Karel Combrinck: Post tenebras lux

Kort nadat Martin Luther in 1517 sy 95 stellings aan die deur van die Wittembergkerk vasgenael het, het die vervolging van protestante in Frankryk begin. Die 95 stellings het dit hoofsaaklik gehad teen die gebruik van die sg. afkoopbriewe ingevolge waarvan die kerk en die adel (in daardie tyd en lank daarna dieselfde ding) teen betaling van ‘n som geld aan “sondaars” briewe uitgereik het om te sê hulle sondes is vergewe.

Die Gutenbergse drukproses wat teen daardie tyd in algemene gebruik was, het dit moontlik gemaak dat Luther se leerstellings soos ‘n veldbrand deur Europa verprei het. Die kerk en die adel sou nie met gevoude arms toekyk hoe hulle van hulle goudmyn berowe word nie.

Die Franse adel was in die nag van 23/24 Augustus 1572 (die Bartholomeüsnag) in die Louvre-paleis en ander paleise in die omgewing byeen ter viering van die huwelik tussen Hendrik die vierde (Henri IV) en Marguerite de Valois. Die huwelik is gereël oënskynlik om die bloedvergieting tussen katolieke en protestante te besweer, maar in daardie afgryslike nag is derduisende mense, die room van die protestantse adel, waaronder die beroemde admiraal Gaspard de Coligny, Dingaanstyl deur die katolieke vermoor. St Batolomeus is terloops die Franse beskermheilige van slagters!

Die teken dat die slagting moes begin, is gegee deur die afgemete gelui van die klok in die toring van die kerk St Germain l’Auxerrois net langsaan die Louvre-paleis. Die klok se naam, is … Maria.

Ave Maria, grazia plena, gegroet Maria, vervul met genade. Genade vir almal behalwe vir ons.

Kort nadat hy koning geword het, het Hendrik IV, wie se moeder protestant was, in 1598 die bekende Edik van Nantes uitgevaardig wat aansienlike verligting vir protestante gebring het. Nadat hy in 1610 deur ‘n katolieke fanatikus vermoor is, is die regte en vryhede van protestante geleidelik uitgekalwe totdat die protestantisme in 1685 met die herroeping van die Edik deur die koning van die duisternis, Lodewyk XIV (Louis quatorze) heeltemal verbied is.

Voortaan was dit gewoon onwettig om die protestantse geloof te beoefen en kinders as protestante te doop en groot te maak. Alles wat moontlik daaraan kon herinner dat daar ooit iets soos ‘n protestant op die aardbol was, is vernietig: geboortesertifikate, doopseëls, huweliksertifikate, doodsertifikate, grafte, transportaktes, alles. Alle protestantse kerke en ander plekke van aanbidding moes vernietig word. Die galg en die brandstapel was die daaglikse vermaak van die katolieke gepeupel en om slagoffers te vind was geen probleem nie want enigeen wat protestante verkla of uitgelewer het, kon aanspraak maak op die helfte van hulle boedel.

Protestante is verbied om Frankryk te verlaat en dié wat dit wel gedoen het, het dit in lewensgevaar gedoen. Dit was dan ook die geval met ons Hugenotevoorouers. Watter groot oomblik was dit nie vir hulle nie toe hulle uiteindelik in die Kaap aan wal stap nie! Vryheid, veiligheid, vrede.

POST TENEBRAS LUX!

Skoppensboer: Prof. Anton van Niekerk se Bartolomeusnag vir inspuitingdissidente?

Skoppensboer, wat nie ingeëent is nie, sit deesdae agter sy rekenaarskerm, vermy dit om in die openbaar te verskyn en hou die wêreld behoedsaam dop. Immers kan ‘n mens steeds Covid-19 by iemand aansteek, óf jy kan Pfizer se pylvirusse by die sg. “ingeëntes” of ingespuites opdoen. Mens is dus so half tussen Scylla en Charybdis.

In vandag se Rapport kondig Anton van Niekerk, die vermaarde etiekprofessor van die progressiewe, kultuurmarxistiese, anti-Afrikaanse Stellenbosch-kampus aan dat dit “eties” sou wees om enige oningespuite wat Covid opdoen, mediese behandeling te weier.

Die berig in Rapport lui só: 

Hoewel geen dokter sover bekend geweier het om ‘n pasiënt te behandel nie, sou so iets ‘n ernstige saak wees, sê Van Niekerk. “Maar ons moet ook onthou dat ons onsself in buitengewone omstandighede bevind. Dan ontstaan die vraag of individuele menseregte beperk of in die wind geslaan kan word.”

Mense wat hul nie laat inent met Pfizer en ander se eksperimentele middels nie, “stel nie net hul eie lewe in gevaar nie, maar ook dié van ander”.

Daarom sou dit geregverdig wees om so ‘n persoon behandeling te weier, meen Van Niekerk, want “mense wat hul wel laat inent, behoort voorkeur te kry”.

As daar een ding is wat Skoppensboer van “etiek” in Suid-Afrika verstaan, dan is dit dat enigiets wat die ANC doen, gewoonlik reg is. Veral as jy ‘n professor aan ‘n progressiewe, kultuurmarxistiese, anti-Afrikaanse universiteit is. Wat so min of meer 99% van ons universiteite opsom, want die akkademici wedywer met mekaar om méér links, méér progressief, méér anti-Afrikaans, méér anti-blank as enige van hul kollegas te wees.

‘Dus, in ‘n ware progressiewe, nuwe Suid-Afrika, sou slegs linkse, veganistiese, met-Pfizer-ingespuite, maer geheelonthouers toegang tot hospitale, bankrekeninge, voedsel, opvoeding en ander lewensmiddele geniet.’ – Skoppensboer

Grondonteiening, teregstellende aksie, die steel van staatsgeld, dít alles is hoogs “eties”.

Maar wee die arme drommel wat te veel YouTube gekyk of te ver in die wetenskaplike problematiek van RNS-boodskapper-tegnologie verlore geraak het en dus aan Die Inspuiting twyfel. So ‘n persoon is so min of meer op die vlak van ‘n Franse Protestant op die vooraand van die Bartolomeusnag in 1572 wat juis in hierdie dae, 23 tot 24 Augustus, plaasgevind het. Elkeen wat van die heersende ideologie afwyk, is ‘n ketter wat verdien om te sterf. Of ten minste mediese behandeling in ‘n hospitaal geweier te word.

Aldus die Groot “Etiekkenner” soos wat hy in Rapport, jou Sondagprawda, voorgehou word.

Van Niekerk, asook ‘n naamlose dokter wat nou siek en sat is vir oningespuite mense wat Covid kry, meen:

“…doen ons almal ‘n guns en behandel ook jou Covid by jou huis. Moenie hulp soek by diegene wie se advies jy ignoreer en (dan) hospital vol maak met jou Covid-siekte nie.

“(Dis) ‘n bietjie hard. Jammer.”

Hierdie grootse wysgerige sillogisme het Skoppensboer nou aan die dink gesit. Só op die vooraand van die herdenking van Bartolomeusnag 429 jaar gelede.

Volgens die Anton van Niekerk-beginsel van: “die amptelike standpunt is altyd korrek”, het die Franse Protestante van destyds dit verdien om almal voor die voet uitgemoor te word, net soos die inspuitingsdissidente verdien om tuis in hul beddens te sterf.

Soos die Amerikaanse uitvinder van die boodskapper-RNS-tegnologie, dr. Robert Malone, iewers op ‘n YouTube-video laggend sê: “My feite word nou op Facebook gekontroleer deur iemand wat nie sy hoërskool klaargemaak het nie.”

Dit gaan dus nie oor die wetenskap nie, maar om die stroom te volg, die sogenaamde hoofstroom. Die Facebook-“feitekontroleerder” weet meer as die biochemikus wat die oorspronklike navorsing rondom boodskapper-RNS, wat tans in Pfizer en ander se middels gebruik word, gedoen het.

Nog ‘n kundige wat eensklaps deur die hoernaliste en Facebookfeitekontroleerders van voorste hartsjirurg tot “aanhanger van verregse komplotteorieë” gereduseer is, is dr. Susan Vosloo. Sy het so ‘n paar grade van die “hoofstroom” afgewyk en is nie net in “die media” verguis nie, maar gaan blykbaar soos regter Mabel Jansen “gekanselleer” word met ‘n klag wat voor die Raad op Gesondheidsberoepe dien.

Die hoofstroom is natuurlik ook “progressief”. Soos Skoppensboer se gade onlangs droogweg opmerk:

“Ons leef nou almal in die Sowjetunie.”

Solank jy saamstem met wat in die koerant staan of wat jou president en die “deskundiges” sê, sal daar niks met jou gebeur nie…

Vandaar Skoppensboer se nuutgevonde begeerte om ook sover moontlik progressief, links en ‘n volgeling van die sogenaamde “Nuwe Wêreldorde” te word!

In Nederland sluit hulle nou al jou bankrekening as jy nie ‘n inspuiting wil vat nie. Skoppensboer moet voedsel op die internet met ‘n bankkaart bestel en kan dit nie self in sy agtertuin produseer nie, dus is hy as’t ware soos ‘n vlieg in ‘n spinnerak gevang deur die banke, Pfizer, Prof. Anton van Niekerk en ander aartsengele (of aartspinnekoppe) van die Nuwe Wêreldorde.

Binnekort gaan jy ‘n “binnelandse paspoort” soos in die Sojwetunie of ‘n QR-kode op jou selfoon moet dra om supermark toe te gaan, petrol in te sit, aanlyninkopies te doen of, les bes, ‘n bankrekening te mag besit. Jy sal Inspuiting Nommer Een en Nommer Twee moet vertoon. Asook Nommer Drie, Nommer Vier en al die ander wat nog kom en wat Pfizer en kie. vir ons sal “uitrol” soos dit op Ingels heet.

Noodgedwonge, al is dit net om sy bankrekening te behou, sal Skoppensboer baie meer progressief moet raak as wat hy reeds is. Ter wille van selfbehoud en oorlewing.

Daarom, as goeie en gehoorsame ANC-burger en Pfizer-aanhanger, doen Skoppensboer verdere “etiese reëls” aan die hand:

As bewonderaar van Greta (Thunberg) wat haar ouers eens daarvan beskuldig het dat hulle “haar toekoms steel” omdat hulle vleiseters is, meen Skoppensboer dat almal wat vleis eet ook opname in die hospitale geweier moet word. As jou koolstofvoetspoor te groot is, is jy nie langer geregtig op mediese behandeling van enige aard nie.

Soos prof. Anton van Niekerk sou sê: “…dis die punt, want as hulle planteters was, dui die mees betroubare wetenskaplike getuienis nou daarop dat hulle nie so siek sou word nie”.

Skoppensboer het net in dié aanhaling die woordjies “hulself laat inent het” met “hulle planteters was” vervang, maar uiteraard is “die punt” presies dieselfde. Daar is honderde, indien nie duisende, wetenskaplike studies in Skandinawië, Nederland, die Verenigde Koninkryk, die VSA, Australië en ander lande wat bewys dat die inname van vleis, veral rooivleis, tot hartvatsiektes, hoë cholesterol, vetsug en ander gesondheidsprobleme lei.

Dis nou behalwe nog dat veeteelt, vleisproduksie en alles wat daarmee saamhang sleg vir die omgewing is en, soos Greta dit stel, “ons kinders se toekoms steel”.

Vet mense of individue met ‘n hoë liggaamsmassa-indeks veroorsaak insgelyks hul eie dood, nes diegene wat die inspuiting weier. Trouens, volgens statistiek wat Skoppensboer onder oë gehad het, is dit juis vet mense wat aan Covid sterf! Gaan hulle dus dood omdat hulle die inspuiting geweier het of omdat hulle vet is?

Anton van Niekerk, die “etiekkenner”, gaan dit binnekort van Stalinbos se dakke af basuin: “Geen vet mens mag meer by ‘n hospitaal toegelaat word nie! Laat hulle self tuis hul hartaanvalle en beroertes behandel!”

Nou kan Skoppensboer dit nie verhelp om op te merk dat prof. Anton van Niekerk oor ‘n dubbele ken beskik nie, dalk selfs meer as een. Mmmm, sou dit nie “eties” van hom wees om ook sy eie liggaamsmassa-indeks, bloeddruk en ander gegewens openbaar te maak nie? Is hy ‘n veganis en geheelonthouer?

Lyk dit asof Anton van Niekerk genoeg oor sy eie liggaam, dieet en gesondheid omgee dat ons hom volgens sy eie “etiese maatstawwe” in ‘n hospitaal mag toelaat?

Behoort die owerheid iemand met ‘n dubbele ken soos Anton van Niekerk in ‘n hospitaal toe te laat? Het hy nie reeds sy eie gesondheid benadeel met die inname van diereprodukte en alkohol nie?

Want alkohol, soos suiker, is insgelyks gif. As jy die risiko neem om etielalkohol, wat ‘n gevaarlike en gewoontevormende middel is, in te neem wanneer jy bier, wyn of brandewyn drink, verbeur jy insgelyks jou reg op mediese behandeling in ‘n hospitaal.

Nou die dag sien Skoppensboer ‘n wetenskaplike studie raak wat beweer dat jy tot 35 jaar nadat jy etanol of dan alkohol gedrink het, kanker daarvan mag kry. Dis nou die “mees betroubare wetenskaplike getuienis” waarvan Anton van Niekerk hier bo praat.

Dus, in ‘n ware progressiewe, nuwe Suid-Afrika, sou slegs linkse, veganistiese, met-Pfizer-ingespuite, maer geheelonthouers toegang tot hospitale, bankrekeninge, voedsel, opvoeding en ander lewensmiddele geniet. By die vulstasie sou jy insgelyks jou QR-kode moes laat inlees om jou motor vol te maak… met petrol.

Wag ‘n bietjie! Petrol? Diesel? A nee a! Dit druis in teen die Greta-beginsel, selfs amper meer as om vleis te eet en suiwelprodukte te gebruik.

Dit spreek vanself dat alle vulstasies in die land summier afgeskaf sal word of dan met elektriese laaistasies vervang sal word waar jy jou elektriese voertuig mag herlaai.

Nou sal ‘n paar verregse petrol- en dieselgebruikers seker teenoor Skoppensboer opper dat hulle nie oor ‘n elektriese voertuig beskik nie en dat slegs 92 elektriese motors per jaar in Suid-Afrika verkoop word, anders as in die progressiewe Skandinawiese land Noorweë waar 80% van nuwe voertuie reeds uit elektriese voertuie bestaan met ‘n verdere 8% of so wat deur “hibriede” voertuie verteenwoordig word. (Sien onderstaande grafiek.)

Maar watwou! Toe die Franse president Emmanuel Macron nou onlangs aangekondig het dat niemand sonder ‘n “Gesondheidspas” in die openbaar mag verskyn nie, het ‘n stormloop na die hospitale en inspuitingsentra gevolg sodat die land dae aaneen lamgelê is deur desperate mense wat poog om hulself te laat inspuit.

As jy nie ‘n elektriese motor het nie, is dit jou probleem. Jy sal maar net jou bakkie se enjin moet uithaal en ‘n battery en ‘n elektriese motor op elke wiel moet installeer. Cyril sal dit aankondig en ons sal almal die gevolge moet dra, soos dit gewoonlik in progressiewe lande die geval is. Of daar nou agterna chaos, doodslag of hongersnood is.

Feit is, dis “eties”.

Naskrif: Sodra Anton van Niekerk of enigiemand anders vir Skoppensboer ‘n verwysing na die “wetenskaplike studie” stuur waarin bevind word dat die “inentings” oor geen newe-effekte beskik nie, sal hy terstond in die tou gaan staan om hom te laat inspuit. Rig die verwysing(s) aan skoppensboer@praag.org of plak dit sommer hier onder op die kommentaarafdeling. Tot dan sal Skoppensboer maar daarop konsentreer om nie vet te word of dubbele kenne te ontwikkel nie, asook al die regte vitamines in te kry.

 

Suidpunt: Die opvallende raakpunt tussen Kopties en Afrikaans

Vandag is Saterdag, 14 Augustus 2021. Dit is die dag waarop Afrikaans gevier word. As blykie van waardering, word almal wat Afrikaans ken aangemoedig om vandag ‘n Afrikaanse boek te koop.

Wel, ek gaan nie. Want ek hoef nie.

Ek het reeds vanjaar meer as 55 akademiese werke in Afrikaans gekoop vir eie gebruik. En dis nou sonder om die vaktydskrifte soos Stilet, Standpunte, Lantern en Dubbelfluit: Tydskrif vir die Onderrig van Afrikaans as Tweedetaal in te reken.

Dis nou sonder om my Italiaanse, Russiese, Duitse, Nederlandse, Franse, Sweedse, Deense, Noorse, Latynse, Griekse, Spaanse, Hebreeuse en Nama-kooplus by te voeg. Dit was so ‘n hittete of ek het ‘n boek oor Arabiese grammatika op Montagu ook gekoop.

Maar ek glo akademici, met ‘n véél groter salaris en gravitas, sal my inkopietogte in die skadu stel. Buitendien, dis Covid, ek moet my hande stilkry – en ‘n boek het so ‘n kalmerende en leersame effek.

Koptische Grammatik (1961), die beginpunt

Maar een van my eksotiesste kopies vanjaar geskied op Robertson, Wes-Kaap, in die hospieswinkel, op Woensdag, 19 Mei 2021. Ek kon my geluk nie glo nie. Die boek het behoort aan ‘n afgetrede senior lektor in die Semitiese Tale, verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, L.M. Muntingh; in 2019 oorlede.

En toe onthou ek mos die Koptiese taal het, toe Josef en Maria met Jesus soontoe gevlug het, mos die hele Egipte beslaan. Daar was hier in die stede natuurlik Grieke, Romeine, en al die volke dwarsoor die Romeinse Ryk ook te vinde.

Dat die befaamde Biblioteek van Alexandrië in die 3de eeu voor Christus in Egipte gebou is, het my laat wonder oor die strategiese ligging. Waarom hier? Is dit omdat die Egiptenare (toe nog heidene, onthou) oor die algemeen nie oproermakers was nie? Is dit omdat die klimaat meer geskik is om boeke te bewaar? Waarom nie in Athene nie?

Volgens prof. Gerrit van Wyk Kruger (Die verhaal van die Griekse taal oor 35 eeue heen) was dit ook polities gemotiveerd, om die Griekse kultuur te laat uitbrei (2017:41):

Die stigting hiervan was nie net die verwesenliking van ‘n stuk idealisme nie, maar was ook polities berekend as ‘n instrument waarmee hy die land van die magtige Nyl wou helleniseer. *…+ Demetrios het dan as ‘n lewende skakel uit die Griekse moederland, tussen Athene en Alexandrië, gedien om die oud-Griekse letterkunde, kultuur en erudisie dáár te laat voortleef.

Vandag is Kopties in Egipte morsdood, heeltemal verdring deur Arabies, hoewel die buitelandse belangstelling geweldig groot is – nie alleen in die Kopties-Ortodokse kringe nie, maar veral onder Egiptoloë, argeoloë en selfs die New Agers (veral onder die Gnostiese geskrifte in die postmoderne era); alles te danke aan daardie Fransman, Champollion, wat die hiërogliewe eeue gelede ontsyfer het, met behulp van hierdie taal.

Die boek behandel hoofsaaklik net die grammatika, nie die taalgeskiedenis so uitvoerig soos ek dit wil hê nie. Hier word wel gepraat van “wenigstens fünf Dialekte” (bl. 36). Die dialekte word, volgens die spelling in ‘n artikel deur Willem S. Vorster , soos volg aangedui:

Daar was verskillende dialekte waarvan Sahidies die belangrikste was. Daarnaas het Bohaïries (die huidige kerktaal), Agmimies, Subagmimies en Fajjumies ook as dialekte van Kopties in Egipte ‘n rol gespeel.

Sahidies vind jy in Bo-Egipte; Bohaïries langs die Nyldelta (ook genoem Alexandryns, na die stad Alexandrië); Agmimies langs die Tebes in Bo-Egipte; Likopolitaans/Subagmimies vind jy in Bo-Egipte by Assioet; en Fajjumies in die Fajoem (spelling van die Panorama, Julie 1989) of Fajjum-streek. Daar was dus geen standaardtaal nie. Elke dialek het sy eie pakkie werk gelewer.

Maar nou moet ek hoor daar is nie vyf nie, maar 27.

Van belang is wel die paragraaf op bl. 38:

Während in der griechischen Zeit Ägyptens die Entwicklung der bodenständigen Kultur und somit auch der Sprache im wesentlichen ungestört ihren Fortgang nahm, verlor das Koptische nach der Eroberung Ägyptens durch die Araber zusehends an Boden. Am besten ist das an den Urkunden zu ersehen. Ihre große Masse gehört dem 7. und 8. Jahrhundert an. Dann nimmt ihre Zahl stark ab, um im 10. Jahrhundert ganz zu versiegen. Um diese Zeit ist die Umgangssprache auch der christlich gebliebenen Ägypter im öffentlichen Leben schon ziemlich allgemein das Arabische geworden. Als die Kenntnis der koptischen Sprache unter den christlichen Ägyptern allmählich weiter zurückging, machte sich die Notwendigkeit geltend, die koptischen Schriften ins Arabische zu übersetzen. Das war der Anfang einer koptischen (d.h. christlichen) Literatur in arabischer Sprache. Auch koptische Grammatiken und Wörterbücher wurden damals in arabischer Sprache verfaßt.

Vrye vertaling:

Onder die Griekse bewind in Egipte het die eie taal en kultuur van die Kopte eintlik ongesteurd sy gang gegaan; daarteenoor verloor dit egter aansienlik veld nadat die Arabiere Egipte verower het. Dit is heel duidelik aan die dokumente te sien. Die dokumente in Kopties bereik in die 7de en 8ste eeu hul hoogtepunt (in aantal), maar dan gaan dinge bergaf, en nuwe geskrifte in hierdie taal verdwyn heeltemal teen die 10de eeu. Onder die Christene het ook Arabies in die openbaar die taamlik algemene omgangstaal geword.

Omdat die kennis van die Koptiese taal onder die Christene van Egipte al hoe slegter begin raak het, is hul genoop om die Koptiese geskrifte in Arabies te vertaal. En dit was ook die beginpunt waar die Koptiese (dit is, Christelike) literatuur in die Arabiese taal verskyn het. Ook die Koptiese grammatikaen woordeboeke is voortaan in Arabies geskryf.

Soveel vrae het by my opgekom:

  • Waarom het die taal uitgesterf?
  • Het die Kopte self skuld hieraan gehad?
  • Wat het Arabies die Koptiese sprekers gebaat?
  • Kan Kopties my help om Hebreeus te leer, aangesien hulle albei Semitiese tale is?
  • Wat dryf iemand om vandag Kopties te leer?
  • Watter beeld roep Kopties by mens op?
  • Watter alfabet het die Kopte voor die Griekse alfabet gebruik?
  • Watter invloed het Kopties op die Westerse kultuur? En vandag nog?
  • Waarom is daar geen Wikipedia in Kopties nie? Daar bestaan tog ‘n Wikipedia vir Latyn, vir Sanskrit, vir Oudengels, vir Oudkerkslawies, vir Goties… waarom nie vir ‘n taal wat so belangrik vir die godsdiens is nie?
  • Bestaan daar ‘n noue band tussen die Russies-Ortodokse, Grieks-Ortodokse en die Koptiese kerke? Juis omdat hul skrif uit dieselfde oeralfabet ontwikkel het?

Die meeste van hierdie vrae is nog nie beantwoord nie. Op die Nederlandse webwerf van die Koptiese kerk, sal die meeste Westerlinge dit geweldig vreemd vind dat Arabies aan klein kindertjies sommer vroeg-vroeg al geleer word op Sondagskool. Arabies is die amptelike kerktaal van die Koptiese kerk. Sou jou Sondagskoolonderwyseres vir jou Grieks, Latyn of Hebreeus geleer het?

Dit was ook nie lank nie, of ek vind @CopticNation op Twitter, ‘n Egiptenaar, ‘n etniese afstammeling van die ou Kopte, wat nou ‘n paar geslagte lank in Nederland bly. Die meeste van hulle, omdat hulle nie met die Arabiere getrou het nie, toon die meeste genetiese verwantskap met die ou Farao’s van weleer. DNS-toetse bewys dit keer op keer. As jy boonop ‘n ou Fajoem-portret met hul gelaatstrekke vergelyk, is die ooreenkomste nogal duidelik.

Natuurlik het die Kopte dan ‘n reuse-afsku in die swartes (vernaamlik in Amerika) wat die hele antieke Egiptiese kultuur as hul eie handewerk beskou. Ek hou die stukke in my stilligheid maar dop. Op ‘n veilige afstand. Dit gaan dus nie alleen om geloof nie, maar ook etnisiteit. Dis amper soos die Afrikaner en die Susterkerke wat voorheen sinoniem was (eintlik nou nog…).

Van hierdie Christelike denominasie sal jy ook nie sommer in die Westerse media verneem nie, omdat hulle nie selfmoordbomme laat ontplof nie, hulle is uiters vreedsaam en val niemand lastig nie, en hulle huil saam as ander kerke afgebrand word. Elke nou en dan kom daar maar weer die video op Twitter waar nog ‘n priester êrens doodgemartel word. Nogtans, ten spyte van als, klou hulle vas aan hul geloof.

Sulke ywer is seker bewonderenswaardig.

Maar kom ons vergelyk dit gou met Suid-Afrika.

Radio Sonder Grense het op Hemelvaartdag, 13 Mei, die volgende berig uitgesaai:

Die Moslemgemeenskap vier heel waarskynlik môre Eid-ul-Fitr. Aanbidders het gisteraand in Seepunt gaan kyk of hulle die nuwe maan gewaar, wat die einde van die heilige maand van Ramadaan beteken. Dit behels ‘n vastydperk van sonsopkoms tot sonsondergang. Die nuwe maan is egter nog nie gewaar nie. Die adjunkpresident van die Moslem Regsraad, Moula Abdul Khaliq Allie, sê volgens maankykers kan Eid-ul Fitr na verwagting môre gevier kan word.

Ek het werklik gewonder hoekom dit relevant is vir driemiljoen Afrikaanse luisteraars. Dit was deel van die hoofnuus om 08:00 en 09:00. Dit moet egter gesien word op die oomblik toe die spanning tussen Israel en Palestina op die Gazastrook in die hoofnuus was. Dáárvan was daar oorgenoeg blootstelling.

Hoewel die staat sekulêr en dus onpartydig wat godsdiens aanbetref moet wees, en albei dae géén openbare vakansiedae is nie, moes die een bo die ander uitgesonder word, al vind dit ook die volgende dag plaas.

Hoe ironies ook van die sender, op die 13de Mei 2021 was daar, die hele dag, nie ‘n dooie woord oor Hemelvaartdag in die nuus nie. Dit is eenvoudig doodgeswyg. Nie eens die hartroerende woorde van Pous Franciskus (@Pontifex), wat so gereeld in hierdie Protestante land aangehaal word, kon daardie dag die nuusbulletin haal nie. Ek kan net my oë opslaan.

Net vir interessantheid het ek gesoek op Twitter na iemand wat ander ‘n gelukkige “Hemelvaartdag” toegewens het, in Afrikaans… hier en daar was daar enetjie, en Dom Gatiep wat Meneer die Staatspresident op 20 Julie 2021 aanvat omdat hy nie die Christene gelukkige Hemelvaart toegewens het nie, maar die Hollanders het die meeste die woord op 13 Mei gebruik, want volgens die webblad van die Rijksoverheid is dit duidelik:

Hemelvaartsdag is een officiële feestdag in Nederland

Dit sê werklik ook veel oor die laksheid van die Afrikaner-Christen. Troos jou daaraan, volgende jaar sal jy wéér vergeet. Jy kan altyd nou al in jou dagboek die datum met ‘n rooi pen omkring: Dis Donderdag, 26 Mei 2022, Deo volente. Moenie sê jy het nie geweet nie.

Maar goed, die laaste keer wat daar oor die Koptiese kerk gepiep was op RSG, is die datums 27 en 28 Mei 2017.

Oor die algemeen is die Kopte die Weste uiters goed gesind. Was dit immers nie die Weste wat die mag van die Turke verbreek het, die Code civil op die tafel neergeplak het en uiteindelik die Kopte ‘n bietjie beweegruimte gegee het nie? Was dit nie die Westerse akademici wat ‘n moerse ophef oor hul taal en kultuur gemaak het omdat die hiërogliewe met behulp van Kopties ontsyfer is nie? (Nou goed, dit was ook die Weste wat hul Farao’s se grafte leeggeroof het, so groot was die ophef.)

In Nederland, net soos in Duitsland, in Frankryk, en selfs Italië en al die ander plekke waar hierdie gemeentes hulle bevind, word daar al hoe meer moeite gedoen om Kopties te laat herleef, net soos die wonderwerk met Hebreeus gebeur het. Dr. Dekker, so verneem ek, is besig om ‘n handleiding oor die taal te skryf in Nederlands. Hier is reeds ‘n kursus wat in Leiden aangebied word.

Op Google Play kan ek vir jou ook ‘n Russiese handleiding van Sahidies aanbeveel: Грамматика коптского языка.

Oorsee is daar deur die eeue heen meer grammatikaboeke geskryf oor Kopties as oor Afrikaans. Dis ‘n feit: die nuutste boek is in 2021 in Duits uitgegee: Grammatik des Boharischen deur Mathias Müller. En die boek is lekker dik.

Ek moet erken dat ek ‘n tikkie jaloers is op die aandag en die vooruitgang van hierdie taal in Europa. En tog sal die Kopte wens om die biblioteke vol boeke, die standaardtaal, die wetenskapstaal, die akademiese taal, die dryfkrag as moedertaal, die tegnologiese vakterme en begrippe, musiek(videos), klankopnames, podsendings, debatvoering, sommer ‘n webwerf soos PRAAG, om al hierdie voordele te hê.

Die belangrikste wel: moedertaalsprekers. Wat ‘n lewende taal toekom. Iets waaraan ons so gewoond is. So vanselfsprekend aanvaar. Die sogenaamde 300 mense wat wel hierdie taal in Egipte kan praat, volgens die Duitse Wikipedia, is “tweede taal”, dus, dis soos Latyn vlot te leer praat.

My vraag is: waarom moes hierdie taal eers ‘n dooie taal word? Waarom moes die kundigheid van die Egiptiese hiërogliewe tot niet gaan? En as jy dink hoeveel moeite daar nou gedoen word, om meer as ‘n duisend jaar later in te haal en soos Hebreeus te laat herleef – kon mens nie maar die taal eenvoudig laat bly voortleef het nie? Sou dit nie die lewe vir die taalwetenskaplikes vergemaklik het nie?

CopticNation, wat my ontsettend baie gehelp het, was op Twitter so gaaf om ‘n webwerf te deel waar ‘n afgetrede dokter die Geskiedenis van Kopties beskikbaar gestel het. Daardie afgetrede oogarts het beslis my oë oopgemaak.

Die spesifieke boek hier ter sake kan hier afgelaai word.

Dis in Egiptiese Arabies, natuurlik.

Die Geskiedenis van die Koptiese taal: “opgaan, blinken, verzinken” en die herlewing

Die taal, sal jy opmerk deur te google, gebruik presies dieselfde Griekse alfabet, min of meer soos die Russe Cyrillies gebruik (of, kyk na die alfabet van die uitgestorwe Goties!). Hoekom? Waarom was hul eie alfabet nie meer goed genoeg nie?

Die lopende skrif van “Egipties” (hiërogliewe is net op rots, klei en klip aangebring, nie op die gestolde piesangpap wat aan niksvermoedende toeriste gesmous word as papirus nie!), het ongelukkig so vol kommas geword, dat die oorskakeling verwelkom is toe die Grieke vir Egipte oorvat. Uit die gratis boek van dr. Isshak verskyn hierdie beeld van êrens:

Veral ook omdat die ou skryfstelsel geen klinkers bevat het nie, was die Griekse alfabet met ope arms eweneens verwelkom. Dis amper soos Turks, Maleisies en Swahili wat almal vandag die Latynse skrifstelsel gebruik en van Arabies afgesien het, al is die meerderheid sprekers almal Moslems. Geen taal is daarvan dood nie.

Ek moet self sê: die Grieks-Koptiese skrif is baie sag op my oë wat Latynse skrif gewoond is. Selfs sagter as hoekiger Russies-Cyrillies.

Die taalverloop het geskied vanaf

  • Oudegipties (3000 tot 2000 v.C.) na
  • Middelegipties (2000 tot 1300 v.C.) na
  • Laategipties (1300 tot 700 v.C.) tot
  • Demoties-Egipties (700 v.C. tot 500 n.C.)

En uiteindelik, uit hierdie Volksegipties (wat die versamelnaam is vir ‘n paar dialekte), word Kopties in omtrent die derde tot vierde eeu na Christus so op skrif gestel (wat vreemd is as mens dink die Alexandrynse Biblioteek is die derde eeu voor Christus deur die Grieke laat bou).

Die evolusie van taal verloop dus baie soos Oudgrieks wat met verloop van tyd verander het in Nieugrieks, Latyn verander het in Italiaans, Oudnoors in Yslands, 17de eeuse Nederlands wat in Afrikaans verander het. Dieselfde patroon sien jy dus.

Wat presies het daar gebeur?

Wel, ek gaan jou ‘n bietjie huiswerk gee, hierdie twee artikels uit Égypte/Monde arabe is immers gratis:

Ek wil egter by drie punte stilstaan:

– Die digotomiese isolasieprobleem
– Om jou hoofsaaklik tot net een vakgebied te bepaal
– Die einde van die hoëfunksie is die einde van die taal

Die digotomiese isolasieprobleem

Ons weet van die skeuring tussen die Griekse en Koptiese kerk. En wat dinge erger gemaak het was later met die Kruistogte (pp. 50-51), waar jy jou lojaliteit teenoor jou landgenote (die maghebbers, die Arabiere) moet bewys, terwyl hulle jou weer verdink dat jy met die Kruisvaarders konkel en heul.

Jy is óf een van ons, óf jy is nie. Jy is óf ‘n vriend, óf ‘n vyand. Daar is nie vyftig skakerings grys tussen swart en wit nie.

Ek het reeds voorheen geskryf oor die “opvallende raakpunt tussen Afrikaans en Korsikaans”. Albei dialekte is as nikswerd vorme van die Standaardtaal beskou (dus, nie deel van die kontinuum nie), hulle word geïsoleer (of hulle isoleer hulself), en word dan tot die dood toe gebliksem deur die nuwe maghebber.

Korsikaans is streng gesproke ‘n dialek van Italiaans (van oorkant die water), maar moes onder Frans ly, want dit sou dan, in isolasie beskou op ‘n stukkie aarde, geen nut hê nie. En hierdie irritasietjie moet verdwyn. Afrikaans is Kitchen-Dutch gedoop. Dieselfde storie.

Nou het ons Kopties vs. Arabies.

Volgens hierdie teorie moet daar op die skaakstel net twee konings oorbly, en die kleiner taaltjie moet in die slag bly, want anders kan daar mos nie eenheid wees, of gelykheid, of gelyke kanse, of watter ander ideologie jy optower nie. O, ja: “vrede”. Of dit nou deur die volk self so beskik word, of deur politiek so afgedwing word, of die toeval dit so wil hê – daardie lydende taal gaan nie ontwikkel nie. Dit moet weg.

As die sprekers nie self besluit om vroeg al tou op te gooi en van moedertaal te verander nie (taalverskuiwing), geen oorspronklike woorde munt nie, geen wetenskaplike of kunswerke skryf wat hoog aangeskrewe is in ‘n ander wêreld nie, sal die slagoffertaal met verloop van tyd al hoe meer ‘n namaaksel van die maghebber se taal begin raak, en beweeg dan net al hoe nader en nader en nader aan die maghebber se taal totdat die oorspronklike slagoffertaal heeltemal kruppel raak en verdwyn. Op sy beurt sal ‘n baie onsimpatieke maghebber alles in sy vermoë doen om die lewens van die kleiner taaltjie se sprekers galbitter te maak.

Maar let wel, dit gebeur slegs in ‘n spreekwoordelike visbak, waar een taal gestel word teenoor ‘n ander taal, en daar geen nut gesien of gebruik gemaak word van ander tale daarbuite nie.

CopticNation het wel aan my gesê daar was party kloosters wat met ander tale uit die omliggende streke in kontak was, of wat hierdie sprekers in hul midde gehad het; Kopties was dus nie heeltemal op sy eentjie nie. Van hierdie manuskripte is veeltalig: Grieks, Kopties, Arabies, Armeens, Etiopies en Siries.

Ongelukkig het ons te min statistiek nou beskikbaar om te weet wat die geletterdheidsyfers van die gewone outjie werklik was. Dit is nou Jan Publiek. Vroue en kinders. Dus wonder ek tog of daar nie sprake was van ‘n soort tweedeligheid tussen Kopties en Arabies nie. Dit is ‘n teorie wat ek nog wil toets, maar dit lyk vir my hoogs waarskynlik.

Maar nou ontstaan die volgende probleem: wat is geletterdheid?

Kyk mens byvoorbeeld na die Calvinistiese samelewing in Nederland in die 17de eeu, dan weet ons die geletterdheidskoers was veel hoër as in Frankryk. Want jy moes tog die Bybel kon lees. Frankryk se geletterdheidskoers was (op daardie stadium toe die Hugenote gevlug het) onder die mans 30% en 14% onder die vroue (M. Boucher. French Speakers at the Cape. pp. 37-38). Dikwels is hierdie “geletterdheid”-syfers in Europa egter gemeet aan die feit of jy bloot jou handtekening kon maak of nie. Dan word ‘n paar doop-, sterfte- of huweliksregisters en formuliere vergelyk, die handtekeninge getel, die persentasie bereken en dan besluit: hierdie nasie was geletterd daardie nasie was minder geletterd. Vandag beskou ons “geletterdheid” en “leesbegrip” as sinonieme.

Hierdie “geletterdheid” sou mens dan kon toets aan die moontlikheid om dalk kontak met ander tale te maak en ingewikkelde kennis oor te dra.

Ek het gehoop op die Italianers uit Venesië wat miskien op ‘n manier kontak sou kon maak met die Kopte, dat daar ‘n lewende uitruil van inligting sou kon plaasvind – weerskante van die Middellandse See. Maar CopticNation sê aan my dit sou dan eintlik mosterd na die maal wees: die Europeërs het eers van die Koptiese volk en taal bewus geword teen 1439.

Van die Kopte het agterna besef die isolasie wat sedert 451 afgedwing is deur omstandighede was ‘n aanslag op hul taal, kultuur en beskawing. Omdat hulle alle bande met die buitewêreld daardeur verbreek het, nie meer met die Bisantynse beskawing in kontak sou wees nie, is die taal van die teologie, filosofie en die wetenskap daarmee heen (d.i. hulle sal voortaan net van Arabies moet gebruik maak?). Ook hul verlede en toekoms, hul erfenis was daarmee heen.

Party skryf egter hierdie gebeurtenis aan selfopgelegde isolasie toe, te wyte aan hul eie fanatisme, omdat hulle hul eie ding wou doen en die Griekse Kerk gewantrou het.

Om op dieselfde aambeeld te hamer

Vanaf die suide van Spanje tot in Bagdad het die Arabiere omtrent oor alles onder die son geskryf. Hierdie werke sal later uiters gesog wees in Europa, waar papier lankal gemuf en opgevrot het. Volgens die Russiese Wikipedia was daar egter net twéé tekste wat wetenskaplik van aard was in Kopties:

Античная научная традиция в коптской письменности представлена всего двумя текстами — полуфольклорным «Физиологом» и трактатом «О самоцветах» Епифания Кипрского.

Oftewel:

Die antieke wetenskaplike tradisie in die Koptiese skryfkuns bied slegs twee tekste: die halffolkloristiese Physiologus en die werk De gemmis deur biskop Epifanius van Siprus.

Hierdie Physiologus van die Kopte sou tien teen een ‘n vertaalwerk van die Griekse een wees. Die Physiologus was ‘n boek wat mitiese of werklike diere, plante en klippe beskryf het, maar dit het swaar onder bygeloof, oorlewering en allegorie gebuk gegaan. Die Middeleeuse weergawes daarvan is wel met helder en baie aantreklike illustrasies versier (hoewel die kopiïste duidelik nog nooit ‘n luiperd gesien het nie).

De gemmis gebruik ek hier as afkorting vir De duodecim gemmis rationalis, wat handel oor die twaalf edelstene van die hoëpriesterlike borsskild/borssak/borsplaat.

Dus moet ek aanneem ons het twee vertalings hierso wat oorgebly het?

Al sou die reusebiblioteke in Spanje en Bagdad later tot op die grond toe afgebrand word en niemand by laasgenoemde gedink het om die biblioteek te herbou nie, kan jy jou steeds indink hoe al hierdie ryke wetenskaplike werke in Arabies moes vergelyk met ‘n taal wat hom hoofsaaklik net met godsdienssake bemoei het. Dit is nou Kopties waarvan ek praat. Godsdienssake was sy enigste funksie. En toe word hy van daardie een talent ook beroof.

Dit leer ons dat enige taal in soveel verskeie sektore moontlik benut moet word.

Die hoëfunksie gaan tot niet, en so ook die taal

Ons weet wat het gebeur met Kornies toe 4000 mense met die swaard omgebring is omdat hulle nie die nuwe Engelse gebedeboek wou aanvaar nie. Die taal is morsdood.

Ek het reeds daarna verwys in “Hoe dr. Hennie Terblanche die Engelse makgemaak het”.

Ons weet ook van Lord Somerset wat sy plan deurgevoer het om Skotse predikante in te voer om Hollands te probeer dooddruk:

It has pleased His Majesty most graciously to approve that measure, and to enable me to act more extensively upon it, not only by having commanded Clergymen of the Established Church of Scotland (whose religious tenets are precisely similar to those of the Reformed Church of this Country), who have received instruction in the Dutch Language, in Holland, to be sent hither to be placed in the vacant Churches, but by having authorised competent and respectable Instructor being employed at public expense, at every principal place throughout the Colony, for the purpose of facilitating the acquirement of the English Language to all classes of Society.

Sy plan het nie geslaag nie. En verder het die Boere in elk geval genoeg gehad van die Grenspolitiek, en het hul goed gevat en getrek. Die Kaapse Kerk het nog aanvanklik geteem hulle moet bly, dat hulle sonde teen die staat pleeg, maar niks kon hulle keer nie. Daaroor is uitvoerig geskryf in Die Kaapse kerk en die Groot Trek.

Ons weet van die Duitse kerke in die Natalse Middellande wat verengels het en hul taal en kultuur permanent kwyt is, terwyl die Duitse kerke in die Afrikanerdeel van Natal ‘n karnaval van vreugde beleef.

Ons onthou eweneens ook die Nederlandse kerke van Drakenstein en omstreke wat ná die Hollandse diens ook ‘n diens in Frans sou hou vir die Franse Hugenote, al was daar ook maar net één lidmaat wat opdaag. Dit is dus onwaar dat die Hollanders aan die Kaap die Franse taal doodgedruk het.

En ons weet selfs vandag nog wat gebeur met Afrikaanse kerke waar die predikant ook in Engels begin preek omdat die kerkbanke te leeg na sy sin is, en die aantal siele en hoeveelheid geld net nooit genoeg is nie. Jy weet, “toeganklikheid” is die modewoord.

En ons wéét goed wat het gebeur met Kopties toe Arabies die voertaal van die kerk geword het. Maar hieroor is daar nog onenigheid.

Die een kant dink: Die invoer van Arabies in die Koptiese kerk is juis in daardie rigting gestuur deur diegene wat ‘n possie beklee het by die owerheid – dalk om witvoetjie te soek by die heersers, of dalk om na hul pype te dans.

(Maar dalk ook, en dit is net ‘n teorie wat ek het, sodat die amptenare kan sien dat die Koptiese Kerk nie vyande teen die owerhede kweek nie. Dink maar aan sekere amptenarye en ondermenings in Suid-Afrika wat op kantoor alles in een taal wil hê – glo vir “deursigtigheid”, hoewel die korrupsie dan éérs lekker voortwoed…).

Maar ook Patriarg Gabriël was die eerste om vertalings van die Arabiese gebed in te voer, asook die voordrag van die Evangelies en briewe in Arabies, behalwe by Nagmaal waar die liturgie in Kopties voortgegaan het. Die skielike oorgang vind mens onder andere in briewe wat in 1921 ontdek is met Koptiese letters op papier, maar met Arabies as taal. Dit is dus Arabies met Koptiese letters (p. 44).

Die ander kant dink: Was dit werklik die Patriarg se skuld, of was dit omrede Kopties reeds gerysmier en so swak gebesig is, dat niemand dit meer kon verstaan nie? (p. 60) Onthou, dienste in Latyn was in Europa voorheen vry algemeen, al kon slegs die priestersamp, die dokter, die prokureur, die onderwyser en ‘n paar ander geleerdes verstaan wat daar geprewel word. Dienste in Kopties sou dus seker dieselfde gewees het vir die gewone kerkganger? Vir die mistiek of so?

Dit is nie die Christene se skuld nie, maar die gelykmaak-kultus

Daar is diegene wat aanvoer die Egiptiese taal het tot niet gegaan, omdat hy sy tradisionele en unieke wese verloor het. En kyk net die skrif! Die Christendom het die volk van hul tradisionele kultuur verder gestroop deur die heidense beelde, boeke en gebruike te verbied, daar was later nie ‘n greintjie kultuur meer oor nie, hul taalgebruik is nie meer so ryk nie, en toe kom die Arabiere en maak maar net die aftakeling klaar wat begin is (p. 53).

Party voer selfs aan die Koptiese kultuur het bloot onder ‘n nuwe taal voortgeleef! Jy sal nou-nou sien dit is absolute snert.

Hieroor is dr. Isshak sommer baie reguit: in daardie geval moet die Perse die skuld kry, maar nie die Christendom nie. Egipte het sy onafhanklikheid en mag verloor en ‘n provinsie geword. Toe is die Persiese Ryk ingeneem deur die Grieke, en daarna was daar geen Egiptiese onafhanklikheid tot met die Egiptiese Rewolusie in 1952 nie. Die volgende jaar het Egipte sy onafhanklikheid gekry.

Die Christendom is eers amper 700 later ná die inval deur die Perse aangeneem, toe die Egiptiese taal en kultuur lankal reeds verswak was. Maar van die ou heidense Egiptiese gebruike het later in die kerk behoue gebly.

Daar was selfs Romeine wat hierdie Egiptiese tempels kom besoek het en onderhou het (p. 54 in dr. Isshak se werk). Wat wel vinnig bygevoeg moet word is prof. Gerrit van Wyk Kruger se teks (2017:48):

Die ganse oud-Griekse literêre erfenis was nou in die hande van die Romeine wat dit etlike eeue sou beheer.

‘n Hele paar ander dinge is ook deur die Romeine beheer.

Toe Konstantyn die Christendom dwarsoor sy ryk die amptelike godsdiens gemaak het en die heidendom beëindig het, het hy nie die tale in Italië, Klein-Asië, Griekeland, Palestina of Egipte hoegenaamd uitgeroei nie (p. 55 in dr. Isshak se teks). Iemand soos Julius Caesar het 55 jaar voor Christus wel twee volke wat hy gewantrou het in Nederland voor die voet uitgeroei, al het hulle om asiel gevra – vandag sou dit as volksmoord bestempel word, maar nie taalmoord nie:

De twee Germaanse stammen (de Tencteri en de Usipetes) kwamen uit het gebied oostelijk van de Rijn en vroegen om asiel bij Caesar. Caesar weigerde dit echter omdat hij de Germanen niet vertrouwde. Hij gaf zijn troepen vervolgens opdracht om de stammen op gewelddadige wijze te vernietigen. In opdracht van de Romeinse legerleider werden niet alleen mannen maar ook vrouwen en kinderen gedood. De Vrije Universiteit stelt dat we een dergelijke actie zouden betitelen als een “genocide”.

Eweneens het die skrifstelselverandering nie die geringste invloed op taal nie. Oudrussies het byvoorbeeld twee letters uit Kopties oorgeneem; en Turks het sy Arabiese baadjie uitgetrek en skryf voortaan in Latynse skrif. So ook Viëtnamees, Maleisies/Indonesies, Malgassies, Swahili, Javaans en byna elke taal in die Amerikas en Afrika. Lyk hierdie tale vir jou enigsins dood?

Ook moet mens jou die vraag afvra of diegene wat oor die “swakheid van Kopties in die moderne samelewing van destyds” so gal braak, se vaardigheid in Kopties goed genoeg is om enigsins te oordeel.

Snaaks, Iwriet (Moderne Hebreeus) het nie ‘n probleem om nou in die 21ste eeu aan te pas nie, al het Hebreeus as gesproke taal tussen 200 en 400 n.C. sommer heeltemal ophou bestaan. In die 21ste eeu nogal? Dit moet darem gedoen wees.

Is Egipties, wat vir 4 000 jaar goed genoeg was vir die alledaagse en geskrewe gebruik, waarin opdragte geblaf is om piramides tot stand te bring, wat die Weste nou nog na hul asems laat snak, nou skielik nie meer “goed genoeg” of so “ryk” soos Arabies nie? (p. 55) Ek sou sê dis twak.

Hoe is dit ook moontlik dat hierdie Egiptiese taal vir Kusities, Libies, Kanaänities, Assiries, Persies, Grieks, Latyn almal kon deurstaan het? Maar nie Arabies nie? (p. 40)

Verder moet mens jou ook vra waarom ander tale nog in die vernaamlik Arabiese streke oorleef het, maar nie Kopties nie? Waarom het daardie tale nie geswymel oor die veelheid, die rykheid, die soepelheid van Arabies nie?

Dit is vrae wat vir my nog onbeantwoord bly en wat ek met verloop van tyd sal uitvind. Dalk was die lewe toenterjare klopdisselboom, ek weet nie. Ek bedoel, die Oemajjadiese Kalifaat word tog te mooi geskilder. Maar ek het my bedenkinge.

Terug na vandag, skryf Geopende Deure besonder diplomaties:

Alhoewel Egipte se regering positief oor die land se Christen-gemeenskap praat, laat die tekort aan ernstige wetstoepassing en die plaaslike owerhede se onwilligheid om Christene te beskerm hulle kwesbaar vir alle tipes aanvalle, veral in Bo-Egipte. Vanweë die diktatoriale aard van die regime is geen kerkleiers of ander Christene in ʼn posisie om op te staan teen hierdie gebruike nie.

Verder, in kontras met hoe moskees en Islamitiese organisasies hanteer word, word kerke en Christelike nie-regeringsorganisasies se vermoë beperk om nuwe kerke te bou of sosiale dienste te bied.

Christene vanuit alle agtergronde ervaar probleme om nuwe plekke vir gemeenskaplike aanbidding te kry. Die probleme kan toegeskryf word aan staatsbeperkings, gemeenskaplike vyandigheid en bendegeweld. Christene vanuit ʼn Moslemagtergrond ervaar dikwels groot struikelblokke om hul geloof uit te leef, siende dat hulle enorme druk van hul families ervaar om terug te keer na Islam. Die staat maak dit ook onmoontlik vir hulle om enige amptelike erkenning of dokumentasie van hul omskakeling na Christenskap te ontvang.

‘n Veel vollediger verslag is uitgereik oor die geweld, ontvoering en indoktrinering van vroue en kinders met Koptiese herkoms.

Van hierdie Kopte moet verder ‘n sukkelbestaan voer en letterlik op die vullishope leef (google gerus “Zabaleen” of “Zabbaleen”, wat 90% uit Koptiese Christene bestaan).

Sê jy nou vir my: wat de donder het Arabies hierdie mense enigsins gebaat? Nie alleen is die Kopte van hul taal en kultuur (wat vandag sulke hoë waarde het in akademiese en godsdienskringe!) gestroop nie. Hulle is van hul menswaardigheid gestroop. Al wat hulle nog het, is hul godsdiens. Maar selfs dít word hulle nie gegun nie.

Om op die vullishope te leef….

Jô, is dit nou die Koptiese kultuur wat onder ‘n nuwe taal voortleef? Die groot piramidebouers van weleer grawe nou in berge vullis rond? In die rommel van hul beskawing wat oorgebly het. Bloot omdat hulle nie deel van die massa is nie?

Dít, vriende, is die utopie van die groot gelykmaak.

Dit is teen hierdie agtergrond waar ek my nogal bloedig vervies het vir ‘n brief wat ek ontvang het.

Daardie brief…

My brief het aan die persoon soos volg gelui:

Ek sit hierso met Taal en Teken, ‘n bundel opgedra aan prof. G.S. Nienaber op sy sestigste verjaarsdag op 12 November 1963. Nienaber was bekend vir sy studies rondom Khoisan, Nama ens.

Hierdie brief het betrekking [tot] die hoofstuk “Afrikaans en die Inboorlingtale”, geskryf deur prof. dr. Dirk Ziervogel. Sy vakgebied was Swazi en Noord-Sotho.

Ek het o.a. die sensuskaart van 2011 nadergetrek en bevind Pretoria (of, tegnies gesproke City of Tswane, waarvan Pretoria deel uitmaak) se hooftale is Noord-Sotho (20%), Afrikaans (19%), Tswana (15%), Tsonga (9%), Engels (9%), Zoeloe (9%), ens.

Mamelodi, met verwysing na jou vorige brief, se hooftaal was op hierdie stadium Noord-Sotho (42%), gevolg deur Zoeloe (12%) en Tsonga (11%), ens.

Nou is ek ‘erg benieuwd’ soos die Hollanders praat, want soos jy nou al weet, klou sekere tradisies baie lank aan die gewone mens vas. En al wil mense dit nie glo nie, etnisiteit speel tog maar ‘n rol in die vorming van kultuur. Al is dit ook hardgekookte eiers vir padkos sedert die 1800’s/1900’s.

Ziervogel skryf (pp. 138-139):

“Die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Blanke samelewing in twee taalkundige groepe, het ook sy stempel op die Bantoe gelaat. Die Oostelike Kaapprovinsie is ‘n hoofsaaklik Engelstalige gebied en daar is Bantoe-onderwys van die vroegste tye Engels georiënteer en is Engels ook in die Bantoeskole as tweede taal in die laere standerds en as voertaal in die hoëre standerds ingevoer. Dit verbaas ‘n mens dan ook nie dat min Xhosa Afrikaans ken nieteenstaande hul deurspek is met ou Afrikaanse woorde. Dieselfde geld ook vir die Zoeloe van Zoeloe[l]and en Natal, en dis te verwagte dat Afrikaans hier nie so ‘n invloed nagelaat het nie buiten in sommige plattelandse gebiede. In die Vrystaat en Transvaal het Afrikaans op die platteland altyd die botoon gevoer en wat Afrikaanssprekendes hoofsaaklik vir Bantoe-onderwys verantwoordelik. Ook Duitsers het op onderwysgebied en op kerklike gebied ‘n groot invloed gehad en hulle was meer Afrikaansgeneig as Engels.

“Hierdie invloedsfere van Afrikaans en Engels het ook op wyer gebied hul invloed nagelaat. Terwyl die Zoeloe en Xhosa eintlik nie groot voorstanders van moeder[taal]onderwys is nie (maar nietemin baie geheg is aan hul taal), is die Sotho oor die algemeen groter voorstanders van die moedertaal as onderwysmedium, en is hulle ook beter Afrikaans magtig.

“‘n Ander interessante punt is dat waar die Zoeloe en Xhosa baie konserwatiewer is en nie graag vreemde tale praat nie, die Sotho aan die anderkant baie maklik Afrikaans aangeleer het. Die gevolg was dat die Blankes wat met die Nguni in aanraking gekom het, feitlik gedwing was om Zoeloe of Xhosa of Swazi aan te leer, terwyl die Sotho geredeliker Afrikaans praat en daar betreklik min blankes ‘n Sothotaal kan praat.

“Vandag maak die stede van die Bantoe ‘n veeltalige wese. Daar is baie Bantoe, nie net in die stede nie maar ook in die gebiede op die platteland waar twee tale bymekaar kom, wat twee of drie Bantoetale ken en daarby nog Afrikaans en Engels. Ek haas my ook om by te voeg dat daar min Bantoe is wat Afrikaans of Engels werklik suiwer kan praat.

“Die Blanke word weer al minder veeltalig omdat die kind wel vroeër veel meer kontak op die plaas met die Bantoe gehad het, nie meer dieselfde geleentheid het om met die Bantoe in aanraking te kom nie. Die gevolg is dat die jong Blanke wat daarop kan roem, soos baie van die ouer geslag, dat een of ander Bantoetaal sy ‘tweede moedertaal’ is, vandag feitlik onbekend is. Dit is tog jammer, want die kennis van mekaar se tale was nog altyd ‘n baie beduidende faktor in die skep van gesonde rasseverhoudings.” 

Hy gaan dan verder om oor die verstedeliking te skryf, dat meer Engels hier sterker indring, hoewel daar ‘n duidelike onderskeid is tussen die stadstaal (wat meer Engels neig) teenoor die plattelandse gebruik (wat meer na Afrikaans neig).

Byvoorbeeld:

Die stedelike Zoeloevrou “aina” (iron) vir haar “misisi” (Mrs.)

Die plattelandse een “shisa” (brand) vir haar “nona”.

Die stedelike Sothovrou “aina” (iron)

Die plattelandse Sothovrou “tereka” (stryk).

Maar ongelukkig het Ziervogel nie spesifiek die stadsname genoem nie, en dit is in die vroeë 1960’s. Johannesburg (23% Zoeloe, 20% Engels, 10% Suid-Sotho, 8% Setswana, 7% Afrikaans in 2011) gaan definitief ‘n ander invloed uitoefen as Pretoria. Of nie?

Interessant genoeg is Refentse Morake ‘n gebore Suid-Sotho-spreker. Hy pas dus perfek in die profiel van iemand uit ‘n etniese groep wat soveel tale moontlik sal leer, as ons Ziervogel moet glo.

Ek het wel met ‘n paar ou Wikipediane ‘n paar jaar gelede gepraat, hulle kom nog uit die jare toe julle omgewing nog Transvaal was. Blykbaar kon jy as Afrikaner (blank, Afrikaanssprekende inwoner van Pretoria) voorheen Sotho op skool neem (dit was toe nog verpligtend), maar die belangstelling het so gou getaan op hoërskool dat die vak en die plig daarby op die lange duur maar geskrap is. Uit my stelletjie reguit vrae wil tog vir my lyk of jy nie op hoërskool die taal goed genoeg sou kon aanleer om ‘n gebraaide mielie op die sypaadjie te bestel nie. (Taal moet jy in elk geval by moedertaalsprekers hoor en mee praat).

Net gou toeligting rondom die Duitsers in Natal, soos ek vir die Afrikaanse Wikipedia opgesom het (wat ek kry uit F. Francke se proefskrif, 2008, “We call it Springbok-German”):

“Die Duitsers in Natal is hoofsaaklik drie- of selfs viertalig: Duits (as moedertaal), Afrikaans, Engels en Zoeloe (in wisselende graad). Afrikaans en Engels word hoofsaaklik in formele skoolverband geleer, terwyl Zoeloe meestal op die plase en ander landelike gebiede aangeleer word. Die Duitsers wat wel Zoeloe vlot magtig is, is, soos die meeste Afrikaans- en Engelssprekendes, in die minderheid. Gewoonlik is dit ook die ouer bevolking en die plaaseienaars/-bestuurders wat daartoe geneig is om Zoeloe vlot magtig te wees. Tog is Zoeloe onder die Natal-Duitsers nie meer ‘n noodsaaklikheid nie, omrede daar onder die Zoeloes deesdae toenemend die neiging is om Engels te wil praat.”

Uit ‘n Kaaplander se oogpunt is dit dan ook geen wonder dat die grootste tweetalige woordeboek/pukuntšu Afrikaans-Noord-Sotho (Theunis J. Kriel, 1983) is nie. En al sou die NoordSothosprekers nie belangstel nie, is dit die bevolkingsgroep waarmee die Afrikaanssprekende op daardie tydstip die meeste te doene sou kry… of nie? Die Suid-Sotho woordeboek (Suid-Sotho: Afrikaans Skoolwoordeboek – C.R.Kok & L.C.Botha) het ook baie ver gevorder.

Maar herdrukke het ek tot dusver nie weer gesien nie.

Ek het Pukuntšu ook in my trommel: dit is ‘n groen boek met geel letters op die buiteblad. Die Afrikaans-Zoeloe woordeboek was nog altyd maar klein, en so ook Afrikaans-Xhosa.

My eie ervaring op die platteland *…+ is: die deursnit Xhosasprekers praat net Engels met jou. Maar daar sal onder hulle wees wat ook Afrikaans sonder aksent leer praat en daarom vinniger bevorder word, omdat hulle drietalig is. Want dit is immers ‘n drietalige plek hierso, met Afrikaans in die volstrekte meerderheid.

Miskien moet ek ook dit byvoeg: ons het twee hoërskole [hier]. [Een] wat klasgee in vernaamlik Afrikaans, maar ook Engels (parallelmedium) en [een] wat soos een blok so te sê homogeen bruin en homogeen Afrikaanssprekend is. Ek hoef nie vir jou te sê hoekom nie, maar jy kan klaar aflei in die volgende paragraaf.

Ons het twee Xhosas gehad op [skool], hulle het in Engels skoolgegaan, maar hulle het met verloop van tyd Afrikaans geleer en ook in Afrikaans leer bid. Waarheen die ander Xhosakinders gestuur is van ons dorp, weet ek werklik nie. Ek praat nou uit my ervaring 2004-2008.

Dit het my dus nou laat wonder rondom die “Burenstadt”, soos Pretoria onder die Duitsers bekend is. Is die Sothosprekers meer geneig om Afrikaans te wil praat, of is die stadsklimaat baie anders? Ziervogel het immers geskryf in die jare voor (satelliet)televisie, voor die internet, voor die 1976- debakel (wie die meerderheid van Soweto toentertyd uitmaak, weet ek nie, maar tans is die sprekers Zoeloe (37%), gevolg deur Suid-Sotho (16%), gevolg deur Tswana (13%)) en in die jare toe verstedeliking nog in sy kinderskoene was.

Ek hoor graag van jou.

Die antwoord wat ek daarop gekry het was heel aangenaam. En alles het heel goed gegaan, tot en met hierdie twee paragrawe:

“Die ouer swart garde praat baie Afrikaans (maar seker Bantoe-onderrig & werksoek se skuld), waar die meeste swart kinders deesdae in Engels skoolgaan en groot word. Dit is nie net om die “global village” te bevorder en hul kinders die beste kans moontlik te gee nie, maar ook omdat baie paartjies van verskillende stamme aftak. In plaas daarvan om hulle kinders deurmekaar te maak met Tswana & Zulu, word hulle van kleins af in Engels gedompel (weereens, dat hulle dit as eerste taal bemagtig).”

“Wit kinders gaan nog na sterk Afrikaans-gesetelde skole. My persoonlike opinie is dat moedertaal onderrig nie ons kinders bemagtig vir die wêreld nie, en ek sou eerder wil hê dat alle onderrig na pre-primêre vlak in Engels geskied, dat ons kinders kan kompeteer met internasionale standaarde. Mense wat saam by TUKS was het DIK stukke gesuffer met die Engelse leerplan (onafwendbaar as jou leermateriaal van Amerika ens af kom en jy eendag in Nature wil publiseer!).”

Ek was aanvanklik DIK die bliksem in, maar dit bewys vier dinge:

  • Hoe kinderagtig ek nog is. Nie almal weet wat ek reeds weet nie, en dit sou onbillik wees om vir die persone suur te bly. En die korrespondent is seker geregtig op haar beskeie opinie.
  • Al het ons begrip daarvoor dat elkeen ‘n dryfkrag het om iets te laat herleef of uit te bou, verstaan ons nie noodwendig mekaar se passie nie. En dit lei tot ongelukkigheid.
  • Sy het my ‘n reuseguns bewys, want nou kan ek hierdie artikel nog langer maak.
  • Die sosio-politieke omgewing van die woonplek speel klaarblyklik steeds ‘n enorme rol wat die lewensuitkyk aanbetref.

Gelukkig is die geskrewe woord daar wat die probleem uit die weg sal ruim. Nadat ek die rofwerk (6 Augustus) aan haar gestuur het, plaas ek nou die bygewerkte weergawe (7 Augustus) hieronder.

My brief

Dankie vir jou brief. Jy weet natuurlik ek gee klas in Afrikaans, nè? En ‘n honneursgraad in Afrikaans cum laude (deur met fotostate deur die pos te sukkel, let wel) het ook nie juis in my skoot geval nie. Hopelik nie verniet nie. En jy wéét goed dat ek ‘n administrateur by die Afrikaanse Wikipedia is. En ‘n gereelde bydraer by die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG).

Broodnyd

Hoëfunksietaalverlies gee aanleiding tot die stagnering, agteruitgang en verloedering van ‘n taal. Dit wys feitlik al die inheemse tale in Frankryk, buiten Frans.

Dit sou nogal kortsigtig wees om Afrikaans op skoolvlak as voertaal uit te faseer, deur byna 100 jaar ongedaan te maak. Want daardeur sny ek my eie keel af.

Want dit sou beteken ek sit sonder werk; as daar nie ‘n vraag is nie, is daar nie ‘n aanbod nie. Dit raak egter nie alleen die onderwys nie. As die mense eenmaal, soos die Iere, besluit hul taal is nie meer goed genoeg nie, stort die hele mark gebou rondom hierdie kultuur in duie.

Nie alleen sit ék sonder werk nie, maar ook ander akademici, asook die hele Afrikaanse uitgewersbedryf, filmwese, ook die bankwese, die versekeringsbedryf, feitlik ‘n groot deel van die privaatsektor, die hele oppervlakte van die helfte van Suid-Afrika, die televisie, koerantwese, naverkopediens, vertalers, onderwysers, en menige ander eerlike belastingbetalers se toekoms wat daardeur opgedonder sou word.

Meer werkloosheid lei gewoon tot meer misdaad. Wat jou dus direk sal raak.

Taal en kultuur bring gesonde mededinging in die ekonomie

En sonder gesonde kompetisie, sal ook net die verbruiker geweldige skade ly; uit ‘n ekonomiese sin klop dit ook nie.

Daar is ‘n rede hoekom Volkskas (gestig 1940) die grootste konkurrent van Standard Bank was, en vandag Absa is soos hy ander banke amalgameer het (maar dit het jy lankal geweet). In 1926 was 95% van alle Suid-Afrikaanse banke vernaamlik die trotse eiendom van Standard Bank en Barclays. Dit wil egter lyk of Nedbank maar êrens op die agtergrond was. Kan jy jou ‘n valer samelewing voorstel met sulke alleenhandel?

Die een konkurrent gee aanleiding tot die vorming van nuwes. Ag weet jy, daar het ondertussen so baie banke gekom en gegaan: Saambou Bank, Rondalia Bank, Bank of South West, Alpha Bank, Cape Investment Bank, Business Bank, RAD. … en ander wat nog met ons is: African Bank (danksy sakeredding), Capitec, First National Bank, Discovery Bank, ens.

Daar is ‘n rede hoekom Sanlam die teenpool van Old Mutual was. En so kan ek aanhou om die verdeling van en mededinging met besighede en instansies op te noem. Hierdie versuiling is niks nuuts nie – Holland ken dit ook. En dit hou almal op hul tone en dit skep meer werk.

Geen eer sonder handeklap

Skrywers soos Deon Meyer (tot ridder geslaan in Frankryk) se brood en botter sal hom ook ontneem word. Want hy skryf in Afrikaans. Die wêreld word van sy literatuur beroof, asook die 29 vertalers oorsee van hul werk (en die verkopers van ‘n deeglike salaris).

Prof. dr. Naomi Morgan sal ook van haar ridderskap beroof wees, want sy het Franse werke uit Frans in Afrikaans vertaal. En vica versa. Sonder die getroue Afrikaanse leserskring, sou hul titel van nul en gener waarde gewees het nie.

‘n Taal kan verleer word

“Nee, nee, nee – Afrikaans sal altyd gelees en geskryf word”, dink jy seker.

Die geskiedenis bewys anders.

Hoeveel werke ken jy wat oorspronklik in Bretons en Fries geskryf is? Of feitlik in enige ander Afrikataal? Ons praat nou van oor die 2 000 tale. Of dink aan daardie meer as 800 tale in Papoea-Nieu-Guinee.

Omrede staatslui van die Vrijstaat in die verlede hul nie in Nederlands na behore kon uitdruk nie, moes hulle maar hul minnebriewe in Engels geskryf het. Wat maar lomp was. Dit was feitlik die enigste taal wat hulle op skool geken het, want Hollands is as ‘n vreemde taal beskou, net soos Frans en Duits. Maar verbasend genoeg nié Engels nie. Dit is dan tog ook ‘n uitheemse taal?

Hoeveel mense uit eksklusief-Engelse skole ken jy wat hul mond in Afrikaans kan oopmaak sonder om nie deur Afrikaners uitgelag te word oor hul koddige aksent nie? Kom ek wees genadeloos eerlik daaroor. En hoeveel van hulle het ‘n Afrikaanse boek op hul rakke? Want dit sal die gevolge wees as alle Afrikaanse skole met ‘n enkele wetgewing verengels.

Dit is ook ‘n bitter bysmaak dat my oupa, van moederskant, gebore 1904 en gestorwe 1981, wat slegs Standerd 3 voltooi het omdat hy skape moes gaan oppas, donkie-ore moes gedra het, bloot omdat dit nie mode was om Hollands op skool te praat nie. Wil ons dit werklik weer terughê? Dieselfde stigmatisering? Dieselfde voorskriftelike vingertik omdat jy ander kinders se keurige taalgebruik op die skoolterrein wil ondermyn?

‘n Mens wonder ook waarom die Boesmantale verdwyn het. Waarom sou hulle ophou bestaan het, dink jy? Hoeveel uit die oorspronklike 26 streekstale bly nog oor? Hoeveel wou nog Korana gepraat het? Dit was sendelinge en ‘n paar taalkundiges wat hul tyd afgestaan het om die taal op te teken vir die nageslag, anders het die Universiteit van Kaapstad vandag niks gehad om mee te werk nie. Dan was daar geen lesplan nie.

Of wat van die Indiërs in Suid-Afrika wat hul doodtreur oor Ouma en Oupa se taal wat uitgesterf het? Die afsterwe van Teloegoe en taalverskuiwing na Engels in Suid-Afrika, het Varijakshi Prabhakaran woord vir woord verwoord in A Language Challenged: The Struggle of a Minority Language in South Africa (1992). Kortom: hierdie mense kan hul hare uit hul kop trek omdat hulle hul taal en kultuur so verwaarloos het. Maar spyt kom altyd te laat.

Taal het inherente waarde wat benut moet word

Die nut van hierdie tale is nooit uitgedien nie. Mense soos ek, wat Hottentots (G.S. Nienaber) koop en die Elobmîs (die Bybel in Nama), gebruik dit nie alleen om die kultuur en die plekname te verstaan nie, maar ook hoe die Afrikaanse pleknaamvertaling (veral die plaasname voordat die dorpsname hulle vervang het) gehelp het om die oorspronklike pleknaam te bewaar. Anders as die oername wat bloot deur Engelse lords vervang is. Ek sou nie dit tribalisties noem nie. Die meeste name ken ‘n bepaalde karaktereienskap aan die plek toe, wat ‘n pleknaam vernoem na ‘n Ingelse lord of ‘n predikant of leier of eienaar eenvoudig nie kan weergee nie.

Die Iere, ‘n Europese volk, se lus is so geblus om Iers te leer, dat niemand dit meer wil leer nie. Daar is meer nageslagte in Amerika wat uit pure tydverdryf Iers wil leer as onder die Iere self. “More Irish than the Irish themselves”.

Al die Amerikaners se fanatieke bewaringspogings om die taal en kultuur van hul voorvaders te red het op niks uitgedraai – buiten vir ‘n beker groenbier op “Sint Pêtties”. En, ‘n bygelowige vierklawerblaar. Hul Wikipedia is morsdood.

Enya is al blink ster op die horison, wat egter meer bekend is vir haar Engelse liedjies as haar refrein “Ó lá go lá, mo thuras / An bealach fada romham. / Ó oíche go hoíche, mo thuras, / Na scéalta nach mbeidh a choích” in “Book of Days”.

Taal is identiteit, wat uitgebou moet word

Die Iere se mantra is: “Jy hoef nie Iers te praat om Iers te wees nie.” Ek praat toe met ‘n Ierse vrou wat bietjie aan taaldéfaitisme ly hieroor. Ek noem eers die roemryke seges (teenoor die Iere se laksheid), maar dit oortuig haar nie, al was albei se lot uitgemeet deur dieselfde Britse owerheid. Maar toe speel ek my troefkaart: moes die Yslanders, al 300 000+ van hulle, nou ook voor die hele wêreld kom staan en verengels? Nadat hulle éérs verdeens sou word? Dis belaglik.

Dan sal al daardie Yslandse werke wat vertaal word en in ons boekwinkels verkoop word, nie daar gewees het nie. Die feit dat jou boek in ‘n ander taal is, plaas dit klaar op die unieke lys “wêreldletterkunde” of “boeke in vreemde tale ter oorweging vir vertaling” [wat dit outomaties ook in ‘n hoër kategorie plaas, aangesien daar aangeneem word hierdie boek het homself reeds in ‘n ander taal bewys], terwyl ander boeke in Engels moet spook om verkoop te word, want daar is derduisende titels wat elke jaar gepubliseer word, as ek na Worldcat kyk.

Ek kon seker Hebreeus ook genoem het, maar dit was nie eers nodig nie, sy’t vinnig genoeg gesnap.

Een taal self verseker nie vooruitgang nie

As jy na Suid-Korea in die 1950’s gekyk het, sou jy nie daar wou bly nie.

As jy Holland in die Romeinse tydperk gesien het waar die inwoners tussen die riete deurloer, sou jy geen toekoms vir die land ingesien het nie.

Die elfde-eeuse Rotterdam lyk nie veel beter nie. Hierdie video bly vir my kostelik, wat die rekonstrueerde Rotterdamse taal (en die plattelandse bestaan) en dorpie uitbeeld. Nooit gedink dit sou die grootste hawestad van Europa word nie, nè?

Die Hollanders het dieselfde fout met Mauritius, Madagaskar en Mosambiek gemaak (M vir moeilikheid?) en is vandag vreeslik jammer dat hul die geleenthede so laat verbygaan het.

Om egter vir my, of die onderwysers wat in Afrikaans klasgee indirek te beskuldig dat ons mense van sukses weerhou, laat my wonder wie die ses atoombomme in Suid-Afrika ontwikkel het. Of wie almal werksaam was by die ontwikkeling van gas en petroleum uit steenkool – dis nou bloed uit ‘n klip tap, sou ek dink.

Gepraat van klip, uraan. Hierdie kry ek uit Chain Reaction (Newby-Fraser, 1979:132-133), in die jare toe Koeberg Kragsentrale hier aan die Kaap gebou is:

Concurrent with construction activities has been the specialised training of the staff who, in a few years time, will operate the completed station, and here the major obstacle of communication has had to be overcome. Crash courses in French and a long training period during which the students can become totally at home in their new responsibilities, are proving effective and satisfactory, and no one is more aware of the need to guarantee peak efficiency of operation than ESCOM.

Merde, die ding loop! Nou nog. Ek dink nie die mense was te dom nie.

Waarom dus die doodgebore kolonialistiese model van Lord Milner en Lord Somerset wil herhaal wat buitendien keer op keer voorheen klaaglik misluk het? As ‘n patroon hom begin herhaal, al is dit ook minder as ‘n honderd jaar uit mekaar, en dit werk nie, dan is die logiese afleiding dat die vasklou daaraan eerder op blinde geloof as op ervaring dui.

“Maar dit moet werk!”

Is dit Arabies wat daardie wonings met goue toilette laat opspring het, of was dit die aanvraag na olie? Met een ou wat op die kraan sit? Kan ons dit wérklik vooruitgang noem?

Taal is gee en neem

Maar dis nie net die hardnekkige Afrikaanssprekendes nie, ook die rabbi’s in Israel, die tolke by die Verenigde Nasies, die ouens van National Geographic wat sterwende tale opteken… is dit nou ‘n vermorsing van energie en hulpbronne?

Nee.

Daar is sekere begrippe wat net in ‘n sekere taal verwoord kan word. Engels moet dus noodgedwonge hierdie woorde gaan leen. Om dus hierdie tale te verarm, deur nie aandag aan hulle te gee nie, is jy besig om Engels se suurstofkraantjie toe te draai. Daaroor het Hamel reeds geskryf in 2013, in Frans. Dit werk op dieselfde beginsel as ‘n bloekomboom wat water uit die grond suig en die plante rondom hom laat vrek met kleiner wortelstelsels. Op die ou end bly daar nie veel van die biodiversiteit oor nie, en die dierelewe sterf uit, of moet ander heenkome gaan soek. En verspoeling van die grond lei tot verdere erosie.

Een taal beteken nie ‘n utopie nie

Die wêreld bestaan ook nie net uit Amerika nie. Bloot omdat mens nie noodwendig al die ander lande se tale verstaan of kan lees nie, beteken dit nie hierdie lande het ophou bestaan nie.

Want jy sou immers geweet het wat daardie lot van die Franssprekende Wes- en Sentraal-Afrikane (die évoluées) en Engelssprekende Keniane of Portugese Angolese is, wat geen ander uitkoms bied as om slegs in Engels of Frans of Portugees of Arabies te leer nie.

Magtig, dat daar nog nie ‘n toeloop na hierdie lande was om uit die kloue van Afrikaans te ontsnap nie, is ‘n raaisel!

Suid-Afrika is hier die uitsondering, omrede die Afrikaanssprekende bevolking oor die algemeen ‘n meer Eurosentriese benadering het. Vergelyk Suid-Afrika se Bruto Binnelandse Produk, vergelyk hul algehele lewensstandaard, vergelyk watter verskeidenheid ware daardie ander lande te bied het, en dan gesels ons weer.

Een taal is sukses vir een mens – uit ‘n miljoen

As almal dan nou in die tou moet loop staan vir die Sorbonne en Harvard, en nie plek kry nie, omdat ander Franssprekendes en ander Engelstaliges uit ander wêrelddele hulle voorgespring het, wat staan ons te doen?

Jy sien, die hele sous herinner my aan die één spermselletjie wat die één eierselletjie bevrug. En die ander miljoen spermselle wat nou maar moet vrek, ter wille van daardie één parmantige, uitgelese, slinkse, sterk, manlike, viriele, sappige jong gameet. Nie dat dit weerhou dat daardie einste astrante gameet allerhande oorerflike siektes in daardie stuk gewrog in die baarmoeder sal vorm nie, maar hy was net die vinnigste. Sy geluk.

O, eintlik is my vergelyking verkeerd. Heelwat keer nie weer terug na hul geboorteland nie. En waarom sou hulle?

As taal die groot struikelblok is, waarom het ons ooit nog universiteite?

So nou, ter wille van die arme ander taai handjievol saad (ek bedoel, studente), word die lesmateriaal uitgevoer, sonder dat die skrywer daarvan voor die bord staan. Moet mens dieselfde gehalte verwag? Want, as ons lesmateriaal dieselfde is, waarom kry ons nie sommer dadelik toegang tot hierdie Franse en Amerikaanse universiteite nie? Om die werk self uit die perd se bek te hoor?

Hoekom nog enigsins ‘n universiteit hê, waarom nie sommer direk aanlyn by ‘n Amerikaanse universiteit inskakel nie? Dink net hoeveel geld gaan die staat spaar, sonder gebou-onkostes, salarisse, studente wat betoog… Dit beteken seker minder werk vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens ook. Totdat daar weer oproer is oor data wat nie gratis is nie, of die leerplanne wat nie Afrikagesentreerd genoeg is nie. Jy weet, dekolonialisme en so. Dalk sal daar later klagtes wees omrede die werk nie in Zoeloe aangebied word nie? Maar daar sal ‘n rede gevind word.

Hoekom het ons nog Suid-Afrikaanse universiteite ooit nodig? Tog seker nie om net alumni-geld te betaal nie? Hoekom het ons nog skole en onderwysers nodig as ‘n Indiër in Bangalore ‘n kind kan klasgee via tablet? Die aksent sal bietjie neuk, maar dit vorder darem. Dit skep werk… in ander dele van die wêreld wat dit baie nodiger het as ons. En omdat ‘n bakkie rys as loon goedkoper is. Hoekom het ons nog kampuskulture nodig? Waarom het ons selfs ‘n sogenaamde Suid-Afrikaanse kultuur nodig? Van veldskoene en sebrastrepieshemde. Waarom het ons Erfenisdag nodig?

Landsgrense is ‘n konstruk van koloniale magte, ons is een wêreld, daar mag nie grense wees nie. Ek is seker nou weer te globalisties na baie mense se smaak, maar dit is tog waarop die Engelse taal neerkom, is dit nie?

Ons is tog nie uniek nie, soos Europa het ons geen akademiese geskiedenis of prestige nie… maar Amerika het. Net Amerika het. Of Amerika of niks. Nie Leuven nie, nie Leiden nie, nie Münster nie, nie Berlyn nie, nie Oxford nie, nie Basel nie, nie Moskou nie, nie Genua nie, nie Padua nie, nie Bologna nie, nie een van die 2 725 universiteite in Europa nie. Dis net… Amerika. Soos in die movies.

‘n Taal is geen eiland, elke taal is ‘n legkaartstukkie

Maar ek neem graag aan die debat deel. Ek kan dus hoegenaamd nie oor moedertaalonderrig met jou saamstem nie, om een enkele rede wat absoluut niks met volk of vaderland te doen het nie: naamlik die waarheid.

As jy wil navorsing doen oor ‘n sekere vakgebied, hetsy die politiek, hetsy die godsdiens, hetsy die antropologie, hetsy die sielkunde, hetsy die regswese, hetsy sakestudie, hetsy aardrykskunde, hetsy filosofie, hetsy antieke tale, hetsy argeologie… dan gaan jy beslis nie alleen Engels nodig hê op tersiêre vlak nie, maar ook Frans, Duits, Italiaans, Latyn, Kopties, Amharies, Spaans, Portugees, Nederlands, Pools, Russies, Sweeds, Noors, Deens, Malgassies, Chinees (met al sy variante), Japannees…. en bowenal Afrikaans.

Ook in die dierekunde sal jy beslis ‘n vreemde taal moet ken, want van die gewoontes sal jy in oertekste van die mense moet gaan soek. Van Riebeeck skryf reeds in sy Daghregister oor die luiperd se gewoonte om die eerste skaap dood te maak, in ‘n hoek gedryf te voel deur die ander skape wat hom aanstaar, en dan sy groot bloedoffer te pleeg: nog ‘n skaap, nog ‘n skaap, nog ‘n skaap. Hy sal nooit hulle almal kan opvreet nie. ‘n Soortgelyke berig het weer in Die Burger verskyn in die 1980’s. Wat moet ons aflei? Kat se kind se gewoontes het nie verander nie.

Of dink ook aan die werk van Pietie Beukes. Ook dit is net nog ‘n legkaartstukkie in die groot geheel van die bewaring van die Kaapse luiperd.

Geeneen van hierdie bronne is almal in Engels vertaal nie.

En al was dit ook, weet enige kritiese vertaler die driedubbele nuanses in ‘n sekere taal (met kulturele agtergrond) is onvertaalbaar. Veral in tale soos Noord-Sotho.

Daar is gesê daar is so baie onvertaalde Latynse boeke daarbuite dat een mens nie alles in sy 70- jarige lewetjie sal kan deurlees nie. Maar ja, daar is so baie Afrikaanse boeke in ons dorpsbiblioteek, as ek net probeer om by die Brocade-stelsel lg:afr in te tik, en dan Enter, val die hele stelsel om. In één openbare biblioteek in my dorp alleen. Jy kan hulle ignoreer, jy kan hulle wegwens, maar hulle bevat inligting waarvan jy nie weet nie.

Elke taal is ‘hic sunt dracones’ en ‘terra incognita’

Afrikaans is vir my die grootste wonder. Jy sien, ek was 4 deser op Swellendam. Ek was by die tweedehandse boekwinkel in. Daar het boeke op die rakke gepryk wat ek nie eens geweet het in Afrikaans bestaan nie. En ek is juis iemand wat hard probeer om indekse te skep. ’n Boek soos Praktiese Portugees deur J.C.B. Sabino en Peter Haffter was vir my totaal nuut. Die boeke vol opstelle in Afrikaans oor allerlei onderwerpe ook. Ek het byna my rug gebreek toe ek 8 minute ver met die baie swaar houer vol boeke terugstap motor toe.  Maar dit was elke sent werd.

Dit is tot jou eie nadeel as jy nie die inligting wat daarin vervat is benut nie. By Wikipedia wéét ons die waarheid is nooit voltooi nie. Daarom moet jy elke bron, in welke taal ook, wat jy in die hande kan kry oor ‘n onderwerp, deurkyk.

En dit is waar. Die boek wat die uitvoerigste oor Joachim von Dessin berig, die grondlegger van die Suid-Afrikaanse biblioteekwese, is in Afrikaans. Daar is ‘n Engelse artikel in die Lantern wat nie hierdie bron noem nie. Maar toe ek op Swellendam aankom, is daar ‘n boek getiteld: Deutsche unter anderen Völkern: Pioniere und Aussenseiter. Dalk was dit die groen rugkant, of die buitenissige naam, of dalk albei. Wat soek so ‘n boek in die Wes-Kaap, as dit nie oor die Kaap handel nie? Ek slaan die boek oop en daar staan hy: “Vater der kapländischen Büchereien – Joachim Nikolaus von Dessin”. Elf bladsye.

Het ek my slegs op die Engels verlaat, dan het ek nie eens ‘n agtste van die geskiedenis geken nie.

Navorsing is nie watter taal jy benut nie, maar watter tale (meervoud, véélvoud)

Die doodgewone navorser in die geesteswetenskappe wat maar effentjies is, vat wat hy maar in Engels op die rak kan kry (dus, wat reeds bekend is). Hy blaai bietjie deur die internet rond, en is eintlik verlig as google niks opgelewer nie. Hy sal byvoorbeeld nie ander soekenjins probeer nie, nie sy websnuffelaar se taal verander nie, nie delpher.nl gebruik nie, vir hom is die waarheid wat hy in die hoofstroom kan kry.

Die buitengewone en éérliker navorser gaan soek na inligting wat vir die ganse wêreld onbekend, versteek en verborge is. Al is dit ook in Roemeens, of op kleipotte onder berge grond begrawe, of êrens in ‘n kommune op die steppe van Siberië. Om dus ‘n vreemde taal te leer, moes jy aan die begin dus ‘n ander een baasgeraak het. En, jammer hoor, maar die Amerikaners was nog nooit goed met ander tale nie – daardie lof kom die Russe, die Duitsers en die Hollanders toe. En die Franse, wat betref die tale van die oudheid. Die Italianers, vir hul boeke oor Latyn. Ek dink jy kyk na die verkeerde kant van die aardbol.

Dit is ook waarom die Christelike Europeërs op ‘n stadium in die geskiedenis nie ‘n oomblik gehuiwer het om Arabies (die taal van die heiden, bid jou aan!) te leer toe hulle sien van hul eie oudheid en geskiedenis is in krullettertjies op papier verewig nie. Ja, dit was in die Middeleeue, en dit het gehandel oor die Grieke. Daaroor is redelik uitvoerig geskryf in ‘n Blik op die Middeleeue (1989). Die artikel is: “Die rol van die Middeleeuse biblioteekwese in die bestendiging van die Westerse kultuur”, deur mnr. W.M. Botha (183):

In 953 is Jan van Gorze, (van die klooster Gorze in Lotharinge) deur die Duitse keiser Otto die Grote op ‘n diplomatieke sending na kalief Abd-er-Rahman III in Cordoba gestuur. Hy was drie jaar lank daar. In dié tyd het hy Arabies volkome bemeester. Met sy terugkeer na Duitsland het hy ‘n perdevrag manuskripte met hom saamgeneem. Betroubare getuienis dui daarop dat sommige daarvan vertalings van Aristoteles se werke en verskeie Arabiese wetenskaplike tekste was.

Sedert die elfde eeu het die belangstelling in die wetenskap, veral die wiskunde, merkwaardig opgebloei. Dié belangstelling het van die skole in Lotharinge langs die Ryn en tot diep in Vlaandere uitgebrei. In 1070 het Daniel van Morley, ‘n Engelse geleerde, Toledo besoek en ook met talle Arabiese tekste, waaronder vertalings van die Griekse meesters, teruggekeer. Niemand minder nie as Roger Bacon, die Engelse wetenskaplike en filosoof van die dertiende eeu, was vir ‘n groot deel van sy vorming van Arabiese bronne afhanklik. Gerard van Cremona het die grootste deel van sy lewe in Toledo geslyt en meer as sewentig groot werke uit Arabies in Latyn vertaal.

Sou die Arabiere so gaaf gewees het om dit alles in Latyn vir ons te vertaal? ‘n Absolute néé. Hulle doen dit nou nog nie. Jy sal moet Arabies leer.

As die berg nie na Mohammed wil kom nie, moet Mohammed na die berg gaan.

Kennis is mag; méér tale is méér mag

Verder is dit tog eenvoudig: as jy inligting uit bronne bekom wat jou ander konkurrente nie het nie, of nie kan verstaan nie, of nie van weet nie, is jy almal een voor. Dit is waarom Duitsland vooruit boer en die fatalistiese Frankryk stagneer. Frankryk verwag steeds, soos in die 1800’s, nes die Engelse en Amerikaners, dat almal in hulle taal sal bydra en na hul pype sal dans.

Dat die inligting na hulle aangedraf sal kom. Wel, verrassing! Holland en Duitsland skryf nou woordeboeke dat hulle skeefhang, want albei wil eerste wees om inligting uit alle uithoeke van Europa en die wêreld te bekom: eerstehands. Eerste.

Tale leer jy klein-klein

Waarom dus 12 jaar lank slégs in Engels skoolgaan, net om halfgebakte Afrikaans te leer (én boonop géén ander taal nie, kan ek nou al vir jou sê) wat jy nie na behore kan praat of skryf nie, wat jou so minderwaardig sal laat voel dat jy vir geen ander taal kans sien nie, want haai foeitog, hy kan nie eens Afrikaans, die maklikste Germaanse taal, baasraak nie? Hoekom nie twee tale of meer gelyktydig onder die knie kry terwyl jy nog kan nie?

Waarom nog wag tot ná matriek voor jy uiteindelik wakkerskrik en besef: “Shit, I have to learn Afrikaans, Dutch, German, French… like overnight #OMG!” ?

Sien die verwantskap tussen tale raak en gebruik dit tot jou voordeel

Afrikaans is net ‘n hanetreetjie ver van Hollands en Duits af, passiewe kennis daarvan is goed genoeg om mee te begin.

Die meeste waterstoftegnologie word buitendien in die Duitse taal ontwikkel – daar is tans 92 waterstofvulstasies in Duitsland, 14 in wording; Brittanje het maar 11, géén in die vooruitsig. Die hele Europa word tans bedraad vir elektriese voertuie wat vanaf 2025 infaseer moet word; die dae van die binnebrandenjin is verby. Alle nuwe motormodelle moet teen 2030 petrolvry wees. Dan word nog meer geld gespaar, want geen geld gaan meer na die olielande toe nie. Alles word plaaslik opgewek. Daardie geld wat vir die buiteland bestem was (en vir opruimwerk van oliestortings, ens., en al daardie duisende onnodige motoronderdele ) kan verder in kultuursake of navorsing en ontwikkeling teruggeploeg word, wie weet? Om nog méér inligting te bekom?

Ek het juis die 3de Augustus nog ‘n e-pos van my Belgiese Wikipedia-vriend ontvang wat dit bevestig. Orals word laaipale opgerig, met Holland voor in die koor: daardie deel van die projek beslaan tans 30% van die hele Europa.

Ja, die motorhandleiding sal ook in Iers, Kroaties, Slowaaks, Sloweens, Hongaars, Litous, Esties en ander soortgelyke minderwaardige en seker “nuttelose” tale beskikbaar wees, soos die EU dit vereis.

Dis darem ‘n verskriklike gesig vir Suid-Afrikaners wat absoluut niks beters gewoond is nie, is dit nie? Maar laat ons nou nie in die pad van vooruitgang staan nie.

Brexit gaan nou sy tol begin eis, hoor. So ek sou my nie te veel net op Engels verlaat nie. Ek stel voor jy haal daardie Duitse handboeke maar weer uit wat ondertussen stof vergader het.

Daar is ‘n kentering wat betref die voertaal by die Europese universiteite

Aanvanklik het universiteite dwarsoor Holland en Noord-Europa verengels om soveel studente moontlik te lok. Totdat die professore al hoe meer begin agterkom het:

“Wag ‘n bietjie! Ons voorsate het Latyn as universele taal met rede weggewerk! Die doel van die universiteit is om ‘n gemeenskapsdiens te lewer. Om die doodgewone outjie op straat ‘n volleerde persoon te maak. In sy eie taal! Nie om popsterre te werf nie!”

Ag, waarom verduidelik ek dit nog, ek het dit reeds gedoen:

Verder is die wetenskapstaal alleen daar as hulpmiddel om die publiek in die onmiddellike omgewing tot die beste van jou vermoë te bedien. Die wetenskapstaal is nie verhewe bo die mens nie. Dit help byvoorbeeld nie die dokter ken slegs die Engelse terminologie uit ‘n vaktydskrif, terwyl sy pasiënte Afrikaans is (van kinders tot bejaardes), wat baie swak Engels magtig is, en die volste reg het om helder en duidelik ingelig te word oor watter risiko’s ‘n sekere operasie inhou nie. So nie, verkeer die samelewing in geen beter toestand as toe Latyn in die Middeleeue die gewone Jan Alleman uitgesluit het nie.

Radboud Universiteit Nijmegen is die eerste universiteit, onder aanvoering van ‘n Deensgebore prof. dr. Lotte Jensen en haar geesgenote, wat die universiteit geleidelik weer verhollands. Dus, wat SuidAfrikaanse universiteite nou wil doen, het Europa al gedoen. Dieselfde met Denemarke, dieselfde met die Nore, dieselfde met die Swede. Die Duitsers, Franse, Italianers, Spanjaarde, Portugese en Russe verwag geleidelik meer dat jy in hulle taal moet klasloop, met meestersgraad en al.

Ek hoor juis by dr. Dan Roodt die Japannese sal jou ruim beurse toeken om aan hul universiteite te kom studeer, maar op een voorwaarde: jy moet Japannees ken.

Taal is tegnologie: jy gebruik nie ‘n boor om jou tande te borsel nie

Jy sal seker ook dus kan begryp waarom ek ‘n onlangse verhandeling by Potch (2018), wat ‘n pleidooi lewer dat elke blanke ‘n Afrikataal moet aanleer naas Engels en Afrikaans slegs ter wille van “integrasie” alleen (om welke doel?) heeltemal as stapelgek beskou.

Taal is ‘n stuk tegnologie.

Jy gebruik die regte taal vir die regte geleentheid.

Ek wil inligting juis van buite die laer, buite die landsgrense, buitekant Afrika inwin. Want waarom wil ons dieselfde foute op eie bodem herhaal wat ander lande reeds gemaak het? Of waarom wil jy geleenthede miskyk wat ander lande vir hul eie mense bied?

Maar ‘n polisiebeampte kan ‘n Afrikataal veel beter benut as Portugees of Duits wanneer ‘n vrou in ‘n kattebak gevind word wat in barensnood verkeer en glad nie Engels en Afrikaans kan praat nie. Dan moet die rubberhandskoene aan.

O, maar waarom sou sy nié Afrikaans en dan nou veral Engels ken nie? ‘n Paar moontlikhede:

1. Sy kon ‘n immigrant of verstekeling wees, wettig of onwettig.

2. Elke jaar met die bekendmaak van die matriekslaagsyfers bulk die Demokratiese Alliansie oor die werklike druipeling-, uitsak-, opskop- of dan “uitval”-syfer wat die ministerie van onderwys eenvoudig versuim om te noem.

3. Ten spyte van die skoolplig, is daar steeds kinders wat nie skoolgaan nie.

4. Hoeveel mense besit ‘n radio? Gestel 100%. Goed en wel, maar dit kos ‘n hele rak vol woordeboeke om die werklike begrip te verstaan. Daar is ook nie altyd sein vir selfone om gou-gou te google nie.

5. Die skoolbywoning is eenvoudig onmoontlik – vandat plaasskole toegemaak is deur die provinsiale owerhede (in hul alwysheid om nie ‘n paar bande van die staatsmotor op ‘n plaaspad af te skryf nie), is die ouers en kinders hand en mond belowe daar sal vervoer gereël word. Dadels van gekom. Die kinders moet 5 kilometer of verder loop, krokodilwaters oorsteek, meegesleur word deur vloedwaters wat afkom – alles, vir ‘n beter toekoms. Dit breek ‘n moederhart.

6. Of, die persoon is deur die skool, verleer alles en bevind hom of haar in ‘n plek waar jy nie Engels hoef te praat nie. Soos in ‘n kraal in die hartjie van Zoeloeland of iets. Hoe anders verklaar jy dat daar steeds nie mense is wat iets van Covid af weet nie? Jy gaan net eendag dorp toe en sien net skielik mense met maskers rondloop. Vir ons wat internet, televisie, radio, lastige SMS’e, koerantkoppe, plakkate sien, klink so iets byna onmoontlik. Maar dit is die werklikheid. Ons idee van die werklikheid strek net sover waar daar selfoonseine en internet en rondgaande kliniek op wiele loop. Ons neem aan almal weet wat Covid is. Ons neem aan almal is geletterd. Ons neem aan almal lees hul SMS’e. Ons neem aan almal kyk televisie. Ons neem aan…

Kom ons vat ‘n voorbeeld. Die vlagkwessie – van die Oranje Blanje Blou in 2019. Vir die hoofstroomkoerante verafsku alle swartes, bruines en Indiërs hierdie vlag. Die simbool van die gehate Apartheid, sonder twyfel. Niemand durf dit te betwis nie. Dit is ‘n rotsvaste feit soos die Swart Klip in Mekka, jy kan dit nie betwyfel nie. Die howe het ‘n probleem met die vlag. Dit moet soos die wolfsangel en ander runetekens van die Nazi’s summier verban word. Ag weet jy, hier gaan dr. Dan Roodt straat toe en hy gaan vra vir ‘n paar swart stedelinge of hulle weet watter vlag dit is en of hulle iets daaroor voel. Baie het nie geweet nie, en daarom kon hulle nie vlag haat nie. Die mite is daar en dan nekom gedraai. Dít, in die hartjie van Centurion. Dit is maar iets kleins. Die mense kon almal in Engels antwoord, maar die vraag is – weet ons wie almal nié Engels ken nie? Net die feit dat daar die moontlikheid is, moet vir jou sê ons word orals aan die neus rondgelei deur aannames.

‘n Sakeman gebruik taal tot sy voordeel. Die pastoor bearbei sy kudde in húlle taal waarin húlle gemaklik voel.

En Vodacom sal vir my ‘n Afrikaanse konsultant gee as ek die knoppie op my foon druk. Ons noem dit goeie kliëntediens. Hulle kry meer as genoeg geld om kantoorblokke van miljoene Rand te koop, so waarom nie nog méér konsultante aanstel en werk te skep vir die uitbreidende mark nie? Dit lyk ook goed op die diversiteitskaart.

Taal is familiegeskiedenis

My eie neef is nog ‘n sprekende voorbeeld. My grootouers en hul korrespondensie was alles in Hollands (met Rotterdamse regionalismes by). My neef is slegs Engels grootgemaak in Durban. Dit, terwyl sy inwonende ouma met haar kleinkind Hollands kon gepraat het, sy vader met hom Afrikaans, sy moeder met hom Engels. Soveel geleenthede. Maar nee!

Wat gebeur? Ek, hier in die Wes-Kaap, kry al hul briewe, immigrasiedokumente, ens. ens. ens., want ek het daarvoor gevra. My neef, wat so baie tyd en liefde en aandag van Ouma gekry het, toon tot vandag toe nog geen belangstelling nie.

So kom die slang en pik jou.

My groottante is na Amerika, hoewel sy nog aan my ouma en oupa geskryf het in Nederlands. Haar dogter kon nie meer Nederlands skryf nie, omdat hulle nie meer die taal gepraat het aan huis nie. Die kleinkind en agterkleinkind sal heel waarskynlik nooit die handgeskrewe briewe verstaan nie en tien teen een al hierdie waardelose goed in die drom gooi. En wat as iemand eendag stamboomnavorsing wil doen?

Waarom ‘n taal áfleer?

Ja. Waarom ‘n taal áfleer? Waarom nie bývoeg nie? Suid-Afrika is ‘n suiwer digotomiese samelewing in daardie opsig, waarmee nie ek, of veral enige Afrikaanssprekende dosent in die Frans daarbuite, ons hoegenaamd mee kan vereenselwig nie.

Digotomies in die sin: dis óf Engels óf… Wat van: dis én Engels én…

Quot linguas calles, tot homines vales

Zoveel talen als ik kan; zoveel malen ben ik man.
Zoveel malen is men man, als men talen spreken kan.
Zooveel mannen is een man, als hij talen spreken kan.
Men is soveel keren man als men talen spreken kan.

Dit was die woorde van Karel V. Dieselfde ou wat gesê het: Ek praat Spaans met God, Italiaans met vroue, Frans met mans, en Duits met my perd.

Oor die deurmekaarmaak: Dis heeltemal ongegrond.

En duidelik ‘n teken van iemand wat nog nooit voorheen ‘n gesin grootgemaak het op soortgelyke wyse nie.

En ek bedoel, deurmekaar maak? Hier meng die mense in elk geval hul tale op straat?

Moses mag gehakkel het, maar hy het die volk uitgelei! Dink aan die Romeine wat ‘n ou Griekse slááf gekry het om hul kinders skool toe te begelei, om spesiaal die taal van geletterdheid (Grieks) te leer. Dink aan die aristokrasie van Rusland, Duitsland, Frankryk, ja, ook Engeland, wat almal hul kinders na lande baie ver van hul troon gestuur het vir kruisbestuiwing van kultuur. Dis sommer diepkant ingooi.

En dan kom kuier hulle hier in die Kaap en vind net “drie slim mense”: die enigste mense wat Frans kan praat.

Maar moenie kom kommer nie, daardie snobisme het ek ook onder Russiese immigrante op ‘n Forum gevind. Hulle beskou die Afrikanervrou (die “Boerka”) as dom omdat sy nie Russies ken en besonder boekgeleerd is nie (wel, dis nou nie juis of die tannies hier vir ‘n halfjaar lank net boeklees a.g.v. die -20 ºC buite nie!).

Maar kom dit daarop aan of hulle Afrikaans kan leer, wat ‘n amptelike taal is, nee kyk, dan is dit sommer baie moeilik.

Ene Voyageur op Wikipedia, het ‘n Franse en vermoedelik Duitse ouer gehad; hy het in Engeland grootgeword. Hy het aan weerskante van die Mou/Engelse kanaal rondgereis, vandaar die naam. Ons vermoed hy is dood aan Covid.

Hy het homself as Franssprekend beskou, maar het geweier dat jy hom ‘n Fransman noem. Ons belangstellings was baie dieselfde. Sy Afrikaans was beter as myne, veral omdat hy met ‘n Franse flair geskryf het wat ek net kan begeer. En tog het hy skaars ‘n sin uit Frans in Afrikaans vertaal; liewer uit Duits in Afrikaans. Dit was vir hom eenvoudig seker te moeilik.

Hy het tientalle voorbladartikels vir die Afrikaanse Wikipedia geskryf. En hy kon vanuit sy woonstel in Engeland (later Noord-Ierland) en Berlyn glad nie begryp waarom mense van Suid-Afrika nie Afrikaans wil leer nie. Dit is dan so maklik! OpenStellenbosch kon hy glad nie verstaan nie. “Maar hoekom gaan hulle dan nie Amerika toe nie? Maak alle universiteite Afrikaans. Hulle moet sien hoe ingewikkeld Pools is!”

Hy was vermoedelik in die sakewêreld betrokke, en soos jy reeds weet, moet mens jou teikenmark se behoeftes en begeertes uitstekend ken – daarvoor moet jy inderdaad die mense se harte ken, en dit is deur hul taal alleen moontlik.

Woorde wek, dade trek

Miskien moet ek jou herinner aan Nelson Mandela se woorde:

If you talk to a man in a language he understands, that goes to his head. If you talk to him in his own language, that goes to his heart.

Vreemd dat hierdie woorde nog nie by baie Engelse, wat soveel boeke van hom in hul vertoonkaste uitstal, ingang gevind het nie? Wat dink jy? Lippetaal?

Ek kyk maar na die mooie jare toe die kakelbont “multikulturaliteit” ‘n gonswoord in die 1990’s tot 2000’s was. Meer mense gaan meer ervaring bring, kinders gaan meer tale baasraak en regte kandidate vir die Erasmus Uitruilprogram word. Die wêreld wink met ‘n knipoog na nuwe geleenthede.

Expectations vs. Reality: Die immigrante uit Pole het in die Verenigde Koninkryk Engels geleer, maar die Engelse burgers het nie Pools geleer nie.

Elke woord is ‘n monument

Het ek genoem Voyageur het, benewens Frans, Duits, Engels en Afrikaans (o ja, hy was ook ‘n tydjie lank hierso in Suid-Afrika), ook Noors, Sweeds, Pools, Litous, Italiaans, en Nederlands vir die pret gelees en aangeleer? Dalk omdat hy meer lande as ek en jy gesien het.

Maar ook aan sy nalatenskap op Wikipedia moet ek dink. Was dit dan alles verniet? Ek dink nie so nie.

Solank daar ‘n vraag is, is daar ‘n aanbod

O ja, ek is ook een van die administrateurs by die Afrikaanse Wikipedia. Nes hy (was). Al daardie boeke wat ek versamel en aangekoop het met my salarisgeld om te verwerk het ek ook nie verniet gedoen nie. Die besoekstatistiek van die Afrikaanse Wikipedia is steeds hoër as die Esperanto Wikipedia. Solank daar ‘n vraag is, is daar ‘n aanbod.

Oor smaak val daar niks te beredeneer nie, maar liewe magtig!

Asof die gruwelike taalgebruik soos gebesig deur ons agbare parlementslede nie reeds ‘n aanduiding is op watter rampspoed Panyasa Lesufi se (in)doktrine(ring) afstuur nie, sal jy maar verneem die “Moedertaal/Huistaal”-Engels sal jy buitendien derderangs moet leer by ‘n Afrikaanssprekende of Sothosprekende onderwyser. Dit is nie net die taalonderwyser nie, maar ook wiskunde-, skei/nat-, liggaamsoefening-, musiek-, rekenaar-, huishoudkunde-, biologie-, aardrykskunde-, kuns & kultuur-, toerisme-, ekonomie-, bedryfsekonomie-, rekenkunde- en houtwerkonderwysers wat almal nou in Engels sal moet praat.

En dink jou in: daar is ‘n onderwysertekort.

Ek wens jou sterkte toe. The Queen’s English sal dit beslis nie wees nie.

Ek het ook vertroulik verneem ons eie Suid-Afrikaanse skrywers se Engels word in elk geval deur die Amerikaanse uitgewers aangepas vir die Amerikaanse mark. Daar is fynere nuanses wat ons hier as vanselfsprekend aanvaar, wat daar anderkant nie mag nie.

Maar selfs die Britte probeer hul werk aanpas vir die Amerikaanse mark, wat ek jammerlik vind, want daar is tog iets bekoorlik as Pappie bly in ‘n woonstel in Canary Wharf (die Kanarie-kaai!), met geld wat hy sommer uit die laai vir sy bedorwe kind uithaal. “Gaan geniet dit, my kind!” Die fyn spot wat Amerikaners nie sal snap nie, gaan ook so verlore. Slegs iemand wat in die Verenigde Koninkryk bly sal weet wat aangaan. Of wat familie daar het, soos ek (my oom) en jy (jou suster). Die Engelse is byvoorbeeld lief vir geringstellings (understatements), terwyl die Hollanders en die Amerikaners weer lief is vir histeriese, groteske oordrywings. Die kruisie om haar nek is óf mikroskopies klein, óf grafsteengroot.

Maar terug na Suid-Afrika. Sedert die 1960’s wou die meeste Engelssprekendes met bietjie selfrespek nie meer onderwyser speel of hoegenaamd by die openbare sektor betrokke raak nie, maar is direk na die privaatsektor, soos Hennie Terblanche hierbo in sy boek stel. Neem ek hulle kwalik? In so ‘n streng tweetalige klimaat? Soos op OpenStellenbosch kon hulle seker toe al nie asem gekry het nie.

Dit lyk my in die staatsdiens hoef jy nie eens meer vlot tweetalig te wees nie [indien wél, openbaar die Engelse dames van Gauteng hul verborge talente beslis nie op die Afrikaanse radio nie], so – hoekom was daar nie ‘n toeloop terug staatsdiens toe nie? En waarom sal daar wees?

Dink jou ook in, soos ek oorkant die pad hoor: die moeder en vader praat klaar gebroke “Basic English” met die kind (‘n woordeskat van 75 woorde of minder), en dan laat jy haar eendag oor aan niemoedertaalsprekende “Engels”-onderwysers met ‘n beperkte woordeskat en aanvoeling, en jy verwag hierdie kind moet eendag in Nature publiseer? Die een blinde lei ‘n ander mos in die verderf in! Magtig, het dr. Roodt nie lankal so ‘n artikel daaroor in 2016 geskryf nie?

Wat op universiteit gebeur, hou nie noodwendig verband met die werklikheid nie

Ook: by my alma mater het die Departemente Duits, Spaans, Italiaans, Russies, Iwriet (Nieuhebreeus), almal toegemaak omdat daar glo geen belangstelling is nie. Ek het van daardie ou leerboeke (Spaans) by ‘n vrou van Mosselbaai oorgekoop wat vroeër in Pretoria gebly het.

En Grieks/Latyn, wat vroeër 5 jaar lank deur regstudente bestudeer is, is afgewater na 10 maande. Die Ontwestering en Afrika-Renaissance van die Mbeki-era sien ons wel nog in die elitetale van Afrika (Frans, Portugees, Chinees, en Arabies) wat om die dood toe aan vasgeklou word soos die verrotte beentjies van die Heilige Mattheus. Al is daar géén boekwinkels in Frans of Portugees beskikbaar in Suid-Afrika nie! Ek moet hierdie boeke tweedehands deur Hollanders bekom.

Maar in die agterlike Mosambiek is daar wél ‘n boekwinkel vir albei tale. ‘n Ultramoderne koffiewinkel met smaakvolle styl! Ek kan dit nou nog nie verwerk nie. Hoe verklaar jy dit?

Die res van die wêreld het sedertdien aanbeweeg, en ek ook. Die vraag is: kan die universiteite nog byhou met die veranderinge? As jy vir my sê ons universiteite is markgerig, dan lieg jy asof dit gedruk staan!

In ons eie land, word berig in die Businesstech (4 April 2021):

This global expansion of businesses and especially growth in cross-border trade on the African continent has also led to rising demand for foreign language skilled professionals, including the hiring of interpreters.

Some 10% of organisations indicated that they struggle to find people with adequate foreign language skills, a marked increase from just 4% in the 2019 survey.

Foreign language speakers most in-demand included, French (29%), German (18%), Mandarin (14%); Italian (10%), Spanish (10%) and Dutch (4%).

Dit is vakante poste wat reeds bestaan! En dit is nog voordat ons enigsins met aktetassies begin voelers uitsteek het!

“Ag, weet jy, ons skop sommer ‘n Italianer agter elke bos uit.”

Wel, duidelik nie. Nie teen die koers wat Suid-Afrikaners almal wil verengels nie. Dis net pateties.

Globalisering bring gewoon glokalisering mee

Selfs Kaaps, ‘n dialek!!!, word hier in die Wes-Kaap bevorder as onderwystaal op die Kaapse Vlakte. Die Universiteit van Kaapstad bied ‘n Khoi-kursus aan.

Iets totaal ondenkbaar vir Gauteng! Verbeel jou daar bestaan ‘n blitskursus vir Fanakalo! Skokkend, maar dit is werklik niks nuuts nie.

Die einste gebeur nou met Nederduits wat die sprekers in die 1800’s met alle geweld wou weghê omdat hulle gedink het die nuwe goddelike Standaardduits as moedertaal gaan van daardie wêreld nou ‘n beleggersmekka maak. O, die universiteite sal bloei as hierdie boere-patois eers verdwyn! Soos een ou in sy betoog geskryf het:

Enige taal wat nie die skryftaal of die taal van die onderrig, regte, politiek, godsdiens, wetenskap of kunste is nie, moet by die stand en gang van ons kultuur plekmaak vir ‘n skryf- en onderrigstaal, en moet soos die Fries in Holland, die Kelties in Bretagne, die Baskies in Spanje geleidelik uitsterf. Uitsterf is die noodwendige en natuurlike lot van die Platduitse taal. Niks kan hom van ondergang red nie. Of jy nou Platduitse klugspele, herders-/natuurgedigte, liedjies of legendes skryf – dis tevergeefs; die volk lees dit nie…

Dink net hoeveel moeite en geld gaan dit spaar om géén moeite te doen met vakliteratuur of vakterme nie. Want Hoogduits het dit mos reeds?

Raai, dit het nie gebeur nie! Die Platduitsers was so te sê hul taal en kultuur kwyt, maar hulle boer steeds met Holsteins! Ha-ha-ha! Is dit nie snaaks nie?

Ek het jou mos hierbo gesê: Een taal self verseker nie vooruitgang nie.

Dit is egter Beiere, daardie Rooms-Katolieke karnaval in Suid-Duitsland, wat ontpop het in die rykste deelstaat in Duitsland. Hulle praat skaamteloos Beiers en skryf sowel in Standaardduits as Beiers, en sou nie ‘n oomblik daaraan dink om hul dialek vir enige taal daarbuite te verruil nie. Hulle het selfs al gedreig om af te stig, hoewel dit nie eintlik nodig is nie, daarvoor is Duitsland te oopkop.

Nie soos in die geval Katalonië nie. Katalonië, die rykste provinsie in Spanje. Waarheen die verarmde Spanjaarde stroom om tog die geluk te smaak van die Katalane wat Katalaans praat. Katalaans is nié ‘n Spaanse dialek nie. Maar dis alweer die Spaanse goewerment wat gedurig tussenin kom neuk en alles wil kom verspaans en verpes. En wat gebeur? Bloedige opstande vind plaas.

Kan jy ‘n patroon raaksien?

Waarom taalontwikkeling vertraag as dit nou kan gebeur?

Maar, om nou terug te keer na Nederduits. Presies dieselfde standaardisering, feitlik alles wat Afrikaans en Hebreeus oor minder as ‘n eeu deurgemaak het, moet hulle nou binne 10 jaar klaarjaag. Want feitlik die enigste oorblywende sprekers is almal bejaard en beaard! Oor Kopties kan mense maar net raai – want die sprekers is eeue al dood.

Dus, waarom wag?

Glo my, ek sal weet, want ek het ‘n voorbladartikel daaroor uit Duits vertaal. In Afrikaans. Gratis en verniet. Nee, daar is geen Engelse vertaling daarvan nie. Inteendeel, Afrikaans is die enigste vertaling daarvan!

Die wêreld is ‘n illusie, die denkwyse oor taal ook

En dit is wat my die meeste pla: hoe passief en reaksionêr die wêreld geword het. Wat rondom mens aangaan, is die heilige fatalistiese Evangelie. Wat mens op die boekrakke, die media, feitlik die hele verrotte Suid-Afrika soos mens dit daagliks in jou werk sien: dis die waarheid, daar is nie ‘n ander waarheid of uitweg nie. Sela.

NEE. DIS ALLES ‘N KONSTRUK.

“Maar daar’s nie geld nie vir ander tale nie.” Maar daar is geld vir “Genderstudies” en “Whiteness Studies” of “Toekomskunde” wat jy nooit buitekant die universiteitsmure sal gebruik nie?

Sonder taal kan jy nie handel dryf nie. Kan jy nie inligting oordra of inwin nie. Die Hollandse media maak doodseker die gewone ou op straat weet hoeveel miljarde Euro Nederland elke jaar verloor deur nie Frans te ken nie.

Kortom: Suid-Afrika het géén verskoning nie. Hulle kon selfs Esperanto aangebied het as hulle sou wou. Hulle skep gewoon ‘n leerstoel as dit moet, jy maak gewoon ‘n sekere vakrigting net “verplig” vir voorgraadse studente. So maklik soos dit.

Wat as Afrikaanse kinders beter vaar in Engels as die Engelse self? Soos dit by ons was?

Dan kan jy mos Afrikaans én Engels gelyk hanteer, nè? Ek kan verstaan hoekom daar Afrikaanse enkelmediumskole is: dubbelmedium of parallelmedium lei dikwels daartoe dat Afrikaanse skole toegeloop word onder diegene wat slegs onderwys in Engels wil hê, en die pendulum swaai na slegs Engels, die ander enkelmedium. Al kan enigeen sonder te veel moeite ‘n paar bakstene bo-op mekaar pak en ‘n Engelse skool open? Hoe moeilik kan dit nou wees? En veral nou met die internet wat die nuwe leerskool geword het, wonder mens of hierdie geboue nog ooit nodig is.

By my hoërskool is ons klasse (in opslaanklasse met slegs ‘n waaier) sowel in Engels as Afrikaans aangebied. Die onderwyser kon besluit of hy die een oomblik nog in Afrikaans praat, die volgende oomblik in Engels, so jou oortjies was heeltyd gespits.

My Aardrykskunde-onnie het die klas begin met Afrikaans en in Engels die les herhaal. Jy het dus die geleentheid gekry om sowel die vakbegrippe aan gewoond te raak, as om te luister of iets jou nie dalk ontgaan het nie. Die twee tale vul mekaar aan. Dikwels sal ‘n sekere woord ‘n ander betekenis of konsep by jou oproep, wat jou anders oor ‘n stuk werk laat dink.

Of dalk hoor jy net ‘n bespreking op ‘n Afrikaanse gemeenskapsradio en skielik val iets jou by. Dit het hoeveel keer met my gebeur. Dit is nie woorde wat gedruk is nie.

Sal dit vir jou ‘n skok wees as ek sê ons Afrikaanssprekende leerlinge het beter in Engels Huistaal gevaar, by ‘n Engelssprekende juffrou, as die Engelssprekende kinders self? Dit, terwyl die Engelssprekende leerling geen tekort het aan goor Amerikaanse rolprente en televisieprogramme, Amerikaanse rekenaarspeletjies of ‘n halwe dorpsbiblioteek vol Engelse boeke (van bo tot onder) nie? Die punt is: ‘n mens kan in Afrikaans én Engels dink as jy werklik wil. Selfs in méér tale ook, was die geleenthede maar daar.

As Engels die alfa en die omega is, waarom nog belê in die Ooste?

Al was ook die meerderheid topleerlinge in my tyd toe Afrikaanssprekend in die Wes-Kaap, danksy moedertaalonderrig, begryp ek heel goed wat jy bedoel: die kennis op skool is ‘n druppel in die see daarbuite.

Maar, as mens nadink oor al die deskundiges van die ganse Europa en Japan, en China, Suid-Korea, Singapoer, Taiwan, wat nou nie almal juis droom in Eerstetaal Engels nie – waarom word daar nog van hul tegnologie gebruik gemaak? Waarom word daar überhaupt nog in daardie lande belê, dink jy? Waarom swymel almal om tog bietjie Japannees te leer?

Snaaks, daaroor sug niemand nie – want jy sit agteroor en kyk net prentjies. Animé-kyk met onderskrifte is regtig geen dinkwerk nie. Dit gaan mos om die vermaaklikheid. Mens gee nie werklik aan Japannees iets terug nie, hoor, jy vat net. Of maak bespotlike meems daarvan in hentai-vorm. Jy dra boggerol tot hul kultuur by. Buiten die geld, bly mens net ‘n onbetrokke kulturele parasiet. En ‘n stereotipe randfiguur wat gereeld in die Sestigers se werk voorkom.

Onthou wat ek gesê het van die bloekomboom!

Die Hollandse stelsel werk beter

Dus: hierdie half-Hollander moet met jou verskil. Ek verafgod die ou stelsel van Nederland waar jy benewens jou moedertaal ook Frans, Duits, Engels, Latyn en Grieks op gimnasium moes leer. Dit was nou totdat die verderflike Mammoetwet deurgevoer is in die laat-1960’s, want elkeen moes toe universiteit toe, met die gevolg dat die standaarde afgewater is om tog nie te veel druipelinge op papier te hê nie.

Ag ja – my Ouma was in ‘n huishoudskool (sy was seker tot haar dood toe verbitterd oor haar moeder se besluit, maar tye was anders), en my Oupa in ‘n ambagskool in Rotterdam. Hy was tegnies aangelê. En dis hoe hy in Suid-Afrika ingekom het.

Op universiteit sou Hindi en Russies volg vir diegene wat chemie studeer het, soos ‘n Hollandse afgetrede senior lektor van Raleigh, North Carolina my meegedeel het. Die arme schooljongens moes maar klippe kou, maar dit was vir hul eie beswil; hulle was orals ter wêreld in aanvraag.

Die Duitsers is vandag meer genadig: naas jou moedertaal kan jy twee ander vreemde tale leer: Engels, Frans, Latyn, Spaans (sterk in die opmars!), Russies, ens.

Stel jou nou vir een oomblik voor ‘n Duitsertjie moet Engels in preprimêr leer? Ondenkbaar. Vir baie is Frans en Russies hul eerste vreemde taal, en daarom kan hulle hul medelandgenote aanvul deur gesprekvoering.

Die omgewing beïnvloed duidelik ons taalkeuses

“Ja, maar dis Europa.”

“Ja, maar wil jy ‘n werkende stelsel soos in Europa hê, dan sal jy hopelik soos ‘n Europeër wil begin dink!”

Dis tog logies.

As Eurosentris moet ek my die vraag afvra:

waarom na sulke konformistiese eenvormigheid streef,
waar één outjie, kompleet soos by ‘n spermselwedren na ‘n eierselletjie,
tussen die miljoene ander,
vir één werkie,
met presies dieselfde eenvormige vereistes moet meeding,
as ons juis gemaak is om soveel verskeidenheid opsies as moontlik te skep en te benut,
sodat daar meer werk vir almal is?

Is ek werklik die enigste mens in Suid-Afrika wat dit kan insien?

Dalk het die omgewing ‘n groter invloed op ons denkwyse as wat ons dink. Want die Wes-Kaapse soekresultate op Google Trends toon juis dat ons die mees Eurosentristiese provinsie is, ook wat belangstelling in Europese tale aanbetref.

Hier by ons is die vorms nog drietalig (Afrikaans, Engels, Xhosa), die amptelike poste word in drie tale uitgereik, die verkiesingsplakkate en inentingsplakkate is in drie tale opgeplak, die polisieverklarings (sover ek weet) mag nog in Afrikaans ingevul word.

Niks van “dis te duur” nie. Ons verwag dus om in Afrikaans bedien te word. Vir korrespondensiedoeleindes is my eerste brief tweetalig; sou die Suid-Afrikaner verkies om in Engels terug te antwoord, word die gesprek daarin voortgesit.

Tot slot, puntsgewys:

1. Die Anti-afrikaanse houding as voertaal gaan Suid-Afrika absoluut nêrens bring nie, soortgelyk is al gepleeg in die naam van [voeg ideologie in] in ander Afrikalande en Europa met die inheemse tale en dialekte. Dit het slegs tot ‘n paar mense se voordeel gestrek, met die gevolg dat die hele land op die lange duur daaronder moes ly. Moenie dat ‘n taal agteruitgaan, as dit net tienduisend keer die moeite, die geld en die tyd gaan kos om ‘n taal later te laat herleef of op te hef nie. Hebreeus, Nederduits, Nieugrieks, Kopties, Kornies en Iers betaal reeds duur hiervoor, om maar ‘n paar te noem. Dis alles so onnodig.

2. Moenie evolusie teengaan nie. Dit is doodnatuurlik dat tale van mekaar sal skei en hul eie rigting inslaan. Dit is regtig nie nodig dat almal nou slegs in Engels moet skoolgaan nie. Net soos jy ‘n verskeidenheid blomsoorte sal kry, verryk elke unieke spesie ons met sy eie prag en geur. Laat daardie blom die beste blom wees wat hy is. Gee hom al die materiaal wat hy nodig het, en kyk wat gebeur. Ons kan nie ‘n krokodil maak van ‘n luiperd nie.

Ek aanvaar dus dat Xhosa nie so ‘n groot letterkunde het soos ek dit graag wil hê nie. As daar was, of as ‘n Xhosa my kan wys op onderwerpe waarin ek belangstel (wie weet, soos plekname?) dan sal ek beslis daardie taal aanleer.

Omdat jy in die uitgestorwe oerdiere belangstel, het ek gehoop jy sou kon insien dat die paleontologie juis die lewe benadruk wat daar nog oor is.

Die sogenaamde “die sterkste oorleef” is nie deel van die mensdom nie – anders sou ons nie hospitale gehad het nie. Die sterk/swak sal altyd deel van die muntstuk bly. Anders sou ons nou al almal vry van kwale gewees het. En as jy jouself “sterk” beskou, moet daar ‘n vergelyking wees met iemand wat “swakker” is.

Die vraag is: wat beskou mens as swak? Waarom beskou mens dit as swak?

Hollands het ons sien verdwyn in Tasmanië, in Nieu-Amsterdam (New York), in Indonesië (sy kroonjuweel!), in Ceylon, Formosa (Taiwan). Die taal word nog langs die Michigan-meer gepraat, die sogenaamde “Iowa Dutch”, maar is bedreig. In Suriname geniet hy nog baie hoë aansien. Vlaams was in die verlede in België onderdruk, maar met die ekonomiese ommeswaai deur industrialisering in Vlaandere moet Franstaliges tog nou anders na die taal kyk. Trouens, in Vlaandere het jy nie meer nodig om Frans te ken nie. In Nederland is dit maar net nog ‘n doodgewone dag op kantoor.

Duits is uit Amerika verdryf, omdat hy met alles wat sleg was vereenselwig is tydens die Eerste Wêreldoorlog. Dit klink vir ons stapelgek, want teen die 1920’s-1930’s was Duits dié taal van die chemie. En vandag waterstoftegnologie. Nog ‘n probleem was dat die Duitsers in Amerika laerskole gehad het, maar geen hoërskole nie.

3. In Suid-Afrika het jy die keuse tussen Afrosentrisme of Négrologie (wat die Westerse wêreld daarbuite as vyandig beskou, omdat die eie kultuur in gedrang kom), of jy kan in jou eie Anglosfeer verstrik raak (wat die wêreld daarbuite as minderwaardig beskou) of jy kan Eurosentries begin dink.

Wat my betref, ek dink Eurosentries: ‘n Mens kan net so lank in ‘n proefbuis wil leef voordat dit bars.

4. Afrikaans is gelyk aan woeker met werkskepping. Net soos Xhosa, net soos Zoeloe, net soos Nama, net soos Korana, net soos Portugees, net soos Duits, net soos Teloegoe, Tamil, Goedjarati, Chinees, Frans, Russies en al die ander tale wat ook nie Engels is nie. Dit gaan juis oor desentralisering en deursyfering en driedubbele dollars.

Ek het trouens ‘n hekel in sentralisering gekry: Rio de Janeiro (al is Brasilia die hoofstad), Londen, Moskou, Maputo, Parys, Kopenhagen, selfs die Randstad in Nederland is simptomaties daarvan. Ek haat dit, want mens kry hierdie massiewe wemelende “borrel” om nou die bynaam van Tel Aviv te gebruik, terwyl die res van die platteland halfdood is.

En al daardie siele moet stad toe, waar die lewe is. En wat gebeur? Krotbuurte, plakkerskampe, behuisingstekort, spitsverkeer, werksgeleenthede wat nie daar is nie. Almal wat meeding vir presies dieselfde pos. Jy gaan oorval word deur potensiële tuinwerkers en, as die minimumloon en maatskaplike toelaes nie daar was nie, is die aanbod so groot dat jy vir Happy, die tuinwerker, R5 kon betaal het. Vir ‘n week se arbeid. Van donker tot donker. Ek dink nie ek oordryf nie, daar is immers net ‘n handjievol tuinerwe. Die minimumloon en maatskaplike toelaes los egter nie die werkloosheidsprobleem op nie.

Die eweredige verspreiding van geld en geleenthede ken hulle nie soos in Duitsland die geval is nie. München, Stuttgart, Berlyn, (Bonn is seker vergete), Hamburg, Keulen, Leipzig, Dresden, Bremen, Dortmund, Düsseldorf, Wolfsburg, Neurenberg, Potsdam, Maagdeburg, Heidelberg, Rostock, Göttingen, Bremerhaven, Freiburg im Breisgau, Essen, Hannover, Aachen, Mainz… al hierdie stede het hul eie roeping. En dit is bitter selde dat hierdie stede meer as ‘n miljoen inwoners het. Die meeste is onder ‘n miljoen inwoners.

Dis nie soos die 4,6 miljoen inwoners van Kaapstad uit byna 7 miljoen in die ganse Wes-Kaap nie. Dis net gek! Dis pure malligheid. George, ons tweede grootste stad, het maar 157 391 mense. Met ‘n voetnota: George kan werk as daar verhoudingsgewys genoeg beleggers en nyweraars is van sakeondernemings, fabrieke, laboratoriums, ens. is. Die droom is dat hierdie werknemers dan genoeg geld sal verdien om later self hul eie besighede op die been te bring. Maar soos ek dit ken, sal daar maar een kafee-eienaar wees wat hoogstens drie mense kan aanstel.

5. Jy kan met graagte jou vaktydskrifartikel in Nature publiseer, slegs ‘n paar bladsye lank. Maar dit is eintlik meer lonend om ‘n boek van 300 blaaie te skryf. Dit bly steeds die goudstandaard. Tyd is seker ‘n faktor, maar hoeveel van daardie halfgebakte artikels in vaktydskrifte moes nie ongeldig verklaar word bloot omdat ‘n haastige hond sy mond verbrand het nie? Of dit nou die metodologie of die gebrek aan bewyse, of gegrond is op algemene aannames en stereotipering. Met statistiek kan jy ‘n heerlike dis aanmekaarslaan.

Dit is juis daarom waarom “publiseer of krepeer” nou in Duitsland en ander plekke die nekslag toegedien is. Jy, as navorser, mag nou net ‘n x-aantal artikels per jaar laat publiseer. As die reputasie van jou tydskrif eers in sy moer is, soek mense een wat wel skitter. Al moes jy ook soos prof. dr. Rufus Gouws (skrywer van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) in Duits publiseer, die taal van die moderne leksikografie.

6. Aha, uiteindelik my laaste puntjie. Ek het pas genoem Duits is die taal van die moderne leksikografie.

En dit is vandag nog so: sekere tale is meer geneig om oor sekere onderwerpe te skryf as ander. Veral omdat die Duitsers groter taalmaniakke is as die Amerikaners. Hulle sug nie om met die Russe saam te werk om wonders te skep nie. Ek gril my dood hoe daardie mooi Amerikaanse gesiggies Duitse woorde so verkrag op televisie. Dit steek my dwars in die krop. Dit kos my die Duitse oorklanking luister net om verstaan wat hulle sê! Maar vir die oningewyde klink dit dan so eksoties! Hoe kan dit verkeerd wees? Dit… dit… dit kom immers uit Amerika!

7. As ek Gerrit van Wyk Kruger se boek Die verhaal van die Griekse taal oor 35 eeue heen lees, dan het hy iemand in gedagte wat darem bietjie taalkundige agtergrond het, maar, hy skryf dit vir die Afrikaanssprekende waar hy hom in ‘n Suid-Afrikaanse omgewing bevind, ver weg van Griekeland af.

Video: Sal Afrikaans altyd omstrede wees?

Hoewel Afrikaans deur die ANC-bewind onderdruk word, gedy die taal op vele gebiede, meen Dan Roodt en Gustav Venter in hierdie wydlopende en boeiende gesprek waarin hulle na die taal, politiek, internasionale skrywers en vele meer verwys.

Die beroemde Noorse skrywer Knut Hamsun het byvoorbeeld sy hele lewe lank Engels en die Anglo-Amerikaanse kultuur verafsku vanweë die rol wat Brittanje in die Tweede Vryheidsoorlog gespeel het.

Dis ‘n fees! Afrikaansdag by PRAAG gevier

Nadat PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, ‘n klompie jare gelede begin het om 14 Augustus as Afrikaanse taaldag te herdenk, het die idee allerweë byval gevind en word dit vandag landwyd deur organisasies, boekwinkels en selfs internasionaal gevier.

As deel van taaldag, verskyn Fransi Phillips se jongste roman, Die lemmingmense, vandag by Praag-uitgewery. Koop dit hier.

In die loop van die dag publiseer ons artikels, asook video-opnames en onderhoude in ‘n deurlopende virtuele byeenkoms in en rondom Afrikaans. Besoek dus gereeld vandag ons webblad, sosiale media en YouTube-kanaal vir verdere boeiende vrystellings!

Soos wyle Fanus Rautenbach gesê het: “Afrikaans is soos ‘n kurkprop in water — hoe meer jy hom ondertoe druk, hoe sterker spring hy weer boontoe.”

Suidpunt: Bespreking van ‘Donkerbloed’

Op hoërskool was ek dol op die Popular Mechanics. Die Suid-Afrikaanse een.

My ouma het vir ons gesin ‘n jaar lank op hierdie tydskrif ingeteken. Eers het die tydskrifte in die motorhuis tussen die ou koerante beland (my vader is nie juis ‘n danige leser nie), maar op ‘n dag is hulle almal in my tienerkamer. En ek kan dit nou nog nie oor my hart kry om hulle weg te gooi nie. Hul aanvanklike slagspreuk was: “the way the world works”. Later is dit verander na: “be the first to know”. Vir ‘n kind wat nooit onbeperkte internet geken het nie, was hierdie tydskrifte my venster op die wêreld. Ek het elke maand maar die winkelrakke dopgehou of daar nie miskien ‘n onderwerp is waarvan ek sou hou nie.

‘n Kwessie van tyd

In die Junie-uitgawe van 2005 staan in die hoofartikel (“2025: The shape of things to come”, p. 35) hierdie volgende wyse woorde:

Look 100 years into the future, or even 50, and you’re creating science fiction. Twenty years, though, is just on the edge of the horizon: while the details are fuzzy, the broad outlines of technology are already in view.

Die boek wat ek bespreek, Donkerbloed, deur dr. Elrien Scheepers, speel in 2045 af, 24 jaar die toekoms in. Die ISBN-nommer van hierdie gedrukte kopie wat ek gebruik is: 9780798181822.

Kan ‘n mens die toekoms oor 20 jaar raak voorspel?

In die bovermelde artikel in die Popular Mechanics word reeds in 2005 genoem van ‘n video-op-aanvraag-stroomdiens op bl. 38. In die artikel word kortliks verduidelik hoe jy jou musiek en video’s alles op een platform sal hê en kan saamdra:

It will be nice to carry the whole universe of entertainment around with you – Coldplay and John Coltrane, every film from Mean Streets to The Aviator to whatever an unstoppable Martin Scorsese is shooting in 2025. That mobility and freedom – along with coffee tables free of the clutter of CDs and DVDs – will arrive as we move from today’s entertainment-is-a-thing world into the entertainment-is-a-service world of the future.

“You’ll pay a certain amount of money and have access to a huge pool of stuff,” says V Michael Bove Jr, director of the Consumer Electronics Research Programme at MIT’s Media Lab.

En ons ken dit reeds in 2021. Dis skaars 16 jaar later. Netflix, Spotify, Amazon Prime, YouTube Premium, Google Play, Disney+ , noem maar op.

5G is nou nog ‘n nuutjie vir ons, maar ook rééds in 2005 is ons oor sekere aspekte gewaarsku (p. 34):

“Only connect: In the home – and everywhere else – we will live in a totally networked world. Information and entertainment will be instantly accessible. But privacy may be hard to come by.” (my beklemtoning)

 ‘n Rapsie meer as 16 jaar later staan daar in die Sake-bylaag van Rapport onder die opskrif “5G vinniger, ‘maar met meer risiko’s’” (11 Julie 2021) die volgende:

“In ‘n 5G-wêreld sal bykans alles met die internet verbind wees – en dit in ‘n hoogs geoutomatiseerde omgewing. Maar dié grootskaalse interkonnektiwiteit sal ‘n teelaarde wees vir nuwe soorte kubermisdade met veel ernstiger gevolge.”

[…]

‘n Kubermisdaadgroep het in April vanjaar vir groot konsternasie gesorg toe die Colonial-oliepypleiding in die VSA afgeskakel is nadat aanvallers die pypleiding gyselaar gehou het. Die aanvallers kon nie die funksionering van die pypleiding oorneem nie, maar is virtueel vort met 100 GB se data wat hulle gedreig het om bekend te maak tensy ‘n losprys van $4,4 miljoen betaal word. Colonial het uiteindelik die losprys betaal.

[…]

“Gestel ‘n kuberkraker neem beheer oor watermeters, elektrisiteitsopwekking of verkeersbeheerstelsels. In ‘n virtueel gemeganiseerde wêreld waar byna alles onderling verbind is- en boonop deur draadlose tegnologie – kan dit chaos beteken wanneer stelsels inplof”, [sê Jens Montanana, van Datatec]

[…]

“Die enigste manier om hierdie soort kubergevare te probeer ontglip is om as’t ware minder in die kuberruim te wees,” sê Montanana.

Dit is duidelik nie meer die onskuldige tienermanewales van Hackers (1993) waar peroksiedkop Zero_Cool (of Crash_Override) en kie die brandalarms laat afgaan, hul skuldig maak aan onregmatige toegang op eiendom, telefoonhokkies wat onder vandalisme deurloop vir ‘n maklike openbare aansluiting (wie’t WiFi nodig?), spioenering op polisietelefoonoproepe, datadiefstal, DoS-aanval op ‘n maatskappy, verkeersknope veroorsaak deur met (verkeers)robotte te speel (vir die pret), poging tot moord met ‘n brandfakkel  – alles om te keer dat ‘n internasionale terroris (“The Plague”) nie die olietenkskepe laat omkantel nie… Afgerond met fynproewer-rave/trancemusiek in die agtergrond.

“Mess with best, die like the rest”.

Ag! Nou maar goed, dan. Dis presies dieselfde. Net 28 jaar later.

Dus, ja – 2045 lyk miskien vir ons nog vêr die toekoms in (24 jaar), maar dalk word daar tog ‘n paar goedjies bewaarheid. Meer as wat jy dink.

Maar eers, waaroor handel die roman?

Die hoofintrige

Sybella Francke (17 jaar oud, 10 maande) is wees nadat haar vader (Simon) in Kleinmond verdrink het ná ‘n fratsbrander toe sy 12 was (p. 97), en haar moeder en oënskynlik ook haar jonger suster (Rosa en Jynna Francke) in ‘n uitsonderlike lugtaxi-ongeluk omkom (2 jaar voor die verhaalhede). Sybella het die ongeluk oorleef omdat sy op die nippertjie besluit het om saam met haar ekskêrel na die toekenningsbal te gaan, en nie saam met haar ma en suster nie (pp. 69-70, 177, 183). Sy word nou deur Lilith Rox genader om vir haar by Biotron Babas (in Sandton) te kom werk, “wat geneties gemodifiseerde babas verskaf aan die ryk elite” (soos op die agterblad staan), maar wel onder valse voorwendsels.  Toe Sybella haar suster op ‘n foto by een of ander gala (“Biotronbal”) van die maatskappy sien, aanvaar sy die werksaanbod (p. 112). Hoe dieper sy grawe, hoe nader kom sy daaraan om haar suster op te spoor. Maar nie sonder die hulp van ‘n paar nuwe en ou vriende nie.

Hierdie vriende is:

–          Jax Jakobz, ‘n Donkerweb-gamer wat absoluut gaande is oor alles wat onwettig is. Of dit nou dwelmgebruik, sluikhandel, orgaanhandel Nigerië toe of onwettige immigrante is. Sy moeder is aan longkanker dood toe hy twaalf was en Rosa Francke het hom destyds soos haar eie seun onder haar vlerk geneem. Juis daarom is hy baie erg oor Sybella, wat soos ‘n sussie vir hom is.

–          Meliwami – die 25-jarige eienaar van Zonga’s, ‘n eetplek/kroeg in Sunnyside. Hy het ‘n 19-jarige kêrel wat toere plaaslik en oorsee begelei, genaamd Mkulu.

–          Yala Uba, ‘n onwettige immigrant uit die Kongo, wat met deportasie-tatoeëermerke deur die polisiemag gebrandmerk is en in Mamelodi gebly het. Om aan die lewe te bly, moes sy onwettige hokgevegte vir haar “meester” wen. Sy word byna halfdood een aand deur Sybella gevind op straat, kort voordat die polisiehommeltuie Sunnyside patrolleer. Met behulp van ‘n straatkind wat met byna nuttelose R20-muntstukke betaal word, bring hulle Yala tot by Sybella se woonstel in Eastwood. Daar sterk sy tuis aan. Daarna werk sy by Meliwami as kelnerin (op aandrang van Sybella). Maar moenie haar vlak vat nie: sy is ‘n lopende kitsbank– sy donder ‘n tonnel deur iemand se kop in ‘n hokgeveg, en kry so R40 000 harde kontant slaggereed as iemand se twee maande agterstallige huurskuld in ‘n krotbuurt binne ‘n dag vereffen moet word (p. 178). Sy spaar eintlik hierdie geld om vir haar boetie, Koreni, in die Kongo te stuur (p. 27).

–          Naemi, die skoonmaakster van die laboratorium by Biotron Babas. Sy bied toegang en inligting.

–          ZuriB2, ‘n brouwerk van die eerste genmodbabas van Lilith Rox. Sy is besonder knap met rekenaarstelsels kraak, maar het horinggroeisels. Sy het geen draad vir Lilith Rox nie, juis omdat soortgelyke lotgevalle soos sy doodgemaak is.

Dan ontdek Sybella egter waarom sy en haar suster Jynna tog so gesog vir Rox is.

Tot sover met die intrige.

Waar het ek hierdie boek gekoop?

Ek skryf hierdie brokkie inligting neer, want ek weet skrywers en uitgewers stel altyd belang.

In ons plaaslike, ten volle onafhanklike koerantjie (wat sy eie boekwinkeltjie het), het ek die naam gesien. Die pers omslag van die boek eerste. Dit was Vrydagoggend, 9 Julie, want die koerant kom Donderdagaande uit. Toe ek die woord “kuborg” sien, los ek die rekenaar net so aan, vat die twee blou kontantnote en ek is by die deur uit. Ek het nie gedink nie, net gedoen.

Eers het ek by die grootmenskant gesoek, gedink ek is te laat. Maar toe kry ek hom by die tienerkant.

Ek het dus nie by enige hoofstroommedia of in sosiale media die boek gesien nie. Eers agterna. Die feit dat ‘n wetenskapsfiksieboek by Human & Rousseau uitgegee is, is vir my uitsonderlik, want dekades gelede laas is sulke boeke daar uitgegee. Gewoonlik is dit by LAPA of Tafelberg of by ‘n privaatuitgewer.

Waaraan moet ons gewoond raak?

Hieronder is van die belangrikste ontwikkelings waarvan jy moet kennis neem.

  • Grondonteiening sonder vergoeding is ‘n werklikheid.

Die hele storie ontspoor amper hierso, want al die sukses en praalsug en die Lamborghini Aventador (nou seker ‘n bietjie vintage?) en slangvelhandsak van die hoofbaas van Biotron Babas (Edms. Bpk.), asook die ryk woonbuurte van Pretoria en Johannesburg is eintlik ‘n weerspreking van hierdie wet. Tensy Lilith Rox en haar katelknapie, Cedric Morton, een of ander houvas op die staat het. Of juis sterk bande met die staat het. En hierdie voorstede vernaamlik deur vername staatsamptenare bewoon word.

As jy nie seker kan wees oor jou besitreg nie, dan gaan jy sekerheid elders soek. Jy kan die beste onderneming of woning bou uit jou sak, en dan kom die staat en neem dit sommer net eenvoudig oor? Wie is so onnosel om sy geld hier te mors?

In ‘n geskrif in Arabies oor die agteruitgang van Kopties, wat ek oor ‘n paar weke gaan bespreek, word genoem onder die Ottomaanse Ryk het Egipte géén eiendomsreg geken nie. Nodeloos om te sê, het die kunste en ekonomie hoegenaamd nie gebloei nie. Dit was eers toe die Franse daar aankom en die Code civil bekragtig dat daar uiteindelik vooruitgang beleef is.

Maar ons lees byvoorbeeld op bls. 16 en 36, uit die mond van Sybella:

Die eerste ontwerpersbabas is in 2030 gebore. Hoe oud was ek toe? Dis vyftien jaar gelede, so ek was… twee? ‘n Gewone tweejarige kind wat saam met ‘n pa en ma en nuwe babasussie in ‘n groot wit huis in Eastwood gebly het, en in die tuin naaldekokers gejaag het.

[…]

Ek onthou die groot wit huis in Eastwood waarin ek grootgeword het, voor dit deur die Etswagoli-stadsraad oorgeneem en onderverdeel is toe behuising ‘n krisis geword het. Ten minste kon ons die deel van die tuin met die visdam hou, waar ek as klein dogtertjie ure lank na die paddavissies en vet lyfies en kronkelstertjies sit en kyk het. Deesdae is die paddas weg, saam met die naaldekokers.

Ek neem aan Waterkloof word nie hierdeur geraak nie? Dalk nie, want Meliwami maak ‘n nuwe tak, nou genaamd Zonga’s Too, in Waterkloof oop (p. 233). Of het jy “goeie virtuele prokureurs” daarvoor nodig (p. 226)? Jy kan steeds sakebeleggings maak, ook in kafeetjies van Sunnyside (p. 222).

Dus, was daar op ‘n stadium ‘n behuisingstekort, en toe word daar links en regs grond onteien? En toe gestop? Maar met die klomp werkloosheid (p. 31), vlugtelinge en onwettige immigrante wat konstant Etswagoli (die megalopolis Egoli+Tshwane) oorbevolk, Mamelodi wat ‘n oop seer is (meer daaroor later) – het hierdie onteiening ooit gestop?

Maar kyk wat gebeur op bl. 131:

Meliwami neem ‘n hap van sy groenteroerbraai. “Wil jy in my woonstel gaan bly terwyl jy in Bryanston is?”

“Ja, dis ‘n goeie plan, dankie!” Minder lugtaxivlugte elke dag.

“Het jy nog ‘n woonstel daar ook?” vra Zuri.

Meliwami knik. “Ja, ek het. Mkulu trek soms daar in as hy toeriste op toere deur Sandton en Bryanston neem. Dis nie op die stadsrekenaarstelsel geregistreer nie. My pa het die woonstel al jare gelede versteek. Hy was ‘n stadsingenieur en het besluit hy gaan nie by die regering se behuisingstelsels inval en sy woonstel sonder vergoeding weggee nie. Sybella sal veilig wees. Niemand sal haar daar kan opspoor nie.”

Wat aanleiding hiertoe gegee het is Kaapstad wat deur Koeberg se lekkasie in ‘n “radioaktiewe spookstad” verander is (p. 91). Die skryfster wou duidelik hê die stad moes leegloop. “Derduisende” (hoewel nie miljoene nie) het toegesak op die megalopolis wat sowat ‘n anderhalf-duisend kilometer daarvandaan is. Hierdie lekkasie moes binne 10 tot 20 jaar tevore gebeur het, want Seth Denuys (dis nou Sybella se ekskêrel) was op laerskool/hoërskool toe dit gebeur het (p. 68).

Maar ons heldinnetjie wil ná die hele debakel met Biotron Babas op Kleinmond gaan vakansie hou (pp. 232-233), met die woorde: “ons kan net langs die strand lê, of jy en Jynna kan op die bergwandelpaaie gaan draf. Dit sal salig wees”.

Ek bedoel, die meeste (miljoene) Kapenaars sal hoogs waarskynlik eers toesak op die onmiddellike nabyheid. Maar ook op “groterige” plekke soos Hermanus (héél eerste, want hy lyk die aantreklikste!), Worcester, Oudtshoorn, George, Mosselbaai, maar feitlik alle kleiner plekke en stranddorpe is glad nie gespaar nie. Daar is nog baie oop erwe en strandhuise wat deur die jaar leeg staan van binnelanders waarop en waarin geplak sal word. Die grootste gevaar is moontlik die Weskus, weens die seestrome, so ek sou nie na Langebaan of Saldanhabaai toe vlug nie (my skrywersvriend van Bellville huil klaar oor die “prawns”).

En natuurlik die uittog-paniek, verder aangeblaas deur die verlate Nasperskantore van Heerengracht, want die skoolkinders en die publiek in die Kaap is nooit voorberei op énige ramp nie; dit is trouens ‘n teer onderwerp wat jare gelede aangeroer is in die Duitse skryfster Gudrun Pausewang se jeugroman “Die Wolke” (1987), juis omdat die Wes-Duitsers ook nie op ‘n soortgelyke ramp as in die Oekraïne voorbereid sou wees nie. Met presies dieselfde gevolge. Ek weet niemand wil aan Sir Lowryspas op daardie dag dink nie, maar ons het baie om op voor te berei.

Veral: daar sal meer plundertogte as in die Duitse boek wees, dit kan ek jou verseker! Janna-Berta keer ná ‘n jaar of wat terug huis toe, met Ouma en Oupa uit Mallorca wat op haar tuiskoms wag, die huis totaal ongeskonde, buiten die verdroogde malvas (p. 213). Ek is bevrees met Kapenaars sal dit anders gesteld wees.

Troos jou daaraan: Daar is wel sirenes by Koeberg en omstreke; dit is in Maart 2021 getoets.

Daar kan selfs met verloop van tyd nuwe dorpe gestig word, of plekke soos Protem, of Stormsvlei of Baardskeerdersbos kan uitbrei. Die huispryse sal natuurlik die hoogte inskiet, maar die punt is: dit sal eerder ‘n onmiddellike Wes-Kaapse probleem word as ‘n Gauteng-probleem. Die behuisingskrisis sal egter ongetwyfeld uitkring Pretoria toe, veral as Oud-Pretorianers terugkeer na hul gesinne en of by families moet inwoon, soos Janna-Berta in Die Wolke wat by haar tante Helga in Hamburg gaan bly het. En natuurlik, die “vooruitsig op werksgeleenthede” sal die grootste trekpleister wees.

  • Gereelde en geskeduleerde patrollievlugte (polisiehommeltuie), veral saans.

Dit spaar seker brandstof en die polisie kan meer inligting vanuit die lug bekom as met ‘n patrolliemotor op straat. Die hommels inspekteer almal wat moontlik verdag optree (bl. 4), seker ook iemand in ‘n konyntjiekostuum? As daar probleme is, maak hulle alarm en word die polisie geroep met hul “geneties gemodifiseerde dubbelspierhonde” (bl. 4). Dan sal Hasie moet hol?

“Die hommelpatrollies vlieg soms deur die dag ook, en die polisie en hulle honde is oral.” (p.30) Dit is ook so (p. 53-54).

Voetgangers het gewoonlik polsbandjies wat byvoorbeeld hulle hartklop en asemhaling registreer (p. 4).

Ek was juis die 22ste Julie in ons plaaslike Pick ‘n Pay, en hierdie soort polsbandjies koop jy sommer vir R140 met jou lojaliteitskaart. Dit is mos van daardie soort wat deur Bluetooth met jou slimfoon verbind. Dat die polisie egter toegang in die toekoms tot hierdie data sal hê in die verbyvlug, daarvan hou ek net mooi niks (p. 4)!

As ek net my asemhaling egalig kan kry! En as my hartklop te vinnig is, sal die hommels dit dalk ook optel. Nugter weet watter opgraderings hulle in die laaste week gehad het.

En weet jy, dit kan werklik gebeur ook. Kan maatskappye weier om saam met die polisie te werk en nie jou data te deel nie? Ek is geen regskenner nie – dis ‘n ope vraag wat in hierdie boek gevra word.

Dit kan seker help as jy halfdood op die straat lê, of dringende mediese hulp nodig het. Maar… iemand kon te veel koffie of Coke gedrink het. ‘n Vriendin op skool het persoonlik vir my gesê kafeïen gee haar “hartkloppings”. Dalk het iemand vir sy eie skadu geskrik. Paniekaanvalle is vry algemeen. Iemand kon ‘n pokeraandjie gewen het en hom heeltemal te buite gaan op straat oor sy oorwinning? Gaan ‘n robot daaroor nou die honde op hom loslaat? Om sy hartkloppings nog vérder op te jaag?

Onwettige immigrante se deportasie-tatoeëermerke word met die geringste detail geëien (bl. 2). Dit is nie vir my duidelik in die boek of die hommeltuie getrek word deur vullisblikke wat omgedop lê (wat as ‘abnormaal’ geregistreer word?), of hulle infrarooi-liggaamshitte onder ‘n rommelhoop kan sien, en/of wat hul reaksie op bosslapers of straatslapers sal wees nie.

Persoonlik het ek te veel die rekenaarspeletjie Terminator: Resistance op YouTube deurgekyk om ooit aan hierdie gedagte gewoond te raak. Ek hou net nie van die idee van Skynet bokant my kop nie. Nie as ek rustig in my bed lê nie, ook nie as hulle my sterrehemel kom bederf nie.

  • “Perdebye”  of Insekhommels

Dit is geruislose hommeltuie so groot soos perdebye, en slegs die weermag kan hulle gebruik. Hulle word gewoonlik ingespan om mense op te spoor (p. 124), te agtervolg of videos op te neem (p. 158).

  • Robotkelners.

In die roman is Sybella alte danig met klein kelnerbots wat die kos kom aandra (of kelners assisteer). By Zonga’s is daar vyf wat kelners kan bystaan. Die een is Didi (p. 34), ‘n ander is Coco (pp. 55, 57, 223). Maar tog verkies eetplekeienaars steeds mense as kelners. Die salaris kan nog met kontant betaal word, om te verseker dat hulle nie op die stadstelsels kom nie; dit bied natuurlik uitkoms vir Yala. Sybella het mooi vir Meliwami gevra, en dit is om Sybella se onthalwe dat hy Yala die kans gee. Sy sou in elk geval nooit werk kon kry nie; selfs wettige Suid-Afrikaners sit sonder werk (p. 31). Ook het Jynna, wat aan geheueverlies gely het, by Heaven’s Door gewerk in Bryanston (p. 170,173):

Toemaar pops, nie jou klein sussie nie. Sy bly net hier en was die skottelgoed. Sy waitress by Heaven’s Door en dra baie kort rompies en strikdassies om haar nek, maar dis al. Ek leer haar nog om eendag kliënte te please.

Waarom überhaupt nog sukkel met mense? Dink net: geen stakings, geen uniforms, geen waspoeier, geen klante wat van hul stoele verjaag word vir die volgende nie (‘n mens moet skoon jou kos in jou keelgat aflaai!); geen fooitjies wat tog alles in een blikkie gegooi en onderlangs gedeel word nie, of jy nou ‘n R1000-fooitjie verdien of 10c? Boonop kan mens altyd jou fooitjies op iets anders uitgee, soos nog ‘n koeldrank of so? En dit voel maar ongemaklik as jy alleen in die restaurant sit en die kelners staan soos sfinkse rond.

Of is dit gewoon omdat ‘n robot nie verstaan as iemand sê “ek het my beursie in die kar vergeet” of “daar’s ‘n muisdrol op my bord” of “dit smaak na dooie hoofpad-hadida” of “hierdie vis leef nog” of “ek gradeer restaurante” nie?

As die restaurant glad nie baie besig is nie, wie weet, dalk kan mens met die mensekelners gesels oor Franse filosofie? Mense hou mos van geselskap en dit is wat klante laat terugkom. En die skitterende glimlag ook.

  • Avatarklubs.

Ek het onmiddellik aan VRChat gedink toe ek hierdie woord op bladsy 1 lees. En op bl. 102 is my vermoedens gedeeltelik bevestig. Vir dié wat nou nog nie weet nie: VRChat is ‘n platform waar jy met ‘n spesiale kopstuk (soos die Oculus Quest) oor jou oë sit sodat jy in ‘n 3D-wêreld kan rondbeweeg. Welkom in die skynwerklikheid. Jy het wel ander (hand)stukke in die stelletjie ook nodig om in hierdie wêreld mee rond te beweeg. Jy skep vir jou ‘n karakter en dan kan jy met die ander karakters, personas, fursonas, ens. gesels en ander wêrelde gaan verken of speletjies saamspeel. Hier het ons byvoorbeeld ‘n vriendelike wildehond met gloeirooi irisse en klappende ore wat met ‘n Afrikaanse aksent jou uitnooi na ‘n aandjie in VRChat.

Die meeste gebruik VRChat gewoon as gevolg van covid-19. En dit is bloot ‘n maklike manier om met jou vriende te gesels, “van aangesig tot aangesig”, wat honderde tot tienduisende kilometer ver sit. Jy het wel ‘n goeie, betroubare en blitsvinnige internetverbinding hiervoor nodig. Iets wat die platteland, waar ek bly, nie altyd het nie.

Maar die meeste stel dit aan my baie duidelik: sodra alles terugkeer na normaal, gaan hulle die bril ophang. VRChat is net ‘n tydelike oplossing. Dit voel nie dieselfde as om saam ‘n braai te hou onder die oop sterrehemel nie. Daaroor is hulle baie pertinent. Die aandklokreël, die provinsiale reisverbod en vele ander faktore maak byeenkomste tans (ek skryf op 22 Julie 2021) onmoontlik. Nou kan jy egter jou vriende uit Duitsland, Johannesburg, Kaapstad, Durban, Berlyn, Amsterdam…  almal oornooi en in een vertrek hê.

Wat maak hierdie Avatarklub egter anders? Dit is ‘n saal waarheen jy fisies gaan. So niemand sit agter sy konsole of rekenaarskerm nie. Ek neem nou aan die mens het aan sy persona/fursona verknog geraak, maar wil saam met die ander maats ook fisies in dieselfde kamer wees. Dit is dus nie soos in The Matrix waar almal gaan lê en ingeprop word nie. Voor jou oë verander jy in die persona wat jy wil wees en jy beweeg fisies in die saal rond. Die saal kan volgens tema ingekleur word (p. 102):

Daar, met die hulp van virtuele realiteit en slimlensverstellings, loop allerhande kreature rond. Watter vorm jy ook al wens, kan jy aanneem. Jy kan ‘n dinosourusstert rondswaai of jou hele lyf met meerminskubbe bedek, jy kan vlerke soos ‘n draak hê, of op die hoewe van ‘n perd rondtrippel. En dronk word op die gedagte dat jy jou fantasie vir ‘n uur of twee kan uitleef. Dalk weet die dwerg met die boggelrug regtig waar die pot goud aan die einde van die reënboog is. En daar kan jy jou eie boggelrug wegsteek in die lyf van ‘n Egiptiese prinses.

En, om jou te verlos van die dag se sorge, met ‘n bietjie narkotika by (p. 129):

Niemand vra vrae in die ‘n avatarklub nie. Seker omdat party mense op meer as net pynpille en dagga is. Hulle is in hulle eie dwelmwêreld en stel nie belang in die mense om hulle nie.
  • Daggakafees.

Dit is baie soos die Hollanders se “coffeeshops” waar jy “softdrugs” kan koop. Maar die eienaar moet ‘n “belaglike” hoë daggabelasting aan die staat betaal (p. 11-12), en ek dink jy mag hier drank verkoop, wat sedert 2007 nie in Nederland mag nie. Die polisie slaan ook gereeld op hierdie kafees toe (klopjagte), want (p. 55):

Sommige restauranteienaars buit die verslaafde daggakoppe uit, verkoop hopeloos te veel onwettige dagga aan hulle. Dis sulke klubs wat gereeld polisiebesoeke kry. Ons is definitief veilig hier.

Ek dink dit bied ‘n ander verklarende aanvulling vir die PRAAG-video: “ANC wil dwelms op elke straathoek hê” (22 Augustus 2020). Nee, dis glad nie so lank terug opgeneem nie.

  • VirEwigEk-webwerf.

Dit is sekerlik een van die beste uitvindsels nog, met sy gebreke en al. Die eintlike doel is om mense te vertroos en met die rouproses te help, maar as inligtingsbron kan dit ontsettend baie tyd spaar. Dit herinner my baie aan daardie (sarkastiese) digitale biblioteekassistent, Vox 114 (hier en hier), in The Time Machine (2002), uit die jaar 2030, wat 800 000 jaar later nog op ‘n manier werk.

Op bl. 98 word dit kindervriendelik verduidelik:

“Het jou pa en ma VirEwigEk-avatars gemaak?”

“Nee, hulle het nie, maar ek weet een van Ma se beste vriendinne het al haar aanlyn navorsing, haar foto’s en Facebookdata omskep in ‘n virtuele avatar. Sy praat nou met Ma op die Vir EwigEk-webwerf.”

Ek doop my koekie in die koffie, hap vinnig voor dit te sag word en in die koffie plons. “Ek . . . ek wil haar onthou soos sy was toe sy gelewe het, nie my verbeel ek praat nog met haar avatar nie. Dis tog nie die waarheid nie, sy en Jynna is … weg. En geen avatar met rekenaardata gevoer oor hulle aanlyn lewe, kan hulle ooit lewend hou nie. Wie wil in elk geval tweehonderd jaar later met jou oumagrootjie se oumagrootjie praat? Het jy so iets van jou ouers?”

“Nee, hulle het nie genoeg geld gehad om dit te laat doen nie. Maar ek gee ook nie om nie. Ek onthou hulle op ander maniere.”

Ek weet wat sy [Yala] bedoel. Die mense wat ‘n mens liefhet en doodgaan is weg, maar ook nié weg nie. Dis nie nodig om met lewensgetroue virtuele avatars te praat wat jou hulle foto’s wys nie.

“Wie wil in elk geval tweehonderd jaar later met jou oumagrootjie se oumagrootjie praat?”

Genugtig! Duidelik het Sybella nog nie Assassin’s Creed (2016) gekyk nie. Daar soek wetenskaplikes na die Appel van Eden, wat deur wesens geskep is voor die mensheid self. Die gedetailleerde stamboom strek amper terug tot by Adam. Maar moenie jou kop daaroor breek nie, skat.

Al wat Sybella later doen is haar ma se foto’s aanvra (p. 149) en die proefskrif deurlees (p. 195). Die avatar neem gewoonlik, benewens die stem, ook die maniërismes van die afgestorwene aan – soos die manier wat Rosa oor haar voorkop vee, twee tot driemaal (p. 149).

Hoe kan ‘n mens ‘n bron soos hierdie so onderbenut? Huh? Dis mos onuitputlik!

As mens in ag neem hoe dik en groot al jou internetgeskiedenis (kyk maar na jou inligting op Google Data Export), rapportpunte, Telegram, Twitter, Facebook, rofwerk, video’s, foto’s, dagboekinskrywings, briewe (en ander egodokumente?), rekeninge, ens. ens. is, gaan jy dae aaneen soek na ‘n spesifieke dokument of antwoord. Alles kan jy deur ‘n eenvoudige gesprek kry:

“Hallo, Suidpunt, ek is bly om jou te sien. Wat gaan ons vandag doen?”

“Ek het vrae. Jy antwoord.”

“Hoeveel tyd het jy?”

“Baie.”

“Hoeveel vrae het jy?”

“Meer.”

“Vra maar gerus!”

Dit moes sy nie gesê het nie.

“Wanneer is jy dood?”, “wat is jou haplogroep?”, “is jy verwant aan Kleopatra?”, “waaraan is jy dood?”, “is dit oorerflik?”, “wat het die woord ‘esel’ vir jou beteken: ‘n donkie of ‘n muil?”, “wanneer is jy en oeroupagrootjie getroud?”, “was die seks goed?”, “het hy jou bedonder met ‘n ander vrou?”, “hoeveel keer was jy al siek?”, “het jy al ‘n miskraam gehad?”, “hoe maak mens nou weer daardie noedelslaai wat jy altyd vir ons gemaak het?” “wat was jou beroepe?”, “wat is jou gunstelingkleur?”, “hoe wou jy jou eiers gaar hê?” “wanneer het jy die meeste geld gehad?”, “wie is jou erfgename?”, “sou jy van Justin Bieber hou?”, “as jy ‘n Furry was, nè, watter dierpakkie sou jy wou aantrek?”, “was jy ‘n kerkmens?”, “was jy nog ‘n maagd op skool of ‘n los gelukkie?”, “het jy al boom gerook?”, “was jy ‘n Bloedsap?”, “dink jy soos ek VirEwigEk is ‘n powere webwerf?” …

WAARSKUWING!

Van u vrae druis in teen ons gebruikersbeleid.

Vergewis u eers daarvan.

Onwelvoeglike vrae kan lei

tot u onmiddellike versperring.

Ja, Juffrou.

Die probléém is egter nie my skokkende vrae rondom seksualiteit nie; dit is doelbewus om die skindertonge se kommentaar uit te snuffel wat op lêer sit.

Die probléém is die bydraers! Heelwat welmenende mense het die verkeerde gesig met die verkeerde dokumente verbind. En dan is daar nog altyd die hoorsê: soos my oorlede tante wat nou nog op papier in die biblioteek met haar oudkêrel getroud is, al was hulle nooit eens verloof nie! Hierdie leuen word die ewigheid ingestuur.

  • AmazonGo-winkels.

Ek lag my elke keer suf as ek hierdie woord sien (pp. 37, 38, 75, 144). Want dit was nou net mooi die naweek toe die plundertogte in Durban was (16 Julie 2021 e.v.). Iewers het ‘n grapjas hierdie video gemaak. Iemand het gebruiker clinkonecards op TikTok se “Africa Go”-kaart gejukstaponeer met ‘n klomp plunderaars wat die winkels leegdra.

Ek het lekker gelag by die laaste sin (p. 38-39), dit klink amper soos ‘n selderydieet:

Ek het so lanklaas vars vrugte geëet. AmazonGo se vrugte is vrek duur en ek wil nie by die straatmarkte koop nie. Te veel besmetlike bakteriese siektes in vars kos wat nie deeglik bestraal is nie. ‘n Mens moet versigtig wees wat jy eet.

Maar goed, jy kan jou melk, kaas en eiers daar koop. Die tegnologie is glo verouderd, want Yala sê: “daar is ‘n outydse kontakpunt” (p. 37).

Net gou kommentaar hieroor (p. 37):

Ek tik op die yskas-ikon op my polspaneel. “Ons kaas is op en daar is net ‘n paar eiers oor. Sal jy dit ook kry?”

Jy sal dit nie glo nie, maar in die 2005-tydskrifartikel in Popular Mechanics hierbo staan daar (p. 38):

Fridge/Microwave

An RFID scanner reads a tag attached to every item placed in the fridge. A screen displays the inventory, flagging items that are past their “consume by” date and updating a shopping list. The microwave’s RFID reader IDs any food to be prepared, then adjusts the cooking setting and time.

Dalk is dit net hier langs die kus, maar die blikkies koeldrank begin al deurroes, lank voor die vervaldatum. Ek laat my deur g’n yskas voorskryf nie.

Ek het ook my bedenkinge oor die mikrogolf. Want in die wintermaande moet ek die tyd ‘n minuut langer stel, anders is jou kos onsmaaklik koud. As die ertjies of rys nie reeds swem in die bord van vog trek nie. In die somer 30 sekondes minder, anders is jou kos drooggekook. As jy moet weet, ek is 26 meter bo seevlak.

  • Die einde van selfone, die begin van transhumanisme.

In die verlede is daar dikwels waargeneem hoe selfone ‘n nuwe aangegroeide ledemaat van ‘n tiener is. Nou is dit letterlik, op ‘n manier.

Sybella deel ons hiervan mee (p. 10):

Ek is gewoond aan die XtraTrans-mense wat hulleself tegnologies laat verander het en leef as transhumaniste, wat glo om gewoon te wees is om swak te wees. Die meeste mense laat as tieners ‘n polspaneel inplant, met ‘n enkele brein-elektrode wat al die gewone webdinge doen en ook gedagtetekste toelaat en medtech aktiveer. Ek het myne al op twaalf gekry, en dis meer as genoeg. Maar die transhumaniste het dit baie verder geneem. Hulle is amper meer masjien as mens.

Die polspaneel (dis nou die “selfoon” wat op jou arm ingeplant is) werk nog met lugtyd (p. 15), wat my klaar laat wonder hoeveel teragreep data word binne ‘n uur per dag versend. En hoeveel dit jou kos?

As mens Goue Koors deur Charles J. Fourie (uitgesaai 7 Desember 2020 – 1 Maart 2021 op RSG) geluister het, dan weet jy transhumaniste gebruik ontsettend baie data. Of hulle steel dit, of hulle is verstommend ryk, of het ‘n vroetelmammie wat die goed betaal.

Nou weet jy darem jou snotgladde foon kan nie meer in die swembad val nie. Maar kom ons kyk na die nadele van hierdie ouens (pp. 17-18):

Die transhumaniste met ‘n neuronet leef nie lank nie. Dis ‘n hopeloos te duur prys om te betaal vir versterkte kubervermoëns. Ek sal eerder lank en gelukkig wou leef, nes ek is. Waarom ‘n neuronet hê? Wat ‘n verhoogde metaboliese tempo veroorsaak omdat die brein se behoefte aan glukose verhoog, en hulle lewers dan nie genoeg glukose kan voorsien nie? Die neuronetkuborge gaan vroeg dood aan orgaanversakings, meestal lewerversaking. En daarby kan hulle ook net soveel orgaanoorplantings ondergaan, want die regering belet deesdae dat varkgekweekte organe gebruik word in oorplantings, omdat die risiko van infeksies deur laboratoriumbakterieë die hoogte ingeskiet het die laaste tien jaar. En dan moet die staatshospitale die onkostes dra.

Hulle brand gewoonlik voor 40 jaar uit (pp. 17, 224). Van die vermoëns sluit in dat jy nie 8 ure hoef te slaap nie, webwerwe binne minute kan sif en agterdeure met magnete aan die vingerpunte kan oopsluit (p. 160).

Maar uit ‘n logiese oogpunt is dit ook betreklik dom. Die meeste boeke of inligting waarna ‘n mens soek (in die openbare besit) is nooit dadelik op die internet nie. Baie video’s het geen goeie onderskrifte nie, dus kan jy nie gesproke woorde almal opspoor nie (dink ook aan podsendings). Of dit is nog swak gekategoriseer. Ek dink aan die duisende verhandelings van universiteite wat drupsgewys opgelaai word. Dis eeue se werk! En jy kan ook nie geskrewe dokumente perfek OCR nie. En dus sal soekenjins dit ook nie vind nie. Vir ‘n masjien is sulke tekste onleesbaar. In Holland is daar selfs ‘n webwerf  https://watstaatdaer.nl/ wat jou leer hoe om hierdie skryfkuns te leer lees.

Partykeer is dit ook net stomme geluk. Op Telegram het ‘n kontak een aand “doodhaastig” gebruik. Dit is ‘n woord wat nog nie op my lysie intensiewe vorme was nie. Toe ek die woord google, kom ek af op ‘n verhandeling uit 1974, getiteld “Intensivering in Afrikaans”, met nog 231 woorde by. Nêrens is hierdie woord in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem nie. Dus, sonder ‘n beginpunt, hoe en waarna begin jy soek?

  • Malaria het uitgesterf.

‘n Geenstorm is glo ontketen: alle muskiete het uitgesterf, en daarmee saam die parasiet. In Afrika en Asië (p. 89-90). Yala sê sy dink sy het die laaste keer van malaria gehoor “toe ek nog klein was” (p. 89), wat dus iewers in die 2030’s moet beteken.

Die eerste vraag wat ek my afvra: gaan voornemende sakemanne uit ander wêrelddele nou Afrika bestorm om ‘n winkel hier oop te maak?

Die tweede vraag wat ek my afvra: gaan die uitsterf van malaria enigsins ‘n positiewe impak hê op die bevolkingsaanwas, voedselproduksie,  ens. van die kontinent, of gaan die honger en oorloë net drievoudig vererger soos die getalle hand oor hand toeneem? Dit alleen sal die toekoms bepaal. Maar as Yala Uba in ‘n weeshuis beland het in 2040, toe sy 12 jaar oud was, en die geskil tussen die Mongo- en Lubastamme oor water gehandel het (om beheer van die Ingadamme te kry, “ná jare van droogte en min kos in die Kongo”), lyk die toekoms vir my allermins rooskleurig (p. 27). Maar sou tien jaar so ‘n drastiese verskil meegebring het?

  • Geneties gemodifiseerde babas (en tieners).

Die boek kon die term “genmodbaba” nie beter omskryf het nie (p. 85):

‘n Baie duur, perfekte geneties geredigeerde babatjie. Sonder enige genetiese siektes, met die regte haarkleur, die regte lengte, die regte geslag. Dalk sal die blouoogseuntjie vinnig kan hardloop, dalk sal die rooikopdogtertjie langs hom ‘n bekende operasangeres word.

Dis reeds vir hulle besluit, en versigtig bymekaargesit vanaf ‘n kieslysie op ‘n glastablet.

“Tevens rijst altijd de vraag wie er bepaalt wat meer of minder geschikte erfelijke eigenschappen zijn.” – luidens die Nederlandse Wikipedia (s.v. “Eugenetica”).

Die eerste ontwerpersbabas is in 2030 gebore (p. 16). Die stereotipe kleef dat hulle skatryk ouers het (p. 16, 53), perfekte lewens lei, by eksklusiewe privaatkolleges skoolgaan en uiters, uiters, hautain is (p. 16, 122). Ouers kyk ook nie meer na weeskinders om aangeneem te word nie, want hulle is te bang dat hulle ‘n ramp sal aanneem (p. 53).

Al is dit ook op vrywillige basis, kom dit soortgelyk daarop neer om die fetus wat aan sekere oorerflike siektes ly vroegtydig te aborteer.

Eugenetika of dan “rasverbetering” (absolute sinoniem) is ‘n omstrede onderwerp. In die ou Woordeboek van die Afrikaanse Taal (omrede boekdeel “D tot F” in 1955 voltooi is) word dit nog in ‘n baie positiewe lig beskou, byvoorbeeld in die voorbeeldsinne wat gebruik word:

Die eugenetiek streef daarna om die liggaamlike en geestelike peil van die mensheid te verhoog, en ywer vir huwelike van volwaardiges, terwyl dit tewens probeer om huwelike van onvolwaardiges teë te gaan. Die eugenetiek probeer om beter lewensvoorwaardes te skep vir die ongeborenes van die menslike ras.

Met ander woorde, dit gaan nie soseer oor wat die ouers, of die individu, wil hê nie, dit gaan alles om die nageslag, en dus die gemeenskap, of stand, of groep, op sigself te verbeter. ‘n Mens moet dus hierdie omskrywing in “volksverband” sien, soos in die 1950’s. Dit gaan nie oor die “eie ek” nie, maar die samelewing van die toekoms as geheel. Hierdie intellektuele wesens van sulke hoë peil, die leiers van môre, kon dan uit selfopoffering die volk na nuwe hoogtes lei. Hoe edel dan ook, niks kan keer dat hierdie halfgode in gevalle engele ontaard nie. En dan het jy ‘n paar duiwels.

Soos jy kan sien is die hele “aangeleerde” en “aangebore” gedrag nou maar weer deel van die debat.

Nog ‘n kwessie is die biodiverse eenvormigheid waarop afgestuur word, soos almal ‘n spesifieke trek moet hê, ten koste van ‘n ander.

Soos te verwagte het boekdeel “R” (2009) van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal nie ‘n beduidenis van “rasverbetering” nie. Die begrip bestaan eenvoudig nie meer in hul woordeskat nie.

Pharos, wat toevallig aan Naspers behoort, ken wel hierdie begrip. Die woord “rasverbeteringsleer” is wel opgeneem in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (2011:977):

(histories): Leer wat die verbetering v.d. (menslike) ras beoog deur die voortplanting van persone met nadelige erflike gebreke te belet; eugenetiek.

Afgesien van die noodwendige diskriminasie (en kansongelykhede vir die onuitgelese groepie wat nie in ‘n broeikas met spesiale kenmerke gebore is nie), kan jy klaar die “kloof van ongelykheid” sien wat outomaties nou vir ‘n kantoorgebou in Heerengracht ‘n dichtomiese probleem sal raak. Dichotomies, want hulle kan nie in skakerings dink nie. Soos in The Time Machine (1895) van H.G. Wells gaan daar mos nou noodwendig ‘n uitbuiters- en ‘n onderdrukkersklas ontstaan (merk wéér die dichotomiese twééledigheid!) en noodwendig uitloop op die Eloi en die Morlocks, ens… Bly maar almal ewe monolities dom, dan is daar nie ‘n probleem nie.

En tog lag ‘n Hollandse vertaling (De Tijdmachine) hom dood oor hierdie sotlikheid. Hoe meer jy ongelykhede probeer uitwis, des te meer skep jy bloot ‘n nuwe elite, staan in die voorwoord:

Maar het geldt ook voor elke natie afzonderlijk, die elk zijn eigen onderklasse creëert en voor elk individu afzonderlijk. Geen medaille zonder onderkant, geen borduurwerk zonder warboel aan de ander kant en als je die warboel uithaalt, verdwijnt ook de afbeelding. Geen rijkdom zonder armoe, geen God zonder Duivel, geen hemel zonder hel, geen verworvenheden zonder verwordenheden. En de mens creëert dat allemaal zelf en probeert dat met steeds meer inspanningen in stand te houden, deze toren, zoals Wells schrijft, die ooit op de bouwers zal neerstorten. Waarschijnlijker is het verstandiger hem af te breken, voordat het zover komt.

In de Time Machine ziet Wells af en toe nog het betrekkelijke van de wetenschap in, maar in zijn volgende boeken gaat hij de wetenschap steeds meer als de grote heilbrenger zien en de utopieën die hij dan ontwerpt, zijn even gruwelijk als Plato’s Republiek, Moore’s Utopia, Campanella’s Zonnestad, Fouriers Phalanstère, en al die duizenden ander Utopieën die in de loop der eeuwen bedacht en uitgeprobeerd zijn en die allemaal als basis hadden dat een elite uitmaakte hoe andere mensen moesten leven. De utopie van de democratie, van het kapitalisme is niet minder gruwelijk en de tol die de mensheid daar, in haar onwetendheid, voor betaald onvoorstelbaar misdadig.

Nou ontstaan die etiek klaar weer oor versnelling en vertraging. Moet ons dus wag tot die laaste agteros in die klas uiteindelik in die kraal is (in die naam van gelykheid), of moet ons ‘n eensame touleiertjie (geniaal gebore of gekweek?) 50 tot 100 jaar laat vooruitloop?

Maar nou. Hierdie ontwerpersbabas in die boek moet ons meet teen die eietydse waardes, sedert die 1970’s. Dit is beslis ‘n bietjie baie meer liberaal as die Lebensborn-vereniging. Die fokus het verskuif vanaf die volk of ras na die individu. Dit handel dus nou in individuele belang, ewe veel as wat ‘n fietsryer steroïed sal gebruik tydens die Tour de France. Behalwe, hierdie steroïed word ingebore, soos deur Mamma en Pappa besluit.

En ‘n mens kan byvoeg dit is die vervolmaakte voorbeeld van ydelheid en ouers wat hul kinders vir prestasie druk. Dit handel nie om volksbelang nie, maar eiebelang. Om die eie ego te streel vir hul eie tekortkoming: hulle leef deur hul kinders. En hierdie ouers gaan hulle gat sien, want as die kind eers slimmer as die ouers raak (en mooi geleer het wat selfsug en vertoonsug is), word die ouers ore aangesit. En met sulke leeghoofde vir ouers is dit glad nie moeilik nie. Dit herinner aan ingenieur Jacobs in Jan Rabie se kortverhaal uit 1954, met die titel gelyknamig aan sy laaste woorde aan sy robotbruid: “Ek het jou mos self gemaak” (21+, 2004, p. 83).

In Augustus 1980 verskyn P.C. Haarhoff se kortverhaal “Fofelooi is Sjorsjor” in Tydskrif vir Letterkunde. Met die alleroulikste subtitel: “‘n Verhaaltjie vir kindervryheid”. Dit gaan oor doodgewone Fanie wat deur sy ouers gedruk word om te presteer. Sy talent moet mens tog nie onder ‘n maatemmer wegsteek nie. Hy probeer hom egter so gemiddeld moontlik op skool voordoen, anders eindig hy dalk soos ou Jaap:

Kyk byvoorbeeld wat met ou Jaap gebeur het. ‘n Bietjie te mooi viool gespeel by daardie een kunswedstryd en nou sit hy in New York, weg van al sy maats, weg van sy posduiwe, weg van die moepelbome in die klofie van die Magaliesberg. Hulle moet glo elke dag tien uur lank oefen.

Arme ou Jaap. Sy oë het sommer so dof gelyk op daardie foto waar hy op die verhoog staan met ‘n strik om sy nek, nes ‘n Krismiskat.

Maar hy word uitgevang toe hy op ‘n vraag van ‘n besoekende “man van die universiteit” (wat belowende leerlinge kom keur) aan die skool eendag die geesteswetenskappe verbind met die rekenaarwetenskap, en nou moes Fanie drie middae per week universiteit toe om rekenaarwetenskap te leer, en toe ook sommer op Saterdae ook. Die einde van die verhaal is dat Fanie sonder ‘n woord ‘n rekenaarvirus skryf wat elke totalitêre mag dwarsoor die wêreld aan bande lê. Ook in China, juis op 1 Oktober. Die rekenaarvirus muteer volgens landstaal.

Die VN pak natuurlik die skuld op Suid-Afrika, maar niemand steur hulle daaraan nie. Met die osoonlaag, die walvisse en kernreaktors wat ‘n gevaar vir die mensheid inhou, het meer ouers besluit dat “dit nie meer mode is” vir hul kinders om tyd voor rekenaars deur te bring nie. Op daardie manier bevry Fanie die kinders om waarlik weer kind te wees. Om te speel.

En dit is presies wat aan die einde van hierdie verhaal gebeur met die genmodtieners!

Ek wil amper sê, hierdie boek pas dus nommerpas by die tradisie van Afrikaanse wetenskapsfiksie in.

  • Lugtaxi’s.

Die eerste keer toe ek van ‘n lugtaxi gelees het, was dit in ‘n tydskrif in die wagkamer by die tandarts. Dit was 2017, en ek onthou wel die EHang. Ek het ‘n prentjie daarvan op my rekenaar gesoek op 25 Februarie 2017, om 20:21:34 .

Wel, in 2045 is dit ‘n werklikheid.

EtswagoliWings is glo baie veilig. Die taxi’s “val nooit nie” (p. 26). Dit wil lyk of die Hatfieldstasie sowel die passasiers van die hoëspoedtrein as lugtaxi’s akkommodeer. Soos by ‘n lughawe is daar ‘n BBP-sitkamer vir die duurste e-kaartjiehouers van privaat-DeluxeTaxi’s, en hier kry jy sagte musiek, kunskaggels, Milo, sagte leunstoele, kandelare, klassieke ou skilderye en ander luukshede. En allerhande tradisionele gebak om aan te knibbel (p. 38); jy stap op dik matte in die rigting van die glasskuifdeure. Die vertrektye is “stiptelik” (p. 39, ek neem aan geen rekenaar gaan vir jou wag nie?) en jy word gesê na watter portaal jy moet beweeg. Die rit is geruisloos en vinnig (p. 39).

In hierdie geval is die afstand wat afgelê word min of meer 55 km, want dis tussen Hatfield en Sandton (pp. 38-39) soos die kraai vlieg.

Aanboord kan jy gaskoeldrank geniet, na New Agemusiek luister en jou verkyk aan die hologrambeelde van reënwoude wat die binnepanele versier en die wrede krotbuurte buitekant uitblok (pp. 40-41). As jy sou verkies om die skynwerklikheid af te skakel, kan jou slimlens straatname op die geboue onder inteken (p. 41). Dit herinner baie aan Google Lens, wat ek gereeld op my foon gebruik om nie alleen tekste te vertaal nie, maar ook prente of geboue te herken.

Jy kan wel nog steeds die gewone “outotaxi’s” bestel (p. 134).

Die boek is uiters versigtig om ons brandstof van die toekoms te voorspel. Dit is nou algemene kennis dat motorvervaardigers hul ten doel stel om teen 2030 alle nuwe voertuie wat in Europa verkoop word, elektries te wil hê. Die ou binnebrandenjinmodelle sal met verloop van tyd uitgefaseer word soos nuwe voertuie aangekoop word. Die afgelope maand of wat hoor mens op NPO Radio 1 hoe Volvo (volledig in Chinese besit) popel oor sy produkte in Hollands; die spreker praat van “snelle oplaadtijd” en wie weet wat als.

En Suid-Afrika? Ons spog met oorvloedige voetruimte! Weet jy hoe agterlik klink dít?!

Maar gepraat van Suid-Afrika… Sal die metropole al elektriese laaipunte hê? Gaan waterstof petrol vervang? Of gaan ons soos Amerika nog steeds ou verbrandingstegnologie soek bloot omdat ons nie stede digby mekaar het nie? En mense steeds geen ander keuse het om tweede- (of derde-)handse motors ouer as 50 jaar te koop, bloot omdat daar nie geld is vir sulke nuwes nie? Omdat die Rand oor 24 jaar uiters verswak het teen die vernaamste geldeenhede? En wil jy werklik sulke vlekkelose motors koop net om hulle met die eerste modderige slaggat in sy kanon te stuur?

My vraag is net: as dit vir die gewone mens elke uur wat verloop al hoe onmoontliker word om splinternuwe sedans te bekostig (baie is reeds oor R1 miljoen), en die elite al hoe kleiner word wat spandabel genoeg leef, en die bevolking bly uitbrei, waarvan gaan die tweedehandse mark op die ou end leef? Gaan families later geld maar saamklap vir ‘n skedonk wat vroeër in ‘n kaping was, en toe in Nigerië gaan draai het, en toe…?

So nee, ek dink ons sal tevrede moet bly met die uitskot van die wêreld. Want Suid-Afrika het geen plan nie.

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Donkerbloed is ‘n parodie van die Afrikaanse kultuur in die jaar 2020/2021. Die boodskap is duidelik: ons mag nou miskien van die blinkste tegnologie hê en veerlig reis met lugtaxi’s in 2045, maar ons hele kultuur het sedertdien nie ‘n dag verander nie.

Nommer 1: Die stereotipes rondom die Pretoriaanse voorstede bly sit!

Woonbuurte se sosiale status verander byna oornag – of dit nou weens instorting van infrastruktuur, oornag-plakkery, ens. is. Of, van die rykes gentrifiseer ‘n plek (met ander woorde, koop ‘n krotbuurt op, sloop dit, maak dit ultramodern en peperduur), wat die status laat styg.

Bryanston, Sandton en Kensington B van Johannesburg speel ‘n belangrike rol in die verhaal. Ek was net onseker oor die status van Kensington B, en daaroor het ek by dr. Dan Roodt gaan aanklop [Twitter, 19 Julie 2021]:

Suidpunt: Ek het op bl. 164 van Donkerbloed (wetenskapsfiksie uitgegee in Junie 2021), wat in 2045 afspeel, gelees Kensington B is “berug vir sy bendemoorde.” Daar is ook baie krotbuurte en bordele. Omrede die verhaal in veral Pretoria en Johannesburg afspeel moes ek nogal rondvra rondom die huidige stereotipes / persepsies van die onderskeie voorstede, aangesien ek nie Gauteng ken nie. Veral as mens ‘n resensie skryf, en iemand in die toekoms die boek wil beter verstaan. Buitendien sal dit vir die Kaaplandse lesers verrykend wees. […] Jammer, ek vergeet amper die vraag: is dit waar?

Dr. Roodt: Kensington B… Toe ek op skool was, het ek ‘n vriend gehad wat daar gewoon het. Toe was dit ‘n middelklas-Afrikanerbuurt. Ek sal op die kaart moet kyk presies waar dit lê en in watter mate dit deel uitmaak van die woonstelgebied wat sedertdien ontstaan het. Die sakekern van Randburg is deesdae “pikgietswart” soos mense sê, dus is misdaad maar aan die hoë kant en kan die bendemoorde dalk reeds deel van die werklikheid uitmaak.

[…]

Ek sien nou waar dit is… dis ‘n moeilike een. Daar is ‘n paar woonstelgeboue daar maar meesal nog voorstedelike huise. Dis egter redelik naby aan die sakekern, dus kan van die misdaad seker oorspoel soontoe.

Dit is egter moeilik op crimestatssa.com om ‘n presiese mooi geheelbeeld te vorm. Sandton se polisiestasie hanteer meer as 8 000 sake in 2020, meer as al die omliggende streke, selfs Alexandra. En tog weet ons bly die ryk elite van die samelewing daar. Maar is hierdie polisie dalk net meer op die bol met die papierwerk? Dainfern het byvoorbeeld nie ‘n polisiestasie nie (en die misdaad van hierdie gesogte buurt kan ek nou al sê sal onder die inwoners uiters gering wees), maar die naaste polisiestasie, wat ander gebiede ook hanteer, gee die gebied ‘n slegte naam.

Die meeste van die verhaalgegewens in die roman speel in die voorstede van Pretoria van 2045 af, maar, die plek is vir my (anders as die Wes-Kaap) heeltemal ongekarteerd. Want, ek is in die Overberg gebore en getoë, ek was nog nooit sedert ek verstand gekry het in Gauteng nie. Vir die Pretoriaanse leser sou daar dalk sekere “insider-jokes” (of, grappe vanuit die binnekring) en subtekste wees wat my as Kaaplander heeltemal ontgaan.

Maar dit is geen probleem nie, want ek ken gelukkig ‘n vriendelike polisiebeampte. Sy het haar hele lewe lank nog in Pretoria gebly. Die korrespondensie het plaasgevind op Sondag, 18 Julie 2021.

  1. WATERKLOOF

In die boek bly Lilith Rox êrens in Waterkloofrif (p. 189). En sy is donders ydel, jaloers en selfbehep. Vreemd, want in die Joodse mitologie is Lilith eintlik versinnebeeldend van verleiding. Maar nou weet ek darem ook sy versinnebeeld kindermoord.

Ek onthou nog die boek van Hugo le Roux (skrywersnaam van Gert Basson), getiteld: Bloedoffer vir Lilith (1995). Ek onthou veral hoe die satanistiese vrou die speurder betower en verlei het (ek dink daar sou ‘n offer van ‘n jong maagd op die plaas Mendes plaasvind, vernoem na die bok van Mendes, soos ons dit ken: die bokkop), maar toe was ek nog ‘n tiener en het die helfte van die detail sedertdien weer vergeet. Die Kaapse biblioteke is almal toe danksy die Vlak 4-grendelstatus, so ek kan jou nie verder help nie.

Sybella merk elders in die boek op: “Om my flits die hologramadvertensies op die mure van Bryanston se toringblokke helder en aanhoudend. Vakansies in die Bahamas, spoghuise in Waterkloofrif en Sandton, perfekte genmodkinders. Al die dinge waarmee die heel rykes hulleself besig hou” (p. 196).

Daar is iets so cliché, iets so holrug aan die hele advertensie. Dis ‘n karikatuur. Waarom nie Réunion nie? Dis amper soos: “ons gaan Bahamas toe, want dis waar ons dink die rykes van oorsee gaan vakansie hou.” So iets.

Maar Lilith se flambojante leefstyl (insluitend haar blinkrooi Lamborghini Aventador) verpersoonlik egter Waterkloof véél beter (p. 185):

“Ai, Sybella, dis mos duidelik! Ek gaan rustig uitloop saam met jou sustertjie en jy gaan my ongelukkig nie kan keer nie. Nie as julle lewend hier wil uitkom nie. Ek persoonlik gee nie regtig om nie, ek sal julle lyke ook nou kan gebruik. Natuurlik verkies ek minder bloed so vroeg op ‘n wintersoggend. Ek het hierdie woljas net gister gekoop.” Sy vee oor die nertskraag om haar nek.

Nou hier volg my korrespondensie met die polisiebeampte.

Suidpunt (in my brief aan die korrespondent, meer met ‘n vraagteken by):

Waterkloof is waar die snobs bly [ek is jammer as van jou familie of vriende dalk daar bly, maar kom ons sê net daardie groepie kry hier [in die Overberg] ‘n kultuurskok van hul lewe].

Hulle kom hier met hul praalsiek Parkerpenne, Markhams-pakke en hopeloos te blink motors in [die Overberg] aan, net om binne 3 jaar later met ‘n Bic te skryf, ‘n bakkie te ry, ‘n T-hemp met kortbroek en plakkies te dra, en minder grimering aan te sit. En hul oorronde aksent word afgeleer (ak > ek) om nie snaaks aangekyk te word nie. Ook besef hulle alte skielik die biologiese herkoms van die Rûensboere tel hier meer as jou fortuin – jy bly ‘n inkommer, selfs ná vier geslagte. Ook ry hulle skielik ‘n kleinerige karretjie, want die strate is skielik nogal nou. En jy wil nie jou motor stamp nie. Wat jy nie in die dorp kry nie, bestel jy maar alles aanlyn, anders sal jy elke dag moet Kaap toe ry wat etlike 100’e kilometer hiervandaan is (én terug), en petrol is nogal duur. Jy sal egter wel ‘n groot motor wil hê as jy oor naweke êrens heen wil ry (al is die Kaapse lewe juis meer binnenshuis).

Korrespondent:

WATERKLOOF (genoem “WAH-THUR-KLÜFF” deur die larneys wat daar bly & fênsie wil klink)

Ja, die pretentious, rykes & wil-graag-ryk-voorkom bly hier. Hulle sweer hulle weet nie wat ‘n PEP store of ‘n Checkers is nie, en koop al hulle groceries van Woolies af (natuurlik net organic & free range!). Die vrouens doen yoga & drink bitterduur koffies, terwyl hulle suutjies-bitch is met mekaar.  Die mans werk in Johannesburg. Die kinders weet nie van swaarkry nie en wil ‘n Hummer hê vir hulle 18de verjaardag (maar as dit die verkeerde kleur is, HAAT hulle ouers hulle mos).  Hulle laaik van semigrate na die Kaap toe waar alles “soveel beter is”.  Bly om te hoor julle maak hulle bietjie gelyk. XD

 [Suidpunt, kan ons sulke “Afrikaans” op PRAAG plaas? – red.]

  1. GROENKLOOF

Hoewel hierdie voorstad nêrens genoem word in die boek nie, is dit net langs Waterkloof. Die miljoenêr, Klaus D. Vaqué, skryf in sy outobiografie hoe hy navraag gedoen het ook die huise wat daar te koop is. Vaqué is bekend veral in die behoudende kringe vir sy blad “The Insider” van die jare 1980’s, asook die boek: Verraad teen Suid-Afrika. Hy verwys hier spesifiek na Herbert Bakerstraat, waar hy en sy gesin later in 1978 sou intrek (An der Hand Gottes, 2004:122):

“Hier wohnen wohl nur Millionäre?” fragte ich. “Nein”, erwiderte die Maklerin trocken, “auf dieser Straße wohnen nur Multimillionäre. Die meisten sind reiche Geschäftsleute, Ärzte und Rechtsanwälte, aber auch viele Diplomaten haben hier ihre Residenz.”

Vrye vertaling:

“Hier bly mos net miljoenêrs, nè?” vra ek. “Nee,” antwoord die eiendomsagent (‘n vrou) droog, “in hierdie straat bly net multimiljoenêrs. Die meeste is ryk sakemanne, dokters en prokureurs/advokate, maar ook baie diplomate het hul ampswonings hier. “

In hierdie subtropiese sone van Pretoria kan jy piesangs, lemoene, papajas, mango’s, en feitlik enige tropiese vrugte kweek. Ryp kom hier nie voor nie.

My korrespondent skryf:

GROENKLOOF (natuurlik met harde-G en die “KLÜFF” soos hier bo)

Mense wat so ryk is dat hulle dit nie nodig vind om vir mense te sê hulle is ryk nie.  Hulle hou van bergfiets ry & doen baie pretdrawwe wat hulle dan op social media post om te wys hoe “woke” hulle is. Hulle “gee om” oor hulle medemens, maar meestal vir clout.

  1. EASTWOOD

Eastwood is die plek waar ons hoofkarakter in 2045 nou bly. Klaarblyklik is dit ‘n aangename buurt. Sy [Sybella Francke] het eers in ‘n groot huis gebly, maar die plaaslike owerheid het dit “oorgeneem” (sic […]) en dit in woonstelle omskep, weens die lastige behuisingstekort. Die Francke kon egter die tuintjie hou, al is die natuurskoon nie meer nie.

My korrespondent skryf:

EASTWOOD

Reg langs Loftus en vrot van studente kommunes. Dis is ‘n relatiewe goeie woonbuurt, maar die huise is stokoud. Dit is deurspek van ambassades (onder andere die Amerikaanse een).  Ek sou nie persoonlik kies om daar te bly nie, want dit is maar bietjie vergete en grens baie na aan beide Sunnyside & Hatfield, maar dit is die duurste van die drie opsies.  Dalk juis die rede hoekom dit oorgeneem word vir hoë volume behuising in die storie, aangesien beide Hatfield & Sunnyside groot woonstelblokke het, en die bestaande erwe nog steeds nogal groot is.

  1. SUNNYSIDE

Sunnyside het in 2045 ‘n indrukwekkende naglewe (ook met daggakafees waar die base daggabelasting vir die staat betaal). Daar is wel sporadies straatkinders en hokgevegte (‘n bloedsport tussen mens en mens, wat die owerhede verbied aangesien robot-rofstoei die grootste gros geld inpalm en silikoon wat bloei darem nie so erg is nie (p. 32)) maar polisiehommeltuie patrolleer elke aand die gebied, met geneties-gemanipuleerde dubbelspierpolisiehonde vir enige probleem in die nabyheid. Maar, jy kan glo saans daar rondloop, ek bedoel – om vanaf Sunnyside op jou skaatsplank tot in Eastwood te ry in die aand? (wel, ja, want hierdie niggie [Sybella] is 17 jaar en 10 maande oud, en kan nog nie drink of bestuur nie), dan moet dit seker veilig wees?

My korrespondent skryf:

SUNNYSIDE

Meer soos Scummyside… alhoewel dit op die oomblik bietjie van ‘n herlewing & vernuwing beleef, bly meestal arm mense (onder andere buitelanders) daarso.  In die sewentigs was dit DIE PLEK om te bly as jy jonk was – my ouers het selfs daar gebly vir ‘n hele paar jaar.  Ek sou definitief nie op straat wil wees in Sunnyside nie. Nie dag of nag nie.  Ek sou myself dood stres, maar tieners is mos maar domastrant.  In die 90’s het ons altyd by Sterland gaan fliek en dan sommer die 4-5 blokke na SunnyPark toe geloop waar ons ouers ons sou oppik soos 10 uur in die aand.  Sal dit nie nou wil doen nie…. Ongure mense & haweloses op die strate wat bedel.  Gegewe die desperate bevolking, sou ek kan sien hoekom die hommeltuie & polisiehonde daar patrolleer!

Soos ek bo gesê het, grens Eastwood & Sunnyside op plekke aan mekaar (dalk met Arcadia in die middel?), so dit sal ‘n reis van so kilometer of twee wees afhangend van waar die begin- & eindpunte was.

  1. ARCADIA EN HATFIELD

“Daar is meer dronk en moeilike mense in Arcadia en Hatfield as in Sunnyside” (p. 30).

Al wat ek van Hatfield weet is dat Protea Boeke se hoofkantore daar is (Burnettstraat 1067).
My korrespondent:

ARCADIA

[…]  Die plek is omring deur hoë woonstelblokke. Kleeeeeeeeeeeeein trappie beter as Sunnyside, maar die sekswerkers is al vroegdag op straat besig om klante te werf. Dwelms & diefstal is ook ‘n probleem, en [jy wil liewer nie jou kar op straat los nie].  Ambassades met hoë mure is volop […], en die Uniegebou is so twee blokke weg.

HATFIELD

Reg om TUKS, en VOL studente!  Baie kommunes is platgeslaan om hoër woonstelblokke te bou om al die studente te akkommodeer.  Die amptelike koshuise word al jare vooruit bespreek EN is ongenadiglik duur (meestal omdat mens vooruit moet betaal in Januarie).  Meeste mense verkies om ‘n woonstelletjie te koop of te huur vir hulle kinders, maar bouers kan nie voorbly nie.  As gevolg van al die studente met expendable income uit pa se beursie, is die dwelm bedryf & kuierplekke alive & well hierso, so BAIE dronk mense. Ek sou meer geredelik hierso rondloop in die aand as in Arcadia of Sunnyside (baie plekke het sekuriteitswagte wat strate redelik skoon hou van verdagte mense).

  1. MAMELODI

Mamelodi is volgens die boek in 2045 ‘n oop rioolsloot (p.22):

Ek verstik amper aan my koffie. Geen mens kan dit oorleef in Mamelodi se krotbuurte nie. Die heel armstes bly daar. Daar is geen rioolstelsel of elektrisiteit nie. Daar is ook nie genoeg kos nie.

Mense leef letterlik ondergronds soos bytende blindemolle, of in sinkplaatgehuggies opmekaar gestapel. En as mens die messtekery oor brood of pap oorleef, gaan jy dood aan die geringste infeksie, omdat antibiotikum al jare lank oneffektief is en niemand daar mediese nanobots kan bekostig nie. Dis nie ‘n lewe wat ek ‘n kakkerlak op krukke sal toewens nie.

My korrespondent  antwoord:

Dis ‘n hool… ek was al ‘n paar keer in om kollegas laataand af te laai en ek het GESWEET.  Niemand steur hulle aan padreëls nie en die pad self is in AAKLIGE toestand.  Daar is ou dele wat meer township as lokasie is, maar die gehuggies is ontelbaar.  Die township dele het netjiese huise met groot hekke & klein erwe.  Dit was een van die brandpunte nou hierdie week [12-18 Julie 2021], so dit sal jou ‘n idee gee van hoe op mespunt die plek is.  Ligte stootjie, en anargie neem oor.

Op navraag was sy so gaaf om nog ander dele in te sluit:

PRETORIA-WES

Tradisioneel ‘n arm (blanke) woonbuurt aangesien dit naby die industriële gebiede is en dus die werkersklas moes huisves.  Huise is oud & vervalle, met bywoners oral.  Dele het verbeter na middelklas toe, maar die stigma van armsaligheid loop nog sterk.  Dink… Tannie Stienie van Agter Elke Man (maar jy is veels te jonk XD) – curlers & sigaret opi lip wat oor die grensdraad skinner.

PRETORIA-NOORD

[…]  Word ook op neergekyk van mense in die Ooste, maar net omdat hulle nooit uit hulle eie woonbuurte durf gaan nie.  Pretoria-Noord het BAIE arm dele (Wolmer) & BAIE ryk dele (Florauna) binne ‘n paar blokke van mekaar en straatadres maak saak hierso.  Erwe is groot (burger of half burger erwe) met huise uit die 1940-1960’s.  Meestal pensionarisse wat in die middelklas bly […], maar baie mense keer terug om families groot te maak hierso.  Dit het klein dorpie gevoel en ons spot dat mense van die res van Pretoria hulle paspoort moet wys om die Boereworsgordyn oor te steek tot in die Noorde.  Alles is nog bitterlik Afrikaans […].  [Pretoria-Noord] geniet ‘n subtropiese klimaat en is maklik een tot twee grade warmer as die res van die stad.

Belangrike punt dat mense baie keer Pretoria-Noord en die Noorde van Pretoria verwar.  Pretoria-Noord is ‘n voorstad (ek roep hom “Pretoria-Noord Proper”).  Die Noorde van Pretoria sluit in Pretoria-Noord, Montana, Akasia, Sinoville, Annlin, Theresapark ens – dus al die voorstede agter die mees Noordelike rif van die Magalies.

DIE MOOT

‘n Area wat belangrik is.  Die deel lê tussen die Noordelike Magalies & die Magalies waarop die Uniegebou staan.  Groot ou huise wat nou ‘n baie fashionable plek is om te bly.  Mense herstel & vernuwe die ou huise om die mid-1900 elemente ten toon te stel (kaggels, houtvloere, groot stoepe ens).  Eiendomspryse klim nou weer, alhoewel daar ook dele is wat nog bekostigbaar is (Kilnerpark).  Aangesien dit maklike toegang tot die stad het, hou die yuppies daarvan om in hulle ou, nuwe huise te bly.

Nommer 2: Die kos is uiters tradisioneel.

Toe ek “wit lelies” die eerste maal lees (op bl. 48, dink ek), toe weet ek dit beteken moeilikheid. Gewoonlik gee jy dit vir die naasbestaandes uit simpatie, tydens afsterwe van ‘n geliefde. Dit is ook ‘n gewilde begrafnisblom. En inderdaad, dat Lilith Rox hierdie reukstof aanspuit, is nie net ‘n volksetimologiese sinspeling op haar naam nie, dit is ook die “blom van die dood” (p. 208). Sulke ou Westerse simboliek het in 2045 sowaar behoue gebly. (Seker ook omdat die bloemiste die gebruik aan die lewe hou?)

Maar wat van kos?

Kyk, tieners (die teikenmark van hierdie boek) is maar altyd honger. As hulle nie altyd moeg is nie.

Maar dit is opvallend hoeveel keer daar na kos dwarsdeur die boek verwys word. Liewe maagtig.

Ek het eers gewonder: hoe pas dit by die storie in? Is dit maar om te pas by die “kleur maar die leë dop in”-tema? Jy weet, wát ons buite-om aantrek teen die koue (nie wáárom nie), wáár ons bly (nie wáárom nie), wáár ons studeer (nie wáárom nie), wát ons op ons borde laai (nie wáárom nie), waaruit ons eet (nie wáárom nie), waarmee ons ry van punt A na punt B (nie wáárom nie), hoe ambisieus ons is (nie wáárom nie), hoe ons onsself uit botteltjies en buisies mooimaak en jonger laat lyk (nie wáárom nie)… Met ander woorde, dit handel dus oor waarméé ons heeltyd ander kan beïndruk, terwyl ons eintlik binnekant op kulturele en geestelike vlak onsself beroof en steeds dólléég bly? ‘n Toespeling op sekere stereotipiese beelde van Waterkloof?

Ek weet ek hoef nie vir PRAAG-lesers hieroor te preek nie.  PRAAG-lesers dink diep genoeg.

Maar eintlik draai kos verbasend genoeg ook om tradisie. Die mooi van tradisie. Dit handel om smaak. Eerstehandse ervaring. Tradisie wat homself oor en oor bewys het, en immergewild bly. In skrille kontras met van hierdie weersinwekkende ultramoderne tegnologie. In Donkerbloed word jy genadiglik genoeg nog nie gekarameliseerde mopaniewurm of kakkerlak-in-‘n-sojasous bedien nie.

Van die disse wat nou werklik eksoties is, is by een of ander uitspattige restaurant, die Pastiche (p. 72). Tog klink die name vir my nogal aptytlik. Soos “Weskuskreef met hibiskus-consommé” (hopelik in ‘n akwarium geteel, met hierdie Koeberglekkasie, en die koue seestrome, jy weet… “ ‘n mens moet versigtig wees wat jy eet”) of “speenvark met klapperkerie en saffraan” (ek het dit self nog nooit geëet nie).

‘n Mens besef nie eintlik hoe oud van hierdie disse is nie. Nog in hierdie jaar, juis op Paasvrydag, 2 April, kry ek kerrievis op rys op my bord. Toevallig lees ek dieselfde dag Aanmerkelyke ontmoetingen in de zestienjaarige reize naa de Indiën deur Jakob de Bucquoi (1744). Ek het mos navorsing gedoen of Afrikaans in Maputo vandag gepraat sou kon word. Daarin vind ek die woorde “Kerry met Visch” (p. 70) en “dat is de hooftschotel gekookte Ryst, en de toespys een Viskerry” (p. 100). Jy sal ‘n paar bestanddele in daardie boek kry, maar ongelukkig geen resep nie. Hoogs waarskynlik is hierdie dis selfs ouer as die boek self.

En tog is daar ook deels van dekonstruksie ter sprake. Wat jy van hawermoutpap dink, is nie wat ek daarvan dink nie. “Hawermoutpap”, die begrip, die konsep, vereenselwig ek gewoonlik saam met appel-en-kaneel-smaak uit ‘n sakkie, met kookwater uit die ketel, met ‘n teelepel suiker of wat, vir ontbyt, of op ‘n Sondagaand as ek werklik nie lus het om kos te maak nie. Veral nie ná ‘n swaar ete die middag nie. En juis omdat dit Sondagaand is, voel ek onrustig oor die Maandagoggend. Die hawermoutpap bring vir Sybella weer herinneringe terug van hul Desember(kampeer)vakansies by Kleinmond (p. 61): “Pa het net pap geëet as Ma spek en eiers ook gebraai het.”

Kos word selfs in ‘n vergelyking gebruik: “Zuri se oë vlieg wyd oop. Sy loer vinnig op haar polspaneel na haar deurkamera. Word so wit soos die blanc-mange-nagereg wat Ouma Olivia soms Sondae gemaak het” (p. 125).

Op bl. 56:

Rosa Francke. Haar naam was bekend dwarsoor die wêreld. Vir my was sy maar altyd net Ma, wat Sondagmiddae rosyntjiebrood gebak en my in haar arms gehou het as ek huil omdat ek nie my wiskundetoetse deurkom nie.

“Bokomo, die tuiste van heilsaamheid” weerklink Margo Luyt se TV-advertensiestem nou nog in my ore.

Daar is ‘n soortgelyke huislikheid, ‘n bekendheid en geborgenheid hieraan, in skrille kontras met die tegnologie.

Heel interessant lyk die kos by Hatfieldstasie (waar sy op haar vlug wag) eintlik baie op tradisionele padkos, veral as mens in gedagte hou dat die (hard)gekookte eiers al sedert die Tweede Vryheidsoorlog of vroeër in ons kosblik is. ‘n Bottel wyn, brandewyn of knertsie jenewer op die trein was meer as ‘n eeu gelede ook niks snaaks nie. En hier kry ons (p. 38):

Vars vrugte, delikate klein koekies, snye koue vleis, gekookte eiers, neute, jogurt, koffie, wyn en selfs whiskey. Ek sit stukkies mango, ‘n paar aarbeie en twee roompoffertjies op my bord.

By die kafeteria van Biotron Babas is ook niks uitsonderlik ongewoon nie (p. 75):

Toebroodjies, pasteie, koeldrank, vars vrugte, botterbroodjies [skóns?], tertjies, koue vleis. Die keuse is amper groter as by AmazonGo se hiperwinkels.

Die enigste dis wat vir my wel effe snaaks voorkom, maar niks buitengewoon nie, is die bakkie kos by die twee Admin-doedies, Tanjo en Kari. Kari “steek-steek met haar vurk na blokkies soja in haar avokadoslaai” (p. 76). Ek sou eerder stukkies ham of spek verwag het. Maar ja, Woolworths het ‘n “simple soya avocado”-slaairesep, sien ek. Hoe in die mode veganisme of vegetariese eetgewoontes in die roman is, weet ek nie. Maar duidelik het dit óf so alledaags geword dat niemand hulle meer aan ander se eetgewoontes steur nie, óf die volk het hul vleislus herontdek.

Gegewe ook hoe snaaks die mensename lyk (geen Johan, Danie, Jaco, Pieter, Willem, Stefan, Susan, Marie, ens. wat eeue aankom nie – name wat millennia aankom), voel dit byna onwerklik hoe tradisioneel die kos gebly het.

“Ons mag miskien almal van naam verander het, maar eintlik bly ons almal in wese dieselfde ou sous.” Dis die boodskap wat ek kry.

Nommer 3: Hoe meer gekunsteld en vervreemdend die tegnologie in ‘n globaliserende wêreld raak, hoe huisliker, ouwêrelds, regionaal en natuurliker die taalgebruik.

Hiervan is daar ‘n oorvloed in hierdie roman, en dikwels word die natuur betrek vir komiese of oordrywende effek. Waar tegnologie betrek word, neem dit gewoonlik ‘n negatiewe nuanse aan. Die taalgebruik vind ek kostelik.

Onder andere is Sybella se bynaam Kwarteltjie, omdat haar vel (op die gesig) gelyk het soos die dop van ‘n kwarteleier (p. 21). Jax het weer “leeugeel oë” (pp. 12, 172):

Ek kyk direk in sy ligbruin oë. In die ligte vanaf die dansvloer lyk hulle amper geel, soos dié van ‘n leeu.

Maar daar is nog ander voorbeelde:

“Die kaalkopkuborg gee my alreeds die blouaapstuipe” (p. 17);

“Diamante hang aan haar ore soos trosse glinsterende druiwe” (p. 19);

“Seth met die koringbruin hare en seegroen oë, wat geroeste spykers met ‘n vierpondhamer in my hart geslaan het. Nie dat ek al ooit ‘n vierpondhamer gesien het nie” (pp. 23-24).

“Hy is net agt jaar ouer as ek, maar ek kan hoor hier kom ‘n pa-preek aan” (p. 29).

“Werk in Etswagoli is in elk geval so skaars soos renosterhoring, selfs vir wettige Suid-Afrikaners” (p. 31).

“Ek sal seker ook weghardloop as ‘n kuborg soos Cedric Morton met sy vinger in my bier kom roer” (pp. 33-34).

“Lilith Rox mag mooi en bekwaam wees, maar dit het gevoel of ek soos ‘n paddavis in ‘n vlak petribakkie gewriemel het. Wat wag dat sy ‘n naald in my gaan druk om my selle te onttrek.”
(p. 48)

“Dit was baie meer as dit. Dit was verraad. Dis asof ‘n visgraat dwars in my keel steek en ek nie asem kan kry nie.” (p. 71)

“Die tyd saam met hom lê nog warm in my, soos varsgebakte brood op ‘n koue wintersoggend” (pp. 72-73).

“Gedagtes wat in my kop gedraai het, om en om, soos ‘n waterkewer in die enigste klein waterkol op ‘n modderdroë pan” (p. 73).

“Gelukkig is etenstyd net twintig minute lank voor ons weer gaan geld maak vir Biotron Babas” (p. 77).

“Hy glimlag vir my. Soos ‘n akkedis wat ‘n muggie met ‘n afvlerk raaksien en sy tong spoeg smeer.” (p. 82)

“Dit voel of my brein in ‘n vuurwarm windtonnel uitgedroog word” (p.115).

“Zuri blaas oor haar MiIo. Toe sy opkyk, is haar groen oë so skerp soos dié van ‘n straatkat” (p. 124).

“[…] Lilith lyk vriendelik vanmiddag. Haar hare hang los gekartel oor haar skouers, haar naels babapienk geverf. Soos die buitekant van ‘n silikoon-uterusborrel” (p. 132).

“Sy is hopeloos te glibberig na my smaak. Soos ‘n seepaling gesmeer met kookolie” (p. 140).

“Sy is beeldskoon. Loop so grasieus soos ‘n bergkat” (p. 167).

“Die skarniere kerm soos ‘n tarentaal […]”(p. 167).

“Hy was mos ‘n army reject, voor daai geldgeitjie hom aangeskaf het” (p. 229).

Nommer 4: Op geesteswetenskaplike gebied is die wêreld tot stilstand geruk.

Dit het my reeds gepla dat die Unisagebou nou bewoon word. Hul webwerf spog tans met die grootste akademiese biblioteek in Afrika. Ons praat hier van oor die 1,5 miljoen boeke. Dit is nog voordat mens die museum byreken met oerartefakte uit Afrika. Maar teen 2045 het die staat dit goedgedink om daardie gebou op Muckleneuk só in te rig (p. 94):

Graffiti op die mure van die geboue wat eens op ‘n tyd Unisa was. Suid-Afrika se grootste korrespondensie-universiteit. Nou het arm stadsinwoners daar ingetrek, dié wat darem die klein, beknopte regeringswoonstelle kan bekostig.

Dit is onder andere by hierdie volkshuisvesting (om nou die ou Nederlandse woord te gebruik) waar Sybella saans baie laat haar graffiti spuit (p. 50). So nou is my vraag: waar is al daardie biblioteekboeke heen?

Daar word net vlugtig verwys na Jax se antieke stel Game of Thrones-boeke (pp. 25, 110). Maar ook “die digbundels en storieboeke” (‘dis ook oud’) wat vir Sybella duidelik sentimentele waarde het, maar waarskynlik nie gesteel sal word (p. 9); dit het vroeër aan haar Ouma Olivia behoort.

Yala vra Sybella of sy maar die digbundels kan deurblaai om haar Afrikaans te verbeter. Sybella lees veral die digbundels. Opvallend genoeg sluit die name wat dan volg baie netjies volgens dekade aan (p. 63): Ingrid Jonker (1950’s-1960’s), Antjie Krog (1970’s-2010’s), Hilda Smits (2020’s). Die gedigte bring herinneringe van Sybella se ma terug, omdat laasgenoemde party middae met die digbundels op haar skoot in die son gelees het.

Sybella hou veral van Antjie Krog (p. 63):

“Jy weet jy kan hulle enige tyd lees. Ek dink Antjie Krog is my favourite. Gaan lees ‘n bietjie ‘Ek wil’.”

Dis die gedig wat ek altyd vir Seth gelees het. Ek wou myself vir jou gegee het, Seth, stil soos ‘n koorsboom, soet en oop soos mispels. Ek wou.

Kom ons begin by die begin. Game of Thrones is duidelik in die roman gebruik om die tieners van 2020/2021 te boei met die eietydsheid, hoewel ek reeds wonder of hy die tyd tot in 2045 sou deurstaan. Kyk mens na Google Trends, dan sien jy ‘n geweldige opbloei in belangstelling met elke nuwe reeks, maar dan val dit elke keer weer soos ‘n baksteen. Met elke nuwe reeks sak die plato (die wagtyd vir die volgende reeks) al hoe laer. Dit is egter self ‘n teorie wat ek toets, en alleen die tyd sal leer of my teorie korrek is. Ek kan verkeerd wees.

Antjie Krog is in Donkerbloed ‘n interessante verskynsel. Sy het eintlik drie betekenisse.

Die eerste betekenis is natuurlik die vanselfsprekendste: die liefdesgedig, wat haar aan Seth herinner.

Die tweede betekenis is (en dit is redelik onderliggend): Krog is in die literêre kringe bekend vir haar “vers van verset”. Sy skryf oor taboe-onderwerpe om aandag te trek en die skokwaarde self. In hierdie verhaal sluit dit aan by Sybella se “verf van verset”, met presies dieselfde doel: om aandag te trek. Sy spuit graffiti à la Greta Thunberg (p. 95):

“Dis . . . dis ongelooflik! Dit lyk nogal… asof jy kwaad is, maar dis ook vreeslik mooi! Die kleure! Alles is so lewendig.”

“Ja, dele van my is seker kwaad. Die polisie sien dit as proteskuns, as anti-regering. So hulle het dié tipe straatkuns verbied. Hulle wil nie ongemaklik voel oor die brutaliteit in die kuns nie, nie herinner word daaraan dat hulle derduisende spesies laat uitsterf het sonder om ‘n vinger te lig nie. En nooit effektief teen wildstropery opgetree het nie.” Ek trek my serp stywer om my nek, ril teen die koue. “Hulle teiken my skilderye spesifiek, my en ‘n paar ander straatkunstenaars en muurskilders wat ‘sensitiewe kwessies’ teen die mure uitbasuin.

“Dis ongelooflik! Dis rof, maar mooi ook. Ek sou nooit eens kon dink… dat jy so iets… kan doen nie!”

“Ek dink dis seker meer omdat dit my manier is om my pa te onthou. Hy het geskilder – rustige goed, nie so wild en blatant soos dié nie. Hy was baie lief vir die natuur. En hy was altyd ontevrede omdat die regering nie genoeg gedoen het vir natuurbewaring nie, toegelaat het dat al die wildtuine verdwyn, die renosters en olifante gestroop word. So nou verf ek meestal proteskuns. Ek doen soms sagter goed ook. Maar dié maand verf ek alles wat my omkrap. Ek gaan deur fases.”

Mej. Sybella Francke. Jy het my gesoek. En nou het jy my gekry. Jy het nou die Hollander in my wakker gemaak. Hierdie dag sal jy berou.

Iets is drasties in jou genepoel verkeerd.

Jy praat die grootste klomp kwak onder die son! Jou adrenalienvlakke skiet deur die stratosfeer as jy voor die hommeltuie wegvlug (p. 96), en jy hou aan en aan daarmee. Tot die dag wanneer jy in die tjoekie sit. Nee, jy kry nooit genoeg daarvan nie; brandstigters voel presies dieselfde opwinding voor die vuurhoutjie getrek word. Dis ‘n sieklike psigose. Dis immers hoe jy Yala ontmoet het. Moenie dink ek weet dit nie; hoe anders weet jy die hommeltuie kom oor “drie minute”? “twee minute”? “een minuut”?, “sekondes”? (pp. 1, 2 ,3). O, die opwinding! Die spanning bou op! En Maliwemi weet goed van jou “verwery” (p. 29). Jou Ouma sou jou gefoeter het oor jy oumense se pensioengeld so mors, om jou klad reg te maak. As jy wil verf, verf jou eie woonstel. Maar nee, jy beklad ander mense se eiendom. Verbode vrugte is mos lekkerder, nè?

As hierdie diere vir jou so belangrik was, sou jy nou met jou neus in ‘n boek gesit het en biogenetika leer dat jy skeefhang. Jou eie Jurassic Park oopmaak, en al die uitgestorwe diere terugkweek. Wat ‘n wonderkind!

Of veil op eBay ‘n skildery op en laat die ponde inrol, as dit moet. Soos jou morrende liewe pappie wat net bek was en van die rots (en sy goue voetstuk) deur ‘n brander afgebliksem is, kon doen, maar nie het nie! En dit maak hom dus ewe aandadig aan die kollektiewe skuld! Ja, hoor! Of vra Jax om ‘n stroom te hou op Twitch en samel ‘n fortuin in vir daardie diertjies wat so lief en dierbaar is, toe? Of waarom nie gewoon by die DBV inklok en jou hande bietjie vuilmaak nie? Dit sal tog te mooi lyk op jou CV. Hoeveel rondloperbrakke is daar in die verhaal? Maar nee! Jy is ‘n regte klein aandagvraat, jy. Ander fiktiewe tienerkarakters moes veeartse bystaan en toekyk hoe lydende diere uitgesit word (Groen is die kleur van genade, Marlene le Roux, 1993). Jý, Sybella, het dit te maklik. Is dit die verleentheid waarvoor jou moeder haar voor die proefbuise afgesloof het?

Jý gaan nou vir jou ‘n blik wit verf koop en regmaak wat jy verbrou het. Ek wil jou nie sien voor jy nie klaar is nie. Nee, vanaand slaap jy in die tuinhuis. Dis lekker winterkoud genoeg daarbuite, dan kan jy die hele aand dink aan die arme mense wat krepeer in Mamelodi en smeek vir brood. Terwyl jy blikkies verf uitspuit vir die grap! Toe, basta met jou! Vort, sê ek! Of dis vyf maande breekwater!  Maar sal jy…!

Gmf. Harde liefde. Maar toemaar, ek is seker Cedric Morton sal jou ‘n les leer. Daar is altyd oë in die donker…

Die derde betekenis van Antjie Krog: die einde van die Afrikaanse letterkunde. Want daar word nie juis melding van enige ander projekte of boeke gemaak in hierdie roman nie. En ons praat van… 24 jaar later?

Daar is nog ‘n diskrepansie, iets wat ek eerder toeskryf aan voortgesette hardnekkige tradisie in die Afrikaanse kultuur in die verhaal as Sybella se eie tekortkoming (because “it takes a village to raise a child”…).

Daar word byvoorbeeld twee maal daarop gewys dat Yala met ‘n “Franse aksent” Afrikaans praat (p. 23), en “baie goed in Frans” was tot en met Graad 6 toe sy vir die Wateroorloë moes vlug (p. 37). Daar word nie ‘n woord daarop geantwoord nie. Sybella sprak geen sprook. Daar word nie eers instemmend geknik nie. Geen spiertjie vertrek nie. Of: “moer, hoe interessant! Issit?! Parlez-vous français?” uitgeroep nie. Dis net niks! N.A.F.I. Duidelik het Yala vir ‘n reaksie gewag voordat sy aangebied het om AmazonGo toe te gaan. Maar aangesien die verhaal uit jou eerstepersoons-oogpunt geskryf is, Sybella, kon ons almal dit raaksien, behalwe jy!

Yala kan haarself met ‘n ou skootrekenaar help (pp. 64-65). En dit laat my oor twee dinge wonder.

Nommer 1: Yala Uba is slim genoeg om te weet as jy in Pretoria (of, daardie deel van Estwagoli) bly, dan praat jy onder meer die taal van diegene wat geld het, naamlik Afrikaans. Dit plaas haar klaar in ‘n totale ander liga as dié wat botweg weier om niks anders behalwe Engels te leer nie. Die geleenthede vir haar is groter. Bowenal sal Yala haarself in Engels kan help, en in haar eie stamtaal. Nou waarom nie Frans voortsit nie? Daar moet tog sekerlik ander vlugtelinge soos sy wees wat Frans ken? Dan is jy nog ‘n trappie hoër as al die ander dwars mededingers.

Nommer 2: Sybella – dit kos al my selfbeheersing om nie vyf vieslike vloekwoorde in jou rigting soos hoefysters te slinger nie. Daardie snuifmiddels in daai spuitkannetjies tas duidelik jou brein aan, kind. Dis nie gesond nie. Hier land ‘n Franse tutor letterlik op, nee, jy’t haar óór jou drumpel ingedra, binne-in jou sitkamer in, bo-op jou sitkamerbank neergeplak, sy maak later vir jou hawermoutpap en sop, voer jou dit bietjies-bietjies amper met ‘n lepeltjie in as jy siek is van griep! Moet ek dit uitspel: Om jou die basiese goedjies Frans te kan leer, pampoen! Mens kan net die perd tot by die water lei, nè? Hoe dóf is jy? Dis so goed jy tel ‘n Krugermuntstuk op en wonder of jy spookasem daarmee kan koop. Maar nou staan en reël jy vir haar kelnerinwerk. En stel haar in gevaar op straat as sy Sunnyside toe moet loop! ‘n Polisieman agter elke bos.

Hierdie geslote wêreld van die Afrikaanssprekende is natuurlik niks nuuts nie. Hulle leef in hul eie bekrompe wêreldjie. En dit boonop in ‘n hoogs geglobaliseerde wêreld! En juis daarom is die werk vir my ‘n hekelende parodie daarvan. Of dit nou doelbewus of onbewustelik gedoen is.

‘n Rus het trouens oor sy tydjie hier aan die Kaap geskryf in 1808 tot 1809. Sy naam heet luitenant Wasili Golownin. Uit die pen van ‘n 32-jarige (vertaal in die Engels deur Boris Gorelik, ‘n Rus wat met graagte ook Afrikaanse verhandelings en proefskrifte verslind), die volgende:

The local Dutchmen, devoted from their youth to trading and the search for ways to enrich themselves, are not far advanced in matters of education, and so their conversation is always boring and uninteresting. The weather, local occurrences, business, the arrival of convoys and some political events directly affecting them are the main and, actually, only topics of their discussions.

–          Uit An Entirely Different World: Russian Visitors to the Cape, 1797-1870 (2015:32).

Wag, wag, wag! Voordat jy op jou perdjie klim, liewe leser… ek is nog nie klaar nie.

Ons moet hier egter ook onthou dat die Russiese aristokrasie en hul intellektuele, hierdie baie “belese”, fynbesnaarde, uitgelese groepie mense (anders as hul voetvolk), wat Frans, Italiaans, Duits, Latyn, Engels, en soms Hollands goed magtig was… al sedert die 1860’s beplan het om die verstokte Tsaar omver te werp. Maar net soos die Franse die aristokrasie uitgewis en bloot ‘n nuwe elite geskep het, net so het die Russe die een absolutisme vervang met ‘n ander.

Altyd dieselfde. Hoekom? Want dit is al stelsel wat hulle geken het. Ironies, is dit nie?

Eerder dat mens verwag dat die vars toevloei van inligting nuwe wêrelde sal skep en oopmaak, bly hierdie kanale toe. En dit is waarom die “voorstedelike stigma” of “voorstedelikheid” 24 jaar van nou af nog voortduur. Ons hang in ‘n geslote visbak, waar die vismis vanuit die bodem deur die filter borrelend gesirkuleer word en die bak met verloop van tyd net al hoe groener, en groener en groener word van die alge. Uit ‘n vis se oogpunt moet jy later glo die wêreld daarbuite is ook groen soos joune hierbinne.

Of, miskien moet ek dit eerder met ‘n terrarium vergelyk met ‘n toegeskroefte deksel op: die plant groei, werp sy blare af, die blare vermolm, word saam met die vog opgeneem, en so kry jy ‘n afskuwelike plant wat 50 jaar lank in ‘n afgeslote ruimte leef. Die molm raak egter net meer, en meer, en meer. Soos die berig korrek lui:

Many are skeptic of this being true and some like Bob Flowerdew (organic gardener) thinks that “It’s wonderful but not for me, thanks. I can’t see the point. I can’t smell it, I can’t eat it.” Shockingly, David Latimer feels the same. Saying that the sealed bottle garden is pretty boring.

Goed, ek sal toegee Sybella is ‘n tiener en haar brein is nog nie ten volle ontwikkel om te begryp jy moet elke bron benut wat hom by geleentheid voordoen nie.  Maar wat het die grootmense dan gedoen? Belangriker selfs: gaan Sybella dieselfde foute as haar voorgangers maak? Dit lyk my so.

Slotsom

Wat ek die meeste geniet het in hierdie roman is die ou 1990’s-sfeer afgeëts op Sunnyside. Die vetterige noedels, die vuilgrys vullisblikke buitekant wat omlê, die walmende rook, die olierige oppervlakke, die byna kuberpunk-hologramme en hierdie restaurant-szene (pp. 1 en 13):

Die straat is verlate. Hologramnaamborde van daggakafees en avatarklubs flits, die ritme geweerkaats in reënboogpatrone op die nat straat. Vullisblikke staan saamgebondel tussen sakke rommel teen ‘n muur agter my.

[…]

Die ritmiese techno-musiek, die reuk van groente en pasta en sojavleis in olie gebraai, die flitsende diskobal, die dansende tieners met hulle tatoes.

Lilith Rox is in haar middel-vyftigs in 2045 (p. 41). Sy is dus, net soos ek, in 1990 gebore. Te jonk vir hierdie goed en is eintlik net suur omdat sy al hierdie pret misgeloop het. Gee die kind tog ‘n stokkielekker.

Die boek is glo vir 12-14-jariges geskryf, maar ek voel dit is eerder gemik op my ouderdomsgroep as vir die huidige tieners wat in 2007-2009 gebore is. In 2045 beklee ons immers die eksekuteurstoel, of liewer, bevind ons onsself in die beskuldigdebank. Dit voel tog te aardig dat ‘n 17-jarige van die toekoms jou geslag klaar áfslag nog voordat jy ‘n vinger kon verroer het!

Blykbaar het ons nog nooit van Ecosia se boomplantprojekte gehoor nie (ook nie van die brandstigters wat dit ongedaan maak nie), ons het nog nooit van Israel se suksesverhale met herbebossing gehoor nie, ens. ens. ens. Duidelik het my geslag, Generation Y, niks gedoen om die verwoestyning rondom Pretoria te keer nie (p. 23):

Daardie deel van Afrika [Kongo] word aanhoudend geteister deur droogtes en oorstromings en veldbrande. Baie mense het uit die res van Afrika na Suid-Afrika gevlug die laaste jare. Nie dat hier nie dieselfde dinge gebeur nie. Groot dele van die land het in semi-woestyn verander. ‘n Mens kan deesdae Karoovetplante pluk net kort buite Brakpan. Dis een van die redes waarom Etswagoli so oorbevolk is.

As mens tussen die reëls lees, sal ons geslag nooit daaraan dink om desentralisasie toe te pas om oorbevolkte stede teë te werk nie, ten spyte van die internet en e-handel. Tans het Europa (2021) self ontsaglike lang wagbeurte vir huur in die metropolitaanse gebiede. ‘n Mens sou juis ‘n groter uitwyk na die platteland toe verwag het. Waarom in verkeersknope of jou pad deurdruk na die moltrein as jy vanuit jou blommetuin kan werk met ‘n skootrekenaar langs die swembad? Die grond tussen jou tone kan voel? Maar dit gebeur nie! Waar is die inisiatiewe om dit moontlik te maak? Waarom nie ontvolking van die platteland stuit nie? Wat het van ROEP (Red Ons Eie Platteland, gestig deur George Craven) geword wat in die Panorama (Januarie 1987, 42-47) net lof toegeswaai is? En ook deur oud-pres. P.W. Botha sélf bedank is? Hoor net hierdie hartroerende verhaal (bl. 47):

Mnr. Botha het bygevoeg dat die beleid van desentralisasie ‘n sukses is. In die afgelope jaar het die Regering finansiële aansporing vir 1 243 projekte in Suid-Afrika en in die aanliggende state voorsien. Dit verteenwoordig ‘n kapitaalbelegging van R1 500 miljoen en het 87 000 werkgeleenthede geskep.

Liewe Boomers, dit spyt my, maar ons gaan alles wat julle deur die jare opgebou het, net so laat lê om te vergaan.

Nog minder sal ‘n deeltjie van ons geslag ons snobisme staak en die waarheid vierkantig in die oë kyk. Ons gaan ons al hoe meer in ‘n geskepte wêreldjie terugtrek en in ons siel ronddelf, terwyl die dakpanne afwaai. Ons wegkruipertjie-werklikheid sal al hoe minder waarheidsgetrou wees. Ons sal daarbinne ‘n nirwana beleef (met behulp van bietjie walmende papegaaislaai) en daarin rondjol terwyl alle infrastruktuur verkrummel. Dat hulle [ons, ekskuus] van ‘n geslagtelange selfbehepte verbruikersamelewing na ‘n projekgedrewe samelewing sal oorskakel, van inwaarts na uitwaarts sal oorskakel, klink maar bra vêrgesog. Ons nakomelinge sal nie veel beter wees nie.

Dit staan immers so op skrif.

Vir die sorgelose tiener bied die boek ontspanning, vir die grootmense is die boek ‘n waarskuwing as jy dit soos Openbaring lees.

Ek het my doelbewus nie uitgelaat oor die biogenetika en ander tegniese aspekte, soos beskryf deur ‘n dosent in die veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, nie. Dit is bokant my jakkals, doktor Scheepers. Ek glo u sal verstaan.

Donkerbloed bly vir my ‘n heerlike parodie en ‘n tydsdokument van die Afrikaanse stedelike kultuur soos dit nou is. Iets waaroor ons kan lag, al is dit tragies. Omdat ek nie ‘n tydkapsule het nie, gaan ek die roman in ‘n plastieksakkie verseël teen die vismotte. Want oor 24 jaar gaan iemand hierdie boek oopmaak en geskok wees oor hoe min die samelewing verander het.

Nee, wag… ons het darem nog 24 jaar tyd.

Potgooi deur Dan Roodt: En in die skaduwee brand Suid-Afrika

Net soos wat Mugabe vir die hele ramp in Zimbabwe geblameer word, is ons veronderstel om te glo dat een mens, Jacob Zuma, vir die huidige vlaag onstabiliteit in Suid-Afrika verantwoordelik sou wees. Dan Roodt verduidelik waarom dit ‘n illusie is en skryf die geweld in die land toe aan juis die ontkenning van etnisiteit wat aan ons die verkeerde politieke stelsel nagelaat het. Luister gerus deur hier onder te klik.

Suidpunt: Waarom Loeloeraai in Latyn vertaal moet word

Swak joernalistiek betaal goed.

Ek is vas daarvan oortuig die Suid-Afrikaanse hoofstroommedia en -uitgewerye het ‘n nuwe joernalistieke taktiek ontdek hoe om driedubbeld die geld uit onnosel sukkelaars soos ek en jy te pers: as ons nie op dieselfde aambeeld hamer nie, skep die sensasionele leuen (“vermoede”) en  weerlê dan die leuen. Maar net vinnig genoeg om nie voor die stoel van die Persombudsman gedaag te word nie.

‘n Tienling is gebore; ‘n tienling is nie meer gebore nie.

C.J. Langenhoven het ‘n buite-egtelike kind by Sarah Goldblatt verwek (ag, gee haar die voordeel van die twyfel, sy was ampertjies swanger); C.J. Langenhoven het nie eens ‘n buite-egtelike verhouding gehad nie.

Die saadjie is geplant, en die laaste regstellende beriggewing sal ten minste nog 5 tot 10 weke sonder rus of duurte op die kringloop bly om “tevergeefs” die leuen in die kiem te probeer smoor. Gelukkig is die koerant nou propvol lettertjies tydens komkommertyd. Dit kon ook nie op ‘n geleëner tyd uitgedink word nie, want die banggat joernaliste met hul dikkerige wolsokkies (ten minste praat ons nie meer van grys en swart skoene nie!) wil nie ‘n poot buitekant die deur waag nie. Dis soggens koud hieronder in die Kaap, weet jy… En Twitter verskaf dan al die nuus! Waarom nog sukkel om uit die bed te klim?

En die heel lonendste: jy dink, jy glo, nee, jy is hartgrondig oortuig daarvan jy het deur die hele woordegoël iets wyser geword. Al is een minus een gelyk aan nul. En daarom sal jy die pers, so heilig in sy onskuld, bly ondersteun, al sou jy oor drie maande van nou af die storie vergeet. Waarom dit in die eerste plek dan lees? Skattebol, waar het jy die pad byster geraak? Huh?

Maar anderkant die ewenaar…

…is daar wel klassieke boeke en tekste waarvan die inhoud egter so goed verouder het, dat hulle deur geesdriftiges in die onsterflike taal verewig word. Dink maar aan die Nederlandse Jip en Janneke (Jippus et Jannica), dis nou hul weergawe van Boet en Saartjie of Sus en Daan; dink aan Antoine de Saint-Exupéry se Die Klein Prinsie (twee vertalings: Regulus en Principulus), aan Dracula’s Guest deur Bram Stoker (‘n kortverhaal wat oorspronklik uit Dracula weggelaat is: Hospes Draculæ), aan Die Hobbit (naamlik Hobbitus ille), aan Alice in Wonderland (Alicia in Terra Mirabili) en Alice deur die spieël (Aliciae per speculum transitus), Winnie-die-Poeh (Winnie ille Pu), en die korpus gedeelde werke word net groter: hier.

Ons weet van ‘n handjievol tekste wat uit Latyn in Afrikaans vertaal is. Ek vermoed “Elegans et accurata gentis Africanae circa Promontorium Capitis Bonae Spei vulgo Hottentotten nuncupata Descriptio epistolaris” deur De Grevenbroek (1695) kon onder van die eerstes wees. Dit is deur dr.  J.W.G. van Oordt vertaal en gedruk in die Z.A. Tijdschrift, Januarie/Februarie 1886. Toe joernalistiek in Suid-Afrika nog in sy kinderskoene was! Dit is beslis op ‘n manier Kaaps-Hollands, want die woord “padkost” en ander regionalismes kom daarin voor – dit is glad nie so suiwer Nederlands nie.

Van belang hier is: hoeveel werke in Afrikaans is al in Latyn vertaal? Ek weet werklik nie van een nie, want dan was hy lankal op my boekrak.

As daar nog nooit een was nie, dan hoop ek van harte Loeloeraai sal die eerste volledige roman wees wat uit Afrikaans in Latyn vertaal word.

Miskien moet ons slegs by een vraag stilstaan:

Waarom moet Loeloeraai in Latyn vertaal word?

  1. Prestige

Bo en behalwe die simboliese waarde wat hierdie werk bykry as gesogte werkie, geniet dit ook aandag in die hoogste literêre kringe as wêreldliteratuur. Op sy beurt draai die koppe ook noodwendig na die oorspronklike werk toe: die Afrikaanse werk. Op sy beurt is dit ‘n pluimpie vir Afrikaans. Diegene wat Latyn magtig is, het gewoonlik ‘n oop gemoed vir ander lewende tale.  Dit is nie soos ‘n werk wat in Engels of Duits vertaal word, en waarvan die leser geen behoefte het om die oorspronklike taal te leer nie. Dink maar aan werke vertaal in Engels wat op die winkelrakke verskyn: het jy werklik die behoefte daaraan gehad om die werk in die oorspronklike taal te lees? Soos Jules Verne se boeke in Frans? Nie so gedink nie.

Maar by Latyn is anders, omdat mense die tekortkominge van hierdie byna boerse taal ken. Dus sal hul altyd na die oorspronklike taal gaan en tog probeer kyk of daar nie ‘n ander manier is om ‘n komplekse begrip in nog eenvoudiger taal te skryf nie. En juis daarom sal ook die belangstelling in Afrikaans gekweek word. Dis ‘n wen-wen.

  1. Herwaardering (en veral herontdekking) van die eiegoed

Ook seker maar goed so, want ongelukkig is die Afrikaner besonder laks om sy eie werke te waardeer.

Maar hier is ‘n praktiese voorbeeld: die prinses agter die preekstoel sal eerder ‘n paar mooi woordjies van uitlanders soos Anne Frank (‘n Hollandse kinderdagboek, verwerk tot Het Achterhuis, hoewel slegs die Engelse vertaling altyd gebruik word…) steel vir haar preek oor lyding, as uit Tant Miem Fischer se Kampdagboek (Mei 1901-1902). Of wat van uit die Russiese Suster Sofia Wladimirowna Izendowa se boek waar die krygers brul van ontsteekte wonde tydens die Tweede Vryheidsoorlog?  Trouens, enige woordjie sou deug uit al die ander kampdagboeke in Afrikaans wat op Bidorbuy tog net stof vergader!

Lyding bestaan seker nie in Suid-Afrika nie. Dis nou die Suid-Afrika waarteen Amerikaners gewaarsku word om tog nie hierheen te kom nie:

Violent crime, such as armed robbery, rape, carjacking, mugging, and “smash-and-grab” attacks on vehicles, is common. There is a higher risk of violent crime in the central business districts of major cities after dark.

Demonstrations, protests, and strikes occur frequently. These can develop quickly without prior notification, often interrupting traffic, transportation, and other services; such events have the potential to turn violent.

Kom ons maak die prentjie volledig: die plaasmoorde, die geweld, die vigs, die beurtkrag, die kabeldiefstal, die dronkgat wat haar yskas op Nuwejaar van die agtste verdieping afdonder, die spykers op die pad, broodlorries wat geplunder word, die treine wat nie loop nie, die kapings, die ekshibisionistiese hartstog op straat, die leë toegeslikte damme, die verkragtings, die roof, die bobbejaan in die kombuis by Kommetjie,  die brandstigting (bos- en veldbrande), miljarde wat spoorloos verdwyn, die anargie, die halsnoermoorde, die lang tou by Binnelandse Sake, die gewelddadige betogings, die bloedvergieting op straat, die plunder, die rondloper-beeste op die hoofpad, die donderende doemela-doemela minibustaxi’s wat deur heinings ploeg, die diefstal, die dwelmmisbruik, die muti-moorde, die varkslagting en leegbloei op die straathoek dat die derms en brommers saam met die pap koolblare so hang. O, en die seemeeue wat stuiptrek met plastiek deur hul maagwand, die warrelwind vullis in die middestad, die kotsmislike walm van riool waardeur kindertjies waad wat voorheen ‘n Olimpiese swembad was, dogters wat vir kamele verkoop word (gee kans, dit kom nog).

Heimlik droom almal maar om tot op die boonste puntjie van die stronthoop soos ‘n bolwurm deur te druk en uit te beur. Vir ‘n bietjie skoon, vars, lug en sonskyn…

Maar nee, hier is nie lyding nie. Nie in Johannesburg, of op die Kaapse Vlakte nie. Nie eens Tant Stienie weet meer hoe om behoorlik te suffer nie. Ons het in die Reënboogland mos niks om oor te kommer of kla nie – maar die Tweede Wêreldoorlog, haai foeitog! Daar was nie seep nie. Verskriklik.

Ironies, want die ekoloog en paleontoloog prof. François du Randt, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, voer aan Afrika se diere is besonder aggressief en van nature wantrouig teenoor die mens, juis weens die geweld van duisende jare gelede (tot op hede!) wat ‘n blywende indruk op die diere-psige gelaat het. [Waarom jagluiperds egter so bedees, skugter en grootoog saam met 16-jarige bakvissies vir ‘n selfie knipoog, weet nugter; maar dis seker wat genetiese inteling aan die diereryk doen.]

En, voeg die professor by, dit is nié die Europeërs wat Afrika kom koloniseer het, en die geweld en lyding losgelaat het op die kontinent nie; dis Afrika wat die wêreld in die oertyd gaan gekoloniseer het! En nog nooit om verskoning daarvoor gevra het nie.

Hoe dieper mens in die geskiedenis van Afrika ingrawe, hoe skokkender die werklikheid.

Maar wag, hier is die transkripsie, uit die Radio Sonder Grense-potgooi “Wolf, wolf hoe laat is dit?” gedateer 29 Junie 2021 (luister vanaf  7 minute en 29 sekondes). Ek sou verkies dat jy die potgooi self luister om die stemintonasies en emosie aan te hoor.

Mej. Amore Bekker (omroepster vir RSG): François, ek wil ook by jou weet: as alle mense uit Afrika kom, hoekom is die vasteland Afrika dan nou juis nog so onderontwikkeld?

Prof. dr. François du Randt (paleontoloog):  Man, weet jy, dis maar hierdie oerwoude. Jy weet, as jy in ‘n oerwoud leef en alles groei daar in die boom, hoef jou nou nie rêrig ‘n ploeg te ontdek om ‘n vrug te maak nie [jy weet, wat jy aan die boom hang nie].

A.B.: Hmm-hmm.

F.d.R.: So, die mens se tegnologie – as jy kyk na die grootste tegnologiese innovasies wat plaasvind, vind dit tydens oorloë plaas. Jy weet, die Tweede Wêreldoorlog begin die ouens met hierdie klein, dubbelvlerkvliegtuigies, en hulle eindig in die oorlog met die eerste spuitstraalmotorvliegtuie, nè? En dis ‘n kwessie van 10 jaar wat dit van die een na die ander hoek, en ons eindig met atoombomme, binne in ‘n kwessie van eintlik minder as 10 jaar. So, nee, dit is negatiwiteit en oorloë en

A.B.: Hmmm. Goed.

F.d.R.:  kompetisie dryf tegnologiese innovasie. Dit wys net Afrika was eintlik ‘n baie vreedsame plek gewees en die mense was nie so bedreig gewees nie. Maar onthou net, onthou net, Egipte is deel van Afrika, hoor. Laat ons nie dit vergeet nie.

A.B.: Ja.

F.d.R.: Jy weet, en daar was ‘n klomp goed wat in Egipte gebeur het, jy weet, soos piramides en goed en skrif en allerhande dinge en dis net langs, natuurlik, die Midde-Ooste, wat jy nou kan argumenteer miskien ‘n deel van Asië is, maar eintlik het dit meer te doen met Noord-Afrika, jy weet, en die kultuurinvloed tussen die twee as wat dit met Eurasië te doen het. So, in elk geval, die groot morele punt wat ek hier gaan maak vandag is dat die mens, eerstens uit Afrika uit kom, die res van die wêreld inval, spesifiek Eurasië eerste, en dan die Amerikas en Australië en so versprei ons dan oor die aarde. Maar in die proses maak ons al die ander mens-agtiges dood. Dit sluit Neanderthal in, dit sluit in uiteindelik die laaste groepie van Homo erectus daar in Suidoos-Asië in, en ons neem die wêreld oor. Maar nie net dit nie. Ons maak… geweldig baie spesies wis ons uit. Nou, okei, dit het al begin hierso met Homo erectus. Homo erectus het al klaar ‘n impak gehad op grotbere en op mammoete en so aan. Maar ons het hierdie hele uitwissingsproses vervolmaak, kan ‘n mens dit stel. Want, en dit is iets wat mense nie dikwels aan dink nie, die mens is ‘n indringerspesie in alle kontinente buiten Afrika.  Die mens is veronderstel net om in Afrika te leef.

A.B. (byna onhoorbaar): Wow.

F.d.R.:  Ons het hier geëvolueer. En die organismes het saam met ons geëvolueer. Dit is hoekom, as jy dink jy gaan ‘n olifant steek met ‘n spies,

A.B.: Hm.

F.d.R.:  gaan jy sleg tweede kom. Maar as jy nou in Eurasië ingaan, het daai arme mammoet nog nooit ‘n mens gesien nie en dis baie maklik om tot naby hom, by hom te kom en hom te steek met ‘n spies en hom dan dus uit te wis. Dit is hoekom ons so baie suksesvol al daai spesies in die oertyd uitgewis het in alle lande, al die ander kontinente, maar nie in Afrika nie. In Afrika het ons net sterker en kwaaier goeters geteel deurdat hulle saam met ons geëvolueer het. En ons het al die naïewes gou-gou doodgemaak en die ouens wat rêrig moerig was het agtergebly. Jy weet, kyk maar na renosters en goed. As jy – jy gaan mos nie ‘n ding steek met ‘n spies – ‘n renoster steek met ‘n spies nie? Maar dit is wat die ouens gedoen het in Eurasië; daar het hulle die wollerige renosters almal uitgewis. So, dit is vir my altyd ‘n ding, wat, jy weet, as ons kyk na mense se arrogansie en hulle houdinkie oor die lewe en veral rassisme en alles – min mense, of daar’s baie mense wat nie wil hoor – dat ons uit Afrika gekom het nie. Want, die eerste ding wat hulle vir jou vra:  “As ons uit Suid-Afrika gekom het, was ons dan swart?” Natuurlik was ons swart gewees! Wit is ‘n aanpassing spesiaal vir die Ystydperk in die Noordelike Halfrond, sodat ons Vitamine D in ons velle kan vorm. Wat is die groot issue met of jy nou swart of wit is? Dit het niks te doen met niks nie. En onthou net, nog ‘n ding is as ons skelette opgrawe kan jy nie die velkleur sien van daai skelet nie. So, as jy byvoorbeeld ‘n Indiër op ‘n disseksietafel sit, en langs ‘n Wikingskelet op die ander disseksietafel, kan jy nie die verskil in die skelette sien nie. Terwyl die een wit is en die ander swart is. Dit het niks te doen met niks nie. Die rede hoekom mense verskillende velkleure het is natuurlik omdat hulle op ‘n sekere breedtegraad leef, en dus weerstand teen die son moet hê. So as jy ‘n ligte vel het en op die ekwator leef, gaan jy velkanker kry. Dis so eenvoudig soos dit. Maar as jy ‘n swart vel het en in Eurasië moet bly, gaan jy doodgaan van ragitis, of ten minste, jy gaan probleme optel met beengroei. En die Sabeltandtier gaan jou opvreet.

A.B.: Sjoe! François, so die mense [ekskuus gou], ons was swart, en toe gaan ons na Europa toe, hoe lank dink jy het dit geneem vir die vel om aan te pas?

F.d.R.:  Generasies. Onthou, onthou – die mense vlieg nie soontoe nie, nè, hulle loop soontoe.

A.B.: (met humor) Ja, ek weet!

F.d.R.: En so oor generasies heen, so, en natuurlike seleksie [sou] die ouens met die ligte velle geselekteer het. Maar onthou, jy kry ragitis, beengroeideformasie en jy sien dit eintlik selfs in die Neanderthal, nè.  Daar [was] van hierdie individue wat ragitis gehad het, want hulle velle was te donker in sekere gebiede vir daardie klimaattoestande. Onthou, in ‘n ystydperk is dit bewolk, nè. Die son skyn nie, en as jy uitgaan in daai ys dan trek jy nou maar ‘n lekker paar beervelle aan, en net jou neus steek uit. So, hoeveel Vitamine D dink jy gaan jy vorm? Nie baie nie. So natuurlike seleksie het vir ligter en ligter velle geselekteer. Dis hoekom beide die Europeërs en die Asiate ligvellig is, sodat hulle maksimum hoeveelheid Vitamine D kan vorm. Onder lae ligomstandighede. En dis hoe ons lig… wit velle geword het. Nie deur een of ander vreemde ingryping of ‘n wonderwerk of ‘n ding nie. So, uhm… Maar nou wil ek graag hê mense moet ‘n bietjie dink aan hierdie hele kwessie van kolonialisme wat so groot is vandag. Europeërs moet nou vir almal jammer sê dat hulle nou in hulle lande leef en allerhande goed soos dit. “Ons moet dekoloniseer” en dié dinge… Maar weet jy wat? Dis eintlik Afrika wat die res van die wêreld ingeval het. En ek hoor nie Afrika verskoning maak daarvoor nie, nè?

A.B.: Hm.

F.d.R.: En al hulle diertjies doodgemaak ook. En niemand sê jammer uit Afrika daaroor nie.

A.B.: Jislaaik, maar jy praat nou van miljoene jare gelede,

F.d.R.: […]

A.B.: duisende jare?

F.d.R.: Nee-nee, duisende jare terug. So, is daar tydperke op hierdie verskoningvraery nou?

A.B.: (lag)

F.d.R.: Ek weet nie, nou maar jy weet, as hulle wil dekoloniseer – onthou net, dit is… as jy kyk net na mielies, nè. Onthou, mielies kom van Meso-Amerika. En dit was gevat van Middel-Amerika na  Europa toe deur die Spaanse kolonialiste. En dit was daar gekweek en toe van daar af is dit toe versprei na die res van die wêreld.  Ons mielies in Suid-Afrika kom van die Britse setlaars wat hier gebly het. Weet jy, dit is een van die goed wat mens nie weet nie. As jy kyk na die Groot Trek: daardie ouens het by Winburg en plekke gekamp vir lang tye om koring te plant. En te wag dat die oes… dat die koring moet opkom, sodat hulle kan oes sodat hulle kan verder trek – hulle het nie mielies geplant nie! Jy weet, as jy dink nou aan Sarie Marais en die ou, aan die Groen Koringlande, nè, dit was daarná wat die mielies ingekom het. Maar vir eerste was dit koring gewees wat die Hollanders ingebring het. Dit was die Britse setlaars wat mielies ingebring het. En dis nou deel van Afrika se… ek meen dis seker die hoofkostipe in Afrika. So laat ons nou nie rêrig altyd net sê, jy weet, “julle vieslike koloniste!” nie, want, netnou vat hulle hul kos saam.

A.B.: (lag)

[Afsluiting begin]

Op een puntjie wil ek kritiek lewer, dit is op “So, nee, dit is negatiwiteit en oorloë en kompetisie dryf tegnologiese innovasie. Dit wys net Afrika was eintlik ‘n baie vreedsame plek gewees en die mense was nie so bedreig gewees nie.”

My antwoord: Nee. Nie altyd nie. Gedenk maar al die kultuurskatte wat in Dresden, Duitsland, in Maart 1945 vernietig is. Deur ons liewe Geallieerdes wat te veel op ‘n voetstuk geplaas is. Dit is 1500 jaar se kuns en vernuf wat binne ‘n ommesientjie in sy kanon is. Daar is trouens ‘n hele boek geskryf getiteld Charakterwäsche: Die Re-education der Deutschen und ihre bleibenden Auswirkungen  deur Caspar von Schrenck-Notzing, wat verduidelik hoe die Duitsers direk daarna op skool “gerehabiliteer” en “veramerikaniseer” is (Goddank is die Oostenrykers dit gespaar!), maar dit laat ek vir eendag.

Nou terug na Afrika: As jy heeltyd op die vlug moet slaan vir stamgevegte, jou hut wat môre afgebrand kan word, jou vee wat gesteel word, jou kinders wat voor die voet afgemaai word, hoe kan jy museums en katedrale, of trouens, enige kulturele werk van blywende waarde lewer? Watwou nog landbou, fabriekswese en ‘n gesofistikeerde bankwese opbou as jy voortdurend moet vlug? Wie en wat waarborg jou vryheid en veiligheid? Alles wat nodig is om ‘n supertegnologiese bedryf aan die brand te skop? Dit gaan nie oor die mango wat sommer uit die lug in jou skoot val nie, maar die machette wat deur jou hart steek.  Jy moet hol dat jy klein word. Anders sal jy soos Nehemia-hulle konstant met ‘n swaard en ‘n troffel in albei hande moet bou. Selfs dan is sukses nog nie gewaarborg nie.

Oor een punt kan ons wel saamstem: Geweld en lyding het in Afrika begin.

Dit het trouens Afrika se vernaamste uitvoerproduk geword. Maar toe dr. Dan Roodt iets soortgelyks desjare in sy Rapport-rubriek geskryf het, is hy sonder meer soos ‘n sleg hond daar weggejaag. Omdat hy teen die tydsgees, soos geskep teen die koerante, gesondig het. Dit was immers die sorgelose, “ag-moenie-worry” 2000’s, die grootbekke het nog nie geëmigreer nie, die distopiese fiksie is vir doemprofesieë afgemaak, die internet was nog nie so ‘n bedreiging vir koerante nie, Netflix en Google Play en Amazon Prime en YouTube was nog onbekend (Big Brother het buitendien nog genoeg siele vir DStv ingepalm), en mense het nie veel keuse of ander inligtingsbronne gehad om te raadpleeg nie. O ja, niemand het nog slimfone gehad wat foto’s en video’s vinniger kon lewer as ‘n kameraman nie.  Elke individu op sosiale media het nou ‘n joernalis in eie reg geword. En mense het hul sê begin sê – geen redakteur kon jou brief uit ‘n koerant nou meer hou of woorde sensor nie. Dit sal in elk geval op die internet iewers opgelaai word. Daar was geen beperkte woordaantal meer nie.

En dit het mense nou anders na die werklikheid laat kyk, en laat sê hoe hulle werklik voel. Soos hierbo.

Langenhoven se werk handel juis oor hierdie geweld en lyding as tydlose onderwerp, maar daaroor praat ek later in hierdie artikel.

So, wie kan ‘n beter opinie van lyding hê as Suid-Afrikaners, Dominee?

As die wêreld daarbuite, eendag, in vervoering raak oor ‘n Suid-Afrikaanse werk – kyk, dan éérs geniet dit mos aandag hier op eie bodem! Dan is dit vir Dominee mos iets gesog! Vir ‘n maand of wat. Miskien beleef die Afrikaanse weergawe selfs ‘n herdruk of twee, nè, Dominee, nè?

Sal meer mense dus Loeloeraai begin lees as dit eers internasionale prestige geniet?

  1. Latyn is bo tyd verhewe

Vir my is Latyn dus die goudstandaard, selfs meer gesog as ‘n kanoniserende Hertzogprys, juis omdat jy nie geldelike wins daaraan kan koppel [meer voorraad op die winkelrakke] of vuil politiek wat aan tyd gebonde is nie. My karveel pas buitendien nie in ‘n plaspoeletjie nie, dit vaar saam met die kêkkerende dolfyne die diepsee in.

Latyn is verhewe bo die geskiedenis. Dit staan trouens enigiemand vry om die werk in Latyn te vertaal, as hy maar net kan. Die werk hoef nie eers wêreldwyd bekend te wees nie – daar is hoeveel Finse werke waarvan ek nog nooit in my lewe gehoor het nie.

Dit gaan ook liewer oor die blywende, tydlose boodskap wat dwarsdeur die eeue sal weerklink, wat by die tydloosheid van die Klassieke aansluit; dit filter die onnodige fleurigheid van woorde en ander blitsverkopers uit wat mense probeer skok vir ‘n maklike geldjie – “toe myk ‘n stytmint”.

Dit gaan juis nie oor die toeganklikheid nie. Want ‘n lewende taal sal verouder, die bladsye vergeel, die uitspraak (en dus ook die rym) verander, die betekenisse onder sy mense verander, die woorde word oud, houterig en styf, verloor sy elegansie en begin moeilik verstaanbaar en dubbelsinnig vir die leek lyk. Probeer maar enige skeepsjoernaal uit die 1700’s lees en jou oë rol soos albasters op die tafel rond. Latyn bly egter immerjonk.

Om sommer dadelik uit Loeloeraai ‘n maklike voorbeeld te haal:

“Vrykamer” word drie maal aangetref in die roman. Die meeste Afrikaanssprekendes ken egter die ingeburgerde anglisisme, “spaarkamer”. In Latyn kry jy geen sulke letterlike vertaalekwivalente nie: jy sal “gastekamer” moet gebruik, oftewel cubiculum hospitale, wat eintlik baie duideliker is. Ander vertalings sal moontlik minder geslaagd wees, soos viaticum vir “padkos” en “tog-kos”; of rustici vir “Bekvelders”.

Bowenal soek die moedertaalsprekers wat Latyn leer altyd ‘n nuttige werkie waarmee hulle “lewende Latyn” kan baasraak. Op hulle vlak. Afrikaans het nog altyd in hierdie opsig aan die agterspeen gesuig: eers teen die 1940’s het prof. H.L. Gonin byvoorbeeld handboeke gereed gekry vir die skoolbank. Voorheen moes die kinders hierdie taal deur Engels leer. Later is hierdie Afrikaanse handboeke vereenvoudig, terwyl prof. W.J.G. Lubbe Regslatynboeke vir UNISA geskryf het, met ‘n antwoordeblad by, teen die laat-1970’s en vroeë-1980’s. Daar is ook hoeveel ander kernkursusse vir Latyn in Afrikaans wat ek nie nou hier almal gaan vermeld nie, maar wat ongelukkig sonder die antwoordblad is.

Maar wat maak taalaanleer lekker? Gaan jy ‘n 8/9-jarige wat Engels leer oordonder met Shakespeare, of met Spot goes to school (Otto gaan skool toe, deur Eric Hill, vertaal in Afrikaans)? En waarmee boei jy ‘n tiener?  ‘n Duitse, Poolse, Franse, Nederlandse, Engelse, Russiese puber hoef maar net hul eie gunstelingstorieboeke uit die kop te leer om dan ewe gemaklik die Latynse woorde raak te lees. Niks hoogdrawend nie.

Ek gaan reguit wees dat dit juis Loeloeraai in my tweedejaar was wat my teruggelok het na die Afrikaanse wetenskapsfiksie toe. Trouens, terug na die Afrikaanse letterkunde toe. Ek was in 2010 hoegenaamd nie bekend met die volwasse Afrikaanse wetenskapsfiksie nie, want lyste was daardie tyd nog nie so bekend nie. Ek het aangeneem dit stop by tienerboeke.

  1. Goeie veroudering

Loeloeraai se eerste hardebanduitgawe en eerste druk was in 1923 (Nasionale Pers). Hy beleef teen 1941 sy tiende druk (Nasionale Pers), teen 1956 sy twaalfde druk (Nasionale Pers), en teen 1972 sy negentiende druk (by Tafelberg-Uitgewers). In 1992 word die eerste slapbanduitgawe uitgegee (Tafelberg-Uitgewers) en teen 2007 sy tweede sagtebanduitgawe (Protea Boekhuis).

  1. Geskik vir die akademie, maar ook toeganklik vir Jan Alleman

Ons moet onthou die boek is voorgeskryf vir die Senior Sertifikaateksamen in 1925 tot 1926. So dit moes literêre waarde daardie tyd gehad het. Reken nou net, hierdie werkie sou jou toelating tot universiteit gee. Ook dr. Catharina Elizabeth Ungerer het in 1983 ‘n uitvoerige analise oor hierdie boekie gelewer in haar proefskrif “Sciencefiction: Problematiek en Perspektief” by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.  Die roman was ook deel van die voorgeskrewe letterkunde vir tweedejaarstudente van die Universiteit van Suid-Afrika in die 2000’s tot middel-2010’s.

Onder van die resensies staan dr. J. Haantjies s’n uit, wat  in 1930 voel die boek is bedoel vir sowel diegene wat in die “veewagterskraal” is  as die “hoogsgeleerde universiteitsprofessor” (Ungerer, 1983:233).

En hier kom boul André P. Brink ons uit (Die prosa ná 1900, in: Inleiding tot die Letterkunde, Lindenbergh as redakteur), wat eweneens mal oor die werk is. Ungerer skryf (1983:234-235):

1980: Dit is betekenisvol dat die gunstigste kommentaar oor Loeloeraai tot dusver kom van die moderne skrywer en kritikus André P. Brink in 1980. Hy verwys na die bonatuurlike wat in fokus kom in Langenhoven se spookstories maar dat dit opvallend is dat dit “hier nie primêr gaan om bonatuurlikheid nie – wél om die natuurlike, die kenmerkend menslike wat juis deur konfrontasies met die ‘onverstaanbare’ blootgelê word. Dit blyk ook uit sy merkwaardige fantasie-roman Loeloeraai (1923) oor die besoek van ‘n astrale wese” […] Brink noem ook dat Loeloeraai geïmponeer mag wees deur die wetenskaplike fiksie van Jules Verne en H.G. Wells, maar dat dit “ ’n eie Suid-Afrikaanse aktualiteit verkry” en ‘n skerp onthulling van mens en samelewing word: “humor en satire is volop, maar daaragter skuil ‘n verhelderende kommentaar op ‘n wêreld wat leef van eie waan.”

As Brink sê dat die Tweede Taalbeweging ontstaan met die duidelike en openlike doel om die mense te leer lees – dit is die “onverhole motief agter haas al Langenhoven se werk”, geld dit ook ten opsigte van Loeloeraai. Oor Langenhoven se oeuvre beweer Brink dat die skrywer die volk tot lees wil bekeer “maar dan nie net deur gemoedelikheid en vlak intrige nie: want in sy beste werk maak hy inderdaad kuns uit didaktiek en satire, en verryk hy Afrikaans met sy werk wat op verrassende wyse aansluit by vroeë Franse werk – dit skerpte van La Rochefoucauld, die humor van Molière, die intelligente sentimentaliteit van Madame de la Fayette”.

Wil jy nou meer? Wie bly nog oor om te oortuig? Ek dink die saak is afgehandel.

  1. Is Langenhoven se Afrikaans vertaalde Latyn?

Dit is geen geheim dat Langenhoven versot was op Latyn nie (hierdie is ‘n voetnota wat ek destyds uit sy outobiografie by die Afrikaanse Wikipedia ingevoeg het):

En daarby had ek die voordeel dat ek my na hartelus kon verdiep in my lieflingsmedium, die Latynse prosa. Nie alleen het die ou Romeinse juriste ‘n logiese regstelsel opgebou waarvan die politieke staatsinstellings en regsbegrippe en regspleging van die hele Westerse Europese beskawing die erfgenaam is nie. Met hulle rangskikking en terminologie het hulle ‘n doeltreffende taalmasjinerie en gedagtemasjinerie vervaardig waarsonder dit moeilik is om te sien hoe selfs sulke skynbaar opsygaande geestesbedrywighede soos die verskillende natuurkundige vakke ‘n medium van uitdrukking kon gevind het. Al het daardie medium nie Latyns gebly nie dan is hy die toepassing van die Latynse tradisie. Vér afwykendes, soos die Duitser en die Hollander en die Skandinawiër, het van Latyn geleer hoe om hulle eie taal vir intellektuele en wetenskaplike doeleindes bruikbaar te maak. En so, om tot die persoonlike doel terug te kom, het my Latyn my geleer om by die gebruik van eie Afrikaans die regte lyn te vat wat die kortste afstand tussen twee punte is; om oortolligheid en vertroebeling te vermy; om nie tevrede te wees met gesegdes wat niks sê nie; om my toe te lê op noukeurigheid van uitdrukking; om eenvoud en helderheid hartstogtelik ná te streef. In hierdie opsig loop die gees van die Latynse taal met die gees van Afrikaans saam, soos hy saamloop met die gees van die regswetenskap en die natuurwetenskap.

‘n Mens vra jou dan tereg af, waarom het Langenhoven nooit sy werke in Latyn vertaal nie? Iemand wat ‘n brief in Latyn aan sy dogter Engela geskryf het (met ‘n Afrikaanse vertaling byderhand), iemand wat hierdie dik Latynse boekdele (net soos Generaal J.B.M. Hertzog) vir plesier verslind het… Dis ‘n verspeelde geleentheid waarmee hy veral vir die Afrikaanse studente of matrikulante ‘n diens van onskatbare waarde kon nagelaat het. Veral dekades later toe Latyn vir voornemende prokureurs sedert 1965 tot 1994 ‘n pligvak sou word, wetlik veranker.

Of miskien moet ons kyk na hierdie merkwaardige paragraaf wat die karakters op die maan agterlaat het vir toekomstige ruimtevaarders om te ontdek:

,,En nou vir die opskrif,” sê ek. ,,Die goud sal hou en die letters sal bly, maar daar is vandag opskrifte van die Kretense wat niemand kan ontsyfer nie. Watter taal sal ek gebruik wat oor honderdduisend jaar nog verstaan en gelees sal kan word?”

,,Ons s’n is die jongste, Pappa. Hy sal die langste leef.”

En toe het ek met my sakmes op die goud uitgesny:

HIERDIE GEDENKTEKEN

is hier gelaat deur

LOELOERAAI van VENUS

en deur

STOFFEL en KERNEELS en LENIE

en ENGELA van die AARDE

in die 23ste jaar van die 20ste eeu

van die Christelike Jaartelling

Gewoonlik is gedenktekens altyd in Latyn geskryf vir toekomstige geslagte, omdat die taal nie sou verouder nie. Wat ons hier sien is Afrikaans wat die rol van Latyn doelbewus oorneem; ‘n taal wat die millennia sal deurstaan. ‘n Mens moet hier onthou dat Afrikaans in 1923 nog nie op die wetboeke was nie; terwyl Latyn in heelwat sektore nog ‘n voorvereiste was, nog heelwat voorregte en nog ‘n hoë aansien in die Britse Ryk (en dwarsoor Europa) geniet het. Ek vermoed dus Langenhoven het bloot sy twee gunstelingtale gelykgestel. Of, dieselfde ewige waarde gegee.

In Loeloeraai sal jy ten minste twee keer op Latyn afkom, die opvallendste is et praeterea nihil (en niks verder/meer nie) en Cujus est solum, ejus est ad coelumm, ‘n regsterm wat hy self later verduidelik.

Maar sekere uitdrukkings is duidelik verbloemde Latynse gesegdes, en dit boonop geuiter deur Loeloeraai “uit ‘n ander wêreld”!

“Deur die harde kastyding na die sterre” (bl. 84) is ‘n byna verbatim-vertaling van “per aspera ad astra” of “per ardua ad astra”. Dieselfde geld vir “deur modder na die berge toe” (bl. 84), wat ‘n soortgelyke vrye vertaling is vir “per aspera ad montem” of selfs “per ardua ad montem” (deur die moeilikheid/steiltes na die berge).

En ‘n rukkie later herhaal Loeloeraai dieselfde metafoor: “Ons [Venusiane] het ’n steiler opdraande pad gehad om te klim as julle, Kerneels.” (89)

Maar selfs by die redaksie van Die Burger tref ons dieselfde beeld aan:

“Ons dink aan die sport van wilde barbarisme vanwaar ons gestyg het . . . aan die sporte van die verre toekoms waar ons onbekende bestemming wie weet ons nageslag tot ’n bowemenslike hoogte sal voer waarteen vergelyk ons vandag min meer is as redelose diere. En al die hemelliggame is nie ewe oud nie; hoeveel verskil tussen skepsel en skepsel is daar nie reeds hier op ons aarde nie . . . daar sal minderes wees, gelykes, meerderes . . . ja, ons hoef nie daaroor te raai nie. Die een wat gekom het om met ons kennis te maak . . . waar staan ons teenoor Loeloeraai.”

As Loeloeraai die verteenwoordiger van Venus is, dis nou ons Aand- en Môrester, en mens na die sterre reik, reik mens dus daarna om soos hierdie Venusiane te word? Van Venus, die hemelliggaam vernoem na die godin van die liefde.

Maar kom ons kyk na sy byna dromerige taalgebruik in die brief van die karakter Loeloeraai:

En hier op aarde dan? As die erfenis moet wag tot die erfgename mondig is, as die troon moet wag tot die prins bevoeg is om te regeer, as die wetenskaplike oorwinning alleen geluk kan bring wanneer hy voorafgegaan word deur die selfoorwinning – dan, my vriende, soos die een trapsgewyse vorder so kan die ander alleen trapsgewyse vorder. En ek merk reeds, as ek dit mag sê, alle tekens van so ’n aangevange vooruitgang. Julle staan baie, baie ver bokant die dierlike wreedheid van die wilde barbaar. Soos die ouer sy hongerige kind voed, sy swakke kind beskerm, so getuig julle hospitale en vrye skole en noodlenigingsinrigtings van die uitbreiding van kroosliefde en man-en-vrou-liefde tot naasteliefde en menseliefde. Daar, hand aan hand met die dryfvere van eiebelang en selfsug waarsonder die mensdom van die aarde ten gronde sou gaan soos die roofdiere ten gronde sou gaan sonder hulle wreedheid : saam met daardie dierlike aanspoorkragte wat nog hier nodig is, sal daar langsamerhand groei – groei daar nou langsamerhand – die hoër adel van medelye en milddadigheid en diensvaardigheid. Julle groot weldoeners: julle wetenskaplike navorsers, julle beoefenaars van die verédelende kunste, julle hervormers en martelaars – is dit nie reeds hulle gebruik om sonder loon te werk, ja om rykdom en weelde en eersug te verag nie ? Om tot ’n volksbesitting te word, moet hierdie bowedierlike gees by die enkelinge begin. Elke nederige onerkende offerdiens, elke liefdegawe sonder berekening van terugkeer, is ’n bydraag tot die vermensliking van die mensheid.

Wat mens dadelik opval is die die onderskeibare tipes liefde, vertaalde Latyn: kroosliefde (“pietas”), man-en-vrou-liefde (“amor”), naasteliefde (“caritas”) en menseliefde (“philanthropia”).

Natuurlik sal nie alle Afrikaanse woorde of begrippe perfek in die Latynse vertaling weergegee kan word nie. Hoe vertaal jy “baasskap” (teenoor “knegskap”), veral as “heerskappy” in dieselfde sin voorkom? Gaan jy twee keer “dominatio” moet gebruik? Jy kan ook nie die spottende toon met die woorde miesies Wenderbaail en Makpaatrie weergee (Afrikaanssprekendes wat hul as vermoënde Engelse dames uit die “High Society” voordoen) nie.

Maar onthou, selfs Italiaans, Latyn se nouste verwante dogtertaal, kan ook deesdae beswaarlik met presiesheid in Latyn vertaal word. Soos dr. F.P. van der Merwe skryf in sy Die vertaling as kuns (bl. 127):

Nadat ek my nou byna twintig jaar met die vertaling van werke uit Italiaans besig hou en voortdurend met Italianers in aanraking is, is daar gevoelswaardes in verkleiningsuitgange, werkwoordvorme en intonasiepatrone wat moeilik tot my deurdring – dinge wat ‘n Italiaanse kind kan aanvoel. Hierdie woorde is die moeilikste juis omdat hulle so gelaai is met gevoelsinhoud en die kind maak veral kennis met die gevoelswaardes van verkleinwoorde terwyl hy nog ‘n kleuter is.

Libro beteken boek; libretto is ‘n operateks of ‘n klein boekie; librettino is ‘n klein, oulike boekie; libriccino is ‘n liewe klein boekie; libruccio is ‘n minderwaardige klein boekie […]

Kom ons maak Italiaans nou Latyn:

Libro word “liber” in Latyn; libretto word “fabula” (vir operateks) of “libellus” (klein boekie); librettino word weer “libellus” (klein boekie); libriccino word wéér “libellus” (klein boekie); en libruccio  word nie eens in my Badellino Dizionario Italiano-Latino opgeneem nie. Wel libraccio: “malus liber” (slegte boek).

Tog, met hernieude ywer danksy Hebreeus wat binne ‘n eeu skaars so vinnig in ‘n lewende en akademiese taal ontpop het, is Latiniste ewe begeesterd om die taal op soortgelyke wyse te moderniseer. Jy hoef net Radio Bremen elke maand te besoek (Nuntii Latini) of die Pous se Twitterrekening in Latyn te volg. Selfs vir Apartheid is al ‘n naam voor bedink: segregatio nigritarum.

  1. Die boek is enkele jare ná die Spaanse griep (1918-1919) geskryf

C.J. Langenhoven en ds. P.J. Viljoen was nie alleen tydgenote nie, maar ook dorpenaars van Oudtshoorn. In ds. P.J. Viljoen se outobiografie Ek kyk terug (1949) word ‘n hele hoofstuk aan C.J. Langenhoven afgestaan.  Maar een paragraaf staan uit (bl. 201):

En tog het hy steeds sy volk tot die uiterste gedien. Daarin het sy lewe opgegaan. Hy het sy skrywerstalent gesien as ‘n gawe van God vir diens van sy volk. Hy het daardie diens ook gesien as uiters dringend en spoedeisend. Die agterstand wat ingehaal moes word was verskriklik groot. Die veld wat verower moes word was onmeetlik wyd. Winsbejag het hy nie geken nie. Vir roem en eer het hy hom nooit ingespan nie. Sy besef van die diens wat hy aan sy volk verskuldig is, het hom met sweepslae voortgedrywe. Die spanning waaronder hy voortdurend gelewe het is grotendeels hieraan toe te skrywe. Hierby het gekom dat hy geweet het dat sy dienstyd kort is. Hy het laat begin, maar toe hy eenmaal begin het, het die diens hom verteer.

As mens na voor in die boek van Viljoen terugblaai, onder die hoofstuk “Donker dae” (bl. 121 tot 128), dan tref jy ‘n opsomming van die Spaanse Griep aan wat Oudtshoorn getref het. Dit is byna skokkend hoe die histerie hom in 2020 en 2021 woord vir woord herhaal het. Te midde daarvan dat die Oudtshoorn en omgewing destyds beslis meer verlandelik en yler bevolk was as vandag.

‘n Mens kan wel wonder of die negosie wat die huis ingedra is ooit ontsmet was, of mense in die openbaar maskers gedra het, oor die welgesteldes (die rondreisendes) wat eerste die siekte onder lede gekry het, wat die invloed van die gebrek aan telefone sou gehad het, hoe die gerugte versprei het as niemand met mekaar kontak gehad het nie (per brief, of sommer langs die draad af praat?), maar sekerlik die belangwekkendste: die aggressiewe mutasie teen die einde.

Viljoen vat die gebeure so saam:

Ook daar tussen die berge van Oudtshoorn het die griep-epidemie van 1918 binnegedring. Eers het die mense nie die siekte baie ernstig opgevat nie, maar toe die berigte begin deurkom het van sy omvang en dodelikheid op ander plekke, het skrik om die harte geslaan, en lank voordat hy ‘n slagoffer geëis het op Oudtshoorn, het mense hulle begin opsluit in hul huise en afkamp op hul plase. Die een mens was bang vir die ander. Die kerkdienste op Sondae is gestaak, die skole gesluit en alle openbare byeenkomste verbied. Die een het die ander nie besoek en geeneen wou besoek wees nie, want elke besoeker mag ‘n draer wees van die dodelike kieme. Niemand het geweet wat in die huis langs syne gebeur nie en hoe stiller dit in die buurman se huis geword het, hoe wilder was die gissinge en hoe groter die vrees. Geen mens is op straat gesien nie en geen rytuig het op die paaie beweeg nie. Die vreeslikste gerugte het die rondte begin doen. Die buitemense het gehoor dat die lyke aanmekaar lê op die strate van Oudtshoorn en dat daar nie genoeg mense oorgebly het om hulle te begrawe nie. Hulle het die dorp beskou as ‘n peshol en niemand het gewaag om daarheen te gaan nie. Op die dorp weer het die mense verneem dat hele huisgesinne op die plase uitgesterf het en onbegrawe agter die geslote deur lê.

Hierdie skrikbevangenheid het die toestand ondraaglik gemaak voordat dit werklik ondraaglik was en het hulle angste laat verduur wat heeltemal onnodig was. Daarby het hierdie afsondering en opsluiting geen uitwerking gehad op die voortgang van die gevreesde siekte nie.

Hy het deur die geslote deur net so maklik binnegedring as deur die oop deur. Deur die gegrendelde venster het hy net so goed binnegesluip as deur die opgeskuifde raam.

Spoedig was daar byna geen huis waarin daar nie een of meer krankes was nie en het almal verlang na hulp en troos van een of ander kant. Maar die hekke is tevergeefs oopgegooi en die deure ontsluit. Daar was niemand wat kon besoek of help of troos nie. Elkeen het sy hande vol gehad met sy eie siekes. Eers die vrywillige afsondering, die afsondering uit vrees en toe die gedwonge afsondering deur die verwoede aanslae van die pes. Die laaste was verreweg die swaarste en angswekkendste.

Die moeilikheid was om te weet wat ‘n mens moes en kon doen. Daar was allereers die vrees dat ‘n mens die siekte kon oordra na jou eie huisgenote. Dan was daar ook gevaar dat jy deur besoeke dit kon versprei van huis tot huis. Die raad van die dokters was beslis dat die predikante net by die deure van die huise moes gaan verneem hoe dit gaan, maar nie in die huise moes ingaan of die siekes besoek nie. Maar dit het aan jouself geen bevrediging gegee nie, veel minder aan die gemeentelede.

[…]

Voorlopig is die saak wat my betref opgelos deurdat ek self siek geword het. Gelukkig het die ander huisgenote gesond gebly en het die nood by ons nie te hoog geklim nie. In 1919, toe ons daardie ligte herhaling van die  griep gehad het, was ons minder gelukkig. Binne twee dae was die hele huisgesin in die bed. Net ‘n vriendin wat daar op kuier was en die jongste babetjie van enige maande het vrygespring. Vriende van buite moes ons in spanne dag en nag kom verpleeg.

Dit lê nou eenmaal in die aard van die mensdom om met alles te spot. Hy doen dit dikwels enkel uit bravado. Maar hy doen dit ook om weg te kom van sy angs en vrees. As hy nie spot nie sal hy kerm en bewe. Tydens daardie tweede besoeking het die spotters die vermeende ontdekking gedoen dat die griep hierdie keer net die welgestelde mense aantas, en hulle het begin vasstel hoeveel ‘n mens moes besit voordat jy ‘n aanval van die griep hoef te vrees. My huisgesin moes glo die uitsondering gewees het wat die reël bevestig.

My grootste bekommernis tydens die eerste aanval was my twee karperde wat pal op stal gestaan het, want my staljong was ook siek. Daar was niemand om hulle voer of water te gee nie en niemand om die stal skoon te maak nie. Tog is ook hulle op een of ander manier versorg. Maar hulle het so baldadig geword van werkloosheid dat niemand dit later wou waag om hulle uit die stal te bring nie. Ek het probeer om die stal skoon te maak kort nadat ek weer op die been was, maar binne ‘n paar minute moes ek dit opgee.

[…]

Sodra daar weer genoegsaam mense op die been was het ons die dorp en die distrik in wyke verdeel en elke môre het ons in verskillende rigtings uit getrek om die mense te gaan opsoek. Elkeen van ons was gewapen met ‘n termometer, ‘n aantal pakkies Engelse sout en ‘n voorraad asperin-pille. Ons het geen huis verbygegaan en geen k*fferstroois oorgeslaan nie. Waar ons siekes aangetref het, het ons gedokter en raad gegee. Waar hulp nodig was het ons probeer om die belangstelling van die bure op te wek en tot hulpbetoon aan te spoor.

[…]

Veertien dae gelede het die siekte sy verskyning daar gemaak en soos ‘n windvlaag het hy deur die huise getrek. Die paar mense wat op die been gebly het kon net die allernoodsaaklikste doen. Vir huisskoonmaak was daar geen tyd of kragte nie. Die skottelgoed en ander huisgereedskap het oral ongewas gestaan. Daar was niemand om beddegoed of klerasie te was nie. Die vlieë het by duisendtalle op die huise toegesak en niemand het hulle doodgemaak of weggeja nie.

[…]

Die verpleegsters het op daardie eerste dag wonders verrig. Teen die aand was die huise skoon, die beddegoed gewas, die vlieë onder beheer, die pasiënte versorg, gevoed, gereinig en gelukkig. Nou kon ek oral gaan sit en met die mense gesels. Net voor ons vertrek het ek by die Smiths ingestap. Man en vrou het siek gelê op die dubbele bed indie kamer. Regoor die bed, aan die anderkantse muur, het hul baba op ‘n paar komberse op ‘n houtkis gelê. En die ou dingetjie het gesnik soos hy huil.

“En hoe gaan jy vannag jou kind versorg?” het ek aan die vrou gevra.

“Ek weet nog nie, Meneer”, het sy geantwoord en in trane uitgebars.

“Ek dink dat dit die beste sal wees dat ons die kindjie saamneem dorp toe en dan bring ons hom môre weer terug.”

Maar daar wou die vrou nie van hoor nie. Ek kon maar net die kis tot teen die bed sleep sodat die vrou die kind kon bereik sonder om op te staan.

Daardie nag het ek gedurig die smartlike gehuil van die kindjie gehoor.

Met hierdie verplegingswerk het ons ongeveer ‘n week volgehou en daar het geen verdere sterfgevalle voorgekom nie.

By al die verskrikkinge van die griep was daar hierdie een seën dat die siekte so vinnig verloop het. Binne tiende was die pasiënt gewoonlik gesond, of dood. As hy ‘n slepende verloop gehad het soos koorssiekte sou die ellende onbeskryflik groot gewees het.

[…]

Spoedig was die siekte uitgewoed. Asof hy ‘n onuitwisbare indruk van sy verderwende mag wou agterlaat, was die laaste paar sterfgevalle die ontsettendste. Sy laaste twee slagoffers was ‘n sterk man in die krag van sy lewe en ‘n aanvallige dogter van sewentien jaar. Hier het hy die vreeslike pesvorm aangeneem. Hulle was nie alleen binne ‘n paar dae dood nie, maar voor die dood het die ontbinding reeds ingetree.

Ek het tot hiertoe buitengewone krag ontvang om alles te dra en kalm te bly. Maar op die begrafnis van Katie Keller het my selfbeheersing heeltemal gebreek. Tot in my siel bewoë het ek opgestaan om die diens te begin en hier kom haar swart hond, met wie ek haar so dikwels sien speel het en lê sy kop op my been asof hy troos soek. Dit het lank geduur voor ek weer kon praat en aan alle kante is net snikke gehoor.

‘n Maand later het die lewe weer sy gewone loop geneem. Maar in baie huise was daar ‘n leë plek wat nooit weer opgevul sou word nie en in baie harte rou wat die tyd sou versag maar nooit heel nie.

Ek glo nie hierdie tydperk sou aan Langenhoven se klere gaan sit het nie. En ‘n 100 jaar maak geen verskil om dieselfde gevoelens en denke te koester nie. Dit benadruk net die tydloosheid.

  1. Onopgeloste en steeds brandaktuele kwessies

Sowel Rob Antonissen as T.J. Heyns beskou die werk as “profeties-aktueel” (Ungerer, 1983: 233-234).

Selfs vir die oppervlakkige leser is dit vandag nog duidelik soos daglig. Dis amper ‘n honderd jaar later, en reeds in 1923 het Langenhoven eintlik ‘n pleidooi vir sonkrag gelewer (en dalk atoomkrag, byna ‘n dekade voor die eerste atoom gesplyt word in 1932; byna twee dekades voor Enrico Fermi se eerste kernreaktor in 1942), met Loeloeraai aan die woord (1941:49):

Julle [Imperiale Regering] gebruik julle kapitale voorrade van steenkool en olie wat nog in die aarde oorskiet op om elektriese krag te genereer om om te sit tot kunsmatige lig en hitte. Ons [op Venus] gebruik die natuurlike lig en hitte van die son om in elektriese krag om te sit. Ons span die oneindige bronne van energie van die atome in.

Nog lank voor ekobewustheid ‘n gonswoord geword het en die verskrikking van besoedeling Johannesburg se middestad sou tref, vind ons hier eintlik ‘n subtiele spot met die kastige “vooruitgang”, maar nié, en hier verskil die boek met die hedendaagse ekobeheptes, sonder om die menslike lyding hierby te betrek nie (1941:68):

Ja, lyk julle selfverwerfde kennis nie reeds of hy te snel gevorder het nie ? Julle het die stoomkrag in julle diens ingespan. Uit ontsaglike fabriekstede styg swarte rookwolke op na die hemel om te getuig van julle oorwinning oor die natuur. En die heerlikheid van die sonneskyn en die glorie van die sterrehemel is agter die donker wolke weggeraak. En duisende van julle medemense slaaf in die fabrieke soos stukkies masjinerie, sonder ’n wil, sonder ’n doel, sonder belangstelling: ’n lewelose lewe, ’n onmenslike menslikheid. Die harde slawerny van die natuur is vervang deur ’n slawerny van wetenskap wat oneindig harder is. Die diens wat julle verniet gekry het om julle lot te verlig, het dit verswaar.

Maar eintlik moet mens die boek se filosofie in sy geheel lees.

Die boek begin met ‘n duidelike verwysing na die Tuin van Eden:

,,Daarbuite in die wildernis is twee ongelukkiges,” sê die engel aan die poortwaarders. ,,Kan ek hulle gaan haal en hier inbring ?”

,,Hulle wás hier,” was die antwoord. ,,Hulle het nie gedeug nie. ’n Tweede proef is oorbodig. Hulle moet wag tot hulle genoeg wysheid en vernuf geleer het om hierdie swaard opsy te druk. Dan sal ons hulle weer laat ingaan. En dan sal hulle daarbinne deug.”

‘n Mens moet onthou hierdie hele storie speel af skaars 5 jaar nadat die Eerste Wêreldoorlog beëindig is, soos daar telkens in die boek na verwys word. In sy brief aan Die Burger rammel Loeloeraai voort oor nie alleen die natuurkragte wat onderwerp en benut moet word nie, maar bowenal die dierlike selfsug binne die mens self. En merk net hoe duidelik hy profeties voorspel die Russiese Bolsjevisme stuur op rampspoed af (ses jaar ná die Rewolusie), nog lank voor Animal Farm (1945) verskyn het (1941:69-70):

Want, my vriende, die een suksesvolle rebellie is nie genoeg nie. Daar is nie alleen die natuur daarbuite om te oorwin nie. Daar is die natuur wat binne is. ’n Dier plus verstand en kennis en sonder meer is ’n duiwel. Die binneste tugmeesters van die dwingeland – liggaamlike honger en vrees, sinnelike liefde, moet saam oorwin word. Die selfsug wat sy geluk soek met roekelose onverskilligheid omtrent die geluk wat hy by ’n ander verderf, moet plaas maak vir die offersug wat sy behae vind in gee in plaas van neem, in uitdeel in plaas van skraap. Op die ou end is dit die verstandigste selfsug. Hy lei tot die hoogste geluk. En dis nie ’n nuwe aankondiging wat ek maak nie, my vriende. Hierdie weg van heil is julle byna twee duisend jaar gelede duidelik aangewys. Had julle hom maar gevolg dan was die aarde vandag ’n Venus.

Vergewe my tog, my vriende. Ek wil nie onaangename dinge sê wat dit vir ’n gas en ’n vreemdeling nie mooi is om te sê nie. Maar julle het my gevra en ek moet eerlik wees. So min vordering het julle nog gemaak met die grotere rebellie – die verset teen julle eie selfsugtige diere-aard – dat selfs waar julle die beginsels van offerande en liefdediens van buite wou toepas, het dit op ’n aaklige ramp uitgeloop. Die Franse rewolusie was gegrond op die vrome beginsels van vryheid, gelykheid, broederskap. Die Russiese bolsjewisme op die vrome doel van die beheer van die voortbrengsels van die wêreld in die hande van die werkers van die wêreld. En in plaas van die beoogde geluk het daardie proefnemings die vorige ellende verdubbel en verhonderddubbel. Waarom? Omdat dit nie help om aan die ingesetenes van ’n kranksinnige gestig redelikheid en wysheid te preek en die grendels van die deure af te gooi nie. Soos die wetenskap nie eensklaps gekom het nie, so kan die herbore mensheid nie eensklaps kom nie.

Watter regeringsvorm, watter ekonomiese staatstelsel, sal julle vra, het ons dan op Venus ? My vriende, ons het geen regeringsvorm daar nie. Daar is geen dwang nie want daar is geen ongehoorsaamheid nie. Daar is geen wedywer om loon nie want liefdediens is sy eie loon. En in die loop van die eeue, sedert ons duisend-duisendjarige ryk aangebreek het, het ons ondervind dat die offerande geen offerande meer is nie, die diens geen arbeid nie; dat ons nie oor geluk hoef te stry nie want die geluk is daar in oorvloed om te neem. Wie sal ook goudgierig wees as hy soveel goud vry kan vat as wat hy begeer ? Die verskil tussen selfsug en offersug het by ons verdwyn.

Eers wanneer die fiktiewe Langenhoven, Vroutjie, Engela, Oom Stoffel hulle in die middel van die maan in ‘n paradyslike staat bevind (in die kern, die dwarsgange van die maan), deel Loeloeraai aan die geselskap ‘n geheim mee, wat hy beslis nie met Die Burger, en dus die fiktiewe publiek, gedeel het nie.

Die keuse tussen die vooruitgangsgeloof (wat Deterministies glo die mens is, gegrond op die evolusie en deur uit sy foute te leer, op pad om ‘n halfgod te word ) en agteruitgangsgeloof (gegrond op die Dekadentisme, wat glo die mensdom het met die eeue al hoe afvalliger en verdorwe van sedes geword hoe langer hy uit die bos gekruip het) word wel geopper (1941:119):

“Daar is ’n onverbiddelike prys vir al wat verwerf word; daar is tolgeld op die pad na elke bestemming; daar is ’n opdraand na elke hoogte. Kerneels en Stoffel het hier geredeneer of daar menslike of vernuftige wesens hier kan wees. Hoe kan dit wees ? Die paradys moes sy boom van die dood hê en sy boom van die lewe. Die prys van ontwikkeling is oneindige pyn en lyding.”

,,Dis vreeslik, Loeloeraai,” sê ek. ,,Dan is daar maar twee weë ? Geluk sonder vooruitgang of adel ten koste van ellende ? ’n Paradys vir diere, ’n Golgota vir geeste ?”

Die paradys op die maan bestaan slegs uit vlieënde wesens (voëls en vlinders), maar is hondmak, omdat hulle nog nooit ‘n mens gesien het nie en onbewus van enige skrikbewind is, wat aansluit by die gesprek met paleontoloog prof. dr. François du Randt hierbo in die potgooi, 98 jaar later (1941:118):

,Waarvan leef al hierdie diere, reken jy, Loeloeraai ?”

,,Van die groenigheid. Van blare en vrugte en die suiker van die blomme. Daar is geen roofdier en geen prooi hier nie.”

,,Waaruit lei jy dit dan af, Loeloeraai ?”

,,Het jy opgemerk, Kerneels, dat geen lewende ding ons hier ontvlug nie ? Die voëls en die insekte kom op ons skouers en op ons knieë sit. Kyk hoe geniet daar die dingetjie wat ek maar ’n papegaai sal noem, Engela se liefkosing. Ons het nog nie ’n lewende ding hier aangetref wat van vrees weet nie. En op die aarde ? Julle sal dit honderdmaal beter opgemerk het as ek. Wanneer jy ’n dier op sy gelukkigste sien – die bokkie wat ’n nuwe weelderige weiplek aangetref het, die duifie wat vir sy maat so soet en liefies koekroekoe: almal van hulle is altyd aan’t rondkyk of daar nie ’n vyand nader nie. Die aarde word geregeer onder ’n wrede skrikbewind. En die grootste roofdier van almal is die hoogste van almal – die mens.”

Die geselskap maak die aanname die bronne het met verloop van tyd so uitgeput geraak dat slegs die spesies wat kon vlieg bly voortbestaan het. Die paradys lê egter steeds op sterwe na dood (1941:119 tot 120):

,,Maar selfs hier, Loeloeraai – hoe kan hierdie lewenstaat bestendig wees sonder stryd en dood ? Nie alleen moet hierdie plantetende diere so vermenigvuldig, as hulle nie roofvyande het, dat hulle die plantelewe totaal sal verdelg nie, maar hulle wedywer teen mekaar sal hulle tot onderlinge vyande maak.”

,,Miskien het hulle tot die punt ontwikkel waar alleen die onsterflikes oorgebly het en die voortplanting opgehou het. In alle geval het ons hier die uiteindelike langslewendes van ’n sterwende wêreld. Die lewe het gekrimp soos die lewensgeleenthede gekrimp het. Water en lug en warmte en lewe is teruggetrek tot in die ingewande van ’n liggaam wat van buite dood is. En nog gedurig word die oorblyfsel van lewenshulpbronne minder en minder. Die atome van water en lug raak nog gestadig weg deurdat die swaartekrag nie genoeg is om hulle te hou nie. Ons het hier gekom op die laaste stadium voor die uiteindelike ondergang.”

In hierdie roman word die filosofie vereenvoudig (die teks kan mens ekologies én kultureel én ekonomies opneem) en die voorkeur vir die vooruitgangsgeloof gegee. En met geldige redes:

Jy kan die slaaf van jou paradys bly, sonder om ‘n vinger te lig, geen vooruitgang bewerkstellig nie (of vooruitgang vir ander onmoontlik maak) en staan en toekyk hoe die wêreld rondom jou stukkie vir stukkie verbrokkel: die eindbestemming van die laksheid van niksdoen is ‘n sterwende wêreld. Daar is een tros piesangs vir ‘n X-aantal mense of diere, en dit is dit. As die tros afgepluk is, is hy afgepluk, vir eenmalige gebruik, sonder preservering, SONDER berging, sonder voeding vir die piesangboom, of tydsbesef of tydsbesparing (want jy sal al hoe verder weg moet gaan soek vir vrugte) of toekomsverwagting vir môre of VIR ANDER. Nie vir hierdie geslag nie, ook nie vir die toekomstige geslagte nie. Dit maak juis dat die nomadiese bestaan slegs tientalle mense kan onderhou.

Die boek trek ‘n bloedrooi streep deur die selfregulerende Gaia-hipotese, wat aanvoer die aarde kan self herstel omrede die diere- en planteryk in perfekte simbiotiese harmonie verkeer. Gaia is ‘n superfeeks: sy was die allerlelikste oerdiere in die Fayyum-distrik van Egipte (vroeër ‘n strandmeer wat deur verdere isostasie ‘n droë en barre woestyn geword het) allermins goedgesind. Die mens het geen handjie in hul ondergang gehad nie (daarvoor was die dinosouriërs te ver terug!), nog minder het die vrye natuur (wat plante en diere insluit) enigsins iets gedoen om die agteruitgang te stuit.

Dit het wel ‘n hele ingewikkelde ontsoutings- en drupbesproeiingskema in Israel deur die mens gekos om Israel weer groen te kry en ‘n lushof van te maak soos die Prediker (2:5) van weleer geskryf het:

Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant.

Anders sou die byna menslose omgewing (deur sy “onherbergsaamheid”) mos vanself herstel het, nie waar nie? Maar dit het nie.

Al die ellende van vingertrek is wel lonend (“Adel ten koste van ellende”), en daarom is dáárdie paradys joune, omdat jy dit verdien het: die einddoel is lewe, langer lewe, die onderhoud van meer lewe en die vermenigvuldiging van meer lewensgeleenthede en lewensvryhede vir ANDER.

Dit klop weer met die ekonomiese beginsel: om met verloop van tyd al hoe meer spaarsamig, versnellend, desentraliserend, volhoubaar, en met minder vermorsing, met ‘n hulpbron om te gaan (byvoorbeeld deur massavervaardiging en duursaamheid). Om een broodjie te bak kan nogal duur kos, vergeleke met ‘n oondkamer vol brode wat vir die publiek gelyktydig gebak word. Jy hoef nie meer stompe en stompe hout te gaan kap, aan te dra en rook verduur vir ‘n bietjie lig en hitte (vir een mens) nie, daarvoor is skoon elektrisiteit daar (vir miljoene mense).

Op kulturele gebied sou ons kon sê één woordeboek kan die wêreld se geleenthede ontsluit vir duisende mense. En daardie duisende mense sorg vir werke wat inligting toegankliker vir honderdduisende of miljoene maak. Een ensiklopediese inskrywing, deur een mens, spaar honderde mense geweldig baie tyd, wat andersins self, van voor af, presies dieselfde kenners se insigte onafhanklik moes gaan soek. Jaar in en jaar uit.

Daar is dus iets in hierdie werk van Langenhoven wat vir my ‘n baie modernistiese uitkyk het. Modern, maar op ‘n wyse sterk optimisties-humanisties.  En ek betwyfel sterk of Sonde met die bure (met sy 29 herdrukke teen 1956) enigsins dieselfde filosofiese diepte verkry.

Dit is so ‘n sterk etiek, dat ek beswaarlik dink die leser besef wat hy lees. Dit is ‘n hoogs ingewikkelde stelsel veel groter as die individu, maar wat nie sonder die individu, met sy spesiale plekkie, kan funksioneer nie. En dit sluit die tannie wat vis-en-tjips bak in (wat tyd deur wegneemetes spaar, ‘n idee so oud soos Ostia Antica self), ook die vlagswaaier by die padwerke, die straatveër… Geen taak is hoe gering nie.

En begrip hiervoor is juis nou broodnodig in ‘n hoogs individualistiese wêreld waar die mens aan homself en sy eie klein gemaklike wêreldjie in sy kop oorgelaat is, en uitgestoot, uitgebuit, uitgeleef, uitgekuier, hopeloos neerslagtig voel en die samelewing daarbuite as “koud” en “leeg” en “onveilig” en “onverstaanbaar” ervaar.

Ek dink Loeloeraai het reeds sy eeu van onreg ervaar – gee hom die erkenning wat hom toekom.

TLU SA misnoeg oor kwart-miljard rand betalings aan SAFDA

TLU SA neem met misnoeë kennis van bewyse dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oor die afgelope vyf jaar meer as ‘n R246 miljoen aan die South African Farmers Development Association (SAFDA) gegee het.

Volgens ‘n parlementêre antwoord aan die DA het minister Thoko Didiza gesê haar departement het R246 664 290 aan SAFDA betaal, maar daar is geen duidelikheid oor hoe en hoe suksesvol die besteding hiervan is nie. Die ooreenkoms tussen die twee partye bevat verder ‘n vertroulikheidsklousule, wat nog meer vrae laat ontstaan oor waarvoor hierdie openbare fondse aangewend is.

“Ons is redelik oortuig dat die gemeenskappe wat veronderstel was om deur hierdie fondse bevoordeel te word, geensins beter daaraan toe is nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Soos met die finansiële hulp wat die regering aan die begin van die COVID-19-pandemie aan klein boere uitbetaal het, is dit duidelik dat dié wat die fondse toeken geen insig in die voedselvoorsiening van Suid-Afrika het nie. Hierdie boere voorsien maar 3% van die nasionale aanvraag na voedsel. Deur die grootste finansiële ondersteuning aan hierdie groepe en bestaansboere te gee, help geensins om die 68% verstedelikte bevolking van kos te voorsien nie.”

Dit is vir TLU SA duidelik dat hierdie tipe hulpverlening bloot ‘n poging is om mense afhanklik te hou van die staat. Dit is nie volhoubaar nie en gaan niemand op die lang duur bemagtig nie.

“Ons verwag dat die regering ernstig moet besin oor die toekoms van die land,” sê mnr. Geldenhuys. “Die regering is besig om al hoe verder van moontlike oplossings af weg te beweeg. Die inwoners van die land begin ook al hoe meer besef dat daar binne die beleidsraamwerk van die ANC nie oplossings is nie. Gemeenskappe sal al hoe meer hulle eie omstandighede vir die toekoms moet skep.”

Dan Roodt: Waarom ek nie die inspuiting wil hê nie

‘Spuit in, druk geld, sensureer en beheer mense met vrees en stigmatisering. Dis blykbaar die Groot Plan,’ skryf Dan Roodt

Toe ek ‘n student was, het ek nogal in heelwat argumente met mediese studente betrokke geraak. Ek het hulle probeer oortuig dat hulle manier van kyk na die wêreld, of dan hulle wêreldbeskouing, net een tussen ander was. Vandag het hulle almal egter groot viertrekvoertuie en vakansiehuise by Plettenbergbaai of Hermanus terwyl ek steeds ‘n arm skrywer/kunstenaar/denker gebly het. Want dokters skryf mos medisyne voor en maak saam met die farmaseutiese maatskappye geld daaruit, amper soveel soos Nigeriese dwelmhandelaars uit dwelms.

Intussen is toordoktery of, meer polities korrek, “tradisionele geneeskunde”, kragtens wetgewing in ons land tot wetenskap verhef. Die twee is gelykgestel. Dit bevestig so min of meer die “epistemologiese anargisme” van my gunstelingfilososoof van destyds, Paul Feyerabend. Hy het geskryf dat die wetenskap “maar net een feëverhaal” tussen ander is. Baie van wat ons nou beleef, is inderdaad soos ‘n feëverhaal, of ‘n wetenskapfiksienagmerrie.

Nou is my eerste vraag: as “tradisionele geneeskunde” so wonderlik is as wat die ANC en vele linkse denkers in ons land beweer, waarom moet ons inentings teen korona uit Westerse lande invoer?

My tweede en derde vrae is: Vertrou u die ANC? Asook: Vertrou u vir Pfizer, AstraZeneca en Johnson & Johnson?

Al die joernaliste (of hoernaliste soos ek hulle noem) sal hierdie vrae luidkeels met krete van “Jaaaa!” beantwoord, maar dan het hulle hulle nog nooit verdiep in die geskiedenis van die mensdom en veral die wetenskap nie.

Ons weet ook dat hier belange, sowel finansieel as polities, op die spel is. En die media, die “hoofstroommedia” of HSM soos hulle deesdae genoem word, dien altyd iemand se belang. Hulle maak propaganda vir iets of iemand. Soos byvoorbeeld die groot farmaseutiese maatskappye. Of Brittanje. Of Bill Gates en Georges Soros. Regstreeks of onregstreeks.

Daarom, ongeag al die probleme rondom die sogenaamde “inentings” – wat afwyk van die tradisionele definisie van ‘n inenting – verkondig al wat ‘n koerant of ‘n HSM-webblad is dat jy jou so gou moontlik moet laat inspuit. Maak nie saak waarmee nie, want lyk my enige middel is goed genoeg, solank een of ander Groot Farmaseutiese Maatskappy dit beskikbaar stel.

Mense is skape, word daar dikwels gesê. Van nature is hulle daartoe geneig om te konformeer en om te doen wat die groep doen. Daar is mense soos ek wat so half stroomop is, dinge bevraagteken en bewyse wil sien, maar ‘n mens betaal ‘n duur prys daarvoor want die skape en die konformiste wil jou daarvoor op die brandstapel sit. Of as daar nie ‘n brandstapel beskikbaar is, jou ten minste brandmerk of “kanselleer” soos dit tans heet.

Een van die mees patetiese onlangse skrywes in Afrikaans is dié van Koos Kombuis, wat hom jare lank as ‘n linkse hippie of “kunstenaar” voorgedoen het. Hy is steeds in opstand teen PW Botha en een of ander gewaande “konserwatiewe kultuur” van die sewentigerjare, maar as dit by die Inspuiting kom, staan hy eerste in die ry. Trouens, al klagte wat hy het, is dat hy nié eerste in die ry kan wees sodat sy genetika deur Pfizer of Johnson en Johnson permanent verander kan word nie. Koos Kombuis: En eindelik kry ek toe my steek. Sy steek, nogal. Dis seker ‘n Naspersgrappie. Miskien moet hy eerder sy verhoognaam na Koos Konformis verander. Dermate dat hy jags was vir die inspuiting, om nou by die platvloerse humor van die Naspers- en Netwerk24-hoernaliste te hou.

Daar is verskeie moderne omskrywings van wetenskap, maar ‘n gangbare een is: ‘n Teorie of hipotese wat reg of verkeerd bewys kan word. As iets “net reg” is, soos godsdiens of dalk toordoktery, dan is dit nie wetenskap nie. Dis waarom Galileo en die Pous so vasgesit het toe eersgenoemde gesê het dat die aarde om die son draai. Op die ouderdom van 69 moes Galileo Galilei op sy knieë gaan en die gedagte dat die aarde om die son draai “afsweer, vervloek en verafsku” en elke dag sewe psalms opsê. Ook is alles wat hy ooit geskryf het, op die Indeks van verbode boeke geplaas.

Sowel die uitvinder van die PCR-toets, Kary Mullis, as die uitvinder van die boodskapper-RNS-metode, Robert Malone, het ernstige bedenkinge oor dít wat tans aan die gang is sover dit die intentings betref. Ons weet ook dat geen van die middels wat nou by die miljoene dwarsoor die wêreld toegedien word, aan die normale proses van kliniese beoordeling deur die FDA in die VSA onderwerp is nie. Ons eie Mediese Navorsingsraad is deesdae so hopeloos “getransformeer” dat ‘n mens wonder of hulle gebore daartoe in staat is om enige ingewikkelde middel wetenskaplik te kan toets en beoordeel.

Laas het die tannie van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, dr. Angelique Coetzee, haar nog vrek gelag toe mense haar oor ivermektien uitvra. Sy het te kenne gegee dat ivermektien ‘n absurde bygeloof was, of iets na aan toordoktery. Ekskuus, “tradisionele genesing”. (En moet my nou asseblief nie weer aankla omdat ek dit waag om die woord “toordoktery” te gebruik nie.) Tans geniet ivermektien wêreldwyd ‘n toenemende reputasie as ‘n middel wat die virale lading van ‘n pasiënt tydens Covid-19 kan laat afneem, soos wat ‘n Israelse studie ‘n maand of twee gelede bevind het.

Op 6 April 2021, Van Riebeeckdag, het die Hooggeregshof in Pretoria die minister van gesondheid, asook die Suid-Afrikaanse gesondheidsprodukte-owerheid, beveel om die gebruik van ivermektien by die behandeling van Covid-19 toe te laat.

In Desember 2020 nog het die mediese skool van die Universiteit van Pennsilwanië in die VSA alle gepubliseerde mediese navorsing oor die boodskapper-RNS-inentings in oënskou geneem en tot die volgende gevolgtrekking gekom:

“The current evidence base on messenger RNA (mRNA) vaccines is made up entirely of small early-stage trials, nearly all of which examined only short-term outcomes. They lack sufficient power for testing the statistical significance of most results, and for assessing the risk of serious but uncommon adverse events.”

Self gaan ek my nie laat inspuit nie, omdat ek nóg die ANC nóg die farmaseutiese maatskappye vertrou. Ek sal eers wag dat daar behoorlike kliniese toetse op die middels gedoen word en die kat uit die boom uitkyk.

Behalwe die pro-farmaseutiese propaganda wat die hoernaliste elke dag opdis, is dit belangrik om ook van die teenargument kennis te neem. Die webblad nojabforme.info bevat inligting en nuus in 39 tale rondom die inspuitings, asook die koronavirus.

Ek wil nie aan enigeen voorskryf om die inspuiting te kry of nie te kry nie. Hoewel ek ouer as 60 is, weier ek self om enige inspuiting te ontvang en as ek daartoe gedwing word, sal ek my daarteen verset. As ‘n mens nie meer mag vlieg of openbare plekke mag besoek as jy nie ingespuit is nie, sal ek maar net met Jan Tuisbly se karretjie ry, soos wat ek in elk geval reeds doen.

Noorweë het reeds besluit om alle inentings met die virale vektor van Johnson en Johnson te staak en wil hul oorblywende voorraad aan Afrika, waaronder Suid-Afrika, verkoop. Dit veroorsaak te veel bloedklonte.

Sommige mense beskou die tipe inspuitings wat tans toegedien word as biologiese wapens omdat dit elke sel in jou liggaam binnedring en heel moontlik jou immuunstelsel permanent verander. Die langtermyngevolge daarvan is nog nie verreken nie; almal wil net hê “die ekonomie moet weer werk” en hulle wil weer kroeg toe of restaurant toe kan gaan.

Terloops, iemand vertel my gister dat al die restaurante by die Cresta-winkelsentrum in Johannesburg gesluit is, maar mens kan steeds wegneemetes daar verkry. Nou loop almal in die sentrum en selfs in die winkels rond terwyl hulle eet – sonder maskers. Die hele Cresta is nou een groot restaurant. Hoe beperk dit die virus se verspreiding, wonder ‘n mens?

‘n Klomp van die maatreëls en optrede wat tans aan die gang is, is geheel en al absurd.

Die ekonomie gaan ook nie “net weer werk nie”, want die sentrale banke druk al van 1998 af aanmekaar geld om ‘n ineenstorting van die aandelebeurse te verhoed, met die gevolg dat die rykes ryker word en die armes armer. In dié opsig bevoordeel Covid-19 vir Jeff Bizos, Elon Musk, Bernard Arnault, Bill Gates en Mark Zuckerberg, die vyf rykste mense ter wêreld, want hulle aandele styg gedurig terwyl gewone mense verarm. En die sentrale banke hou aan geld pomp om die beurse nog hoër te druk.

Spuit in, druk geld, sensureer en beheer mense met vrees en stigmatisering. Dis blykbaar die Groot Plan.

Dr. Maré Olivier van Kuilsrivier in die Kaap wat dit gewaag het om mense op Facebook aan te raai om ‘n “ingeligte besluit” aangaande inspuitings te neem, word nou gedreig dat sy by die Mediese Raad aangekla kan word want sy het dit gedurf waag om die alwysheid van die farmaseutiese reuse te bevraagteken.

Selfs as jy ‘n mediese dokter is, mag jy nie ‘n mening oor die inspuitings uitspreek of selfs net vra dat mense behoorlik daaroor nadink nie.

Miskien werk jy met mense en loop jy die risiko om aan Covid-19 blootgestel te word. En jy voel oortuig deur die beperkte kliniese studies wat daar tot dusver op dié middels gedoen is. Dan is die inspuiting dalk reg vir jou.

Maar as jy in staat is om groot groepe mense te vermy, van die huis af werk en glo dat jou immuniteit goed is, waarom dan die risiko en moontlike langtermyngevolge van ‘n inspuiting neem?

Ek mag verkeerd wees, maar persoonlik voel ek dat my immuniteit goed is. Ek rook nie, drink nie en eet meer vars vrugte en groente in een week as die meeste mense in ‘n jaar. Ook pampoenpitte vir sink en ‘n wye verskeidenheid ander voedselsoorte. So een keer per jaar kry ek dalk verkoue maar herstel gewoonlik binne ‘n dag of twee daarvan sonder dat ek enige medikasie hoef te neem. My liggaamsmassa-indeks is presies waar hy moet wees, rondom ‘n 22, dus is ek nie te vet of te maer nie.

Negentig persent van mense wat aan Covid-19 sterf, is oorgewig. Eers het jy op McDonald en Cadbury vertrou, nou plaas jy jou hoop op Pfizer. Sterkte daarmee.

Die rol van dieet in al ons moderne gesondheidsprobleme word totaal onderskat. Die meeste dokters weet ook nie veel daarvan af nie, want dieetkunde is nie deel van die gemiddelde mediese kursus nie. Die voedselbedryf en die mediese bedryf teer op mense se versugtinge na gemorskos: een verkoop die kos en die ander die middels wat veronderstel is om die gevolge daarvan te behandel. Dus kan mens sowel McDonald as Pfizer in jou aandeleportefeulje hê. Hoewel, ten spyte van korona styg Pfizer se aandeelprys nie eintlik nie. ‘n Mens wonder hoekom? Miskien weet die beleggers iets wat ons nie weet nie.

Selfs al doen ek korona op, dink ek nie die virus gaan my doodmaak nie. Ek sal dit eerder vermy om die virus onder lede te kry as om my doelbewus met die pylproteïen (spike protein) deur middel van ‘n inspuiting te besmet. Ek verkies géén virus in my liggaam nie: nóg Covid-19, nóg Pfizer, Moderna, Johnson en Johnson of AstraZeneca of wie ook al se mensgemaakte “gesonder” virusse.

Dr. Robert Malone, wat as jong navorser in die 1980’s by die Salk-laboratorium eintlik die wetenskaplike deurbraak gemaak het wat nou deur die farmaseutiese maatskappye gebruik word om pylproteïen na jou selle oor te dra, verduidelik in hierdie video waarom die huidige inspuitings gevaarlik kan wees. Kyk daarna, en maak ‘n ingeligte besluit.

Kyk na die argiefkopie van die onderhoud (2021)

Vuurwapenwet: Staan saam en tree op, versoek ad hoc-groep

Die tyd het aangebreek vir organisasies om saam te werk om Suid-Afrika te versterk. Dit was die boodskap wat deur bykans alle rolspelers tydens gister se vergadering van die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg bevestig is.

Dié groep het besluit om alle belanghebbende groepe byeen te roep om die omstrede wetsontwerp oor vuurwapens te bespreek. Dié wysigings kom neer op ‘n vorm van onteiening van eiendom, waarteen die groep adviseer.

Die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, georganiseerde landbou en landbouverteenwoordigers, burgerlike en burgerregte instellings, opposisiepartye en akademici sowel as geloofsinstellings. Die groep vergader gereeld om enige beleidsraamwerke wat eiendomsreg mag skaad of ondermyn, te bespreek en onderlinge standpunte, aksies en inisiatiewe te oorweeg.

“Dit was goed om ‘n uiteenlopende groep organisasies byeen te hê,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Wat baie duidelik na vore gekom het uit die groepe wat die byeenkoms bygewoon het en uit die kommentaar van mense wat dit deur sosiale media gevolg het, is dat daar nou daadwerklik opgetree moet word om te voorkom dat hierdie tipe wetgewing deurgevoer word.

“Ons ervaar ernstige probleme met die administrasie en uitvoerbaarheid van bestaande wetgewing. Dit is dus belaglik om te dink nuwe wetgewing wat baie meer administrasie gaan verg, sal suksesvol geïmplementeer kan word.”

TLU SA en die Vryheidsfront Plus het bevestig dat hulle die wetsontwerp totaal afkeur en hulle nie daaraan sal onderwerp nie.

Die groep stem saam dat die wetsontwerp nog deur die parlementêre proses moet vorder, maar dat daar nou reeds voorsiening gemaak moet word vir komende regsaksies.

“Intussen doen ons ‘n dringende beroep op alle Suid-Afrikaners om nie apaties te staan teenoor belangrike sake soos hierdie wat die basiese vryhede soos dié van keuse, aan bande lê nie. Raak betrokke, laat jou stem hoor, wees bewus van jou veiligheid en wat jou te doen staan.”

Die groep het ook gemaan dat mense nie roekeloos moet optree nie, maar deel moet word van ‘n beheersde plan om hierdie wetgewing teen te staan.

Karel Combrinck: Aanslag teen Afrikaans

Op Maroela Media van 31 Mei lewer dr Leon Schreiber ‘n sterk betoog teen die besluit van die Universiteit van Stellenbosch en die Departement van Hoër Onderwys om Afrikaans amptelik tot “uitheemse” taal te verklaar wat geen regte aan universiteite en in Suid-Afrika as geheel verdien nie. (Hierdie besluit hou terloops ook verband met die grondwetlike verbod om teen gemeenskappe en indiwidue te diskrimineer, wat ek elders op Praag bespreek.)

Dr Schreiber betoog dat Afrikaans wel ‘n inheemse taal is en daarom erkenning waardig is en dis ‘n betoog wat ons uiteraard graag wil onderskryf. Dis egter net vreemd dat dr. Schreiber die kardinale punt nalaat, naamlik dat Engels, wat wel deur die Departement en die Universiteit van Stellenbosch erken en bevorder word, by uitstek ‘n uitheemse taal is, trouens die enigste werklik uitheemse taal wat in Suid-Afrika gepraat word.

Dit is duidelik dat Afrikaans ‘n taal van Nederlandse oorsprong is, maar dat dit tot sy huidige vorm hier plaaslik, d.w.s. inheems ontwikkel het. Daarbenewens word  dit  deur ‘n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking gebruik  en voorts was dit ook vir baie jare een van die land se amptelike tale. Daar bestaan dus omvangryke bronne van amptelike dokumente in Afrikaans asook ‘n menigte waardevolle  werke van akademiese en literêre aard. Dis ook so dat die  die Suid-Afrikaanse regspraak (bevindings van die howe) oor ‘n tydperk van letterlik eeue hoofsaaklik in Afrikaans was. Sonder verwysing na hierdie regterlike beslissings is die regspleging in Suid-Afrika net nie moontlik nie. Die ANC-regering gaan nou seker al hierdie regbeslissings in Engels laat vertaal wat gewoon gek sou wees.

Dis net instansies soos die Departement van Hoër Onderwys en sy karperdjie, die Universiteit van Stellenbosch, wat in hulle politieke en ideologiese fanatisme erkenning sou wou ontneem van ‘n taal en sy mense  wat ‘n betekenisvolle en selfs deurslaggewende rol gespeel het in die ontwikkeling van die land en sy instellings en inderdaad in die stigting van die Universiteit van Stellenbosch self.

Sydney Gregan: Ope brief aan Willie Spies oor ‘apartheid’

Beste Willie

In Beeld van 13 Mei 2021 skryf jy, as voormalige LP van die Vryheidsfront Plus, dat apartheid ‘n ideologie was. Jy vergoeilik ook die optrede van Nelson Mandela en om dan die Afrikaner beter te laat voel, voeg jy so bietjie versiersuiker by oor ons volk se stryd die afgelope 27 jaar.

Wel, jy mag dalk ‘n paar Afrikaners beïndruk het, maar beslis nie vir my nie. Het jy vergeet dat Mandela dade van sabotasie beplan het waarvoor hy die doodstraf kon kry? Dat daardie dade onskuldige mense sou vermink en gedood het was dit nie vir die flink optrede van die “apartheidsregering” om dit betyds te keer nie? Kan jy nog onthou dat Mandela nooit berou getoon het vir sy optrede nie, maar trouens “Kill a Boer. Kill a Farmer” saam met sy terroriste-makkers gedreunsing het? Of verkies jy om, soos Naspers, net die “mooi” kant van Mandela voor te hou?

Erger egter Willie is jou stelling dat apartheid ‘n ideologie was. Het jy vergeet dat apartheid, of dan afsonderlike ontwikkeling, niks anders was as die uitlewing van Afrikanernasionalisme waar gestreef is daarna om aan elke volk volledige vryheid in sy eie grondgebied te gee nie? Het jy ooit die moeite gedoen om na president Woodrow Wilson se Veertien Punte te kyk en die internasionaal erkende reg op selfbeskikking? Hoeveel state het nie juis sedert 1914 tot stand gekom juis as gevolg van die aanspraak en uitlewing van hierdie reg nie? Wat van die state van die voormalige Joegoeslawië? Die state van die ou USSR? Wat van Eritrea en Suid-Soedan? Is dit ‘n onwerklike droom dat daardie state kon ontstaan, Willie, of dalk eerder die natuurlikste uiting van ‘n volk se reg en aanspraak om homself binne sy eie grondgebied te regeer? Het jy ooit die moeite gedoen om dr Verwoerd se toesprake te lees, of steek jy daardie boeke weg in die kringe waarin jy nou beweeg?

Jy weet Willie, nasionalisme stel hoë eise aan ‘n leier se Afrikanerskap. Een daarvan is om nie met vroompraatjies te kom nie. ‘n Ander is om nie ‘n papbroek te wees nie. Jy het jou nou onbloot as ‘n vyand van die Afrikanersaak. As jy ‘n vertolker van die Afrikanersaak wil wees, moet jy reguit loop en duidelik praat en bereid wees tot onvriendskap met jou vyande. Mandela en sy trawante was en is steeds vyande van ons volk. Naspers (of dan Netwerk24) ook, want hulle het die Afrikaner se saak (lankal) die rug gekeer.

Afrikanernasionalsime sal nie deur die Willie Spiese van ons tyd doodgepraat word net omdat hulle nou in die kollig is nie. Ons staan dalk alleen, maar ons sal ons man bly staan. Nasionalisme, dít wat ons nou so nodig het, is die draer van ‘n volk se selfrespek. En daar kan niks erger wees as om voor jou vyande te kruip soos wat jy nou doen nie. Jy het met hierdie standpunt baie ver wegbeweeg van die hart van jou volk, besef jy dit Willie? Was daar druk op jou om dit te doen?

Willie, ons volk se krag lê nie daarin om gemeensaak te maak met die vyande daarvan nie, maar om in solidariteit met ons volk en sy geskiedenis te bly leef. Dis juis helde soos dr Verwoerd wat ons verder laat sien in die toekoms en om met selfrespek te kan optree ondanks die aanslae van buite. Jy skaar jou nou by die vyande van ons volk deur die dade van ‘n terroris te vergoeilik en in die proses jou eie heldedom die rug te keer. Of is dr Verwoerd nie ‘n held in jou oë nie?

In hierdie dae belewe ons ‘n stygende aggressie by die ANC, die vyand van ons volk. Mandela se party. Nogtans dink jy dit goed om hulle aanslag oor baie jare teen ons volk, wat na 1994 net in ‘n ander hoedanigheid voortgesit is, goed te praat. Het jy die gevolge van jou waansinnige uitlatings verreken, of was die handeklap van die Naspers-gehoor te oorverdowend, Willie?

Dit kan net oorwegings van eiebelang wees wat Afrikaners soos jy noop om hulle te skik na die wil van die heersende magte en invloede, en jou rug te keer op jou volk se geskiedenis. Want as jy sê dat apartheid ‘n ideologie is, trek jy ‘n streep deur ons volk se stryd en strewe en deur leiers soos genl Hertzog, dr Malan, adv Strijdom en dr Verwoerd, mense wat dit net veil gehad het vir ons volk en hulle lewens vir ons volk gegee het. Verwerp dr Verwoerd en sluit jouself uit van jou volk en sy ideale. Dis die realiteit van die koers wat jy nou gekies het, Willie.

Jy behoort jou te skaam Willie, en indien nie, weet dan dat jy so ver van die hart van Afrikanerskap beweeg het, dat jy dit moeilik sal vind om terug te keer. Afrikanernasionaliste beleef juis nou groter-wordende vyandskap van diegene wat hulle by die vyande van ons volk aangesluit het. Geld, gerief en gemak het plek gemaak vir beginsels. Dit gee aan verloopte Afrikaners ‘n “valse vrede”, maar ‘n vrede te midde van ‘n Suid-Afrika wat nie anders kan as om in duie te stort en in anargie te verval nie.

‘n Volk se helde kom nie uit die geledere van die vroompraters, paaiers en verdemakers nie. Noem vir my een so ‘n held op, Willie. Nee, ‘n volk se helde kom uit die geledere van hulle wat in die gesig van die vyand opgestaan het en bereid was om die ongemak en eise van die stryd te aanvaar. Daarvan is De la Rey, De Wet, Kruger en Verwoerd, om maar enkeles te noem, die ewigdurende voorbeelde.

Apartheid ‘n ideologie? Soort soek soort, voorkeur vir die eie – dis wat apartheid was en steeds is – geanker in ‘n moreel-etiese basis en die voorwaarde vir enige volk om te oorleef. Om dít ‘n ideologie te noem is om van die werklihied vervreem te raak. En as jy die verskeidenheid van die volkere wat deur God daargestel is, erken, dan moet jy diskrimineer (onderskeid tref) om dit te kan handhaaf. Dis ‘n lewenswet wat liberaliste soos wat jy nou geword het (of dalk altyd was?) klaarblyklik nooit sal wil insien nie.

Dit was prof Erlank wat gesê het dat ons ons nie groot stel teenoor ander volkere as ons onsself (deur middel van apartheid) wil beskerm nie, maar klein teenoor die Godsplan van verskeidenheid. Dr Verwoerd het weer gesê dat die idee van apartheid vir ons koers gegee het juis omdat die skeiding wat dit beoog het, vrede tussen volkere sou bewerkstellig. Die teenkant van apartheid (wat jy beoog sonder dat jy dit dalk wil erken Willie) beleef ons nou in sy naakste haatlikheid waar volke se regte eenvoudig negeer en vertrap word.

Apartheid het die selfbehoud van ons volk bevestig en daartoe bygedra dat ons volk homself teenoor die ander volke kon betuig. Dit was na alles ook ‘n daad van verset en ‘n weiering om aan vreemde oorheersing onderwerp te word. Die teenkant daarvan is integrasie waar jy die vyand vereer soos wat jy nou gedoen het.

In Suicide of the West skryf James Burnham dat die keuse van die vyand die beslissende daad is in die bepaling van die politieke stryd. As Mandela nou jou held geword het Willie, besef net dat jy daardeur kant gekies het teen jou volk en ‘n streep getrek het deur jou eie heldedom. Dít alles vir die kollig van vandag? Kom eerder tot jou sinne en besef dat jou artikel ‘n gees van oorgawe en gedienstigheid is wat vreet aan ons volk se reg op selfstandige voortbestaan.

Ons volk het nou onverskrokkenheid nodig Willie, nie die vroompratey en gedienstigheid waaraan jy jou skuldig maak nie. Mag jy tot jou sinne kom! Indien nie, sal die Afrikaner weet dat jy jou rug op jou volk, sy geskiedenis en sy heldedom gekeer het. Soos die joiners en hendsoppers van ouds.

Groete,

Sydney Gregan

Dan Roodt: Dalk kan blankes steeds in SA wegkruip?

Ek het so pas teruggekeer van ‘n effense vakansie in Plettenbergbaai. Op pad terug het ons motor se koppelaar ingegee en vanweë die langnaweek verlede week is ons gestrand gelaat op Graaff-Reinet. Maar dit was allermins ‘n straf om dié historiese Afrikanerdorp te voet te verken.

Anders as in Johannesburg en Pretoria — die hele Gautengprovinsie soos dit deesdae alte aaklig heet — is daar geen hoë mure en elektriese drade rondom huise op Graaff-Reinet nie. Dit dui aan dat daar nie soveel misdaad soos in ons groot stedelike gebiede is nie.

Wat ‘n mens ook tref as jy so 1200 km of meer deur ons land ry, is hoe léég dit is. Nêrens in Wes-Europa, byvoorbeeld, sal mens soveel kilometer aflê sonder om huise, geboue of mense teë te kom nie.

Soos ek reeds iewers in ‘n YouTube-video gesê het, is dit te laat om uit die land te wil emigreer. Dit is ook te laat om elders ter wêreld ‘n veilige hawe te vind, want alle tekens dui daarop dat ten minste die hele Westerse wêreld, d.w.s. Wes-Europa, Noord-Amerika, selfs Australië en Nieu-Seeland, binnekort dieselfde soort verval in wet en orde, asook amptelike anti-blanke diskriminasie, as Suid-Afrika gaan ervaar. 

Joe Biden het aangekondig dat hy $2,3 triljoen vir nuwe behuising in die VSA beskikbaar gaan stel, maar dié geld gaan gebruik word om swartes en gekleurde Spaanssprekendes in die oorblywende blanke voorstede in te voer sodat “segregasie” die nekslag toegedien kan word. Vele groot stede in Amerika se misdaadsyfers is in elk geval reeds so hoog soos dié in Suid-Afrika.

Verder gaan Biden natuurlik die deure oopgooi vir immigrante, ook uit Afrika en ander swart lande soos Haïti.

In ‘n neutedop: blanke bevolkings wêreldwyd verkeer onder beleg, behalwe miskien in Oos-Europa. Maar gaan Hongarye, Pole en selfs Rusland onder die aanslag vanuit ‘n geradikaliseerde, multikulturele Amerika kan staande bly?

Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lawrof, het hom onlangs hieroor uitgelaat:

Russian Foreign Minister Sergei Lavrov on Thursday warned against growing anti-white racism in the United States and said that political correctness “taken to the extreme” would have lamentable consequences.

Terwyl blanke bevolkings demografies kwyn, vind ‘n bevolkingsontploffing in Afrika plaas, tesame met die opkoms van aggressiewe anti-blanke rassisme en ideologieë in die hoofstroommedia, in die akademie (sg. “witheidstudies”) en in die politiek.

In een van haar onverskrokke dog insiggewende rubrieke, praat die Suid-Afrikaans-gebore skryfster Ilana Mercer van “die sistemiese oorlog teen blankes”. (Lees Wake up. Systemic anti-whiteness is deadly. Witness South Africa.) Sy skryf:

“America is indeed racially divided. Blacks, for the most, hate whites for a variety of unjust reasons, not least the incessant, institutionalized, propagandizing by other progressive whites. They want to hurt them and make them pay. For what? For everything; for whatever is wrong with their lives.”

Die punt is: Hoewel ons in Suid-Afrika die ergste vorms van anti-blanke diskriminasie ter wêreld moet verduur, beskik ons oor geen illusies meer nie. “Demokrasie” en “menseregte” gaan ons nie red nie. Daarom “trek ons laer” of trek ons eenvoudig weg van die probleem af: ons woon in veiligheidsbuurte of agter hoë mure met elektriese heinings, behandel ons motorruite met film teen grypdiewe of, les bes, trek Wes-Kaap toe of na plattelandse dorpe wat nie so erg deur misdaad geteister word nie.

Kortom, in Suid-Afrika kan ‘n blanke nog wegkruip. Vele van die groot Westerse stede in Wes-Europa of Noord-Amerika is glad nie daarvoor toegerus nie. Die misdadiger gebruik gesubsidieerde openbare vervoer om by sy slagoffer uit te kom. Linkse en liberale politici wil die samelewing “integreer” en “meer gelyk maak”, daarom neem hulle dieselfde tipe anti-blanke wetgewing as in Suid-Afrika aan.

In Frankryk kon mens tot onlangs nog in klein dorpies, waar slegs blankes en geen immigrante bly nie, gaan wegkruip. Maar Emmanuel Macron, die president, het besluit dat immigrante nou oral oor die land heen versprei moet word sodat selfs die klein plekkies aan misdaad en geweld blootgestel gaan word.

Nêrens in die Weste word enige vorm van segregasie of apartheid vandag geduld nie. Selfs kritiek op derdewêreldimmigrante word gekriminaliseer en ‘n mens kan maklik tronk toe gaan as jy jou teen byvoorbeeld Moslems uit die Midde-Ooste uitspreek.

Vandaar die begrip “Islamo-linksheid” wat veral in Wes-Europa posgevat het. Linkses en radikale, anti-blanke Moslems het ‘n bondgenootskap gesmee.

Hier in Suid-Afrika geld daar egter steeds, in weerwil van ‘n kwarteeu van ANC-heerskappy, ‘n natuurlike segregasie. Blankes woon steeds in enklawes, of dit nou eksplisiet soos in Orania of in veiligheidsbuurte in Johannesburg of Pretoria is.

Ons kan nog steeds wegkruip vir die gevaar daarbuite wat soos Raka buite die kraal rondsluip. In ons groot land wat deur so ‘n klein groepie Afrikaners oor eeue heen beset en makgemaak is, is daar steeds duisende vierkante kilometer grond of ruimte wat braak lê, onbeset, waar ‘n mens afgesonderd kan gaan woon. Mits jy oor ‘n goeie internetverbinding beset, kan jy selfs van daar af werk en jou dienste globaal verkoop.

Jy kan Orania of Kleinfontein toe trek, of jy kan jou eie Orania skep net waar jy wil. Dit maak ons in vele opsigte vryer as ander blankes in Europa of Noord-Amerika. Of selfs ‘n land soos Nieu-Seeland waar ‘n polities korrekte staat jou binnekort gaan dwing om te “integreer” en ondergeskik aan die swartman en die Arabier te raak.

Die tweede element waaroor ons beskik, benewens ruimte, is ons volksheid of etnisiteit. Op ‘n dorp soos Graaff-Reinet kom ‘n mens onder die indruk van ons lang geskiedenis van stryd teen ons plaaslike en buitelandse vyande soos Groot Brittanje. Deur geskiedenis, afkoms en taal word ons aan mekaar verbind. Ons beskik oor ‘n sterk identiteit, anders as die Australiër of die Nieu-Seelander of die Kanadees byvoorbeeld wat willoos die polities korrekte hoofstroomkultuur vanuit die VSA navolg. Die staat definieer sy identieit, nie sy verhouding tot ‘n organiese volkseenheid nie. Ons staat is revolusionêr verander of, in die jargon van die verdrukker, “getransformeer”.

Maar die Afrikaner, nou staatloos, het gebly. En bly steeds, op allerlei plekke waar die vyand ons nie verwag of selfs raaksien nie. Wegkruipplekke, skuilplekke, toevlugsoorde.

Plekke waar ons in staat is om te oorleef. Want dit is inderdaad waaroor dit tans gaan: oorlewing. Niks meer en niks minder nie.