Die Maleisiese eerste minister het bevestig dat ‘n wrakstuk wat verlede week naby die eiland Reunion in die Indiese Oseaan gevind is, wél afkomstig is van die vermiste Maleisiese vlug MH370.
Die fragment van die vleuel bekend as ‘n flaperon is na die vasteland van Frankryk geneem nadat dit verlede week met eendmossels bedek op ‘n strand van die Indiese Oseaan-eiland Reunion, ook Franse grondgebied, uitgespoel het.
Ten spyte van die Maleisiese bevestiging was dit deel van MH370 is, wou aanklaers in Frankryk geen soortgelyke verklaring uitreik nie, en net gesê dat daar ‘n “baie sterk vermoede” is dat dit ddel van die vermiste vliegtuig is.
Premier Najib Razak sê egter daar is nou fisiese bewyse dat die vliegtuig in Maart verlede jaar in die suidelike deel van die Indiese Oseaan neergestort het met 239 mense aanboord.
Dit is die eerste deurbraak sedert die vliegtuig vermis geraak het.
Razak het lande, organisasies en indiwidue bedank wat aan die soektog deelgeneem het.
