Wrakstukke is Maandag vanuit ’n Indonesiese soek- en reddingsvliegtuig in die Papoea-provinsie opgemerk wat vermoedelik dié is van ’n vliegtuig met 54 mense aan boord wat vroeër neergestort het, het Reuters berig.
Trigana Air Service se ATR 42-300-vliegtuig het Sondag vermis geraak. Dit is die jongste in ’n reeks lugrampe in Suidoos-Asië.
Yunus Wally, die plaaslike polisiehoof, het aan die Antara-nuusagentskap gesê die wrakstukke, vermoedelik van die Trigana Air Service-vliegtuig, is by die Tankokberg in die dig beboste Bintangbergreeks gesien.
“Dit is waar bemanning van ’n soekvliegtuig die wrakstukke by die Oksop-waterval raakgesien het.”
’n Soek- en reddingspan wat bestaan uit onder meer 266 Indonesiese soldate het gister gereed gemaak om na die gebied te gaan. Die soektog sluit ook 20 klien vliegtuie en helikopters in.
Dit sal egter moeilik wees om die lyke te vind, weens die uiterste terreintoestande by die ongelukstoneel wat in ‘n baie hoë en steil gebied geleë is. Boonop is die weerstoestande onvoorspelbaar met mis wat skielik in die koue, bergagtige dele kan voorkom.
Altesaam 44 volwasse passasiers, 5 kinders en babas en 5 bemanningslede was op die kortafstandvlug van die Sentani-lughawe in Jayapura, hoofstad van Papoea, na Oksibil.
Weens kommer oor veiligheidstandaarde is die lugdiens sedert 2007 op die Europese Unie (EU) se lys van verbode lugdienste. Dit was by 14 ernstige voorvalle betrokke sedert dit in 1991 sake begin doen het. Voor Sondag se lugramp is 10 van die lugdiens se vliegtuie afgeskryf.
Indonesië het ’n swak lugvaartveiligheidsrekord en het reeds twee groot lugrampe vanjaar beleef. Dit sluit in ’n vlug van AirAsia wat in die Java-see neergestort het. Al 162 mense aan boord het gesterf.
Die Indonesiese president het in Julie ’n hersiening van die land se lugmagvliegtuie belowe nadat meer as 100 mense dood is toe ’n militêre vragvliegtuig neergestort het.
Indonesië het pas sy 70ste onafhanklikheidvieringe gevier.

Vlieg in die ooste is soos treinry in ZA. Blerrie gevaarlik.