Suidpunt: Hoe dr. Hennie Terblanche die Engelse makgemaak het

Deel op

Diegene nou in hul laat-30’s en 40’s wat hul kinderjare en tienerjare in die 1980’s deurgebring het, en die politieke oorgangstydperk van Suid-Afrika meegemaak het in die 1990’s, ervaar miskien dieselfde verlies as hul ouers. Wat vandag nog ‘n rotsvaste gegewe en sekerheid is, bestaan môre net nie meer nie. Afrikaans het kort voor die einde van Apartheid nog bykans op elke etiket en in elke motorhandleiding gepryk; vandag is alles slegs eentalig Engels. Maar as jy nou besonder gelukkig is, sal jy voor op die Colgate Plax-bottel ‘n bietjie Frans vind waar Afrikaans vroeër sou gestaan het: en daar is niks wat soveel verfrissing in die oggend bied as om eers ‘n bietjie Frans voor ontbyt te gorrel nie. Of daardie fraîcheur citrus-geur van Head & Shoulders in jou hare in te adem nie. Lodeur est magnifique et exotique! Frankryk en Engeland albei in vrede op dieselfde bottel: slegs in Suid-Afrika moontlik.

Miskien kan ‘n outjie wat die politieke oorgang in Suid-Afrika misgeloop het met ‘n nugter blik na die werklikheid kyk. Afrikaans het nie met 1948 uit die hemele neergedaal en soos by towerslag op elke kragboks, in jou Lamborghini-handleiding en op elke openbare toiletdeur sommer “poef!” verskyn nie.  Afrikaans het nie eensklaps gelyke beregtiging met die lintknip van die Republiekwording gekry nie. Dit is ook ‘n infame leuen wat alleen die satang uit die onderwêreld self kon uitgedink het, dat die Afrikaner toe nie meer onder druk gestaan het om te verengels nie, en dat die Republikeinse ideaal uiteindelik verwesentlik is met wedersydse vertroue en samewerking van al die blanke bevolkings in 1961.

Hierdie Afrikaanse regte moes in der waarheid eers hardhandig afgedwing word!

En hiervoor kan ons maar een persoon bedank: Dr. Hennie Terblanche.

Wie was Dr. Hennie Terblanche vóór die taalhandhawing?

Ek haal aan uit Die Triomf van Nasionalisme in Suid-Afrika (Redakteur: D.P. Goosen; 1953:279-280), 12 jaar voor die stigting van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA):

Dr. Hendrik Josephus Terblanche is op 4 Desember 1917 in Aberdeen, Kp., gebore. Daar het hy as boerseun in die Cambedooberge grootgeword en op die dorpie tot matriek skoolgegaan. In 1935 is hy na Rhodes-Universiteitskollege op Grahamstad waar hy in 1938 die B.A.-graad in tale met onderskeiding behaal het. In 1939 tree hy in die Departement van Doeane en Aksyns in Pretoria tot die Staatsdiens toe. In 1940 word hy vertaler by die Staatsvertaalburo, in 1941 tolk by die Hooggeregshof in Transvaal, in 1942 onderhoof van ‘n korrespondensiekollege, in 1943 lektor in Afrikaans aan die Witwatersrandse Tegniese Kollege, in 1946 vertaler van die Johannesburgse  Munisipaliteit en in 1947 Senior Lektor aan die Universiteit van Natal waar hy die afgelope 4½ jaar sub-hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands in Durban is.

Sedert hy in 1939 in Pretoria begin werk het, het hy onmiddellik sy studies as buitemuurse student aan die Universiteit van Pretoria begin voortsit, eers in die regte, maar na ‘n jaar begin hy met die M.A.-graad wat hy in 1942 met lof verwerf. In 1946 behaal hy die D.Litt-graad aan dieselfde universiteit.

Gedurende hierdie tydperk het dr. Terblanche verskeie kursusse in verband met Afrikaans en Engels vir korrespondensiekolleges geskrywe, hy het sedert 1940 die tegniese eksamenvraestelle van die Unie-Onderwysdepartement vertaal en sedert 1942 was hy ses jaar lank hoof-eksaminator in Engels en later in Afrikaans vir dieselfde departement.

Dr. Terblanche se eerste groot werk vir Afrikaans was die baanbrekerswerk wat hy as vertaler in Johannesburg verrig het.

In Natal het dr. Terblanche hom onmiddellik in die kultuurstryd van die Afrikaner gewerp. As ondervoorsitter van die Durbanse Skakelkomitee het hy op onvermoeide wyse vir die regte van die Afrikaner in daardie Engelse stad geveg. Hy het in 1950 as voorsitter met die eerste Afrikaanse kunswedstryde van die Durbanse Skakelkomitee in Durban begin. Twee jaar lank was hy die voorsitter van hierdie wedstrydekomitee en vandag is dit ‘n jaarlikse gebeurtenis waarop alle Durbaniete en Natallers trots kan wees.

Die afgelope vyf jaar was dr. Terblanche o.a. ook voorsitter van die Durbanse Uitvoerende Komitee vir die Opvoeding van Volwassenes, voorsitter van die onderwyskomitee van die Durbanse Skakelkomitee, hoofbestuurslid van die Saamwerkunie van Natal, en lid van die Durbanse Adviserende Raad.

Dr. Terblanche het bekendheid verwerf met sy taalartikels in verskillende tydskrifte, en dan is hy ook die skrywer van die Nuwe Praktiese Woordeboek, Die Terblanche-skoolwoordeboek en Die aanmekaarskryf van Afrikaans. Sy Engels-Afrikaanse Tegniese Woordeboek waaraan hy reeds 12 jaar gewerk het, het alreeds die finale drukkersproewe bereik en sal voor einde 1953 verskyn. Hierdie werk bevat sowat ‘n (sic) 80 000 woorde en sal Afrikaans as taal ‘n groot stoot vooruit gee.

[…] Dr. Terblanche is getroud met mej. Elsa* (sic) Bosman van Carnarvon en uit die huwelik is twee kinders gebore, ‘n dogter en ‘n seun.  [*Elra]

Ek is so dankbaar ek hoef nie sy persoonlike assistent te wees nie. En meer detail sal jy alleen nog in sy outobiografie kan opspoor, “Jare van storm en drang”, in 1977 postuum uitgegee.

Sekere details word hierbo weggelaat, soos dat sy moeder ‘n onderwyseres was, ‘n rykmansdogter met Engelse agtergrond, wat boervrou geword het. Sy het ook baie beter Engels as Afrikaans gepraat. Al was sy dus Engels, en haar liefdesnaampies vir hom in Engels, was die huistaal Afrikaans – hier was sy pa die taalhandhawer (p. 15):

Hierdie fyn vrou het nou op ‘n plaas beland as eggenote van ‘n egte boer, wat Afrikaans in hart en niere was. Daarby het sy haar egter baie goed aangepas en volkome opgegaan in die nuwe kultuur. Sy het met oorgawe die pligte en verantwoordelikhede van ‘n boerevrou oorgeneem en van meet af aan baie hard gewerk – vroeg op en vroeg saans in die bed.

Maar op bl. 25 sien ons sy moeder was ‘n nooi Truter van Doringrivier (in 1976 Herold) naby George, en haar vader was ‘n streng oubaas uit Duitsland, wat eers ‘n ruk lank in Engeland vertoef het nadat hy en sy gesin as baronnegeslag probleme met die Duitse owerheid gehad het. Hy was weer familie van sir John Truter, vroeër jare hoofregter in Kaapland, en ook van sir Theodore Truter wat hoof van polisie en later hoofinterneringsbeampte in Suid-Afrika was.

Vir skool was hy buitendien weeksdae by Ouma en Oupa Terblanche op die dorp. Sy oupa kon ek sweer het ek al iewers in ‘n Brink-roman teëgekom: “Toe die Afrikaanse Bybel later in 1933 gekom het, weet ek dat hy hewig ontsteld was, want hy was gewoond aan die Nederlandse Bybel en Gods woord kon nie in Afrikaans (sy eie taal) tot sy volkome reg kom nie. Dieselfde houding het hy ook gehad toe Afrikaanse Psalm- en Gesangeboek die Nederlandse vervang het” (p. 34).

En op hierdie dorp het hy gereeld met Joodse kinders omgegaan en sommer ook Jiddisj en Hebreeus in die verbygaan geleer; sy Skoolduits het hier goed te pas gekom (p. 49). Hierdie Jode se ouers het sonder ‘n penning in Suid-Afrika aangekom, en as bondeldraers (smouse wat van plaas na plaas rondgeswerf het) hul geld gemaak voordat hulle winkeliers geword het (p.26).

Op universiteit het hy in sy derdejaar sy moeder gevra om liefs nie weer aan hom in Engels te skryf nie – Afrikaans was immers sy huistaal en die Engels het hom stadigaan begin irriteer – en sy het vir hom in ‘n soort “koddige” Afrikaans/Hollands geskrywe, wat “allengs meer Afrikaans geword” het (p. 63). Ek dink dit was onbewustelik sy eerste poging tot taalhandhawing.

Hoewel Rhodes Universiteit nie so polities ingesteld en liberaal in die 1930’s was nie, het hulle steeds die ou Engelse manier van handel gevolg (pp. 56-57):

Vir my was dit ‘n groot aanpassing om van ‘n Afrikaanse omgewing na so ‘n tipies Engelse gemeenskap te gaan. In daardie dae was Rhodes so Engels as wat kan kom. Daar was maar net 600 studente waarvan hoogstens 10 Afrikaanssprekend was. Saans het die meeste studente hulle volgens Engelse gebruik uitgevat, en ons moes met swart akademiese togas vir die ete in die eetsaal verskyn. Rhodes wou ‘n Oxford van Suid-Afrika wees, en saans is daar in Latyn aan tafel gebid.

Aankondigings is met luide gekap met die desertlepel (sic) op die tafel begroet, sodat al hierdie lepels kenmerkend plat was. Die kos is in skottels op die tafel gebring en ons het onsself daaruit gehelp. Die kontras met die verskyning by aandete was ook weer tipies Engels, want jy kon soggens met jou nagklere en japon en pantoffels ontbyt gaan nuttig. Ons koshuis was sowat 200 meter van die eetsaal af en dit was ‘n aardige gesig om party van die studente in dié gewaad na die gemeenskaplike eetsaal te sien strompel. Op pad het ons dikwels van die dames teëgekom wat in dergelike gewaad na hulle eetsaal op pad was. Een van hulle koshuise was so geleë dat hulle ons moes kruis om by hulle eetsaal uit te kom.

Op ‘n stadium by ‘n swierige dansparty het ‘n dansvriendin (nie sy dansmaat nie) iewers begin praat van die ‘dirty Dutch’ en hy het haar net so op die dansbaan gelos. Niemand het geweet hy is ‘n Afrikaner nie, ten spyte van die Terblanche-agternaam (en hoe dan met ‘Hennie’ en ‘Hendrik Josephus’? Wat het hulle hom dan genoem?). Hy was so geaffronteer deur die aangeleentheid dat hy vir hierdie dametjie gesê het om te sorg dat sy dansmaat veilig by haar koshuis besorg word, “want ná so ‘n beledigende opmerking kon ek nie langer daardie klomp in my party in die oë kyk nie. Hier het ons nie te doen gehad met ‘n uitsonderlike geval nie, want ek het al geleer dat daar baie van my medestudente op Rhodes was wat die Afrikaners as ‘dirty Dutch’ beskou het. Ek het nogtans gewoonweg in daardie gemeenskap opgegaan en vriendelik met diesulkes verkeer as studente van dieselfde universiteit met ‘n gemeenskaplike trou en lojaliteit.” (p. 63-64)

Nadat hy ‘n ruk lank Staatsvertaler in Pretoria was en die Rondgaande Hof as tolk vergesel het, het hy in 1943 na Johannesburg verhuis om as onderhoof van ‘n korrespondensiekollege aangestel te word, maar in 1944 word hy as lektor aangestel by die Tegniese Hoër- en Ambagskool van die Witwatersrandse Tegniese Kollege om te help met sy proefskrif waarmee hy besig was (al het dit ook ‘n salarisvermindering beteken), sodat hy toegang tot werkwinkels (elektrotegnies, pas- en draaiwerk, motorwerktuigkunde, vliegtuigwerktuigkunde, sweiswerk, plaatmetaalwerk, loodgieterswerk en houtwerk) en vakmanne kon hê. Nadat hy al die inligting hier gekry het wat hy wou, aanvaar hy sy betrekking as tydelike vertaler by die stadsraad van Johannesburg in 1946. Ná ses maande is die pos permanent, en met meer werkkragte pak hy die taak aan (66-81).

In Maart 1946 behaal hy sy doktorsgraad, terwyl hy vertaler by die stadsraad van Johannesburg is. ‘n Byvak wat hy moes neem was Inleiding tot Latyn en as jonggetroude het hy tot saans laat geleer. Omdat hy op eie houtjie moes studeer, het hy ‘n matriekdogter teen vergoeding gevra om hom met die probleme van die skoolkind met Latyn vertroud te maak (hy het dus Matrieklatyn geleer?). Hy het ook nog privaatklasse gegee aan ‘n seun wat nie Afrikaans vir Matriek gehad het nie (wel Frans) en binne drie maande het die seun geslaag. “Hy was ‘n briljante seun wat Afrikaans nodig gehad het vir die regstudie wat hy daarna aan die universiteit voltooi het” (p. 81).

Eers op 28 Mei 1946 is die agenda van die Johannesburgse Stadsraad vir die eerste keer in Afrikaans beskikbaar, luidens ‘n berig in Die Vaderland. Dr. Terblanche is toe byna 28 jaar en 6 maande oud (p. 79):

Die persoon wat vir hierdie eerste vertaling van die agenda verantwoordelik is, is dr. H.J. Terblanche, wat verlede jaar tot vertaler aangestel is. Saam met twee tiksters is hy verantwoordelik vir die lywige stuk werk wat 222 foliovelle beslaan. Die personeel sal later aangevul moet word soos die werk uitbrei.

[…]

Die taak wat op hom en sy personeel wag, is waarskynlik taamlik omvangryk. Daar is kennisgewings, aankondigings en korrespondensie van allerhande aard waar groot verbetering noodsaaklik geword het. […]

Hierdie foliovelle het enkelspasiëring. Die vertaling het binne 5 dae plaasgevind (p. 80):

Dr. Ross het gesê dat hy die werk van dr. Terblanche as ‘n merkwaardige prestasie beskou, as ‘n mens in aanmerking neem dat daar vir die Engelse agenda sewe komiteeklerke is wat die verskillende komiteevergaderings bywoon en die notule en agenda met behulp van ‘n groot aantal tiksters opstel.

Ons verneem ook in ‘n berig van 29 Augustus 1946 van Die Transvaler dat hy reeds sewe jaar lank vakterme aan die versamel is. Op daardie stadium het hy en sy vrou in Braamfontein gebly (p. 80-81)

Nadat hy sy doktorsgraad behaal het, wou hy meer aandag skenk aan sy Nuwe Praktiese Woordeboek, en omdat dit so baie aandag verg, sou ‘n betrekking by ‘n universiteit hom beter pas. Daarom aanvaar hy die pos as Senior Lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Natalse Universiteit teen ‘n baie laer salaris (p. 82-83) Met die vaktaalburo van Johannesburg aan die uitbrei, het hy ook die publiek gevra om swak Afrikaans op munisipale kennisgewings, advertensies of geskrewe stukke onder die aandag van die munisipale taalburo te bring. Op daardie stadium (31 Januarie 1947) was Johannesburg ook besig om straatname te vertaal en te giet (p. 83).

In Pietermaritzburg bemoei hy hom vir twee jaar lank met woordeboekwerk; dáár het hy nie veel op die taalfront gedoen nie “en die algemene atmosfeer van daardie ‘Sleepy Hollow’ was nie eintlik bevorderlik vir sodanige optrede nie, hoewel die strydperk daarvoor voorberei is” (p. 83-84). Sy eersteling is in September 1948 gebore en drie maande later verhuis hulle na Durban, waar hy as subhoof aangestel is van die Departement Afrikaans-Nederlands van die Durbanse tak van die Universiteit van Natal, waar die nuwe departement van meet af aan opgebou moes word (p. 85-87).

Maar hier moet ons vir eers stilstaan, want nou moet ons eers uitbrei hoe hy die onnasionalistiese Durban, rou Engels, vir Afrikaans makgemaak het.

Wat het in Durban gebeur?

Nadat hul huis in Durban-Noord gekoop is, het dr. Terblanche dadelik by die Skakelkomitee ingeskakel. Die gesin het pas in Durban aangeland toe dr. Terblanche se elektrisiteitsrekening in Engels aan hom gestuur is. Hy het dit teruggestuur en geweier om dit te betaal, totdat een aan hom in Afrikaans gestuur is. Hy is toe na mnr. Green, die stadstesourier. Volgens Green erken die stadsraad nie Afrikaans nie en sy elektrisiteit sal afgeskakel word indien hy nie betaal nie (pp. 89-90). Artikel 137 van die Uniegrondwet is dus nie eerbiedig nie, wat bepaal (p. 121):

“De engelse asmede de hollandse talen zijn officiële talen van de Unie. Zij worden op een voet van gelijkheid behandeld en bezitten en genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten…”

Soos ek dit verstaan, en soos dr. Terblanche dit ook insien, beteken Artikel 137 élke liewe denkbare lewensruimte in Suid-Afrika: die private én openbare ruimte. Dit beteken in sy wese nie alleen die opgeluisterde burgemeesterskantoor nie, maar ook die eenvoudige groentesmouse op die sypaadjie moet tweetalig wees teenoor hul medeburgers.

Dr. Terblanche het uit radeloosheid ander munisipaliteite gekontak, soos Bloemfontein, sodat hulle dieselfde behandeling teenoor hul Engelssprekendes moet uitoefen (sodat die skoen ‘n slag aan die ander voet kan sit). Geen reaksie. En nou het die taalstryd in alle erns begin (p. 90).

Voordat die gesin in Maart 1958 na Pretoria verhuis het, is ‘n Afrikanerkring in Durban op die been gebring (luidens Die Transvaler 12 April 1949), ‘n Van Riebeeckfees is gehou onder beskerming van die Durbanse Skakelkomitee (Die Transvaler, 16 April 1951), en briewe wat die Skakelkomitee aan die Stadsraad gestuur is het “ter bevordering van wedersydse goedgesindheid” geëis dat hul briewe beantwoord word in die taal waarin dit ontvang word (Afrikaans).  ‘n Kunswedstryd eksklusief vir Afrikaanssprekendes is gehou – met 500 deelnemers (Die Transvaler, 12 April 1950). Ook ondersoek is ingestel om ‘n enkelmedium Afrikaanse skool te stig wat die Christelik-Nasionale Onderwys in Natal kon volg (Die Transvaler, 16 Junie 1954). Die komitee het besluit om briewe aan Afrikaanse koerante te rig waarin ‘n beroep op Afrikaanssprekende besoekers gedoen is om Afrikaans te praat wanneer hulle in Durban is. “Dit sal die stryd vergemaklik wat Afrikaners in Durban vir die gelyke behandeling van hul taal voer” (Die Transvaler, 27 Mei 1954; Die Transvaler, 1 Julie 1955).Die komitee het ook besluit om hul nuusbrief op die lange baan te skuif, sodat hul werksaamhede eerder in Afrikaanse koerante met ‘n véél groter leserspubliek gepubliseer kan word (Die Transvaler, 27 Mei 1954). Die Skakelkomitee het die FAK gevra om die platteland te bearbei, waar Afrikaanse dorpe steeds slegs ‘n “Butchery” en “Gent’s Tailor” het (Die Volksblad, 29 Julie 1955). Luidens ‘n berig in Die Transvaler, gedateer 3 April 1956, is beswaar gemaak teen die eentalige aankondigings van lewensredders (veral teenoor Afrikaanse besoekers (kinders) wat nie Engels verstaan nie) en eentalige kommentaar op die plaaslike toerbusse, waarvan die klagte van laasgenoemde ook sommer na die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria verwys is. Ook die Swemkampioenskappe wat volkome in Engels was, ten spyte van die Afrikaanse deelnemers en toeskouers, is teen beswaar gemaak. In die Natal Daily News (3 Maart 1956) sê dr. Terblanche oor die strandvermaak: “We do not want Afrikaans concerts or separate shows, all we ask for is bilingualism.”

Nog honderde soortgelyke vermanings en briewe is uitgestuur na die onderskeie koerante. Die komitee was soos die neulende weduwee by die onregverdige regter in die Bybel (Lukas 18:1-8).

Ook heelwat later is onderhandel om die straatname te vertaal (p. 89):

Op taalhandhawingsgebied het ek in Durban op alle moontlike en onmoontlike terreine beweeg. Daar is mooi gepraat en selfs gesoebat, maar die saak vir Afrikaans is ook sterk en selfs dreigend gestel. Verskillende briewe is in hierdie verband geskrywe en ek het op stelselmatige, diplomatiese en ferme wyse geprobeer om die standpunt vir Afrikaans by die oortreders en vertrappers tuis te bring.  Baie onderhoude is met die stadsraad gevoer en daar is ons saak sterk gestel. Ek het ‘n memorandum oor die vertaling van straatname in Afrikaans opgestel en hierdie hele aangeleentheid is in sy breedte en diepte deur ons afvaardiging met die burgemeester en die bestuurskomitee uitgepluis. Hierdie onderhandelinge is streng beredeneer en volgens hierdie beginsels gevoer, maar tog het ‘n goeie gees deurgaans geheers.

Die burgemeester het my by een geleentheid gevra hoe dit dan moontlik is dat daar in die afvaardiging van drie, twee was met Engelse vanne – die een was mnr. Rothwell, wat nogal ‘n tipiese Engelse “rooi gesig” gehad het. Ek kan net meld dat Durban vandag ‘n toonbeeld van tweetalige straatname is en dit is ‘n direkte uitvloeisel van die destydse vertoë en onderhandelinge.

Maar niks het die groot deurslag gegee soos die verkeersoortreding nie. Dit het die stadsraad op sy knieë gedwing. Dr. Terblanche het besef hy moet iets doen om die ordonnansies ook in Afrikaans te kry. As hy dan sy saak in die hof moes verdedig sou dit aan die groot klok gehang word. Dis asof dr. Terblanche ‘n swakplek en tere steekplek gesoek en gesoek en gesoek het, en ja – wragtig een gekry het.

Die eerste oortreding was in 1951 toe hy, tot die landdros se klaarblyklike ontsteltenis, skuld ontken het op grond van die feit dat hy tereg staan vir die oortreding van ‘n wet wat in die werklikheid nie bestaan nie. Die aanklag moet ultra vires verklaar word (p. 116). Op ‘n eenvoudige tegniese punt: die verkeerswet is nie in Afrikaans geskryf nie, en kragtens die Artikel 137 moet daardie wetgewing ook in Afrikaans geskryf wees; ergo, daar is geen verkeerswet vir hom as Afrikaanssprekende nie, en daarom het hy dus geen misdaad gepleeg nie.

Maar die aanklaer het daarop gewys ‘n volle regbank van vyf regters van die Appèlhof het in 1945 beslis dat “wanneer ‘n regulasie van ‘n Natalse munisipaliteit bekendgemaak word, is dit nie nodig dat die aankondiging in die Provinsiale Koerant in albei amptelike tale geskied nie. Nòg die Suid-Afrika-wet, nòg die Natalse Ordonnansie van 1942, nòg die gewone wet vind so ‘n beslissing nodig” (p. 117). Al manier om hierdie saak te betwis, is om by die Appèlhof te gaan draai om die wet te wysig. Ongelukkig moes dr. Terblanche na die buiteland toe en het die boete betaal en wou dus nie dadelik geappelleer nie. Dit was nou in Juliemaand 1951.

Met sy tuiskoms het dr. Terblanche herhaaldelik doelbewus verkeerd parkeer om in die hof te beland om te appelleer. Hy het verkeersboetes gekry, maar is nooit gedagvaar nie, moontlik omdat opdrag gegee is dat dr. Terblanche uit die hof gehou moes word. Dr. Terblanche het later die hele pak verkeerskaartjies na die hoofredakteur van die Natal Mercury geneem om te toon hoe hulle belastingbetalersgeld vermors word. Die groot bohaai in die koerant het die owerhede genoop om dr. Terblanche te vervolg.

Voordat ek die hofsaak behandel, sal dit interessant wees as ek daarop wys dat ek een Sondagoggend op pad kerk toe aan die regterkant van ‘n verkeerskonstabel op puntdiens om ‘n draai gery het. Hy het my beveel om stil te hou, van sy kassie afgeklim en met streng afgemete treë na my toe aangestap gekom. Toe hy egter naderkom en sien wie ek is, het hy net so in sy spore omgedraai en stert tussen die bene na sy kassie teruggegaan (p. 120).

Uiteindelik verskyn dr. Terblanche toe Januarie 1954 vir ‘n parkeeroortreding in die hof. Die oortreding is op 10 September 1953 begaan. Die hof wou die saak uitstel tot 14 Januarie maar dr. Terblanche het hulle in ‘n hoek gedryf om hom daar en dan skuldig te bevind. Maar met sy skuldigbevinding wou hy appelleer. Toe hierdie voorneme aan die aanklaer getolk is deur die landdros, het die aanklaer die saak teen dr. Terblanche sonder meer teruggetrek. Die landdros het die terugtrekking van die saak toegestaan (p. 120-121).

Wat hier van belang is, is dat ek tot elke prys skuldig bevind wou word, sodat ek kon appelleer ten einde die bestaande Appèlhofuitspraak ter syde te laat stel, wat nl. bepaal dat ‘n ordonnansie in Natal eentalig (Engels) kan wees. Die hof wou my egter nie skuldig bevind nie (moontlik in opdrag), al het ek ook skuldig gepleit, want die landdros het gesê dat dit so ‘n belangrike saak is dat hy met ‘n spelfout in die klagstaat my nie skuldig kan bevind nie. Die belangrike is dat ek hiermee landswyd die aandag gevestig het op ‘n skreiende onreg teenoor die Afrikaanse taal wat nog in Suid-Afrika hoogty gevier het (p. 121).

Nou wend dr. Terblanche hom raadop per brief na die Minister van Justisie, mnr. C.R. Swart, wat later Staatspresident sou word. Heel eerste wat Swart gedoen het was om opdrag te gee dat die staat in alle gevalle in die hof sy eie staatsaanklaers moes hê – die stadspolisie van Durban kon nie meer vervolg nie. Met hierdie bliksoldaatjies nou mooitjies opgestel, gaan mnr. C.R. Swart tot die aanval oor. Teen die einde van 1954, as Minister van Justisie, gee hy opdrag aan sy staatsaanklaers dat geen vervolging kragtens eentalige ordonnansies ingestel moet word nie. Dit het chaos in Durban veroorsaak. Onder meer het “Indiërs op die sypaadjies geparkeer, want hulle het geweet dat hulle nie vervolg kon word nie. Dit het net ‘n rukkie so aangehou voordat die opdrag herroep is, maar dit het gewenste uitwerking gehad” (p. 123). Die rukkie was “ongeveer ‘n week” (p. 159).

C.R. Swart erken dit skriftelik in ‘n brief (waarvan ‘n foto deel uitmaak van die Terblanche-outobiografie) dat hy vroeg een oggend ‘n benoude oproep gekry het van die burgemeester. Die strate het onuithoudbaar geword. En hier belowe hulle plegtig om Afrikaanse regulasies te laat opstel. Swart gee hulle ‘n paar maande tyd (p. 125). Al het die Durbanse stadsraad pogings aangewend om die eentalige verordeninge vertaal te kry, het hulle tog tyd probeer wen.  Die Parlement het reeds beslis dat alle verordeninge tweetalig moet wees teen 31 Desember 1955. Aan Natal is verdere uitstel tot 31 Maart 1956 verleen. Die Minister van Binnelandse Sake, Dr. Eben Dönges, is toe deur Durban genader: want aai, ses maande is darem bietjie knap vir 527 bladsye (p. 125-126).

En net daar sit dr. Terblanche sy voet neer. Hy stuur ‘n telegram aan Die Leeu van die Noorde, Sy Agbare Eerste Minister Adv. J.G. Strydom, en sommer een aan Dr. Eben Dönges ook. Want het ons liewe dr. Terblanche nie 222 bladsye binne net 5 dae (nie maande nie!) vertaal nie? Sy siening is ook in Die Transvaler, 18 Februarie 1955: “Ek self sal 527 bladsye van die plaaslike wette binne ‘n maand kan vertaal en ek daag enigeen om ‘n enkele woord op dié vertaling te verbeter” (p. 126). Natúúrlik kon hy! En hy bied selfs sy vertalingsdienste aan, nie omdat hy noodwendig wil nie, maar bloot omdat hy kan (p. 125).

En raai wat het gebeur, maklik drie tot vier dekades sedert hierdie Artikel 137 van die Uniewetgewing verontagsaam is? “Die uiteinde van die saak was egter dat die ordonnansies binne die bepaalde tydperk deur ‘n vertalersorganisasie in Johannesburg vertaal is.” (p. 127)

Ek neem aan die Engelse was nie baie gelukkig hieroor nie?

Man, soos M.S. Morgan, die senior verslaggewer van The Natal Mercury, dit stel in die middel-1950’s: ‘En as daar twintig uit elke honderd Engelssprekendes in Durban is wat graag sou sê: “Voetsak, Dr. Terblanche”, sal die ander tagtig sê: “Good show, Dr. Terblanche, we admire your courage.”’ (p. 160)

Maar nou, soos die ‘verligte’ J.H.P. Serfontein skryf in sy boek, Die Verkrampte Aanslag (1970:239-240), moet ons ook die saak binne konteks sien, en dit meer as 15 jaar ná die ordonnansies in Afrikaans vertaal is:

As die Engelssprekendes hul beroemde filosofie van “fair play” en “fifty-fifty” toegepas het, sou die talle “taal-insidente” – waar, om dit laag te stel, dit 90 persent Afrikaners is wat benadeel word – mos nie daar gewees het nie.

Ek wil die Engelssprekendes daarvan beskuldig dat hulle direk mede-verantwoordelik is vir die verkrampte Afrikaner se aggresiwiteit (sic) oor sy taal en kultuur.

En dit is nie net weens die feit dat die Engelssprekendes in soveel gevalle – m.i. om geen goeie rede nie – Afrikaans nie op ‘n manier kan praat nie. As daar meer dikwels hoflike spyt uitgespreek word dat hulle Afrikaans nie magtig is nie – hoewel dit in 1970 onvergeeflik is – sou dit darem ‘n gesindheid van “gee en neem” weerspieël. Maar nou het ons die volkome minagtende houding van die meeste Engelssprekendes wat in sake-ondernemings, staatskantore, private gesprekke – ja, oral – in Afrikaans aangespreek word en dan nie alleen Afrikaans nie kan of wil praat nie, maar hooghartig en duidelik hul afkeer van die Afrikaanse taal te kenne gee.

Daar is moontlik ‘n stadige kentering onder die jonger Engelse geslag – m.i. nie uit vrye wil nie, maar alleen omdat hulle slegs die taal van mag kan begryp – maar dit weerspieël beslis nie die algemene houding van die Engelse nie.

As elke Afrikaner oral in Suid-Afrika, ook op plekke waar hy verreweg in die meerderheid is, elke dag op sy reg tot beantwoording in sy eie taal moet aandring, sou daar noodwendig elke dag tienduisende taal-insidente wees.

Maar dit gebeur nie, òf weens die minderwaardigheidsgevoel van so baie Afrikaners òf vanweë hul goeie maniere òf omdat in baie gevalle die tyd ontbreek en die vernedering maar gesluk word om persoonlike ongerief te voorkom.

En ek praat nie nou van die jaar 1920 nie. Ek praat van 1970, sestig jaar na Uniewording, en uit persoonlike daaglikse ondervinding op plekke, groot en klein, dwarsdeur Suid-Afrika. My ondervinding in dié verband is gestaaf deur verskeie ondersoek wat deur Afrikaanse koerante gedoen is. Ek wil graag weet: daardie Engelse politici, kultuurleiers, redakteurs, kerkleiers en ander wat tereg gedurig bedag is op allerhande ongeregtighede wat aan die kaak gestel word – waar is hulle wanneer hierdie ongeregtigheid teenoor die Afrikaner gepleeg word?

Ironies, dat dit vandag juis die “ekstremistiese” Nasionale Party-leiers en -pers is wat die regte van Engelssprekendes verdedig teen die H.N.P. – iets wat van feitlik geen Engelssprekende leier in die afgelope jare gesê kan word nie.

In dié verband dink ek aan die groot waarheid wat ‘n Afrikaanse redakteur tien jaar gelede uitgespreek het (ek onthou nie in watter koerant nie) toe hy gesê het as die Engelssprekendes oor die vorige vyftig jaar een-tiende van die simpatie vir die verontregting van die Afrikaner betoon het as wat hulle vir die nie-blankes betoon, die geskiedenis anders sou verloop het.

[…]

As mens ‘n voorbeeld wil hê van hoe Engelssprekendes optree waar hulle in ‘n magsposisie is, kyk maar na die V.P.-beheerde Johannesburgse stadsraad en die Natalse Provinsiale Administrasie. Terwyl daar baie gekla is oor die wyse waarop die Regering die Engelse te na sou kom met aanstellings in openbare liggame, stel die Johannesburgse stadsraad in sy Skouburgraad slegs twee of drie Afrikaners aan, terwyl hulle meer as een-derde van die bevolking uitmaak. Dink maar aan al die taal-insidente van die eentalige amptenare in senior posisies of burgemeesters, in Suid-Afrika gebore, wat kwalik Afrikaans kan praat, en ander insidente waar Afrikaans geminag is.

[…]

Feit bly, die Engelse arrogansie en verskuilde baasskapmentaliteit enersyds en die afsydige houding andersyds was oor die jare juis ‘n belangrike bydraende faktor tot die groeiende steun vir die verkramptes – juis omdat kultuur en politiek so nou verweef in die Nasionale politiek is.

En daar stop Serfontein ook nie (pp.243-268):

Waar daar nog onder die Nasionale Party verkramptes was (maar tog beweeglikheid), beskou Serfontein die Verenigde Party en Progressiewe Party asook die Engelse media geheel en al as gestolde monolitiese granietblokke. Nie alleen is daar geen “broedertwis” onder die Engelse koerante te bespeur wat op dinamiese gesonde oop gesprek dui nie, maar eerder wel op verstarde denke (“die totaalindruk is dié van ongeïnteresseerdheid, vaalheid, eenvormigheid, en ‘n feitlik dodelike voorafbepaalbaarheid van wat die Engelse pers se standpunt oor ‘n bepaalde saak gaan wees [anti-nasionalisties]”), maar ook die Verenigde Party se 19de-eeuse beleid van leierskap (“blanke leierskap oor ‘n onverdeelde Suid-Afrika”) stem op ‘n druppel water ooreen met die verkrampte Herstigte Nasionale Party se “baasskap”-model. ‘n Jaarlange poging in 1966 deur ‘n spesiale komitee binne die Verenigde Party om ‘n vernuwende rassebeleid op te trek, is eenvoudig deur die leiding van sir De Villiers Graaff geveto. Ook die Progressiewe Party het met die skrywe van Die verkrampte aanslag (23 Februarie 1970) sedert sy stigtingsjaar in 1959 absoluut geen beleidsverandering aangebring nie. Serfontein beskuldig ook die opposisie (met vernaamlik Engelssprekende kiesers) dat, as feitlik geen belangstelling in Afrikanernasionalisme of -politiek in die hede getoon word nie (laat staan nog sy taal), diegene skynbaar nog minder sal weet wat Swart Nasionalisme behels (of hoe om dit met hul Westminster-gees te temper) wat aan die opmars is.

Hierteen moet ons die volgende kommentaar in die koerante beoordeel.

En die kommentaar in die koerante?

Die volgende besware is geplaas tussen 1948 en 1958. Jy sal dus insien dieselfde argumente kry ons dwarsdeur die geskiedenis, sommer vandag ook. Ek is daarin al so gesout, ek weerlê sommer die besware een vir een (soms steun ek swaar op dr. Terblanche en ander anonieme skrywers se teenantwoorde). Die meeste besware is gegrond op ou vooroordele en onkunde, growwe oordrywings, sirkelredenasies, strooipopredenasies, en ‘n algehele gebrek aan logika.

Met die honderde artikels, briewe en berigte wat die Skakelkomitee en dr. Terblanche in die Engelse en Afrikaanse koerante geplaas het, het dit die eentalige Durbaniete duidelik op hul agterpote gestel, selfs al was die wetgewing dekades lank op skrif en in die ander provinsies véél beter toegepas. Die ‘dooie letter’ het as’t ware springlewendig word. Durban was besig om vlak voor hul oë te verander; die onmoontlike was besig om te gebeur.  My onderstaande antwoorde sou miskien geldig wees in die 1950’s (ek is geen prokureur wat die huidige toedrag van sake ken nie).

Beswaar 1: Afrikaans word aan Fanakalo gelyk gestel. Daar is ook soveel leenwoorde uit Engels in Afrikaans, waarom nie eerder Engels leer nie?

Weerlegging 1: Die klaer moet hom eerder afvra of Engels ‘n soort Franse kreooltaal is. En hy kort ook ‘n geskiedenisles in Nederlands, waar die leenwoorde ook dieselfde oorsprong het: Frans! Verder probeer die beswaarmaker Niestandaardafrikaans-variante as kruk gebruik om sy argument te staaf.

Beswaar 2: Iemand moet nie in die staatsdiens op grond van sy tweetaligheid aangestel word nie, maar moet eerder knap en verantwoordelik wees. Ervare mans verlaat die spoorweë bloot omdat hulle nie tweetalig is nie. 40 mans sou demoveer word omdat hulle nie tweetalig is nie. Iemand wat nie tweetalig is nie, maar knap is in sy werk – maak dit van hom ‘n minder goeie Suid-Afrikaner?

Weerlegging 2: Waarom nie eenvoudig ‘n taalklas loop nie? Afrikaans is mos nie so moeilik nie. Daar is menere wat geen probleem het om Spaans oorsee te leer nie, maar wel onwillig is om Afrikaans hier te lande te leer. “The English railway men who have gone into retirement, dissuaded their sons from joining the South African Railways.” (p. 141) En buitendien, as ‘n ervare, knap man dan nou Afrikaans-eentalig sou wees (en nie op grond van sy tweetaligheid aangestel sou word nie), hoe sou hy in die werkplek behandel word tussen eentalige Engelssprekendes en instruksies? Dan is dit presies die status quo, met Afrikaans wat die onderspit delf. Die meeste Engelssprekendes was buitendien reeds in die privaatsektor, met die gevolg dat daar op verskeie gebiede ‘n leemte ontstaan het vir die Afrikaner wat verstedelik het om te vul. Onder andere het baie Afrikanervroue onderwyseresse van Engels geword, al was dit nie hul moedertaal nie. Waar was die Engelse menere en juffrouens toe?

Een liberale Engelse skrywer skryf (en hier word op die Engelse geskimp): “Dr. Terblanche is perfectly right, however irritating he may be. He has never demanded anything to which he is not entitled. […] The truth is that some Natal people (are they really such?) loudly demand more rights for themselves that they are entitled to, while secretly agreeing with the Government in wishing to deny primary rights to the Black man” (p. 152)

Beswaar 3: Die Afrikaners het net gewag totdat ons seuns in die Tweede Wêreldoorlog gaan veg het; as tuisblyers het hulle die werk van ons seuns afgerokkel/gesteel.

Weerlegging 3: Oorloë hou nie meer ‘n honderd jaar nie; u het goed geweet die oorlog moes een of ander tyd eindig; wat sou u seun dan moes doen? En verder: doen ‘n bietjie navraag hoeveel Afrikaners wel aan die kant van die Geallieerdes geveg het.

Beswaar 4: Hoekom word Engelse stadsname in Afrikaans vertaal? Dis nou nie asof ons van Flower Fountain (Bloemfontein) en Johnstown (Johannesburg) praat nie.

Weerlegging 4: En wat dan van die voorstad ‘Neu-Deutschland’ wat ‘New Germany’ in Durban geword het? Sommer ‘n praktiese plaaslike voorbeeld. En gaan kyk ‘n bietjie in Wallis, Ierland en Cornwall (Kernow in Kornies); het hierdie stede en dorpe nie Engelse name bygekry omdat die Keltiese tongval te swaar vir eentaliges is nie? ‘n Mens sou in 1962 (net minder as ‘n dekade later) ‘n verdere doodgooier uit die oond haal: Brussel, die hoofstad van België. Al is Brussel deur die bank Franstalig (inderdaad Bruxelles), pryk die tweetalige borde orals, soos “Rue de la Montagne” en “Bergstraat”, “Rue de l’Amigo” en “Vruntstraat”.

Beswaar 5: Een klaer soek nie tweetaligheid nie. Hy sal opdragte maar gedwee aanvaar in watter taal dan ook, sonder om op sy huistaal, Engels, aan te dring. Dieselfde verwag hy van Afrikaners.

Weerlegging 5: Hierdie argument vernietig homself. As ‘n Engelssprekende dan Afrikaans kan verstaan, wat is dan fout met tweetaligheid?

Beswaar 6: Afrikaans probeer Engels in Durban vernietig net soos die Hollanders Frans aan die Kaap vernietig het. Die Franse kon nie eens God in Frans aanbid nie.

Weerlegging 6: ‘n Ou leuen wat jy met vrug onder ‘Frans’ op die Afrikaanse Wikipedia kan gaan naslaan. Soos jy sal sien het J. du P. Scholtz die saak reeds op 7 September 1939 in Die Burger weerlê. Die Franse wou afgesonderd van die Hollanders en Duitsers bly. Hoewel die owerhede op skrif aangesê is om die Franse te vernederlands, het daar dadels van gekom. Die Franse wou hulle eie Franse prediker hê en afsonderlike Franse preke is ook toegestaan (ná die Hollandse diens), al was daar ook net een of twee mense. Vergeleke met die Duitsers, wat jare moes wag op die Lutherse kerk (en baie afgeleë Hollanders op ‘n kerkgebou), het die Franse véél meer voorregte gekry as die ander Burgers. Ook moet onthou word dat baie Franse reeds Nederlands magtig was toe hulle hier aangekom het. Die moeilikheid met Willem Adriaan van der Stel het Hollander en Fransman wel nader aan mekaar gebring. Terloops: wat het van Kornies, Manx, Skots en Iers in die Verenigde Koninkryk geword? Sal ons ook vergeet van die Act of Uniformity van die jaar 1549? Want sover ek weet is Kornies nooit die voorreg gegun om as kerktaal te floreer nie (4 000 mense wat teen die afdwing van die Engelse gebedeboek in opstand gekom het, is voor die voet deur Koning Eduard VI se leër met die swaard omgebring). En in Suid-Afrika: was daar nie sekere Skotte tydens die Engelse bewind aan die Kaap ongevraagd ingevoer om die Hollandssprekende predikante te vervang nie? Het Lord Somerset en Lord Milner só vinnig uit die geskiedenisboeke verdwyn? Skat, ek dink dis vier vingers wat na jou toe terugwys. En as die Afrikaner dan nou gestraf moet word vir hierdie Franse wat hul taal ontneem is (wat ek nou reeds bewys het nie waar is nie), wie de donder het die Engelsman dan nou as God aangestel – ek dog die wraak kom Hom alleen toe?

 Beswaar 7: Dit is moeilik om Afrikaans te leer, want dit verander voortdurend. En die woordeskat is duidelik “fabricated”. Toe die beswaarde (man) laas op hoërskool die Hoër Taalbond geslaag het, het ‘n klomp neologismes bygekom waarvan hy nou niks weet nie. ‘n Huisvrou voer aan jy is 51 jaar oud en is nie van plan om terug te keer skool toe nie.

Weerlegging 7: Die enigste taal wat nie verander nie is Latyn, Oudgrieks, Sumeries en Goties, dus, dooie tale. ‘n Taal wat nog in sy kinderskoene staan, kry neologismes by, maar word of aanvaar of verwerp deur die gemeenskap. (Dink maar aan ‘komper’ vs. ‘rekenaar’ in die 1980’s). Buitendien, die Engelse taal kategoriseer voortdurend name volgens die nuutste wetenskaplike bevindinge en uitvindsels en die hele wêreld moet maar daarby aanpas. Wat wel duidelik word: die klaers het eenvoudig ‘n regmerkie agter Afrikaans gemaak in hul jeug en toe die taal verwaarloos en nie op datum gebly van die nuutste ontwikkelinge nie. Buitendien is daar met die skrywe van die klaer (die dame) ‘n splinternuwe Afrikaanse Departement in Durban op haar drumpel opgerig. Die berg het inderdaad na Mohammed gekom. ‘n Mens kan ‘n perd na die water toe bring, maar jy kan hom wragtig nie maak drink nie.

Beswaar 8: Natal moet dadelik van die Unie afstig. “Natal was a happy province. That was before we were afflicted by the invasion of noisy Nationalists, bent on belabouring those whose home language is English” (p. 148) (Gedink Brexit is nuut?!)

Weerlegging 8: Sodat die Afrikaners nog verder onder julle taalimperialisme moet deurloop? Al wat hulle vra is ‘n bordjie en papier met Afrikaans op, met gelyke taalbehandeling, sonder om die Engels in te boet? Die Natallers het die wetsontwerp reeds in 1909 gesien en die voorwaardes gulhartig onderteken by die Uniewording – hulle het alleen die blink geld en geleenthede gesien, maar wou nie die verantwoordelikheid nou dra nie.

Beswaar 9: Die tweetalige woordeboek is duur (₤3) en kom nou eers tot sy reg.

Weerlegging 9: Dieselfde prys as wat Afrikaners moet betaal wat nie aldag so vermoënd is nie.

Beswaar 10: Dit is nie ons probleem nie, laat die kinders besluit.

Weerlegging 10: En ondertussen moet 22 000 Durbaniete wag vir ‘eendag’, terwyl Afrikaners die volste (geboorte)reg het om hul taal nóú te besig in die openbaar?

Beswaar 11: Afrikaans beteken niks in die buiteland nie.

Weerlegging 11: Maar dien as gerieflike skakel met Holland (en sy kolonies), België en Duitsland? En daar is siele dwarsoor die hele Britse Ryk in Afrika wat dit praat. Terloops, wat het Durban met die buiteland uit te waai? – hierdie is Suid-Afrika, ‘n binnelandse aangeleentheid.

Beswaar 12: By ons administrasie is twee “Native Clerks” aangestel (vir die invordering van huttebelasting) wat slegs Engels kan praat, en hulle doen hul werk na behore. “Only efficiency counts, and language counts for nothing” (p. 143).

Weerlegging 12: Solank dit slegs in Engels geskied, tot jou gerief? Ikke, ikke, ikke en de rest kan stikken?

Beswaar 13: “…the crime of compulsory bilingualism” (bl. 137)

Weerlegging 13: Juis die verontagsaming van Artikel 137 van die Grondwet van die Unie is ‘n strafbare misdaad! Gaan spreek dadelik u prokureur.

Beswaar 14: Niemand kan perfek tweetalig wees nie, maar mense kan mekaar verstaan. Daarom sal dit nie nodig wees om twee tale te druk nie.

Weerlegging 14: Dieselfde storie as Beswaar 5. As almal mekaar se taal dan nou ken, wat is dan fout om Afrikaans op kennisgewings te sien? Daar kan eenvoudig gesê word: “Voltooi die vorm in die taal wat daarop geskrywe staan.” En dit is Engels!

Beswaar 15: “Afrikaans names should be given to some streets; but please, in Afrikaans only” (p. 139)

Weerlegging 15: En dit sal seker teen daardie een verlate paal langs ‘n verspoelde grondpad op die buitewyke van die stad moet wees?

Beswaar 16: Moet ons altyd lees wat hierdie man te sê het, sê vir hom hy moet sy ry kry. Moet ‘n petisie opgetrek word sodat hy kan vertrek?

Weerlegging 16: Dr. Terblanche kan weggaan, maar die wet gaan nie (in die 1950’s) weg nie, en dié sal tog kort voor lank geïmplementeer word. Help nie jy wens dit weg nie. Kom gaan dit kom.

Beswaar 17: Vir baie is dit bloot ‘n irritasie om op ‘n vorm die volgende reël Engels te vind.

Weerlegging 17: Die Afrikaner ervaar presies dieselfde met Afrikaans, hoor. Haai, het jy nie geweet nie?

Beswaar 18: Hoekom staan Afrikaans bo-aan die verkeerstekens en kennisgewingborde?

Weerlegging 18: Dit is waarskynlik om alfabetiese redes. Maar as die klaer daarin Engels as die nuwe ‘underdog’ wil sien, of nie van die Freudiaanse “Missionary Position” hou nie, dan het hierdie Rorschach-toets meer oor die individu te sê as oor die taal.

Beswaar 19: Almal verkeer deesdae onder die waan dat hulle onderdruk word.

Weerleggings 19: En as iemand regtig sy taal misgun word? Of voel jy self onderdruk (of eerder, in ‘n blik gedruk) as iemand op sy taalregte aanspraak maak waaraan jy nie kan of wil toegee nie?

Beswaar 20: “…interminable nagging on behalf of an insignificant number of Afrikaners”  (p. 149)

Weerlegging 20: Maar daarvoor is 22 000 belastingbetalers in Durban se geld goed genoeg? Betwis dan die Grondwet, as jy nie gelukkig met die toedrag van sake is nie. Buitendien, as hierdie 22 000 belastingbetalers oornag moet waai, sal die stad tot stilstand kom, juis omdat hulle sleutelrolle vul in die staatsdiens waarvoor die Engelse nie eens kans sien nie.

 Beswaar 21: As hulle so graag Afrikaans wil hê, moet die Afrikaners maar self vir die bordjies betaal (“monthly subscription”, p. 151)

Weerlegging 21: Gaaf, maar aangesien ons hoegenaamd geen diens in Afrikaans kry nie, kan ons maar ‘n belastingkorting kry op die som geld waarvan jý mildelik die voorregte geniet? Afrikaans is nie ‘n voorreg nie, ons is ten volle daarop geregtig.

 Beswaar 22: Haai kyk, ‘n bordjie met geen vertaalekwivalent vir die Engels nie: “Cul-de-sac” / “Straat loop dood”.

Weerlegging 22: “Cul-de-sac” is nie Engels nie, dit is Frans. “Dead end” is Engels.

 Beswaar 23: “What about the African and Indian ratepayers, bus passengers and telephone subscribers?” (9 Desember 1955, p. 152)

Weerlegging 23: Waarom moet die Afrikaner vir almal in die bresse tree? Waarom paternalisties namens hulle optree, sodat dit ook teen die Afrikaner se kop gegooi kan word? En, indien die skrywer Engelssprekend was, van waar nou skielik die besorgdheid oor die Swartman en Indiër? Dan was daar mos lankal Zoeloe op die lamppale regoor die stad aangebring? (Ek moet sê, sedert mnr. Leon Lemmer male sonder tal geskryf het oor die Afrikaanse WAT wat ook woordeboekhulp moet verleen aan Afrikatale, wonder mens tereg waarom die Departement Anglistiek, wat tog hoofsaaklik uit swart dosente bestaan, nie vir hierdie bevordering van Afrikatale stry nie. Sekere dinge verander duidelik nooit nie, en dit is byna 65 jaar later).

Beswaar 24: U sê diegene wat nie tweetalig is nie, moet waai, want hy is nie ‘n Suid-Afrikaner nie, want hy skend die Grondwet. Maar u dink steeds in rasterme: Boer en Brit, nie Suid-Afrikanerskap nie. Dus, u is nie ‘n Suid-Afrikaner nie en moet waai.

Beswaar 24: ‘n Ware Suid-Afrikaner sal omgee vir sy medemens en trots wees op die ander persoon se taal en kultuur en herkoms en dit érken. Maar blykbaar is Suid-Afrikanerskap net gereserveer vir een taal en een volk: Brits en Engels.

Beswaar 25: (rondom hoe onbelangrik Afrikaans is) “Where does the agricultural, mining, road-making, etc. machinery come from? Who built the ships and the aircraft, was it Afrikaans brains and labour?” (p. 155)

Weerlegging 25: Ooit gehoor van die “Wet van die Remmende Voorsprong” deur Jan Romein, in sy opstel “De dialectiek van de vooruitgang” (1937), ‘n afdeling in die bundel Het onvoltooid verleden? Nee, jy sou nie. Want daarvoor moet jy toevallig Nederlands, ‘n byvoordeel van Afrikaans, magtig wees. Kortom: nasies en volke “verbeter”, “leen” en “steel” as’t ware mekaar se patente. Die Oud-Egiptenare het met bondels riete begin om ‘n vlot te bou, en so kry mens regoor die wêreld pogings tot vlotte, mokoro’s, kano’s, skepe, karvele, ens. Om dus al hierdie intellek alleen vir die Engelse toe te eien is die ergste graad van grootheidswaansin nog. Omdat die beswaarde waarskynlik nié Duits of Frans of Nederlands magtig is nie, besef hulle nie hoeveel van die oorspronklike patente kom uit die Europese Vasteland of vanuit die res van die wêreld nie. Laat ons ook nie kibbel oor die gehalte van die Britse ware nie; ek het nou maar eenmaal ‘n swák vir Duitse produkte.

 Beswaar 26: Ek is ‘n klant, en die klant is koning. Maar my versoeke word deur Afrikaners ignoreer sodra ek Engels praat. Al twee maal. Hoe werk dit dan?

Weerlegging 26: Hierop antwoord dr. Terblanche (p. ): “[…] Mrs. Froden […] tries to prove my right wrong because she has been wronged in a manner which I am trying to eliminate” (p. 156).

Dit bly egter laakbare gedrag. As twee bure mekaar se huise afbrand sit albei sonder dak. Hierdie tendens het inderdaad ook met Klaus D. Vaqué in die middel-1970’s in Pretoria afgespeel (An der Hand Gottes, 2004:116):

Ich sollte bald lernen, wie wichtig es in Pretoria ist, die afrikaanse Sprache zu sprechen. Bei Behördengängen wurde ich grundsätzlich ignoriert, wenn ich mich auf englisch an einen Beamten wandt. Er tat dann so, als ob er mich nicht verstünde. Erst als er merkte, daß ich Deutscher bin, wurde er freundlicher und gab mir auf Englisch Auskunft.

Ek sou spoedig leer hoe belangrik dit is om Afrikaans in Pretoria te praat. By die Administrasie is ek ignoreer as ek ‘n amptenaar in Engels genader het. Hy maak dan of hy my nie verstaan nie. As hy wel agterkom ek is ‘n Duitser, eers dan sal hy vriendeliker word en my in Engels help.

Tog is alles ook nie so eenvoudig nie. Ek kan terloops verwys na ‘n hooggeplaaste soos Jean-Claude Juncker wat ‘n toenemende soort “onverdraagsaamheid” in Middelkerke, Vlaandere, bespeur, bloot omdat hy Frans gepraat het (of, dis wat hy ervaar het). Dit was September 2019. Hy kan nou nie meer by ‘n slagter of bakker vir iets in Frans vra soos dertig jaar gelede nie; maar Duitsers is glo meer as welkom (en hy kan gelukkig Duits praat). Dit is egter om ander redes as ‘n vrees vir ‘n klomp Franssprekendes wat en masse op Vlaandere sal toesak en die hele kultuurgrond sal vervuil (soos die Durbaniete hierbo duidelik gedink het oor Afrikaans). Daar is egter niemand meer agter die toonbank wat Frans meer kan verstaan nie. Frans is in Vlaandere gewoon geen faktor meer nie en word nie meer so baie soos in die verlede geleer nie. Nieuwsblad vind hierdie agteruitgang van Frans onder Vlaminge neem selfs onrusbarend toe:  “Voor dat argument valt iets te zeggen: al jaren bereiken ons studies die de tanende talenkennis onderstrepen.”

Catherine Fonck van die Franstalige sentralistiese party, die Centre Démocrate Humaniste, tweet wel die volgende:

Je trouve que #Juncker exagère. […] Mais si on fait l’effort de parler néerlandais à la côte, la grande majorité des flamands sont accueillants et passent pfs même spontanément au français. Effort, tolérance, ouverture, j’y crois.

Ek dink Juncker oordryf. […] Maar as mens die moeite sou doen om ‘n bietjie Nederlands langs die kus te praat, sal die oorgrote meerderheid Vlaminge gasvry en baiemaal selfs spontaan Frans praat. ‘n Bietjie moeite, verdraagsaamheid en openlikheid, daarin glo ek.

 Maar laat ons nou nie appels met pere vergelyk nie. Vlaandere en Wallonië se taalbeleid verskil van dié in Brussel. En dit verskil weer van die Suid-Afrikaanse Unieregering se tweetaligheid van die 1950’s. Tog, as mens ten minste wys jy is geen bedreiging nie (deur ten minste te wys jy probeer Nederlands verstaan en praat), word die ou stamgevegte net daar ontlont wat eeue lank nog smeul.

‘n Nuwe intrekker op ‘n Natalse dorpie, ‘n Engelse dame, het net lof vir die Afrikaner se buurmanskap (12 Desember 1955), waar sy in ‘n blanke buurt bly met sowel Engelse as Afrikaners, maar waarvan Afrikaners die meerderheid uitmaak (p. 153):

“Everything is bilingual – not merely official notices, but street signs, traffic signs, shop titles, price tabs, bills, receipts, etc. Sometimes English comes first, sometimes Afrikaans, about half and half. All shop assistants are bilingual, and one is served courteously in the language of one’s choice. So far no one has shown any reluctance to speak English to me. My Afrikaner neighbours, though mostly political opponents, have shown a kindliness and neighbourliness that I have not always found in some other parts of Natal. Politics are rigidly excluded from social intercourse, except by mutual consent. All this makes for friendliness and understanding, and if I am not fully bilingual by this time next year, I shall be ashamed of myself.”

Kyk, dit gebeur soms (hoewel miskien selde) dat iemand so geïnteresseerd is in jou werk of stokperdjie, dat ‘n taal soos Afrikaans glad geen hindernis meer is nie. Dink maar aan die kunste, of seiljag of branderplankry.

O – en hier moet ek julle ‘n storie vertel. By ons skool was daar ‘n leerling (blank) uit die Kaap wat nie ‘n dag se Afrikaans kon praat nie. Hy het nie eens probeer om Afrikaans te praat nie, want hy was sielsongelukkig en het homself net van die wêreld onttrek. Om dit erger te maak was hy klein van postuur, stil en teruggetrokke, en het ‘n vreemde van gehad. Hy het gesukkel op skool en die onderwysers (ja, ook die Engelse onderwyseres) en sy ouers was raadop. Tot op ‘n dag. Hy het begin skaatsplank ry met Afrikanerkinders (want waar hy gebly het was daar net Afrikanerkinders in die buurt). En tipies Afrikanerkind meng hulle hul Afrikanerismes en half-Engels teenoor hom (“Ag, you are just sour because I…”), maar praat Afrikaans teenoor hul ander Afrikanermaats (want dit sal tog andersins onsinnig wees!) – en deur hierdie vertroue en speel-speelwyse het sy Afrikaans verbeter. Wat veral gehelp het was toe ‘n joviale, nonchalante Engelse maat uit die Kaap (met sy Afrikaans wat veel beter is) ook na ons plattelandse omgewing gekom het, en boonop in dieselfde klas ingedeel is (vanselfsprekend, want hy is Engels). Toe is hy skoon in sy element. Kyk, toe begin dinge regtig verbeter. Hy sit toe eendag langs my in die rekenaarlokaal, en welwetend dat ek een van die top-Afrikaanse leerlinge in my graad is, vra toe dat ek ‘n sin moet nagaan. Sy huiswerk. Vir ‘n Engelse hoërskoolleerling was dit nogal ‘n ingewikkelde sinsbou. En ek was verstom: hy het dit reg gehad. Natuurlik het ek hom aangeprys. Soveel vordering binne, wat sal dit wees – maande?

Dit wys jou wat kan gedoen word.

Maar nou, dames en here, die seerste simptoom van Britse Imperialisme, en kleinsteedse solipsisme, aan die verbrokkel, soos verwoord deur Mev. Frances Papenfus (“a member of the executive of the Durban Housewives’ League”), haar brief toevallig geskryf op haar sterfdag, oor die ontheiliging van die Britse karakter van Durban (p. 158):

Beswaar 27:

While respecting Dr. Terblanche’s views on bilingualising our street names, what does he hope to gain by putting Afrikaans translations throughout Durban? It means, in 19 out of 20 instances, putting a clumsy word instead of one which is euphonious. Is “weg” not a more clumsy word than “way”? Why substitute “deurloop” (walk through) for “arcade”? A “grove” is more pleasant than “laning” and “passage” than “gang”, “walk” more pleasant than “wandelgang”.

The unnecessary expense of all this in this city of British associations should suffice to kill the suggestion. When Dr. Terblanche mentions “the equal basic rights” of the minority section of Natal, and speaks of allowing this “goodwill”, as he puts it, he must bring about a much greater volume of ill-will and resentment.

Are we to have “Dirk Konings Ry” substituted for Dick King’s ride? In overseas cities it is almost revolutionary to change road, street or place names. Watling Street has been “Watling Street” for over a thousand years – originally a Roman highway.[…] To indulge in vandalism, asking the public to pay hard cash for the indulgence of this bilingual fetish, cannot bring any goodwill, but will afford another point for resentment and anger, similar to that of the Defence Minister’s pettiness in discarding the names of some fine, old, traditional Colonial regiments.

Weerlegging 27: De gustibus non est disputandum. ‘n Taal is slegs lelik vir iemand wat dit nie verstaan nie (ek moet bieg, aan die begin het Frans vir my ook lelik geklink, maar hoe meer mens met die taal te doen kry, hoe mooier word hy). Ek hoef nie weer Brussel en die Switserse kantons en Wallis as voorbeelde te noem nie. Sou sy dit revolusionêr noem, ek bedoel, om oorspronklik Ierse stede in Engels te vertaal? Is dit nie ironies dat die voorbeeld (Watling Street) wat sy noem juis gerieflik in ‘n so te sê eentalige gebied geleë was nie? In die Middeleeue was dit Wæcelinga Stræt; ‘n oorkoepelende benaming van die Iter II en Iter III, die name wat die Romeine aan die paaie gegee het. Kyk mens na plekke soos Ysland, wat ook eentalig is, hoef die plekname ook nie te verander of vertaal te word nie. Maar hier in Durban het jy jou heterogene bevolking, en buitendien, Londen en omtrek sit aan die Noordsee. Durban het sy ontstaan in 1835, is skaars 118 jaar oud met die skrywe van haar brief in 1953; dus, geen stuk se 1 000 jaar oud nie. En baie nuwe strate moes aangelê word soos meer mense na die hoofsentra begin verstedelik het.

Hoekom is die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) gestig?

Dr. Terblanche verhuis in 1958 na Pretoria om vir die Vaktaalburo te werk, want hy volg prof. S.P.E. Boshoff as direkteur op. Hierdie organisasie het teen 21 Februarie 1963 sowat 40 Engels-Afrikaanse woordelyste en woordeboeke (sommige ook Afrikaans-Engels) die lig laat sien, wat sowat 260 000 begrippe bevat (p. 163).

Ten eerste was dit vir hom onrusbarend hoe sy dogter, wat Afrikaans nog suiwer gepraat het in Durban, se taal by ‘n Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria so kommerwekkend versleg het (p. 165). In sy oë het die Afrikaner sy taaltrots verloor. Taalverwaarlosing is taalversaking en taalverskuiwing in wording. ‘n Berig in Die Hoofstad (11 Februarie 1969):

“Taalhandhawing dwing agting af van dié wat ander tale praat. Die Engelsman vertrou byvoorbeeld geen Afrikaanstalige wat sy eie taal ten gunste van Engels versaak nie want, so argumenteer hulle, as hy die eie kan verwerp, dan kan hy ook die Engelssprekendes in die rug steek wanneer dit hom pas” (p. 189)

Ten tweede het D.P. Goosen (direkteur van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns) ‘n week voor die stigting van die GHA (wat op 26 November 1965 gestig is) genoem 80% van die uithangborde in Kerkstraat, Pretoria, is uitsluitlik in Engels, al is die demografie van sy inwoners duidend op ‘n Boerestad.  Dr. Terbanche voer by die stigtingstoespraak van die GHA aan, betreffende die Engelse en immigrante,

“dié mense het nou lank genoeg op ons taal getrap. Nou moet ons net vir ons eie taal in dié land stry – en nie vir tweetaligheid nie. En ons kan stry, dit het deel van ons vooruitgang geword.” (p. 173) “Laat ons as Genootskappers onderneem en ‘n eed sweer om net Afrikaans te besig en nie na Engels oor te slaan nie. Dan sal dit wel wees met ons taal en ook met ons volk, want indien die taal verdwyn of ‘n knou kry, dan is dit ‘n historiese feit dat die volk van daardie taal ook ‘n knou sal kry en verdwyn.” (bl. 174)

Dan hy sê net weer hy gun van ganser harte die Engelssprekende landsburgers hul eie taal. “Ons eis net ook die reg op om vir ons eie moedertaal alles in die stryd te werp. Ons het baie lank gewag – amper te lank. Ons sê nou of nooit. Dadelik, onverwyld, wees gewaarsku, dié wat nie wil saamspeel nie. Ons gaan nou ons intellek vir ons taal slyp, ons gaan alle middele tot ons beskikking aanwend om te kry – ja om te vat – waarop ons geregtig is.” (bl. 175) Op 21 September 1966: “As jy in ‘n oerwoud is, moet jy gebruik maak van middele wat by ‘n oerwoud pas!” Maak nie saak watter hofbevele teen die G.H.A. ingestel word nie, dit is juis te verwelkom, “omdat dit ‘n wyer platform om die Genootskap bekend te stel, tot gevolg sal hê” (bl. 183). In Die Oosterlig, 1970: “Min mense is daarvan bewus dat dit ‘n strafbare oortreding is as iemand weier om jou in Afrikaans te bedien en as die polisie ook weier om op te tree, laat my net weet. Ek sal met hul gal werk. Noem maar net ook my naam. Hulle ken my.” (p. 189)

Ten derde kan jy jou indink wat aan die gebeur was. Die Durban-voorval het baie Afrikaners taalbewus gemaak en regoor die land het stemme opgegaan: ook hulle in die ander drie provinsies ervaar taaldiskriminasie. Daar was dus die behoefte om ‘n nasionale drukgroep te stig, wat eintlik, soos Serfontein (1970:111) stel, “in ‘n mate ‘n aanklag teen die F.A.K. [was], wat oor die jare sy taak as kultuurliggaam begin verwaarloos het, onder meer vanweë die politieke bedrywighede van sy amptenare. […] Niks en niemand is ontsien nie: nie die Regering, die Nasionale Party, ander Afrikaanse kultuurorganisasies, private instansies, ondernemings (Afrikaans of Engels), of selfs vooraanstaande Afrikanerleiers nie.” Die GHA het wel nouliks saamgewerk met die F.A.K., A.T.K.V., A.T.K.B. en ander organisasies.

Ten vierde, die immigrantekwessie. ‘n Meningsopname: 39 000 uit 40 000 immigrante wat ingelaat is om die Suid-Afrikaanse blankebevolking aan te vul, wou niks van Afrikaans weet nie. Dave Trevelen skryf in ‘n dagblad van 1971 (‘n paar jaar later): “Oor die algemeen het die Engelssprekende, te wyte aan sy betreurenswaardige onvermoë en onwilligheid om Afrikaans te praat en lees, ‘n verwronge en vergiftigde beeld van die Afrikaner.”  Nou lees die immigrante, wat net een amptelike taal magtig hoef te wees om vir burgerskap aansoek te doen, die homogene Engelse dagblaaie, wat nie, soos die Afrikaanse dagblaaie (wat besonder lief was vir ‘n bietjie broedertwis), ooit veelkantig na ‘n saak gekyk het nie. “Dit volg verder dat hulle ook ‘n skewe beeld van die Afrikaner kry…Die immigrant word oor die algemeen in die geledere van die linksgesindes opgeneem.” Volgens dr. Terblanche (12 April 1972): “Feit is egter dat immigrante by die hope agter toonbanke aangetref word en dat hulle in die meeste gevalle nie die minste begeerte het om Afrikaans aan te leer nie. […] Die oplossing van hierdie probleem sou wees om, soos ‘n Duitse immigrant dit onlangs in die program Radio-Parlement van die SAUK gestel het, alle voornemende immigrante daarop te wys dat Afrikaans die taal van die meerderheid van die blanke bevolking van die Republiek is, en toe te sien dat alle immigrante Afrikaans aanleer. Dit is dus baie duidelik dat dit die immigrant is wat in die beskuldigdebank staan, omdat hy weier om Afrikaans aan te leer, en beslis nie die Afrikaners van Pretoria wat bloot aanspraak maak op hul geboortereg nie.” (bl. 207, my beklemtoning)

Waaraan het die GHA aandag geskenk?

Wel…

[d]aar is veral aandag gegee aan Afrikaans oor die radio, Afrikaans op alle houers en verpakkings, ook van medisyne en geneesmiddels, Afrikaans op paneelborde en in hand- en instruksieboekies van motorkarre, Afrikaans in hotelle, Afrikaans in provinsiale administrasies, plaaslike owerhede, alle vertakkings van sport, die filmwese, in die telefoongids, op dagvaardings, in joolblaaie, skoolliedjies by Afrikaanse skole, die Weermag (leër, lugmag en vloot), in die mediese wêreld, die verpleegberoep, by Sapa, konsulate, bankinstellings, dosente, onderwysers, die jeug, by die Pretoriase skou en motorskou, by die beantwoording van die telefoon, by sake- en openbare ondernemings, in die S.A. Digest, by Afrikaanse Kerke, in brandweerhandboeke, in die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika, as voertaal by universiteite vir die nie-blankes, by die benoeming van dorpsgebiede, voorstede en strate, by die lektuur, in kwitansieboekies, by regisseurs van Afrikaanse toneelstukke, in afbeeldingsadvertensies in dag- en weekblaaie, by die uitspraak van Afrikaanse name in Engels, aanmoediging van Afrikaans by Engelse kultuurorganisasies, aanmoediging aan persone wat Afrikaans aanleer en bevorder, Afrikaans as volwaardige vak aan ons universiteite, Afrikaanse handboeke aan universiteite en kolleges, teregkoming van Afrikaans as vereiste vir die uitreiking van handels- en nywerheidslisensies, Afrikaans by die Randse Paastentoonstelling, Afrikaans en verkeerskonstabels en by die uitreiking van verkeerskaartjies (veral in Johannesburg), immigrasie en Afrikaans, Afrikaans op rugbytrofeë,  immigrantekinders in Afrikaanse skole en Afrikaans by hulle as vereiste vir Matrikulasievrystelling, Afrikaans op skryfbehoeftes, Afrikaans van die Rekenmeesters- en Ouditeursraad, Afrikaans en Kamers van Koophandel, Afrikaans op planne, Afrikaans in boeke vir vakmanne in die Staatsdiens, Afrikaans en die munisipale mark, Afrikaans by internasionale onderhandelings en by samesprekings van bevolkingsgroepe, Afrikaans en die effektebeurs, Afrikaans en padkafees (veral buite-spyskaarte), Afrikaans by losiesplekke (nie-drankgelisensieerde hotelle), Afrikaans in toesprake, Afrikaans in advertensies in (amptelike) blaaie, Afrikaans in hospitale en verpleeginrigtings, Afrikaanse koerante in hotelkamers, Afrikaans op toerbusse (SA Spoorweë, stadsrade, ens.), Afrikaans as vereiste vir burgerskap, Afrikaans in die motorhandel, Afrikaans in die regswese,  Afrikaans op reklametekens en langs paaie en strate en in die reklamewese, Afrikaans op afleweringsmotors, Afrikaans in die vervoerwese (die Spoorweë, die Lugdiens, die Padvervoerdiens, ens.), Afrikaans in die Staatsdiens, semi-staatsdiens (alle rade) en in die Poswese, Afrikaans in dokumente, alle kontrakte, koopstrokies, rekeninge, fakture, briefhoofde, ens., Afrikaanse en Engelse verenigings, Afrikaans en reklame vir Engelse boeke en tydskrifte, Kerkblaaie en kerke se plig teenoor die bevordering van Afrikaans, Afrikaans op plaaslike produkte van buitelandse firmas, Afrikaans in Bantoeskole, briewe aan koerante oor aktuele sake i.v.m. Afrikaans, artikels oor taalhandhawing en antwoorde op aanklagte teen Afrikaans, Afrikaans en kleuterskole, Afrikaanse kinders in Engelse skole, Afrikaans op Spingbokwapens, die Afrikaanse lied en persone en groepe wat dit bevorder, Afrikaans op amptelike vorms, Afrikaans en musiek-eksaminatore, verpligte praktiese kursus in Afrikaans (veral vir teologiese studente), Afrikaans en skoonheidskoninginne (veral mej. Suid-Afrika), Afrikaans en sportdirigente van Afrikaanse universiteite, invul van faktures in Afrikaans, Afrikaans oor hotelradio’s en televisiestelle, ens., ens. (1977:176-178)

My magtig, hulle het sowaar “Afrikaans op Kerskaartjies” en “Afrikaans op asbakkies” vergeet!

Waarom was die GHA so gekant teen die benaming “Afrikaans/Nederlands” as universiteitsvak?

’n Ander kwessie wat hom [dr. Terblanche] hinder, is dat daar op die oomblik nog net een Afrikaanse universiteit is wat Afrikaans as volwaardige vak aanbied. Die ander bied net Afrikaans-Nederlands aan. ‘Die universiteite sal gedwing moet word en die van hulle wat dit nie wil doen nie, sal in die buitenste duister gewerp word.’ (p.  190)

Nou prof. J.C. Steyn (Tuiste in eie taal, 1980:246) vind dit so: “Die G.H.A. het hom soms wel met werklike onbenullighede besig gehou, soos die benaming van die universiteitsvak ‘Afrikaans/Nederlands’ […]”

Prof. Steyn brei egter nie uit wat die doel daarvan is nie, maar in die outobiografie sien ek toe hoekom: voornemende studente word glo afgeskrik deur die benaming ‘Nederlands’. En omdat Nederlands maar ‘n klein deeltjie van die Afrikaanse vakgebied uitmaak (omdat ons nie ‘n Shakespeare, Molière en Goethe of Van den Vondel uit die oertyd het nie), kon die naam netsowel maar waai (1977:181, Die Vaderland, 18 Augustus 1966):

“Daar kom wel Nederlands in die leerplan van die vak voor, maar die klem op ‘Nederlands’ in die benaming is heeltemal oordryf,” het dr. Terblanche gesê. Hy glo dat die ‘Nederlands’ baie studente afskrik om Afrikaans as vak op universiteit te neem.

‘n Mens kan lang debatte hieroor voer hoe wenslik “Afrikaans/Nederlands” as pakket is. Maar aangesien ek ook al soveel maal vir Nederlands hier op PRAAG verdedig het, gaan ek nou duiwelsadvokaat speel. Net vir ‘n bietjie afwisseling.

Ek was in my navorsing rondom Suid-Afrikaanse Furries aan die rondblaai op Ivic_Wulfe se Twitterblad (‘n hoofletter, sê die Taalkommissie), en toe sien ek hy tweet (met ‘n kleinletter, sê die Taalkommissie) die volgende plasing van Wendy Laura Belcher:

“One American member of the public said to me, “You teach African literature? That must be a short course.” That’s a verbatim quote.”

Sy gee dan weerlegging op weerlegging op hierdie aanname; hoe oud en ondeurgrondelik die Afrikaliteratuur is, ens. ens. ens. Jy moet dit lees om te waardeer. As ons Afrikaanse dosente maar net soveel vuur en drif kan hê soos hierdie dosent van ‘n orgideevakgebied (dis nie ek wat dit so noem nie, dis die Duitse Wikipedia)…

Maar wat hierdie dame, of eerder akademika, skynbaar nie besef nie: die hele idee van die ‘Afrikanistiek’ (waaronder “African literature” ressorteer), as oorkoepelende vakgebied, is sélf hoogs verouderde imperialistiese en koloniale denke en kategorisering. Waarvan sy die leerstoel, onwetend, knus beklee en hierdie imperialisme vanaf haar akademiese troon met septer en ryksappel en ander kroonsierade dus voortsit.

Die Anglistiek en Frankistiek en Germanistiek en Danistiek en Neerlandistiek en Frisistiek en Fennistiek en Italianistiek en Hispanistiek en Slowakistiek en Slowenistiek en Roemenistiek en Lituanistiek en Lusitanistiek en Russistiek… dink jy vir een oomblik jy gaan al hierdie volke en nasies onder “Europese Letterkunde” of “Europaeistiek” in ‘n voorgraadse driejaarkursus kan indruk? Natuurlik kan dit nie! Die letterkunde bars geheel en al reeds uit sy nate! Die lewensuitkyke van die kulture verskil dag by nag, net soos die omgewing en omstandighede. Nou hoe de donder wil jy alle Afrikavolke op één vasteland, met hoeveel klimate, hoeveel gelowe, hoeveel kultuurverskille, hoeveel tale (glo tussen 1 500 en 2 000), uit verskillende tydperke ressorteer (ja, ook die Oudegiptenare) onder één enkele vakgebied? Dit is mos malligheid! Dit is mos hoogs veralgemenend, en veralgemening weet ons is net ‘n haarbreedte weg van stereotipering: alle swartes en almal van Afrika dink tog maar net dieselfde. Of is die vakgebied so klein omdat daar eenvoudig net geen belangstelling is nie? Indirek erken jy ook dus dit is wél ‘n klomp “blitskursusse” wat onder een dak saamgesnoer is? Waar is jou Zoeloe Letterkunde as afsonderlike en hoogs gespesialiseerde vakgebied was sterk op sy eie bene staan? Jou Xhosa? Jou Noord-Sotho? Jou Tswana? En waar is jou Amharistiek?

Nederlands sit aan die Noordsee (en in Suriname en ‘n op paar Karibiese eilande), Afrikaans sit hoofsaaklik in Afrika: natuurlik gaan jy drastiese verskillende uitkyke op die samelewing kry. Dat hierdie twee vakrigtings met verloop van tyd uit mekaar sou groei, is net so seker soos Noors en Deens. Maar as mens eers hierdie verskille van lewensuitkyk en geskiedenis aanvaar (en veral kan insien waarom hulle dink soos hulle dink), dan sit Amsterdam dalk tog spreekwoordelik veel nader aan Pretoria en Kaapstad as Londen.

Het die GHA enige welslae behaal?

  • Dr. Terblanche skryf (bl. 176): “Etikette op houers het op die oomblik deur die GHA se toedoen sowat 90% Afrikaans op teenoor minder as 2% met die stigting 10 jaar gelede” (1965-1975). Hierdie syfer word ook net so weer herhaal deur sy skoonseun Herman Engelbrecht in “GHA-man beskuldig AWA: dr. Terblanche se dood uitgebuit”, 24 Junie 1978; Hoofstad, bl. 5.
  • Johann de Ridder, destyds voorsitter van die herstigte GHA ( http://www.afrikaans.org.za/ ), het gewys op die prestasies van dr. Terblanche, “dat waar etikette op produkte in winkels aanvanklik in 1965 99% uitsluitlik in Engels was, dit in 1975 omgekeer is tot slegs 20% wat nog uitsluitlik Engels was” (Die Afrikaner, 28 November 1997-4 Desember 1997, bl. 4).
  • Ek kry nou die dag “Banktaal/Bank terms” deur Standard Bank, wat in Julie 1984 opgestel is en ‘n derde druk beleef het. Saamgestel deur Marlian Summerton en bygewerk deur Elza Lorenz en Christine Higgs. Selfs nadat die GHA begin kwyn het, het die ondernemings en instansies steeds die inisiatief geneem (wel, die presedent is immers geskep!) om tweetalig te bly (al moes hulle seker?).

Dinge het egter sedert 1994 verander.

Hoe is Dr. Terblanche oorlede?

Sy eerste breingewas is in 1961 uitgehaal. Dit het toe alreeds vir 15 jaar lank in sy kop gegroei, wat gesigsbalans- en gehoorprobleme meegebring het. Verlig van die drukkingslas in sy kop, glo hy sy produktiefste werke is daarna gelewer. Maar binne 15 jaar ná die operasie moes dr. Terblanche terugkeer operasietafel toe, want die gewas het weer begin groei. Nog toetse volg in 1976 (p. 221).

Op 17 Januarie 1977 is hy vir sewe uur lank geopereer. Dit was nie ‘n sukses nie. Hy het vinnig in die hospitaal herstel, is huis toe gestuur, “hopeloos te vroeg”. ‘n Ernstige terugslag volg en nog ‘n operasie is uitgevoer op 14 Maart, toe nog ‘n gewas eers opgespoor is. Hy het na afloop van die operasie nooit weer bygekom nie. Hy verloor die stryd om 23 Maart 1977 om halfvier die oggend (p. 9). Hy was dus 59 jaar, 4 maande, 2 weke en 5 dae oud.

Maar daarna gebeur iets vreemd.

Volgens sy skoonseun, Herman Engelbrecht (sien bovermelde Hoofstad-artikel), destyds senior dosent in Kommunikasiekunde aan die UOVS, maar ook redakteur van die GHA se mondstuk, Die Besembos, het Robert van Tonder (en gade), die leier van die Afrikaanse Wen-aksie, tydens ‘n simpatiebesoek, ‘n lys by mev. Terblanche gekry, ten tyde van haar man se afsterwe. Hulle het ‘n ledelys gesoek “net om aan die lede ietsie te versend”. Kort daarna het die GHA-lede die tydskrif van die Afrikaanse Wen-aksie in hul posbusse begin kry, met die boodskap dat “die GHA middeldeur geskeur het” en dat “duisende lede besig is om oor te loop na die AWA”. Die AWA was egter ‘n meer militante organisasie, terwyl die GHA en FAK elkeen op sy eie gebied op ‘hoë vlak’ vir Afrikaans gewerk het. Volgens Engelbrecht was daar geen sprake van skeuring nie, maar eerder “’n groot aantal nuwe lede wat aangesluit het.”

As dit waar is… het ek ten volle begrip hoekom soveel welmenende Afrikaners eerder hul tyd en geld op ‘n luukse vakansie in Thailand gaan blaas. Of, soos ek, eerder sy eie boeke aankoop en sy eie weg inslaan.

Waarom het Dr. Hennie Terblanche soveel opgang in sy taalstryd gemaak?

  1. Die wet en politici was aan sy kant. En dit is die hoofrede, die res wat hieronder volg is bysaak. Die ondernemings en staatsdepartemente het nie altyd in Afrikaans bedien bloot uit liefde vir Die Taal nie, maar uit vrees vir strafregtelike vervolging met swaar boetes, en veral die boikotte as dit eers deur die media rugbaar gemaak sou word (gedenk maar wat met Spur onlangs gebeur het om ‘n voorsmakie te kry). Ander het Afrikaans bloot as ‘n gulde geleentheid gesien om beter vir staatskontrakte en tenders in aanmerking te kom (tja, niks verander nie). Die Nasionale Party was ook aan die bewind, en Ministers soos C.R. Swart (Justisie) en Albert Hertzog (Gesondheid, wat dit wetlik verpligtend gemaak het om alle aanwysings en voorskrifte vir medisyne vir menslike gebruik in albei landstale aan te dui (p. 185), terwyl veeartsmedisyne lankal tweetalig beskryf is (p. 180)), was aan sy kant. ‘n Simpatieke regering kan wondere verrig. Maar niks sou gebeur het as dr. Terblanche nie eers ‘n taalmartelaar geword het nie.
  2. Sy skrywes het groot aanklank gevind by die redaksie van Die Transvaler en Die Vaderland en die Hoofstad. Nog iets tel in sy guns: die koerant, boeke, pamflette, telegram, briewe, plakkate, advertensies, tydskrifte en ‘n paar nasionale (en internasionale AM-)radiokanale (asook amateurradio) was die Afrikaner se enigste nuusbron (ook die Kerk en Kerkbode), naas skinderbek tante Dorothy en die posduif langsaan. As mense iets wou weet, het hulle die dagblad gelees. Dus, meestal die gedrukte media. Iemand moes dus sy naam êrens raakgelees het. Ook: die Afrikaner het geen ongerief destyds ontsien om op een plek saam te drom nie: toesprake, onder andere. Dit was gewoonlik ook al geleentheid waar hulle regstreeks, van aangesig tot aangesig, vrae kon stel aan die spreker. Net soos tydens ‘n toneelgeselskap op toer, in lewende lywe.

Vandag het ons radio (nasionaal, provinsiaal, gemeenskapsradio’s), internet (en elke moontlike sosiale-, IRC-, video- en radionetwerk), e-pos, advertensies, televisie (satelliet-TV met ‘n hele paar kanale, staats-TV ook my sy eie hoeveelheid stasies), koerante, boeke, tydskrifte, speletjies, briewe, reuse-advertensietelevisies in winkels, toepassings, pamflette, plakkate, hinderlike SMS’e en bowenal Whatsapp en videokonferensies. Om jou dus op al hierdie platforms vertoonbaar te stel gaan nogal meer moeite verg. Mense sal eerder ‘n YouTube-video kyk of potgooi aflaai as om fisies na ‘n plek toe te gaan waar daar een of twee sprekers is. Tog is mense meer beweeglik om ander redes (opleiding en werk, miskien die liefde). Wie pak nog die stadions vol tydens politieke blitsbesoeke? Alleen maar die armstes van die armes, en paar verveelde groentjie-verslaggewers.

As jy iets wil weet, e-pos jy gewoon die party, laai hul beleid en vooruitsigte van hul webwerf af, of plaas iets snedigs op hul Facebookblad.

Maar om deesdae bekend of beroemd te word… jy ding internasionaal mee. Of, net dalk kom ‘n lapsis calami op Google Search tot jou reg.

  1. Die tydsgees was net mooi reg: wêreldwyd het lande begin aanspraak maak op onafhanklikheid, en saam met onafhanklikheid ‘n nuwe begin, met die nadruk op die reg van die volk. Die Britse Ryk was aan die verkrummel. Die veronregte- en minderwaardigheidsgevoel onder baie Afrikaners en die vordering wat dr. Hennie Terblanche manalleen getoon het, maar ook die Durban-skandaal, het op die ou einde 60 000 lede vir die GHA beteken (en 150 000 met al die affiliasies ingesluit (p. 179)).
  2. Dr. Terblanche het hom nie begewe in ‘n rigting wat hy nie reeds goed (of redelik goed) vooraf geken het nie. Hy was ‘n gekwalifiseerde akademikus. ‘n Blitsvinnige vertaler. Hy was geen grootbek nie: hy vat self voor – met vakwoordeboeke- en brieweskryf, toesprake, vermanings en die nodige vervolging. Hy het nie kós (voedsel) gepolitiseer(!) soos ‘n sekere ‘F.W. de Klerk van die Letterkunde‘ met Dr. Dan Roodt se Moltrein (2004) gedoen het nie, maar nuttige gereedskap aan taalkundiges, vertalers en die publiek verskaf. Hy het stapsgewys ondervinding in verskillende vakrigtings opgedoen: in die vertaling, die taalkunde en woordeboekmaak, dan weer die vertaling, dan die regsgeleerdheid, in een brief (die een oor Mev. Froden) in sy boek vermeld hy selfs: “From bitter experience and as a psychologist, I know only too well that a language cannot be successfully suppressed” (p. 156). Is dit waar, of het hy dit metafories bedoel? Op meer as een plek word gesê hy was 12 tale magtig – hoe waar dit is, weet ek nie.

Maar oor die algemeen steek daar in alles ‘n kousale verband. Eers A, dan volg B. Eers bietjie opleiding, eers vertaal, dan sien ons waar daar leemtes in die vakwoordeskat is. Eers vakwoordeboek skryf om hierdie leemtes te vul, dan aanspraak maak op taal. Eers self vertaling doen, om dieselfde van ander te verwag. Eers tweetaligheid in die Staat deurgevoer kry, dan in die privaatsektor. Wat ons wel sien is hoe groter en wyer die “projekte” word en strek.

  1. Die toekenning van erelidmaatskap aan gesiene mense in die land (sal ons hulle ‘beskermliede’ noem?) het die GHA onmiddellik status gegee. Ook toe die GHA Groep 2 vereer het met ‘n toekenning.
  2. Die GHA van ouds was ‘n drukgroep wat op voetsoolvlak gewerk het. Dit is veel beter as die staat wat sy wil op die volk afdwing, of gewoon as staatsmasjinerie namens die belastingbetaler stry.
  3. Wat die blankes self betref, was die Afrikaanssprekende blanke nog landswyd in die meerderheid. Tog, Durban het 22 000 Afrikaanssprekendes (blankes) in die 1950’s gehad, en steeds kon hulle aanspraak maak op Afrikaans, want dit was veranker in die Grondwet. Volgens die 2011-sensus was daar 29 744 Afrikaanssprekendes (alle rasgroeperinge) in die hele eThekwini-munisipaliteit.
  4. Omdat hy met verskillende volke in sy jeug mee te doen gekry het, en self aan ‘n Engelse universiteit studeer het, kon hy die Engelsman en buitelander se manier van dink (en hul vrese) verstaan. “Ek het geleer om te besef hoe hierdie mense argumenteer en hoe hulle die Afrikaanssprekende bekyk en beoordeel” (p. 65).

Waar die Portugese winkeliers self nie goeie Engels of Afrikaans kon praat nie, het dr. Terblanche ‘n Afrikaans/Portugese woordelys van groente en vrugte opgetrek en aan die winkels beskikbaar gestel: Lista dos legumes en fruta. Hy het slegs Afrikaans met die Portugese winkelier gepraat (en daar was geen omweg nie), anders as sy volksgenote (‘Die Afrikaners speel in hierdie proses maar saam deur skaamteloos hulle groente in Engels te bestel’). Met ‘n bietjie meer ywer het hy die winkel van ‘n brousel-Engels in ‘n ‘Afrikaanse winkel’ omgetoor (Die Transvaler, 27 Februarie, 1976; p. 213). Volgens Worldcat.org het dr. Terblanche reeds in 1969 Vocabulário Portugeês-Afrikaans e frases gerais die lig laat sien.

Wat daar nie is nie, dit skep ons. Ek dink dit is sy grootste nalatenskap en allerbeste eienskap waarop ons almal kan voortbou.

Wat was die Achilleshiel?

  1. Dit wil voorkom of dr. Terblanche alles self aangepak, op hom geneem, gesentraliseer en soos Otto von Bismarck al die brose spinnerak-draadjies aan sy vingers vasgespin het, terwyl die ander 60 000 lede net die roepvee was. Noem dit ‘n soort getalsterkte as ‘n soort intimidasie. Noem dit dan liewer sy legioene aanbidders. Neem nou maar die volgende berig uit Die Transvaler, 20 November 1973: “Ek kan u nou finaal verseker dat die Afrikaanssprekendes […] en my Genootskap met sy 60 000 lede beslis nie langer met hierdie toestand van sake genoeë sal neem nie…” (p. 190) Dis soos dit vir my in die outobiografie voorkom – want dit is werklik bitter selde dat ‘n ander lid se naam uitgesonder word vir iets merkwaardig (of is dit gedoen om moontlike nyd in die GHA te voorkom?). Was hierdie lede net petisie-apparatsjik? Om hier en daar ‘n paar winkels te boikot uit protes? “Afrikaans Asseblief”-plakkers op Engelse rekeninge te plak en terug te stuur? Briewe vir die koerante te skryf ter verdediging van die G.H.A. en Afrikaans? (Dink jou in, as 60 000 briewe op een dag geskryf moet word vir een saak – dit sal ‘n DDoS-aanval soos kinderspeletjies laat lyk!) Manalleen moes dr. Terblanche dus onder geweldige druk verkeer het. En die dag toe hy in 1977 sterf – wie het die leisels by hom oorgeneem? Ek glo hy wás die GHA, soos die ondervoorsitter, mnr. P.W. Botha (ja, hy!), dit onomwonde gestel het in ‘n toespraak in 1976 (pp. 196-197). Die GHA se hoofkantoor was immers in dr. Terblanche se huis (hy was voorsitter), met sy vrou as hoofsekretaresse. En, soos die huidige GHA (herstig 29 Januarie 1994) ook op hul webwerf stel, het die organisasie ná sy afsterwe geleidelik doodgeloop.

Dit was immers te verwagte.

Hierdie soort Kremlin-styl het gewerk toe Kommunisme se houvas op die wêreld die verbeelding aangegryp het. Vinnige opgang, vinnige slagting voor die voet, vinnige vooruitgang. Maar onthou: Kommunisme was gegrond op roofekonomie (soos die Romeinse Ryk) van die begin af, en op die lange duur onvolhoubaar. Frontorganisasies word gestig (soos die Albert Hertzog-groep ook gedoen het, volgens Serfontein), wat almal een beheerkamer het, om die een doel of twee (soos ‘n persoon of organisasie) te teiken. Soos ‘n DDoS-aanval. Die nadeel ken ons egter reeds: toe die Kremlin ontbind, stort die hele apparaat in duie.

Kapitalisme werk miskien stadiger, maar deegliker en indringender, want jy werk met innovering. Ek sou dus sê, hoe moeilik dit ook al is, stig eerder vir jou ‘n klomp outonome selle wat op hul eie krag en vernuf kan voortgaan, maar gee vooraf min of meer ‘n plan hoe hulle te werk moet gaan. En onttrek jou: gaan voort met jou eie spesialisgebied (en maak seker jy het ‘n opvolger wat net so by jou kan oorvat en die werk voortsit). Hierdie groep kan dan ook sy eie outonome selle stig wat ook onafhanklik van hom kan werk en self kan uitbrei. En so kweek die petribakkie-effek aan, of ‘oorloopeffek’/ ‘deurwerkingseffek’ (gaan kyk hoe swamme en bakterieë ontwikkel; dis interessante hoërskoolkennis).

Wat ek bedoel: hoe meer jy het, hoe meer jy gestig het, hoe meer moet jy in stand hou (dink maar aan die Afrikaanse kultuurorganisasies wat in Durban op die been gebring is – bestaan dit ooit nog?). Later raak dit teenproduktief, want jy kan geen vernuwende werk lewer soos jy heeltyd moet bontstaan nie; dan het jy hulp nodig, of jy sal later iets noodwendig moet afskeep, of die verantwoordelikheid in iemand anders se hande tog maar moet oorlaat. En wie sal dit wees?

  1. Deur die klomp koerantberigte te plaas, met homself in die middelpunt, sou dit vir die buitestaander lyk of hierdie voorvegter of voorvatter bloot ‘n aandagvraat was. Dit val veral op waar die sake wat aangeroer is, toevallig op plekke en aangeleenthede betrekking het waar hy self teenwoordig of by betrokke was. Dis soos geomerkte selfie-foto’s wat ‘n hele spoor agterlaat waar hy orals was. Of dit nou tennis, rugby, ‘n kunsuitstalling, skole was – alles wat hom persoonlik geraak het – dis aan die groot klok gehang. Dit kan wees dat hy self elke groot aksie wat hy aangedurf het ook so taks aan die koerante “ge-cc” het. Onmoontlik kon ‘n koerante al hierdie inligting sommer uit die lug gegryp het! Maar wat daarvan? Gebruik ons nie maar Twitter en Facebook vandag om dieselfde doel te bereik nie?
  2. Serfontein en ‘n hele paar ‘verligtes’ van die NP het almal wat later betrokke was by die Herstigte Nasionale Party (na afloop van die skeuring) as “verkramp” en as opportuniste bestempel wat die NP van binne af wou rysmier om self die troon te bestyg of die party te beïnvloed. Wie is verkramp? Diegene binne die Nasionale Party, wat gekant was teen afsonderlike ontwikkeling (en ‘n “baasskap”-rassebeleid aangehang het), gekant was teen ‘n Suid-Afrikanisme met noue samewerking met die Engelssprekende, maar ook anderskleurige en anderstalige landgenote (en daarteenoor etnosentries Afrikaneridenteitsbewus en isolasionisties is), veranderde sportbeleid en uitruil van swart diplomate.

By toesprake het die Albert Hertzog-groep luidkeels van die podium af teen hul leier, Vorster, uitgevaar, maar onder vier oë dit later ontken. Nou die probleem is, baie van die Hertzog-groep het voor die skeuring voelers uitgesteek na die GHA, omdat hulle dieselfde probleme voorsien het: Vorster het hardnekkig ontken dat daar ‘n taalprobleem was, veral wat betref die immigrante en Engelse wat geweier het om Afrikaans te leer of te eerbiedig. Nou waar dr. Terblanche met miskien een of twee punte van die “verkramptes” saamgestem het (taal en immigrasie), was hy heel waarskynlik teen die ander standpunte gekant. Dr. Terblanche het later sy spyt uitgespreek oor die politieke betrokkenheid. Dit wil vir my lyk of hy geglo het die politiek kon sy drukgroep meer momentum en meer nasionale steun/’n hupstootjie gee.

Vorster wou egter nie die Engelse van die party vervreem nie, want baie van hulle het immers ook vir die Nasionale Party gestem, soos die Afrikaner. “Suid-Afrikanerskap” sou hierdie twee volke bymekaar bring, en buitendien was daar ernstiger probleme as taal. Dit was eers toe ‘n skeuring binne die party begin dreig, wat ‘n hele paar stemme kon saamsleep, en ‘verligte’ akademici soos prof. P.J. Nienaber die noodklok begin lui het (dat Afrikaans wél in die moeilikheid verkeer), dat Vorster uiteindelik moes toegee: die melk en heuning is ‘n bietjie bitter in Kanaän  (p. 116). Maar toe was dit reeds mosterd na die maal. Dit was 1967. Die skeuring was onvermydelik.

  1. Soos prof. J.C. Steyn dit tereg stel (1980:246-247): die Afrikaners is van nature nie streng taalhandhawers nie en wil eerder ten alle koste die vrede bewaar. Dr. Terblanche se siening hieromtrent was radikaal anders en hy is al te dikwels as ‘n skoorsoeker of herriestoker of oproermaker deur mede-Afrikaners uitgekryt, ten spyte van die konkrete, merkbare resultate. En dat ‘n enkele beleefde brief in die meeste gevalle die beste resultate gelewer het – dit was vir hom in die meeste gevalle glad nie eens nodig om radikaal op te tree nie. Die koerante het wel sake tien keer erger aangedik as wat dit werklik was.

Wat sake vererger het was die 1976-onluste van Soweto wat so reg op die GHA en H.N.P. se brood gesmeer is – dis mos taalhandhawers soos júlle se skuld! En vandag is ons bekend met taalbúlle en taalósse. Ons almal weet die oproer het al in die vroeë 1970’s in Soweto begin en jaar op jaar al hoe meer gewelddadig geword, totdat die golf op die strand gebreek het. As mens ‘n hond wil slaan, soek jy maklik ‘n stok – en dit was Afrikaans.

  1. Aan die een kant lyk dr. Terblanche se lewe strategies mooi uitgewerk, georden en uiters veelsydig, aan die ander kant so chaoties soos ‘n QR-kode.

Neem nou maar iemand soos prof. Henri Gonin, wat doodrustig vir 33 jaar lank dosent was (hy werk in 1976 wel by die RAU en UNISA 10 uur per dag op 70-jarige leeftyd as tydelike dosent) op sy stil manier. Vir 15 jaar lank het hy gewerk aan die vertaling van 2 000 bladsye Latyn (dus, 10 bladsye per maand) – om die Romeins-Hollandse reg in Afrikaans te vertaal. Daarvoor is hy met ‘n goue erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie beloon (Meiring, P. 1976. Latyn het Henri Gonin jonk gehou. Die Beeld, 2 Desember). Maar, noudat Latyn sedert November 1994 nie meer ‘n pligvak is nie, en die Romeins-Hollandse reg verontagsaam word onder die nuwe regering (as ‘n oerstratum uit die ark), wonder mens tog of sy werk nie verniet was nie.

Nou kan ons seker lank stry wie nou eintlik die meeste bereik het: Dr. Terblanche was in vele opsigte die beginpunt van baie Afrikaans-Engelse/Engels-Afrikaanse vakwoordeboeke (so omvattend moontlik), selfhelpwoordeboeke en het die taalbewustheid springlewendig gehou. Jou pillehouertjie het steeds Afrikaans en Engels in die voubiljet (as jy dit tog net wil lees!) – nie minder nie as 83% van die medisyne wat die aptekerswese in 1967 die publiek aangebied het, was slegs in Engels geadverteer en beskryf (p. 187). Deur sy druk op die tersiêre onderwys, het ons vandag handleidings en handboeke geërf uit die 1970’s, 1980’s en 1990’s waarop ons steeds kan voortbou.  Maar hoeveel het slegs één druk beleef?

Gonin en Hiemstra het egter ook hul eie Drietalige Regswoordeboek gemaak, word steeds gedruk, is steeds hoog in aanvraag, en dié word vandag nog aan universiteite gebruik (en is peperduur!). So ook het H.L. Gonin en W.J.G. Lubbe Lexicon Latyn-Afrikaans : Institutionum Gai et Institutionum Justiniani geskryf. O ja, en Gonin het ook ‘n Frans-Afrikaanse/Afrikaans-Franse woordeboekie (1950) saam met Strelen geskryf, wat ongelukkig maar slegs een druk beleef het.

Dus, gemengde welslae vir albei.

Wat kan mens hieruit leer?

  1. Wat daar nie is nie, dit skep ons. Wel, as jy nie self inspring en jou dade aan die groot klok gaan hang nie, gaan niemand anders nie (om daardie einste rede moet Suidpunt seker by Twitter aansluit…).
  2. Waarom is dit juis PRAAG wat in ‘n rubriek dr. Hennie Terblanche vereer? Waarom is daar nêrens ‘n blad daarbuite wat nog dieselfde moeite gedoen het nie? Het dr. Terblanche regtig so min beteken vir die Afrikanergemeenskap? Dit sê nogal veel.
  3. Dit is vreemdelinge soos ek wat jou outobiografie sal opneem en deurlees. Was dit ook nie prof. J.C. Steyn se Tuiste in eie taal (1980) nie, sou ek ook nie geweet het van dr. H.J. Terblanche nie. Liewe leser, ek hoop dus jy kom nou tot jou sinne en skryf jou outobiografie klaar. Want niemand anders gaan nie.
  4. Die akademici is nie meer wat dit was nie. Moet jou hoegenaamd nie op hulle verlaat nie: ek glo vas die publiek beskik oor meer intellek buite die universiteit as daarbinne. Maak jou dus net so stapsgewys kundig en ingelig soos dr. Terblanche. En gaan net so strategies soos hy te werk.
  5. Die Afrikaner is ‘n dom, onnosele, ondankbare en lui bliksemse volk wat in ‘n eng klein wêreldjie leef, skreeu my 50%-Rotterdammerbloed op die matrose. As die Afrikaner geen intellektuele belangstelling in sy eie mense se werke toon of dit gebruik nie – watwou nog voortsit!wat geeft het dan? Wie gaan jou opvolger wees? Die Afrikanerdom en Afrikaans is in hierdie opsig niks beters as die Furry Fandom nie: hul boheemse identiteit is allesoorheersend, maar daar is geen vaste doel wat ingeslaan en nagestreef word nie. Geen kroniek nie. Dis ‘n ‘vat hier en ‘n los daar’. Daar word heerlik ‘n jolige kakelbont karnaval gehou; die kurkproppe skiet skuimend omhoog oor Afrikanerskap; en uitspattig en oorvloedig ingeskink, maar sodra mens gou die blou oorpakke, pik, graaf en besem uit die tuinhuis gaan haal om in die akker van Afrikaans te skoffel, bly net die konfetti en leë vonkelwynbottels agter as jy terugkom. Almal witweg. Jy moet die gelag betaal. Gerieflik.

Dit help ook nie jy vertaal, skep woordeboeke, gaan bos en gooi mielies, as almal tog maar die Engelse weergawe gebruik nie.

In die winteruitgawe van die Taalgenoot (2016), die mondstuk van die ATKV, het twee ysige, dog ernstige vermanings in die briewekolom verskyn. Die Taalgenoot is geroskam omdat ‘n Engelse vertaling van Le petit prince geplaas is in ‘n artikel, en nie die Afrikaanse vertaling van André P. Brink se Die klein prinsie nie.

Marietjie Luyt skryf onder die opskrif “In Afrikaans, asseblief!”:

Wil net so bietjie kla, en dit oor die hoofartikel: “Lewensirkel”. ‘n Mooi artikel, met ‘n onnodige Engelse aanhaling en term daarin. In Afrikaans sê mens liewer “lewenskring”. Dit was nie nodig om die aanhaling uit Saint-Exupèry in Engels aan te haal nie. Die klein prinsie is in die jaar toet reeds deur André P. Brink in Afrikaans vertaal. En selfs al kon jy nie die vertaling opspoor nie, kon jy die aanhaling self uit die Engels vertaal het – of iemand gevra het om dit vir jou uit die Frans te vertaal. Kan tog nie so moeilik wees nie!

Die Nederlandssprekende professor Erik Van der Straeten (uit die hoofletter-agternaam lei ek af hy is ‘n Belg) lees die redaksie die leviete voor onder die opskrif “Waanzin”:

Ik ontving op het Woordfees het zomernummer van Taalgenoot (waarvoor dank). ATKV spant zich in voor het behoud van Afrikaans. Waarschijnlijk een zinvol initiatief. Het is voor mij als buitenlander onmogelik om daarover te oordelen. Ik denk wel dat Afrikaans op termijn (2-3 generaties) zal verdwijnen. […] Op blz 7 is er het artikel van de redacteur (“Levensirkel”). Bovenaan staat een zin uit Le petit prince maar wel, o gruwel, in het Engels. Weet wel dat Antoine de Saint-Exupéry nooit in Engels schreef. Deze zin is de Engelse vertaling van een Franse zin. Waarom deze zin niet vertalen in het Afrikaans? Het gebruik van Engels voor citaten is algemeen in het Afrikaans. Volgens aanhalingen in Afrikaanse boeken schreven: Proust, Camus, Marx, Freud, …. in het Engels. Zelfs tijdens het romeinse rijk sprak men Engels. Waanzin!!!

Als men een auteur waar dan ook citeert zijn er slechts twee mogelijkheden:

1. Citeren in de taal waarin het geschreven werd (Engels, Frans, Duits, Latijn, oud-Grieks….)

2. Het citaat vertalen in de taal van de tekst waarin het geciteerd wordt.

Met de aanhaling uit Le petit prince waren er twee mogelijkheden: Frans en Afrikaans. Engels is geen mogelijkheid.

My ander 50%-Afrikanerbloed toon wel begrip en medelye: as die Afrikaner nie in toue hoef te staan, met opruimwerk (besoedeling) besig hoef te wees, ontydige gaste ongevraagd hoef te ontvang (in Holland en Denemarke maak jy vooraf ‘n afspraak!), om elke hoek en draai voorgekeer word nie, straatbrakke uit krotbuurte moet bad en kosgee nie, vertraag word by die polisiekantoor na die soveelste inbraak nie, ‘alternatiewe roetes’ (ompaaie) moet soek vir die soveelste betoging nie, teerpaaie moet lap nie, dertig minute vertraag moet word deur die soveelste botsing op die N1 nie (en eerder van veilige openbare vervoer gebruik sou kon maak onder ander omstandighede), in die lang gange van die hospitale moet wag a.g.v. ‘n gebrek aan geneeshere nie, deur die burokratiese rondslomp rondgeneuk word nie, dertig minute by klantediens moet wag bloot omdat die pryse verkeerd opgelui is (nie jou skuld nie!) nie, deur skoolhoofde en organisasies gebreinspoel word om aktiwiteite te doen wat absoluut géén sin of bydrae tot die ewigheidswaarde van die Afrikaner lewer nie, ander se foute heeltyd moet regmaak nie, deur kerke afgepers word nie… as die afstande nie so verdomp ver was nie, en die Afrikaner tot die besef sal kom dat al die kommentaar wat hy op die internet skryf bowendien geargiveer sal word of saam met die webwerf tog sal vergaan (as web.archive.org nie onmiddellik ingespan word nie)…

En as die Afrikaner nie ‘n been elke keer hoef te breek oor al boeke wat hy in sy huis moes stop uit vrees vir die biblioteek wat môre afgebrand gaan word nie…

dan kon hy miskien ‘n groter bydrae tot Afrikaans gemaak het.

Die Afrikaner sou ook nie al sy geld vooraf op kos (vir twee maande of ‘n jaar vooruit) vandag al moes uitgee (en die risiko loop dat miet nog lank voor die vervaldatum in die pasta uitbroei), as daar nie die inflasie was wat sy tol sou eis nie. Die Afrikaner sou ook nie drie of vier werke moes hê om die huur te betaal nie.

Alles, alles, alles, alles wat geld en tyd kos.

Tyd en geld wat in Afrikaans ingeploeg kon word.

Waar kry mens Dr. Terblanche se outobiografie in die hande?

Ek het die boek, Jare van storm en drang (1977), by kakkerlak.co.za tweedehands gekoop teen R110,00 (dit was die enigste kopie), posgeld uitgesluit. Die boek dra nog die stempel van ‘n hoërskoolbiblioteek, maar gegewe in watter inkvars-toestand die boek nog is, was dit duidelik nooit gelees nie.

Ek weet glad nie hoeveel van hierdie boeke gedruk is nie; as jy die boek in die hande kan kry is jy seker baie gelukkig. Ongelukkig kon ek geen toegang tot die Vrystaatse en Gauteng-biblioteekstelsels kry nie. Probeer maar die universiteitsbiblioteke of vra jou vriendelike bibliotekaresse in die buurt.

Die boek is wel by die volgende openbare biblioteke te vinde:

KZN: Coastal Reg, Midlands Region en Reference L

Limpopo: Mogwadi PL, Waterberg District L en Lephalale PL

Mpumalanga: Thembisile Hani PL en Lydenburg PL

Noordwes: Christiana PL

Noord-Kaap: Namaqua District, Fraserburg PL, Pixley Ka Seme District, Siyanda District, Kakamas PL en Upington PL

Oos-Kaap: Community PL, Cradock PL, Queenstown PL, Parkside Library, Rietbron PL, Mandela District, Paterson PL, Kareedouw PL, Port Elizabeth District, Joe Gqabi en Lady Grey PL

Wes-Kaap: Beaufort West Region, George Region, General Stacks, Mossel Bay Region, Oudtshoorn Region, SN Central Reference (Nasionale Biblioteek, Kaapstad, Victoriastraat 5) en Vanrhynsdorp PL

As jy wil kyk of die boek dadelik beskikbaar is (asook die Dewey-kode) besoek “Biblioteek” by die Afrikaanse Wikipedia en volg die webskakels wat gegee word.

Terloops, as jy heel toevallig in Bloemfontein ‘n draai sou maak (veral die Transvalers wat hierdie Desembervakansie hulself die onreg sou aandoen om met die N1 af te reis Kaap toe), by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) is ‘n spesiale ruimte vir dr. H.J. Terblanche ingerig, kort voor sy operasie: “Terselfdertyd het [hy] sy sake in orde gekry – as meer orde moontlik was. Hy het ook vir elke kind ‘n televisiestel gekoop, sy testament nagesien en gereël dat sy personalia, sy tallose plakboeke en dokumente na die Nasionale Afrikaanse Letterkunde-Museum en Navorsingsentrum gaan waar prof. P.J. Nienaber vir hom ‘n spesiale afdeling ingerig het.” (p. 9)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.