praag.co.za

Tag: Henry Geldenhuys

  • TLU SA misnoeg oor kwart-miljard rand betalings aan SAFDA

    TLU SA misnoeg oor kwart-miljard rand betalings aan SAFDA

    TLU SA neem met misnoeë kennis van bewyse dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oor die afgelope vyf jaar meer as ‘n R246 miljoen aan die South African Farmers Development Association (SAFDA) gegee het.

    Volgens ‘n parlementêre antwoord aan die DA het minister Thoko Didiza gesê haar departement het R246 664 290 aan SAFDA betaal, maar daar is geen duidelikheid oor hoe en hoe suksesvol die besteding hiervan is nie. Die ooreenkoms tussen die twee partye bevat verder ‘n vertroulikheidsklousule, wat nog meer vrae laat ontstaan oor waarvoor hierdie openbare fondse aangewend is.

    “Ons is redelik oortuig dat die gemeenskappe wat veronderstel was om deur hierdie fondse bevoordeel te word, geensins beter daaraan toe is nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Soos met die finansiële hulp wat die regering aan die begin van die COVID-19-pandemie aan klein boere uitbetaal het, is dit duidelik dat dié wat die fondse toeken geen insig in die voedselvoorsiening van Suid-Afrika het nie. Hierdie boere voorsien maar 3% van die nasionale aanvraag na voedsel. Deur die grootste finansiële ondersteuning aan hierdie groepe en bestaansboere te gee, help geensins om die 68% verstedelikte bevolking van kos te voorsien nie.”

    Dit is vir TLU SA duidelik dat hierdie tipe hulpverlening bloot ‘n poging is om mense afhanklik te hou van die staat. Dit is nie volhoubaar nie en gaan niemand op die lang duur bemagtig nie.

    “Ons verwag dat die regering ernstig moet besin oor die toekoms van die land,” sê mnr. Geldenhuys. “Die regering is besig om al hoe verder van moontlike oplossings af weg te beweeg. Die inwoners van die land begin ook al hoe meer besef dat daar binne die beleidsraamwerk van die ANC nie oplossings is nie. Gemeenskappe sal al hoe meer hulle eie omstandighede vir die toekoms moet skep.”

  • Vuurwapenwet: Staan saam en tree op, versoek ad hoc-groep

    Vuurwapenwet: Staan saam en tree op, versoek ad hoc-groep

    Die tyd het aangebreek vir organisasies om saam te werk om Suid-Afrika te versterk. Dit was die boodskap wat deur bykans alle rolspelers tydens gister se vergadering van die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg bevestig is.

    Dié groep het besluit om alle belanghebbende groepe byeen te roep om die omstrede wetsontwerp oor vuurwapens te bespreek. Dié wysigings kom neer op ‘n vorm van onteiening van eiendom, waarteen die groep adviseer.

    Die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, georganiseerde landbou en landbouverteenwoordigers, burgerlike en burgerregte instellings, opposisiepartye en akademici sowel as geloofsinstellings. Die groep vergader gereeld om enige beleidsraamwerke wat eiendomsreg mag skaad of ondermyn, te bespreek en onderlinge standpunte, aksies en inisiatiewe te oorweeg.

    “Dit was goed om ‘n uiteenlopende groep organisasies byeen te hê,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Wat baie duidelik na vore gekom het uit die groepe wat die byeenkoms bygewoon het en uit die kommentaar van mense wat dit deur sosiale media gevolg het, is dat daar nou daadwerklik opgetree moet word om te voorkom dat hierdie tipe wetgewing deurgevoer word.

    “Ons ervaar ernstige probleme met die administrasie en uitvoerbaarheid van bestaande wetgewing. Dit is dus belaglik om te dink nuwe wetgewing wat baie meer administrasie gaan verg, sal suksesvol geïmplementeer kan word.”

    TLU SA en die Vryheidsfront Plus het bevestig dat hulle die wetsontwerp totaal afkeur en hulle nie daaraan sal onderwerp nie.

    Die groep stem saam dat die wetsontwerp nog deur die parlementêre proses moet vorder, maar dat daar nou reeds voorsiening gemaak moet word vir komende regsaksies.

    “Intussen doen ons ‘n dringende beroep op alle Suid-Afrikaners om nie apaties te staan teenoor belangrike sake soos hierdie wat die basiese vryhede soos dié van keuse, aan bande lê nie. Raak betrokke, laat jou stem hoor, wees bewus van jou veiligheid en wat jou te doen staan.”

    Die groep het ook gemaan dat mense nie roekeloos moet optree nie, maar deel moet word van ‘n beheersde plan om hierdie wetgewing teen te staan.

  • Boere vind polisiekommissaris se benadering tot plaasmoorde ligsinnig

    “Iemand moet die Nasionale Kommissaris van Polisie, Riah Phiyega, asseblief help met die vertolking van plaasmoord statistieke.”  So sê TLU SA se Adjunk-President en Voorsitter van die Veiligheidskomitee, mnr. Henry Geldenhuys, na aanleiding van die kommissaris se voorlegging aan die Menseregte Kommissie (MRK) waarin sy meld dat plaasmoorde afneem, en dat daar geen verskil is tussen ’n plaasmoord en ’n ander moord nie.

    TLU SA het sy syfers vir plaasmoorde tot en met die einde van September vrygestel.  Daarvolgens blyk dit dat daar vanjaar 53 plaasmoorde plaasgevind het in 210 aanvalle. Dit verteenwoordig ’n skerp styging teenoor 2013, toe daar tot die einde van September 43 plaasmoorde plaasgevind het in 164 aanvalle. “Dit is dus enersyds verstommend dat die Kommissaris kan beweer dat daar ’n afname is in plaasaanvalle en –moorde, en andersyds wys dit op die foutfaktor op die polisie se eie statistiek.  Vermoedelik is ander syfers van hulle dan ook verkeerd,” sê mnr. Geldenhuys. Hierdie ongewenste situasie bring mee dat die SAPD hulle eie syfers openbaar moet maak.  Daar is geen rede anders as om hul eie onvermoë te probeer verdoesel om dit nie bekend te stel op ‘n gereelde basis nie.

    “Die MRK-verhoor het al genoeg getuienis aangehoor van gebrekkige polisie-optrede, om welke rede ook al. Waar daar dan nog ‘n beroep op die gemeenskap gedoen word om die polisie by te staan, is hulle strukture nie in plek nie, soos blyk uit die chaotiese toestand rondom polisie reserviste.

    “In sekere tradisioneel swart gemeenskappe gebeur dit toenemend dat reg in eie hande geneem word omdat die polisie nie optree nie. Dit sal ’n donker dag wees as daardie soort optrede sou uitkring. Ook die boere raak ongeduldig met die gevoel dat hulle eintlik voëlvry is,” sê mnr. Geldenhuys.