‘n Swart vrou van Rustenburg sal na verwagting Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn nadat sy glo Maandag ‘n pasgebore baba by die Job Shimankane Tabane-hospitaal ontvoer het.
Noordwes polisiewoordvoerder, Paul Ramaloko, sê die polisie het die 19-jarige-vrou, wat haarself voorgedoen het as ‘n weldoener en aangebied het om die baba vas te hou en toe met kind verdwyn het, ure daarna in Sondela naby Boitekong in hegtenis geneem.
Hy sê die verdagte het geld aan die babadogtertjie se ma gegee om kos te koop, terwyl die ma en haar kind vir vervoer gewag het nadat hulle uit die hospitaal ontslaan is. Toe die 31-jarige ma terugkeer was hulle nie meer daar nie.
Die eenheid teen gesinsgeweld en seksuele misdrywe en vir kinderbeskerming ondersoek die voorval.
