Die Oekraïnse departement van binnelandse sake, het Donderdag die skuld vir die lugramp in sy land dadelik op “pro-Russiese separatiste” gepak en gesê Vlug MH17 is met ’n lugafweermissiel neergeskiet.
Volgens die jongste inligting was daar 298 mense aan boord.
‘n Ontleder van Jane’s Defence, Nick de Larrinaga, sê egter die self-verdedigingsgroepe het nie die vermoë om die Maleisiese vliegtuig af te skiet nie.
“Teen normale kruishoogte van burgerlike vliegtuie is hulle buite bereik van die soort van bemande draagbare lug[verdediging]stelsels wat ons in Oos-Oekraïne toenemend sien,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Die Oekraïnse magte het egter die wapenstelsels om ’n passasiersvliegtuig neer te skiet.
Die Oekraïense weermag het ‘n paar Buk-M-missielstelsels met ten minste 27 laaiers, wat in staat is om burgerlike vliegtuie in die Donetskstreek waar die Maleisiese passasier vliegtuig verongeluk het, af te skiet, het die Russiese ministerie van verdediging gesê.
Die gewapende magte van die Oekraïne in die ongeluksgebied is glo toegerus met Buk-M1-stelsels wat lugteikens op ‘n afstand tot 160 kilometer kan opspoor en op ‘n afstand van meer as 30 kilometer kan afskiet.
Dié missiel kan ’n hoogte van tot 25 000 m bereik en dus gemaklik ’n passasiersvliegtuig bereik.
Die Malaysia Airlines-vliegtuig het Donderdag op ’n hoogte van sowat 10 000 m verdwyn en die vermoede bestaan dat die vliegtuig afgeskiet is.
Nog ‘n militêre ontleder van die Belfer Center for Science and International Affairs sê die vliegtuig kon alleen deur ‘n professionele militêre mag afgeskiet gewees het.
‘n Suid-Afrikaanse helikoptervlieënier, Cameron Dalziel (43), was een van die oorledenes op Vlug MH17. Hy het in Maleisië gewerk en sou na Nederland reis vir opleiding, volgens Beeld.
Reddingswerkers het intussen die tweede swart vlugopnemer van die Maleisiese passasiersvliegtuig gevind, het Reuters berig.
Vroeër het ‘n woordvoerder van die Vostok-bataljon gesê dit is naby die dorp van Torez in die Donetsk gekry.
Nie een van die 283 passasiers en 15 bemanningslede aan boord, het die ongeluk oorleef nie.
Die Oekraïnse president Petro Poroshenko het Vrydag gesê die vlugopnemer is deur die plaaslike verdedigingseenhede opgespoor wat dit na Rusland sal neem in ‘n poging om “al die spore dood te vee”.
Interfax het Donderdag berig dat president Wladimir Poetin se straler ook dié roete gebruik het met sy terugvlug uit Brasilië van die pasafgelope BRICS-beraad.
Die Maleisiese Boeing777 en Poetin se straler lyk op ‘n afstand baie dieselfde, met dieselfde kleure gemerk.
‘n Bron het egter aan Gazeta.ru aanlynnuusportaal gesê Poetin se vliegtuig het opgestyg vanaf Vnukovo-3, maar die president nie oor die konflik-gebied in die buurland gevlieg nie.
Ander lugdienste gebruik dié roete, maar het nou hul vlugplanne aangepas om nie oor die Oekraïne te vlieg nie. Die VSA vlieg egter sedert April nie oor die Oekraïene nie.
