praag.co.za

Tag: tlu sa

  • Vuurwapenwet: Staan saam en tree op, versoek ad hoc-groep

    Vuurwapenwet: Staan saam en tree op, versoek ad hoc-groep

    Die tyd het aangebreek vir organisasies om saam te werk om Suid-Afrika te versterk. Dit was die boodskap wat deur bykans alle rolspelers tydens gister se vergadering van die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg bevestig is.

    Dié groep het besluit om alle belanghebbende groepe byeen te roep om die omstrede wetsontwerp oor vuurwapens te bespreek. Dié wysigings kom neer op ‘n vorm van onteiening van eiendom, waarteen die groep adviseer.

    Die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, georganiseerde landbou en landbouverteenwoordigers, burgerlike en burgerregte instellings, opposisiepartye en akademici sowel as geloofsinstellings. Die groep vergader gereeld om enige beleidsraamwerke wat eiendomsreg mag skaad of ondermyn, te bespreek en onderlinge standpunte, aksies en inisiatiewe te oorweeg.

    “Dit was goed om ‘n uiteenlopende groep organisasies byeen te hê,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Wat baie duidelik na vore gekom het uit die groepe wat die byeenkoms bygewoon het en uit die kommentaar van mense wat dit deur sosiale media gevolg het, is dat daar nou daadwerklik opgetree moet word om te voorkom dat hierdie tipe wetgewing deurgevoer word.

    “Ons ervaar ernstige probleme met die administrasie en uitvoerbaarheid van bestaande wetgewing. Dit is dus belaglik om te dink nuwe wetgewing wat baie meer administrasie gaan verg, sal suksesvol geïmplementeer kan word.”

    TLU SA en die Vryheidsfront Plus het bevestig dat hulle die wetsontwerp totaal afkeur en hulle nie daaraan sal onderwerp nie.

    Die groep stem saam dat die wetsontwerp nog deur die parlementêre proses moet vorder, maar dat daar nou reeds voorsiening gemaak moet word vir komende regsaksies.

    “Intussen doen ons ‘n dringende beroep op alle Suid-Afrikaners om nie apaties te staan teenoor belangrike sake soos hierdie wat die basiese vryhede soos dié van keuse, aan bande lê nie. Raak betrokke, laat jou stem hoor, wees bewus van jou veiligheid en wat jou te doen staan.”

    Die groep het ook gemaan dat mense nie roekeloos moet optree nie, maar deel moet word van ‘n beheersde plan om hierdie wetgewing teen te staan.

  • Video: Boere reageer op Nederlandse mosie teen grondonteiening

    Video: Boere reageer op Nederlandse mosie teen grondonteiening

    By ‘n onlangse landbouberaad van TLU SA waar daar indringend gepraat is oor die krisis wat Suid-Afrikaanse landbou in die gesig staar, het dr. Dan Roodt met mnr. Louis Meintjes, president van dié organisasie gesels. In die tweede deel van die onderhoud, verduidelik mnr. Hannes de Villiers watter ooreenkomste daar tussen Suid-Afrika en Israel bestaan, veral wat landbouveiligheid betref.

  • Meer as 200 plaasaanvalle vanjaar

    Meer as 200 plaasaanvalle is reeds vanjaar aangemeld, waarvan meer as 40 in Mpumalanga voorgekom het.

    Die TLU-landbou-organisasie het sy kommer uitgespreek oor die toename in plaasaanvalle.

    Die TLU-verteenwoordiger op Ermelo in Mpumalanga, Danie du Plessis sê die TLU is van mening dat die polisie nie genoeg doen om landbougemeenskappe te beskerm nie.

    Du Plessis sê die styl van die aanvalle het ook verander.

    Du Plessis het vroeër gesê: “Dié goed begin nou handuit ruk. Dit kan net nie so aangaan nie.

    “Die stelsel is teen die boere gekant en ons is kwesbaar. Die rowers dink dis reg dat hulle mense net kan skiet en daarmee wegkom.”

    Hy het enige planne vir landelike beveiliging deur die regering as blote praatjies afgemaak.

    “Die planne kom nie op grondvlak uit nie.”

    Volgens Du Plessis het die boere hulself nou begin beveilig.

    “Niemand anders gaan dit doen nie.”

    TLU SA se President, Louis Meintjes sê dit is opmerklik hoe eensgesind die boere op grondvlak is oor beginselsake wat landbou raak, maar daarom soveel meer onbegryplik dat nasionale landbou-organisasies oor dieselfde beginselkwessie verskil.

    “Dit voel amper of landbou-organisasies op nasionale vlak voeling met die boer op grondvlak verloor het, en daarom uitsprake maak en beleidsrigtings ondersteun wat beslis nie deur die boere op grondvlak ondersteun word nie.”

    Die boere in Suid-Afrika, deur die bank, het die ANC se beleidstandpunt dat boere 50 persent van hulle plase aan swart werkers moet afstaan, in geheel verwerp, het Meintjies gesê.

    “Voorts is ek baie bekommerd oor mnr. Zuma se uitlating dat daar geen plek vir besighede in Suid-Afrika is wat nie die ANC ondersteun nie. In ander woorde kom dit daarop neer dat die ANC se goedgesindheid gekoop moet word op welke wyse ook al om te kan sake doen in Suid-Afrika. Sou dit waar wees, maak dit die ANC in wese die grootste misdaad sindikaat in die land,” het Meintjies bygevoeg.

    Drukgroepe het reeds hulle kommer uitgespreek en oproepe op die polisie gedoen om plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad te verklaar.

    Die nasionale polisiewoordvoerder, Solomon Makgale sê die polisie is besig met strategieë wat daarop gemik is om misdade soos plaasaanvalle te bekamp.

    Hy sê plaasgemeenskappe en ander landelike gemeenskappe ervaar ‘n toename in misdaad.

    Hy sê die polisie is in gesprek met landbou-organisasies wat reeds veiligheidstrukture vir landelike gemeenskappe het, en in oorleg met hulle is ‘n landelike polisiëringstrategie ontwikkel.

    Makgale sê dié strategie word tans in werking gestel.

  • TLU SA: Sewe plaasaanvalle in een naweek

    TLU SA: Sewe plaasaanvalle in een naweek

    Die jongste plaasaanval by Vredefort-aanval word ingesluit by altesaam sewe plaasaanvalle wat sedert Vrydag oor die land heen plaasgevind het, het die TLU SA gesê.

    TLU se woordvoerder, Henry Geldenhuys sê ‘n vrou is op die Motloti Lodge by Thabazimbi in Limpopo dood toe vier mans haar en haar man aangeval het.

    Nog mense is in vyf ander plaasaanvalle, in onderskeidelik Mpumalanga en Kwazulu Natal aangeval en beroof.

    Volgens hom moet boere nou hul eie veiligheidsstrukture in plek kry omdat die polisie se nasionale landelike veiligheidsplan nie in plek is nie.

    Geldenhuys sê ‘n voorval by Chrissiesmeer in Mpumalanga waar ‘n huis aangeval is toe die inwoners nie tuis was nie, word ook beskou as ‘n plaasaanval.

    Die boer het toevallig nie die aand op sy plaas geslaap het nie, maar die swart aanvallers wat by sy plaashuis ingebreek het en vuurwapens gesteel het, het glo verwag om hom daar aan te tref.

    Volgens die TLU word dit ook as ‘n plaasaanval beskou omdat die boer onder normale omstandighede by die huis sou wees.

  • Boere se kans kans om vermoor te word, 4 keer hoër

    Alhoewel die jongste syfers oor plaasmoorde en aanvalle vir die eerste ses maande van 2015 ‘n afname getoon het, is ‘n boer se kans om vermoor te word steeds vier keer hoër as enige ander Suid-Afrikaner s’n.

    TLU SA het Donderdag tesame met Afriforum hul syfers vir die eerste ses maande van vanjaar in Centurion vrygestel.

    Limpopo en KwaZulu-Natal, het met vyf moorde, die meeste geweld vanjaar getrotseer. Daar was vier moorde in die Vrystaat, vier in Gauteng, drie in die Oos-Kaap, twee in Mpumalanga, twee in Noordwes en een elk in die Wes-Kaap en die Noord-Kaap.

    Volgens die verslag was daar in 2014 67 plaasmoorde en 277 plaasaanvalle. In die eerste ses maande van vanjaar was daar 27 plaasmoorde en 116 plaasaanvalle.

    Halfjaarstatistieke van vorige jare is egter nie bekend nie omdat dit die eerste keer is wat dié statistieke bekend gemaak word.

    Die statistieke dui dus op die oog af op ’n effense afname vergeleke met 2014.

    Genl. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van TLU SA, het gesê aanvalle op hoewes sonder huidige landbouwaarde, word ook by plaasaanvalle ingereken.

    Hy het ook gesê dat boere, boere se gesinne, werkers en hul gesinne en besoekers aan die plaas almal as slagoffers gereken word.

    Van Zyl het aan Netwerk24 gesê geweld tydens die aanvalle en moorde het vererger.

    “Die graad van geweld in 2015 is uitermatig hoog, veral as dit met die verlede vergelyk word. Almal wat op die tonele kom, sê vir my die geweld is baie erger as voorheen.”

    Henk van de Graaf, adjunkhoofbestuurder van TLU SA, het gesê die kommandostelsel, wat in 2003 afgeskaf is, moet vervang word.

    Kobus Visser, woordvoerder van Agri SA se landelike beveiliging sê hulle hou nie statistiek by oor plaasmoorde of aanvalle nie.

  • Privatiseer staatsgrond om begroting te laat klop: TLU

    Grond in die staat se hande, is ‘n ongesonde praktyk wat die land en Landbou net skade berokken.

    Mnr. Louis Meintjes, TLU SA se President, het gereageer op die bekendmaking van gruwelike verwaarlosing op ’n plaas naby Nigel wat deur die plaaslike owerheid bestuur word. Skynbaar het talle varke en hoenders van dors gevrek terwyl plante in groentetonnels ook van droogte gevrek het. Daarbenewens het dit aan die lig gekom dat die Mamahlola farm naby Tzaneen, wat 10 jaar gelede aan die Banareng Ba-Ga-Letsoalo-gemeenskap gegee is en sedertdien onder administrasie van die regering geplaas is, nie sy werkers kan betaal nie aangesien dit wanbestuur word.

    “Dit is ‘n bekende feit dat grond wat in private besit is, oor die algemeen beter bestuur word aangesien dit as deel van ‘n sake-onderneming beskou word wat winsgewend moet wees.

    “Waar die staat grond bestuur, moet ‘n amptenaar met geen wesenlike of persoonlike belang die bestuur behartig. Die wins of verlies is nie vir sy eie rekening nie met die gevolg dat dit hom nie werklik raak nie.

    “Waar die Minister van Finansies in sy tussentydse begroting aangekondig het dat sekere staatsbates gedeeltelik verkoop gaan word om die staat uit sy finansiële verknorsing te help, is dit onder daardie omstandighede juis nou wenslik om ook staatsgrond te verkoop sodat daar kommersieel op geboer kan word, in plaas dat dit verwaarloos word soos die Spaarwater- en Tzaneen-gevalle, waarin daar boonop R15 miljoen belastinggeld gepomp is (by Spaarwater) sonder ‘n enkele sent opbrengs daaruit,” sê mnr. Meintjes.

    Boonop is dit ook so dat heelwat grond wat as gevolg van die restitusieproses van eienaarskap verwissel het, steeds in naam van die Republiek van Suid-Afrika geregistreer is. Daardie grond se titelaktes behoort onverwyld aan die nuwe begunstigdes daarvan oorgedra te word sodat hulle die geleentheid kan kry om voluit kommersieel daarop te produseer. Sonder eiendomsreg op daardie grond, sal die begunstigdes daarvan nooit ten volle suksesvol kan boer aangesien hulle nie toegang tot kapitaal het nie, sê mnr. Meintjes.

    “Terselfdertyd moet die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, kennis neem van hierdie verwikkeling. Hier is nie ‘n persepsie van onvermoë nie, hier is die werklikheid van onvermoë, en in dié geval onvermoë van ‘n staatsinstelling wat deur die ANC beheer word.”

  • Boere vind polisiekommissaris se benadering tot plaasmoorde ligsinnig

    “Iemand moet die Nasionale Kommissaris van Polisie, Riah Phiyega, asseblief help met die vertolking van plaasmoord statistieke.”  So sê TLU SA se Adjunk-President en Voorsitter van die Veiligheidskomitee, mnr. Henry Geldenhuys, na aanleiding van die kommissaris se voorlegging aan die Menseregte Kommissie (MRK) waarin sy meld dat plaasmoorde afneem, en dat daar geen verskil is tussen ’n plaasmoord en ’n ander moord nie.

    TLU SA het sy syfers vir plaasmoorde tot en met die einde van September vrygestel.  Daarvolgens blyk dit dat daar vanjaar 53 plaasmoorde plaasgevind het in 210 aanvalle. Dit verteenwoordig ’n skerp styging teenoor 2013, toe daar tot die einde van September 43 plaasmoorde plaasgevind het in 164 aanvalle. “Dit is dus enersyds verstommend dat die Kommissaris kan beweer dat daar ’n afname is in plaasaanvalle en –moorde, en andersyds wys dit op die foutfaktor op die polisie se eie statistiek.  Vermoedelik is ander syfers van hulle dan ook verkeerd,” sê mnr. Geldenhuys. Hierdie ongewenste situasie bring mee dat die SAPD hulle eie syfers openbaar moet maak.  Daar is geen rede anders as om hul eie onvermoë te probeer verdoesel om dit nie bekend te stel op ‘n gereelde basis nie.

    “Die MRK-verhoor het al genoeg getuienis aangehoor van gebrekkige polisie-optrede, om welke rede ook al. Waar daar dan nog ‘n beroep op die gemeenskap gedoen word om die polisie by te staan, is hulle strukture nie in plek nie, soos blyk uit die chaotiese toestand rondom polisie reserviste.

    “In sekere tradisioneel swart gemeenskappe gebeur dit toenemend dat reg in eie hande geneem word omdat die polisie nie optree nie. Dit sal ’n donker dag wees as daardie soort optrede sou uitkring. Ook die boere raak ongeduldig met die gevoel dat hulle eintlik voëlvry is,” sê mnr. Geldenhuys.

  • Plaaswerkers geregtig op gratis aandele in plase

    Plaaswerkers geregtig op gratis aandele in plase

    Piketberg-plaasIn ’n voorgestelde beleidsdokument oor die vrywillige toekenning van aandele aan plaaswerkers van die Dept. van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming word o.m. voorgestel dat ’n plaaswerker met 10 jaar diens op ’n kommersiële plaas geregtig moet wees op 10% aandele in die eienaarskap van die grond. Voorts word bepaal dat ná 25 jaar diens ’n werker geregtig moet wees op 25% aandele en op 50% ná 50 jaar.

    Geen melding word gemaak oor wat gebeur as daar verskeie werkers op ’n plaas is wat al langer as 10 jaar daar is nie. Die stelsel sal nie “afdwingbaar” wees nie, maar boere word aangemoedig om “vrywillig” deel te neem. Die doel van die voorgestelde beleid is “om ongeregtighede sedert die 19de eeu reg te stel”.

    Volgens die dokument het plaaswerkers, insluitende tydelike en seisoenwerkers, oor die jare heen vir “hongerlone” gewerk en is daarom nou geregtig op aandele in die plase waar hulle woon en werk. In reaksie op die beleidsdokument is kritiek fel, o.a. van Agri SA, TLU SA en Graan SA.

    Pieter Groenewald van die VF Plus sê die voorstelle “kom neer op niks minder nie as die brutale onteiening van grond soortgelyk as wat in Zimbabwe gebeur het. Dit is duidelik dat die grondhervormingsprogram ‘n klaaglike mislukking is en dat ander planne nou beraam word om grondeienaars sonder vergoeding te onteien.” – Ditsem Nuus

  • Situasie is ernstig maan TLU

    Die president, mnr. Ben Marais, sê na deeglike oorweging van alle faktore, het TLU SA tot die slotsom gekom dat die situasie in die land baie ernstiger is as wat die algemene opvatting is.

    “As ons kyk na die historiese oploop van gebeure die laaste paar weke, wil ‘n onstellende patroon vir ons vorm aanneem, waarin die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche slegs ‘n moment is, maar ons is bevrees dat dit nie die einde is as daar nie drasties opgetree gaan word, hetsy deur die regering, hetsy deur die landsburgers self nie,” sê mnr. Marais.

    “Rassepolarisasie kry al meer gestalte en die sneller vir nog meer konflik, lê in die hande van die ANC Jeugliga en sy radikale leier, wat skynbaar nie deur die regerende party tot orde, verantwoordelikheid en dissipline geroep kan word nie.

    “Ons het die laaste weke gesien hoe dat plaasmoorde skielik die hoogte in skiet, hoe daar telkens in ander gedaantes gepraat is van nasionalisering van landbougrond, die verskyning van die opruiende liedjie, “Skiet die boere”, nog debatte rondom nasionalisering, en die uiteindelike moord op ‘n bekende leier.  TLU SA raak al hoe meer oortuig daarvan, op grond van getuienis wat instroom, dat die moord op mnr. Terre’Blanche nie gewone misdaad was nie, maar ‘n suiwer politieke moord, waarby heel moontlik selfs die regering betrek kan word.

    “Die wreedheid en barbaarsheid wat ons die laaste tyd tydens plaasmoorde gesien het, is herhaal tydens die moord op mnr. Terre’Blanche, en is buitensporig tot die beweerde dispuut waaroor die geskil sou gegaan het.

    “TLU SA is moeg daarvoor dat daar gedurigdeur ‘n klimaat geskep word teen veral die boere.  Kennis is geneem dat tydens die betogings by die Ventersdorpse landdroshof, daar weer aantygings gemaak is teen die boere, wat ‘n klimaat skep wat deur radikale elemente gesien kan word as ‘n regverdiging om boere aan te val.  TLU SA verwerp dus stellings dat boere hulle werkers sleg behandel.  As die werkers meen dat hulle sleg behandel word, is daar genoeg statutêre instellings waar hulle om hulp kan aanklop, en wat meet groot graagte en oorywerigheid hulle griewe sal aanhoor en ondersoek.  Werkers het ook altyd die keuse om die plase waar hulle dan kwansuis sleg behandel word, te verlaat om beter behandeling, huisvesting, salaris en byvoordele elders te gaan soek, dalk op die ongeveer 45% landbougrond wat die regering steeds in sy besit het.

    Dalk het die tyd nou aangebreek dat ons ‘n ernstige beroep doen op boere om maar ter wille van veiligheid en gemoedsrus, waar moontlik van hulle arbeidsmag ontslae te raak en te meganiseer.

    “Sedert die moord op mnr. Terre’Blanche het TLU SA kennis geneem dat steeds meer gevalle skielik voorkom waar daar ‘n dispuut oor geld en betaling is.  Boere moet daarop bedag wees dat dit skynbaar as die jongste gronde vir dispute verklaar word,” waarsku mnr. Marais.

    “Ons is moeg vir die verskoning soekery waardeur alles gemanipuleer word, om die misdadiger na ‘n held te laat lyk, en die boer na die skurk te laat lyk.  Dit is ‘n situasie wat nie langer geduld kan word nie,” sê mnr. Marais.

    “Die feit is dat die ANC beheer oor homself en die land verloor het.  Wat in die land plaasvind is niks anders nie as gewapende propaganda vir ‘n soort bevryding wat ons gedink het sestien jaar gelede al aangebreek het.  In die lig daarvan, en omdat TLU SA ‘n verantwoordelike organisasie is, doen TLU SA ‘n beroep op sokkerspelers en –ondersteuners om weer te besin oor die wenslikheid om mense bloot te stel aan sulke toestande.”

    Mnr. Marais sê dat TLU SA besig is om sy strategie tans te verfyn, en kan daarom nie nou sy hele aksieplan openbaar nie.  “Ons sal dit spoedig aan ons lede deurgee.  Inmiddels kan ons wel herhaal wat ons al voorheen gesê het, naamlik dat buurt- en plaaswagte as ‘n saak van dringendheid geaktiveer moet word.  Ons glo dat ons nog maar aan die begin van die probleme staan, en uit ‘n Zimbabwiese koerant het ons verneem dat die ANC plaasbesettings op die Zimbabwe-styl beplan binne die afsienbare toekoms.  Ons roep ons mense op om hulle wapenvaardighede te verbeter, sodat hulle hulleself suksesvol kan verdedig, en daarom is dit nodig om skietklubs te heraktiveer of uit te brei.  Gebeurlikheidsplanne moet ook onmiddellik afgestof word,” sê mnr. Marais.

    TLU SA gaan ook ‘n gesprek met die regering binne die volgende 14 dae eis, sodat dié kan antwoord op ‘n lywige klagstaat wat aan hom voorgehou gaan word.

    games at aтопкарго