Grace Mugabe, eggenote van Robert Mugabe van Zimbabwe, bevind haar volgens bronne steeds in Suid-Afrika. Haar ligging word egter geheim gehou aangesien sy steeds deur die SA Polisie gesoek word om op ‘n klag van aanranding te verskyn. Sy sou gistermiddag in die Randburgse Landdroshof verskyn het, maar het nie opgedaag nie.
Die klag hou verband met ‘n voorval wat in die Sandtonse hotelkamer van een van haar twee seuns plaasgevind het. Sy het na bewering ‘n Suid-Afrikaanse model, Gabriella Engels, met ‘n elektriese verlengkoord geslaan sodat Engels se voorkop oopgekloof is en begin bloei het. Engels het agterna ‘n klag van aanranding aanhangig gemaak en het tydens ‘n onderhoud met RSG gesê dat haar “loopbaan as model nou geruïneer is omdat my voorkop ‘n letsel opgedoen het”.
Gabriella Engels sê dat “geen vlak van intimidasie sal versaak dat ek die aanrandingsaak teen Mugabe sal terugtrek nie”. Die 20-jarige Engelse sê verder dat sy daarvan bewus is dat Grace Mugabe oor ‘n geskiedenis van beweerde aanrandings beskik en haar in ‘n geregshof wil konfronteer.
In 2009 het ‘n fotograaf in Hong Kong beweer dat hy herhaaldelik deur Grace Mugabe met die vuis geslaan is.
Suid-Afrika se adjunkminister van hoër onderwys, Mduduzi Manana, het na bewering Sondagoggend omstreeks halfdrie ‘n vrou begin aanrand omdat hulle eers in ‘n politieke argument betrokke geraak het en sy hom daarna ‘n “moffie” (stibane) genoem het. Die voorval het in die nagklub Cubana in die Cedar Square-winkelsentrum te Fourways, Johannesburg, plaasgevind.
‘n Video van die voorval is agterna op sosiale media, waaronder Twitter, geplaas van waar PRAAG dit afgelaai het.
Die slagoffer van die adjunkminister en sy vriende het agterna gesê: “Hulle het my geskop en geslaan en aan my hare getrek… My niggie Thando is ook geklap, hulle het haar hare getrek. My vriendin is rondgegooi toe sy probeer het om my te kom help.”
Die vrou het agterna ook foto’s aanlyn geplaas wat op Twitter gedeel is.
Sy het agterna ook ‘n klag van aanranding teen Manana by die Douglasdale-polisiestasie aanhangig gemaak (sien dokument hier onder). Volgens haar het die nagklub se “uitsmyters net rondgestaan en kyk terwyl die aanranding plaasgevind het”.
In haar verklaring sê sy dat hulle by ‘n tafel naby die minister gesit het toe “ons in ‘n politieke debat betrokke raak, en hy wou ‘n toespraak maak teenoor almal wat daar was, waaronder sy personeel”.
‘n Vriendin van haar, Thando, het begin om ‘n selfoonvideo van die toespraak te maak toe sy gevra is om op te hou. Hierna het Manana woedend geraak, gevra wie hulle is, asook die veiligheidspersoneel by die kroeg gevra om haar en haar vriende te verwyder.
Mduduzi Manana. Hy is ‘n ‘moffie’ (stibane) genoem.
Met dié dat hulle wegloop, het een van haar vriende na die minister toe gedraai en vir hom gesê: “Maar jy is ‘n moffie (stibane).”
Toe sy buite die kroegarea kom, met haar vriende steeds binne, is sy na bewering geslaan. Toe sy val, is sy ook geskop. ‘n Werknemer van die SAUK wat ook teenwoordig was, het op verskeie radiostasies bevestig dat Manana “op die vrou se lyf en kop getrap het”.
Die vrou sê ook dat Manana “my hare gertrek het sodat my pruik van my kop afgekom het”.
Die vrou sê die uitsmyters wat haar en haar vriendin tot by hul motor vergesel het, het aan hulle gesê “om die plek te verlaat aangesien Mduduzi gevaarlik is en oor ‘n vuurwapen beskik”.
Die minister van polisie, Fikile Mbalula, het bevestig dat ‘n saak van aanranding by die Douglasdale-polisiestasie naby die klub aangemeld is.
Volgens Mbalula ontken Manana enige betrokkenheid, hoewel daar opnames op sosiale media bestaan waarin hy blyk skuld te erken.
Op sy persoonlike Twitter, het die adjunkminister gesê dat hy nie “bewerings ontken nie” en ook “nie trots” is nie. Desnieteenstaande meen hy dat die video-opname van die gebeure “vals” is.
I’m not denying allegations leveled against me,neither proud.there is over exaggeration of what transpired,there is a fake clip going viral
Die Johannesburgse Metropolisie het onlangs ‘n Afrikanermotoris geskop en geslaan omdat hy nie ‘n nommerplaat gehad het nie: dít terwyl hy ‘n nuwe nommerplaat in sy motor had omdat die vorige gesteel is. In ‘n video wat viraal op sosiale media versprei, word die laaste deel van die motoris – wat met ‘n duidelike Afrikaanse aksent Engels praat – getoon waar hy met die polisie probeer redeneer nadat hulle hom aangerand het.
‘n Vroulike metropolisielid probeer die motoris se vrou keer om die gebeure op video via haar selfoon vas te lê, maar sy staan op haar reg om die gebeure af te neem. Hier is die kort video, wat egter eers aan die einde van die aanranding begin.
‘n Swart werker het vermoedelik die wit bestuurder van ‘n vakansieoord buite Naboomspruit (Mookgophong) Sondag ‘n skroewedraaier en hamer aangerand.
Gillian Foster is met ernstige beserings in die Voortrekker-hospitaal in Potgietersrus (Mokopane) opgeneem.
“Sy is in ’n stabiele toestand, maar sy het nog nie haar bewussyn herwin nie. Hou haar asseblief in jul gedagtes en gebede,” het ‘n familielid op Facebook gesê.
‘n Soektog nog na die aanvaller van die Bothania Hills-vakansieoord is geloods, volgens kol. Ronél Otto, polisiewoordvoerder.
Die slagoffer se voertuig is ook gesteel.
Foster werk sedert Desember 2011 by die vakansieoord.
Aanvalle op vragmotorbestuurders in die Karoo raak ‘n kopseer sê bestuurders.
As die polisie nie optree teen aanvallers nie, sal bestuurders genoop word om die reg in eie hande te neem, sê hulle.
‘n Vragmotorbestuurder van Kaapstad is verlede week buite Beaufort-Wes aangeval.
Netwerk24 het berig dat Pierre Momberg (40) in die oggend omstreeks 03:30 net ná die verkeerslig aan die Kaapse kant van Beaufort-Wes stilgehou het om sy vragmotor te inspekteer.
Die aanvallers, vermoedelik swart of bruin, het met messe en ysterpype gewapen op hom toegesak.
Volgens Beaufort-Wes se polisiewoordvoerder is nie een van die betrokke polisiekantore – Beaufort-Wes en Leeu-Gamka – ingelig oor die voorval nie.
Die parlement sal glo vandag polisielede wat by misdaad betrek word onder die loep neem.
‘n Verslag van die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat toon dat meer as 2700 sake teen die polisie in die ses maande tussen April en September verlede jaar by OPOD aangemeld is.
Volgens die verslag was daar 103 sterftes in polisie-aanhouding, terwyl 159 mense weens polisie-optrede dood is.
Daar is 61 verkragtings deur polisielede aangemeld en 50 mense is tydens polisie-aanhouding verkrag.
Sowat 73 gevalle van marteling is aangemeld.
Die syfers toon dat die polisie 1745 mense aangerand het. Altesaam 44 polisielede word van korrupsie aangekla.
‘n Swart ANC-raadslid het ‘n minderjarige meisie so erg aangerand dat sy inwendig gebloei het, het die hof gehoor.
Dilahlwane Njodina, het in Bultfontein in die Vrystaat in die streekhof verskyn op ‘n aanklag dat sy ‘n 14-jarige meisie ernstig aangerand het.
Die aanval het gevolg op ‘n stryery tussen die meisie en die raadslid se dogter.
‘n Groot groep polisie-lede moes ‘n oproerige skare buite die hof in toom hou.
Lede van opposisiepartye, wat die verhoor wou bywoon, is nie in die hof toegelaat nie.
Die verhoor is tot 18 Februarie uitgestel.
Intussen is die Wes-Kaapse provinsiale leier, Marius Fransman uit sy pos verwyder hangende ‘n ondersoek na die klag van seksuele teistering teen hom.
Die ANC sê hy glo hy het die regte besluit geneem om hul provinsiale leier te skors.
Die party se Nasionale Werkskomitee en die Wes-Kaapse leiers hou Maandag ‘n vergadering om die skorsing te bespreek.
Fransman is oor die besluit ingelig. Die Hoof van die ANC se Wes-Kaapse uitvoerende komitee, Jabu Mfusi sê hulle wag vir die werkskomitee om die redes vir die besluit te verskaf.
Die klagte teen Fransman is sowat drie weke gelede deur ‘n twintigjarige vrou naby Rustenburg in Noordwes gelê.
Polisielede verbonde aan die Sentrale polisiekantoor in Windhoek staar klagte van aanranding en brutaliteit in die gesig, nadat hulle glo ’n wit inwoner van Windhoek tydens ondervraging ernstig aangerand het. Die klagte, CR432/01/2016, is by dieselfde polisiekantoor aanhangig gemaak.
Na bewering is die 35-jarige mnr. Marco Bock Saterdagoggend deur polisiebeamptes by die sentrale polisiekantoor in die hoofstad vir meer as ’n uur aangerand.
Volgens Bock is hy vroeër die oggend by die Vredehof-woonstelle in Windhoek vir ondervraging na die polisiekantoor geneem. Die ondervraging spruit glo uit die diefstal van ’n iPad uit een van die woonstelle.
Drie jeugdiges was toe reeds vir ondervraging in een van die polisiebakkies na die polisiekantoor onderweg. Vingers is glo deur hulle na Bock gewys dat hy die skuldige was wat die iPad glo gesteel en onder die Tweelingbrug sou gaan wegsteek het. Die jeugdiges het na bewering die wegsteekplek aan die polisie gaan uitwys.
Die drie jeugdiges en Bock is glo beveel om by die polisiekantoor uit te klim en na die agterkant van die gebou te stap. Na bewering is hulle toe beveel om liggaamlike oefeninge waaronder opstote te doen. Polisiebeamptes het toe glo vir Bock met ’n staalpyp oor sy boude en blaaie begin slaan in ’n poging om hom tot erkenning te dwing dat hy wél die iPad gesteel het.
Na bewering is hy volgens die polisiebeamptes geslaan omdat hulle “die waarheid soek” en hy die jeugdiges sou gestuur het om die inbraak te pleeg. Die beweerde aanranding het sowat ’n uur geduur en het glo gestop toe die polisielede besluit het hy het wel die waarheid gepraat.
’n Mediese dokter het in ’n verklaring ingevolge die strafproseswet bevestig dat Bock kneusings aan sy boude en rug en bloed in sy urine gehad het.
Die woordvoerder van die polisie, insp. Slogan Matheus, kon teen druktyd geen antwoorde verskaf nie.
‘n Polisievoertuig is aan die brand gesteek en ‘n ander onder klippe gesteek by die Ten Rooms-lokasie naby Hartbeespoortdam, het Noordwes se polisie Sondag gesê.
Kolonel Sabata Mokgwabone het gesê die polisievoertuig is Saterdag aan die brand gesteek.
Daar word beweer dat die polisie wou keer dat die gemeenskap ‘n man aanrand.
Die polisie het na bewering probeer om in te gryp om die man van die tierende skare te red.
Die skare het daarna glo die polisievoertuig aan die brand gesteek, maar die amptenare het daarin geslaag om die erg beseerde man, wat daarvan beskuldig word dat hy verantwoordelik is vir misdaad in die gebied, te red.
Mokgwabone het gesê ‘n ander voertuig is deur die skare onder klippe gesteek.
“Daar word beweer dat die gemeenskap probeer het om die motor te brand deur ‘n brandende buiteband op dit te gooi. Tog het die motor nie gebrand nie, hoewel die band skade veroorsaak het. ”
Paramedici het die beseerde bygestaan en hy is in die hospitaal opgeneem. Die polisiebeamptes is nie in die voorval beseer nie.
Twee leerlinge van ’n plaaslike skool in Witbank is in hegtenis geneem na ’n aanval op wit medeleerlinge.
Die twee leerlinge is Vrydag 14 Augustus gearresteer en het Maandag 17 Augustus in Witbank Landdroshof verskyn op klagtes van aanranding en roof.
Die name van die seuns word intussen weerhou omdat hulle minderjarig is.
Dié aanranding het omstreeks 13:45 net om die draai van dié skool plaasgevind.
’n Daaglikse roetine, soos huiswaarts keer na skool, het nou in ’n nagmerrie ontaard vir die twee slagoffers.
Die twee leerlinge onderskeidelik 15 en 16 jaar oud is té bang om in die middae huis toe te loop.
“Die skool het net uitgekom en ek en my vriend was op pad huis toe. Voor die winkel net om die hoek van die skool het ons die agt seuns gesien. Twee was bekend want hulle is in ons skool. Ons het nie moeilikheid verwag nie” het die 16-jarige die gebeure geskets.
Hy het vertel dat alles in ’n oogwink in chaos ontaard het toe die groep van agt hulle weg versper het.
“My eerste instink was om my foon vas te druk. Ek het gesien hoe my vriend ook sy foon vasdruk. Die volgende oomblik toe waai die vuiste. Uit die hoek van my oog het ek gesien hoe hulle my vriend van sy fiets afslaan.”
Vier leerlinge van ‘n hoërskool in Jan Kempdorp verskyn na verwagting vandag weer in die plaaslike landdroshof vir die beweerde aanranding van ‘n mede-leerling.
Volgens polisiewoordvoerder, Priscilla Naidu, bly die beskuldigdes in die sorg van hul ouers.
Die vier het na bewering tydens ‘n ontgroeningspraktyk ‘n 19-jarige leerling aangerand in sy koshuiskamer by die skool.
Die seuns het reeds voor ‘n tugkomitee van die skoolbeheerliggaam verskyn, maar die bevindinge is nog nie bekendgemaak nie.
Gerugte dat die klagte teen een van die vier teruggetrek is, is deur die Noord-Kaapse onderwysdepartement ontken.
Sydney Stander sê alvorens die tugproses afgehandel is, kan die saak nie teruggetrek word nie.
‘n Swart bediende van Welkom wat daarvan aangekla word dat sy haar voormalige werkgewers, Org en Anna-mi Linde, se babaseun aangerand het, het nie Donderdag vir hofverrigtinge opgedaag nie.
‘n Lasbrief vir haar inhegtenisname is intussen uitgereik. Die saak is tot 7 April uitgestel.
Mafsehediso Lisbeth Makashea was veronderstel om in die Welkom-streekhof te verskyn waar sy tereg staan op aanklag van aanranding met doel om ernstig te beseer.
Sy is in Desember op kamera gevang waar sy baba Nico Linde, toe sewe maande oud, mishandel en aanrand as hy huil.
Die bediende word ook van diefstal aangekla.
Makashea is in Desember in hegtenis geneem. Die ouers het kamera in die sitkamer opgestel waarmee Makashea se mishandeling van Nico opgeneem is toe hulle nie tuis was nie. Hulle het ‘n soortgelyke slegte ervaring met ‘n vorige bediende gehad.
Die egpaar het strafregtelike klagte teen Makashea aanhangig gemaak nadat hulle die beeldmateriaal gesien het.
‘n Wit vrou van Pretoria is glo deur swart staatsamptenare by die Centurion-lisensiekantoor aangerand toe sy geweld tussen die personeel en ‘n lid van die publiek afgeneem het.
Connie Wehrmann sê sy is verlede Woensdag aangerand deur ‘n swart amptenaar. Sy het haar pa na die sentrum vergesel toe die voorval plaasgevind het.
Volgens Wehrmann het die bestuurder ‘n beswaarde lid van die publiek rondgestamp en met die kop geslaan. Hy het na bewering ook op haar geskree en in haar gesig gespoeg.
Wehrmann het aan Netwerk24 gesê gedurende die bakleiery was sy besig om ‘n boodskap op haar selfoon te tik. Die swart amptenare het daarna met geweld probeer om haar selfoon af te vat en haar daarvan beskuldig dat sy beeldmateriaal van die geweld opneem.
Wehrmann se gesig is stukkend geslaan en sy het krapmerke in haar nek. Sy is hardhandig deur veiligheidspersoneel uit die lisensiekantoor geboender.
Die swart polisie-ondersoekbeampte wat haar klag ondersoek het, het Wehrmann egter Dinsdag na die Lyttelton-polisiestasie ontbied om haar in te gelig dat ’n saak van aanranding téén haar ingedien is.
Ao. Hero Gumbu, polisiewoordvoerder vir Lyttelton, het bevestig ’n saak van aanranding word ondersoek.
Wehrmann moet Maandag in die landdroshof verskyn. As Sy Maandag skuldig bevind word, sit sy met ’n kriminele rekord, alhoewel sy oorspronklik die klaer was.
‘n Blanke paartjie, Zoran Ramos en Natalie Spence, is op Sondag 1 Maart deur ‘n tierende groep van 15 tot 20 swartes in die East Rand Galleria aangerand.
Die twee is deur die aanvallende groep swartes “wit varke” genoem. ‘n Woordewisseling het plaasgevind waartydens die blankes “wit varke” (white pigs) genoem is. Toe daar aan Spence geslaan is, het Ramos haar probeer beskerm deur terug te slaan.
Natalie Spence ná die aanranding
Binne oomblikke het die skare swartes van omtrent twintig egter op die twee weerlose blankes toegesak en hulle begin aanrand.
Volgens ‘n ooggetuie, Jessica Smith, het Spence en Ramos op die vloer beland en kon nie wegkom nie. “Die twee het op die vloer gelê en kon nie beweeg of wegkom nie – hulle het om hulp geskree, maar nie eens die veiligheidswagte van die winkelsentrum wou hulle help nie,” sê sy.Teen dié tyd het ‘n bebloede Natalie Spence die trop swartes gesmeek om op te hou.Maar die aanranding het net aangehou, sê Jessica Smith. “Ek het selfs ‘n swart vrou gesien wat haar skoen uittrek om Spence mee te slaan en, ja, ek het ook ‘n swartman gesien wat haar teen die kop skop, wat die erge sny veroorsaak het.” (Sien foto hierby.)
“Die res van die gepeupel was besig om Ramos te skop en aan te hou om hom te slaan.
”Hy kon hulle nie almal terugslaan nie, en ek kon sien hy het probeer om Spence te verdedig.”
Smith het die polisie tydens die voorval geskakel, maar niemand het opgedaag nie. Dit het ‘n hele ruk geduur voordat enige hulp sou opdaag. Sy is deur die voorval geskok en het gesê: “‘n Paartjie is in ‘n openbare winkelsentrum aangerand sonder dat enige poging aangewend word om hulle te help; dis skokkend en heeltemal afstootlik!”Smith het ook gepoog om met die bestuur van die winkel te praat waar die onderonsie begin het, maar is vertel dat aangesien die fisieke aanranding buite die winkel se deure plaasgevind het, hulle geen verantwoordelikheid aanvaar nie.
“In vandag se tye behoort so iets nie plaas te vind nie,” meen Smith.