Telkom-mobiel ‘sal nooit ‘n wins wys nie’

Telkom se aandeelprys oor die afgelope jaar. Bron: Bloomberg
Telkom se aandeelprys oor die afgelope jaar. Bron: Bloomberg

“Telkom-mobiel sal nooit ‘n wins maak nie.” Só sê die portefeuljebestuurder Wayne McCurrie van Momentum Wealth. Hy meen ook dat Telkom nooit sy aandeel in Vodacom moes verkoop het nie.

McCurrie het ‘n rukkie gelede op Business Day TV gesê dat “8ta (Telkom-mobiel) nooit ooit ‘n wins gaan toon nie.”

“Ek het die grootste empatie met die Telkom-bestuur. Jou hoofbesigheid neig afwaarts. Dis moeilik om dit te keer,” sê McCurrie. “Hulle het al by soveel geleenthede gepoog om ander maniere te kry (om geld te maak).

“Miskien is die ergste ding wat hulle ooit gedoen het, om Vodacom te ontbondel – hulle moes dit gehou het,” voeg hy by. “Om Vodacom weer oor te bou deur Telkom-mobiel, is baie moeilik en kos baie geld.”

Omdat Telkom ‘n staatsbeheerde onderneming is, beteken dit dat die maatskappy ook nie mense kan afdank, besnoei of kostes kan bespaar nie.

“Ek sou nie Telkom-aandele koop nie. Wesentlik het niks verander nie; nietemin het die aandeelprys meer as verdubbel,” sê McCurrie.

David Shapiro van Sasfin-sekuriteite stem hiermee saam en meen dat Telkom nog vele uitdagings die hoof sal moet bied alvorens dit as ‘n belegging vertroue sal inboesem.

“Daar is nog so baie werk wat hulle moet doen. Ek is bevrees hulle is nie in die regte deel van die mark nie,” sê Shapiro.

Shapiro voeg by dat terwyl die onlangse mobiele verbindkoersbeslissing Telkom gaan help, is dit nog baie moeilik om die maatskappy te laat herstel.

Volgens McCurrie sal Cell C en Telkom-mobiel óf hul pryse moet verhoog óf moet tou opgooi. “Jy kan nie daarmee aanhou om miljarde en miljarde rande te verloor nie,” sê hy.