Vlerk wél van MH370 sê Maleisië

Die Maleisiese eerste minister het bevestig dat ‘n wrakstuk wat verlede week naby die eiland Reunion in die Indiese Oseaan gevind is, wél afkomstig is van die vermiste Maleisiese vlug MH370.

Die fragment van die vleuel bekend as ‘n flaperon is na die vasteland van Frankryk geneem nadat dit verlede week met eendmossels bedek op ‘n strand van die Indiese Oseaan-eiland Reunion, ook Franse grondgebied, uitgespoel het.

Ten spyte van die Maleisiese bevestiging was dit deel van MH370 is, wou aanklaers in Frankryk geen soortgelyke verklaring uitreik nie, en net gesê dat daar ‘n “baie sterk vermoede” is dat dit ddel van die vermiste vliegtuig is.

Premier Najib Razak sê egter daar is nou fisiese bewyse dat die vliegtuig in Maart verlede jaar in die suidelike deel van die Indiese Oseaan neergestort het met 239 mense aanboord.

Dit is die eerste deurbraak sedert die vliegtuig vermis geraak het.

Razak het lande, organisasies en indiwidue bedank wat aan die soektog deelgeneem het.

Wrakstukke moontlik van verdwene MH370

‘n Ondersoekspan van Maleisië is na die ooskus van Afrika gestuur om vas te stel of wrakstukke wat naby die eiland Reunion gevind is moontlik dié van die vermiste Vlug MH370 is.

Maleisië het Woensdag gesê die span van ondersoekbeamptes sal help bepaal of die wrakstukke wel van die vliegtuig is wat verlede jaar oor die Indiese Oseaan verdwyn het.

Amptenare sê dit is waarskynlik die wrakstukke wat gevind is, maar verdere ondersoek is nodig.

Geen spoor kon nog gekry word van die Boeing 777 wat in Maart verlede jaar met 239 passasiers aan boord op ‘n vlug tussen Kuala Lumpur en Beijing verdwyn het nie. Die meeste passasiers was Chinese burgers.

Seestrome kon wrakstukke ver van die plek waar die vliegtuig neergestort het meegesleur het. Die ontdekking kan die grootste deurbraak wees in die tot dusver vrugtelose soektog na die vliegtuig.

Die Maleisiese minister van vervoer Liow Tiong Lai het met verslaggewers gepraat tydens ‘n besoek aan die Verenigde Nasies in New York.

‘n Stuk romp wat twee meter lank is, het Woensdag glo uitgespoel naby Saint-Andre, aan die oostekant van die eiland.

Die ontdekking kom ‘n dag nadat Rusland ‘n VN-resolusie vir ‘n internasionale tribunaal geveto het om die Maleisiese vliegtuig MH17 wat oor Oos-Oekraïne in 2014 afgeskiet is, te ondersoek.

Witali Tsjoerkin, Russiese ambassadeur by die VN, het die resolusie geblok. Rusland is een van die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad met vetoreg.

Elf van die 15 lede van die raad het ten gunste van die resolusie gestem, wat opgestel is deur Australië, België, Maleisië, Nederland en die Oekraïne.

China, Venezuela en Angola het buite stemming gebly.

Rusland sê die gebeure rondom MH17 word verpolitiseer en die tribunaal sal nie reg laat geskied aan die slagoffers of die waarheid nie.

Die vliegramp het gelei daartoe dat sanksies teen Rusland ingestel is omdat die VSA voortydig besluit het Rusland moet verantwoordelik gehou word.

Vlug MH370 het glo in see gestort, geen oorlewendes

MH370Die eerste minister van Maleisië, Najib Razak, het Maandag verklaar dat al die passasiers op vlug MH370 omgekom het.

Razak het gesê dat die vermiste vliegtuig in die Indiese Oseaan neergestort en almal aan boord het omgekom.

Hy het gesê verdere besonderhede sal Dinsdag tydens ‘n media-inligtingsessie bekend gemaak word.

“Verteenwoordigers van die vliegrampondersoekspan in die Verenigde Koninkryk (AAIB) het my vanaand in kennis gestel dat Inmarsat, die Britse maatskappy wat satellietdata oor die vliegtuig verskaf het, verdere berekeninge gemaak het,” het Razak Maandag tydens ʼn perskonferensie gesê. “Op grond van die nuwe analise het Inmarsat en die AAIB bepaal dat vlug MH370 langs die suidelike korridor gevlieg het en die laaste posisie van die vliegtuig was in die middel van die Indiese Oseaan, wes van Perth.”

Volgens Razak is dit ʼn afgeleë gebied, buite bereik van landingstroke. “Dit is waarom, met intense medelye dat ek julle in kennis moet stel dat vlug MH370 in die suidelike Indiese Oseaan neergestort het.”

“Malaysia Airlines het reeds met die familie van die passasiers en bemanningslede byeengekom om hulle oor die nuutste verwikkelinge in te lig,” het Razak bygevoeg.

Die vliegtuig het op 8 Maart, van Kuala Lumpur onderweg na Beijing, vermis geraak.

Vlug MH370 kon radar vermy het

mh3702Maleisië het die 25 lande wat aan die soektog deelneem na die vermiste passasiersvliegtuig, ‘n Boeing 777 van Malaysia Air, vir meer radar- en satellietdata geva.

Die soekgebied is in die afgelope 24 uur uitgebrei. Visualisering wat al 634 aanloopbane aantoon waar vlug MH370 kon geland het, is deur die VSA gedoen.

Die Australiese premier Tony Abbott het gesê sy land sal die leiding neem in die soektog van die suidelike sektor.

Die vliegtuig met 239 mense aan boord het verlede Saterdag spoorloos verdwyn. Geen teken van die vlug van Kuala Lumpur na Beijing is nog gevind nie en ‘n moontlike kaping is nie uitgesluit nie.

China het Maleisië skerp gekritiseer weens teenstrydige inligting oor die vermiste vlug MH370. China het gesê dit lyk na pligsversaking deur Maleisiese owerhede.

Meer as die helfte van die 239 passasiers aan boord, is Chinese burgers.

Indië sy soektog rondom die Andaman- en Nicobareilande oor die naweek afgelas nadat die Maleisiese eerste minister, Najib Razak aangekondig het dat die soektog aangepas sal moet word.

Nuwe inligting toon dat die kommunikasiestelsel van die vliegtuig doelbewus afgeskakel is. Die vliegtuig het volgens satellietdata nog minstens sewe en ‘n half uur gevlieg.

Die Chinese staatsmedia is skepties oor die inligting wat tot dusver deur Maleisië vrygestel is.

Op sosiale media heers kritiek teen Maleisiese owerhede se onvermoë om ‘n deurbraak te maak namate die soektog sonder resultate voortsleep.

Die Maleisiese premier, Najib Razak het die naweek gesê die vliegtuig kon moontlik nog verskeie ure gevlieg het nadat daar van die vlugroete afgewyk is.

Die China Daily-koerant het dié laat aankondiging oor die ware toedrag van sake bevraagteken.

Daar is berigte in die laaste uur of so, wat beweer nuwe inligting toon dat die vliegtuig skielik gedaal het tot op ‘n hoogte van 5000 meter.

Ondersoekbeamptes glo die vliegtuig het die dramaties lae hoogte bo seespieël gekies in ‘n gevaarlike ontwykende vlugtegniek. Die lae vlak het vliegtuigradaropsporing in minstens drie lande gefnuik.

Vlug MH370 het spoorloos verdwyn

MH370Die hoop is gekelder dat wrakstukke van die vermiste vliegtuig van vlug MH370 van Kuala Lumpur in Maleisië gevind is, het RSG berig.

‘n Skrale hoop het opgevlam dat ‘n leidraad in die see opgespoor is, wat die deurbraak sou kon verskaf.

China het satellietbeelde gepubliseer wat moontlik wrakstukke is van die passasiersvliegtuig wat Saterdag onderweg na Beijing spoorloos verdwyn het.

Die drie voorwerpe is in die see aan die suide van Viëtnam en oos van Maleisië gevind. Daar is egter geen bevestiging dat dit dele van die vermiste Boeing 777 is nie. Daar was 239 mense aan boord.

Ná ‘n soektog wat reeds byna ses dae lank duur, het Chinese satellietbeelde vreemde drywende voorwerpe in die see getoon, na aan die plek waar die vliegtuig se kommunikasie verbreek is.

Viëtnamese en Maleisiese soekvliegtuie kon egter niks in die omgewing kry nie.

Amerikaanse ondersoekers beweer intussen dat die vliegtuig nog vier uur in die lug was, nadat sy laaste bekende bestemming opgeteken is.

Dit veroorsaak dat die internasionale soekspan steeds in die duister is oor die lot van die 239 passasiers aan boord.