Die Maleisiese eerste minister het bevestig dat ‘n wrakstuk wat verlede week naby die eiland Reunion in die Indiese Oseaan gevind is, wél afkomstig is van die vermiste Maleisiese vlug MH370.
Die fragment van die vleuel bekend as ‘n flaperon is na die vasteland van Frankryk geneem nadat dit verlede week met eendmossels bedek op ‘n strand van die Indiese Oseaan-eiland Reunion, ook Franse grondgebied, uitgespoel het.
Ten spyte van die Maleisiese bevestiging was dit deel van MH370 is, wou aanklaers in Frankryk geen soortgelyke verklaring uitreik nie, en net gesê dat daar ‘n “baie sterk vermoede” is dat dit ddel van die vermiste vliegtuig is.
Premier Najib Razak sê egter daar is nou fisiese bewyse dat die vliegtuig in Maart verlede jaar in die suidelike deel van die Indiese Oseaan neergestort het met 239 mense aanboord.
Dit is die eerste deurbraak sedert die vliegtuig vermis geraak het.
Razak het lande, organisasies en indiwidue bedank wat aan die soektog deelgeneem het.
‘n Ondersoekspan van Maleisië is na die ooskus van Afrika gestuur om vas te stel of wrakstukke wat naby die eiland Reunion gevind is moontlik dié van die vermiste Vlug MH370 is.
Maleisië het Woensdag gesê die span van ondersoekbeamptes sal help bepaal of die wrakstukke wel van die vliegtuig is wat verlede jaar oor die Indiese Oseaan verdwyn het.
Amptenare sê dit is waarskynlik die wrakstukke wat gevind is, maar verdere ondersoek is nodig.
Geen spoor kon nog gekry word van die Boeing 777 wat in Maart verlede jaar met 239 passasiers aan boord op ‘n vlug tussen Kuala Lumpur en Beijing verdwyn het nie. Die meeste passasiers was Chinese burgers.
Seestrome kon wrakstukke ver van die plek waar die vliegtuig neergestort het meegesleur het. Die ontdekking kan die grootste deurbraak wees in die tot dusver vrugtelose soektog na die vliegtuig.
Die Maleisiese minister van vervoer Liow Tiong Lai het met verslaggewers gepraat tydens ‘n besoek aan die Verenigde Nasies in New York.
‘n Stuk romp wat twee meter lank is, het Woensdag glo uitgespoel naby Saint-Andre, aan die oostekant van die eiland.
Die ontdekking kom ‘n dag nadat Rusland ‘n VN-resolusie vir ‘n internasionale tribunaal geveto het om die Maleisiese vliegtuig MH17 wat oor Oos-Oekraïne in 2014 afgeskiet is, te ondersoek.
Witali Tsjoerkin, Russiese ambassadeur by die VN, het die resolusie geblok. Rusland is een van die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad met vetoreg.
Elf van die 15 lede van die raad het ten gunste van die resolusie gestem, wat opgestel is deur Australië, België, Maleisië, Nederland en die Oekraïne.
China, Venezuela en Angola het buite stemming gebly.
Rusland sê die gebeure rondom MH17 word verpolitiseer en die tribunaal sal nie reg laat geskied aan die slagoffers of die waarheid nie.
Die vliegramp het gelei daartoe dat sanksies teen Rusland ingestel is omdat die VSA voortydig besluit het Rusland moet verantwoordelik gehou word.
Met die verkiesing van Angola tot die Veiligheidsraad, het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap SAOG, weer ‘n setel op die Raad bekom.
Die algemene vergadering van die VN het Donderdag vyf nuwe nie-permanente lede verkies wat twee jaar op die Veiligheidsraad sal dien.
Die ander vier lande wat verkies is, is Venezuela, Maleisië, Nieu-Seeland en Spanje. Die vyf lande se termyn sal op 1 Januarie afskop.
Die VSA het dadelik begin om Venezuela aan te val.
In ‘n felle stryd het Turkye verloor teen Spanje en Nieu-Seeland om twee beskikbare setels vir ‘n stemblok wat Wes-Europese en ander groepe, sowel as die Verenigde State van Amerika insluit.
In die afgelope paar dae, volgens verskeie diplomatieke bronne, was daar ‘n intense veldtog, gelei deur Griekeland, Egipte en Saoedi-Arabië, teen Turkye se lidmaatskap in die raad.
Spanje het 132 stemme gekry, terwyl Turkye net 60 stemme kon inoes. Nieu-Seeland is in ‘n vroeër rondte verkies.
Turkye speel glo volgens waarnemers ‘n onverkwiklike rol in die ondersteuning van ISIS in Sirië en Irak.
Intussen het president Jacob Zuma Turkse sakelui verseker dat toekomstige beleggings in Suid-Afrika in ‘n sakevriendelike omgewing ontvang sal word.
Zuma was die eregas by die tweede Sake-toekennings van die Suid-Afrikaanse-Turkse Sakevereniging in Sandton. ‘
Die Turkse afgevaardigdes het onderneem om te help met werkskepping en die ophef van gemeenskappe deur middel van die ontwikkeling van klein sake-ondernemings.
Verskeie maatskappye van die grootste sake-federasie in Turkye, Tuscon, doen sake in Suid-Afrika.
Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies sal Donderdag bykomende lede verkies vir vyf setels in die raad van 15 lede.
Die 193 lede van die Algemene Vergadering sal die nuwe lede aanwys wat op 1 Januarie 2015 hul poste sal opneem.
Die verkose lande sal aansluit by die vyf permanente lede, Brittanje, China, Frankryk, Rusland en Amerika en sal twee jaar lank verteenwoordig word.
Die lande wat waarskynlik verteenwoordiging sal kry is Angola, wat deur Afrika voorgestel is, Venezuela wat deur Latyns-Amerika voorgestel is, en Maleisië wat deur Asiatiese moondhede benoem is.
Dié drie sal die leë stoele van Argentina, Rwanda en Suid-Korea vul.
Spanje, Turkye en Nieu-Seeland sal sake uitspook vir die ander twee setels wat tans deur Australië en Luxemburg gevul word.
Met die moontlike toetrede van Turkye en Maleisië, tesame met Tsjad en Jordanië reeds op die Raad, sal dit die eerste keer in sy geskiedenis wees dat vier Moslem lande verteenwoordig word.
Baie aandag is gefokus op Venezuela se deelname en die aanstelling van wyle president Hugo Chavez se dogter, Maria Gabriela, as adjunk-ambassadeur by die Verenigde Nasies. Na verwagting sal Venezuela teen Anglo-Amerikaanse resolusies opstaan.
As die hoogste besluitnemingsliggaam van die Verenigde Nasies, kan die Veiligheidsraad sanksies op lande en individue instel, verdagtes vir oorlogsmisdade vervolg, vredesooreenkomste bekragtig en die gebruik van geweld magtig.
Die Veiliheidsraad hou ook toesig oor 16 vredesendings in die wêreld, met ‘n begroting van byna $8 miljard.
Die oorskot van die Brit wat dood is in vlug-MH17 wat oor die Oekraïne afgeskiet is, is geïdentifiseer.
Cameron Dalziel, 43, ‘n helikoptervlieënier, het verlede jaar saam met sy gesin na Maleisië verhuis vir werk en het van ‘n vliegtuigopleidingskursus terugkeer in Nederland toe vlug MH17 vermoedelik deur Kiëf afgeskiet is op 17 Julie.
Die VSA probeer Rusland vir die ongeluk blameer, maar data wat deur die Russe vrygestel is, toon dat Kiëf doelbewus die ongeluk beplan het, waarskynlik om ‘n oorlog vir gas te ontketen.
Die VSA het ondanks beskuldigings dat hulle geen data vrystel om hul eie weergawe te steun nie, nogtans voortgegaan om sanskies teen Rusland in te stel na die ongeluk.
Dalziel se weduwee en hul twee seuns het onmiddellik na Suid-Afrika gereis saam met ander familielede na die huis van Dalziel se ouers, Meryl en Doug, wat in Umhlanga woon.
DNS is van Dalziel se ouers geneem om te help om hul seun se liggaam te identifiseer. Suid-Afrikaanse amptenare het daarna na Nederland gevlieg met die DNS asook Dalziel se tandheelkundige rekords.
Die familie het bevestig dat Dalziel se liggaam verlede week geïdentifiseer is.
‘n Gedenkdiens is op 30 Julie vir Dalziel in die Starlite Aviation Hangar gehou. Hy het voorheen daar gewerk voor hy na Maleisië is.
Dalziel se broer Campbell het gesê hy weet nie presies wanneer sy broer se oorskot sal terugkeer na Suid-Afrika nie. Hy het gesê dat hy en sy suster, Candice, na Nederland wil gaan om die “waardigheid en eer” van sy broer te bly beskerm.
Hulle sal mense aanmoedig om branderplanke te neem en in die getal van die vlug, MH17 op te stel by die beoogde begrafnisdiens.
Campbell het gesê ‘n oorvlug is ook in die beplanningstadium.
Die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge ontken dat enige passassiers met Suid-Afrikaanse paspoorte op die noodlottige vlug van die Maleisiese lugdiens was. Volgens die departement het “twee van die mans op die vlug bande met Suid-Afrika, maar het met buitelandse paspoorte gereis”.
‘n Woordvoerder van internasionale betrekkinge, Nelson Kgwete sê “indien iemand met ‘n buitelandse paspoort reis, moet die land wat die paspoort uitgereik het die leiding neem in sulke voorvalle”. Kgwete het namens die Suid-Afrikaanse familie sy meegevoel uitgespreek teenoor die families van die twee mans met Suid-Afrikaanse bande.
Intussen het een van die rebelleleiers in Oos-Oekraïne gesê die opstandelinge is bereid om tot ‘n kort skietstaking in te stem om toe te laat dat ‘n ondersoek na die Maleisiese passassiersvliegtuig in die gebied onder hul beheer uitgevoer word.Alexander Borodai, die eerste minister van die Donetsk-volksrepubliek, wat eensydig onafhanklikheid verklaar het, sê separatistiese magte is gereed om tot ‘n wapenstilstand van etlike dae in te stem.Die Amerikaanse regering glo dat die vliegtuig deur ‘n grond-tot-lugmissiel afgeskiet is, maar dit is onduidelik wie die wapen sou afgevuur het.
Volgens ‘n anonieme woordvoerder, “bekyk hulle die data om te bepaal of die wapen deur die pro-Russiese separatiste in die Oekraïne afgevuur is, of deur Oekraïense regeringsmagte of deur Russiese troepe oorkant die grens”.
Die eerste minister van Maleisië, Najib Razak, het Maandag verklaar dat al die passasiers op vlug MH370 omgekom het.
Razak het gesê dat die vermiste vliegtuig in die Indiese Oseaan neergestort en almal aan boord het omgekom.
Hy het gesê verdere besonderhede sal Dinsdag tydens ‘n media-inligtingsessie bekend gemaak word.
“Verteenwoordigers van die vliegrampondersoekspan in die Verenigde Koninkryk (AAIB) het my vanaand in kennis gestel dat Inmarsat, die Britse maatskappy wat satellietdata oor die vliegtuig verskaf het, verdere berekeninge gemaak het,” het Razak Maandag tydens ʼn perskonferensie gesê. “Op grond van die nuwe analise het Inmarsat en die AAIB bepaal dat vlug MH370 langs die suidelike korridor gevlieg het en die laaste posisie van die vliegtuig was in die middel van die Indiese Oseaan, wes van Perth.”
Volgens Razak is dit ʼn afgeleë gebied, buite bereik van landingstroke. “Dit is waarom, met intense medelye dat ek julle in kennis moet stel dat vlug MH370 in die suidelike Indiese Oseaan neergestort het.”
“Malaysia Airlines het reeds met die familie van die passasiers en bemanningslede byeengekom om hulle oor die nuutste verwikkelinge in te lig,” het Razak bygevoeg.
Die vliegtuig het op 8 Maart, van Kuala Lumpur onderweg na Beijing, vermis geraak.
Maleisië het die 25 lande wat aan die soektog deelneem na die vermiste passasiersvliegtuig, ‘n Boeing 777 van Malaysia Air, vir meer radar- en satellietdata geva.
Die soekgebied is in die afgelope 24 uur uitgebrei. Visualisering wat al 634 aanloopbane aantoon waar vlug MH370 kon geland het, is deur die VSA gedoen.
Die Australiese premier Tony Abbott het gesê sy land sal die leiding neem in die soektog van die suidelike sektor.
Die vliegtuig met 239 mense aan boord het verlede Saterdag spoorloos verdwyn. Geen teken van die vlug van Kuala Lumpur na Beijing is nog gevind nie en ‘n moontlike kaping is nie uitgesluit nie.
China het Maleisië skerp gekritiseer weens teenstrydige inligting oor die vermiste vlug MH370. China het gesê dit lyk na pligsversaking deur Maleisiese owerhede.
Meer as die helfte van die 239 passasiers aan boord, is Chinese burgers.
Indië sy soektog rondom die Andaman- en Nicobareilande oor die naweek afgelas nadat die Maleisiese eerste minister, Najib Razak aangekondig het dat die soektog aangepas sal moet word.
Nuwe inligting toon dat die kommunikasiestelsel van die vliegtuig doelbewus afgeskakel is. Die vliegtuig het volgens satellietdata nog minstens sewe en ‘n half uur gevlieg.
Die Chinese staatsmedia is skepties oor die inligting wat tot dusver deur Maleisië vrygestel is.
Op sosiale media heers kritiek teen Maleisiese owerhede se onvermoë om ‘n deurbraak te maak namate die soektog sonder resultate voortsleep.
Die Maleisiese premier, Najib Razak het die naweek gesê die vliegtuig kon moontlik nog verskeie ure gevlieg het nadat daar van die vlugroete afgewyk is.
Die China Daily-koerant het dié laat aankondiging oor die ware toedrag van sake bevraagteken.
Daar is berigte in die laaste uur of so, wat beweer nuwe inligting toon dat die vliegtuig skielik gedaal het tot op ‘n hoogte van 5000 meter.
Ondersoekbeamptes glo die vliegtuig het die dramaties lae hoogte bo seespieël gekies in ‘n gevaarlike ontwykende vlugtegniek. Die lae vlak het vliegtuigradaropsporing in minstens drie lande gefnuik.
Die hoop is gekelder dat wrakstukke van die vermiste vliegtuig van vlug MH370 van Kuala Lumpur in Maleisië gevind is, het RSG berig.
‘n Skrale hoop het opgevlam dat ‘n leidraad in die see opgespoor is, wat die deurbraak sou kon verskaf.
China het satellietbeelde gepubliseer wat moontlik wrakstukke is van die passasiersvliegtuig wat Saterdag onderweg na Beijing spoorloos verdwyn het.
Die drie voorwerpe is in die see aan die suide van Viëtnam en oos van Maleisië gevind. Daar is egter geen bevestiging dat dit dele van die vermiste Boeing 777 is nie. Daar was 239 mense aan boord.
Ná ‘n soektog wat reeds byna ses dae lank duur, het Chinese satellietbeelde vreemde drywende voorwerpe in die see getoon, na aan die plek waar die vliegtuig se kommunikasie verbreek is.
Viëtnamese en Maleisiese soekvliegtuie kon egter niks in die omgewing kry nie.
Amerikaanse ondersoekers beweer intussen dat die vliegtuig nog vier uur in die lug was, nadat sy laaste bekende bestemming opgeteken is.
Dit veroorsaak dat die internasionale soekspan steeds in die duister is oor die lot van die 239 passasiers aan boord.
Die MH370-straler van Maleisiëlugdiens wat tydens ‘n roetinevlug verdwyn het sonder om ‘n noodsein te stuur, laat ondersoekbeamptes vermoed dat ‘n skielike en katastrofiese voorval die einde van al die passasiers en bemanning beteken het.
Die families van die 239 passasiers van ‘n vlug van Kuala Lumpur na Bejing, wat vermis geraak het, is aangeraai om hulle vir die ergste voor te berei.
Daar is aanduidings dat die Boeing 777 wou terugdraai, omdat die straler van koers af gewyk het.
Die Pentagon het glo reeds die verdwyning ondersoek en die moontlikheid van ‘n ontploffing uitgeskakel, het die New York Times berig. Die Maleisiese owerhede verseg om te aanvaar dat dit nie ‘n terreuraanval was nie.
Die gebrek aan enige wrakstukke tot dusver wil aandui dat die vliegtuig op ongeveer 35.000 voet gedisintegreer het, het een die bron gesê.
As die vliegtuig ongeskonde uit so ‘n hoogte val, sal dit net na impak met die water in stukke breek, en sal soekspanne verwag om ‘n redelik gekonsentreerde patroon wrakstukke te vind, het die bron gesê.
Twintig werknemers van ‘n tegnologiemaatskappy in Austin, Texas was ook aan boord van die vlug. Twaalf van die Freescale Semiconductor se werknemers is uit Maleisië en agt uit China.
Die ondersoek na die voorval fokus nou op twee passasiers wat met gesteelde paspoorte gereis het. Daar is vier verdagtes wat glo op die vliegtuig was, en Maleisiese amptenare het reeds met die FBI en Interpol geskakel oor die vier se identiteite.
Die name van twee mans van Oostenryk en Italië was op die vlug se passasierslys, maar dit het aan die lig gekom dat hul paspoorte vroeër in Thailand gesteel is. Die twee mans is ongedeerd.
Die twee passasiers wat vals paspoorte gebruik het van onderskeidelik die Italianer en Oostenryker, het hul kaartjies saam gekoop by China Southern Airlines en met Thaise Bhat betaal, het CNN berig. Die ander twee verdagtes het glo ook hul kaartjies op dieselfde wyse gekoop.
Dit het die vermoede versterk dat die voorval met terrorisme verband hou.
Een van die vermiste passasiers se familielede het die selfoonnommer van die passiers geskakel, maar niemand het opgetel nie, het die Mirror Online berig.
Die Amerikaanse vloot het intussen ‘n skip en ‘n soekvliegtuig gestuur om by die multinasionale soekspan aan te sluit.
Die soektog na die wrak oor Suidoos-Asië duur steeds voort. Maleisië het 15 vliegtuie en nege skepe gestuur, terwyl Vietnam twee vlootskepe, twee vliegtuie en ‘n helikopter bewillig het om te help in die soektog.
Die Viëtnamese soektog het glo brandstofspore op die water opgemerk en enkele wrakstukke wat ‘n aanduiding mag wees van waar die straler ondergegaan het. Die Amerikaanse owerhede het gesê die vonds is niksseggend.
Die WSJ het berig dat dit die deur en stertgedeelte van die straler kan wees. Volgens die Amerikaanse ambassade se verteenwoordiger in Hanoi, Jacky Ly Thang, het die Amerikaanse ondersoekspan tot die gevolgtrekking gekom dat die voorwerpe wat 100 kilometer suidwes van die Viëtnamese eiland Tho Chu opgespoor is, geen verband met die vermiste vliegtuig hou nie.
Die vliegtuig was op pad van Maleisië na China, waar daar verlede week 33 mense dood en 143 beseer is in ‘n terreuraanval in die suid-westelike stad van Kunming.
Die aanval, waarin ‘n bende amok gemaak het by ‘n Chinese stasie, is deur pro-separatiste Moslemterroriste van die Xinjiang streek wat grens aan Pakistan en Afghanistan geloods.
Die Chinese media het die aanval as die land se eie “9/11” beskryf.
President Jacob Zuma se amptelike besoek aan Maleisië is daarop gemik om plaaslike beleggers aan te moedig om voordeel te trek uit die twee lande se noue bande, sê die ANC.
Verskeie kabinetministers en sowat 30 sakelui het Zuma op sy besoek aan Kuala Lumpur vergesel.
Die Suid-Afrikaanse afvaardiging onder leiding van pres. Zuma sal na verwagting ‘n bilaterale vergadering met Maleisië se eerste minister Najib Tun Razak hou waar verskeie bilaterale ooreenkomste onderteken sal word.
Zuma sal ‘n eredoktersgraad van Limkokwing Universiteit, asook ‘n lewenslange toekenning vir Wêreldvrede namens Nelson Mandela van die Mahathir Global Peace Foundation ontvang.
Handel tussen die twee lande het sedert 2008 gegroei vanaf bykans R14 miljard tot bykans R20 miljard verlede jaar.
Die minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane het gesê die besoek is van belang vir Suid-Afrika aangesien Maleisië deel vorm van ASEAN, die blok wat Oosterse ekonomieë saamsnoer.