Ek wil my skool loopbaan oorhê sodat ek van vooraf geprogrammeer kan word vir die lewe. Duidelik het ek die verkeerde waardesisteem geleer. Hierdie een pas my beslis nie en word ek net misdaadvoer vir my medelandsburgers.
Ek wil op skool leer dat as een ’n toets deurkom moet almal deurkom. Ek wil net skoolgaan as ek so voel en my woede teen die lewe uitleef deur die skool van tyd tot tyd af te breek. Ek wil my maatjies se goed vat as hulle nie kyk nie, sonder enige skuldgevoel. Ek wil leer leef vir nóú. As iets klaar is, wil ek wag tot dit op is voordat ek begin plan maak om dit aan te vul. Ek wil leer dat ander vir my moet sorg met toelaes en dat die simpel mense wat werk gereël besteel en beledig moet word, want dis hul verdiende loon.
As jy tot prefek verkies word, beteken dit dat almal hul toebroodjies vir jou moet gee, jy tol by die hek kan vra en verdere betaling van ‘n toepaslike fooitjie om toetsresultate aan te pas. Ek wil leer roof en moor sonder omgee, ek wil leer dat mens tonne geld kan maak sonder om daarvoor te werk en bowenal wil ek leer dat partylojaliteit alle misstappe vergewe.
Ek wil leer dat ras die nuwe godsdiens is en dat vergifnis vir misstappe was rasgemotiveerd mag wees, nie sommer gebeur nie. Ydellike gebruik van sekere woorde is strafbaar in die hoogste hof maar Godslaster val op die vlak van rommelstrooi.
Kortom, ek is nog nie reg geprogrammeer vir hierdie land nie.
Groete,
Sagmoedige Lukas
