Dan Roodt: Stuur gerus jou kind na ‘n Engelse skool (nie)

Deel op

‘n Mens hoor deesdae van al hoe meer Afrikaners wat hul kinders na ‘n Engelse skool wil stuur. Dis nogal moeilik om te verstaan, maar dit blyk dat die hoofrede waarom ouers dit doen, is om hul eie Engels te verbeter. Gewoonlik kom die ouers van die platteland of van grondig Afrikaanse dele van Pretoria of die Rand af en voel hulle selfbewus oor hul eie vermoëns om die Rooitaal te besig. Dalk is hulle bang hulle steek af by Julius Malema of Jacob Zuma of watter ander figure ook al die toon aangee as dit by Suid-Afrikaanse Engels kom.

“I frou him wif a ball.” As jy só Engels praat, is jou bloedjies reg vir die Engelse skool, is lyk my die doktrine.

Daar mag egter nog ander redes ook wees. Miskien dink jy Afrikaanse skole is te goed vir jou kind. Hy sal moet meeding met slim, blanke Afrikaanse kinders waarvan sommige in wiskunde en wetenskap ook uitblink. Jy sien nie kans daarvoor nie en weet dat Engelse onderrig in Suid-Afrika volstrekte middelmatigheid verseker. As iemand wat talent en die ontwikkeling daarvan verafsku, is jou kinders op ‘n Engelse skool daarvan verseker dat hulle in middelmatigheid gaan versink.

Blykbaar is die beste hoërskool in die land, of ten minste in Gauteng, Hoërskool Garsfontein in Pretoria. Dis nou volgens binne-inligting wat ek van iemand in die onderwysdepartement ontvang het. Min mense weet dit egter, want sien, die Gautengse onderwysdepartement, wat uit Engelse en verengelsde swartes bestaan, wil nie hê dat enigiemand dit moet uitvind nie. Dit word so te sê geheim gehou. Soos in ‘n Ayn Rand-roman waar die hele samelewing saamsweer om uitnemendheid te onderdruk of te verbied, wil niemand hê dat dié feit rugbaar word nie. Nóg minder dat Afrikaanse skole oor die algemeen stukke beter as Engelse skole presteer.

As jy egter soos die Naspersrubriekskrywer, Tim du Plessis, van Klerksdorp af kom, nie baie goed Engels praat nie en voel jy wil met Sipho die swartbemagtigingswonder kan saampraat as dit by skole kom, gaan jy vir seker aangetrokke tot ‘n Katolieke of Anglikaanse privaatskool voel. Iets met “Sint” in die naam. Soos Sint John’s. Of Sint Stithians of Sint Peter’s of Sint Andrew’s of Brescia House of wat ook al.

Sulke skole is natuurlik duur. R100 000 per jaar aan skoolgeld is niks buitengewoons nie. En dis nie al nie. Omdat jou duur Engelse privaat skool se standaard van onderrig so laag is, gaan jou kind ekstra lesse van ‘n private leermeester moet ontvang as hy matriek wil slaag. Gewoonlik is sulke leermeesters skrander oudleerlinge van Afrikaanse hoërskole wat tans een of ander hipermoeilike universiteitskursus draf en vir bietjie sakgeld die agtergeblewenes by Engelse privaat skole ekstra lesse gee. Agtergeblewenes soos jou bloedjies op hul Sint-skool met sy lae standaarde en swak leerkragte wat nie goed genoeg is om werk by ‘n Afrikaanse skool te kry nie…

Een van die ironieë is natuurlik dat vele onderwysers aan Engelse skole self Afrikaners is. Nou betaal jy groot geld om jou kind deur tweedeklas- Afrikaanse leerkragte in Engels te laat onderrig. Maak dit sin? Seker nie vir ons gewone mense nie, maar vir jou, die Afrikaner wat voel jy is terug op die brug maar jou kind gaan een van daardie Van der Merwes wees wat nie Afrikaans magtig is nie, maak dit seker sin.

As daar een ding is wat nog slegter as ‘n Engelse privaatskool is, is dit ‘n Engelse staatskool. Om jou kind in ‘n Engelse staatskool te plaas, is om hom letterlik vir die wolwe te gooi. As die Engelse privaatskool se standaard om en by 50% van die Afrikaanse skool s’n is, draai die Engelse staatskool s’n so tussen 20% en 25%.

Maar vir jou gaan dit mos nie oor jou kind se opvoeding nie, dit gaan oor jou selfbeeld as ouer, met jou “wif” en jou “dis” en “dêt”. Jou kind moet sondebok wees vir jou eie gebrekkige uitspraak, in ‘n land waar gebrekkige uitspraak inderdaad die norm is en niemand eintlik meer daarvoor omgee nie. Trouens, om iemand op sy of haar gebrekkige Engelse uitspraak te wys, kom neer op rassisme en mag jou in die Gelykheidshof laat beland!

Daar is nog ander, noem dit “byvoordele”, van ‘n multikulturele Engelse skool. Die kanse dat jou kind MIV mag opdoen, verhoog eksponensieel. Hier naby waar ek woon, is ‘n kliniek wat deur ons donkerder landgenote besoek word. As jy daar aankom, al is dit met ‘n verkoue, gee hulle jou sommer eers ‘n MIV-toets, net om seker te maak jy het nie óók Vigs nie. Volgens ‘n personeellid van die kliniek toets een uit elke tien van hul pasiënte positief vir MIV, dus 10%. Gegewe dié stand van sake, kan jy maar seker wees dat ‘n ewe aansienlike persentasie hoërskoolleerlinge aan jou kind se Engelse skool MIV-positief gaan wees. Miskien dink jy dis “goeie blootstelling aan die nuwe Suid-Afrika” of watter ander regverdiging jy ook al daarvoor uitdink. Kinders speel, val, kry seer, bloei en so ‘n ongeluk kan dalk in jou kind se geval lewensbedreigend raak. In weerwil van antiretrovirale middels, bly Vigs ‘n doodsvonnis.

Maar goed, as anglofiel of anglomaan wat jou kind teen wil en dank wil verengels, is selfs die risiko van MIV die moeite werd. Niks gaan jou van sy Engelse “reënboogskool” laat afsien nie. Selfs nie eens die wete dat jou kind eerder Engels met so ‘n lokasie-aksent gaan praat as Britse Engels nie. Baie kinders op Afrikaanse skole maak daardie aksent na: “Eisj, me and my friend we smoke a zol during break, what what,” en dergelike meer. Dis nog iets wat jy moet oorweeg: danksy die wetteloosheid in ons lands, is daar dwelmhandelaars rondom elke skool, maar ten minste is dit nog taamlik taboe by Afrikaanse skole en werk hoofde en onderwysers hard daaraan om dit van kinders weg te hou. Maar Engelse skole synde “liberaal”, is die weerstand teen dwelms nie so groot nie en ons weet mos dagga is by uitstek die inheemse dwelm wat vrylik in elke swart woonbuurt beskikbaar is, dus is jou kind met al sy nuwe swart skoolmaats goed geplaas om te kan “eksperimenteer”.

Iemand het eenkeer vir my gesê om ‘n seiljag te besit, is om met ‘n reënjas onder ‘n koue stort te staan en R200-note op te skeur. Maar dan het jy darem nog ‘n seiljag. Met jou kind by ‘n Engelse privaatskool, skeur jy R200-note op en kan min of niks daarvoor wys nie. Iemand het jou ingeloop met ‘n skoolwapen wat dalk vir jou kind ‘n pos by Anglo American gaan beteken. Skrik wakker: Anglo American is al amper bankrot en omtrent glad nie meer in die land nie. Daardie dae van “baantjies vir boeties met die regte Engelse skooldasse” is vir goed verby. Die kanse dat PW Botha terugkom, is groter as dat jou kind met sy Engelse privaatskool ‘n joppie gaan kry, want hy gaan nie kan meeding met skrander, goed opgevoede Afrikaanse kinders vanaf Afrikaanse skole wat toevallig ewe goed of nog beter as jou kind kan Engels praat nie. Boonop sonder ‘n lokasie-aksent. En hulle wiskunde en wetenskap is net soveel beter as jou agtergeblewe Engelse bloedjie met sy agtergeblewe vriende (en vriendinne).

Toegegee, hier en daar is daar seker ‘n onderwyser by ‘n Engelse skool wat aan ‘n Engelse universiteit gestudeer het en oor ‘n soortgelyke kwalifikasie beskik as sy eweknie by ‘n Afrikaanse skool. Maar raai wat, synde iemand wat nie veel van die Engelse wêreld weet nie, anders sou jy nie so graag wou hê dat jou kind daarin opgeneem word nie, daardie Engelse onderwyser is van meet af aan by Wits, Kaapstad, Rhodes of Natal geïndoktrineer om Afrikaners en witmense te haat, in daardie volgorde. Hy het “witheidstudies” geneem, of Engelse “letterkunde” wat op dieselfde ding neerkom. Vir seker dra hy of sy nie jou kind se belange op die hart nie. Vir hom is jy en jou kind albei uit die bose…

Dalk wil jy Australië toe emigreer en redeneer jy: “Hoe gouer my kind Engels word, hoe beter. Ek gaan mos nou in ‘n Engelse land woon en wil deel word van die Britse Statebond, met ‘n landsvlag wat die Union Jack trots vertoon.” Tensy jou kind matriek in Australië gaan skryf, moet hy dalk nog hier die eksamen slaag. Ook sal hy in Australië wat as ‘n eerstewêreldland beskou word, met kinders moet meeding waarvan die skole meer met Afrikaanse skole ooreenstem as met jou Engels-Suid-Afrikaanse skool. Hulle gaan bepaalde vaardighede van hom verwag, nie net die towerspreuk: “Ek is Engels want ek was op ‘n (sogenaamde) Engelse skool” nie.

Dis nog ‘n neteligheid: die matriekeindeksamen, veral waar dit in Engels afgelê word. Volgens beskikbare inligting is die gehalte van die Engelse merkers wat matriekvraestelle moet merk heelwat laer as dié van die leerlinge wat hulle moet beoordeel. Foute word met die punte gemaak. Waar enige subjektiewe oordeel, soos byvoorbeeld die gehalte van ‘n opstel, ter sprake is, kan die vyftigpersentopstel ‘n negentig persent word, of andersom… Ten minste is die Afrikaanse kind nog verseker van ‘n redelike standaard sover dit die gehalte van merkers en nasieners in die matriekeindeksamen betref.

Maar selfs al “frou” ek jou met “dis stoun” teen jou kop, gaan jy nie bes gee nie, dít weet ek. Want as jou kind se toekoms so min vir jou tel, is ons volk se toekoms vir jou nog veel minder werd. Jy is bereid om alles wat ons geslagte lank in ons taal en in ons onderwysstelsel belê het, te verloën ter wille van jou Australiese droom of om “in te pas” by ANC-Suid-Afrika. Dis die weg van die minste weerstand, of so dink jy.

Stuur dus gerus jou kind na ‘n Engelse skool.

Ek voel net jammer vir jou kind. Hy of sy verdien dit nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.