DK Hiline 4Motion (132 KW)  R501 200
VW Amarok 2.0 BiTDi DK Hiline 4Motion (132 KW)
R501 200

6

Foton Tunland 2.8 DK 4x4 Lux (120 KW)  R389 950
Foton Tunland 2.8 DK 4×4 Lux (120 KW)
R389 950

7

Toyota Hilux 3.0D-4D DK 4x4 Raider Legend 45 (120 KW)  R505 400
Toyota Hilux 3.0D-4D DK 4×4 Raider Legend 45 (120 KW)
R505 400

8

Mitsubishi Triton 2.5 DI-D 4x4 DK (131 KW)  R429 900
Mitsubishi Triton 2.5 DI-D 4×4 DK (131 KW)
R429 900

9

Tata Xenon XT 2.2 4x4 (110 KW)  R279 495
Tata Xenon XT 2.2 4×4 (110 KW)
R279 495

10

GWM Steed 5 2.0VGT DK 4x4 Lux (110 KW)  R289 900
GWM Steed 5 2.0VGT DK 4×4 Lux (110 KW)
R289 900

11

Mahindra Scorpio Pick-up 2.2CRDe DK 4x4 Adventure (89KW)  R304 995
Mahindra Scorpio Pick-up 2.2CRDe DK 4×4 Adventure (89KW)
R304 995

Hier was ook ‘n hele paar verrassings. Die topverkoper-Ford Ranger in hierdie segment kon slegs die derde plek op die ranglys behaal terwyl die baie gewilde Toyota Hilux, wat alom as die markleier beskou word, slegs die sewende plek kon behaal. Ons vermoed die lojaliteit wat kopers teenoor Toyota koester, speel ‘n baie groot rol in die verkope van die Hilux. Die Foton Tunland met sy 2.8 Cummings-enjin lê sesde en ander bekende vervaardigers soos die Mitsubishi Triton kon slegs die agtste plek haal. Die gevorderdste voertuig hier, die VW Amarok, moes ook met die vyfde plek tevrede wees ná die Nissan Navara wat eersdaags deur die splinternuwe Navara vervang gaan word.

Die feit dat die Mazda BT50 die wenner is spreek ook daarvan dat dit net soos die Ford ‘n uitsteklende voertuig is; maar anders as die Ford, verkoop die Mazda nie baie goed nie. Ons vermoed dit het baie met bemarking te doen. Wat die Isuzu KB aanbetref, is die bakkie net so onder die radar, maar stof hy die Ranger uit om tweede plek in te neem. Die baie goeie waarborgtyd tesame met die kraglewering en grootte van die bakkie het die deurslag gegee. Wat Tata, GWM en Mahindra aanbetref, dink ons hulle het baie goed gevaar en is beslis ‘n kykie werd wanneer in hierdie segment  vir ‘n voertuig gesoek word. Die taai Mahindra kom baie oudmodies voor, maar wat ruimte en rygerief aanbetref, troef die Indiër selfs die Japannese!

Brandstofpryse op voor vakansie

petrolprysVakansiegangers sal meer moet opdok vir brandstof hierdie skoolvakansie as die prys sal Woensdag met 17c per liter styg.

Die prys van diesel sal met 10c per liter styg, gas met 18c per kilogram en paraffien sal met 22c per liter duurder wees.

Na drie maande se dalings is die prys van 95-oktaan-petrol aan die kus weer op na R12,82 en in die binneland na R13,19.

Verbruikersgoedere sal ook duurder word omdat produkte per pad vervoer word, wat die druk op die inflasiekoers sal laat toeneem.

Van Woensdag sal die brandstofprysformule ook aangepas word, met kleinhandelaars (vulstasies) se winsmarge wat ten koste van groothandelaars (oliemaatskappye) sal toeneem.

Vulstasies verdien tans R1,04 per liter aan marge en oliemaatskappye 58c per liter. Van Woensdag sal vulstasies R1,39 inoes en oliemaatskappye net 31c.