Wegholveldbrand rig groot skade aan by Zastron

‘n Wegholveldbrand het Maandag duisende hektaar weidinggrond in die Zastron-distrik verwoes asook die bekende Aasvoëlberg-buitelugsentrum vernietig, het OFM berig.

Voorsitter van die Zastron Brandbeskermingsvereniging, Steyn van Ronge, sê ‘n brand wat vermoedelik deur lede van ‘n inisiasieskool in die gebied begin is, het weens matige tot sterk winde vinnig na die suide van dié Vrystaatse dorp versprei. Die droë en warm weersomstandighede het sake vererger.

Van Ronge sê weens ‘n tekort aan water op die dorp moes boere, inwoners en plaaswerkers water vanuit vee se krippe gebruik om die brande te blus. Daar word geraam dat tussen 3 000 en 5 000 hektaar grond vernietig is en minstens drie plase hul totale weidinggrond verloor het.

Rondawels, bome en geboue by die buitelugsentrum, beter bekend as die Buitelugskool, het tot op die grond afgebrand.

Dit kom ná nog ‘n brand wat tien dae gelede tussen 10 000 en 15 000 hektaar in dieselfde omgewing vernietig het.

Van Ronge sê dit smeul steeds plek-plek vandag, maar weens stiller wind is daar geen onmiddellike brandgevaar nie.

Veldbrande woed in Vrystaat, Limpopo

Verskeie wegholveldbrande het die afgelope naweek in winderige toestande oor die Vrystaat en Limpopo heen gewoed, maar inligting oor die omvang van die skade en die gebiede wat geraak is, word nog ingesamel.

Boere en plaaswerkers het by Working on Fire-personeel aangesluit in ‘n poging om die verwoestende veldbrande in die Waterberg-gebied buite Modimolle in Limpopo te blus.

Die gebiede by Alma en Vaalwater word ook geraak. Vyftien brandbestrydingspanne van Limpopo, Mpumalanga en Gauteng is in die gebied ontplooi.

Die brand het Vrydag in droë veld ontstaan te midde van die hittegolf oor die gebied.

Die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se Malcolm Proctor sê dit is nog te vroeg om te sê hoeveel hektaar die naweek in brande verwoes is, maar sowat 62 000 hektaar veld is al sedert die begin van die jaar in die Vrystaat vernietig.

Dit teenoor die meer as 350 000 hektaar, dieselfde tyd verlede jaar. Hy skryf die afname toe aan ‘n brandsiklus.

Proctor sê in die afgelope twee weke is sowat 25 000 hektaar veld in hoofsaaklik die Vrystaat se hoof reënvalgebiede, wat die oostelike deel van die provinsie insluit, vernietig.

Dit is gebiede langs die Lesotho-grens en gebiede soos Harrismith wat aangrensend aan KwaZulu-Natal is.

Hy waarsku die brandgevaarindeks is steeds baie hoog.

Intussen is ‘n brandbestryder volgens die SABC doodgebrand terwyl hy gehelp het om die veldbrande buite Vaalwater in Limpopo te bestry.

Reën kom, maar vir talle te laat

Goeie reënbuie in groot dele van die Vrystaat die afgelope week het welkome verligting vir talle boere gebring al het droogtetoestande reeds sy tol op baie somergewasse, veral mielie-oeste geëis, het OFM berig.

‘n Gemengde boer van Bothaville, Christiaan Bouwer, sê die afgelope week se reën help baie vir weiding en dele in die distrik kan baat daarby. Hy sê egter die reën het té laat gekom vir ‘n groot deel van sy mielie-oes omdat daar nie vol bestuiwing weens die droogte en hitte plaasvind het nie.

Sy sonneblom-oes het ook skade gely, terwyl die reën wel vir sy grondbone, wat nog groen en welig is, gehelp het.

Bouwer meen die hele distrik het sowat 50% droogteskade.

Volgens hom is dit die eerste keer sedert Kersfees dat dit goed in die distrik gereën het.

Intussen voorspel die Nasionale Weerdiens in Bloemfontein nog reën oor die naweek vir sentraal-Suid-Afrika. Daar is ‘n 60% kans op reën môre en Saterdag vir die hele Vrystaat, terwyl daar ‘n 30% kans op reën vir Noordwes is. In die oostelike deel van die Noord-Kaap is daar ‘n 30% kans op reën tot Sondag.

Vier veldbrande woed in Krugerwildtuin

Die Nasionale Krugerwildtuin het sy kommer oor veldbrande in die park uitgespreek.

Die park se woordvoerder, William Mbasa, sê vier veldbrande woed tans en personeel moet bontstaan om die brande onder beheer te bring. Warm toestande die afgelope week maak dit nog moeiliker, het hy gesê.

Hy het ‘n dringende beroep op mense in die omgewing gedoen om nie veldbrande te stig nie.

Volgens Mabasa, het ‘n veldbrand Vrydag in Mosambiek uitgebreek en daarna oor die grens binne die Park beweeg.

Die veldbrand het intussen weiding suid van die Olifantsrivier, by Houtboschrand, Nwanetsi en Tshokwane vernietig.

Mbasa sê alles moontlik word intussen gedoen om die brande te blus.