Die regering sê hy doen sy bes om die land se kragtekorte te verlig. President Jacob Zuma sal vanoggend die Grootvlei-kragstasie in Balfour in Mpumalanga heropen.
Dit is deel van die regering se infrastruktuur ontwikkelingsprogram. Die heraanskakeling van die kragstasie is deel van Eskom se projekte om ou kragstasies weer in diens te stel.
Die Camden- en Komati-kragstasies is ook deel van die projek.
Die Grootvlei-kragstasie is in die laat sestiger-jare gebou en bestaan uit ses steenkooleenhede met ‘n kapasiteit van 1-duisend 200 megawatt.
Die kragstasie is in 1990 uit bedryf gestel weens die ooraanbod van krag. President Zuma sal ook die Balfourspoorlyn besoek wat ten doel het om steenkool na die Grootvlei kragstasie te vervoer. – RSG
