Wegholveldbrand rig groot skade aan by Zastron

‘n Wegholveldbrand het Maandag duisende hektaar weidinggrond in die Zastron-distrik verwoes asook die bekende Aasvoëlberg-buitelugsentrum vernietig, het OFM berig.

Voorsitter van die Zastron Brandbeskermingsvereniging, Steyn van Ronge, sê ‘n brand wat vermoedelik deur lede van ‘n inisiasieskool in die gebied begin is, het weens matige tot sterk winde vinnig na die suide van dié Vrystaatse dorp versprei. Die droë en warm weersomstandighede het sake vererger.

Van Ronge sê weens ‘n tekort aan water op die dorp moes boere, inwoners en plaaswerkers water vanuit vee se krippe gebruik om die brande te blus. Daar word geraam dat tussen 3 000 en 5 000 hektaar grond vernietig is en minstens drie plase hul totale weidinggrond verloor het.

Rondawels, bome en geboue by die buitelugsentrum, beter bekend as die Buitelugskool, het tot op die grond afgebrand.

Dit kom ná nog ‘n brand wat tien dae gelede tussen 10 000 en 15 000 hektaar in dieselfde omgewing vernietig het.

Van Ronge sê dit smeul steeds plek-plek vandag, maar weens stiller wind is daar geen onmiddellike brandgevaar nie.

Brande teister Vrystaat

veldbrandBrandspanne het hul hande vol in die Vrystaat waar veldbrande woed. ‘n Sterk wind blaas die vlamme aan en die droë toestande vererger die situasie.

‘n Groot brand woed tussen Rosendal en Fouriesburg. Daar is ook brande op Rouxville, Zastron, Wepener, Hobhouse en Paul Roux.

Twee plaashuise het afgebrand en duisende hektaar weiveld is reeds vernietig.

Spanne van Working on Fire, boere en plaaswerkers bestry die brande. – RSG