
Die MH370-straler van Maleisiëlugdiens wat tydens ‘n roetinevlug verdwyn het sonder om ‘n noodsein te stuur, laat ondersoekbeamptes vermoed dat ‘n skielike en katastrofiese voorval die einde van al die passasiers en bemanning beteken het.
Die families van die 239 passasiers van ‘n vlug van Kuala Lumpur na Bejing, wat vermis geraak het, is aangeraai om hulle vir die ergste voor te berei.
Daar is aanduidings dat die Boeing 777 wou terugdraai, omdat die straler van koers af gewyk het.
Die Pentagon het glo reeds die verdwyning ondersoek en die moontlikheid van ‘n ontploffing uitgeskakel, het die New York Times berig. Die Maleisiese owerhede verseg om te aanvaar dat dit nie ‘n terreuraanval was nie.
Die gebrek aan enige wrakstukke tot dusver wil aandui dat die vliegtuig op ongeveer 35.000 voet gedisintegreer het, het een die bron gesê.
As die vliegtuig ongeskonde uit so ‘n hoogte val, sal dit net na impak met die water in stukke breek, en sal soekspanne verwag om ‘n redelik gekonsentreerde patroon wrakstukke te vind, het die bron gesê.
Twintig werknemers van ‘n tegnologiemaatskappy in Austin, Texas was ook aan boord van die vlug. Twaalf van die Freescale Semiconductor se werknemers is uit Maleisië en agt uit China.
Die ondersoek na die voorval fokus nou op twee passasiers wat met gesteelde paspoorte gereis het. Daar is vier verdagtes wat glo op die vliegtuig was, en Maleisiese amptenare het reeds met die FBI en Interpol geskakel oor die vier se identiteite.
Die name van twee mans van Oostenryk en Italië was op die vlug se passasierslys, maar dit het aan die lig gekom dat hul paspoorte vroeër in Thailand gesteel is. Die twee mans is ongedeerd.
Die twee passasiers wat vals paspoorte gebruik het van onderskeidelik die Italianer en Oostenryker, het hul kaartjies saam gekoop by China Southern Airlines en met Thaise Bhat betaal, het CNN berig. Die ander twee verdagtes het glo ook hul kaartjies op dieselfde wyse gekoop.
Dit het die vermoede versterk dat die voorval met terrorisme verband hou.
Een van die vermiste passasiers se familielede het die selfoonnommer van die passiers geskakel, maar niemand het opgetel nie, het die Mirror Online berig.
Die Amerikaanse vloot het intussen ‘n skip en ‘n soekvliegtuig gestuur om by die multinasionale soekspan aan te sluit.
Die soektog na die wrak oor Suidoos-Asië duur steeds voort. Maleisië het 15 vliegtuie en nege skepe gestuur, terwyl Vietnam twee vlootskepe, twee vliegtuie en ‘n helikopter bewillig het om te help in die soektog.
Die Viëtnamese soektog het glo brandstofspore op die water opgemerk en enkele wrakstukke wat ‘n aanduiding mag wees van waar die straler ondergegaan het. Die Amerikaanse owerhede het gesê die vonds is niksseggend.
Die WSJ het berig dat dit die deur en stertgedeelte van die straler kan wees. Volgens die Amerikaanse ambassade se verteenwoordiger in Hanoi, Jacky Ly Thang, het die Amerikaanse ondersoekspan tot die gevolgtrekking gekom dat die voorwerpe wat 100 kilometer suidwes van die Viëtnamese eiland Tho Chu opgespoor is, geen verband met die vermiste vliegtuig hou nie.
Die vliegtuig was op pad van Maleisië na China, waar daar verlede week 33 mense dood en 143 beseer is in ‘n terreuraanval in die suid-westelike stad van Kunming.
Die aanval, waarin ‘n bende amok gemaak het by ‘n Chinese stasie, is deur pro-separatiste Moslemterroriste van die Xinjiang streek wat grens aan Pakistan en Afghanistan geloods.
Die Chinese media het die aanval as die land se eie “9/11” beskryf.
