Suidpunt: Maputo kon vandag Afrikaans gepraat het!

Deel op

Vandag is Stigtingsdag of Van Riebeeckdag. Ek het reeds daardie Wikipedia-artikel uitgebrei sover ek kon, so wat’s nog eintlik nuut? Wat kan mens nog byvoeg? Waarmee kan jy my nog skok?

Hierdie dag is nie iets wat deur Afrikaners herleef is nie. Ons sien twee Hollanders wat met ‘n nederige kranslegging blykbaar begin in 1921 rond (ja, presies ‘n eeu gelede?), met elke politieke pelgrim wat daarna wil spietsmaak, sodat hy kan baai in die sonneglans wat die gestolde Standbeeld, geborg deur ou Rhodes, weerkaats op die spreker. En dan klap almal hande en gaan weer huis toe.

Wat my geweldig gegrief het van die destydse toesprake is van hierdie gemaksugtige hubris waarmee half smalend na Van Riebeeck verwys word in 1926: “wat sou hy sê as hy Kaapstad hier vandag kon aanskou?” So half uit die hoogte, asof ons lankal hierdie utopiese soort futuristiese eindtoestand reeds bereik het (én slegs deur die Engelse Empaaier, moet jy weet), en wat weet dié ou bokkom tog?

Sulke toesprake verouder glad nie goed nie.

Want mens weet mos nie met watter minagting dele van daardie stadjie omtrent ‘n honderd jaar later in die oë van sy huidige inwoners of besoekers beskou sal word nie. Dis buitendien ‘n simplistiese, Imperialistiese geskouer-klop oor wat reeds bereik is, veral deur daardie huidige geslag, maar nie soseer ‘n oorpeinsing van hoe al die aartjies van die stroompies uiteindelik die groot bruisende rivier gevorm het nie.

Maar dalk is dit ‘n bedekte seën dat Kaapstad so vervuil en verlep het, en die seefront-uitsig deur die onooglike wolkekrabbers ontsier word, want sulke uitsprake soos hierbo dwing mens vandag tot absolute nederigheid en skaamte. Dan word mens eintlik dankbaar vir die gepaste Khoinaam wat vir die Kasteel en omstreke destyds bedink is, naamlik ‘Klipkraal.’ Dit rym so mooi met die ou boerenaam van Durbanville – ‘Pampoenkraal’. Die naam is eenvoudig, sonder airs, maar huislik en skoon. Soos dit hoort.

Ek is geen beeldestormer nie, maar ek glo dit is die groot probleem wat God met beeldemaak en aanbidding het in Exodus, veral as dit op Hóm van toepassing is. Al is God vandag en môre dieselfde, lê die probleem by die mens, wat nog nie al Sy karaktereienskappe en al Sy Kante leer ontdek het nie.

Maar so ook met gebeure: standbeelde, soos Van Riebeeck s’n, skep ‘n gestolde, onwrikbare, onskeppende, onverbeterlike, onveranderlike, onplooibare, voorspelbare, oninteressante, vaste, beheerbare beeld so reg uit ‘n skoolboek van iets of iemand wat netjies in jou sak pas, heeltemal vasgegiet, wat nie met die tyd kan of wil aanpas nie. Versteend. Doods. Dit staan net daar iewers. Dit kan net verweer, verbrokkel en vergaan. Of met pienk spuitverf toegetakel word. Of met ‘n swartsak oorgetrek word. Tussen die spitsverkeer word dit bloot ‘n banale, terloopse landbaken, op Google Maps slegs ‘n kolletjie op die kaart.

‘n Mens beweeg stroef in ‘n groef: jy groei nie as persoon nie. Jy sien nie nuwe geleenthede raak nie. Uiteindelik verval die mens in ‘n puinhoop van fatalisme, sonder uitkoms.

Ek het hierdie jaar besluit – se moer. Dis tyd dat ons anders oor Afrikaans en die Afrikanergeskiedenis moet dink. Ons moet dink hoe dit kon gewees het, of steeds kan wees, nie wat ís of wat dit wás nie. Ook eers dan besef jy wat in die Kaap alles kon skeefgeloop het. Deur jukstaponering kan mens fokus op die stigting van ‘Fort Lijdzaamheid’, ons susterstad in Mosambiek, ook gestig deur die Hollanders in die 1720’s.

Ons moet ‘n ander prentjie skilder, in hierdie geval, dat Mosambiek, of ten minste, die stad Mosambiek, Afrikaans sou kon praat. Wat sou dit nie alles kon beteken het nie? Uit hierdie rubriek wil ek vandag net hê die leser moet die geheelbeeld besef: ons mag géén geleentheid deur ons vingers laat glip nie!

Aanloop

Op Sondag, 17 Januarie 2021, is ek besig om my Spaanse woordeskat bietjie uit te brei. Ek bestudeer die frekwensiewoordeboek wat die mees gebruikte woorde almal onder mekaar netjies lys, volgens gebruikswaarde. Dit is tog net logies dat jy ‘n taal stelselmatig moet aanleer. Ek neem die woord, kyk na al die meervoude en verbuigings van die selfstandige naamwoorde, die vervoegings van die werkwoorde, kyk vir ‘n paar interessante uitdrukkings, en so ploeter mens maar stadig voort.

Die woorde wat die meeste gebruik word, staan eerste, en die minste laaste. Uiteindelik kom ek af op “ojo” (oog) en gaan kyk in The Collins Spanish Concise Dictionary wat die woord alles kan beteken. Daar staan dit duidelik: Latyns-Amerikaanse Spaans: ojo de agua: “spring”.  Ek val amper van my stoel af. Hoe is dit moontlik? Afrikaans ken “oog” vir ‘n fontein, en ek onthou iewers het ek in Boshoff en Nienaber se Afrikaanse Etimologieë gelees dat “oog” ook in Boesmans en Maleisies voorkom, en dit is die eerste keer in die Kaaps-Hollands van ‘n buitelander opgeteken deur die Sweed Hendrik Jacob Wikar in 1779. Maar dit bly nie net by Spaans nie: Portugees en Katalaans ken die woord ook; in die Europese/Iberiese Spaans het die woord so te sê in onbruik geraak.

Jy sien, gereeld slaan die toeval soos die Swart Kat toe. Op 28 Maart 2021 kom ek via die kêrel van ‘n vriendin van my skrywersvriend van Bellville op Twitter op ‘n taalatlasprentjie-twiet af wat al die dialektiese Italiaanse woorde vir die vroulike skaamte uitwys. Ek het nie daarvoor gevra nie, dit duik mos net so op. En ek kan mos nie wegkyk nie. Dis van taalkundige belang. Maar so, hier naby Rome, sien ek die woord “topa” en dis Toskaans. En ek wéét “topo” is die manlike en “topa” die vroulike vorm van “muis” in Standaarditaliaans, maar met bietjie rondgrawe is dit inderwaarheid “mol” in Toskaans (‘talpa’ in Italiaans). Dit maak nie saak nie – daardie harige knaagdierbegrip vind ook sy roete suidwaarts in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, hoewel duidelik meer ontrond uitgespreek. Maar hoekom dit in albei tale so onafhanklik kon ontstaan het – in daardie valletjie wil ek nie te graag trap nie.

Maar terug by “ojo”. Toe haal ek elke geskiedkundige taalboek van my boekrak af en uit die dose uit wat ek in die hande kon kry. Elke vreemdtalige woordeboek in Afrikaans wat ek in die hande kan kry raadpleeg ek (ja, ook die woordeboeke Afrikaans-Latyn, Afrikaans-Frans, Afrikaans-Duits). Ek gaan maak selfs ‘n draai by ‘n Malgassiese kunstenaar op Twitter (wat ek deur die Furry Fandom deur my skrywersvriend van Bellville leer ken het), want, reken ek, as één Maleis-Polinesiese taal die woord ook so gebruik, waarom sou Malgassies dit nie ook hê nie? En my vermoedens was reg (al is die woord in sekere Malgassiese dialekte hoogs verouderd). Die resultate hiervan het ek hier gepubliseer en die Wikipedia-artikel oor “oog” het ek hier geskryf. Hoe die vurk in die hef steek, kan ek nie presies sê nie.

Soos met die keramiekwerk, pottebakkery en metaalsmeltery in Kurt Benesch se Archäologie: Eine Einfuhrung (1990; sien ‘Fundanalyse’, bls. 139 tot 161, maar ook ‘Datierung und Chronologie’, bls. 162-189), moet ‘n mens egter ook maar gelate aanvaar dat woorde binne ‘n taalgemeenskap dikwels sy eie onafhanklike en spontane ontstaansgeskiedenis het en nié uit ander volke of kulture altyd ingevoer of oorgedra word nie. Dit maak sin, want as almal net heeltyd by mekaar gaan leen het – wanneer ontstaan iets dan? Hoewel ‘skilpadbesie’ in Afrikaans en die presiese ‘kumbang kura-kura’ (óók skilpadbesie) in Maleisies vir my darem net té toevallig is, veral omrede geen ander Europese taal iets soortgelyk ken nie.

Maar een van die boeke wat ek geraadpleeg het, in die glossarium, wat ongelukkig niks opgelewer het oor ons ‘ojo’ nie, is Scheepsjoernael ende Daghregister, soos saamgestel deur prof. H.J.J.M. van der Merwe. Ek het die boek op 30 Oktober 2020 om 10:07 gekoop (en op 10 November 2020 om 10:23 ontvang), en het op daardie stadium nog nie die tyd gehad om hom deur te werk nie. Dit is by die voorwoord van die tweede druk (ek besit die derde, 1969) waar ek toe lees op 17 Januarie 2021:

Noudat ‘n tweede druk van hierdie bloemlesing nodig geword het, lyk dit my goed om dit ook uit te brei. En om aan die leser enigsins ‘n deurlopende beeld van die ontwikkeling van Afrikaans te laat kry, het ek besluit om (a) die volledige dagboek van Francois de Cuiper (27 Junie – 19 Julie 1725) en (b) fragmente uit Lewies Trigardt se dagboek (31 Julie 1836 – 10 Augustus 1838) op te neem.

(a) Ofskoon die Portugese al in 1505 die eerste nedersetting in Sofala gestig het onder Pedro d’Anhaia, het die Hollanders ook van 1604 af gepoog om Mosambiek, of Rio de la Goa, te koloniseer. Met dié doel voor oë het hulle in Desember 1689 Port Natal van die Bantoe gekoop, om sodoende ‘n tussenstasie op pad na Mosambiek te kon hê. Uiteindelik het ‘n Hollandse sending op 29 Maart 1721 Delagoabaai bereik onder aanvoering van Willem van Taak, met Jakob de Bucquoi as landmeter, kartograaf en skrywer. Hulle het kamp opgeslaan op die plek waar jare later Lourenco Marques verrys het. Met hierdie ekspedisie het dit nie goed gegaan nie en hulle het gesterf tot op 6 man na; trouens, tussen 27 April en 31 Mei 1721 het 16 man gesterf aan die Delagoa koors (malaria), en ook Van Taak is op 31 Mei oorlede. As gevolg van al die teëslae het hulle die naam van die plek verander tot Fort Lijdzaamheid.

In dié tyd het die Provinsiale Opperhoof, Jan van de Capelle (in opdrag van die Here Sewentien), vir Assistent Francois de Cuiper en sersant Johannes Mona met ‘n ekspedisie uitgestuur om die land te verken tot sover as wat hulle kom, wat blykbaar nie veel verder as die Komati was nie. Van hulle wedervaringe het Francois de Cuiper dagboek gehou, soos afgedruk word in hierdie bloemlesing.

[…]

Graag betuig ek my dank aan my kollega, prof. dr. D. Ziervogel, vir sy waardevolle inligting oor Bantoeplekname, -woord- en –opperhoofde wat hier ter sake is.

Natuurlik het ook slegs die Nederlandse Wikipedia ‘n kort en bondige artikel oor Fort Lijdzaamheid.

Dit is maar ‘n opsomming van al die rampspoed en ontberinge wat die Hollanders daar gely het – malaria, seerowery, rugstekery, muitery, aanvalle en uiteindelik die geweldige finansiële verlies van die V.O.C. wat die Fort tot sy einde gebring het. Die einde in 1730.

Dit sou sinneloos wees om hierdie inligting op PRAAG bloot te herhaal.

Ek wil in hierdie artikel slegs fokus op drie belangrike gebeurtenisse van Mosambiek, met betrekking tot Afrikaans.

  1. Die “braakland” (1719 tot 1723 )
  2. Die deurdring na die binneland, tot by die Komati (1725)
  3. Die blywende indruk (1797).

En dit behoort ons vraag te beantwoord of Afrikaans in Mosambiek sou oorleef en gedy het.

Geen Portugees in sig nie?

Daar is sprake (Linell, 2015) dat die Hollanders in die vroeë 1600’s ‘n Portugese fort probeer inval het, maar sonder sukses. Ons praat hier van Fort São Sebastião, maar dit lê myle op myle ver weg van Maputo.

Marinus Lodewijk van Deventer het ‘n Franse bylaag geskryf La Hollande et la Baie-Delagoa (1883), wat die geskiedskrywers asseblief nie moet ignoreer nie. Van Deventer weerlê ‘n Portugese verslag (“Mémoires”) wat aanvoer dat die Portugese van die begin af, en nog altyd, die Mosambiek, dis nou die omgewing Maputo, gekoop en besit het, maar soms drastiese maatreëls moes “aanpas” vir vyandelikhede (d.i. die Hollanders en ander). Volgens Van Deventer is daar nie in die Nederlandse verslae en dagregisters enigsins sprake van die gewaande Portugese fort, dorpies of fabrieke wat vir die Hollanders van die laat-1600’s of 1700’s begerig sou gelyk het nie; alles word uit hul duim gesuig. Volgens hierdie soort Portugese retoriek in sy oë, skryf Van Deventer, sou hierdie “aanpassing” beteken het die Portugese was bang die Hollanders neem die eiendom in beslag, en vernietig die plek toe sommer daar en dan. Dit maak eenvoudig nie sin nie, nog minder om jou teenwoordigheid te kenne te gee, of jou territorium as Portugese besitting te beskerm.

In 1719 was daar in Amsterdam reeds sprake dat die Hollanders die gebied van Maputo wil beset, maar dit is vertraag, nie weens internasionale politiek nie, maar om ander redes. Vir die Here Sewentien sou hierdie deel van Mosambiek die pêrel vir hul kroon wees in daardie uithoek van Afrika, dus, bloot ‘n besitting. Maar die Kaapkolonie was meer geïnteresseerd in die sukses van die huidige onderneming en hoe die alleenhandel verstewig kon word. Hulle wou geheel en al vryhandel hê, en wou muntslaan uit die ligging van Kaapstad, en het onmiddellik gedink aan die voordele wat Natal en Delagoabaai vir Kaapstad kon beteken. Die Here Sewentien het aanvanklik nee gesê, maar met ‘n bietjie druk van belangegroepe (die bourgeoisie) was die moontlikheid nie heeltemal uitgesluit nie. Dit was net ‘n kwessie van tyd. Neem uit die verlede (2007:90) laat dit klink of Frankryk en Engeland as mededingers die deurslag vir die besluit gegee het (en tog, waarom dan Nederlands-Mauritius in 1710 verlaat en ‘n spoor van verwoesting agterlaat?).

Eers twee jaar later vertrek die Kaap, Gouda en Zeelandia op 12 Februarie 1721 om die Nederlandse vlag te gaan plant in Delagoabaai, met ‘n paar troepe onder leiding van Zacharie Camminga. Hulle het aan die linkeroewer die handelspos opgerig, wat dit vir inkomende skepe in die baai sou vergemaklik. In die eerste paar dae het die Hollanders varswaterbronne gegrawe – wat selfs ‘n eeu later nog deur die Engelse kaptein Owen nog ontdek sou word. Die grond is makgemaak en saad en steggies vanuit die Kaap de Goede Hoop en Batavia is aangeplant; vir ‘n Kompanjietuin was dit ‘n sukses. Saam met die vee sou die tuin ook genoeg voedsel aan die amptenare, bemanning, garnisoen en nasionale skepe kon voorsien. Die wingerd skiet wortel. Medisinale plante word gekweek. Ook indigo word aangeplant. Kenners uit Batavia word spesiaal ingevoer om te kom help.  Handelsbetrekkinge word met stamme gesmee.

Vir Van Deventer het die Hollanders in die laat-1600’s en laat-1700’s afgekom op ‘n godverlate stuk niemandsland, met die uitsondering van die plaaslike stamme wat nog altyd daar was.

Hier sien ons reeds op 15 November 1688 het Hollanders en Engelse by Delagoabaai aangekom met die Noord. Die hele logboek vanaf daardie datum en daarna kan gelees word in Godée-Molsbergen se derde boekdeel van Reizen in Zuid-Afrika in de Hollandse Tijd.

Hulle het tente opgeslaan, en die kuslyn by die Kaap Colato en die Maputa-rivier gefynkam. Orals was daar stamme wat graag handel wou dryf, maar nêrens was daar ‘n Portugese skip of sprake van ‘n Portugese alleenhandel in die gebied nie. Die Hollandse kaptein Heeremans het maar gehoor dat die Portugese ‘n vesting had op die eiland Chefine, en dit is nogal snaaks, want wanneer daar hoë deinings en gure weer is, kan mens daar moeilik voet aan wal sit. En wat nou as skeepsvaarders in die knyp is? Dis nie ‘n goeie strategiese punt nie. Uit die teks lei ek af Heeremans het net op ‘n afstand gekyk, maar geen oorblyfsel gewaar nie (p. 6):

Après avoir exploré la plus grande partie de la baie, le capitaine Hollandais arriva en vue de l’embouchure de la rivière Espiritu Santo ou Manica. L’île, à l’entrée de ce fleuve, était l’île de Chefine, où le mauvais temps et la haute mer le défendirent de mettre pied à terre. On lui disait, que là les Portugais avaient eu un établissement („ eene logie”). Mais, quoique Heeremans fit le tour de cette île, il ne parvint pas à voir quelque trace de l’établissement.

Cloppenburg (die voetnota lui: “Rapports de Cloppenburg , Swertner et van der Capellen, et de Michel et Cloppenburg, de leurs expéditions en Juin, en Août et Septembre, et en Octobre 1721”) word ook vertaald aangehaal (dis nou jare later), want hoewel hulle meer geluk had as die Kaptein van die “Noord” (in 1688) om voet aan wal te sit, kon ook hulle nie ‘n enkele spoor van die fort vind nie:

Ce fut en explorant la rivière du St. Esprit, qu’on découvrit un indice du passage de négociants Portugais. Le chef du village nègre de Manisse montra aux Hollandais une couronne en cuivre doré, qu’il avait obtenue en échange de dents d’éléphant, vendus à ceux-là. Elle était “très mince”, ajoute ironiquement le récit de nos expéditionnaires. Ce village était situé sur la rivière même, dans l’embouchure de laquelle se trouve l’île de Chefine.

Cette fois l’expédition Hollandaise, plus heureuse que n’avait été le capitaine du “Noord”, et que ne le serait José de Mello après elle, mit pied à terre dans l’île en question. “J’ai été à l’endroit même, où l’on prétend que les Portugais auraient eu un fort; mais je n’ai pas réussi à en trouver les moindres traces,” – ainsi écrivit le capitaine Cloppenburg, commandant de l’expédition 1 ). Ces paroles sont confirmées d’une manière péremptoire par de Bucquoy 2). Un seul nègre, faisant fonctions d’interprète, interpréta la tradition, que des Portugais auraient été établis en cet endroit. Il y avait de cela un très-grand nombre d’années, montant à un demi-siècle.

En so lyk Bucqoui se reisbeskrywing (wat oor die vroeë 1720’s in Mosambiek handel, bl. IX), wat volgens Van Deventer net sy siening staaf dat dit bloot bewerings is gegrond op hoorsê:

Jaarlyks zenden zy [*die Portugese] hunne Factoors, met Sloepen en mindere Vaartuigen, de kust op, en Zuid af, tot aan Rio de la Goa , de uiterste plaats, daar zy post hebben gevat, en in Rio de Spirito Sancto, daar zy een vastigheid gestigt, en bezetting gehou den hebben, tot den Jaare 1692. wanneer zy deze post hebben verlaaten; naa allen schyn om dat die hen geen voordeel genoeg opbragt: ‘ t welk met het mondelyk berigt van een weggeloopen slaaf, die wy by onze aankomst op Rio de la Goa vonden, en als Tolk heeft gedient, overeenkwam. Deeze slaaf betuigde nog te heugen, dat de Portugeezen in de bovengemelde Rivier; hun bezetting hadden opgebroken en deeze post verlaaten.

Maar vergelyk bogenoemde nou met Neem uit die verlede (2007: 91), dan lyk die wêreld bietjie anders.

Nêrens was daar ‘n spoor van ‘n vorige Portugese besetting op die vasteland te bespeur nie. Slegs op Chefini-eiland, etlike kilometer noord van die hawe, in die monding van die Inkomati-rivier, staan ‘n groepie verlate bouvalle wat voorheen ‘n handelspos van die Portugese was.

Iemand skiet ‘n groot bok.

Indien dit waar is, wil ek onmiddellik die bron weet. Dit beteken sonder twyfel Heeremans en Cloppenburg het gelieg, of Van Deventer het hul doelbewus verkeerd aangehaal. Uit Boucquoi sou ons nog kon aanvoer hy het die oorblyfsels gesien (sonder om ons daarvan te sê), want die leser se vermoedens is gestaaf deur ‘n weggeloopte slaaf se mondelinge oorlewering. Kan dit wees dat daar argeologiese opgrawings gemaak is in die gebied en dat mens nou maar uit die staanspoor moet aanneem die Hollanders moes die bouvalle op een of ander wyse waargeneem het?

Ek het ook gekyk deur die amptelike verslag van Opperhoofd Jan van de Capelle aan die Goewerneur van die Kaap Kolonie, Maurits Pasques de Chavonnes, soos opgeneem in Records of South-Eastern Africa, bl. 407 tot 420 (boekdeel 1, 1898). Hier het die Opperhoofd die tolk uitvoerig uitgevra rondom die doen en late van die Portugese voor die Hollanders se aankoms. Maar ook hy, Van de Capelle, sê:

[…] en also de occagie gehad hebbende, om den tolk en ook verscheijde inlanders te ondervragen, soo over de negotie, voor desen door de portugeesen aldaar gedreeven, als de gesteltheijt der lande, op ’t geen zij geeven, soo verre hun het selve bekent is, neemt met alle eerbied de vrijmoedigheijt van aan U wel Edel gestr.e en E. agt.b.e in dit volgende geschrift voor oogen te stellen ‘t geene hij dienaangaande heeft konnen ervaaren, en alhoewel zulx niet als een seekere waarheijt kan stellen, hoop egter uwe wel Edele gestr.e en E. ag.tbre. ootmoedige dienaar, dat zij de moeijte sullen gelieven te nemen van ‘t selve te doorsien;

Volgens die tolk (‘n Mosambieker van geboorte) was daar nooit ‘n vaste comptoir (faktoor; faktory – ‘n kantoor, of bewaarplek/depot van koopware) in hierdie geweste nie, behalwe op die eilandjie “Xiphini” en ‘n plekkie aan die mond van rivier (St. Esprit) waar hulle hutte sou opslaan (“zijnde van riet”, bl. 409) en tydelik in bly en in handel dryf. Dit duur gewoonlik gemiddeld vyf tot ses maande. Dan is daar handel gedryf met die stamme rondom die rivier (elke agt tot tien dae). En dit is ook uit die mond van hierdie tolk wat van die legendariese streek waar goud is, Monomotapa, vertel word (wat sekerlik later sou aanleiding gee tot die ekspedisie van Francois de Cuiper), hoewel hierdie tolk nooit die Portugese self sien goud ruil het nie, maar wel olifanttande, amber en waks (laasgenoemde nooit in groot hoeveelheid nie), en veral tin, wat onder die plaaslike bevolking besonder hoog in aanvraag is.

So, ons weet nou met genoeg tropiese storms, stormwater in die reënseisoen, of veral miskien die plaaslike bevolking wat die verlate rietstrukture vir hul eie woonstrukture beter kon benut het (wie weet?), is daar nie veel bewyse meer van oor nie. Maar ‘n fort van klip? Aikôna. Maar belangrik: die laaste keer toe seerowery met plaasgevind het, waar die Portugese se skip uitgebrand is, was volgens die tolk “ruijm twintig jaaren gelede, dat dit is voorgevallen, en seedert geene scheepen van de Portugeesen aldaar geweest, gelijk zij jaarlix deeden” (bl. 409).

Dit klop met Linell se proefskrif (2015) hierbo, waar daar staan (pp. 20-21):

An episode in 1703 proved to be the last straw when pirates made off with the entire load of Portuguese goods and set their ship alight, adding insult to injury. The Portuguese departure on foot from the Bay marked the end of their regular trade voyages to southern Mozambique and brought the first Lusitanian era at Delagoa Bay to a close.

En tog, Van de Capelle verklap self iets in hierdie verslag, geteken op 3 Augustus 1723, waar die misverstand moontlik kon ontstaan het (bl. 412-413):

Kan ook niet laten te seggen, wel edele gestr. heer en E. agtbre heeren, dat het veele vremd voor is gekomen, dat men aan la goa, geen vervalle fort van de portugeesen heeft gevonden, nog geene van die natie (: ‘t zij swart off blank 🙂 daar woonende, gelijk ik wel hebbe gehoort dat men verwagt had, dog aan de revier Sambere (:gelijk wel apparent is:) deselfde zijnde die de c—-rs niambani noemen, vind men desselffs zuijd hoek ook genaamt Caab St. maria gelijk aan rio de la goa: ook vind men daar een vervalle en verlate fort en woonen nog inlandsche portugeesen aldaar; in de mond der selve leggend ook twee eijlandjes gelijk aan la goa, is in den ingang soo wijd dat bijna de naam van een baij meriteert; is soo veel verder om de Nt en nader aan Chovalla gelegen alwaar landwaard goud gevonden werd: de portugeesen hebben ook seedert eenige jaaren herwaard, geen scheepe meer derwaarts gesonden, aan in de landstreek van la goa te negotieeren, maar sijn geheel achter gebleeven.

Die woorde mag verwarrend klink, en wat ek nou gaan waag is ‘n goeie raaiskoot. Volgens ‘n reisverslag van die ‘Snuffelaar’ opgeneem in Godée-Molsbergen se Derde boekdeel van Reizen in Zuid-Afrika in de Hollandse Tijd  (kyk ook na die voorwoord, XXII), is die naam Niambani in der waarheid vandag Inhambane, en daar kom inderdaad heelwat Portugeessprekendes nog voor in 1731. Daar, so lyk die teks hierbo vir my, was ook ‘n plekkie met die naam Caab St. Maria, wat dieselfde naam dra as die uitsteekpunt oorkant Delagoa-rivier (die een by Maputo rond is vandag wel Ilha da Inhaca as mens Godeé-Molsbergen se ou kaart bekyk). Ek dink Van de Capelle probeer benadruk dat Delagoabaai ewe beskut was as die baai by Inhambane (die geografiese uitleg en inham lyk ook min of meer dieselfde), en dat dit eintlik vreemd was dat daar nog geen Portugese woonagtig was in Delagoabaai nie.

Ek kry byvoorbeeld daardie verhandeling van Wits hierbo: “By 1647, the Portuguese had five factories on the islands Xefina and Inhaca.” Die bron wat aangegee word is die sekondêre bron: Junod, H.A Les BaRonga: étude Ethnographie sur les Indigènes de la Baia de Delagoa, Neuchatel: Attinger, 1898, 240.

En daarin kry ek :

Les documents portugais déclarent qu’en 1650 il y avait cinq factoreries aux environs de Delagoa, dans l’île d’Inyak, de Sheffin, sur le Nkomati (Manhissa) et sur les deux rives de la baie. En 1721, les Hollandais s’y établirent et y restèrent quatorze ans.

Al was daar voorheen ook vyf faktorye in die gebied, kom ons geen stuk verder nie. Ons kan nog steeds nie sê of die Hollanders hulle sou sien of nie. En nog minder kan presies vasgestel word of daardie grond, waarop die Portugese hul besigheid bedryf het, gekoop is van die plaaslike inwoners. Dit is waarop Van Deventer hul kap: waar is die koopaktes?

Maar goed, natuurlik sou die waterdiepte en maklike navigasie in die baai die plek aantreklik gemaak het vir die Hollanders, en nie noodwendig die bouval van ‘n fort nie. Veral as die hawetjie maklike toegang bied tot Monomotapa, die plek van goud.

Die Ekspedisie van Francois de Cuiper (et al.)

Ek het besluit om nie die volledige reisverslag van Francois de Cuiper oor te skryf of te parafraseer nie, want dit is reeds gedoen.

Enigiemand wat buitendien gereeld die Laeveld besoek of, soos ek in die Wes-Kaap, meer wil weet rondom hierdie plek se verborge geskiedenis (en veral die kultuur en lewensbeskouing), kan maar Neem uit die Verlede deur dr. U. de V. Pienaar en medewerkers, (her)uitgegee deur Protea Boekhuis in 2007, na hartelus aanskaf. Dit is dikker, groter en heelwat swaarder as ‘n Familiebybel, so groot soos ‘n koffietafelboek. Onder die hofie “Die eerste blankes besoek die Laeveld” word die leser, benewens die verteerbare Afrikaanse opsomming wat vanaf bl. 88 tot bl. 99 strek (dubbelkolombladsye), ook trakteer met foto’s, ‘n duidelike kaart van die ekspedisie, asook ‘n foto van die plaatjie van die Historiese Monumentekommissie en Nasionale Parkeraad wat die ekspedisie gedenk. Dr. W.H.F. Punt van die Stigting Simon van der Stel het in Julie 1975 die bronsgedenkplaat onthul. Op daardie plaatjie staan in Afrikaans (p. 97): “In hierdie omgewing is Frans de Kuiper en sy 30 manskappe op 12 Julie 1725 onverwags deur Kaptein Dawano se volk aangeval. Die ekspedisie was verplig om oor die Lebombo-rant na die V.O.C. Fort Lydzaamheid in Lourenco Marques terug te keer”. Toe ek laas op Protea Boekwinkel se webwerf gekyk het, is daar nog boeke op voorraad.

Natuurlik het die boek ook sy tekortkominge. Ek mis onder andere die werke van Du Bucquoi en Van Deventer. Maar ten minste is die oorspronklike teks van De Cuiper in die Staatsargief Pretoria destyds geraadpleeg. Plus – daar is vyf bronne in Afrikaans wat ek seker nooit in my lewe in die hande sou kry nie. En daaroor verheug ek my.

Benewens Neem uit die Verlede, raai ek vir die ernstige akademikus, onomastikus (pleknaamkenner), geskiedskrywer of taalliefhebberook Scheepsjoernael ende Daghregister (1969) van H.J.J.M. van der Merwe ten sterkste aan (bl. 185-209). Dis uit die teks van 18de-eeuse Hollands net so oorgeskryf. Die voorgraadse student van destyds sou beslis moes kophou met die voetnotas en glossarium wat eintlik vir my bitter chaoties uiteengesit is. Maar, danksy rekenaarprogramme soos Excel voer jy gewoon die versnommer voor die begrip in, alfabetiseer, en siedaar!, jy kan reël op reël die woorde volg. Dit vat net bietjie tyd om die glossarium en voetnotas self eers deur te sif.

Op taalkundige vlak het hierdie laasgenoemde bron ons twee Afrikaanse etimologiewoordeboeke (1967, 2003) oornag laat verouder: “padkos” is nié teen die middel van die 1700’s die eerste maal aangeteken nie, maar wel op 12 Julie 1725. Dit, benewens ‘n paar ander moderne Afrikaanse woorde wat in hierdie eeue-oue teks voorkom, het ek by die Wikipedia-artikel aangeteken. Ek het dit trouens vreemd gevind dat Van der Merwe geen bohaai van “padcost” gemaak het nie, maar toe sien ek Afrikaanse Etimologieë is in 1967 gepubliseer, terwyl die tweede uitgawe van Scheepsjoernael, wat De Cuiper se werk vir die eerste maal bevat, reeds in 1964 uitgegee is.

Interessant is ook “Coupanne sijn vaeder” (Coupanne se vader), wat vandag in Nederlands “Coupanne’s vader” sou wees. En die tans uitgestorwe ontkenningspartikel “en” in Standaardnederlands, wat “nie” beteken, byvoorbeeld:

“seggende dat sij voor sulk soort coralen geen pombe [en] wilden geven”

[en sê dat hulle vir sulke soort krale nie eens pombe sal/wil ruil nie]

Volgens Van der Merwe het die ekspedisie nooit verder gevorder as “Incomati” of die “Assangano” (Komatirivier) nie. In ‘n voetnota sê die samesteller (met behulp van Ziervogel) dat hierdie name Tsonga is, maar die betekenis daarvan is onbekend (p. 189).  Ek haal toe die vertaling Plekname van Suider-Afrika (2020) uit, en onder die naam Komatirivier is dit toe nie Tsonga nie, maar Swazi, vir “rivier van koeie”. “Assangano” kon ek egter nêrens in die Afrikaanse of digitale Engelse weergawe opspoor nie, nog minder in Toponymica Hottentotica Dele A en B. Is hierdie bron van De Cuiper eenvoudig net deur die jare heen oor die hoof gesien?

Nietemin, waaroor handel die storie dan nou eintlik?

Francois de Cuiper en geselskap is die opdrag gegee om so ver moontlik die binneland vanaf Fort in Delagoabaai te verken, tot hulle byvoorbeeld by die plek kan uitkom waar daar met goud handel gedryf word, soos daardie legende dit wou hê. Ek wil amper sê, totdat hulle die plek van goud kon vind. Iets soortgelyk aan El Dorado. Die geselskap neem 10 draagbeeste (of pakosse) en 8 slagbeeste saam (as proviand, of “Victualij”, of padkos). Aanvanklik is die stamme die naaste aan die kusgebied baie oopkop, baie vriendelik en behulpsaam teenoor hierdie vreemdelinge (al het hulle ook hul tekortkominkies soos steel, eersugtigheid en onverdraagsaamheid teenoor markmededinging met ander stamme, luidens Van de Capelle se bovermelde verslag), maar hoe dieper die geselskap die ongerepte en onbekende binneland indring, en hoe langer die reis aanhou, hoe meer ontaard die ekspedisie in ‘n hellevaart. Die sameloop van al hierdie teëspoed wat ophoop en inwerk en teenwerk, dwing die ekspedisie om met onverrigte sake terug te keer Fort toe. Die ekspedisie duur vanaf hul vertrek op 27 Junie 1725 tot met hul aankoms op 16 Julie 1725.

Vir die leser se gerief sal ek hul grootste struikelblokke tot voor die Komatirivier opsom (dit kom ‘passim’ voor), wanneer hul in die teks die eerste maal voorkom:

  • Saans is dit koud, want dit is winter, ook in die Laeveld, ook in Mosambiek.
  • Sommer dag een val ‘n bees vas (27 Junie); nie ‘n goeie teken nie.
  • Van die stamlede, wat klaarblyklik nog nooit ‘n blanke in hul lewe gesien het nie, slaan op die vlug. Dit kos die tolke of dan “spraakmeesters” heelwat moeite om hulle gerus te stel en samewerking en inligting te kry (28 Junie).
  • Die een draagbees val in ‘n waterput naby ‘n stat/kraal waar die geselskap verbybeweeg en byna twee-derdes van die kruit word nat (28 Junie). Hier moes die ekspedisie eintlik omgedraai het om nog kruit te gaan haal, want oor ‘n paar dae gaan hierdie nypende tekort beslis voelbaar wees.
  • Die beeste word geweldig moeg en uitgeput van al die loop, vir beeste wat heeldag veronderstel is om rustig te wei, laat dit my ook nogal kopkrap. (28 Junie-29 Junie). Ek is veral nuuskierig waarom die beeste se rûe met “campher brandewijn” ingesmeer is; is dit om die spiere te ontspan, of om vlieë en parasiete te verjaag? Op 10 Julie vrek ‘n bees aan natuurlike oorsake.
  • Die digte bosse het die ekspedisie vertraag (30 Junie).
  • Van die inwoners van die krale/statte was nie tevrede daarmee dat vreemdes van hul brandhout uit die bosse versamel nie. Dit noop die ekspedisie om benewens brandhout ook kos te koop met krale en ‘n sopie (31 Julie).

Uiteindelik bereik die ekspedisie die Komatirivier op 1 Julie.

  • 1 Julie is egter ook die keerpunt, met die eerste waarskuwing. By een stat sê die swaer van Houman (een van die ekspedisie se swartes) aan hom dat die omliggende Kapteine die ekspedisie sou uitmoor, en dat die stamgenote wat die ekspedisie die weg sou wys gestraf sal word. Die redes hiervoor word om die een of ander rede nie gevra of aangeteken nie.
  • Op 5 Julie is die draagbeeste so kreupel dat 6 mans vir die ekspedisie vooruit moet loop en die plek verken. Soos die beeste swakker word, minder raak of vrek (soos op 10 Julie) moet die bagasie en pakkasies “verdelven” (op strategiese plekke begrawe?) word, en/of die bagasie op meer beeste ewerediger verdeel word. Slagbeeste moet nou ook die werk van draagbeeste doen.
  • Reeds op 5 Julie raak dit opvallend hoe die inwoners doelbewus die verkeerde en die moeilikste pad moontlik aandui, terwyl daar ‘n veel makliker en begaanbaarder pad hoërop is:
So het scheen so waren de omleggende Inwoonders seer miscontent dat wij daar quamen om het land te ondersoeken, want sij maakten ons den weg so swaar dat het onmogelijk scheen te wesen die te connen passeeren, seggende voorvast dat wij moesten vijf dag reijsens marcheeren sonder een druppel water te vinden.

Ook Kaptein Coupanne het al sy ondergeskiktes summier belet om die vreemdelinge enige inligting te deel of die pad aan te wys. Hierdie dreigemente het nie in die gidse se klere gaan sit nie. Die twee wat die ekspedisie vanaf die Komatirivier-omgewing saamgebring het, het nou ook die hasepad gekies – hulle het aan De Cuiper gesê hulle gaan gou ‘n bietjie droë gras sny, maar het nooit weer teruggekom nie; maar weggeloop.

Op 11 Julie maak die stamlede nie eens meer geheim daarvan nie, elkeen gee ‘n ander padaanwysing as daarvoor gevra word.

  • Vir die eerste keer, op 7 Julie, is geen prys of krale blykbaar goed genoeg om ‘n bees te koop nie. Dertig “bosse” blou of geel krale is gevra vir een bees, maar as De Cuiper die krale laat sien, dan word net gesê “tsifanie” (dit deug nie) en die beesverkopers stap weg. Volgens die glossarium agter is dit Tsonga vir “a swi fani” (van die werkwoord, fana, ‘eenders wees’), en daarmee word bedoel dat die krale nie die gelyke waarde van die beeste het nie. Dit kan ook “tshikani” wees, wat beteken: “laat staan”, (nee wat,) “los!” (maar).

Teen 11 Julie raak dit nou kritiek, want nou berig De Cuiper dat hy op 2 Julie 1725 laas ‘n bees gekoop het. Hierdie keer raak die inwoners besonder astrant – hulle spoeg (“spoude”)  sommer op die krale, en sê vir daardie soort van krale sal hulle nie eens pombe (bier van gestampte saad gemaak, volgens Du Bouquoi (bl. 16), wat vir feeste, begrafnisse of gaste aangebied word) wil ruil nie, en loop met hul beeste weg. Dit beskou De Cuiper as kwaadwillig en aspris, want al wou hy ook driemaal soveel gee as by die Fort, waar die vraag tog die grootste is, vra die statte onder Coupanne vyf groot bosse krale vir een bees, en dit terwyl daar geen tekort aan vee rondloop nie.

  • Op 10 Julie is die eerste teken van geweld ervaar. By ‘n stat aangekom, word die ekspedisie met assegaaie en spiese deur ‘n halfduisend individue omring. Die padwysers wat langs die pad betaal is moet uitgelewer word. Daarop sê De Cuiper:
Dit siende dat wij door dit getalm niet en conde avanceeren, sag geen beter raad als de selve te laten gaan uijt vreese dat door de grote bravade die sij maakten ons de colere soude hebben overlopen, waar door wij somtijds souden hebben connen overtreeden de goede ordres van onse Heeren gebieders.

O, in eenvoudige Afrikaans: hulle moes die manne maar uitlewer, want anders gaan hierdie oponthoud hulle nêrens bring nie, en netnou verloor die ekspedisie hul humeur weens hierdie ‘grote bravade’, en netnou word die Here Sewentien se wette en verordenings verontagsaam. Dit wil niemand hê nie. Ek het aanvanklik gedink daar het letterlik “God” gestaan, want dan sou mens die Scala Naturae kon oproep, die Middeleeuse beeld waar God vaste ordes ingestel het – Hy is immers ’n God van orde – en bewaar die een se siel wat daardie orde omverwerp en chaos saai en die gemeenskap laat verbrokkel en ondermyn. Teoreties beteken dit ook ‘n blanke mag daardie tyd ook byvoorbeeld nie die rol van die hoofman oorneem nie; as daar van die blanke gesteel is, dan is dit die hoofman se verantwoordelikheid om die skuldiges, wat sy onderdane is, te straf. Jy moes jou dus eers tot die hoofman wend. En juis daarom kon jy nie links en regs kom staan en skiet soos jy wou nie. Slegs as jou eie lewe bedreig word, dan eers mag jy skiet. Soos wel op 12 Julie 1725 gebeur het. Maar toe lees ek deur Du Bucquoi, en hy gee nogal heelwat agtergrond rakende die reëls en regulasies wat uitgevaardig is deur die Kompanjie.

Om vieruur die middag, terwyl De Cuiper besig was om aan sy dagboek te skryf, is die ekspedisie met assegaaie deur die manne van Dawano aangeval. Die doel was om die ekspedisie uit te moor (duh!) en/of hul beeste weg te voer. Omrede die kruit min was, mag slegs geskiet word indien die aanvallers binne trefafstand was. Twee van De Cuiper se manne was swaar gewond. Die diere was ook, soos ons reeds weet, in ‘n swak toestand van al die loop, kon nie veel beweeg nie, en dié wat nie weggedryf kon word nie, is maar net so dood laat bly lê. Maar Neem uit die verlede, as ek so tussen die reëls lees, bedink eerder ‘n soort “verskroeide aarde”-beleid; as die ekspedisie te sterk is met die vuurwapen, maar hul voedselvoorraad is kapot, dan moes hulle tog maar trek. Die ekspedisie het teruggeveg maar – die skade was reeds gedaan.

Bygelowig is ek nie, maar die laagtepunt van die ekspedisie is Vrydag, die 13de. Op hierdie dag gaan die ekspedisie by die naaste stat aan, waar die assegaaie en skilde sommer klaar weer teen hulle gereed staan, en De Cuiper laat vra watter rigting is die Komatirivier. Met die arm word “seer spijtelik” (vergelyk “spiteful”, wrewelig) na die regterkant gewys. En so loop die ekspedisie die roete deur bosse en kom af op ‘n klomp statte byeen; wéér teen die assegaaie en skilde vas. Die nuus het vinniger getrek as ‘n kolonisasie-twiet van Zille.

Hier volg die weergawe wat in Neem uit die verlede gepubliseer word op bl. 96. Dit kom vir my effens versuikerd voor:

By die volgende kraal waar hulle aangedoen het, is hulle weer gekonfronteer deur groot getalle (meer as 500) gewapende swartes wat gedreig het om hulle dood te maak omdat hulle deur hulle land getrek het. Nadat ses van die aanvallers doodgeskiet en ander gewond is, het ook hierdie vyandige impi’s die aftog geblaas.

Ek gaan nou die woorde verbatim oorskryf uit Van der Merwe se oorskrywing, sodat niemand kan sê ek lieg of dik aan nie (pp. 206-207):

Sonder haar geen de minste molest aen te doen, wouden ons ataqueren, beginnende te smijten met haar assagaijen en steenen. Ik liet haar vraagen wat reden sij hadden om ons te attaqueeren; seijden om dat wij door haar Land Passeerden, en seijden dat sij alwilden hebben dat wij hadden, ook onse snaphanen, die sij noemden hongo songilo [Tsonga: nhonga yo xongile], op onse taal gesegd die mooije stocken. Mijn maat smeet haer twee bossjens coralen toe, en Ettelijke soldaten ook wat, meijnende daar door van haar verlaten worden, maar schreewden als dan als rasende Honden: hotte hotte molonge [Tsonga: hi to dya, hi to dya, mulungu], geseijd op onse taele: laat ons de blanke op Eeten. Als wij sulx hoorden, maakten ons gereed en schoten met ons seven Man ses dood ter plaatse en Een het been stukken. Sij dit siende, liepen en croopen over handen en voeten te rugge. Daar was so een groote schrik onder dat men geen een en hoorden meer geluijd maken, want die stokken, die sij mijnden, maakte haar tot er dood bang. Ik geloof dat sij naar gissinge meer als een half duijsent sterk waren, en op een oogenblik tijds so sag men haar seer verminderen.

In eenvoudige taal: sonder hoegenaamd enige uitlokking van die ekspedisie se kant af, het die betrokke stam begin assegaaie en klippe na hul kant toe gooi. De Cuiper wou toe deur sy tolk by hulle hoor wat die rede is waarom hul die ekspedisiegroep so aanval. Die antwoord kom toe dat die ekspedisie deur hul land gereis het, en dat hulle alles wil hê wat die ekspedisie het, ook hul snaphane wat in die Tsongataal “mooi stokke” beteken. Hierop gooi/smyt waarskynlik Johannes Monna (De Cuiper se medereisiger) sy twee bossies krale voor hulle uit, en etlike van die soldate doen dieselfde, want hulle het gedink die stam sou hulle nou met rus laat (sodat hul met hul deurreis kan voortgaan). Maar pleks daarvan word daar toe geskreeu: laat ons die blanke opeet. Toe hulle dit hoor, maak die ekspedisie hul toe gereed en sewe van ekspedisie skiet toe ses van die stat op die plek dood en een se been stukkend. Toe die ander dit sien, word daar paniekbevange halsoorkop gevlug. Die skrik was so groot dat jy van niemand ‘n geluid gehoor het nie; die stokke wat hulle hulself wou toeëien, het hulle nou doodbang gemaak. De Cuiper skat daar was meer as vyfhonderd teenwoordig, maar binne ‘n ommesientjie aansienlik minder.

Waarskynlik het die vuurwapens en die min buskruit die vorige aand nie ‘n besonder groot genoeg indruk gemaak het nie. Want as jy weet jou oom is gister gedood met ‘n wapen wat jy nie het nie, sou jy liefs jou woorde beter kies. Of die persone oornooi vir ‘n feestelike slukkie kalbas-bier.

En toe vat die ekspedisie die ompad terug. Hul naam gaan hul ook vooruit, want deur die bosse versprei die nuus deur die luide riemtelegram vinnig, en ander stamme word vroegtydig gewaarsku teen hierdie gevaarlike klompie in aantog. Nodeloos om te sê, hoe nader die geselskap na die kus toe terugbeweeg het, hoe vriendeliker het die statte en stamme geword. En dit word ‘n groot gedoe: naby die Fort, op 16 Julie 1725, kom die vroue aangehardloop van vreugde, hulle skeur boomtakke af en swaai dit oor die ekspedisie se koppe as verwelkomende gebaar, soos dit tradisie was. Ander baan die pad oop sodat hulle na die Fort kan stap. Die Opperhoofd het selfs sy ‘Sergeant’ gestuur om die ekspedisie persoonlik na die Fort terug te vergesel! En, uiteindelik, die heldeontvangs by die Bevelvoerder (Opperhoofd) Jan van de Capelle. Die Reisverslag word daarna oorgeskryf en onderteken op 19 Julie 1725.

Te midde van die roem wat hom en sy geselskap te beurt geval het, is De Cuiper egter in 1727 aan koors oorlede.

Die ellende sou nog kom. En so kom alles ook drie jaar later tot ‘n einde. Op las van die VOC is die fort soos Legoblokkies steen vir steen afgebreek, en die Nederlanders is met die bourommel vort. Daardie hoofstuk van die Hollanders in Mosambiek is nou finaal afgesluit, die Portugese keer ‘n paar dekades later terug, en vir die volgende duisend jaar sou geen haan ooit weer daarna…

O, nee! Dis wat jy dink.

Nog is het einde niet! Dit hét ‘n nasleep!

Johannes (Jacobus) de Freyn

Toe ek Sondagmiddag, 28 Februarie 2021 omstreeks 12:27 deur bidorbuy blaai, wat ek die Maandagoggend sou kon bestel, sien ek ‘n boektitel: De betrekkingen tusschen Nederland en Zuid-Afrika sedert de verovering van de Kaapkolonie door de engelschen deur Nicolas Mansvelt. En ek laai die boek sommer by archive.org af, want waarom sou ek hierdie werk in die openbare besit spesiaal nou aankoop?  Daardie boek het my gelei na Het Zuid-Afrikaan (April 1888). Dit was bloot ‘n herdruk uit De Gids, Desember 1887, omrede die verafgeleë Afrikaanse lesers nie almal in die Kolonie of Republieke ingeteken was op De Gids nie, laat staan nog toegang daartoe sou hê. Daarna het ek ander sekondêre bronne in die hande gekry.

Dit handel in die tydperk toe die Engelse die Kaap die eerste maal oorgeneem het. Die Graaff-Reinetters het hul verset het teen die Engelse regering.

Al die bronne is dit eens dat Jan Pieter Woyer met ‘n Deense skepie na Batavia gevaar het om daar aan die Nederlandse regering die toedrag van sake te verduidelik. Onder andere wou nie een onder die Britse vlag sweer nie, want as die Kaap weer Hollands was (soos dit wel later sou gebeur het), dan was hulle, die Grensboere, groot in die moeilikheid.

Ons almal weet dis nie die eintlike rede nie. Kyk, dis mos nou algemene kennis dat daar al lank groot konflik tussen die Xhosas, die Khoisan en die Grensboere gewoed het. Dis geweldig ingewikkeld, want aan die een kant het jy die Xhosas wat deur ander migrerende stamme en droogte suidwaarts gedruk is, en wat hul beskou het as hul reg op die groenste weiding was nie nou net in gedrang nie, maar ook hul bestaan as volk. Aan die ander kant het jy die Grensboere gekry met soortgelyke beweegredes – die semi-woestyn kon nie in hul weidingsbehoeftes voorsien nie. Jy het dus ‘n lappie grond oor rondom ‘n rivier, wat tot groot struwelinge gelei het, en uiteindelik het die Kaapse owerheid die Visrivier tot grens verklaar, deur ‘n verdrag met die hoofmanne te sluit. In 1774 het Van Plettenberg enige verdere uitbreiding probeer stopsit van die Boere se kant af – straf sluit konfiskering van eiendom, lyfstraf of die dood in.

Maar, soos dr. N.A. Burger se Rigters onder die Suiderkruis (1997) dit stel, het die Xhosa’s en Khoisan nou ook nie handjies gevou op die oewer van die Visrivier bly sit en pyprook nie. Veediefstal is onder andere op Boeregrond gepleeg en “die Witman tot wanhoop probeer dryf ten einde hulle te beweeg om uit die gebied pad te gee.” (p. 255). Omdat die Kompanjie geen beskerming aan die Boere kon verleen nie, was dit nou maar man-man vir homself: die Boer en sy roer.

Toe kom gatvol Adriaan van Jaarsveld en kie in 1779 en trek ‘n streep deur hierdie verdrag wat met die stamhoofde destyds aangegaan is en ry met sy Kommando sommer die belhamels self aan die pen, as hul eie stamhoofde dan so pap is. In die Grensboere se oë was die verdrae in elk geval ‘n nulletjie op ‘n kontrak, die reg word in eie hande geneem en wet en orde gehandhaaf waar ‘n papgat Kaapse regering nie kan nie, en so word ‘n botsing ontketen, wat volgens die skrywer eintlik tot twee eeue later nog voortduur (bedoelende die hede, p. 255): “Elkeen het volgens sy eie siening, ooreenkomstig ‘n onvervreembare reg op die grond aanspraak gemaak: Die Boere, op die eerste besetting van ‘n niemandsland en die Swartes, op grond van hul siening om te wei waar die gras die groenste was.”

Scala Naturae of te nie, as die hoofmanne nie wil saamwerk nie (of self agter die diefstal sit?), die probleem nie opgelos word nie, die Kompanjie geen beskerming kan bied nie – dan breek nood wet. En dit het die Boere verenig – téén die Kompanjie, laat staan nog toe mens hoor van die uitspattige oordaad skynweelde wat aan die Kaap woed toe die Franse vloot in 1781 aan die Kaap kom bonjour mademoiselles sê het. Nou ja, toe die Franse here uiteindelik hul afskeidsoentjies blaas en vertrek, sit die Moederstad met ‘n enorme ekonomiese babelaas, diep geskok en in depressie gedompel met die konfetti-opvee en glase opwas.

Uit ‘n Grensboer se oogpunt beroep ek my verder op dr. N.A. Burger se Rigters onder die Suiderkruis, omdat hy dit tog so… lewendig omskryf (p. 256):

Om sy greep op die binneland te verstewig, het die Kaapse owerheid in 1786 Graaff-Reinet tot ‘n nuwe landdrosdistrik verklaar. Die ongelukkige keuse is egter gemaak om Honoratus Christiaan Maynier in 1787 as landdros hierheen te stuur. As kind van die Europese liberale verligtheid, het Maynier ‘n paaibeleid van geskenke uitdeel teen die Kosa’s probeer volg en vir die godsdienstig-superieure Boere probeer preek oor die natuurlike reg van hierdie edele barbare.

Soos te wagte was, het hierdie Skrifvreemde optrede van Maynier, Boere soos Van Jaarsveld net verder ontstel en vervreem van die Kaapse regering. Maynier het gelate toegekyk hoe die Kosa’s 120 plase in die Suurveld, wes van die Visrivier, plunder en beset.

Die ontstoke Van Jaarsveld het daarop ‘n gewapende kommando na Graaff-Reinet gelei en die jong snuiter van ‘n landdros uit die drosdy verjaag. Die verdwaasde Maynier het in Maart 1795 in die Kaap opgedaag om die rebellie aan te meld. Spoedig hierna volg die opstand in Swellendam en verklaar hierdie distrik hom onafhanklik van die Kaapse regering.

Die stof het nog nie gaan lê nie, toe daag die Britse vloot in die Kaap op en teen September 1795 was die Kaap in Britse besit.

Dit was egter ook nie die laaste sien van Maynier nie (hy sou later die pos Resident-Kommissaris van die distrikte Swellendam en Graaff-Reinet beklee onder die Britse regering vanaf Kersdag 1799). Maar eers is Bresler as landdros gestuur na Graaff-Reinet om die Britse vlag te hys, maar die Grensboere haal dit weer af en hys die Hollandse vlag en verjaag Bresler terug Kaap toe (wel, dit het die vorige keer gewerk!). Al die skuld word in die Kaap op Woyer gepak, en hy word voëlvry verklaar. En dis toe dat Jan Pieter Woyer ongesiens met ‘n Deense skepie woerts! wegglip na Batavia. Ek sou in detail verder kon uitbrei oor die voorwaardes wat die Grensboere eers aan die Britte gestel het, en toe deur die nuwe bewind afgeskiet is, maar dit het niks met Maputo uit te waai nie.

Met die pakketboot Het Haasje onderneem die Kapitein-ter-Zee Johannes de Freyn in Februarie 1797, in opdrag van Batavia (deur toedoen van Nederburgh, Frykenius en Overstraten), om vir die Graaff-Reinetters, wat hul tot Batavia om hulp gewend het om teen die Engelse regering, ‘n lading wapens en ammunisie te bring, wat hulle in staat sou stel om so lank met die verset moontlik uit te hou, totdat ‘n Nederlandse of Franse vloot in Algoabaai sou opdaag en hul te hulp sou snel. (Dit het so ampertjies gebeur, maar die Hollandse vloot is by Saldanhabaai voorgekeer).

Het Haasje loop hom op pad Suid-Afrika toe egter in ‘n storm vas en begin lek; dit noop die bemanning om by Delagoabaai (vandag Maputo en omgewing) anker te gooi, waar die Portugese goewerneur toestemming gee dat die skip onder ‘n koning van ‘n swart stam, wat die Kompanjie goedgesind was, herstel kon word.

Maar omdat hierdie herstelwerk te lank sou duur, neem De Freyn een blanke van sy bemanning en 36 swartes om te voet die reis na Graaff-Reinet aan te pak.

Nou tot hiertoe stem al die ander verhale min of meer ooreen wat ek in die hande kon kry. Ongelukkig kon ek nie De Freyn se eie reisverhaal, in sy eie woorde, van 1801 in die hande kry nie. Ek moes my dus verlaat op ‘n klomp sekondêre bronne, en dit is nie altyd goed nie.

Volgens Marinus Lodewijk van Deventer (in De Gids, 1887), maar ook in sy en De Jonge se De Opkomst van het Nederlandsch gezag in Oost-Indië (1888) vorder De Freyn en kie tot by die Visrivier (of, wat aan De Freyn op 19 Mei vertel word waar die Visrivier is?), maar, word deurgang geweier deur ‘n bende van 500 swartes (wat Van Deventer as heel vanselfsprekend beskou – want hoekom sou jy jou groot vyand deurgang verleen?). Al word ‘n groot slagting onder die swartes gesaai met vuurwapens, bly die geselskap nietemin omring: verdere voortgang is onmoontlik.

So naby, maar tog so ver: die gids is dood in die skermutseling en met die opraak van die ammunisie moet De Freyn met onverrigte sake terug Delagoabaai toe. Toe hy terugkom, moes hy inderhaas sy skip laat ontskeep. Daar het twee Engelse skepe binnegevaar, en dit was die  swart koning, Capella, wat in stilte sélf aan boord van die Nederlandse pakketboot gekom het en De Freyn persoonlik gewaarsku het dat die Portugese kommandant De Rosa nie te vertrou is nie.

Maar volgens Van Deventer en De Jonge se latere boek, De Opkomst van het Nederlandsch gezag in Oost-Indië (1888, pp. 10-11), is die Hollanders deur die Portugese Goewerneur as vermomde Franse aangesien.

Maar terug na hul 1887-bron: Laasgenoemde (dis nou die Portugees) sou die teenwoordigheid van twee Engelse skepe in die baai gebruik om Het Haasje te oorrompel; selfs al het die Hollandse en Portugese koninkryke op daardie stadium in absolute vrede verkeer. Hierdie buskruit en ammunisie is so gou moontlik aan wal gebring. Die bakboord se patryspoorte is ook oopgemaak sodat Het Haasje kon sink. Tot die aand was daar ‘n geveg. Aan die een kant het jy die Engelse en Portugese gehad, en aan die ander kant die Hollanders en Capella se stam (wat goed geweet het hoe die wapens werk). Vele menselewens moes boet, maar die hopie voorraad was, hier word dit duidelik benadruk, veilig van Portugese en Engelse hande. Die vyand blaas die aftog. Die pakketboot, Het Haasje, lê egter nou daar nutteloos in die baai.

Dit klink nogal na iets wat die Hollanders sou doen, en juis daarom klink dit so geloofwaardig. Toe hulle Mauritius verlaat het, lees mens op die Nederlandse Wikipedia onder “Nederlands-Mauritius”, het die Hollanders selfs die bosse rondom die ou geboue afgebrand, sodat enige moontlike vyand dit nie in die toekoms weer sou kon benut nie.

Maar in Van Deventer en De Jonge se boek ‘n jaar later staan daar skielik (p. 11):

Terwijl de Freyn aan wal was, werd “Het Haasje” door de verenigde vijanden aangevallen; de achtergebleven manschap gaf zich na eenige schoten gewisseld te hebben over, en de Portugezen, onder aanvoering van een Engelschen prijsmeester, namen bezit van de Hollandsche brik.

Intussen het die Derde Mag toegeslaan: van die swartes (van Moambo) het die fort van die Portugese geplunder en verniel terwyl die Europese skepe handgemeen geraak het. Was dit nie vir Engelse sloepe wat geskiet het, die Portugese goerab wat die aftog geblaas het nie, sou die verraderlike Portugese goewerneur en sy vrou daardie aand uitgemoor geword het. En hulle slaan op die vlug (nadat ‘n lang woordewisseling tussen De Freyn en Rosa gevolg het – want volgens De Freyn is Rosa verplig om hulle as sy krygsgevangenes te beskou en saam te neem; Van Deventer en De Jonge se ander bron sê weer: “Zowel hij, als de Engelschen, weigereden intusschen De Freyn en diens getrouwen op te nemen, en Capella en zijne K—-  eischten de aan land gebragte lading op, waarop zij voorgaven als bergers regt te hebben”), en die Hollanders word alleen net so agtergelaat, terwyl die laaste blokhuis van die Portugese deur plundering met die grond gelyk gemaak word. Die geveg oor Het Haasje het daartoe aanleiding gegee dat die gesag van Portugal oor Mosambiek vir tientalle jare gebreek is, word geskryf.

Ondertussen moes die Hollanders maar op die welwillendheid van Capella en ander stamme staatmaak. Noudat die skip verlore was, is sommer die hele voorraad aan wal deur die stamme toegeëien, nie meer die derde as loon soos vooraf afgespreek nie (buitendien, skryf Van Deventer, was die Hollanders so uitgedun deur lewensverlies deur die skermutseling met die Portugese/Engelse dat hul nie veel kon doen nie). Vir vier maande lank moet die Hollanders, wat vroeër in ‘n statige skip aangeland het, nou om kos bedel. Hulpbehoewend, bied die see die enigste uitkoms. ‘n Verbygaande Engelse vissersvaartuig het hulle opgepik Kaap toe. Natuurlik het De Freyn se naam daar lankal uitgelek, en hy is in hegtenis geneem. Onder die verhoor voor Lord Macartney noem hy geen woord oor sy binnelandse tog nie. In die volgende verhoor voor Fiskaal Rijneveld, wat nou vir die Engelse werk, word die naam Woyer hom voorgegooi. De Freyn weier egter om die name te openbaar. Van Rijneveld probeer hom oorreed met die woorde (dis nou in die 1887-bron):

‘Gij, die zoo geattacheerd zijt aan uw Republiek en dat schuim van volk’ […] ‘gij weet toch dat zij u nimmer eenige belooning zullen geven, want daar zijn de Hollanders niet van t’huis. Gij zult dan alle smaad en hoon hebben geleden voor niets; want van hier moet gij naar Engeland, even als uw andere volk, en daar zult ge als een gemeene man in een gevangenis worden geworpen, om er te blijven zoolang deze oorlog duurt. Van u alleen hangt het af al die folteringen te voorkomen, als ge ons slechts de namen noemt van de Graaff-Reinetters, die zich naar Batavia gewend hadden en voor wie uw lading bestemd was.’

En hierop bars De Freyn later los:

Wee u als de Hollandsche vlag weder hier waait! Want niet alleen dat gij nu landverrader zijt, maar zelfs zoekt gij mij tot een verrader van mijn vaderland te maken…

De Freyn se straf was dat hy saam, as gevangene op The Eagle na Engeland, met geharde misdadigers opgesluit, dieselfde brood van bedorwe graan moes eet. En water drink van die vieslike Teems. Hy moes ook vir sy manne se reisgeld tronk toe na Engeland betaal, en omdat hy nie kon nie, moes hy nog langer in die tjoekie sit. Toe die Kaap weer Hollands is, het die Uitvoerende Bewind van die Bataafse Republiek en die Asiatiese Raad herhaalde stappe uitoefen om hul politieke gevangenes los te kry. Soos Van Deventer stel, was die Britse tronkstelsel destyds so pateties, die gevangenes sou vergete gebly het as niemand van buite druk uitgeoefen het nie. De Freyn kry toe eers ‘n beter verblyfplek, en later in Maart 1800 is hy vrygelaat. Dit is nou nadat die twee lande ‘n uitruilooreenkoms aangegaan het: jy laat van my mense vry, ek laat van jou mense vry. De Freyn word deur die Bataafse Republiek ruim vergoed (ook die besoldiging wat hy die afgelope jare nie kon verdien het nie) en in sy rang herstel. Dwarsoor Nederland, vir wie dit ook al mag aangaan, is sy getrouheid aangeprys. Hy is onmiddellik terug na Batavia en om daar sy werk te hervat.

Wat ‘n gelukkige einde.

Uit al die tekste, glo ek, is Van Deventer se teks waarskynlik die getrouste aan De Freyn se dokument. Maar weer – Van Deventer se oogpunt (1887) is onder meer om on Nederland groter simpatie vir Transvaal te laat kweek.

Maar vergelyk dit nou hiermee:

Ons lees in Algemeen Handelsblad van 13 Junie 1887:

In 1779 hadden Oostenrijkers zich daar neergezet, die echter in 1781, bij de komst van een Portugeesch schip, reeds weder waren verdwenen. Eerst in 1787 kregen de Portugeezen weder vasten voet aan den wal en werd door hen aan de rivier Delagoa (die nu le Saint Esprit werd genoemd) een nederzetting gesticht, die in 1793 door Fransche zeeschuimers werd vernield; eerst in 1805 hebben de Portugeezen zich daarop weder aan die rivier gevestigd, waar zij toen een fort bouwden op de plaats waar in 1721 het Hollandsche fort gestaan had en deze vestiging den naam gaven van Lourenzo Marquez, naar den eersten ontdekker.

Dit is opvallend dat De Freyn nie hier vermeld word nie. Moet ons aanvaar dat die storie ‘n mite is, of kan ons hieruit nog iets wys word? ‘n Mens kan spekuleer dat die Portugese verkeerdelik vir De Freyn as skipper van een of ander Franse garnisoen of seerower (‘zeeschuimer’) kon beskou het, en nou weet ons ook hoekom hulle so agterdogtig was teenoor hom en sy wapentuig – dit het immers skaars 4 jaar tevore gebeur.

Maar as dit waar is dat die Portugese eers weer in 1805 na Maputo-omgewing teruggekeer het, is dit moontlik dat De Freyn en sy bondgenote (asook die derde mag) ondertussen die Portugese so ‘n gevoelige slag toegedien het wat vir 8 jaar nog voelbaar was?

Dalk nie, dalk selfs langer, want in 1887 (let wel!) skryf dieselfde korrespondent van die koerant, genaamd Nautilus, dat die hawe in Mosambiek stééds maar gehawend en hopeloos onderontwikkeld lyk:

Hoewel de Delagoa-baai, zooals deze Portugeesche vestiging thans door een ieder behalve de Portugeezen zelf genoemd wordt, alzoo reeds ruim tachtig jaren onafgebroken in de macht is eener Europeesche natie, is de toestand aan den wal hoogst primitief en laat die der baai nog zeer veel te wenschen over.

Lourenzo Marquez is nog steeds het type van eene Portugeesche nedersetting op eene verre kust; het vervallen steenen fortje en de onbruikbare kanonnetjes waarover een sergeant, die hier den rang van kapitein heeft, het bevel voert; de begonnen doch onvoltooide publieken werken, als: een school, kerk enz.; de armoedige, vervallen huizen, waartusschen vrij ongebaande wegen; – dat alles getuigt, evenals de om de vestiging gelegen moerassen, van weinig belangstelling in het moederland voor deze kolonie op de Afrikaansche kust. […] Van de goede resultaten, vroeger door de Hollanders verkregen, is thans geen spoor meer te vinden; behalve een weinig maïs en obies levert het land niets op. Allen vindt men er uitmuntend vee dat van Zululand wordt ingevoerd.

De Europeesche bevolking van dit Dorado, meest Portugeezen, bestaat uit een vijftigtal personen en daaronder de beambten van een drietal vreemde factorijen, waarbij ook eene Nederlandsche.

J.P. Botha skryf in “Ons Geskiedenis” (2008:62):

Daarna is Woyer voëlvry verklaar. Hy het gevlug. Hy het in ‘n Deense skip vanaf Algoabaai na Batavia ontsnap en die Hollandse goewerneur-generaal omgehaal om hulp vir die Graaff-Reinetters te stuur. Die goewerneur het ‘n brik, Het Haasje, vol wapens en ammunisie en 8 kanonne laat laai en onder bevel van Jan de Freyn suidwaarts gestuur. ‘n Kwaai storm het die skip in Delagoabaai laat skuiling soek. Daar het die Portugese hom verraai. Hulle het vir die bemanning van die Engelse skip, Hope, gehelp om sy bemanning gevange te neem.

Ook in C.F.J. Muller se werk, Oorsprong van die Groot Trek (1987:328) is geskryf: “Toe die vaartuig Het Haasje waarin alles gelaai is Delagoabaai vir herstelwerk binneseil, word dit in Mei 1797 deur ‘n Britse walvisvaarder met Portugese hulp gebuit”. Die bron aangegee is Theal, Records of the Cape Colony, Boekdeel II, pp. 148-151 en 153-154.

In G.E. Cory (1921) se The Rise of South Africa word min oor die tog deur die binneland gesê, maar wel oor ‘n Britse skip wat onder ‘n Amerikaanse vlag en wimpel Delagoabaai binnegevaar het. En hier blaker De Freyn goedsmoeds al sy planne uit! De Freyn en kie moes toe later bygestaan word deur sy goedgesinde swartes, en die Engelse is weer bygestaan deur ‘n Portugese skip. Daar was glo nie ‘n bloedbad nie en Het Haasje en sy 22 800 pond kruit is gebuit. En alles is Simonsbaai toe. Duidelik is sy kennis ook geput uit Theal.

George McCall Theal in History of South Africa since September 1795 (1908:19-21) verwerk die ou argiefstukke so:

The skipper of the Haasje was a half-caste Javanese named Jan de Freyn, a natural son of a Dutch officer of rank.

The destination of the Haasje was Algoa Bay, but on approaching the African coast a violent storm was encountered, in which she sprang a leak and was otherwise so much damaged that Skipper De Freyn resolved to put into Delagoa Bay to refit. He cast anchor there on the 3rd of May, and found that nothing was to be had except from his own resources.

The Portuguese fort at Lourenço Marques had been destroyed by two French frigates in October 1796. The captain and garrison of eighty soldiers were obliged to retire into the back country, and they were then living in great discomfort and anxiously waiting for a vessel to come and take them away.

There was a whaling ship named the Hope, with a crew of twenty-four men, lying at anchor, and flying the American flag. With the officers of this ship De Freyn opened a friendly intercourse, and after a short acquaintance he informed them that he intended to try to communicate with the farmers of Graaff-Reinet from Delagoa Bay, but if he could not do so he would proceed to Algoa Bay as soon as his vessel was repaired and he had taken in wood and water.

This divulging of his business was fatal to his mission, for the Hope was really an English ship, and was only flying the American flag as a ruse.

The Haasje went some distance up a river, to the territory of a chief named Kapela, where her cargo was landed, and she was then hove down to be repaired. On his arrival Skipper De Freyn engaged a black man to go inland with a letter addressed to the farmers of Graaff-Reinet, and while his vessel was being repaired he set out in person to try to make his way to them, but after three days’ travel was obliged by the attitude of the natives to return. A day or two later a Portuguese vessel arrived in Delagoa Bay to remove the distressed people.

From her the master of the Hope, got assistance in men and guns, and then proceeded up the river to attack the Dutch. The Haasje was so far ready for sea that she was afloat in the river with six pieces of artillery in her hold, when a native brought a report that the English were approaching with hostile intentions. De Freyn at once sank his vessel, and prepared for defence on shore, where all the cargo —except the six guns— was stacked up and covered with sails. On the 28th of May the English and Portuguese attacked him, but a party of Kapela’s followers came to his aid, and enabled him to resist for some time. In the end, however, he was beaten, and the English got possession of the two fieldpieces which were on shore and twenty-two thousand eight hundred pounds of gunpowder. The remainder of the cargo was plundered and carried away by the natives while the skirmishing was going on. The Haasje was got afloat again, and Alexander Dixon, chief officer of the Hope, with a prize crew of five men, brought her to Simon’s Bay, where she arrived on the 11th of August.

De Freyn and some others were left behind.

[De Freyn, in his deposition, says that the English and Portuguese refused to make prisoners of the pilot Willem Sluyter, a mate named De Moor, and himself; but abandoned them and some Indian seamen in the K—-r country. Alexander Dixon, in his report, states that the master of the Dutch brig and two of the mates escaped inland.]

After vainly trying a second time to make his way to Graaff-Reinet, the skipper and his companions returned to Lourenço Marques, and obtained passages to Table Bay in some whalers that put in shortly afterwards.

On his arrival at Capetown De Freyn entered a protest against the seizure of the Haasje by the crew of a vessel not provided with letters of marque, and in a neutral port belonging to a sovereign who was not at war with the Batavian Republic. But his protest was of no avail. He was arrested and sent to England, where he remained in confinement as a prisoner of war until March 1800, when he was exchanged.

Nou sê jy my: hoe de donder moet ek ‘n Wikipedia-artikel oor bogenoemde skryf? Die bronne verskil dan soos dag by nag!

Maputo kon vandag Afrikaans gepraat het!

Maar wat het al bogenoemde met die prys van eiers uit te waai? Wat het dit met taal te make? Wat het dit met Afrikaans te make?

U sien, meneer, mevrou, doktor, professor emeritus, die volgende paragrafie word effe gesensureerd aangehaal uit die “Verslag van de door den Capitain ter zee Joh. de Freijn ondernomen expeditie naar Cabo de Goede Hoop met de pakketboot ‘het Haasje’, in dato 13 November 1801”, toe De Freyn op 4 Mei 1797 anker in die baai gooi, soos oorgeskryf staan in De Gids:

Wij kregen des nachts eenige K—-rs aan boord, welke de Hollandsche taal spraken, en betuigden dat zij onder het Hollandsch gebied hoorden.

Onmoontlik!

Mens, ons praat van byna 67 jaar sedert die Hollanders met bourommel op die skepe daar weg is! Het die Hollanders dan binne bykans tien jaar op hul lappie Mosambiekse aarde so ‘n groot permanente blywende indruk gemaak? Indien wel, het die Hollanders meer as net ‘n fondasie vir ‘n fort gelê. Daar was ook die fondasie vir taal gelê. En daardie taal sou sonder enige twyfel Afrikaans geword het.

Maar werklik? ‘n Blywende indruk vir 67 jaar? Jy speel seker?

Lewensverwagting?

Neem nou eers die plaaslike bevolking se lae lewensverwagting in ag.

Sou die lewensverwagting in Mosambiek beter lyk as die 40 jaar of minder onder die Indiane, vir ‘n duisend jaar lank? Ek wys maar hier op die opgegraafde skelette van 1 400 individue in Amerika, wat byna almal aan jig en slegte tande gely het; een skelet van ‘n 20-jarige het soos ‘n 60-jarige van vandag daar uitgesien (Benesch, 1990:276).

Gedenk ook aan 1909, toe Armand Ruffer selfs in die niere van twee mummies uit die 20ste dinastie van Egipte (1250 – 1085 v.C.) verkalkte eiertjies van die bilharziaparasiet gevind het (J. Thorwald, 1979 (1962), Oude geneeskunst, p. 35). Ek vra jou, met malaria, bilharzia, swartwaterkoors, slaapsiekte… sou dit in Mosambiek enigsins beter in die 1700’s gelyk het? Ek glo nie.

Dus, met hierdie betreklik lae lewensverwagting, is dit dan genoeg tyd om die nut van ‘n vreemde taal in te sien, van so ‘n aard dat jy dit aan jou kinders sou oordra as jy dit nooit self weer sou gebruik nie?

Taalnut?

So het ek al baie familielede en kennisse (onder die ouer garde) aangehoor wat Duits op skool gehad het, maar dit beslis nie vir hul kinders selfs aangemoedig het om te leer nie, bloot omdat hulle geen boeke of internet of DVD’s in Duits in Suid-Afrikaanse boekwinkels of leefwêreld in, sê nou maar, die 1980’s en tevore gekry of geken het nie. En, as gevolg van hierdie afgeslote wêreldjie, dus ook geen nut of waarde daarvan kon insien nie. Hierdie wêreldjie ken net Engels en ‘n bietjie Afrikaans, so waarom jou dan enigsins bemoei om Duits te leer?

Nou, iemand wat in Mosambiek in die 1700’s, in hierdie geval gelukkig genoeg was om 10, 20, 30, 40 jaar tevore Hollands te kon gebruik, maar nie weer ‘n Hollander voor sy oë gesien het nie… waarom sou jy dit aan jou kinders oordra, as jy kon? Veral as jy self nie die grammatika behoorlik onder die knie het nie? Daar moes dus ‘n ander wortel voor die neus wees. Soos dat jy jou en jou stam as meer beskaaf beskou as die ander omliggende stamme, deur daardie taal voortaan as jou moedertaal aan te neem of ten minste op ‘n manier te besig, of bloot deur die uitlanderstaal goedgesind te wees?

Tradisie?

Ek dink maar aan die volgende uittreksel uit La Hollande et la Baie-Delagoa. Dit was kort nadat die Hollanders hul beskerming aan die stamme verseker het en goedkeuring gekry het om daarmee voort te gaan. Onthou, dit was in die vroeë 1720’s. Die Hollandse driekleur-vlag is so tussen die hutte geplant, maar dan gebeur daar ook iets, besonders: die koning van die Tembé ontvang Hollandse epoulette, dra dit fier en trots, en so ook sy opvolger (p. 11):

Et l’uniforme de la Compagnie, aux épaulettes dorées, adossé au „ grand ” roi de Tembé, mettait le sceau à l’oeuvre , que celle-ci avait entreprise dans ces contrées lointaines. Quand, soixante-douze ans plus tard, White visita le successeur de ce roi, il le vit prendre pour costume gala le même uniforme , et se parer encore des couleurs Néerlandaises.

Die vere maak duidelik die voël, want raai net wie het daardie selfde Hollandse epoulette na soveel dekades gedra? Daardie opvolger (?) is niemand anders nie as die einste Capella wat Freyn persoonlik ontmoet het! Dit staan so in William M. White se boek, Journal of a Voyage [Inhabitants of De Lagoa Bay] (1800, wat handel oor die jaar 1798!):

He [Capelleh] wore at this time the naval uniform of the Dutch East India Company (green and white) with two gold epaulets, cocked hat, with the national cockade, which I told him “was the most infamous badge that could be worn by a king”, and red breeches.

‘n Mens staan verstom oor die tradisie wat so goed behoue gebly het.

Maar wat nou van die gewone mense en taal? Hoe vinnig kan iets verleer word? Hoe vinnig kan iets vergeet word?

Nou ek het al by ‘n vorige geleentheid uit Sabine Kuegler se boek Dschungelkind (2011 herdruk; 2005) aangehaal, maar ek sal dit net gou weer doen, om vir jou te wys hoe gou kennis kan uitsterf.

Die skryfster het as Duitse sendelingsdogter in die 1980’s op ‘n eiland naby Indonesië grootgeword wat vir jare lank gebuk gegaan het onder stamoorloë (met stokke en spiese). Haar vader het spesifiek die Fayu-stam bearbei, wat op daardie stadium geen lees- of skryfkultuur geken het nie. Haar boek is tot rolprent verwerk. Sy skryf onder die hoofstukopskrif ‘Rückwärtsgang’ (bl. 284-285):

Man weiß, dass ein Volk vom Aussterben bedroht ist, wenn das Wissen nicht von Generation zu Generation weitergegeben wird. Ich kann es heute noch nicht fassen, dass kein Fayu uns von den weißen Menschen erzählt hat, die in den 40er Jahren zu ihnen gekommen waren; die Erinnerung an jene Holländer war in »unserer « Fayu-Generation offensichtlich bereits verloren gegangen.

Es ist ja nicht so, dass sie keine Zeit gehabt hätten, einander Geschichten zu erzählen. Stundenlang saßen die Männer zusammen, erzählten von der Jagd oder vom Krieg oder sprachen lange Zeit kein Wort. Auf diese Weise geht das besondere Wissen, das ein Mensch sich zeit seines Lebens erarbeitet hat, verloren. Die nächste Generation muss wieder ganz von vorn anfangen. Langsam vergeht auch das Verlangen nach Wissen überhaupt, und alles, was bleibt, ist das Überlebensnotwendige.

[…]

Ich werde hin und wieder darauf angesprochen, ob es denn nicht besser gewesen wäre, wir hätten diese »glücklichen Wilden« in ihrem Paradies in Ruhe gelassen, um sie nicht schlechten Einflüssen auszusetzen.

Ich frage dann zurück, was es denn wohl für ein Paradies sei, in dem die Menschen einander abschlachten, weil sie in selbstzerstöririschen Traditionen gefangen sind? In dem Kinder tagtäglich in Angst und Schrecken leben?

Overgesetsynde:

‘n Mens weet dat ‘n volk op die randjie van uitsterwing staan as kennis nie van geslag tot geslag oorgedra word nie. Dit gaan nou nog my verstande te bowe dat die Fayu ons nie van die blankes vertel het wat in die 1940’s by hulle aangekom het nie. Die herinneringe aan daardie Hollanders was vir “ons” Fayu-geslag duidelik lankal reeds verlore.

Dis nou ook nie asof hulle nié die tyd had om stories te vertel nie. Urelank kon die mans bymekaar sit en jag- of oorlogstaaltjies uitruil, of dan weer vir ‘n lang ruk in stilte saam deurbring. Die besonderse kennis wat ‘n mens deur sy lewe opgedoen het gaan sodoende heeltemal verlore. Die volgende geslag moet dan maar weer heeltemal van voor af begin. Stadig maar seker is ook die dors na kennis net nie meer daar nie, en al wat oorbly is maar net die noodsaaklike ter oorlewing.

[…]

Ek word so dan en wan gevra of dit nie beter sou wees om die “gelukkige barbare” in hul paradys eenvoudig net met rus te laat om hulle van die slegte [Westerse] invloede te weerhou nie.

Dan stel ek die teenvraag: watse soort paradys is dit waar mense mekaar oor en weer uitmoor, terwyl hulle vasgevang sit in hul eie selfvernietigende tradisies? Waar kinders elke dag in vrees en bewing moet lewe?

Twee jaar is net-net genoeg tyd vir ‘n nuwe geslag om Hollands, hoe skeef en krom ook, aan te leer. By wie sou hulle dit aangeleer het?

Meer Hollandse skepe aan die baai?

Ek glo die kans is veel groter dat die Hollanders meermaal die beskutte inham van Maputo-omgewing besoek het as wat ons aanvanklik gedink het.

In die Algemeen Handelsblad van 13 Junie 1887 word kortliks melding gemaak dat die Nederlanders selfs vroeër as die Portugese in die gebied grond van die inheemse stamme gekoop het (dit weet ons nou reeds). Aan die linkeroewer van die Delagoarivier is die fort toe gebou (soos ons op die vergrote kaart op die Nederlandse Wikipedia-artikel kan sien) en sade uit die Kaap en Batavia is in die Kompanjietuin aangeplant, sodat daar genoeg voer vir die vee kan wees. Met alles word geëksperimenteer: die wynstok, medisinale plante, rys en tabak, en maar effens ongenuanseerd en beslis teenstrydig met die eerste hofie van hierdie PRAAG-artikel: “weinig medewerking werd ondervonden van de zusterkolonie aan de Kaap”. Die werklikheid is, die Kaap kon nie veel doen nie, want vryhandel was daar nie; die Here Sewentien in Amsterdam was in feitlik alles die remskoen. Volgens Neem uit die verlede (bl. 93) is die ekspedisie van Francois de Cuiper ook wel deur die Kaapkolonie befonds.

Maar hier volg die heel insiggewendste deel van die koerantberig, dis nou nadat die Hollanders in 1730 daar weg is:

Na dien tijd, werd deze plaats afwisselend door Hollandsche en Portugeesche schepen bezocht en zoo verbleef de bemanning van het Hollandsche schip De Naerstigheid, welk schip, ten gevolge van geleden schade moet worden verlaten, hier van 1757 tot 1759.

Dit is byna 30 jaar nadat die laaste Hollanders daar weg is, en byna 40 jaar voordat De Freyn sou opdaag. Maar weer: is dit werklik genoeg tyd om Nederlands te praat en die nut daarvan in te sien, as ons De Freyn se inskrywing wil glo?

Teenvraag: waarom net by een skip bly?

Die moontlikhede

As die VOC nie so gou tou opgegooi het nie, of by die Fort elke jaar ‘n paar beddings malvas laat aanplant het, dan is ek vas daarvan oortuig dat Fort Lijdzaamheid op die lange duur beslis die hele suide van Mosambiek reeds binne ‘n bestek van 100 tot 200 jaar heeltemal kon verafrikaans het. En hoe lank voor die Boererepubliek en Suid-Mosambiek sou saamsmelt?

Was dit nie vir die malaria en ander pessiektes nie, en die lang wag op die “wondermiddel” DDT en moderne geneeskunde nie, dan sou genoeg Burgers in die gebied die hele politiek vandag buitendien anders laat uitsien het.

Anders as die Portugese wat in die 1970’s teruggeroep word, sou die nuutgewortelde Afrikaners summier met die nuutste opskuddinkie weier om te trek. Veral as ons agbare ministers van Apartheid Suid-Afrika ‘n strandhuisie of twee daar het, en/of ‘n argeoloog-kleinnefie het wat munte in die louwarm waters uitduik.

Landmyne? Waarvan praat jy? Die hond s’n?

‘n Verenigde front sou gevorm word wat die latere Kommuniste stert tussen die bene terug na Sowjet-Rusland of Kuba deporteer (teregstelling sur-le-champ sou eintlik die edeler opsie wees, weet ons vandag). Boonop sou hernieude politieke stabiliteit, rekordvinnige infrastruktuurontwikkeling, die landswye geletterdheidsvlakke beslis hoër as die byna 30% van die vroeë 1970’s (vergelyk Kerry Swift, 1974, Mozambique and the future, bl. 42), en ekonomiese opbloei deur stinkryk sakemanne ‘n inval van ISIS vandag godsonmoontlik laat lyk het. Inderdaad sou Sun City vandag eerder aan die Mosambiekse kus gebou wees as in die voormalige Bophuthatswana. Want wié sou so onnosel wees om in die Kaap of in Durban of in ‘n wordende stowwerige halfwoestyn te gaan vakansie hou, vra ek jou?

‘n Mens sou dan in ‘n zeppelin wat lui-lui oor die stadskim skeer, skemerkelkie in die hand, oor die baai kon uitkyk. En net voor jy die suikerrand na jou lippe bring, iets terloops aan jou metgesellin prewel van “die speelplek van die rykes”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.