praag.co.za

Tag: minimumloon

  • Gordhan kondig minimumloon aan terwyl werkloosheid styg

    Gordhan kondig minimumloon aan terwyl werkloosheid styg

    Die Tesourie het sy steun gegee aan ‘n voorstel dat ‘n nasionale minimumsalaris op R3 500 rand per maand vasgestel word.

    Suid-Afrika se werkloosheidsyfer het vir die derde kwartaal van 2016 geklim tot 27,1%, het Statistiek Suid-Afrika vroeër bekend gemaak, ‘n skokkende styging.

    Dit sluit nie diegene in wat in die uitgebreide definisie van werkloosheid – dié mense wat opgehou soek het na werk – 36,3%, in die tweede kwartaal bereik het nie, het die statistiekliggaam gesê.

    Minister Gordhan het die hoë werkloosheid geïgnoreer en gesê die Nedlac-verslag is ‘n belangrike mylpaal in pogings om lone van werkers te verhoog.

    Ondersteuners van ‘n minimumloon sê dit sal groei aanmoedig omdat werkers meer geld sal hê om te bestee en ook ongelykheid verminder.

    Kritici dink egter dat dit nog meer werkloosheid kan meebring omdat werkgewers nie hoër lone kan bekostig nie.

    Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee maak intussen vandag sy laaste aankondiging vir vanjaar oor die rentekoers.

    Die Bank het die terugkoopkoers sedert Maart onveranderd gelaat op sewe persent met die prima-uitleenkoers op 10 komma vyf persent.

    Vandag se aankondiging sal plaasvind te midde van ‘n steeds trae ekonomie en kommer oor moontlike afgraderings deur kredietgraderingsagentskappe.

    Gordhan se aankondiging oor minimumlone in ‘n klimaat van stygende werkloosheid, sal nie die ekonomiese prentjie verhelder nie.

  • AgriSA bekommerd oor minimumloon

    Agri SA het Dinsdag gesê dat ‘n nasionale minimumloon tot werksverliese sal lei.

    “Dit sal uiters kortsigtig wees, selfs onmenslik, om nie die desperate toestand te erken waarin baie Suid-Afrikaners hulself bevind nie,” het Johannes Möller, president van Agri SA, gesê.

    “Ons kan as individue en as ‘n land beslis nie onsself blind hou vir die absolute armoede of selfs nog erger, dat mense nie kos het nie.”

    Hy het gesê ʼn verhoging van 52% in die minimumloon in 2013 in die landbousektor, het die reeds merkbare afname in werkverskaffing in die bedryf veroorsaak.

    Hy het bygevoeg dat die voorstanders van ‘n nasionale minimumloon klaarblyklik nie verstaan dat produktiwiteit die vlak van welvaart bepaal nie. Om bloot lone op hoër vlakke te stel, is nie die oplossing nie.

    Möller meen dat selfs die huidige minimumloon die werksgeleenthede vir veral ongeskoolde werkers, nog verder kan belemmer.

    “Dit oortree die edele doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan vir die bedryf om teen 2030 een miljoen poste te skep,” het hy gesê.

    “Wat ons wel benodig, is ‘n arbeidsmag wat beter opgelei is, arbeidsmarkte wat nie so streng is nie en ‘n benadering wat ekonomiese mededinging sal aanmoedig.”

    Hy het gesê om meer geld te skep is alleen oor ‘n baie kort termyn geldig. “Oor die lang termyn skep dit die illusie van meer geld sonder voordele,” het Möller gesê.

    Sy pleidooi sal waarskynlik op dowe ore val, aangesien AgriSA in ‘n linkse diskoers verstrengel geraak het oor grondhervorming.

  • ‘Eienaars moet meer vir plaaswerkers doen’

    ‘Eienaars moet meer vir plaaswerkers doen’

    De Doorns
    De Doorns

    Die minister van arbeid, Mildred Oliphant, sê hoewel goeie werk gedoen is om die lewensomstandighede van plaaswerkers te verbeter, is daar nog sake wat aandag moet geniet.

    Sy het gepraat na ‘n seminaar deur die departement van arbeid met plaaswerkers op Sitrusdal aan die Kaapse weskus.

    Die seminaar het gevolg na ‘n weeklange besoek van die departement aan die Kaapse Weskus en die Wynlandgebied.

    Die minister sê eienaars van twee plase wat sy besoek het, het werkers se huise opgegradeer, maar dat hulle werkers te veel huur vra.

    Werkstoestande en beroepsveiligheid op plase is ook op die seminaar bespreek.

    Intussen het die plaaswerkersvakbond, BAWUSA, Oliphant versoek om die verhoging van die minimumloon wat op 1 Maart 2014 in werking tree, te heroorweeg.

    ‘n Woordvoerder van die vakbond, Nosey Pieterse, sê ‘n verhoging van inflasie plus twee persent is nie voldoende vir werkers om te oorleef nie.

    Hy het ook gevra vir algehele voldoening aan die loon sektorale vasstelling van R105 per dag. Die nuwe loon is vroeër vanjaar vasgestel ná onrus op plase in die Wes-Kaap. – RSG