Plaasmoorde toring bo misdaadkoers uit

killboer2Dit is ‘n donkere dag vir ‘n land as sy Nasionale Kommissaris beweer dat misdaad onder beheer is as die moordsyfer styg tot 16 259 gevalle per jaar. Dit beteken dat byna 2 moorde per dag ekstra gepleeg word om die totale aantal moorde op byna 45 per dag te staan te bring!

Plaasmoorde toon ‘n nog meer onrusbarende prentjie. In dieselfde tydperk het plaasmoorde met 34% gestyg tot 68 in 2012/2013 teenoor die 50 moorde in 2011/2012. Plaasaanvalle het toegeneem van 112 gevalle tot 176 gevalle. Omdat plaasaanvalle gereken word as aanvalle op mense en nie op eiendom nie, kan aangeneem word dat baie van hierdie aanvalle niks anders is nie as poging tot moord, wat suksesvol afgeweer kon word.

“Wat nog meer ontstellend is, is die polisie se oënskynlike argeloosheid oor hierdie situasie. Op die SAPD se amptelike webwerf is die bladsy oor ‘Farm Attack’ onder ‘Crime Prevention’ al vir maande ‘under construction’, wat daarop dui dat hulle hoegenaamd geen erns toon met hierdie misdaad nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, Adjunk-President van TLU SA en Voorsitter van die Veiligheidskomitee. “Omdat die polisie hardnekkig weier om plaasmoorde as ‘n aparte misdaad kategorie te toon in sy statistiek is hy dus nie eens bewus van hierdie onrusbarende toename in plaasaanvalle nie. Daarby moet in gedagte gehou word dat TLU SA se databasis op plaasaanvalle en -moorde waarskynlik onvolledig is omdat ons net aangewese is op die terugvoer van ons lede of wat die media rapporteer, en wat ons dan verifieer. Die prentjie kan dus selfs slegter daar uit sien,” sê mnr. Geldenhuys.

Sedert 1 April vanjaar tot op hede toon TLU SA se databasis 37 moorde in 110 plaasaanvalle. As hierdie tendens sou voortduur tot aan die einde van die huidige verslagjaar, sal plaasmoorde op 74 te staan kom uit 220 aanvalle, wat ‘n verdere styging van 24% sal verteenwoordig.

“Die feit dat die kommissaris reken dat misdaad onder beheer is, dui daarop dat boere geen verhoogde belangstelling in hulle probleme moet verwag van die polisie nie, en gevolglik moet voortgaan met hulle selfbeskermings opleidingsprogramme en opknapping van hulle veiligheidsmaatreëls,” sê mnr. Geldenhuys.

Swart leerlinge hits witte aan om onderwyser aan te rand

glenvistaDie Gautengse departement van onderwys het die aanranding van ‘n onderwyser deur ‘n wit graad agt leerling aan Glenvista High School in Johannesburg Suid veroordeel.

“Die hoof van die departement het reeds ‘n span van senior amptenare gestuur na die skool om te verseker dat onmiddellike aksie geneem word om die leerder te skors, berading aan die opvoeder te gee en ‘n dissiplinêre proses te begin,” het woordvoerder Gershwin Chuenyane Donderdag gesê.

‘n Video van die aanranding – wat Woensdag plaasgevind het, is deur ‘n swart medeleerling geneem en het Donderdag viraal versprei.

Dit wys hoe die wit leerling onsuksesvol probeer om ‘n skoolsak van die onderwyser te gryp.

Nadat hy dit nie regkry nie, begin hy die onderwyser slaan en skop, en gooi dan ‘n stoel en ‘n besem na die onderwyser terwyl hy uit die klaskamer loop.

Sy swart klasmaats kan gehoor word op die klankbaan waar hulle die wit seun aanhits met “kry hom”.

Die departement het die onderwyser geprys dat hy kalm gebly het. – Sapa

VF behaal historiese oorwinning met stemreg

stem2014Die Vryheidsfront Plus verwelkom die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op die Kieswet ingevolge waarvan alle Suid-Afrikaanse burgers aanstaande jaar in die algemene verkiesings sal kan stem, sê dr. Corné Mulder, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder oor binnelandse sake.

Dr. Mulder het vandag in die parlement gesê dit is ‘n ‘historiese dag en ‘n groot sukses’ wat die VF Plus behaal het vir duisende Suid-Afrikaners in die buiteland wat wil stem in die algemene verkiesing van 2014.

Die wetswysigings vandag was ‘n opdrag van die Grondwethof aan die Parlement. Dit het gevolg nadat die VF Plus die kwessie dat Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland nie mag stem nie, suksesvol na die Grondwethof geneem het. Die Grondwethof het beslis dat die stemreg om praktiese redes net op nasionale vlak en nie op provinsiale vlak kan wees nie.

Die Demokratiese Alliansie het teen die wet gestem. Dr. Mulder het gesê hy is ‘verstom’ oor die DA se optrede aangesien dit mense in die buiteland aanstaande jaar hul stemreg kan ontneem. As die wet nie nou aanvaar word nie as gevolg van die DA se optrede of deur hofsake vertraag word, verval hierdie opsie vir alle Suid-Afrikaners in die buiteland

Wysigings wat nou aan die Kieswet aangebring gaan word, sal Suid-Afrikaners in die buiteland toelaat om nuut as kiesers te registreer in die land waar hulle tans is. Dit was voorheen nie die geval nie.

Oor die DA se optrede het dr. Mulder gesê dié party besef al te goed dat mense in die buiteland nie stemreg op provinsiale vlak sal kry nie as gevolg van die grondwethof se uitspraak en praktiese oorwegings.

“Julle weet dit. Dit is opportunisties. Die DA speel hier om stemme te werf deur die indruk by die publiek te probeer skep dat hy vir hulle veg.

“Wees net een keer eerlik en erken die poging gaan nie slaag nie. Ek kan net hoop dat die DA hieroor tot sy sinne gaan kom,” het dr. Mulder gesê.

Brand by Tempe glo weerlig

electricstormDie Mangaung-brandweer moes ‘n brand by die Tempe militêre basis in Bloemfontein baasraak. Die brand is begin het na ‘n weerligstraal glo gras aan die brand gesteek het in ‘n nabygeleë woongebied.

Die brand het versprei na die onderhoud-eenheid in die basis waar brandende bande donker wolke oor groot dele van die stad laat hang het. Dit is berig dat terwyl ‘n aantal ou voertuie beskadig is, daar tans geen bedreiging vir lewe of struktuur was nie.

Die Brandweerhoof van Mangaung, Braam van Zyl het Donderdag gesê daar word verwag dat die vuur dwarsdeur die nag sal brand omdat die waterdruk baie laag is en brandbestryders nie behoorlik hulle toerusting kan gebruik nie.

Die brand het verkeersknope in die stad veroorsaak soos motoriste gestop het om te kyk na die vuur.

Die Mangaung Metro sal vandag die brandskade bepaal.

Hewige storms het Donderdag in die omstreke van Bloemfontein gewoed. Soutpan is geraak sowel as die gebied naby die lughawe.

Grootvlei-kragstasie heropen

grootvleiDie regering sê hy doen sy bes om die land se kragtekorte te verlig. President Jacob Zuma sal vanoggend die Grootvlei-kragstasie in Balfour in Mpumalanga heropen.

Dit is deel van die regering se infrastruktuur ontwikkelingsprogram. Die heraanskakeling van die kragstasie is deel van Eskom se projekte om ou kragstasies weer in diens te stel.

Die Camden- en Komati-kragstasies is ook deel van die projek.

Die Grootvlei-kragstasie is in die laat sestiger-jare gebou en bestaan uit ses steenkooleenhede met ‘n kapasiteit van 1-duisend 200 megawatt.

Die kragstasie is in 1990 uit bedryf gestel weens die ooraanbod van krag. President Zuma sal ook die Balfourspoorlyn besoek wat ten doel het om steenkool na die Grootvlei kragstasie te vervoer. – RSG

RA se wurggreep verstewig

Regstellende aksie het sy greep op veral die Suid-Afrikaanse sakewêreld verstewig met die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming wat ongeag ontevredenheid uit die sakewêreld oor strenger strawwe vir oortreders, met groot ywer deur gestoomroller word, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.

Hy sê die beoogde wet met sy strenger regulasies en swaarder strawwe hang soos ‘n dreigende wolk oor die Suid-Afrikaanse sakewêreld.

Hoër boetes en minder regsbeskerming staar besighede, wat nie aan die vereistes van regstellende aksie voldoen nie, voortaan in die gesig.

Volgens adv. Alberts is die VF Plus totaal gekant teen SEB en regstellende aksie. Hy sê dit is die instrument waarmee die ANC sy kaders in die staat en in die private industrie ontplooi het, en is een van die direkte oorsake van swak dienslewering deur die staat, soos erken deur die Ouditeur-Generaal.

“Dit is dus skreiend dat die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming se strenger strawwe vir oortredings net so deur die parlement se portefeuljekomitee oor arbeid aanvaar is.

“Die VF Plus glo eerder aan opleiding en ekonomiese groei in ‘n goed gereguleerde sakeomgewing om nuwe geleenthede te skep vir almal wat sosiaal-ekonomies swaarkry. Dit is die enigste volhoubare manier om die verskille in rassegroepe se omstandighede te laat vernou.

“Regstellende aksie bereik die teenoorgestelde. Dit is ‘n rasgegronde beleid en skep net verdeeldheid en wrywing tussen gemeenskappe.

“Vir veral wit- en bruinmense het dit ‘n meulsteen om die nek geword en is een van die oorsake van ‘n toename in wit en bruin armoede,” sê adv. Alberts.

Wat ontevredenheid vanuit die sakewêreld oor die wysigingswetsontwerp aanbetref, sê adv. Alberts dit is kommerwekkend dat die voorleggings van die sakesektor geensins in ag geneem is nie.

“Die feit dat geen van die aanbevelings van die sakesektor se voorleggings gebruik is nie, is waarskynlik ongrondwetlik.

“Die grondwetlike hof het in die saak Doctors for Life International v Speaker of the National Assembly and Others in 2006 beslis dat ‘n toepaslike graad van gee en neem tussen die publiek en die staat die kwaliteit van die demokrasie sal versterk. Dit het nie in hierdie geval gebeur nie, sê adv. Alberts.

Die VF Plus sal voortgaan om die beplande wysigings om die wurggreep van regstellende aksie te verskerp, teen te staan.

‘n Nuwe skoolopvoeding, asseblief!

boelieEk wil my skool loopbaan oorhê sodat ek van vooraf geprogrammeer kan word vir die lewe.  Duidelik het ek die verkeerde waardesisteem geleer. Hierdie een pas my beslis nie en word ek net misdaadvoer vir my medelandsburgers.

Ek wil op skool leer dat as een ’n toets deurkom moet almal deurkom. Ek wil net skoolgaan as ek so voel en my woede teen die lewe uitleef deur die skool van tyd tot tyd af te breek. Ek wil my maatjies se goed vat as hulle nie kyk nie, sonder enige skuldgevoel.  Ek wil leer leef vir nóú. As iets klaar is, wil ek wag tot dit op is voordat ek begin plan maak om dit aan te vul.  Ek wil leer dat ander vir my moet sorg met toelaes en dat die simpel mense wat werk gereël besteel en beledig moet word, want dis hul verdiende loon.

As jy tot prefek verkies word, beteken dit dat almal hul toebroodjies vir jou moet gee, jy tol by die hek kan vra en verdere betaling van ‘n toepaslike fooitjie om toetsresultate aan te pas. Ek wil leer roof en moor sonder omgee, ek wil leer dat mens tonne geld kan maak sonder om daarvoor te werk en bowenal wil ek leer dat partylojaliteit alle misstappe vergewe.

Ek wil leer dat ras die nuwe godsdiens is en dat vergifnis vir misstappe was rasgemotiveerd mag wees, nie sommer gebeur nie. Ydellike gebruik van sekere woorde is strafbaar in die hoogste hof maar Godslaster val op die vlak van rommelstrooi.

Kortom, ek is nog nie reg geprogrammeer vir hierdie land nie.

Groete,

Sagmoedige Lukas

 

Rentekoers bly onveranderd

reserwebankDie Reserwebank het, soos verwag, sy rentekoers onveranderd gelaat.

Die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen, die repokoers, is sedert Julie 2012 op 5%.

Omdat die rand die afgelope paar weke stewiger vertoon het, was Gill Marcus, president van die Reserwebank, nie genoop om rentekoerse te verhoog nie. Inflasie sal moontlik só onder beheer bly en dus keer dat rentekoerse moet styg.

Die plaaslike inflasiekoers was in Augustus op 6,4% – die tweede opeenvolgende maand wat dit hoër as die Reserwebank se maksimum teikenvlak van 6% was.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan na verwagting vanjaar met slegs 2% groei, die laagste sedert die resessie in 2009. Die swak rand en hoër inflasie het daarvoor gesorg dat ’n rentekoersverlaging om die ekonomiese groei ‘n hupstoot te gee, nie oorweeg is nie.

Die rand se verswakking van 18% in die eerste agt maande van 2013 het tot ’n skerp styging in brandstof- en voedselpryse gelei.

Christie Viljoen, ekonoom by NKC, verwag dat rentekoerse minstens vir die volgende 12 maande onveranderd sal bly. Hy meen selfs dit mag oor die volgende 18 maande onveranderd bly, het Bloomberg berig.

Brande teister Vrystaat

veldbrandBrandspanne het hul hande vol in die Vrystaat waar veldbrande woed. ‘n Sterk wind blaas die vlamme aan en die droë toestande vererger die situasie.

‘n Groot brand woed tussen Rosendal en Fouriesburg. Daar is ook brande op Rouxville, Zastron, Wepener, Hobhouse en Paul Roux.

Twee plaashuise het afgebrand en duisende hektaar weiveld is reeds vernietig.

Spanne van Working on Fire, boere en plaaswerkers bestry die brande. – RSG

Gevreesde misdaad neem toe

huisroof“Roof by woonhuise as die misdaad wat die meeste gevrees word in Suid-Afrika het met 3,6% toegeneem volgens die nuutste misdaadstatistiek. Inbrake by woonhuise het met 3,3% (253 633 gevalle) toegeneem en motorkapings met 5,4%. Dit is juis by jou huis en op pad werk toe wat mense veilig wil voel. Die publiek het dus rede om onveilig te voel en ervaar dat misdaad toeneem,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.

“Wat ook kommerwekkend is, is dat van die 1 833 775 ernstige misdade wat aangemeld is, daar slegs 352 513 suksesvolle vervolgings was. Dit is slegs 19% suksesvolle vervolgings. Dit beteken dat die strafregstelsel in Suid-Afrika ernstige gebreke het en die publiek in die steek laat,” het Groenewald gesê.

“Moord het met 0,6% toegeneem, maar die feit dat 16 259 mense vermoor is beteken dat die kans vyf keer groter is om in Suid-Afrika vermoor te word as elders in die wêreld waar die gemiddeld 6 per 100 000 is. Poging tot moord het met 6,5% (16 363 gevalle) toegeneem wat beteken Suid-Afrika bly steeds ‘n gevaarlike land,” sê Groenewald.

Die Vryheidsfront Plus verwelkom wel die afname in misdade teen vroue en kinders en in misdade soos aanranding.

ISS: Nuwe, ernstige veiligheidsbedreigings in SA

issDie Instituut vir Sekerheidstudies het ‘n beroep op die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa gedoen om toe te laat dat meer gereelde en gedetailleerde inligting oor sogenaamde nuwe misdade in die land bekend gemaak word.

Die ISS het die vorige syfers van ‘n afname in geweldsmisdaad verwelkom, maar verwag dat die nuwe misdaadstatistiek wat vandag bekend gemaak word, op ‘n toename in eiendomsmisdaad sal dui.

Die hoof van die ISS se misdaad en geregtigheidsprogram, Gareth Newham sê die vorige statistieke toon nie sekere nuwe ernstige veiligheidsbedreigings in die land nie.ISS

Hy sê dit is misdade soos korrupsie, openbare geweld, groepmoorde, politieke sluipmoorde en huishoudelike geweld.

Mthethwa sal die misdaadstatistiek vir 2012/2013 vanoggend by die Tshwane Opleidingsakademie in Pretoria-Wes bekendmaak.

Die ISS word ondersteun deur Kanada, Denemarke, Finland, Japan, Noorweë, Spanje, Swede, Switserland, Nederland en die VSA. – RSG

Duitsland het chemikalieë met ‘tweeledige gebruik’ na Sirië versend

Angela Merkel
Angela Merkel

Duitse amptenare het bevestig dat Berlyn chemikalieë na Sirië versend het wat moontlik gebruik kan word om Saringas te maak. Die regering het egter benadruk dat hulle vol vertroue is dat die “tweeledige-gebruik“ chemikalieë nie vir militêre doeleindes aangewend is nie.

Duitsland het meer as 100 ton van die bestanddele wat ook vir die vervaardiging van dodelike gas gebruik kan word, tussen 2002 en 2006 uitgevoer.

“Die permitte [vir die lewering van die chemikalieë] is toegestaan ​​is ná ‘n deeglike ondersoek van alle moontlike risiko’s, insluitend die gevare van misbruik en herleiding met die oog op moontlike gebruik in verband met chemiese wapens,” het Duitsland se Ministerie van Ekonomie gesê in ‘n verklaring in reaksie op ‘n formele versoek van ‘n opposisieparty.

“Ek kan nie glo dat Duitsland ‘n totaal van meer as 111 ton chemikalieë na Sirië versend het wat gebruik kan word om Sarin te produseer nie. En dit in ‘n land wat bekend is daarvoor dat hulle ‘n chemiese wapenprogram het,” het Jan van Aken, ‘n opposisielid, wapendeskundige en voormalige VN-wapeninspekteur, gesê.

Die eerste stel aflewerings is in 2002-2003 gemaak, onder die sentrum-linkse regering van Gerhard Schroeder. Die tweede is gemaak in 2005-2006, onder die huidige sentrum-regse regering.

“Volgens die bevindinge wat tot my beskikking, is dit gebruik vir burgerlike aanwending,“ het kanselier Angela Merkel gesê in ‘n onderhoud met die plaaslike ARD televisie.

‘n Verslag van VN inspekteurs oor verlede maand se chemiese wapenaanval op Damaskus dui daarop dat die vuurpyle wat die senugas bevat het, afgevuur is van die basis van een van die land se elite militêre eenhede wat oor die stad uitkyk, het RSG berig.

‘n Senior VN-diplomaat in New York sê besonderhede oor die omvang van die aanval, die vuurpyle wat gebruik is en inligting oor die trajek in die verslag maak dit duidelik dat die Siriese regering vir die aanval verantwoordelik was.

‘n Verslag van Human Rights Watch het ook gesê die vermeende vlugroete van die vuurpyle wat deur die VN- inspekteurs gemeld word, lei terug na ‘n basis van die Republikeinse Wag in die dieselfde gebied.

ANC wen twee uit drie wyke in Tlokwe

tlokweVoorlopige uitslae wat deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie vrygestel is, toon dat die ANC in wyk ses teen die DA gewen het.

In wyk 18 het die ANC teen ‘n onafhanklike kandidaat gewen, maar wyk 26 is weer deur ‘n onafhanklike kandidaat, Butiki Mahlabe, ingepalm.

Die hoof van die OVK in Noordwes, Dr Tumelontle Thiba het die uitslae vroeër bekendgemaak. Volgens Thiba het tussen 38 en 39 persent van kiesers opgedaag om hulle kruisie te trek.

Die ANC het hulle oorwinning in twee van die wyke gevier en gesê dit is duidelik dat die party weer beheer van die munisipaliteit kan terugwen.

Die DA in Noordwes het hulle teleurstelling oor die uitslae van Woensdag se tussenverkiesings in die Tlokwemunisipaliteit in Potchefstroom uitgespreek, maar gesê hulle is nogtans verlig dat die ANC net twee uit die drie wyke gewen het.

Die DA het slegs wyk ses betwis, maar het die onafhanklike kandidate in die ander twee wyke gesteun.

Die ANC het minder steun gehad het as twee jaar gelede in die wyke wat hulle gewen het.

Meneer Naidoo sien ‘nuwe goudstormloop’ in hidrobreking

Dhesigen Naidoo
Dhesigen Naidoo

Die uitvoerende hoof van die Waterhulpbronkommissie, Dhesigen Naidoo, sê Suid-Afrika het ‘n unieke geleentheid om ‘n nuwe wêreldstandaard vir die ontrekking van gas deur hidrobreking te stel.

Hy het ‘n nasionale konferensie oor grondwater in Durban toegespreek waar die omstrede vooruitsigte van hidrobreking in die Karoo bespreek is.

Naidoo sê Suid-Afrika kan dit nie ignoreer dat die land oor gasbronne beskik wat kan help om die land se energietekorte te verlig nie.

Naidoo sê Suid-Afrika is nou by ‘n soortgelyke kruispad soos aan die begin van die goudstormloop aan die Witwatersrand in die 1880’s. – RSG