Tweede fase van ACE se ondersese kabel begin

Die eerste ondersese kabel in Suid-Afrika het op 27 Desember 1879 Suid-Afrika direk verbind aan Europa. Die verbinding is moontlik gemaak deur die East Coast cable of the South African Telegraph Company via Durban en Zanzibar na Aden.

Vandag word optiese vesel tegnologie gebruik om digitale data te versend en dit sluit telefone, internet en private dataverkeer in.

Die tweede fase van die Africa Coast to Europe- (ACE) ondersese kabel-projek het pas afgeskop vanaf die eiland Sao Tomé & Principe in die Golf van Guinee tot by Kaapstad.

Die Franse telekommunikasiegroep Orange en die ander konsortiumlede van die ACE-kabel sal die verbinding oor 5 000km aanlê en sal digitale dienste en breëbandinternetdiens in Afrika uitbrei.

Die ACE-netwerk verbind 15 Afrikalande met Frankryk, Portugal en die Kanariese Eilande.

Na voltooiing van die tweede fase, sal die ACE 17 000 km se kabel beslaan en 25 lande met hoëspoedinternet verbind.

Bestaande ondersese kabels wat Suid-Afrika met die res van die wêreld verbind, is die SAT-3- en WACS-kabels aan die Weskus en die Seacom- en EASSy-kabels aan die Ooskus.

Moderne kabels is gewoonlik ongeveer 25 millimeter in deursnee en weeg ongeveer 1.4 kilogram per meter vir die gedeeltes diep onder die see, wat die grootste deel in beslag neem en groter en swaarder kabels vir die vlakwater gedeeltes naby die strand.

Nigeriese boete teen MTN oordrewe sê ontleders

Nigerië se regering loop die risiko om beleggers af te skrik wat die land nie kan bekostig om te verloor nie.

‘n Boete van $5,2 miljard teen die land se grootste selfoon-maatskappy, MTN, sê ontleders is oordrewe.

Met ‘n ekonomie wat steier onder lae oliepryse, beperkings op die geldeenheid en geen minister van finansies, het Nigeriese owerhede hulself geen guns bewys om een van hul grootste buitelandse beleggers so stief te behandel nie.

Die oordrewe boete is gelykstaande aan meer as 20 persent van die Johannesburgse MTN se markwaarde.

Nigerië se telekommunikasie-reguleerder het MTN dié week beboet, oënskynlik vir die versuim om kliënte te ontkoppel met ongeregistreerde SIM-kaarte en met onvolledige data.

Dié besluit het daartoe gelei dat die aandele met 19% gedaal het. Nigerië is MTN se grootste mark, waar 62 miljoen kliënte die diens gebruik.

Die grootte van die boete lyk nie of dit enige betrekking op die omvang van die beweerde misdryf het nie, het markontleders in Londen gesê.

Vertroue in president Muhammadu Buhari is stadig besig om te verdamp. Die oud-militêre leier moet nog sy kabinet aanwys, na vyf maande in die amp.

Die versuim het bygedra tot ‘n beleidsvakuum in die bewind van Afrika se grootste olie-produsent.

Die internasionale graderingsagentskap, Moody’s het intussen sy vooruitsig vir die selfoonreus, MTN na negatief aangepas weens die potensiële skade wat die boete kan bring.

Nigerië is verantwoordelik vir sowat ‘n derde van MTN se inkomste.

Die maatskappy is glo reeds in samesprekings met die reguleerder betrokke om die boete te verminder.

Telkom-mobiel ‘sal nooit ‘n wins wys nie’

Telkom se aandeelprys oor die afgelope jaar. Bron: Bloomberg
Telkom se aandeelprys oor die afgelope jaar. Bron: Bloomberg

“Telkom-mobiel sal nooit ‘n wins maak nie.” Só sê die portefeuljebestuurder Wayne McCurrie van Momentum Wealth. Hy meen ook dat Telkom nooit sy aandeel in Vodacom moes verkoop het nie.

McCurrie het ‘n rukkie gelede op Business Day TV gesê dat “8ta (Telkom-mobiel) nooit ooit ‘n wins gaan toon nie.”

“Ek het die grootste empatie met die Telkom-bestuur. Jou hoofbesigheid neig afwaarts. Dis moeilik om dit te keer,” sê McCurrie. “Hulle het al by soveel geleenthede gepoog om ander maniere te kry (om geld te maak).

“Miskien is die ergste ding wat hulle ooit gedoen het, om Vodacom te ontbondel – hulle moes dit gehou het,” voeg hy by. “Om Vodacom weer oor te bou deur Telkom-mobiel, is baie moeilik en kos baie geld.”

Omdat Telkom ‘n staatsbeheerde onderneming is, beteken dit dat die maatskappy ook nie mense kan afdank, besnoei of kostes kan bespaar nie.

“Ek sou nie Telkom-aandele koop nie. Wesentlik het niks verander nie; nietemin het die aandeelprys meer as verdubbel,” sê McCurrie.

David Shapiro van Sasfin-sekuriteite stem hiermee saam en meen dat Telkom nog vele uitdagings die hoof sal moet bied alvorens dit as ‘n belegging vertroue sal inboesem.

“Daar is nog so baie werk wat hulle moet doen. Ek is bevrees hulle is nie in die regte deel van die mark nie,” sê Shapiro.

Shapiro voeg by dat terwyl die onlangse mobiele verbindkoersbeslissing Telkom gaan help, is dit nog baie moeilik om die maatskappy te laat herstel.

Volgens McCurrie sal Cell C en Telkom-mobiel óf hul pryse moet verhoog óf moet tou opgooi. “Jy kan nie daarmee aanhou om miljarde en miljarde rande te verloor nie,” sê hy.

Nigerië steek SA verby as grootste Afrika-ekonomie

nigeriaNigerië het Suid-Afrika verbygesteek as Afrika se grootste ekonomie nadat die land syfers oor sy bruto binnelandse produk bekendgemaak het.

Volgens Nigerië se minister van Finansies was die BBP vir 2013 gelykstaande aan 510 miljard dollar, het RSG berig.

Dit is 40 persent meer as die vorige berekening van 292 miljard dollar. Suid-Afrika se BBP staan op 353 miljard dollar.

Nigerië sluit nou bedrywe in soos telekommunikasie, inligtingstegnologie, musiek, lugrederye en rolprentproduksies wat voorheen nie deel van die berekeninge was nie.

Nigerië se onlangse groeikoers van ses persent is ook ver beter as Suid-Afrika wat sukkel om ‘n groeikoers hoër as drie komma vyf persent te bereik.

Waarnemers het egter gewaarsku dat die syfers misleidend kan wees.

Die BBP per kapita is in Suid-Afrika aansienlik hoër en dat die verspreiding van welvaart in albei lande uiters oneweredig is.