Nuwe anti-Amerikaanse lede vir Veiligheidsraad

Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies sal Donderdag bykomende lede verkies vir vyf setels in die raad van 15 lede.

Die 193 lede van die Algemene Vergadering sal die nuwe lede aanwys wat op 1 Januarie 2015 hul poste sal opneem.

Die verkose lande sal aansluit by die vyf permanente lede, Brittanje, China, Frankryk, Rusland en Amerika en sal twee jaar lank verteenwoordig word.

Die lande wat waarskynlik verteenwoordiging sal kry is Angola, wat deur Afrika voorgestel is, Venezuela wat deur Latyns-Amerika voorgestel is, en Maleisië wat deur Asiatiese moondhede benoem is.

Dié drie sal die leë stoele van Argentina, Rwanda en Suid-Korea vul.

Spanje, Turkye en Nieu-Seeland sal sake uitspook vir die ander twee setels wat tans deur Australië en Luxemburg gevul word.

Met die moontlike toetrede van Turkye en Maleisië, tesame met Tsjad en Jordanië reeds op die Raad, sal dit die eerste keer in sy geskiedenis wees dat vier Moslem lande verteenwoordig word.

Baie aandag is gefokus op Venezuela se deelname en die aanstelling van wyle president Hugo Chavez se dogter, Maria Gabriela, as adjunk-ambassadeur by die Verenigde Nasies. Na verwagting sal Venezuela teen Anglo-Amerikaanse resolusies opstaan.

As die hoogste besluitnemingsliggaam van die Verenigde Nasies, kan die Veiligheidsraad sanksies op lande en individue instel, verdagtes vir oorlogsmisdade vervolg, vredesooreenkomste bekragtig en die gebruik van geweld magtig.

Die Veiliheidsraad hou ook toesig oor 16 vredesendings in die wêreld, met ‘n begroting van byna $8 miljard.

Amerika draai geldkraan oop vir Afrika

Suid-Afrika sal vandag die kwessie van die Israelse-Palestynse konflik direk met die Amerikaanse regering ophaal. Kabinetsministers woon vandeesweek saam met President Jacob Zuma ‘n Amerika-Afrikaberaad in Washington by, het RSG berig.

Die minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana Mashabane sê die land sal in sy hoedanigheid as vriend van die Palestyne die saak aanroer.

Sy sê die VSA het ‘n verantwoordelikheid om die waansin en sinnelose sterftes te help beëindig.

Mashabane meen die res van die wêreld kan nie eenvoudig toekyk en wag vir Israel en Hamas om die vrede te bewerkstellig nie.

Intussen sal Amerika na verwagting tien miljard rand se saketransaksies, ‘n verhoging in geld vir “vredesoperasies” en nog miljarde rand vir die uitbreiding van kos- en kragprogramme in Afrika op die beraad aankondig.

Amerikaanse amptenare hoop die beraad van 50 Afrika-staatshoofde in Washington sal Amerikaanse belange in die vinnig groeiende streek onderskryf deur ‘n reeks regerings-en privaatvennootskapstransaksies om handel en beleggings te bevorder.

Amptenare het vrae oor of die beraad in reaksie op China se toenemende teenwoordigheid in Afrika is, ontwyk.

‘n Woordvoerder van die Amerikaanse agentskap vir Internasionale Ontwikkeling, Rajiv Shah sê daar sal grootskaalse aankondigings wees wat betref aansienlike verhogings in privaatsektorsteun vir Amerikaansgesteunde kos-en landbouprogramme in Afrika.