‘Weldoener’ steel baba

‘n Swart vrou van Rustenburg sal na verwagting Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn nadat sy glo Maandag ‘n pasgebore baba by die Job Shimankane Tabane-hospitaal ontvoer het.

Noordwes polisiewoordvoerder, Paul Ramaloko, sê die polisie het die 19-jarige-vrou, wat haarself voorgedoen het as ‘n weldoener en aangebied het om die baba vas te hou en toe met kind verdwyn het, ure daarna in Sondela naby Boitekong in hegtenis geneem.

Hy sê die verdagte het geld aan die babadogtertjie se ma gegee om kos te koop, terwyl die ma en haar kind vir vervoer gewag het nadat hulle uit die hospitaal ontslaan is. Toe die 31-jarige ma terugkeer was hulle nie meer daar nie.

Die eenheid teen gesinsgeweld en seksuele misdrywe en vir kinderbeskerming ondersoek die voorval.

Bediende wat baba glo aanrand soek

‘n Swart bediende van Welkom wat daarvan aangekla word dat sy haar voormalige werkgewers, Org en Anna-mi Linde, se babaseun aangerand het, het nie Donderdag vir hofverrigtinge opgedaag nie.

‘n Lasbrief vir haar inhegtenisname is intussen uitgereik. Die saak is tot 7 April uitgestel.

Mafsehediso Lisbeth Makashea was veronderstel om in die Welkom-streekhof te verskyn waar sy tereg staan op aanklag van aanranding met doel om ernstig te beseer.

Sy is in Desember op kamera gevang waar sy baba Nico Linde, toe sewe maande oud, mishandel en aanrand as hy huil.

Die bediende word ook van diefstal aangekla.

Makashea is in Desember in hegtenis geneem. Die ouers het kamera in die sitkamer opgestel waarmee Makashea se mishandeling van Nico opgeneem is toe hulle nie tuis was nie. Hulle het ‘n soortgelyke slegte ervaring met ‘n vorige bediende gehad.

Die egpaar het strafregtelike klagte teen Makashea aanhangig gemaak nadat hulle die beeldmateriaal gesien het.

Arrestasie in Kaapse babaverkragtingsaak

baby_rapeVolgens die Wes-Kaapse polisie, sal ‘n man Donderdag in die Ceres-Landdroshof verskyn in verband met die verkragting van ‘n vier-maande oue baba en ‘n sewe-jarige seun.

Lt-Kol Andre Traut sê die 25-jarige man, wat ook ‘n lokale plaasarbeider is, is Woensdag gearresteer.

Hy sê: “Kriminele oortredinge teenoor kinders word deur ons as topprioriteit beskou.  Ons sal geen steen onaangeraak laat om ‘n verdagte in sodanige verband op te spoor nie.”

“Ons is baie tevrede met die resultate wat in ons ondersoeke tot op datum behaal is, en wil ook ons waardering uitspreek teenoor die Ceres-gemeenskap wat ons gedurende die afgelope paar weke ondersteun het.”

Volgens die plaaslike polisiekommissaris, Arno Lamoer, het die baba saam met haar ouers in ‘n bed geslaap toe ‘n man haar op 3 Augustus gegryp en verkrag het.

‘n Seun wat in dieselfde huis woon, is ook verkrag.

Die ANC-Vroueliga het Dinsdag gesê dat die baba besis is om te herstel ná haar vierde rekonstruktiewe chirurgiese operasie.

Die woordvoerder van die ANCWL, Nosipho Ntwanambi het gesê:  “Die afskuwelike en onmenslike dade van verkragtings wat hierdie kinders getref het, is teleurstellend, en moet onverbiddelik en konsekwent deur elke lid van die gemeenskap veroordeel word.”

Ntwanambi het verder gesê dat die liga sal voortgaan om protesaksies te organiseer ten einde te poog om mans wat seksuele oortredinge begaan, uit die samelewing verwyder te kry.

‘n 32-jarige man wat voorheen gearresteer is, is vrygelaat nadat hy nie met die saak verbind kon word nie. – Sapa