Transnet tel stoom op met lokomotief-bou

transnetTransnet gaan R50 miljard bestee om 1064 lokomotiewe van vier internasionale maatskappye te koop, het RSG berig.

Die maatskappy het Maandag kontrakte met General Electric, Bombardier en twee Chinese maatskappye gesluit het om die lokomotiewe te verskaf.

Transnet se sewe-jaar plan van sowat R300 miljard om die land se vervoernetwerk uit te brei behels die uitbreiding van die spoornetwerk, hawens, en pypleidings.

Die bestuurshoof van Transnet, Brian Molefe, het die ooreenkoms by ‘n mediakonferensie in Johannesburg bevestig.

Die suksesvolle bieërs sal Transnet voorsien van nuwe elektriese- en diesellokomotiewe.

Ingevolge die kontrakte sal die lokomotiewe in Suid-Afrika gebou word, wat werkskepping vir meer as 30.000 mense sal beteken.

Rekord aantal partye registreer vir verkiesing

Die (Engels-eentalige) embleem van die OVK
Die (Engels-eentalige) embleem van die OVK

‘n Rekord aantal politieke partye het geregistreer om aan die algemene verkiesing op 7 Mei deel te neem.

Luidens ‘n verklaring van die Onafhanklike Verkiesingskommissie gaan 33 partye op nasionale vlak aan die verkiesing deelneem.

Vier van dié partye skuld egter nog hul depositos voldoen en kan uitgeskakel word as hulle dit nie betaal nie.

Selfs met 29 partye sal daar nog meer keuses wees as in enige van die vorige verkiesings.

Noordwes het met 16 die minste partye wa die verkiesing gaan betwis, en die Wes-Kaap die meeste.

Daar is 26 partye wat die verkiesing in die Wes-Kaap sal betwis op provinsiale vlak, 22 in Gauteng en 20 in Limpopo.

Partye wat nog aan bepaalde vereistes moet voldoen, het tot die 24ste van die maand om die finale afsnypunt te haal.

Kandidaatlyste sal van die 28ste van die maand beskikbaar wees vir finale inspeksie en die uiteindelike lys van kandidate sal op 22 April verskyn.

Numsa sluit by platinumstaking aan

Karl Cloete
Karl Cloete

Die twee maande lange staking in die platinumbedryf duur steeds voort nadat onderhandelings op ‘n dooie punt uitgeloop het.

Die stakende mynwerkers moes reeds vier miljard rand aan verlore inkomste opdok, terwyl mynmaatskappye al sowat nege miljard rand verloor het.

Intussen het die Metaalwerkersvakbond, Numsa, gesê sy eendaagse staking wat vir Woensdag beplan is, gaan ook voort.

Die stakings wil die werkloosheidprobleem onder jong mense belig.

Die adjunk-hoofsekretaris van die vakbond, Karl Cloete, sê sowat halfmiljoen mense sal na verwagting landwyd aan die staking deelneem.

Numsa het tydens die spesiale nasionale kongres in Desember verlede jaar besluit om nie die ANC te ondersteun of sy verkiesingsveldtog te borg nie.

Hulle het ook ‘n beroep op Cosatu gedoen om uit die drieledige alliansie met die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party te onttrek.

Cloete het verlede week ‘n dokument aan Cosatu oorhandig waarin hulle verduidelik waarom hulle nie geskors behoort te word uit die vakbondfederasie oor die besluit nie.

Cloete sê dat Cosatu, ANC en SAKP-leiers wil sektore waar Numsa verteenwoordig is, met ‘n ander unie troef. Hy het gesê daar is ‘n plan om nog ‘n metaalwerkersunie tot stand te bring.

“Cosatu weet daar moet ‘n metaalwerkers [unie] binne die federasie wees as Numsa geskors word.”

Vlug MH370 kon radar vermy het

mh3702Maleisië het die 25 lande wat aan die soektog deelneem na die vermiste passasiersvliegtuig, ‘n Boeing 777 van Malaysia Air, vir meer radar- en satellietdata geva.

Die soekgebied is in die afgelope 24 uur uitgebrei. Visualisering wat al 634 aanloopbane aantoon waar vlug MH370 kon geland het, is deur die VSA gedoen.

Die Australiese premier Tony Abbott het gesê sy land sal die leiding neem in die soektog van die suidelike sektor.

Die vliegtuig met 239 mense aan boord het verlede Saterdag spoorloos verdwyn. Geen teken van die vlug van Kuala Lumpur na Beijing is nog gevind nie en ‘n moontlike kaping is nie uitgesluit nie.

China het Maleisië skerp gekritiseer weens teenstrydige inligting oor die vermiste vlug MH370. China het gesê dit lyk na pligsversaking deur Maleisiese owerhede.

Meer as die helfte van die 239 passasiers aan boord, is Chinese burgers.

Indië sy soektog rondom die Andaman- en Nicobareilande oor die naweek afgelas nadat die Maleisiese eerste minister, Najib Razak aangekondig het dat die soektog aangepas sal moet word.

Nuwe inligting toon dat die kommunikasiestelsel van die vliegtuig doelbewus afgeskakel is. Die vliegtuig het volgens satellietdata nog minstens sewe en ‘n half uur gevlieg.

Die Chinese staatsmedia is skepties oor die inligting wat tot dusver deur Maleisië vrygestel is.

Op sosiale media heers kritiek teen Maleisiese owerhede se onvermoë om ‘n deurbraak te maak namate die soektog sonder resultate voortsleep.

Die Maleisiese premier, Najib Razak het die naweek gesê die vliegtuig kon moontlik nog verskeie ure gevlieg het nadat daar van die vlugroete afgewyk is.

Die China Daily-koerant het dié laat aankondiging oor die ware toedrag van sake bevraagteken.

Daar is berigte in die laaste uur of so, wat beweer nuwe inligting toon dat die vliegtuig skielik gedaal het tot op ‘n hoogte van 5000 meter.

Ondersoekbeamptes glo die vliegtuig het die dramaties lae hoogte bo seespieël gekies in ‘n gevaarlike ontwykende vlugtegniek. Die lae vlak het vliegtuigradaropsporing in minstens drie lande gefnuik.

Duitse president Gauck ‘n voorstander van eensydige ingryping

Gauck hand om die blaas met sy meester
Gauck hand om die blaas met sy meester

Daar was vroeër vanjaar rekordgetalle betogers vergader teen die jaarlikse sekuriteitskonferensie in München, Duitsland, en dit was nie per toeval nie.

Duitse deelnemers aan die konferensie het vir ‘n meer gespierde (lees: aggressiewe) buitelandse beleid gevra, en daar het stemme opgeklink ten gunste van die uitbreiding van die rol van die Bundeswehr in NAVO wat in die naam “vredessendings in die buiteland” diens doen.

Byna 5000 Duitse militêre personeel neem tans deel in nege internasionale konflikteaters, insluitend meer as 3135 in Afghanistan en 784 in Kosovo.

Die dag voor die konferensie afgeskop het, het Angela Merkel in ‘n gesprek met die Verenigde Nasies se Sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, die noodsaaklikheid beklemtoon om Duitsland se bydrae in krisisbestuur te verhoog.

Terwyl die kanselier die hele reeks aktiwiteite geskets het, het Duitsland se federale president Joachim Gauck net die militêre aspekte benadruk.

Die voormalige Protestantse predikant het ‘n langasempreek afgesteek vir uitgebreide militêre betrokkenheid, en te velde getrek teen… pasifiste.

Volgens Gauck gebruik pasifiste die historiese skuld van die Duitsers om teen deelname in buitelandse konfliksituasies te protesteer. Hy bedoel natuurlik diegene wat artikel 26 van die Duitse Grondwet te letterlik opneem. Luidens artikel 26 mag die land geen militêre bedreiging inhou nie.

Duitsers is vandag demokrate met ‘n skoon gewete en ‘n vlekkelose geskiedenis as mens na Gauck luister. Maar die voormalige kommuniste het nie dieselfde voorreg nie. Hulle moet die verlede onthou, selfs al is hulle vandag demokraties.

Joachim Gauck was een van die eerstes wat inderhaas die Praag-verklaring oor Europese Gewete en Kommunisme (2008) en die Verklaring oor Misdade van die Kommunisme (2010 ) onderteken het.

Daarvolgens moet kommunisme voor ‘n spesiale internasionale tribunaal soos die Nuremberg-verhoor van 1945 gedaag word, asof die Oos-Duitsers nie lustig saamgewerk het daarmee nie. Hy verdoem ten minste ‘n groot deel van sy eie landgenote.

Selfs die geskiedkundiges wat kommunisme en fascisme vergelyk, kritiseer Gauck se geheueverlies oor sy eie tragiese biografie: Sy pa was self in ‘n Britse tronk.

Die president van Duitsland dink sy eenogige verwysing na die geskiedenis is ‘n verskoning wat toelaat dat die Duitsers vandag gemaklik agter die rug van heldhaftige bondgenote kan wegkruip.

Hy meen dit is niks anders as morele verdorwenheid dat die Verenigde State van Amerika alleen “vrede” moet handhaaf nie. Gauck glo dat Duitsland en sy bondgenote meer verantwoordelikheid moet neem.

Kenners weet egter goed waar die huidige idee van Duitsland se verantwoordelikheid vandaan kom. In September 2013 het die Duitse Instituut vir Internasionale en Sekuriteitsaangeleenthede van die Stiftung Wissenschaft und Politik (SWP) en die Duitse Marshall Fonds van die Verenigde State ‘n verslag getiteld New Power, New Responsibility, elements of a German Foreign and Security Policy for a Changing World, die lig laat sien.

Die belangrikste gevolgtrekking van die studie is dat Duitsland se invloed in Europa behoort te groei saam met sy verantwoordelikheid teenoor die Verenigde State van Amerika. President Joachim Gauck is duidelik besig om die eenduidige rigting daarvan aan te dui.

Hy is van mening dat die beginsels van staatsoewereiniteit en nie-inmenging nie van toepassing is op regimes wat geweld gebruik nie. Dit is net nog ‘n poging om die beginsel van nie-inmenging te vervang soos in die Verenigde Nasies se Handves vervat.

Duitsers is veral geïnteresseerd in die wetlike aspek want hulle is bekend daarvoor dat hulle groot respek het vir alles wat op skrif gestel word. Horst Köhler, die voorloper van Gauck, het al in sy tyd al probeer toesien dat die beginsel van nie-inmenging hersien word.

Voor die studente van die Universiteit van Tübingen in 2004, het hy die Konstitutiewe Wet van die Afrika-Unie as … ‘n voorbeeld van ‘n dokument gebruik wat beskerming bied aan demokratiese waardes. Trouens, die Wet beoog die reg van ingryping in ‘n lidstaat in die geval van oorlogsmisdade, volksmoord, misdade teen die mensdom ( artikel 2 , item h)

Die Duitsers glo dus dat hulle ook moet ingryp in Afrika, behalwe natuurlik as dit oor plaasmoorde gaan waar wittes doodgemaak word. As dit by die plundery in die DRK kom, is hulle al te gewillig om teenwoordig te wees, want daar hoef hulle nie wittes te ondersteun nie.

Ander Europeërs het ook intussen besmet geraak deur die militaristiese ingrypingsvirus. Oostenryk en die Tsjeggiese Republiek het blykbaar besluit om die resultate van 1938 se München-konferensie te hersien en te erken dat Hitler eintlik deur demokratiese idees aangevuur is ter beskerming van die Duitse bevolking teen etniese diskriminasie.

Ronnie Kasrils weet nie of hy ANC moet stem nie

Ronnie en sy Moslemvrou
Ronnie en sy Moslemvrou op hul troudag

Die voormalige minister van intelligensie Ronnie Kasrils weet nog nie of hy onomwonde sy stem vir die ANC gaan uitbring nie.

“Ek was ‘n persoon wat so betrokke was by die mobilisering vir ANC-stemme,” het hy glo aan die Mail&Guardian gesê.

“Ek moet erken dat ek nie vandag dit kan doen nie…”

Kasrils sê hy het nooit gedink dat hy op ‘n punt sou kom waar hy nie weet wat om aan ander voor te skryf nie.

“Die ANC het 20 jaar gehad om homself te bewys as hulle hul[self] nie bewys het nie, dan sê ek: Luister na jou kop en jou hart.”

Kasrils het gesê dit is nie ‘n goeie idee om bedorwe stembriewe uit te bring nie.

Die OVK het in die vorige verkiesing meer bedorwe stembriewe getel as wat die VF+ stemme getrek het.

“Ek het aan mense gesê… dit is nie goed om na ‘n stembus te gaan en net alles dood te trek nie.

“As jy so iets wil doen, as ‘n groep, reik ‘n verklaring uit oor waarom jy voel dat jy nie op hierdie spesifieke tydstip kan stem nie.”

Beginsellose verkiesing?

Julie Kilian
Julie Kilian

Herman Toerien vra in sy nuuskommentaar of Suid-Afrikaners dalk vanjaar sonder enige beginsels kieslokaal toe sal gaan nalv die opportunistiese oorlopery van Cope en DA LP’s na die ANC.

In sy hoofartikel looi Volksblad nie net die optrede van die vier oorlopers nie, maar ook die lamlendige verskonings of verduidelikings wat die viertal aangebied het. “Dit druip van beginselloosheid”, skryf ‘n verontwaardige Toerien.

En beginsels is tog veronderstel om die hoofrede te wees oor waar kiesers hul kruisies gaan trek. Kan ‘n party se beleid sonder beginsels hoegenaamd ‘n beleid genoem word?

Dit sou ‘n heel ander kwessie gewees het as die vier, toe hulle agtergekom het hulle het beginselprobleme met die beleid van hul party, uit daardie partye bedank het (en hul setels prysgegee het) en by ‘n party in ooreenstemming met hul beginsels gaan aansluit het tot hulle die kandidaatlyste op die gebruiklike manier kon haal.

Die kiesers gaan ‘n breë keuse hê wanneer hulle in die algemene verkiesing hul kruisies gaan trek. Sommige kiesers sal noodwendig op die nasionale en provinsiale lyste vir twee verskillende partye moet stem omdat sommige partye nie in al die provinsies kandidate stel nie.Van die bekendste grotes (in die Suid-Afrikaanse konteks) se name sal weer op die stembrief voorkom. Hulle sluit die ANC, die DA, Cope, IVP, die UDM, Vryheidsfront Plus, die PAC, Minority Front en nog ‘n paar kleineres in.

Van die nuwe toetreders het verskeie reeds die oog gevang, hoewel nie almal vir die regte redes nie. Onder die bekendste nuwelinge is Julius Malema se EFF waarskynlik die party wat die beste gaan vaar, Agang SA, en die NFP wat hoofsaaklik uit die IVP ontstaan het, en duidelik baie steun afgerokkel het.

Nog ‘n nuwe toetreder, wat volgens sy Facebook-blad vir die verkiesing geregistreer het, is die Front Nasionaal. Die bekendste leiersfiguur hiervan is dr. Dan Roodt. Dit sal interessant wees om te sien of hierdie party – wat uit verskillende belangegroepe saamgestel is, beduidende steun sal kan trek van mense wat voorheen geweier het om aan verkiesings deel te neem.

Die bekende Peter Marias het self hard probeer om bruin, Koi- en San-groepe as ‘n beduidende politieke mag vir die verkiesing saam te snoer, maar dit het geblyk dat ‘n veewagter dit makliker sou vind om ‘n trop wilde tarentale in ‘n hoenderhok ingekeer te kry. Daardie verwikkelinge kan egter die bruin steun vir die DA – weens die DA se skynbare louheid oor die Solidariteit-DKD-saak – in ‘n mindere of meerdere mate knou. Daar is ‘n groot onrustigheid oor die groeiende Manyiïsme in nuwe wetgewing wat niks goeds vir die bruin gemeenskappe inhou nie.

Tussenverkiesingsuitslae het daarop gedui dat die UCDP – die party van wyle Lucas Mangope, waarskynlik sy deposito in die water gaan gooi.Vir die groter partye gaan die verkiesing ‘n groot toets wees. Peilings dui daarop dat die ANC se steun aansienlik gekrimp het, maar dit is nog te vroeg om veel hieruit wys te word omdat die ANC bekend is vir ‘n sterk eindpoging.

Die DA het sy eie kwota drama beleef. Dit kom op die oog af voor asof die party nou die kantelpunt bereik het waar dit in sy poging om veral swart lede te werf, minstens ‘n ongemak onder sy gevestigde lede loslaat. Berigte oor die bestaan van ‘n swart koukus wat sekere beleidsaanpassings opeis wat van die party ‘n ANC Lite maak, word ontken.

Cope is deur diep water, en dit is onseker of die party nou die probleme genoegsaam sou oorkom het om weer as ‘n betreklike sterk party na die parlement en ‘n aantal provinsiale wetgewers terug te keer.Die UDM kan dalk weens etniese wortels in die Oos-Kaap effens baat uit die Marikna-tragedie, maar dit lyk of die EFF die aanvanklike tekens van steun taamlik deeglik opgeruim het. Die impak van die aansluit van Cope se Shilowa-faksie kan dalk ‘n paar stemme beteken.

Die IVP se leier, Mangasothu Buthelezi, het waarskynlik sy rakleeftyd heeltemal te ver probeer rek, en een van die neweprodukte hiervan, die NFP, lyk of dit die IVP – wat in elk geval in KwaZulu-Natal na die ANC gebloei het, ‘n harde hou kan toedien.

Die ACDP sal dit waarskynlik baie moeilik vind om die vlakke wat dit ‘n dekade gelede geniet het voor dit erg teruggesak het te herhaal. Die grootste probleem is moontlik die verstommende lang lys van sterk persoonlikhede wat die leier, eerw. Kenneth Meshoe, sedert die party se ontstaan uit die party gewerk het. Iewers sou die party die prys hiervoor betaal.

Die Vryheidsfront Plus sal goed doen as hard probeer die enigste maatstaf was. Die party is veral in die sosiale media deurlopend onder skoot weens dr. Pieter Mulder se besluit om as adjunk-minister te dien, en gaan nou ook ‘n aanslag van die Front Nasionaal die hoof moet bied.

Dit is jammer dat oorloper-politici nou die beeld van politici gaan besoedel het.

Das Venter jongste plaasmoordslagoffer

cullinanDas Venter is vroeg Vrydagoggend in koele bloede doodgeskiet by sy huis in Welgedacht, die jongste slagoffer van ‘n noodlottige plaasaanval.

Nog ‘n klagte sal deu Afriforum by die Nasionale Kommissaris van Polisie, generaal Riah Phiyega gelê word oor swak polisiëring, na die plaasmoord weer die Cullinangebied buite Pretoria geruk het.

Die SAPD is veronderstel om te alle tye vier patrollie voertuie vir die vier sektore van die stasie te ontplooi, maar volgens AfriForum, was geen voertuie beskikbaar nie.

Geen landelike veiligheid voertuie is operasioneel nie. Slegs vyf polisiebeamptes by die stasie beskik oor bestuurderslisensies. Benewens die tekort aan voertuie en bestuurders, is die beamptes glo “te moeg” om hul werk te doen.

André van Heerden was eerste op die gru-toneel.

Venter se vrou het na buite gehardloop en Van Heerden haar hande losgesny. ‘n Minibus en die motor het albei staan en luier buite die woning, het Van Heerden gesê.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê die SAPD is indirek besig om ‘n bloedspoor in die land te laat weens onbekwaamheid.

Daar word daagliks klagtes oor die Cullinan-polisiekantoor en die Bronkhorstspruitarea se swak diens ontvang, maar dit word nie aangespreek nie.

Gratis Afrikaanse speltoetser WSpel is hier!

wspelWSpel het pas weergawe 14.1 geloods!

Met meer as 516,000 woorde in die WSpel-woordelys en duisende inskrywings in MS-Word se AutoCorrect-funksie, is WSpel tans die grootste Afrikaanse speltoetser vir Microsoft Office (Windows en Mac) ter wêreld.

Daarby voldoen dit aan die spelwyse van die jongste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) 2009. Dis alles gratis, want WSpel is gratis vir almal.

Ons doelwit is om die omvattendste en gebruikersvriendelikste speltoetser gratis in Afrikaans daar te stel.

WSpel word gereeld bygewerk met nuwe woorde of bestaande woorde wat voorheen nie opgeneem is nie. U kan die program gratis van tyd tot tyd aflaai of laat bywerk.

Werkers beseer toe visfabriekvloer meegee

eyethu_2‘n Onbekende aantal werkers is beseer toe die vloer van ‘n visfabriek in die hawe in Port Elizabeth in die Oos-Kaap ingetuimel het, het RSG berig.

Meer as 80 fabriekswerkers van Eyethu Fishing het gereed gemaak vir hulle skof toe die vloer waarop hulle gestaan het, ingetuimel en hulle meters ver geval het.

Die beseerdes is Donderddagaand in hospitale in die omgewing opgeneem.

Nooddienste en ambulanse het die beseerdes na hospitale in die omgewing vervoer.

Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie.

Die hawebestuur sal later vandag ‘n verklaring uitreik.

Die Nasionale hawe-owerheid ondersoek tans die oorsaak van die ongeluk.

Aanranding van Nigeriër diplomatieke insident

kaapnigerieNigerië het beswaar aangeteken teen die aanranding van een van sy burgers deur twee wit polisiebeamptes.

Die Nigeriese Hoëkommissariaat in Pretoria sê hy het ‘n sterk bewoorde nota aan Suid-Afrika se Departement van Internasionale Betrekkinge gestuur.

Beeldmateriaal van twee wit polisiemanne wat ‘n Nigeriër hardhandig behandel, is vinnig in Nigerië versprei na die voorval.

Nigeriese owerhede eis dat die skuldiges gestraf moet word.

Die twee wit polisielede en swart privaatveiligheidswagte het die man, sonder klere, in ‘n Kaapstadse straat gearresteer voor ‘n aantal omstanders. Die hele voorval is uit ‘n gebou afgeneem.

Dit is nie bekend waarvoor hy in hegtenis geneem is nie.

Die beeldmateriaal het die gewone reaksie van swart slagofferskap op die internet ontlok weens die stereotipiese aard daarvan, ten spyte daarvan dat die land aan swart misdadigers uitgelewer is met ‘n skrikwekkende misdaadkoers.

Die beweerde slagoffer is intussen uitgeken as ‘n Nigeriese paspoorthouer, Clement Emekeneh.

Twee Kaapse polisiemanne is na die voorval in hegtenis geneem en van aanranding aangekla.

Hulle is Maandag op borgtog vrygelaat.

Groot vloedskade in Limpopo en Noordwes

belabelaSwaar reën in Limpopo, Noordwes en veral op Mogwase naby Sun City het groot skade aangerig.

Brûe in Mogwase is onder water en voertuie het ook in vloedwater vasgeval.

Premier Thandi Modise Sal Vrydag die rampgebied besoek.

Nooddienste werk onverpoosd in verskeie dele van Limpopo met talle mense wat in Warmbad (Bela Bela) deur die vloede geraak word.

In Ellisras (Lephalale) is noodsentrums ingerig om vloedgeteisterdes van hulp te voorsien.

Dele van die dorp is onder water nadat twee damwalle vroeër weens swaar reën meegegee het.

‘n Woordvoerder van die provinsiale Departement van Samewerkende Regering, Motupa Selomo, het die noodtoestand in die Waterberggebied naby Nylstroom en in die Capricorn-distrik in die Polokwane-omgewing as baie ernstig bestempel.

Selomo sê nooddienste is ook na mense in die Thabo Mbeki-gebied gestuur.

Motoriste word aangeraai om die N1 te gebruik en Warmbad (Bela Bela) te vermy.

Die R101 tussen Warmbad (Bela Bela) en Nylstroom (Modimolle) is onbegaanbaar. Dit is die die enigste pad in die omgewing wat gesluit is nie, aangesien talle paaie tans onbegaanbaar is.

‘n Woordvoerder vir die Moses Kotane plaaslike munisipaliteit in Noordwes sê twee kinders word ook vermis nadat vloedwater by Mogwase hulle vermoedelik meegesleur het.

Dit is nie bekend hoe oud die kinders is nie.

Ses brûe in die Madibeng plaaslike munisipaliteit het onder die oorstromings deurgeloop en vier het weggespoel by Klipgat, Maboloka en Jericho.

In Pretoria sal die soektog na drie kinders wat vroeër die week in Mamelodi vermoedelik deur vloedwater meegesleur is, ook hervat word.

Hulle het vermoedelik in ‘n stormwaterafvoerpyp, wat in die nabygeleë Moretele-rivier inloop, gespeel.

Die Kruger Nasionale Park het tien kampe weens oorstromings gesluit. Maar owerhede hou vol dat die wildtuin min gevaar of risiko’s vir toeriste inhou.

Die wêreldbekende park is hard getref deur die vloede. Verskeie paaie in die park sal gesluit bly.

Sommige riviere van beide Limpopo en Mpumalanga vloei deur die park na die naburige Mosambiek.

Toeriste het sedertdien verhuis na ander kampe.

Die swaar reënval gedurende die eerste tien dae van Maart het rekords in dele van die land gebreek, volgens die SA Weerdiens.

“Die noord-oostelike helfte van die land het meer as 100 persent van wat normaalweg vir die eerste 10 dae van Maart verwag word, ervaar,” het die klimaatinligting-eenheidbestuurder Elsa de Jager in ‘n verklaring gesê.

“Verder het Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, sowel as dele van Noord-Wes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal meer as 200 persent ondervind van wat normaalweg verwag word.”

Twaalf stede in Limpopo, Mpumalanga en Gauteng ervaar die swaarste reën in tien jaar of meer.

Betogers in Limpopo maak amok oor winkelsentrum

burningtyresHonderde oproeriges van “The Oaks”, ‘n lokasie in die noorde van Limpopo moes deur die polisie uiteen gejaag word met rubberkoeëls.

Die betogers het opgeruk om omdat ‘n beloofde winkelkompleks in die gebied nie gebou word nie. Hulle kla oor ‘n tekort aan winkels.

Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming vertraag glo die aansoek van ‘n ontwikkelaar om ‘n winkelkompleks in die gebied op te rig.

Die ontwikkelaar en die Departement het gesê hulle handel die nodige dokumentasie tans af sodat bouwerk aan die winkelsentrum bespoedig kan word.

Lede van die polisie se Openbare Orde-eenheid moes van rubberkoeëls gebruik maak om orde te herstel nadat die polisie deur die betogers met klippe bestook is.

Inwoners het deurgang na Hoedspruit, Lydenburg en Tzaneen versper. Die pad is Donderdag gesluit en motoriste is aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Die oproemakers is intussen vir openbare geweld in hegtenis geneem.

SA gaan graad-vier meisies teen MPV inent

MPVSuid-Afrika sal die eerste land in Afrika wees om graad-vier meisies in te ent teen servikskanker.

Jong meisies tussen 9 en 10 in die armste staatskole gaan voorsien word van ‘n baie duur entstof teen MPV.

Wêreldwyd is MPV die mees algemene seksueel oordraagbare infeksie in volwassenes en meer as 80% van Amerikaanse vroue sal ten minste een stam opdoen teen die ouderdom van vyftig.

Die meeste sterftes kom egter in ontwikkelende lande voor.

Die inentingsveldtog wat in Bloemfontein bekendgestel is, sal op die staat se koste onderneem word.

Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê die program sal ‘n deurslaggewende rol speel om serviks- of baarmoederkanker te verhoed.

Die gesondheids- en MIV-instituut van die Universiteit van die Witwatersrand sê die entstof kan sowat 70 persent van baarmoederkankergevalle wat deur die papilloomvirus veroorsaak word, verhoed.

Daar heers vrae oor die entstof Gardasil en sommige studies beweer die risiko’s word nie genoeg beklemtoon nie.