Sakeman aangekeer vir onwettige handel in diesel

‘n Sakeman van Bloemfontein, wat glo duisende liters diesel in groot tenks by sy huis in Langenhovenpark onwettig geberg het, verskyn na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof.

Die 27-jarige man is Woensdagaand by sy huis op ‘n onderverdeelde erf met twee ander huise daarop, in hegtenis geneem.

Polisiewoordvoerder, Wendy Nkabi, sê die polisie het op meer as 8 000 liter diesel ter waarde van meer R46 000 in agt groot houers beslag gelê.

Sy sê die man kon nie ‘n lisensie verskaf wat hom in staat stel om wettig met diesel handel te dryf nie. Hy word aangekla ingevolge die Wet op Petroleum.

Vyf vas wat glo sigarette smokkel

Volgens die polisie is vyf mense in Witbank in Mpumalanga vasgetrek vir handel in onwettige sigarette.

Die sigarette ter waarde van miljoene rande is in hul besit gevind.

Kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het Vrydag ‘n wenk ontvang oor ‘n beweerde onwettige transaksie. Die polisie het gaan ondersoek instel en afgekom op vyf vragmotors wat volgelaai was met sigarette.

Volgens Hlathi is die vyf vragmotorbestuurders in hegtenis geneem. Twee van die verdagtes is Suid-Afrikaners en die ander drie is van Mosambiek. Die sigarette sou glo na Kaapstad vervoer word.

Die vyf verdagtes sal binnekort in die Witbank-landdroshof verskyn.

Swartrenoster kan uitsterf in 2015

Die swartrenoster is een van 13 spesies wat die wêreld dalk vanjaar moet groet en nooit weer lewendig gesien gaan word nie, het die Republikein berig.

Met net meer as 4 800 swartrenosters in die wêreld oor, sal selfs die vurigste bewaringspogings nie help om stygende renosterstropery en die verhoogde aanvraag na renosterhorings op die swartmark in veral Asië, te verminder nie.

Volgens dr. Derek Tittensor, ’n marine ekoloog van die Wêreldbewaringmonitorsentrum in Cambridge, Engeland, is die swartrenoster een van 13 spesies wat moontlik vanjaar kan uitsterf.

Verlede jaar is minstens 24 renosters, waarvan die meerderheid swartrenosters, in Namibië gestroop.

Tittensor sê die wêreld is besig om dosyne spesies daagliks te verloor en kundiges noem dit die sesde massa-uitwissing in die geskiedenis van die aarde. Soveel as 30% tot 50% van alle spesies beweeg na uitwissing in die middel van die eeu. Vingers wys na net een skuldige: die mens.

“Habitatverwoesting, besoedeling en onwettige visvang dood wilde diere en plante of los hulle in ’n erg verswakte toestand. Die probleem is die bykomende bedreiging van klimaatverandering gaan in komende dekades vererger en nog meer van hierdie oorlewendes laat vrek,” sê Tittensor.

Sowat 190 nasies het einde verlede jaar die Verenigde Nasies (VN) se beraad oor klimaatverandering in Lima, Peru bygewoon vir optrede om stygende groenhuisgasse te verminder.

Korrupsie en onwettige aanlynhandel bedreig ook bewaringspogings. Die onwettige handel in wildlewe word op sowat U$10 miljard per jaar bereken. Dit is die vyfde grootste smokkelhandel ná dwelms, aangevuur deur die stygende vraag na wilde diere as troeteldiere, trofeë en bestanddele in medisyne, voedsel en ander produkte.

“Dit is ’n opdraande stryd teen die mens se onvolhoubare gierigheid en verbruik, maar dit is ’n geveg wat ons nie mag verloor nie,” sê Tittensor.

Die ander 12 spesies wat moontlik vanjaar kan uitsterf, is die oostelike luiperd (net sowat 30 is in die wildernis oor), die Sumatra-olifant, Java-renoster, leerskilpad, die westelike laelande gorilla (wat ook veral weens die Ebola-virus gevrek het), die saola, vaquita (nog net sowat 100 oor), die Siberiese tier, berggorilla, die groter bamboeslemur (sowat 60 in die wildernis en 150 in aanhouding op Madagaskar), die Sumatra oerangoetang en die Yangtze vinlose tornyn.