Die Gautengse departement van onderwys het die aanranding van ‘n onderwyser deur ‘n wit graad agt leerling aan Glenvista High School in Johannesburg Suid veroordeel.
“Die hoof van die departement het reeds ‘n span van senior amptenare gestuur na die skool om te verseker dat onmiddellike aksie geneem word om die leerder te skors, berading aan die opvoeder te gee en ‘n dissiplinêre proses te begin,” het woordvoerder Gershwin Chuenyane Donderdag gesê.
‘n Video van die aanranding – wat Woensdag plaasgevind het, is deur ‘n swart medeleerling geneem en het Donderdag viraal versprei.
Dit wys hoe die wit leerling onsuksesvol probeer om ‘n skoolsak van die onderwyser te gryp.
Nadat hy dit nie regkry nie, begin hy die onderwyser slaan en skop, en gooi dan ‘n stoel en ‘n besem na die onderwyser terwyl hy uit die klaskamer loop.
Sy swart klasmaats kan gehoor word op die klankbaan waar hulle die wit seun aanhits met “kry hom”.
Die departement het die onderwyser geprys dat hy kalm gebly het. – Sapa
