Volgens die Wes-Kaapse polisie, sal ‘n man Donderdag in die Ceres-Landdroshof verskyn in verband met die verkragting van ‘n vier-maande oue baba en ‘n sewe-jarige seun.
Lt-Kol Andre Traut sê die 25-jarige man, wat ook ‘n lokale plaasarbeider is, is Woensdag gearresteer.
Hy sê: “Kriminele oortredinge teenoor kinders word deur ons as topprioriteit beskou. Ons sal geen steen onaangeraak laat om ‘n verdagte in sodanige verband op te spoor nie.”
“Ons is baie tevrede met die resultate wat in ons ondersoeke tot op datum behaal is, en wil ook ons waardering uitspreek teenoor die Ceres-gemeenskap wat ons gedurende die afgelope paar weke ondersteun het.”
Volgens die plaaslike polisiekommissaris, Arno Lamoer, het die baba saam met haar ouers in ‘n bed geslaap toe ‘n man haar op 3 Augustus gegryp en verkrag het.
‘n Seun wat in dieselfde huis woon, is ook verkrag.
Die ANC-Vroueliga het Dinsdag gesê dat die baba besis is om te herstel ná haar vierde rekonstruktiewe chirurgiese operasie.
Die woordvoerder van die ANCWL, Nosipho Ntwanambi het gesê: “Die afskuwelike en onmenslike dade van verkragtings wat hierdie kinders getref het, is teleurstellend, en moet onverbiddelik en konsekwent deur elke lid van die gemeenskap veroordeel word.”
Ntwanambi het verder gesê dat die liga sal voortgaan om protesaksies te organiseer ten einde te poog om mans wat seksuele oortredinge begaan, uit die samelewing verwyder te kry.
‘n 32-jarige man wat voorheen gearresteer is, is vrygelaat nadat hy nie met die saak verbind kon word nie. – Sapa
