Jongste inligting oor vlug MH17 wys Beeld se misleiding

Deur Rutger Hoell.

Dit sal interessant wees om te verneem wat Leopold Scholtz en Erica Gibson te sê het oor die jongste inligting dat vlug MH17 uit Amsterdam deur die Oekraïne afgeskiet is, veral nadat Scholtz enkele dae gelede in Beeld die volgende beweer het:

Alles dui daarop dat die pro-Russiese rebelle in die Oos-Oekraïne die Boeing 777 van Malaysia Airlines, op pad van Amsterdam na Kuala Lumpur, neergeskiet het. Maar hulle het nie geweet wat hulle doen nie.

Dit wil eerder voorkom asof Scholtz nie geweet het wat hy doen nie. Volgens die jongste aanduidings is die “bewys” van ‘n opname wat die vinger wys na die rebelle, ‘n vervalsing en die tydstempel daarop toon dat dit ‘n dag voor die ongeluk vervaardig is.

Scholtz se verdere bewering dat die Boeing 777 deur ‘n Buk-lugafweerstelsel afgeskiet is wat deur selfverdedigingsgroepe gebuit is, is deur die meeste militêre kenners as onsin afgemaak en eerder ‘n brokkie wat agterdog wek oor ‘n professionele weermag se betrokkenheid.

Die kersie op die koek is egter dat Scholtz nie tussen verskillende insidente en datums kan onderskei nie. Hy moes die BBC se David Stern geraadpleeg het om vas te stel dat ‘n Antonof-26 op 14 Julie afgeskiet is op ‘n hoogte van 6500m, drie dae voor die passasiersvliegtuig neergeskiet is.

Hier is Scholtz se mistasting uit dieselfde smeerstuk teen “nasionaliste” in Beeld:

Onmiddellik nadat kontak met die Boeing verloor is, het ’n leier van die rebelle, “kolonel” Igor Strelkof, op Twitter gekraai: ‘By Torez het ons nou net ’n Antonof-26 neergeskiet. Ons het hulle tog gewaarsku: Moenie in ons lugruim vlieg nie.’

Die profiel van ene “kolonel” Igor Strelkof op VK, die Russiese Facebook, en sy sogenaamde inkriminerende twiet wat Scholtz aanhaal as die beste bewys van Rusland se betrokkenheid, is egter deur AP se voormalige joernalis in Moskou, Max Sneddon as ‘n vals profiel uitgewys.

Dit is dié soort van ongeërdheid oor naspeurbare feite wat ‘n mens verstom. Gibson se naïewe berig oor Russe wat aanmekaar vliegtuie afskiet, en sommer hul eie, is blykbaar vir die ANC geskryf. Scholtz, amper soos Gibson, huiwer nie om die verswarendste gevolgtrekking hiervan te maak nie:

Toe die nuus oor MH17 bekend word, is Strelkof se twiet vinnig verwyder.

Russiese lugdatarekords wys dat ‘n Oekraïense Su-25 vegvliegtuig die Malaysia Airlines Boeing 777 passasiersvliegtuig op die dag toe dit neergestort het in die ooste van die Oekraïne op 17 Julie, baie naby gevolg het.

Luitenant-generaal Andrei Kartapolov, hoof van stafoperasies van Russiese Weermag, het op ‘n nuuskonferensie Maandag, 21 Julie, gesê: “Rekords toon dat die Oekraïense vegvliegtuig die afstand van 3-5 km van die Maleisiese Boeing was.

“Die Su-25 kan op ‘n hoogte van tot 10 km vlieg. Dit is gewapen met P-60 lug-tot-lug missiele wat teikens kan tref op ‘n afstand van tot 12 km en betroubaar binne 5 km.

“Dit word bevestig deur die videomateriaal verkry deur die Rostovmoniteringsentrum. Ons wil graag weet hoekom die Oekraïense vliegtuig ‘n burgerlike roete op dieselfde vlugpad as die Maleisiese Boeing gevolg het,” het Kartapolov gevra.

Die Boeing het begin spoed verloor so 51 km van die grens met Rusland, het Rostov se lugverkeerbeheer gesê.

Ek dink ek sal Beeld in die vervolg vermy wat ernstige kwessies betref soos 192 mense uit ons stamland wat die ewigheid ingestuur word. Ons skuld daardie siele meer as goedkoop politiekery.

Baie diep sein kan vermiste vlug MH370 ‘onbereikbaar’ maak

mh3703Die skepe wat op soek is na die vermiste vliegtuig van Malaysian Airlines het seine opgetel wat soortgelyk is aan dié van ‘n “swartkassie” of vlugopnemer.

Die “ping” is glo 4,500 meter diep wat dit feitlik “onmoontlik” sal maak om na die oorblyfsels van die vliegtuig te kan soek.

Dis egter nie seker of die vlugopnemer behoort aan die Boeing 777 met 239 passasiers wat sedert 8 Maart vermis word nie.

Die verdwyning van die vliegtuig bly ‘n raaisel, aangesien dit byna onmoontlik is weens gesofistikeerde tegnologie om sonder enige spoor weg te raak.

Familielede van die passasiers is ontstoke omdat owerhede volgens hulle nie eerlik is oor die omstandighede rondom hoe die vliegtuig presies vermis geraak het nie.

China het reeds aangedui dat hulle nuwe satelliete in die lugruim sal instuur omdat die VSA nie betroubare inligting kon openbaar oor waar die vliegtuig kan wees nie.

Vlug MH370 het naby die Amerikaanse militêre lugbasis in die Indiese Oseaan, Diego Gracia, soek geraak.

Daar was ‘n span wetenskaplikes aan boord wat navorsing oor semi-geleiers gedoen het.

Angus Houston, hoof van die Australiese agentskap wat die soektog namens die VSA hanteer, het Maandag gesê die seine is van die belowendste leidrade wat tot nog toe opgeduik het.

Dit sal nietemin verskeie dae neem voordat vasgestel kan word of die seine wel afkomstig is van vlug MH370.

Nege militêre en drie burgerlike vliegtuie asook 14 skepe sal die soektog voortsit.

Maleisië vermoed terreur by vermiste straler

Die vliegtuig wat vermis geraak het
Die vliegtuig wat vermis geraak het

Die MH370-straler van Maleisiëlugdiens wat tydens ‘n roetinevlug verdwyn het sonder om ‘n noodsein te stuur, laat ondersoekbeamptes vermoed dat ‘n skielike en katastrofiese voorval die einde van al die passasiers en bemanning beteken het.

Die families van die 239 passasiers van ‘n vlug van Kuala Lumpur na Bejing, wat vermis geraak het, is aangeraai om hulle vir die ergste voor te berei.

Daar is aanduidings dat die Boeing 777 wou terugdraai, omdat die straler van koers af gewyk het.

Die Pentagon het glo reeds die verdwyning ondersoek en die moontlikheid van ‘n ontploffing uitgeskakel, het die New York Times berig. Die Maleisiese owerhede verseg om te aanvaar dat dit nie ‘n terreuraanval was nie.

Die gebrek aan enige wrakstukke tot dusver wil aandui dat die vliegtuig op ongeveer 35.000 voet gedisintegreer het, het een die bron gesê.

As die vliegtuig ongeskonde uit so ‘n hoogte val, sal dit net na impak met die water in stukke breek, en sal soekspanne verwag om ‘n redelik gekonsentreerde patroon wrakstukke te vind, het die bron gesê.

Twintig werknemers van ‘n tegnologiemaatskappy in Austin, Texas was ook aan boord van die vlug. Twaalf van die Freescale Semiconductor se werknemers is uit Maleisië en agt uit China.

Die ondersoek na die voorval fokus nou op twee passasiers wat met gesteelde paspoorte gereis het. Daar is vier verdagtes wat glo op die vliegtuig was, en Maleisiese amptenare het reeds met die FBI en Interpol geskakel oor die vier se identiteite.

Die name van twee mans van Oostenryk en Italië was op die vlug se passasierslys, maar dit het aan die lig gekom dat hul paspoorte vroeër in Thailand gesteel is. Die twee mans is ongedeerd.

Die twee passasiers wat vals paspoorte gebruik het van onderskeidelik die Italianer en Oostenryker, het hul kaartjies saam gekoop by China Southern Airlines en met Thaise Bhat betaal, het CNN berig. Die ander twee verdagtes het glo ook hul kaartjies op dieselfde wyse gekoop.

Dit het die vermoede versterk dat die voorval met terrorisme verband hou.

Een van die vermiste passasiers se familielede het die selfoonnommer van die passiers geskakel, maar niemand het opgetel nie, het die Mirror Online berig.

Die Amerikaanse vloot het intussen ‘n skip en ‘n soekvliegtuig gestuur om by die multinasionale soekspan aan te sluit.

Die soektog na die wrak oor Suidoos-Asië duur steeds voort. Maleisië het 15 vliegtuie en nege skepe gestuur, terwyl Vietnam twee vlootskepe, twee vliegtuie en ‘n helikopter bewillig het om te help in die soektog.

Die Viëtnamese soektog het glo brandstofspore op die water opgemerk en enkele wrakstukke wat ‘n aanduiding mag wees van waar die straler ondergegaan het. Die Amerikaanse owerhede het gesê die vonds is niksseggend.

Die WSJ het berig dat dit die deur en stertgedeelte van die straler kan wees. Volgens die Amerikaanse ambassade se verteenwoordiger in Hanoi, Jacky Ly Thang, het die Amerikaanse ondersoekspan tot die gevolgtrekking gekom dat die voorwerpe wat 100 kilometer suidwes van die Viëtnamese eiland Tho Chu opgespoor is, geen verband met die vermiste vliegtuig hou nie.

Die vliegtuig was op pad van Maleisië na China, waar daar verlede week 33 mense dood en 143 beseer is in ‘n terreuraanval in die suid-westelike stad van Kunming.

Die aanval, waarin ‘n bende amok gemaak het by ‘n Chinese stasie, is deur pro-separatiste Moslemterroriste van die Xinjiang streek wat grens aan Pakistan en Afghanistan geloods.

Die Chinese media het die aanval as die land se eie “9/11” beskryf.