Wrakstukke van Indoniese vliegtuig opgemerk

Wrakstukke is Maandag vanuit ’n Indonesiese soek- en reddingsvliegtuig in die Papoea-provinsie opgemerk wat vermoedelik dié is van ’n vliegtuig met 54 mense aan boord wat vroeër neergestort het, het Reuters berig.

Trigana Air Service se ATR 42-300-vliegtuig het Sondag vermis geraak. Dit is die jongste in ’n reeks lugrampe in Suidoos-Asië.

Yunus Wally, die plaaslike polisiehoof, het aan die Antara-nuusagent­skap gesê die wrakstukke, vermoedelik van die Trigana Air Service-vliegtuig, is by die Tankokberg in die dig beboste Bintangbergreeks gesien.

“Dit is waar bemanning van ’n soekvliegtuig die wrakstukke by die Oksop-waterval raakgesien het.”

’n Soek- en redding­span wat bestaan uit onder meer 266 Indonesiese soldate het gister gereed gemaak om na die gebied te gaan. Die soektog sluit ook 20 klien vliegtuie en helikopters in.

Dit sal egter moeilik wees om die lyke te vind, weens die uiterste terreintoestande by die ongelukstoneel wat in ‘n baie hoë en steil gebied geleë is. Boonop is die weerstoestande onvoorspelbaar met mis wat skielik in die koue, bergagtige dele kan voorkom.

Altesaam 44 volwasse passasiers, 5 kinders en babas en 5 bemanningslede was op die kortafstandvlug van die Sentani-lughawe in Jayapura, hoofstad van Papoea, na Oksibil.

Weens kommer oor veiligheidstandaarde is die lugdiens sedert 2007 op die Europese Unie (EU) se lys van verbode lugdienste. Dit was by 14 ernstige voorvalle betrokke sedert dit in 1991 sake begin doen het. Voor Sondag se lugramp is 10 van die lugdiens se vliegtuie afgeskryf.

Indonesië het ’n swak lugvaartveiligheidsrekord en het reeds twee groot lugrampe vanjaar beleef. Dit sluit in ’n vlug van AirAsia wat in die Java-see neergestort het. Al 162 mense aan boord het gesterf.

Die Indonesiese president het in Julie ’n hersiening van die land se lugmagvliegtuie belowe nadat meer as 100 mense dood is toe ’n militêre vrag­vliegtuig neergestort het.

Indonesië het pas sy 70ste onafhanklikheidvieringe gevier.

Wrakstukke moontlik van verdwene MH370

‘n Ondersoekspan van Maleisië is na die ooskus van Afrika gestuur om vas te stel of wrakstukke wat naby die eiland Reunion gevind is moontlik dié van die vermiste Vlug MH370 is.

Maleisië het Woensdag gesê die span van ondersoekbeamptes sal help bepaal of die wrakstukke wel van die vliegtuig is wat verlede jaar oor die Indiese Oseaan verdwyn het.

Amptenare sê dit is waarskynlik die wrakstukke wat gevind is, maar verdere ondersoek is nodig.

Geen spoor kon nog gekry word van die Boeing 777 wat in Maart verlede jaar met 239 passasiers aan boord op ‘n vlug tussen Kuala Lumpur en Beijing verdwyn het nie. Die meeste passasiers was Chinese burgers.

Seestrome kon wrakstukke ver van die plek waar die vliegtuig neergestort het meegesleur het. Die ontdekking kan die grootste deurbraak wees in die tot dusver vrugtelose soektog na die vliegtuig.

Die Maleisiese minister van vervoer Liow Tiong Lai het met verslaggewers gepraat tydens ‘n besoek aan die Verenigde Nasies in New York.

‘n Stuk romp wat twee meter lank is, het Woensdag glo uitgespoel naby Saint-Andre, aan die oostekant van die eiland.

Die ontdekking kom ‘n dag nadat Rusland ‘n VN-resolusie vir ‘n internasionale tribunaal geveto het om die Maleisiese vliegtuig MH17 wat oor Oos-Oekraïne in 2014 afgeskiet is, te ondersoek.

Witali Tsjoerkin, Russiese ambassadeur by die VN, het die resolusie geblok. Rusland is een van die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad met vetoreg.

Elf van die 15 lede van die raad het ten gunste van die resolusie gestem, wat opgestel is deur Australië, België, Maleisië, Nederland en die Oekraïne.

China, Venezuela en Angola het buite stemming gebly.

Rusland sê die gebeure rondom MH17 word verpolitiseer en die tribunaal sal nie reg laat geskied aan die slagoffers of die waarheid nie.

Die vliegramp het gelei daartoe dat sanksies teen Rusland ingestel is omdat die VSA voortydig besluit het Rusland moet verantwoordelik gehou word.