Grensbeheer teen onwettige sigarette oorweeg

Suid-Afrika verloor jaarliks meer as vier miljard rand aan belastinginkomste weens smokkelsigarette. Meer as 60 persent van die sigarette in die land word nie vir belastingdoeleindes verklaar nie.

Dit het aan die lig gekom tydens ‘n konferensie in Kaapstad, wat deur BAT geborg word. BAT poog om die onwettige handel in sigarette in Afrika te stuit.

Die adjunkminister van polisie, Maggie Sotyu wat die konferensie bygewoon het, sê verskerpte grensbeheer is een manier om die onwettige handel in sigarette hok te slaan.

Sotyu sê die departement van binnelandse sake gaan binne die volgende ses tot twaalf maande nuwe grensbeheermaatreëls implementeer wat sal bydra om die onwettige handel te stuit.

Die vermoede bestaan dat Zimbabwe dié smokkelhandel gebruik om sy ekonomie aan die gang te hou.

President Mugabe het openlik steun vir Savanna, sy sigaretvervaardiger uitgespreek en sy mededinger British American Tobacco (BAT) van spioenasie op Savanna en kaping van sy vragmotors beskuldig.

Houers vol sigarette wat gemaak kan word vir so min as R1,50 en is maklik om aan die plaaslike mark te versprei sonder om die R13 belasting per houer te betaal.

Gewilde handelsmerke van sigarette word in die kleinhandel teen R35 ‘n pakkie verkoop, terwyl onwettige sigarette tussen R4 en R12 ‘n pakkie kos.

Met marges wat neig na ‘n 1000%, is dié onwettige handel een van die grootste elemente in georganiseerde misdaad in Suid-Afrika.

Volgens navorsing deur BAT, is 9.5 miljard onwettige sigarette met ‘n straatwaarde van sowat R4 miljard plaaslik gerook verlede jaar.

Savanna het byna 10% van die mark ingepalm, volgens die instituut, met sowat 700 miljoen van sy onwettige sigarette.

Die uitvoerende hoof van die Tabak-instituut van Suidelike Afrika, Francois van der Merwe sê die onwettige handel in sigarette het verskeie negatiewe gevolge.

Hy sê dit het ‘n maatskaplike invloed omdat dit deur misdadigers bedryf word en nie deur die regering se gesondheidswetgewing gereguleer word nie.

Renosterstropers teiken Namibië

Met 60 renosters al vanjaar gestroop, waarvan 54 in die Etosha Nasionale Park, het die Namibiese ministerie van die omgewing en toerisme sy beloning verdubbel, het die Republikein berig.

“Genoeg is genoeg,” het die minister van die omgewing en toerisme tydens ’n nuuskonferensie in Windhoek oor die onwettige stropery van renosters en olifante gesê.

Die statistieke oor renosterstropery staan op 60 vir vanjaar teenoor 24 vir 2014. Wat olifante betref, is 23 in 2015 vir hul ivoor gestroop teenoor verlede jaar se 78.

Die minister het wel aangedui dat die spoor van verdagte renosterstropers in Etosha en die Palmwag-konsessie (waar ses renosters vanjaar gestroop is) gevolg word “en is dit net ’n kwessie van tyd voor hulle in hegtenis geneem sal word”.

Volgens hom werk die ministerie nou saam met ander wetstoepassers en bewaringsorganisasies om kort en langer termyn strategiese maatreëls in te stel wat menslike kapasiteit, waarneming, patrollies en opsporing insluit.

“Ons werk steeds nou saam met die Namibiese polisie en weermag om voete op die grond te hê en ons patrollies op te skerp. Ons het teenwoordigheid in die Etosha en Bwa­bwata Nasionale Parke en die Palmwag-konsessie. Lugpatrollies word ook deur die polisie en weermag uitgevoer,” het die minister gesê.

Lede van die polisiemag is van 40 tot 140 vermeerder.

Hy sê meer hulpbronne word belê om die onwettige jag van renosters en olifante te voorkom en “die situasie word as ’n prioriteitsmisdaad beskryf en daarom moet meer hulpbronne in ons pogings belê word om dié misdaad te stop”.

Hy het beklemtoon dat “niks onder die mat ingevee sal word nie”.

Hy het ook gesê dat twee gebiede in die park geteiken word, naamlik die noordelike en suidwestelike dele.

“Al die inligting van elke ­renosterkarkas moet ná die nadoodse ­ondersoek verwerk word, asook die ballistiese toetse op die vuurwapens en met voorvalle gekoppel word.

“Dieselfde vuurwapens is waarskynlik deur dieselfde stropers gebruik, maar die stropers maak nou van outomatiese gewere in plaas van jaggewere gebruik,” het Shifeta gesê.

Die adjunkminister het gesê “Alhoewel die kriminele ons uitoorlê het, die nasie nie paniekerig oor renosterstropery moet raak nie. Vroeër of later sal ons resultate hê.”

Die ministerie het ook ’n nasionale wildbeskerming- en sekuriteitskomitee op die been gebring wat as nodige platform vir alle rolspelers sal dien.

Verteenwoordigers van die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) was ook gister by die nuuskonferensie teenwoordig, asook mnre. Jofie Lamprecht van Jofie Lamprecht Safaris en Henri Slabbert van The Next Generation Conservation Trust.

Saam met Help Our Rhinos Now Namibia (HoRN.Nam) wil hulle ’n verenigde front skep.

Vyf vas wat glo sigarette smokkel

Volgens die polisie is vyf mense in Witbank in Mpumalanga vasgetrek vir handel in onwettige sigarette.

Die sigarette ter waarde van miljoene rande is in hul besit gevind.

Kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het Vrydag ‘n wenk ontvang oor ‘n beweerde onwettige transaksie. Die polisie het gaan ondersoek instel en afgekom op vyf vragmotors wat volgelaai was met sigarette.

Volgens Hlathi is die vyf vragmotorbestuurders in hegtenis geneem. Twee van die verdagtes is Suid-Afrikaners en die ander drie is van Mosambiek. Die sigarette sou glo na Kaapstad vervoer word.

Die vyf verdagtes sal binnekort in die Witbank-landdroshof verskyn.

Swartrenoster kan uitsterf in 2015

Die swartrenoster is een van 13 spesies wat die wêreld dalk vanjaar moet groet en nooit weer lewendig gesien gaan word nie, het die Republikein berig.

Met net meer as 4 800 swartrenosters in die wêreld oor, sal selfs die vurigste bewaringspogings nie help om stygende renosterstropery en die verhoogde aanvraag na renosterhorings op die swartmark in veral Asië, te verminder nie.

Volgens dr. Derek Tittensor, ’n marine ekoloog van die Wêreldbewaringmonitorsentrum in Cambridge, Engeland, is die swartrenoster een van 13 spesies wat moontlik vanjaar kan uitsterf.

Verlede jaar is minstens 24 renosters, waarvan die meerderheid swartrenosters, in Namibië gestroop.

Tittensor sê die wêreld is besig om dosyne spesies daagliks te verloor en kundiges noem dit die sesde massa-uitwissing in die geskiedenis van die aarde. Soveel as 30% tot 50% van alle spesies beweeg na uitwissing in die middel van die eeu. Vingers wys na net een skuldige: die mens.

“Habitatverwoesting, besoedeling en onwettige visvang dood wilde diere en plante of los hulle in ’n erg verswakte toestand. Die probleem is die bykomende bedreiging van klimaatverandering gaan in komende dekades vererger en nog meer van hierdie oorlewendes laat vrek,” sê Tittensor.

Sowat 190 nasies het einde verlede jaar die Verenigde Nasies (VN) se beraad oor klimaatverandering in Lima, Peru bygewoon vir optrede om stygende groenhuisgasse te verminder.

Korrupsie en onwettige aanlynhandel bedreig ook bewaringspogings. Die onwettige handel in wildlewe word op sowat U$10 miljard per jaar bereken. Dit is die vyfde grootste smokkelhandel ná dwelms, aangevuur deur die stygende vraag na wilde diere as troeteldiere, trofeë en bestanddele in medisyne, voedsel en ander produkte.

“Dit is ’n opdraande stryd teen die mens se onvolhoubare gierigheid en verbruik, maar dit is ’n geveg wat ons nie mag verloor nie,” sê Tittensor.

Die ander 12 spesies wat moontlik vanjaar kan uitsterf, is die oostelike luiperd (net sowat 30 is in die wildernis oor), die Sumatra-olifant, Java-renoster, leerskilpad, die westelike laelande gorilla (wat ook veral weens die Ebola-virus gevrek het), die saola, vaquita (nog net sowat 100 oor), die Siberiese tier, berggorilla, die groter bamboeslemur (sowat 60 in die wildernis en 150 in aanhouding op Madagaskar), die Sumatra oerangoetang en die Yangtze vinlose tornyn.