praag.co.za

Tag: wetenskapfiksie

  • Suidpunt: Bespreking van ‘Donkerbloed’

    Suidpunt: Bespreking van ‘Donkerbloed’

    Op hoërskool was ek dol op die Popular Mechanics. Die Suid-Afrikaanse een.

    My ouma het vir ons gesin ‘n jaar lank op hierdie tydskrif ingeteken. Eers het die tydskrifte in die motorhuis tussen die ou koerante beland (my vader is nie juis ‘n danige leser nie), maar op ‘n dag is hulle almal in my tienerkamer. En ek kan dit nou nog nie oor my hart kry om hulle weg te gooi nie. Hul aanvanklike slagspreuk was: “the way the world works”. Later is dit verander na: “be the first to know”. Vir ‘n kind wat nooit onbeperkte internet geken het nie, was hierdie tydskrifte my venster op die wêreld. Ek het elke maand maar die winkelrakke dopgehou of daar nie miskien ‘n onderwerp is waarvan ek sou hou nie.

    ‘n Kwessie van tyd

    In die Junie-uitgawe van 2005 staan in die hoofartikel (“2025: The shape of things to come”, p. 35) hierdie volgende wyse woorde:

    Look 100 years into the future, or even 50, and you’re creating science fiction. Twenty years, though, is just on the edge of the horizon: while the details are fuzzy, the broad outlines of technology are already in view.

    Die boek wat ek bespreek, Donkerbloed, deur dr. Elrien Scheepers, speel in 2045 af, 24 jaar die toekoms in. Die ISBN-nommer van hierdie gedrukte kopie wat ek gebruik is: 9780798181822.

    Kan ‘n mens die toekoms oor 20 jaar raak voorspel?

    In die bovermelde artikel in die Popular Mechanics word reeds in 2005 genoem van ‘n video-op-aanvraag-stroomdiens op bl. 38. In die artikel word kortliks verduidelik hoe jy jou musiek en video’s alles op een platform sal hê en kan saamdra:

    It will be nice to carry the whole universe of entertainment around with you – Coldplay and John Coltrane, every film from Mean Streets to The Aviator to whatever an unstoppable Martin Scorsese is shooting in 2025. That mobility and freedom – along with coffee tables free of the clutter of CDs and DVDs – will arrive as we move from today’s entertainment-is-a-thing world into the entertainment-is-a-service world of the future.

    “You’ll pay a certain amount of money and have access to a huge pool of stuff,” says V Michael Bove Jr, director of the Consumer Electronics Research Programme at MIT’s Media Lab.

    En ons ken dit reeds in 2021. Dis skaars 16 jaar later. Netflix, Spotify, Amazon Prime, YouTube Premium, Google Play, Disney+ , noem maar op.

    5G is nou nog ‘n nuutjie vir ons, maar ook rééds in 2005 is ons oor sekere aspekte gewaarsku (p. 34):

    “Only connect: In the home – and everywhere else – we will live in a totally networked world. Information and entertainment will be instantly accessible. But privacy may be hard to come by.” (my beklemtoning)

     ‘n Rapsie meer as 16 jaar later staan daar in die Sake-bylaag van Rapport onder die opskrif “5G vinniger, ‘maar met meer risiko’s’” (11 Julie 2021) die volgende:

    “In ‘n 5G-wêreld sal bykans alles met die internet verbind wees – en dit in ‘n hoogs geoutomatiseerde omgewing. Maar dié grootskaalse interkonnektiwiteit sal ‘n teelaarde wees vir nuwe soorte kubermisdade met veel ernstiger gevolge.”

    […]

    ‘n Kubermisdaadgroep het in April vanjaar vir groot konsternasie gesorg toe die Colonial-oliepypleiding in die VSA afgeskakel is nadat aanvallers die pypleiding gyselaar gehou het. Die aanvallers kon nie die funksionering van die pypleiding oorneem nie, maar is virtueel vort met 100 GB se data wat hulle gedreig het om bekend te maak tensy ‘n losprys van $4,4 miljoen betaal word. Colonial het uiteindelik die losprys betaal.

    […]

    “Gestel ‘n kuberkraker neem beheer oor watermeters, elektrisiteitsopwekking of verkeersbeheerstelsels. In ‘n virtueel gemeganiseerde wêreld waar byna alles onderling verbind is- en boonop deur draadlose tegnologie – kan dit chaos beteken wanneer stelsels inplof”, [sê Jens Montanana, van Datatec]

    […]

    “Die enigste manier om hierdie soort kubergevare te probeer ontglip is om as’t ware minder in die kuberruim te wees,” sê Montanana.

    Dit is duidelik nie meer die onskuldige tienermanewales van Hackers (1993) waar peroksiedkop Zero_Cool (of Crash_Override) en kie die brandalarms laat afgaan, hul skuldig maak aan onregmatige toegang op eiendom, telefoonhokkies wat onder vandalisme deurloop vir ‘n maklike openbare aansluiting (wie’t WiFi nodig?), spioenering op polisietelefoonoproepe, datadiefstal, DoS-aanval op ‘n maatskappy, verkeersknope veroorsaak deur met (verkeers)robotte te speel (vir die pret), poging tot moord met ‘n brandfakkel  – alles om te keer dat ‘n internasionale terroris (“The Plague”) nie die olietenkskepe laat omkantel nie… Afgerond met fynproewer-rave/trancemusiek in die agtergrond.

    “Mess with best, die like the rest”.

    Ag! Nou maar goed, dan. Dis presies dieselfde. Net 28 jaar later.

    Dus, ja – 2045 lyk miskien vir ons nog vêr die toekoms in (24 jaar), maar dalk word daar tog ‘n paar goedjies bewaarheid. Meer as wat jy dink.

    Maar eers, waaroor handel die roman?

    Die hoofintrige

    Sybella Francke (17 jaar oud, 10 maande) is wees nadat haar vader (Simon) in Kleinmond verdrink het ná ‘n fratsbrander toe sy 12 was (p. 97), en haar moeder en oënskynlik ook haar jonger suster (Rosa en Jynna Francke) in ‘n uitsonderlike lugtaxi-ongeluk omkom (2 jaar voor die verhaalhede). Sybella het die ongeluk oorleef omdat sy op die nippertjie besluit het om saam met haar ekskêrel na die toekenningsbal te gaan, en nie saam met haar ma en suster nie (pp. 69-70, 177, 183). Sy word nou deur Lilith Rox genader om vir haar by Biotron Babas (in Sandton) te kom werk, “wat geneties gemodifiseerde babas verskaf aan die ryk elite” (soos op die agterblad staan), maar wel onder valse voorwendsels.  Toe Sybella haar suster op ‘n foto by een of ander gala (“Biotronbal”) van die maatskappy sien, aanvaar sy die werksaanbod (p. 112). Hoe dieper sy grawe, hoe nader kom sy daaraan om haar suster op te spoor. Maar nie sonder die hulp van ‘n paar nuwe en ou vriende nie.

    Hierdie vriende is:

    –          Jax Jakobz, ‘n Donkerweb-gamer wat absoluut gaande is oor alles wat onwettig is. Of dit nou dwelmgebruik, sluikhandel, orgaanhandel Nigerië toe of onwettige immigrante is. Sy moeder is aan longkanker dood toe hy twaalf was en Rosa Francke het hom destyds soos haar eie seun onder haar vlerk geneem. Juis daarom is hy baie erg oor Sybella, wat soos ‘n sussie vir hom is.

    –          Meliwami – die 25-jarige eienaar van Zonga’s, ‘n eetplek/kroeg in Sunnyside. Hy het ‘n 19-jarige kêrel wat toere plaaslik en oorsee begelei, genaamd Mkulu.

    –          Yala Uba, ‘n onwettige immigrant uit die Kongo, wat met deportasie-tatoeëermerke deur die polisiemag gebrandmerk is en in Mamelodi gebly het. Om aan die lewe te bly, moes sy onwettige hokgevegte vir haar “meester” wen. Sy word byna halfdood een aand deur Sybella gevind op straat, kort voordat die polisiehommeltuie Sunnyside patrolleer. Met behulp van ‘n straatkind wat met byna nuttelose R20-muntstukke betaal word, bring hulle Yala tot by Sybella se woonstel in Eastwood. Daar sterk sy tuis aan. Daarna werk sy by Meliwami as kelnerin (op aandrang van Sybella). Maar moenie haar vlak vat nie: sy is ‘n lopende kitsbank– sy donder ‘n tonnel deur iemand se kop in ‘n hokgeveg, en kry so R40 000 harde kontant slaggereed as iemand se twee maande agterstallige huurskuld in ‘n krotbuurt binne ‘n dag vereffen moet word (p. 178). Sy spaar eintlik hierdie geld om vir haar boetie, Koreni, in die Kongo te stuur (p. 27).

    –          Naemi, die skoonmaakster van die laboratorium by Biotron Babas. Sy bied toegang en inligting.

    –          ZuriB2, ‘n brouwerk van die eerste genmodbabas van Lilith Rox. Sy is besonder knap met rekenaarstelsels kraak, maar het horinggroeisels. Sy het geen draad vir Lilith Rox nie, juis omdat soortgelyke lotgevalle soos sy doodgemaak is.

    Dan ontdek Sybella egter waarom sy en haar suster Jynna tog so gesog vir Rox is.

    Tot sover met die intrige.

    Waar het ek hierdie boek gekoop?

    Ek skryf hierdie brokkie inligting neer, want ek weet skrywers en uitgewers stel altyd belang.

    In ons plaaslike, ten volle onafhanklike koerantjie (wat sy eie boekwinkeltjie het), het ek die naam gesien. Die pers omslag van die boek eerste. Dit was Vrydagoggend, 9 Julie, want die koerant kom Donderdagaande uit. Toe ek die woord “kuborg” sien, los ek die rekenaar net so aan, vat die twee blou kontantnote en ek is by die deur uit. Ek het nie gedink nie, net gedoen.

    Eers het ek by die grootmenskant gesoek, gedink ek is te laat. Maar toe kry ek hom by die tienerkant.

    Ek het dus nie by enige hoofstroommedia of in sosiale media die boek gesien nie. Eers agterna. Die feit dat ‘n wetenskapsfiksieboek by Human & Rousseau uitgegee is, is vir my uitsonderlik, want dekades gelede laas is sulke boeke daar uitgegee. Gewoonlik is dit by LAPA of Tafelberg of by ‘n privaatuitgewer.

    Waaraan moet ons gewoond raak?

    Hieronder is van die belangrikste ontwikkelings waarvan jy moet kennis neem.

    • Grondonteiening sonder vergoeding is ‘n werklikheid.

    Die hele storie ontspoor amper hierso, want al die sukses en praalsug en die Lamborghini Aventador (nou seker ‘n bietjie vintage?) en slangvelhandsak van die hoofbaas van Biotron Babas (Edms. Bpk.), asook die ryk woonbuurte van Pretoria en Johannesburg is eintlik ‘n weerspreking van hierdie wet. Tensy Lilith Rox en haar katelknapie, Cedric Morton, een of ander houvas op die staat het. Of juis sterk bande met die staat het. En hierdie voorstede vernaamlik deur vername staatsamptenare bewoon word.

    As jy nie seker kan wees oor jou besitreg nie, dan gaan jy sekerheid elders soek. Jy kan die beste onderneming of woning bou uit jou sak, en dan kom die staat en neem dit sommer net eenvoudig oor? Wie is so onnosel om sy geld hier te mors?

    In ‘n geskrif in Arabies oor die agteruitgang van Kopties, wat ek oor ‘n paar weke gaan bespreek, word genoem onder die Ottomaanse Ryk het Egipte géén eiendomsreg geken nie. Nodeloos om te sê, het die kunste en ekonomie hoegenaamd nie gebloei nie. Dit was eers toe die Franse daar aankom en die Code civil bekragtig dat daar uiteindelik vooruitgang beleef is.

    Maar ons lees byvoorbeeld op bls. 16 en 36, uit die mond van Sybella:

    Die eerste ontwerpersbabas is in 2030 gebore. Hoe oud was ek toe? Dis vyftien jaar gelede, so ek was… twee? ‘n Gewone tweejarige kind wat saam met ‘n pa en ma en nuwe babasussie in ‘n groot wit huis in Eastwood gebly het, en in die tuin naaldekokers gejaag het.

    […]

    Ek onthou die groot wit huis in Eastwood waarin ek grootgeword het, voor dit deur die Etswagoli-stadsraad oorgeneem en onderverdeel is toe behuising ‘n krisis geword het. Ten minste kon ons die deel van die tuin met die visdam hou, waar ek as klein dogtertjie ure lank na die paddavissies en vet lyfies en kronkelstertjies sit en kyk het. Deesdae is die paddas weg, saam met die naaldekokers.

    Ek neem aan Waterkloof word nie hierdeur geraak nie? Dalk nie, want Meliwami maak ‘n nuwe tak, nou genaamd Zonga’s Too, in Waterkloof oop (p. 233). Of het jy “goeie virtuele prokureurs” daarvoor nodig (p. 226)? Jy kan steeds sakebeleggings maak, ook in kafeetjies van Sunnyside (p. 222).

    Dus, was daar op ‘n stadium ‘n behuisingstekort, en toe word daar links en regs grond onteien? En toe gestop? Maar met die klomp werkloosheid (p. 31), vlugtelinge en onwettige immigrante wat konstant Etswagoli (die megalopolis Egoli+Tshwane) oorbevolk, Mamelodi wat ‘n oop seer is (meer daaroor later) – het hierdie onteiening ooit gestop?

    Maar kyk wat gebeur op bl. 131:

    Meliwami neem ‘n hap van sy groenteroerbraai. “Wil jy in my woonstel gaan bly terwyl jy in Bryanston is?”

    “Ja, dis ‘n goeie plan, dankie!” Minder lugtaxivlugte elke dag.

    “Het jy nog ‘n woonstel daar ook?” vra Zuri.

    Meliwami knik. “Ja, ek het. Mkulu trek soms daar in as hy toeriste op toere deur Sandton en Bryanston neem. Dis nie op die stadsrekenaarstelsel geregistreer nie. My pa het die woonstel al jare gelede versteek. Hy was ‘n stadsingenieur en het besluit hy gaan nie by die regering se behuisingstelsels inval en sy woonstel sonder vergoeding weggee nie. Sybella sal veilig wees. Niemand sal haar daar kan opspoor nie.”

    Wat aanleiding hiertoe gegee het is Kaapstad wat deur Koeberg se lekkasie in ‘n “radioaktiewe spookstad” verander is (p. 91). Die skryfster wou duidelik hê die stad moes leegloop. “Derduisende” (hoewel nie miljoene nie) het toegesak op die megalopolis wat sowat ‘n anderhalf-duisend kilometer daarvandaan is. Hierdie lekkasie moes binne 10 tot 20 jaar tevore gebeur het, want Seth Denuys (dis nou Sybella se ekskêrel) was op laerskool/hoërskool toe dit gebeur het (p. 68).

    Maar ons heldinnetjie wil ná die hele debakel met Biotron Babas op Kleinmond gaan vakansie hou (pp. 232-233), met die woorde: “ons kan net langs die strand lê, of jy en Jynna kan op die bergwandelpaaie gaan draf. Dit sal salig wees”.

    Ek bedoel, die meeste (miljoene) Kapenaars sal hoogs waarskynlik eers toesak op die onmiddellike nabyheid. Maar ook op “groterige” plekke soos Hermanus (héél eerste, want hy lyk die aantreklikste!), Worcester, Oudtshoorn, George, Mosselbaai, maar feitlik alle kleiner plekke en stranddorpe is glad nie gespaar nie. Daar is nog baie oop erwe en strandhuise wat deur die jaar leeg staan van binnelanders waarop en waarin geplak sal word. Die grootste gevaar is moontlik die Weskus, weens die seestrome, so ek sou nie na Langebaan of Saldanhabaai toe vlug nie (my skrywersvriend van Bellville huil klaar oor die “prawns”).

    En natuurlik die uittog-paniek, verder aangeblaas deur die verlate Nasperskantore van Heerengracht, want die skoolkinders en die publiek in die Kaap is nooit voorberei op énige ramp nie; dit is trouens ‘n teer onderwerp wat jare gelede aangeroer is in die Duitse skryfster Gudrun Pausewang se jeugroman “Die Wolke” (1987), juis omdat die Wes-Duitsers ook nie op ‘n soortgelyke ramp as in die Oekraïne voorbereid sou wees nie. Met presies dieselfde gevolge. Ek weet niemand wil aan Sir Lowryspas op daardie dag dink nie, maar ons het baie om op voor te berei.

    Veral: daar sal meer plundertogte as in die Duitse boek wees, dit kan ek jou verseker! Janna-Berta keer ná ‘n jaar of wat terug huis toe, met Ouma en Oupa uit Mallorca wat op haar tuiskoms wag, die huis totaal ongeskonde, buiten die verdroogde malvas (p. 213). Ek is bevrees met Kapenaars sal dit anders gesteld wees.

    Troos jou daaraan: Daar is wel sirenes by Koeberg en omstreke; dit is in Maart 2021 getoets.

    Daar kan selfs met verloop van tyd nuwe dorpe gestig word, of plekke soos Protem, of Stormsvlei of Baardskeerdersbos kan uitbrei. Die huispryse sal natuurlik die hoogte inskiet, maar die punt is: dit sal eerder ‘n onmiddellike Wes-Kaapse probleem word as ‘n Gauteng-probleem. Die behuisingskrisis sal egter ongetwyfeld uitkring Pretoria toe, veral as Oud-Pretorianers terugkeer na hul gesinne en of by families moet inwoon, soos Janna-Berta in Die Wolke wat by haar tante Helga in Hamburg gaan bly het. En natuurlik, die “vooruitsig op werksgeleenthede” sal die grootste trekpleister wees.

    • Gereelde en geskeduleerde patrollievlugte (polisiehommeltuie), veral saans.

    Dit spaar seker brandstof en die polisie kan meer inligting vanuit die lug bekom as met ‘n patrolliemotor op straat. Die hommels inspekteer almal wat moontlik verdag optree (bl. 4), seker ook iemand in ‘n konyntjiekostuum? As daar probleme is, maak hulle alarm en word die polisie geroep met hul “geneties gemodifiseerde dubbelspierhonde” (bl. 4). Dan sal Hasie moet hol?

    “Die hommelpatrollies vlieg soms deur die dag ook, en die polisie en hulle honde is oral.” (p.30) Dit is ook so (p. 53-54).

    Voetgangers het gewoonlik polsbandjies wat byvoorbeeld hulle hartklop en asemhaling registreer (p. 4).

    Ek was juis die 22ste Julie in ons plaaslike Pick ‘n Pay, en hierdie soort polsbandjies koop jy sommer vir R140 met jou lojaliteitskaart. Dit is mos van daardie soort wat deur Bluetooth met jou slimfoon verbind. Dat die polisie egter toegang in die toekoms tot hierdie data sal hê in die verbyvlug, daarvan hou ek net mooi niks (p. 4)!

    As ek net my asemhaling egalig kan kry! En as my hartklop te vinnig is, sal die hommels dit dalk ook optel. Nugter weet watter opgraderings hulle in die laaste week gehad het.

    En weet jy, dit kan werklik gebeur ook. Kan maatskappye weier om saam met die polisie te werk en nie jou data te deel nie? Ek is geen regskenner nie – dis ‘n ope vraag wat in hierdie boek gevra word.

    Dit kan seker help as jy halfdood op die straat lê, of dringende mediese hulp nodig het. Maar… iemand kon te veel koffie of Coke gedrink het. ‘n Vriendin op skool het persoonlik vir my gesê kafeïen gee haar “hartkloppings”. Dalk het iemand vir sy eie skadu geskrik. Paniekaanvalle is vry algemeen. Iemand kon ‘n pokeraandjie gewen het en hom heeltemal te buite gaan op straat oor sy oorwinning? Gaan ‘n robot daaroor nou die honde op hom loslaat? Om sy hartkloppings nog vérder op te jaag?

    Onwettige immigrante se deportasie-tatoeëermerke word met die geringste detail geëien (bl. 2). Dit is nie vir my duidelik in die boek of die hommeltuie getrek word deur vullisblikke wat omgedop lê (wat as ‘abnormaal’ geregistreer word?), of hulle infrarooi-liggaamshitte onder ‘n rommelhoop kan sien, en/of wat hul reaksie op bosslapers of straatslapers sal wees nie.

    Persoonlik het ek te veel die rekenaarspeletjie Terminator: Resistance op YouTube deurgekyk om ooit aan hierdie gedagte gewoond te raak. Ek hou net nie van die idee van Skynet bokant my kop nie. Nie as ek rustig in my bed lê nie, ook nie as hulle my sterrehemel kom bederf nie.

    • “Perdebye”  of Insekhommels

    Dit is geruislose hommeltuie so groot soos perdebye, en slegs die weermag kan hulle gebruik. Hulle word gewoonlik ingespan om mense op te spoor (p. 124), te agtervolg of videos op te neem (p. 158).

    • Robotkelners.

    In die roman is Sybella alte danig met klein kelnerbots wat die kos kom aandra (of kelners assisteer). By Zonga’s is daar vyf wat kelners kan bystaan. Die een is Didi (p. 34), ‘n ander is Coco (pp. 55, 57, 223). Maar tog verkies eetplekeienaars steeds mense as kelners. Die salaris kan nog met kontant betaal word, om te verseker dat hulle nie op die stadstelsels kom nie; dit bied natuurlik uitkoms vir Yala. Sybella het mooi vir Meliwami gevra, en dit is om Sybella se onthalwe dat hy Yala die kans gee. Sy sou in elk geval nooit werk kon kry nie; selfs wettige Suid-Afrikaners sit sonder werk (p. 31). Ook het Jynna, wat aan geheueverlies gely het, by Heaven’s Door gewerk in Bryanston (p. 170,173):

    Toemaar pops, nie jou klein sussie nie. Sy bly net hier en was die skottelgoed. Sy waitress by Heaven’s Door en dra baie kort rompies en strikdassies om haar nek, maar dis al. Ek leer haar nog om eendag kliënte te please.

    Waarom überhaupt nog sukkel met mense? Dink net: geen stakings, geen uniforms, geen waspoeier, geen klante wat van hul stoele verjaag word vir die volgende nie (‘n mens moet skoon jou kos in jou keelgat aflaai!); geen fooitjies wat tog alles in een blikkie gegooi en onderlangs gedeel word nie, of jy nou ‘n R1000-fooitjie verdien of 10c? Boonop kan mens altyd jou fooitjies op iets anders uitgee, soos nog ‘n koeldrank of so? En dit voel maar ongemaklik as jy alleen in die restaurant sit en die kelners staan soos sfinkse rond.

    Of is dit gewoon omdat ‘n robot nie verstaan as iemand sê “ek het my beursie in die kar vergeet” of “daar’s ‘n muisdrol op my bord” of “dit smaak na dooie hoofpad-hadida” of “hierdie vis leef nog” of “ek gradeer restaurante” nie?

    As die restaurant glad nie baie besig is nie, wie weet, dalk kan mens met die mensekelners gesels oor Franse filosofie? Mense hou mos van geselskap en dit is wat klante laat terugkom. En die skitterende glimlag ook.

    • Avatarklubs.

    Ek het onmiddellik aan VRChat gedink toe ek hierdie woord op bladsy 1 lees. En op bl. 102 is my vermoedens gedeeltelik bevestig. Vir dié wat nou nog nie weet nie: VRChat is ‘n platform waar jy met ‘n spesiale kopstuk (soos die Oculus Quest) oor jou oë sit sodat jy in ‘n 3D-wêreld kan rondbeweeg. Welkom in die skynwerklikheid. Jy het wel ander (hand)stukke in die stelletjie ook nodig om in hierdie wêreld mee rond te beweeg. Jy skep vir jou ‘n karakter en dan kan jy met die ander karakters, personas, fursonas, ens. gesels en ander wêrelde gaan verken of speletjies saamspeel. Hier het ons byvoorbeeld ‘n vriendelike wildehond met gloeirooi irisse en klappende ore wat met ‘n Afrikaanse aksent jou uitnooi na ‘n aandjie in VRChat.

    Die meeste gebruik VRChat gewoon as gevolg van covid-19. En dit is bloot ‘n maklike manier om met jou vriende te gesels, “van aangesig tot aangesig”, wat honderde tot tienduisende kilometer ver sit. Jy het wel ‘n goeie, betroubare en blitsvinnige internetverbinding hiervoor nodig. Iets wat die platteland, waar ek bly, nie altyd het nie.

    Maar die meeste stel dit aan my baie duidelik: sodra alles terugkeer na normaal, gaan hulle die bril ophang. VRChat is net ‘n tydelike oplossing. Dit voel nie dieselfde as om saam ‘n braai te hou onder die oop sterrehemel nie. Daaroor is hulle baie pertinent. Die aandklokreël, die provinsiale reisverbod en vele ander faktore maak byeenkomste tans (ek skryf op 22 Julie 2021) onmoontlik. Nou kan jy egter jou vriende uit Duitsland, Johannesburg, Kaapstad, Durban, Berlyn, Amsterdam…  almal oornooi en in een vertrek hê.

    Wat maak hierdie Avatarklub egter anders? Dit is ‘n saal waarheen jy fisies gaan. So niemand sit agter sy konsole of rekenaarskerm nie. Ek neem nou aan die mens het aan sy persona/fursona verknog geraak, maar wil saam met die ander maats ook fisies in dieselfde kamer wees. Dit is dus nie soos in The Matrix waar almal gaan lê en ingeprop word nie. Voor jou oë verander jy in die persona wat jy wil wees en jy beweeg fisies in die saal rond. Die saal kan volgens tema ingekleur word (p. 102):

    Daar, met die hulp van virtuele realiteit en slimlensverstellings, loop allerhande kreature rond. Watter vorm jy ook al wens, kan jy aanneem. Jy kan ‘n dinosourusstert rondswaai of jou hele lyf met meerminskubbe bedek, jy kan vlerke soos ‘n draak hê, of op die hoewe van ‘n perd rondtrippel. En dronk word op die gedagte dat jy jou fantasie vir ‘n uur of twee kan uitleef. Dalk weet die dwerg met die boggelrug regtig waar die pot goud aan die einde van die reënboog is. En daar kan jy jou eie boggelrug wegsteek in die lyf van ‘n Egiptiese prinses.

    En, om jou te verlos van die dag se sorge, met ‘n bietjie narkotika by (p. 129):

    Niemand vra vrae in die ‘n avatarklub nie. Seker omdat party mense op meer as net pynpille en dagga is. Hulle is in hulle eie dwelmwêreld en stel nie belang in die mense om hulle nie.
    • Daggakafees.

    Dit is baie soos die Hollanders se “coffeeshops” waar jy “softdrugs” kan koop. Maar die eienaar moet ‘n “belaglike” hoë daggabelasting aan die staat betaal (p. 11-12), en ek dink jy mag hier drank verkoop, wat sedert 2007 nie in Nederland mag nie. Die polisie slaan ook gereeld op hierdie kafees toe (klopjagte), want (p. 55):

    Sommige restauranteienaars buit die verslaafde daggakoppe uit, verkoop hopeloos te veel onwettige dagga aan hulle. Dis sulke klubs wat gereeld polisiebesoeke kry. Ons is definitief veilig hier.

    Ek dink dit bied ‘n ander verklarende aanvulling vir die PRAAG-video: “ANC wil dwelms op elke straathoek hê” (22 Augustus 2020). Nee, dis glad nie so lank terug opgeneem nie.

    • VirEwigEk-webwerf.

    Dit is sekerlik een van die beste uitvindsels nog, met sy gebreke en al. Die eintlike doel is om mense te vertroos en met die rouproses te help, maar as inligtingsbron kan dit ontsettend baie tyd spaar. Dit herinner my baie aan daardie (sarkastiese) digitale biblioteekassistent, Vox 114 (hier en hier), in The Time Machine (2002), uit die jaar 2030, wat 800 000 jaar later nog op ‘n manier werk.

    Op bl. 98 word dit kindervriendelik verduidelik:

    “Het jou pa en ma VirEwigEk-avatars gemaak?”

    “Nee, hulle het nie, maar ek weet een van Ma se beste vriendinne het al haar aanlyn navorsing, haar foto’s en Facebookdata omskep in ‘n virtuele avatar. Sy praat nou met Ma op die Vir EwigEk-webwerf.”

    Ek doop my koekie in die koffie, hap vinnig voor dit te sag word en in die koffie plons. “Ek . . . ek wil haar onthou soos sy was toe sy gelewe het, nie my verbeel ek praat nog met haar avatar nie. Dis tog nie die waarheid nie, sy en Jynna is … weg. En geen avatar met rekenaardata gevoer oor hulle aanlyn lewe, kan hulle ooit lewend hou nie. Wie wil in elk geval tweehonderd jaar later met jou oumagrootjie se oumagrootjie praat? Het jy so iets van jou ouers?”

    “Nee, hulle het nie genoeg geld gehad om dit te laat doen nie. Maar ek gee ook nie om nie. Ek onthou hulle op ander maniere.”

    Ek weet wat sy [Yala] bedoel. Die mense wat ‘n mens liefhet en doodgaan is weg, maar ook nié weg nie. Dis nie nodig om met lewensgetroue virtuele avatars te praat wat jou hulle foto’s wys nie.

    “Wie wil in elk geval tweehonderd jaar later met jou oumagrootjie se oumagrootjie praat?”

    Genugtig! Duidelik het Sybella nog nie Assassin’s Creed (2016) gekyk nie. Daar soek wetenskaplikes na die Appel van Eden, wat deur wesens geskep is voor die mensheid self. Die gedetailleerde stamboom strek amper terug tot by Adam. Maar moenie jou kop daaroor breek nie, skat.

    Al wat Sybella later doen is haar ma se foto’s aanvra (p. 149) en die proefskrif deurlees (p. 195). Die avatar neem gewoonlik, benewens die stem, ook die maniërismes van die afgestorwene aan – soos die manier wat Rosa oor haar voorkop vee, twee tot driemaal (p. 149).

    Hoe kan ‘n mens ‘n bron soos hierdie so onderbenut? Huh? Dis mos onuitputlik!

    As mens in ag neem hoe dik en groot al jou internetgeskiedenis (kyk maar na jou inligting op Google Data Export), rapportpunte, Telegram, Twitter, Facebook, rofwerk, video’s, foto’s, dagboekinskrywings, briewe (en ander egodokumente?), rekeninge, ens. ens. is, gaan jy dae aaneen soek na ‘n spesifieke dokument of antwoord. Alles kan jy deur ‘n eenvoudige gesprek kry:

    “Hallo, Suidpunt, ek is bly om jou te sien. Wat gaan ons vandag doen?”

    “Ek het vrae. Jy antwoord.”

    “Hoeveel tyd het jy?”

    “Baie.”

    “Hoeveel vrae het jy?”

    “Meer.”

    “Vra maar gerus!”

    Dit moes sy nie gesê het nie.

    “Wanneer is jy dood?”, “wat is jou haplogroep?”, “is jy verwant aan Kleopatra?”, “waaraan is jy dood?”, “is dit oorerflik?”, “wat het die woord ‘esel’ vir jou beteken: ‘n donkie of ‘n muil?”, “wanneer is jy en oeroupagrootjie getroud?”, “was die seks goed?”, “het hy jou bedonder met ‘n ander vrou?”, “hoeveel keer was jy al siek?”, “het jy al ‘n miskraam gehad?”, “hoe maak mens nou weer daardie noedelslaai wat jy altyd vir ons gemaak het?” “wat was jou beroepe?”, “wat is jou gunstelingkleur?”, “hoe wou jy jou eiers gaar hê?” “wanneer het jy die meeste geld gehad?”, “wie is jou erfgename?”, “sou jy van Justin Bieber hou?”, “as jy ‘n Furry was, nè, watter dierpakkie sou jy wou aantrek?”, “was jy ‘n kerkmens?”, “was jy nog ‘n maagd op skool of ‘n los gelukkie?”, “het jy al boom gerook?”, “was jy ‘n Bloedsap?”, “dink jy soos ek VirEwigEk is ‘n powere webwerf?” …

    WAARSKUWING!

    Van u vrae druis in teen ons gebruikersbeleid.

    Vergewis u eers daarvan.

    Onwelvoeglike vrae kan lei

    tot u onmiddellike versperring.

    Ja, Juffrou.

    Die probléém is egter nie my skokkende vrae rondom seksualiteit nie; dit is doelbewus om die skindertonge se kommentaar uit te snuffel wat op lêer sit.

    Die probléém is die bydraers! Heelwat welmenende mense het die verkeerde gesig met die verkeerde dokumente verbind. En dan is daar nog altyd die hoorsê: soos my oorlede tante wat nou nog op papier in die biblioteek met haar oudkêrel getroud is, al was hulle nooit eens verloof nie! Hierdie leuen word die ewigheid ingestuur.

    • AmazonGo-winkels.

    Ek lag my elke keer suf as ek hierdie woord sien (pp. 37, 38, 75, 144). Want dit was nou net mooi die naweek toe die plundertogte in Durban was (16 Julie 2021 e.v.). Iewers het ‘n grapjas hierdie video gemaak. Iemand het gebruiker clinkonecards op TikTok se “Africa Go”-kaart gejukstaponeer met ‘n klomp plunderaars wat die winkels leegdra.

    Ek het lekker gelag by die laaste sin (p. 38-39), dit klink amper soos ‘n selderydieet:

    Ek het so lanklaas vars vrugte geëet. AmazonGo se vrugte is vrek duur en ek wil nie by die straatmarkte koop nie. Te veel besmetlike bakteriese siektes in vars kos wat nie deeglik bestraal is nie. ‘n Mens moet versigtig wees wat jy eet.

    Maar goed, jy kan jou melk, kaas en eiers daar koop. Die tegnologie is glo verouderd, want Yala sê: “daar is ‘n outydse kontakpunt” (p. 37).

    Net gou kommentaar hieroor (p. 37):

    Ek tik op die yskas-ikon op my polspaneel. “Ons kaas is op en daar is net ‘n paar eiers oor. Sal jy dit ook kry?”

    Jy sal dit nie glo nie, maar in die 2005-tydskrifartikel in Popular Mechanics hierbo staan daar (p. 38):

    Fridge/Microwave

    An RFID scanner reads a tag attached to every item placed in the fridge. A screen displays the inventory, flagging items that are past their “consume by” date and updating a shopping list. The microwave’s RFID reader IDs any food to be prepared, then adjusts the cooking setting and time.

    Dalk is dit net hier langs die kus, maar die blikkies koeldrank begin al deurroes, lank voor die vervaldatum. Ek laat my deur g’n yskas voorskryf nie.

    Ek het ook my bedenkinge oor die mikrogolf. Want in die wintermaande moet ek die tyd ‘n minuut langer stel, anders is jou kos onsmaaklik koud. As die ertjies of rys nie reeds swem in die bord van vog trek nie. In die somer 30 sekondes minder, anders is jou kos drooggekook. As jy moet weet, ek is 26 meter bo seevlak.

    • Die einde van selfone, die begin van transhumanisme.

    In die verlede is daar dikwels waargeneem hoe selfone ‘n nuwe aangegroeide ledemaat van ‘n tiener is. Nou is dit letterlik, op ‘n manier.

    Sybella deel ons hiervan mee (p. 10):

    Ek is gewoond aan die XtraTrans-mense wat hulleself tegnologies laat verander het en leef as transhumaniste, wat glo om gewoon te wees is om swak te wees. Die meeste mense laat as tieners ‘n polspaneel inplant, met ‘n enkele brein-elektrode wat al die gewone webdinge doen en ook gedagtetekste toelaat en medtech aktiveer. Ek het myne al op twaalf gekry, en dis meer as genoeg. Maar die transhumaniste het dit baie verder geneem. Hulle is amper meer masjien as mens.

    Die polspaneel (dis nou die “selfoon” wat op jou arm ingeplant is) werk nog met lugtyd (p. 15), wat my klaar laat wonder hoeveel teragreep data word binne ‘n uur per dag versend. En hoeveel dit jou kos?

    As mens Goue Koors deur Charles J. Fourie (uitgesaai 7 Desember 2020 – 1 Maart 2021 op RSG) geluister het, dan weet jy transhumaniste gebruik ontsettend baie data. Of hulle steel dit, of hulle is verstommend ryk, of het ‘n vroetelmammie wat die goed betaal.

    Nou weet jy darem jou snotgladde foon kan nie meer in die swembad val nie. Maar kom ons kyk na die nadele van hierdie ouens (pp. 17-18):

    Die transhumaniste met ‘n neuronet leef nie lank nie. Dis ‘n hopeloos te duur prys om te betaal vir versterkte kubervermoëns. Ek sal eerder lank en gelukkig wou leef, nes ek is. Waarom ‘n neuronet hê? Wat ‘n verhoogde metaboliese tempo veroorsaak omdat die brein se behoefte aan glukose verhoog, en hulle lewers dan nie genoeg glukose kan voorsien nie? Die neuronetkuborge gaan vroeg dood aan orgaanversakings, meestal lewerversaking. En daarby kan hulle ook net soveel orgaanoorplantings ondergaan, want die regering belet deesdae dat varkgekweekte organe gebruik word in oorplantings, omdat die risiko van infeksies deur laboratoriumbakterieë die hoogte ingeskiet het die laaste tien jaar. En dan moet die staatshospitale die onkostes dra.

    Hulle brand gewoonlik voor 40 jaar uit (pp. 17, 224). Van die vermoëns sluit in dat jy nie 8 ure hoef te slaap nie, webwerwe binne minute kan sif en agterdeure met magnete aan die vingerpunte kan oopsluit (p. 160).

    Maar uit ‘n logiese oogpunt is dit ook betreklik dom. Die meeste boeke of inligting waarna ‘n mens soek (in die openbare besit) is nooit dadelik op die internet nie. Baie video’s het geen goeie onderskrifte nie, dus kan jy nie gesproke woorde almal opspoor nie (dink ook aan podsendings). Of dit is nog swak gekategoriseer. Ek dink aan die duisende verhandelings van universiteite wat drupsgewys opgelaai word. Dis eeue se werk! En jy kan ook nie geskrewe dokumente perfek OCR nie. En dus sal soekenjins dit ook nie vind nie. Vir ‘n masjien is sulke tekste onleesbaar. In Holland is daar selfs ‘n webwerf  https://watstaatdaer.nl/ wat jou leer hoe om hierdie skryfkuns te leer lees.

    Partykeer is dit ook net stomme geluk. Op Telegram het ‘n kontak een aand “doodhaastig” gebruik. Dit is ‘n woord wat nog nie op my lysie intensiewe vorme was nie. Toe ek die woord google, kom ek af op ‘n verhandeling uit 1974, getiteld “Intensivering in Afrikaans”, met nog 231 woorde by. Nêrens is hierdie woord in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem nie. Dus, sonder ‘n beginpunt, hoe en waarna begin jy soek?

    • Malaria het uitgesterf.

    ‘n Geenstorm is glo ontketen: alle muskiete het uitgesterf, en daarmee saam die parasiet. In Afrika en Asië (p. 89-90). Yala sê sy dink sy het die laaste keer van malaria gehoor “toe ek nog klein was” (p. 89), wat dus iewers in die 2030’s moet beteken.

    Die eerste vraag wat ek my afvra: gaan voornemende sakemanne uit ander wêrelddele nou Afrika bestorm om ‘n winkel hier oop te maak?

    Die tweede vraag wat ek my afvra: gaan die uitsterf van malaria enigsins ‘n positiewe impak hê op die bevolkingsaanwas, voedselproduksie,  ens. van die kontinent, of gaan die honger en oorloë net drievoudig vererger soos die getalle hand oor hand toeneem? Dit alleen sal die toekoms bepaal. Maar as Yala Uba in ‘n weeshuis beland het in 2040, toe sy 12 jaar oud was, en die geskil tussen die Mongo- en Lubastamme oor water gehandel het (om beheer van die Ingadamme te kry, “ná jare van droogte en min kos in die Kongo”), lyk die toekoms vir my allermins rooskleurig (p. 27). Maar sou tien jaar so ‘n drastiese verskil meegebring het?

    • Geneties gemodifiseerde babas (en tieners).

    Die boek kon die term “genmodbaba” nie beter omskryf het nie (p. 85):

    ‘n Baie duur, perfekte geneties geredigeerde babatjie. Sonder enige genetiese siektes, met die regte haarkleur, die regte lengte, die regte geslag. Dalk sal die blouoogseuntjie vinnig kan hardloop, dalk sal die rooikopdogtertjie langs hom ‘n bekende operasangeres word.

    Dis reeds vir hulle besluit, en versigtig bymekaargesit vanaf ‘n kieslysie op ‘n glastablet.

    “Tevens rijst altijd de vraag wie er bepaalt wat meer of minder geschikte erfelijke eigenschappen zijn.” – luidens die Nederlandse Wikipedia (s.v. “Eugenetica”).

    Die eerste ontwerpersbabas is in 2030 gebore (p. 16). Die stereotipe kleef dat hulle skatryk ouers het (p. 16, 53), perfekte lewens lei, by eksklusiewe privaatkolleges skoolgaan en uiters, uiters, hautain is (p. 16, 122). Ouers kyk ook nie meer na weeskinders om aangeneem te word nie, want hulle is te bang dat hulle ‘n ramp sal aanneem (p. 53).

    Al is dit ook op vrywillige basis, kom dit soortgelyk daarop neer om die fetus wat aan sekere oorerflike siektes ly vroegtydig te aborteer.

    Eugenetika of dan “rasverbetering” (absolute sinoniem) is ‘n omstrede onderwerp. In die ou Woordeboek van die Afrikaanse Taal (omrede boekdeel “D tot F” in 1955 voltooi is) word dit nog in ‘n baie positiewe lig beskou, byvoorbeeld in die voorbeeldsinne wat gebruik word:

    Die eugenetiek streef daarna om die liggaamlike en geestelike peil van die mensheid te verhoog, en ywer vir huwelike van volwaardiges, terwyl dit tewens probeer om huwelike van onvolwaardiges teë te gaan. Die eugenetiek probeer om beter lewensvoorwaardes te skep vir die ongeborenes van die menslike ras.

    Met ander woorde, dit gaan nie soseer oor wat die ouers, of die individu, wil hê nie, dit gaan alles om die nageslag, en dus die gemeenskap, of stand, of groep, op sigself te verbeter. ‘n Mens moet dus hierdie omskrywing in “volksverband” sien, soos in die 1950’s. Dit gaan nie oor die “eie ek” nie, maar die samelewing van die toekoms as geheel. Hierdie intellektuele wesens van sulke hoë peil, die leiers van môre, kon dan uit selfopoffering die volk na nuwe hoogtes lei. Hoe edel dan ook, niks kan keer dat hierdie halfgode in gevalle engele ontaard nie. En dan het jy ‘n paar duiwels.

    Soos jy kan sien is die hele “aangeleerde” en “aangebore” gedrag nou maar weer deel van die debat.

    Nog ‘n kwessie is die biodiverse eenvormigheid waarop afgestuur word, soos almal ‘n spesifieke trek moet hê, ten koste van ‘n ander.

    Soos te verwagte het boekdeel “R” (2009) van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal nie ‘n beduidenis van “rasverbetering” nie. Die begrip bestaan eenvoudig nie meer in hul woordeskat nie.

    Pharos, wat toevallig aan Naspers behoort, ken wel hierdie begrip. Die woord “rasverbeteringsleer” is wel opgeneem in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (2011:977):

    (histories): Leer wat die verbetering v.d. (menslike) ras beoog deur die voortplanting van persone met nadelige erflike gebreke te belet; eugenetiek.

    Afgesien van die noodwendige diskriminasie (en kansongelykhede vir die onuitgelese groepie wat nie in ‘n broeikas met spesiale kenmerke gebore is nie), kan jy klaar die “kloof van ongelykheid” sien wat outomaties nou vir ‘n kantoorgebou in Heerengracht ‘n dichtomiese probleem sal raak. Dichotomies, want hulle kan nie in skakerings dink nie. Soos in The Time Machine (1895) van H.G. Wells gaan daar mos nou noodwendig ‘n uitbuiters- en ‘n onderdrukkersklas ontstaan (merk wéér die dichotomiese twééledigheid!) en noodwendig uitloop op die Eloi en die Morlocks, ens… Bly maar almal ewe monolities dom, dan is daar nie ‘n probleem nie.

    En tog lag ‘n Hollandse vertaling (De Tijdmachine) hom dood oor hierdie sotlikheid. Hoe meer jy ongelykhede probeer uitwis, des te meer skep jy bloot ‘n nuwe elite, staan in die voorwoord:

    Maar het geldt ook voor elke natie afzonderlijk, die elk zijn eigen onderklasse creëert en voor elk individu afzonderlijk. Geen medaille zonder onderkant, geen borduurwerk zonder warboel aan de ander kant en als je die warboel uithaalt, verdwijnt ook de afbeelding. Geen rijkdom zonder armoe, geen God zonder Duivel, geen hemel zonder hel, geen verworvenheden zonder verwordenheden. En de mens creëert dat allemaal zelf en probeert dat met steeds meer inspanningen in stand te houden, deze toren, zoals Wells schrijft, die ooit op de bouwers zal neerstorten. Waarschijnlijker is het verstandiger hem af te breken, voordat het zover komt.

    In de Time Machine ziet Wells af en toe nog het betrekkelijke van de wetenschap in, maar in zijn volgende boeken gaat hij de wetenschap steeds meer als de grote heilbrenger zien en de utopieën die hij dan ontwerpt, zijn even gruwelijk als Plato’s Republiek, Moore’s Utopia, Campanella’s Zonnestad, Fouriers Phalanstère, en al die duizenden ander Utopieën die in de loop der eeuwen bedacht en uitgeprobeerd zijn en die allemaal als basis hadden dat een elite uitmaakte hoe andere mensen moesten leven. De utopie van de democratie, van het kapitalisme is niet minder gruwelijk en de tol die de mensheid daar, in haar onwetendheid, voor betaald onvoorstelbaar misdadig.

    Nou ontstaan die etiek klaar weer oor versnelling en vertraging. Moet ons dus wag tot die laaste agteros in die klas uiteindelik in die kraal is (in die naam van gelykheid), of moet ons ‘n eensame touleiertjie (geniaal gebore of gekweek?) 50 tot 100 jaar laat vooruitloop?

    Maar nou. Hierdie ontwerpersbabas in die boek moet ons meet teen die eietydse waardes, sedert die 1970’s. Dit is beslis ‘n bietjie baie meer liberaal as die Lebensborn-vereniging. Die fokus het verskuif vanaf die volk of ras na die individu. Dit handel dus nou in individuele belang, ewe veel as wat ‘n fietsryer steroïed sal gebruik tydens die Tour de France. Behalwe, hierdie steroïed word ingebore, soos deur Mamma en Pappa besluit.

    En ‘n mens kan byvoeg dit is die vervolmaakte voorbeeld van ydelheid en ouers wat hul kinders vir prestasie druk. Dit handel nie om volksbelang nie, maar eiebelang. Om die eie ego te streel vir hul eie tekortkoming: hulle leef deur hul kinders. En hierdie ouers gaan hulle gat sien, want as die kind eers slimmer as die ouers raak (en mooi geleer het wat selfsug en vertoonsug is), word die ouers ore aangesit. En met sulke leeghoofde vir ouers is dit glad nie moeilik nie. Dit herinner aan ingenieur Jacobs in Jan Rabie se kortverhaal uit 1954, met die titel gelyknamig aan sy laaste woorde aan sy robotbruid: “Ek het jou mos self gemaak” (21+, 2004, p. 83).

    In Augustus 1980 verskyn P.C. Haarhoff se kortverhaal “Fofelooi is Sjorsjor” in Tydskrif vir Letterkunde. Met die alleroulikste subtitel: “‘n Verhaaltjie vir kindervryheid”. Dit gaan oor doodgewone Fanie wat deur sy ouers gedruk word om te presteer. Sy talent moet mens tog nie onder ‘n maatemmer wegsteek nie. Hy probeer hom egter so gemiddeld moontlik op skool voordoen, anders eindig hy dalk soos ou Jaap:

    Kyk byvoorbeeld wat met ou Jaap gebeur het. ‘n Bietjie te mooi viool gespeel by daardie een kunswedstryd en nou sit hy in New York, weg van al sy maats, weg van sy posduiwe, weg van die moepelbome in die klofie van die Magaliesberg. Hulle moet glo elke dag tien uur lank oefen.

    Arme ou Jaap. Sy oë het sommer so dof gelyk op daardie foto waar hy op die verhoog staan met ‘n strik om sy nek, nes ‘n Krismiskat.

    Maar hy word uitgevang toe hy op ‘n vraag van ‘n besoekende “man van die universiteit” (wat belowende leerlinge kom keur) aan die skool eendag die geesteswetenskappe verbind met die rekenaarwetenskap, en nou moes Fanie drie middae per week universiteit toe om rekenaarwetenskap te leer, en toe ook sommer op Saterdae ook. Die einde van die verhaal is dat Fanie sonder ‘n woord ‘n rekenaarvirus skryf wat elke totalitêre mag dwarsoor die wêreld aan bande lê. Ook in China, juis op 1 Oktober. Die rekenaarvirus muteer volgens landstaal.

    Die VN pak natuurlik die skuld op Suid-Afrika, maar niemand steur hulle daaraan nie. Met die osoonlaag, die walvisse en kernreaktors wat ‘n gevaar vir die mensheid inhou, het meer ouers besluit dat “dit nie meer mode is” vir hul kinders om tyd voor rekenaars deur te bring nie. Op daardie manier bevry Fanie die kinders om waarlik weer kind te wees. Om te speel.

    En dit is presies wat aan die einde van hierdie verhaal gebeur met die genmodtieners!

    Ek wil amper sê, hierdie boek pas dus nommerpas by die tradisie van Afrikaanse wetenskapsfiksie in.

    • Lugtaxi’s.

    Die eerste keer toe ek van ‘n lugtaxi gelees het, was dit in ‘n tydskrif in die wagkamer by die tandarts. Dit was 2017, en ek onthou wel die EHang. Ek het ‘n prentjie daarvan op my rekenaar gesoek op 25 Februarie 2017, om 20:21:34 .

    Wel, in 2045 is dit ‘n werklikheid.

    EtswagoliWings is glo baie veilig. Die taxi’s “val nooit nie” (p. 26). Dit wil lyk of die Hatfieldstasie sowel die passasiers van die hoëspoedtrein as lugtaxi’s akkommodeer. Soos by ‘n lughawe is daar ‘n BBP-sitkamer vir die duurste e-kaartjiehouers van privaat-DeluxeTaxi’s, en hier kry jy sagte musiek, kunskaggels, Milo, sagte leunstoele, kandelare, klassieke ou skilderye en ander luukshede. En allerhande tradisionele gebak om aan te knibbel (p. 38); jy stap op dik matte in die rigting van die glasskuifdeure. Die vertrektye is “stiptelik” (p. 39, ek neem aan geen rekenaar gaan vir jou wag nie?) en jy word gesê na watter portaal jy moet beweeg. Die rit is geruisloos en vinnig (p. 39).

    In hierdie geval is die afstand wat afgelê word min of meer 55 km, want dis tussen Hatfield en Sandton (pp. 38-39) soos die kraai vlieg.

    Aanboord kan jy gaskoeldrank geniet, na New Agemusiek luister en jou verkyk aan die hologrambeelde van reënwoude wat die binnepanele versier en die wrede krotbuurte buitekant uitblok (pp. 40-41). As jy sou verkies om die skynwerklikheid af te skakel, kan jou slimlens straatname op die geboue onder inteken (p. 41). Dit herinner baie aan Google Lens, wat ek gereeld op my foon gebruik om nie alleen tekste te vertaal nie, maar ook prente of geboue te herken.

    Jy kan wel nog steeds die gewone “outotaxi’s” bestel (p. 134).

    Die boek is uiters versigtig om ons brandstof van die toekoms te voorspel. Dit is nou algemene kennis dat motorvervaardigers hul ten doel stel om teen 2030 alle nuwe voertuie wat in Europa verkoop word, elektries te wil hê. Die ou binnebrandenjinmodelle sal met verloop van tyd uitgefaseer word soos nuwe voertuie aangekoop word. Die afgelope maand of wat hoor mens op NPO Radio 1 hoe Volvo (volledig in Chinese besit) popel oor sy produkte in Hollands; die spreker praat van “snelle oplaadtijd” en wie weet wat als.

    En Suid-Afrika? Ons spog met oorvloedige voetruimte! Weet jy hoe agterlik klink dít?!

    Maar gepraat van Suid-Afrika… Sal die metropole al elektriese laaipunte hê? Gaan waterstof petrol vervang? Of gaan ons soos Amerika nog steeds ou verbrandingstegnologie soek bloot omdat ons nie stede digby mekaar het nie? En mense steeds geen ander keuse het om tweede- (of derde-)handse motors ouer as 50 jaar te koop, bloot omdat daar nie geld is vir sulke nuwes nie? Omdat die Rand oor 24 jaar uiters verswak het teen die vernaamste geldeenhede? En wil jy werklik sulke vlekkelose motors koop net om hulle met die eerste modderige slaggat in sy kanon te stuur?

    My vraag is net: as dit vir die gewone mens elke uur wat verloop al hoe onmoontliker word om splinternuwe sedans te bekostig (baie is reeds oor R1 miljoen), en die elite al hoe kleiner word wat spandabel genoeg leef, en die bevolking bly uitbrei, waarvan gaan die tweedehandse mark op die ou end leef? Gaan families later geld maar saamklap vir ‘n skedonk wat vroeër in ‘n kaping was, en toe in Nigerië gaan draai het, en toe…?

    So nee, ek dink ons sal tevrede moet bly met die uitskot van die wêreld. Want Suid-Afrika het geen plan nie.

    Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

    Donkerbloed is ‘n parodie van die Afrikaanse kultuur in die jaar 2020/2021. Die boodskap is duidelik: ons mag nou miskien van die blinkste tegnologie hê en veerlig reis met lugtaxi’s in 2045, maar ons hele kultuur het sedertdien nie ‘n dag verander nie.

    Nommer 1: Die stereotipes rondom die Pretoriaanse voorstede bly sit!

    Woonbuurte se sosiale status verander byna oornag – of dit nou weens instorting van infrastruktuur, oornag-plakkery, ens. is. Of, van die rykes gentrifiseer ‘n plek (met ander woorde, koop ‘n krotbuurt op, sloop dit, maak dit ultramodern en peperduur), wat die status laat styg.

    Bryanston, Sandton en Kensington B van Johannesburg speel ‘n belangrike rol in die verhaal. Ek was net onseker oor die status van Kensington B, en daaroor het ek by dr. Dan Roodt gaan aanklop [Twitter, 19 Julie 2021]:

    Suidpunt: Ek het op bl. 164 van Donkerbloed (wetenskapsfiksie uitgegee in Junie 2021), wat in 2045 afspeel, gelees Kensington B is “berug vir sy bendemoorde.” Daar is ook baie krotbuurte en bordele. Omrede die verhaal in veral Pretoria en Johannesburg afspeel moes ek nogal rondvra rondom die huidige stereotipes / persepsies van die onderskeie voorstede, aangesien ek nie Gauteng ken nie. Veral as mens ‘n resensie skryf, en iemand in die toekoms die boek wil beter verstaan. Buitendien sal dit vir die Kaaplandse lesers verrykend wees. […] Jammer, ek vergeet amper die vraag: is dit waar?

    Dr. Roodt: Kensington B… Toe ek op skool was, het ek ‘n vriend gehad wat daar gewoon het. Toe was dit ‘n middelklas-Afrikanerbuurt. Ek sal op die kaart moet kyk presies waar dit lê en in watter mate dit deel uitmaak van die woonstelgebied wat sedertdien ontstaan het. Die sakekern van Randburg is deesdae “pikgietswart” soos mense sê, dus is misdaad maar aan die hoë kant en kan die bendemoorde dalk reeds deel van die werklikheid uitmaak.

    […]

    Ek sien nou waar dit is… dis ‘n moeilike een. Daar is ‘n paar woonstelgeboue daar maar meesal nog voorstedelike huise. Dis egter redelik naby aan die sakekern, dus kan van die misdaad seker oorspoel soontoe.

    Dit is egter moeilik op crimestatssa.com om ‘n presiese mooi geheelbeeld te vorm. Sandton se polisiestasie hanteer meer as 8 000 sake in 2020, meer as al die omliggende streke, selfs Alexandra. En tog weet ons bly die ryk elite van die samelewing daar. Maar is hierdie polisie dalk net meer op die bol met die papierwerk? Dainfern het byvoorbeeld nie ‘n polisiestasie nie (en die misdaad van hierdie gesogte buurt kan ek nou al sê sal onder die inwoners uiters gering wees), maar die naaste polisiestasie, wat ander gebiede ook hanteer, gee die gebied ‘n slegte naam.

    Die meeste van die verhaalgegewens in die roman speel in die voorstede van Pretoria van 2045 af, maar, die plek is vir my (anders as die Wes-Kaap) heeltemal ongekarteerd. Want, ek is in die Overberg gebore en getoë, ek was nog nooit sedert ek verstand gekry het in Gauteng nie. Vir die Pretoriaanse leser sou daar dalk sekere “insider-jokes” (of, grappe vanuit die binnekring) en subtekste wees wat my as Kaaplander heeltemal ontgaan.

    Maar dit is geen probleem nie, want ek ken gelukkig ‘n vriendelike polisiebeampte. Sy het haar hele lewe lank nog in Pretoria gebly. Die korrespondensie het plaasgevind op Sondag, 18 Julie 2021.

    1. WATERKLOOF

    In die boek bly Lilith Rox êrens in Waterkloofrif (p. 189). En sy is donders ydel, jaloers en selfbehep. Vreemd, want in die Joodse mitologie is Lilith eintlik versinnebeeldend van verleiding. Maar nou weet ek darem ook sy versinnebeeld kindermoord.

    Ek onthou nog die boek van Hugo le Roux (skrywersnaam van Gert Basson), getiteld: Bloedoffer vir Lilith (1995). Ek onthou veral hoe die satanistiese vrou die speurder betower en verlei het (ek dink daar sou ‘n offer van ‘n jong maagd op die plaas Mendes plaasvind, vernoem na die bok van Mendes, soos ons dit ken: die bokkop), maar toe was ek nog ‘n tiener en het die helfte van die detail sedertdien weer vergeet. Die Kaapse biblioteke is almal toe danksy die Vlak 4-grendelstatus, so ek kan jou nie verder help nie.

    Sybella merk elders in die boek op: “Om my flits die hologramadvertensies op die mure van Bryanston se toringblokke helder en aanhoudend. Vakansies in die Bahamas, spoghuise in Waterkloofrif en Sandton, perfekte genmodkinders. Al die dinge waarmee die heel rykes hulleself besig hou” (p. 196).

    Daar is iets so cliché, iets so holrug aan die hele advertensie. Dis ‘n karikatuur. Waarom nie Réunion nie? Dis amper soos: “ons gaan Bahamas toe, want dis waar ons dink die rykes van oorsee gaan vakansie hou.” So iets.

    Maar Lilith se flambojante leefstyl (insluitend haar blinkrooi Lamborghini Aventador) verpersoonlik egter Waterkloof véél beter (p. 185):

    “Ai, Sybella, dis mos duidelik! Ek gaan rustig uitloop saam met jou sustertjie en jy gaan my ongelukkig nie kan keer nie. Nie as julle lewend hier wil uitkom nie. Ek persoonlik gee nie regtig om nie, ek sal julle lyke ook nou kan gebruik. Natuurlik verkies ek minder bloed so vroeg op ‘n wintersoggend. Ek het hierdie woljas net gister gekoop.” Sy vee oor die nertskraag om haar nek.

    Nou hier volg my korrespondensie met die polisiebeampte.

    Suidpunt (in my brief aan die korrespondent, meer met ‘n vraagteken by):

    Waterkloof is waar die snobs bly [ek is jammer as van jou familie of vriende dalk daar bly, maar kom ons sê net daardie groepie kry hier [in die Overberg] ‘n kultuurskok van hul lewe].

    Hulle kom hier met hul praalsiek Parkerpenne, Markhams-pakke en hopeloos te blink motors in [die Overberg] aan, net om binne 3 jaar later met ‘n Bic te skryf, ‘n bakkie te ry, ‘n T-hemp met kortbroek en plakkies te dra, en minder grimering aan te sit. En hul oorronde aksent word afgeleer (ak > ek) om nie snaaks aangekyk te word nie. Ook besef hulle alte skielik die biologiese herkoms van die Rûensboere tel hier meer as jou fortuin – jy bly ‘n inkommer, selfs ná vier geslagte. Ook ry hulle skielik ‘n kleinerige karretjie, want die strate is skielik nogal nou. En jy wil nie jou motor stamp nie. Wat jy nie in die dorp kry nie, bestel jy maar alles aanlyn, anders sal jy elke dag moet Kaap toe ry wat etlike 100’e kilometer hiervandaan is (én terug), en petrol is nogal duur. Jy sal egter wel ‘n groot motor wil hê as jy oor naweke êrens heen wil ry (al is die Kaapse lewe juis meer binnenshuis).

    Korrespondent:

    WATERKLOOF (genoem “WAH-THUR-KLÜFF” deur die larneys wat daar bly & fênsie wil klink)

    Ja, die pretentious, rykes & wil-graag-ryk-voorkom bly hier. Hulle sweer hulle weet nie wat ‘n PEP store of ‘n Checkers is nie, en koop al hulle groceries van Woolies af (natuurlik net organic & free range!). Die vrouens doen yoga & drink bitterduur koffies, terwyl hulle suutjies-bitch is met mekaar.  Die mans werk in Johannesburg. Die kinders weet nie van swaarkry nie en wil ‘n Hummer hê vir hulle 18de verjaardag (maar as dit die verkeerde kleur is, HAAT hulle ouers hulle mos).  Hulle laaik van semigrate na die Kaap toe waar alles “soveel beter is”.  Bly om te hoor julle maak hulle bietjie gelyk. XD

     [Suidpunt, kan ons sulke “Afrikaans” op PRAAG plaas? – red.]

    1. GROENKLOOF

    Hoewel hierdie voorstad nêrens genoem word in die boek nie, is dit net langs Waterkloof. Die miljoenêr, Klaus D. Vaqué, skryf in sy outobiografie hoe hy navraag gedoen het ook die huise wat daar te koop is. Vaqué is bekend veral in die behoudende kringe vir sy blad “The Insider” van die jare 1980’s, asook die boek: Verraad teen Suid-Afrika. Hy verwys hier spesifiek na Herbert Bakerstraat, waar hy en sy gesin later in 1978 sou intrek (An der Hand Gottes, 2004:122):

    “Hier wohnen wohl nur Millionäre?” fragte ich. “Nein”, erwiderte die Maklerin trocken, “auf dieser Straße wohnen nur Multimillionäre. Die meisten sind reiche Geschäftsleute, Ärzte und Rechtsanwälte, aber auch viele Diplomaten haben hier ihre Residenz.”

    Vrye vertaling:

    “Hier bly mos net miljoenêrs, nè?” vra ek. “Nee,” antwoord die eiendomsagent (‘n vrou) droog, “in hierdie straat bly net multimiljoenêrs. Die meeste is ryk sakemanne, dokters en prokureurs/advokate, maar ook baie diplomate het hul ampswonings hier. “

    In hierdie subtropiese sone van Pretoria kan jy piesangs, lemoene, papajas, mango’s, en feitlik enige tropiese vrugte kweek. Ryp kom hier nie voor nie.

    My korrespondent skryf:

    GROENKLOOF (natuurlik met harde-G en die “KLÜFF” soos hier bo)

    Mense wat so ryk is dat hulle dit nie nodig vind om vir mense te sê hulle is ryk nie.  Hulle hou van bergfiets ry & doen baie pretdrawwe wat hulle dan op social media post om te wys hoe “woke” hulle is. Hulle “gee om” oor hulle medemens, maar meestal vir clout.

    1. EASTWOOD

    Eastwood is die plek waar ons hoofkarakter in 2045 nou bly. Klaarblyklik is dit ‘n aangename buurt. Sy [Sybella Francke] het eers in ‘n groot huis gebly, maar die plaaslike owerheid het dit “oorgeneem” (sic […]) en dit in woonstelle omskep, weens die lastige behuisingstekort. Die Francke kon egter die tuintjie hou, al is die natuurskoon nie meer nie.

    My korrespondent skryf:

    EASTWOOD

    Reg langs Loftus en vrot van studente kommunes. Dis is ‘n relatiewe goeie woonbuurt, maar die huise is stokoud. Dit is deurspek van ambassades (onder andere die Amerikaanse een).  Ek sou nie persoonlik kies om daar te bly nie, want dit is maar bietjie vergete en grens baie na aan beide Sunnyside & Hatfield, maar dit is die duurste van die drie opsies.  Dalk juis die rede hoekom dit oorgeneem word vir hoë volume behuising in die storie, aangesien beide Hatfield & Sunnyside groot woonstelblokke het, en die bestaande erwe nog steeds nogal groot is.

    1. SUNNYSIDE

    Sunnyside het in 2045 ‘n indrukwekkende naglewe (ook met daggakafees waar die base daggabelasting vir die staat betaal). Daar is wel sporadies straatkinders en hokgevegte (‘n bloedsport tussen mens en mens, wat die owerhede verbied aangesien robot-rofstoei die grootste gros geld inpalm en silikoon wat bloei darem nie so erg is nie (p. 32)) maar polisiehommeltuie patrolleer elke aand die gebied, met geneties-gemanipuleerde dubbelspierpolisiehonde vir enige probleem in die nabyheid. Maar, jy kan glo saans daar rondloop, ek bedoel – om vanaf Sunnyside op jou skaatsplank tot in Eastwood te ry in die aand? (wel, ja, want hierdie niggie [Sybella] is 17 jaar en 10 maande oud, en kan nog nie drink of bestuur nie), dan moet dit seker veilig wees?

    My korrespondent skryf:

    SUNNYSIDE

    Meer soos Scummyside… alhoewel dit op die oomblik bietjie van ‘n herlewing & vernuwing beleef, bly meestal arm mense (onder andere buitelanders) daarso.  In die sewentigs was dit DIE PLEK om te bly as jy jonk was – my ouers het selfs daar gebly vir ‘n hele paar jaar.  Ek sou definitief nie op straat wil wees in Sunnyside nie. Nie dag of nag nie.  Ek sou myself dood stres, maar tieners is mos maar domastrant.  In die 90’s het ons altyd by Sterland gaan fliek en dan sommer die 4-5 blokke na SunnyPark toe geloop waar ons ouers ons sou oppik soos 10 uur in die aand.  Sal dit nie nou wil doen nie…. Ongure mense & haweloses op die strate wat bedel.  Gegewe die desperate bevolking, sou ek kan sien hoekom die hommeltuie & polisiehonde daar patrolleer!

    Soos ek bo gesê het, grens Eastwood & Sunnyside op plekke aan mekaar (dalk met Arcadia in die middel?), so dit sal ‘n reis van so kilometer of twee wees afhangend van waar die begin- & eindpunte was.

    1. ARCADIA EN HATFIELD

    “Daar is meer dronk en moeilike mense in Arcadia en Hatfield as in Sunnyside” (p. 30).

    Al wat ek van Hatfield weet is dat Protea Boeke se hoofkantore daar is (Burnettstraat 1067).
    My korrespondent:

    ARCADIA

    […]  Die plek is omring deur hoë woonstelblokke. Kleeeeeeeeeeeeein trappie beter as Sunnyside, maar die sekswerkers is al vroegdag op straat besig om klante te werf. Dwelms & diefstal is ook ‘n probleem, en [jy wil liewer nie jou kar op straat los nie].  Ambassades met hoë mure is volop […], en die Uniegebou is so twee blokke weg.

    HATFIELD

    Reg om TUKS, en VOL studente!  Baie kommunes is platgeslaan om hoër woonstelblokke te bou om al die studente te akkommodeer.  Die amptelike koshuise word al jare vooruit bespreek EN is ongenadiglik duur (meestal omdat mens vooruit moet betaal in Januarie).  Meeste mense verkies om ‘n woonstelletjie te koop of te huur vir hulle kinders, maar bouers kan nie voorbly nie.  As gevolg van al die studente met expendable income uit pa se beursie, is die dwelm bedryf & kuierplekke alive & well hierso, so BAIE dronk mense. Ek sou meer geredelik hierso rondloop in die aand as in Arcadia of Sunnyside (baie plekke het sekuriteitswagte wat strate redelik skoon hou van verdagte mense).

    1. MAMELODI

    Mamelodi is volgens die boek in 2045 ‘n oop rioolsloot (p.22):

    Ek verstik amper aan my koffie. Geen mens kan dit oorleef in Mamelodi se krotbuurte nie. Die heel armstes bly daar. Daar is geen rioolstelsel of elektrisiteit nie. Daar is ook nie genoeg kos nie.

    Mense leef letterlik ondergronds soos bytende blindemolle, of in sinkplaatgehuggies opmekaar gestapel. En as mens die messtekery oor brood of pap oorleef, gaan jy dood aan die geringste infeksie, omdat antibiotikum al jare lank oneffektief is en niemand daar mediese nanobots kan bekostig nie. Dis nie ‘n lewe wat ek ‘n kakkerlak op krukke sal toewens nie.

    My korrespondent  antwoord:

    Dis ‘n hool… ek was al ‘n paar keer in om kollegas laataand af te laai en ek het GESWEET.  Niemand steur hulle aan padreëls nie en die pad self is in AAKLIGE toestand.  Daar is ou dele wat meer township as lokasie is, maar die gehuggies is ontelbaar.  Die township dele het netjiese huise met groot hekke & klein erwe.  Dit was een van die brandpunte nou hierdie week [12-18 Julie 2021], so dit sal jou ‘n idee gee van hoe op mespunt die plek is.  Ligte stootjie, en anargie neem oor.

    Op navraag was sy so gaaf om nog ander dele in te sluit:

    PRETORIA-WES

    Tradisioneel ‘n arm (blanke) woonbuurt aangesien dit naby die industriële gebiede is en dus die werkersklas moes huisves.  Huise is oud & vervalle, met bywoners oral.  Dele het verbeter na middelklas toe, maar die stigma van armsaligheid loop nog sterk.  Dink… Tannie Stienie van Agter Elke Man (maar jy is veels te jonk XD) – curlers & sigaret opi lip wat oor die grensdraad skinner.

    PRETORIA-NOORD

    […]  Word ook op neergekyk van mense in die Ooste, maar net omdat hulle nooit uit hulle eie woonbuurte durf gaan nie.  Pretoria-Noord het BAIE arm dele (Wolmer) & BAIE ryk dele (Florauna) binne ‘n paar blokke van mekaar en straatadres maak saak hierso.  Erwe is groot (burger of half burger erwe) met huise uit die 1940-1960’s.  Meestal pensionarisse wat in die middelklas bly […], maar baie mense keer terug om families groot te maak hierso.  Dit het klein dorpie gevoel en ons spot dat mense van die res van Pretoria hulle paspoort moet wys om die Boereworsgordyn oor te steek tot in die Noorde.  Alles is nog bitterlik Afrikaans […].  [Pretoria-Noord] geniet ‘n subtropiese klimaat en is maklik een tot twee grade warmer as die res van die stad.

    Belangrike punt dat mense baie keer Pretoria-Noord en die Noorde van Pretoria verwar.  Pretoria-Noord is ‘n voorstad (ek roep hom “Pretoria-Noord Proper”).  Die Noorde van Pretoria sluit in Pretoria-Noord, Montana, Akasia, Sinoville, Annlin, Theresapark ens – dus al die voorstede agter die mees Noordelike rif van die Magalies.

    DIE MOOT

    ‘n Area wat belangrik is.  Die deel lê tussen die Noordelike Magalies & die Magalies waarop die Uniegebou staan.  Groot ou huise wat nou ‘n baie fashionable plek is om te bly.  Mense herstel & vernuwe die ou huise om die mid-1900 elemente ten toon te stel (kaggels, houtvloere, groot stoepe ens).  Eiendomspryse klim nou weer, alhoewel daar ook dele is wat nog bekostigbaar is (Kilnerpark).  Aangesien dit maklike toegang tot die stad het, hou die yuppies daarvan om in hulle ou, nuwe huise te bly.

    Nommer 2: Die kos is uiters tradisioneel.

    Toe ek “wit lelies” die eerste maal lees (op bl. 48, dink ek), toe weet ek dit beteken moeilikheid. Gewoonlik gee jy dit vir die naasbestaandes uit simpatie, tydens afsterwe van ‘n geliefde. Dit is ook ‘n gewilde begrafnisblom. En inderdaad, dat Lilith Rox hierdie reukstof aanspuit, is nie net ‘n volksetimologiese sinspeling op haar naam nie, dit is ook die “blom van die dood” (p. 208). Sulke ou Westerse simboliek het in 2045 sowaar behoue gebly. (Seker ook omdat die bloemiste die gebruik aan die lewe hou?)

    Maar wat van kos?

    Kyk, tieners (die teikenmark van hierdie boek) is maar altyd honger. As hulle nie altyd moeg is nie.

    Maar dit is opvallend hoeveel keer daar na kos dwarsdeur die boek verwys word. Liewe maagtig.

    Ek het eers gewonder: hoe pas dit by die storie in? Is dit maar om te pas by die “kleur maar die leë dop in”-tema? Jy weet, wát ons buite-om aantrek teen die koue (nie wáárom nie), wáár ons bly (nie wáárom nie), wáár ons studeer (nie wáárom nie), wát ons op ons borde laai (nie wáárom nie), waaruit ons eet (nie wáárom nie), waarmee ons ry van punt A na punt B (nie wáárom nie), hoe ambisieus ons is (nie wáárom nie), hoe ons onsself uit botteltjies en buisies mooimaak en jonger laat lyk (nie wáárom nie)… Met ander woorde, dit handel dus oor waarméé ons heeltyd ander kan beïndruk, terwyl ons eintlik binnekant op kulturele en geestelike vlak onsself beroof en steeds dólléég bly? ‘n Toespeling op sekere stereotipiese beelde van Waterkloof?

    Ek weet ek hoef nie vir PRAAG-lesers hieroor te preek nie.  PRAAG-lesers dink diep genoeg.

    Maar eintlik draai kos verbasend genoeg ook om tradisie. Die mooi van tradisie. Dit handel om smaak. Eerstehandse ervaring. Tradisie wat homself oor en oor bewys het, en immergewild bly. In skrille kontras met van hierdie weersinwekkende ultramoderne tegnologie. In Donkerbloed word jy genadiglik genoeg nog nie gekarameliseerde mopaniewurm of kakkerlak-in-‘n-sojasous bedien nie.

    Van die disse wat nou werklik eksoties is, is by een of ander uitspattige restaurant, die Pastiche (p. 72). Tog klink die name vir my nogal aptytlik. Soos “Weskuskreef met hibiskus-consommé” (hopelik in ‘n akwarium geteel, met hierdie Koeberglekkasie, en die koue seestrome, jy weet… “ ‘n mens moet versigtig wees wat jy eet”) of “speenvark met klapperkerie en saffraan” (ek het dit self nog nooit geëet nie).

    ‘n Mens besef nie eintlik hoe oud van hierdie disse is nie. Nog in hierdie jaar, juis op Paasvrydag, 2 April, kry ek kerrievis op rys op my bord. Toevallig lees ek dieselfde dag Aanmerkelyke ontmoetingen in de zestienjaarige reize naa de Indiën deur Jakob de Bucquoi (1744). Ek het mos navorsing gedoen of Afrikaans in Maputo vandag gepraat sou kon word. Daarin vind ek die woorde “Kerry met Visch” (p. 70) en “dat is de hooftschotel gekookte Ryst, en de toespys een Viskerry” (p. 100). Jy sal ‘n paar bestanddele in daardie boek kry, maar ongelukkig geen resep nie. Hoogs waarskynlik is hierdie dis selfs ouer as die boek self.

    En tog is daar ook deels van dekonstruksie ter sprake. Wat jy van hawermoutpap dink, is nie wat ek daarvan dink nie. “Hawermoutpap”, die begrip, die konsep, vereenselwig ek gewoonlik saam met appel-en-kaneel-smaak uit ‘n sakkie, met kookwater uit die ketel, met ‘n teelepel suiker of wat, vir ontbyt, of op ‘n Sondagaand as ek werklik nie lus het om kos te maak nie. Veral nie ná ‘n swaar ete die middag nie. En juis omdat dit Sondagaand is, voel ek onrustig oor die Maandagoggend. Die hawermoutpap bring vir Sybella weer herinneringe terug van hul Desember(kampeer)vakansies by Kleinmond (p. 61): “Pa het net pap geëet as Ma spek en eiers ook gebraai het.”

    Kos word selfs in ‘n vergelyking gebruik: “Zuri se oë vlieg wyd oop. Sy loer vinnig op haar polspaneel na haar deurkamera. Word so wit soos die blanc-mange-nagereg wat Ouma Olivia soms Sondae gemaak het” (p. 125).

    Op bl. 56:

    Rosa Francke. Haar naam was bekend dwarsoor die wêreld. Vir my was sy maar altyd net Ma, wat Sondagmiddae rosyntjiebrood gebak en my in haar arms gehou het as ek huil omdat ek nie my wiskundetoetse deurkom nie.

    “Bokomo, die tuiste van heilsaamheid” weerklink Margo Luyt se TV-advertensiestem nou nog in my ore.

    Daar is ‘n soortgelyke huislikheid, ‘n bekendheid en geborgenheid hieraan, in skrille kontras met die tegnologie.

    Heel interessant lyk die kos by Hatfieldstasie (waar sy op haar vlug wag) eintlik baie op tradisionele padkos, veral as mens in gedagte hou dat die (hard)gekookte eiers al sedert die Tweede Vryheidsoorlog of vroeër in ons kosblik is. ‘n Bottel wyn, brandewyn of knertsie jenewer op die trein was meer as ‘n eeu gelede ook niks snaaks nie. En hier kry ons (p. 38):

    Vars vrugte, delikate klein koekies, snye koue vleis, gekookte eiers, neute, jogurt, koffie, wyn en selfs whiskey. Ek sit stukkies mango, ‘n paar aarbeie en twee roompoffertjies op my bord.

    By die kafeteria van Biotron Babas is ook niks uitsonderlik ongewoon nie (p. 75):

    Toebroodjies, pasteie, koeldrank, vars vrugte, botterbroodjies [skóns?], tertjies, koue vleis. Die keuse is amper groter as by AmazonGo se hiperwinkels.

    Die enigste dis wat vir my wel effe snaaks voorkom, maar niks buitengewoon nie, is die bakkie kos by die twee Admin-doedies, Tanjo en Kari. Kari “steek-steek met haar vurk na blokkies soja in haar avokadoslaai” (p. 76). Ek sou eerder stukkies ham of spek verwag het. Maar ja, Woolworths het ‘n “simple soya avocado”-slaairesep, sien ek. Hoe in die mode veganisme of vegetariese eetgewoontes in die roman is, weet ek nie. Maar duidelik het dit óf so alledaags geword dat niemand hulle meer aan ander se eetgewoontes steur nie, óf die volk het hul vleislus herontdek.

    Gegewe ook hoe snaaks die mensename lyk (geen Johan, Danie, Jaco, Pieter, Willem, Stefan, Susan, Marie, ens. wat eeue aankom nie – name wat millennia aankom), voel dit byna onwerklik hoe tradisioneel die kos gebly het.

    “Ons mag miskien almal van naam verander het, maar eintlik bly ons almal in wese dieselfde ou sous.” Dis die boodskap wat ek kry.

    Nommer 3: Hoe meer gekunsteld en vervreemdend die tegnologie in ‘n globaliserende wêreld raak, hoe huisliker, ouwêrelds, regionaal en natuurliker die taalgebruik.

    Hiervan is daar ‘n oorvloed in hierdie roman, en dikwels word die natuur betrek vir komiese of oordrywende effek. Waar tegnologie betrek word, neem dit gewoonlik ‘n negatiewe nuanse aan. Die taalgebruik vind ek kostelik.

    Onder andere is Sybella se bynaam Kwarteltjie, omdat haar vel (op die gesig) gelyk het soos die dop van ‘n kwarteleier (p. 21). Jax het weer “leeugeel oë” (pp. 12, 172):

    Ek kyk direk in sy ligbruin oë. In die ligte vanaf die dansvloer lyk hulle amper geel, soos dié van ‘n leeu.

    Maar daar is nog ander voorbeelde:

    “Die kaalkopkuborg gee my alreeds die blouaapstuipe” (p. 17);

    “Diamante hang aan haar ore soos trosse glinsterende druiwe” (p. 19);

    “Seth met die koringbruin hare en seegroen oë, wat geroeste spykers met ‘n vierpondhamer in my hart geslaan het. Nie dat ek al ooit ‘n vierpondhamer gesien het nie” (pp. 23-24).

    “Hy is net agt jaar ouer as ek, maar ek kan hoor hier kom ‘n pa-preek aan” (p. 29).

    “Werk in Etswagoli is in elk geval so skaars soos renosterhoring, selfs vir wettige Suid-Afrikaners” (p. 31).

    “Ek sal seker ook weghardloop as ‘n kuborg soos Cedric Morton met sy vinger in my bier kom roer” (pp. 33-34).

    “Lilith Rox mag mooi en bekwaam wees, maar dit het gevoel of ek soos ‘n paddavis in ‘n vlak petribakkie gewriemel het. Wat wag dat sy ‘n naald in my gaan druk om my selle te onttrek.”
    (p. 48)

    “Dit was baie meer as dit. Dit was verraad. Dis asof ‘n visgraat dwars in my keel steek en ek nie asem kan kry nie.” (p. 71)

    “Die tyd saam met hom lê nog warm in my, soos varsgebakte brood op ‘n koue wintersoggend” (pp. 72-73).

    “Gedagtes wat in my kop gedraai het, om en om, soos ‘n waterkewer in die enigste klein waterkol op ‘n modderdroë pan” (p. 73).

    “Gelukkig is etenstyd net twintig minute lank voor ons weer gaan geld maak vir Biotron Babas” (p. 77).

    “Hy glimlag vir my. Soos ‘n akkedis wat ‘n muggie met ‘n afvlerk raaksien en sy tong spoeg smeer.” (p. 82)

    “Dit voel of my brein in ‘n vuurwarm windtonnel uitgedroog word” (p.115).

    “Zuri blaas oor haar MiIo. Toe sy opkyk, is haar groen oë so skerp soos dié van ‘n straatkat” (p. 124).

    “[…] Lilith lyk vriendelik vanmiddag. Haar hare hang los gekartel oor haar skouers, haar naels babapienk geverf. Soos die buitekant van ‘n silikoon-uterusborrel” (p. 132).

    “Sy is hopeloos te glibberig na my smaak. Soos ‘n seepaling gesmeer met kookolie” (p. 140).

    “Sy is beeldskoon. Loop so grasieus soos ‘n bergkat” (p. 167).

    “Die skarniere kerm soos ‘n tarentaal […]”(p. 167).

    “Hy was mos ‘n army reject, voor daai geldgeitjie hom aangeskaf het” (p. 229).

    Nommer 4: Op geesteswetenskaplike gebied is die wêreld tot stilstand geruk.

    Dit het my reeds gepla dat die Unisagebou nou bewoon word. Hul webwerf spog tans met die grootste akademiese biblioteek in Afrika. Ons praat hier van oor die 1,5 miljoen boeke. Dit is nog voordat mens die museum byreken met oerartefakte uit Afrika. Maar teen 2045 het die staat dit goedgedink om daardie gebou op Muckleneuk só in te rig (p. 94):

    Graffiti op die mure van die geboue wat eens op ‘n tyd Unisa was. Suid-Afrika se grootste korrespondensie-universiteit. Nou het arm stadsinwoners daar ingetrek, dié wat darem die klein, beknopte regeringswoonstelle kan bekostig.

    Dit is onder andere by hierdie volkshuisvesting (om nou die ou Nederlandse woord te gebruik) waar Sybella saans baie laat haar graffiti spuit (p. 50). So nou is my vraag: waar is al daardie biblioteekboeke heen?

    Daar word net vlugtig verwys na Jax se antieke stel Game of Thrones-boeke (pp. 25, 110). Maar ook “die digbundels en storieboeke” (‘dis ook oud’) wat vir Sybella duidelik sentimentele waarde het, maar waarskynlik nie gesteel sal word (p. 9); dit het vroeër aan haar Ouma Olivia behoort.

    Yala vra Sybella of sy maar die digbundels kan deurblaai om haar Afrikaans te verbeter. Sybella lees veral die digbundels. Opvallend genoeg sluit die name wat dan volg baie netjies volgens dekade aan (p. 63): Ingrid Jonker (1950’s-1960’s), Antjie Krog (1970’s-2010’s), Hilda Smits (2020’s). Die gedigte bring herinneringe van Sybella se ma terug, omdat laasgenoemde party middae met die digbundels op haar skoot in die son gelees het.

    Sybella hou veral van Antjie Krog (p. 63):

    “Jy weet jy kan hulle enige tyd lees. Ek dink Antjie Krog is my favourite. Gaan lees ‘n bietjie ‘Ek wil’.”

    Dis die gedig wat ek altyd vir Seth gelees het. Ek wou myself vir jou gegee het, Seth, stil soos ‘n koorsboom, soet en oop soos mispels. Ek wou.

    Kom ons begin by die begin. Game of Thrones is duidelik in die roman gebruik om die tieners van 2020/2021 te boei met die eietydsheid, hoewel ek reeds wonder of hy die tyd tot in 2045 sou deurstaan. Kyk mens na Google Trends, dan sien jy ‘n geweldige opbloei in belangstelling met elke nuwe reeks, maar dan val dit elke keer weer soos ‘n baksteen. Met elke nuwe reeks sak die plato (die wagtyd vir die volgende reeks) al hoe laer. Dit is egter self ‘n teorie wat ek toets, en alleen die tyd sal leer of my teorie korrek is. Ek kan verkeerd wees.

    Antjie Krog is in Donkerbloed ‘n interessante verskynsel. Sy het eintlik drie betekenisse.

    Die eerste betekenis is natuurlik die vanselfsprekendste: die liefdesgedig, wat haar aan Seth herinner.

    Die tweede betekenis is (en dit is redelik onderliggend): Krog is in die literêre kringe bekend vir haar “vers van verset”. Sy skryf oor taboe-onderwerpe om aandag te trek en die skokwaarde self. In hierdie verhaal sluit dit aan by Sybella se “verf van verset”, met presies dieselfde doel: om aandag te trek. Sy spuit graffiti à la Greta Thunberg (p. 95):

    “Dis . . . dis ongelooflik! Dit lyk nogal… asof jy kwaad is, maar dis ook vreeslik mooi! Die kleure! Alles is so lewendig.”

    “Ja, dele van my is seker kwaad. Die polisie sien dit as proteskuns, as anti-regering. So hulle het dié tipe straatkuns verbied. Hulle wil nie ongemaklik voel oor die brutaliteit in die kuns nie, nie herinner word daaraan dat hulle derduisende spesies laat uitsterf het sonder om ‘n vinger te lig nie. En nooit effektief teen wildstropery opgetree het nie.” Ek trek my serp stywer om my nek, ril teen die koue. “Hulle teiken my skilderye spesifiek, my en ‘n paar ander straatkunstenaars en muurskilders wat ‘sensitiewe kwessies’ teen die mure uitbasuin.

    “Dis ongelooflik! Dis rof, maar mooi ook. Ek sou nooit eens kon dink… dat jy so iets… kan doen nie!”

    “Ek dink dis seker meer omdat dit my manier is om my pa te onthou. Hy het geskilder – rustige goed, nie so wild en blatant soos dié nie. Hy was baie lief vir die natuur. En hy was altyd ontevrede omdat die regering nie genoeg gedoen het vir natuurbewaring nie, toegelaat het dat al die wildtuine verdwyn, die renosters en olifante gestroop word. So nou verf ek meestal proteskuns. Ek doen soms sagter goed ook. Maar dié maand verf ek alles wat my omkrap. Ek gaan deur fases.”

    Mej. Sybella Francke. Jy het my gesoek. En nou het jy my gekry. Jy het nou die Hollander in my wakker gemaak. Hierdie dag sal jy berou.

    Iets is drasties in jou genepoel verkeerd.

    Jy praat die grootste klomp kwak onder die son! Jou adrenalienvlakke skiet deur die stratosfeer as jy voor die hommeltuie wegvlug (p. 96), en jy hou aan en aan daarmee. Tot die dag wanneer jy in die tjoekie sit. Nee, jy kry nooit genoeg daarvan nie; brandstigters voel presies dieselfde opwinding voor die vuurhoutjie getrek word. Dis ‘n sieklike psigose. Dis immers hoe jy Yala ontmoet het. Moenie dink ek weet dit nie; hoe anders weet jy die hommeltuie kom oor “drie minute”? “twee minute”? “een minuut”?, “sekondes”? (pp. 1, 2 ,3). O, die opwinding! Die spanning bou op! En Maliwemi weet goed van jou “verwery” (p. 29). Jou Ouma sou jou gefoeter het oor jy oumense se pensioengeld so mors, om jou klad reg te maak. As jy wil verf, verf jou eie woonstel. Maar nee, jy beklad ander mense se eiendom. Verbode vrugte is mos lekkerder, nè?

    As hierdie diere vir jou so belangrik was, sou jy nou met jou neus in ‘n boek gesit het en biogenetika leer dat jy skeefhang. Jou eie Jurassic Park oopmaak, en al die uitgestorwe diere terugkweek. Wat ‘n wonderkind!

    Of veil op eBay ‘n skildery op en laat die ponde inrol, as dit moet. Soos jou morrende liewe pappie wat net bek was en van die rots (en sy goue voetstuk) deur ‘n brander afgebliksem is, kon doen, maar nie het nie! En dit maak hom dus ewe aandadig aan die kollektiewe skuld! Ja, hoor! Of vra Jax om ‘n stroom te hou op Twitch en samel ‘n fortuin in vir daardie diertjies wat so lief en dierbaar is, toe? Of waarom nie gewoon by die DBV inklok en jou hande bietjie vuilmaak nie? Dit sal tog te mooi lyk op jou CV. Hoeveel rondloperbrakke is daar in die verhaal? Maar nee! Jy is ‘n regte klein aandagvraat, jy. Ander fiktiewe tienerkarakters moes veeartse bystaan en toekyk hoe lydende diere uitgesit word (Groen is die kleur van genade, Marlene le Roux, 1993). Jý, Sybella, het dit te maklik. Is dit die verleentheid waarvoor jou moeder haar voor die proefbuise afgesloof het?

    Jý gaan nou vir jou ‘n blik wit verf koop en regmaak wat jy verbrou het. Ek wil jou nie sien voor jy nie klaar is nie. Nee, vanaand slaap jy in die tuinhuis. Dis lekker winterkoud genoeg daarbuite, dan kan jy die hele aand dink aan die arme mense wat krepeer in Mamelodi en smeek vir brood. Terwyl jy blikkies verf uitspuit vir die grap! Toe, basta met jou! Vort, sê ek! Of dis vyf maande breekwater!  Maar sal jy…!

    Gmf. Harde liefde. Maar toemaar, ek is seker Cedric Morton sal jou ‘n les leer. Daar is altyd oë in die donker…

    Die derde betekenis van Antjie Krog: die einde van die Afrikaanse letterkunde. Want daar word nie juis melding van enige ander projekte of boeke gemaak in hierdie roman nie. En ons praat van… 24 jaar later?

    Daar is nog ‘n diskrepansie, iets wat ek eerder toeskryf aan voortgesette hardnekkige tradisie in die Afrikaanse kultuur in die verhaal as Sybella se eie tekortkoming (because “it takes a village to raise a child”…).

    Daar word byvoorbeeld twee maal daarop gewys dat Yala met ‘n “Franse aksent” Afrikaans praat (p. 23), en “baie goed in Frans” was tot en met Graad 6 toe sy vir die Wateroorloë moes vlug (p. 37). Daar word nie ‘n woord daarop geantwoord nie. Sybella sprak geen sprook. Daar word nie eers instemmend geknik nie. Geen spiertjie vertrek nie. Of: “moer, hoe interessant! Issit?! Parlez-vous français?” uitgeroep nie. Dis net niks! N.A.F.I. Duidelik het Yala vir ‘n reaksie gewag voordat sy aangebied het om AmazonGo toe te gaan. Maar aangesien die verhaal uit jou eerstepersoons-oogpunt geskryf is, Sybella, kon ons almal dit raaksien, behalwe jy!

    Yala kan haarself met ‘n ou skootrekenaar help (pp. 64-65). En dit laat my oor twee dinge wonder.

    Nommer 1: Yala Uba is slim genoeg om te weet as jy in Pretoria (of, daardie deel van Estwagoli) bly, dan praat jy onder meer die taal van diegene wat geld het, naamlik Afrikaans. Dit plaas haar klaar in ‘n totale ander liga as dié wat botweg weier om niks anders behalwe Engels te leer nie. Die geleenthede vir haar is groter. Bowenal sal Yala haarself in Engels kan help, en in haar eie stamtaal. Nou waarom nie Frans voortsit nie? Daar moet tog sekerlik ander vlugtelinge soos sy wees wat Frans ken? Dan is jy nog ‘n trappie hoër as al die ander dwars mededingers.

    Nommer 2: Sybella – dit kos al my selfbeheersing om nie vyf vieslike vloekwoorde in jou rigting soos hoefysters te slinger nie. Daardie snuifmiddels in daai spuitkannetjies tas duidelik jou brein aan, kind. Dis nie gesond nie. Hier land ‘n Franse tutor letterlik op, nee, jy’t haar óór jou drumpel ingedra, binne-in jou sitkamer in, bo-op jou sitkamerbank neergeplak, sy maak later vir jou hawermoutpap en sop, voer jou dit bietjies-bietjies amper met ‘n lepeltjie in as jy siek is van griep! Moet ek dit uitspel: Om jou die basiese goedjies Frans te kan leer, pampoen! Mens kan net die perd tot by die water lei, nè? Hoe dóf is jy? Dis so goed jy tel ‘n Krugermuntstuk op en wonder of jy spookasem daarmee kan koop. Maar nou staan en reël jy vir haar kelnerinwerk. En stel haar in gevaar op straat as sy Sunnyside toe moet loop! ‘n Polisieman agter elke bos.

    Hierdie geslote wêreld van die Afrikaanssprekende is natuurlik niks nuuts nie. Hulle leef in hul eie bekrompe wêreldjie. En dit boonop in ‘n hoogs geglobaliseerde wêreld! En juis daarom is die werk vir my ‘n hekelende parodie daarvan. Of dit nou doelbewus of onbewustelik gedoen is.

    ‘n Rus het trouens oor sy tydjie hier aan die Kaap geskryf in 1808 tot 1809. Sy naam heet luitenant Wasili Golownin. Uit die pen van ‘n 32-jarige (vertaal in die Engels deur Boris Gorelik, ‘n Rus wat met graagte ook Afrikaanse verhandelings en proefskrifte verslind), die volgende:

    The local Dutchmen, devoted from their youth to trading and the search for ways to enrich themselves, are not far advanced in matters of education, and so their conversation is always boring and uninteresting. The weather, local occurrences, business, the arrival of convoys and some political events directly affecting them are the main and, actually, only topics of their discussions.

    –          Uit An Entirely Different World: Russian Visitors to the Cape, 1797-1870 (2015:32).

    Wag, wag, wag! Voordat jy op jou perdjie klim, liewe leser… ek is nog nie klaar nie.

    Ons moet hier egter ook onthou dat die Russiese aristokrasie en hul intellektuele, hierdie baie “belese”, fynbesnaarde, uitgelese groepie mense (anders as hul voetvolk), wat Frans, Italiaans, Duits, Latyn, Engels, en soms Hollands goed magtig was… al sedert die 1860’s beplan het om die verstokte Tsaar omver te werp. Maar net soos die Franse die aristokrasie uitgewis en bloot ‘n nuwe elite geskep het, net so het die Russe die een absolutisme vervang met ‘n ander.

    Altyd dieselfde. Hoekom? Want dit is al stelsel wat hulle geken het. Ironies, is dit nie?

    Eerder dat mens verwag dat die vars toevloei van inligting nuwe wêrelde sal skep en oopmaak, bly hierdie kanale toe. En dit is waarom die “voorstedelike stigma” of “voorstedelikheid” 24 jaar van nou af nog voortduur. Ons hang in ‘n geslote visbak, waar die vismis vanuit die bodem deur die filter borrelend gesirkuleer word en die bak met verloop van tyd net al hoe groener, en groener en groener word van die alge. Uit ‘n vis se oogpunt moet jy later glo die wêreld daarbuite is ook groen soos joune hierbinne.

    Of, miskien moet ek dit eerder met ‘n terrarium vergelyk met ‘n toegeskroefte deksel op: die plant groei, werp sy blare af, die blare vermolm, word saam met die vog opgeneem, en so kry jy ‘n afskuwelike plant wat 50 jaar lank in ‘n afgeslote ruimte leef. Die molm raak egter net meer, en meer, en meer. Soos die berig korrek lui:

    Many are skeptic of this being true and some like Bob Flowerdew (organic gardener) thinks that “It’s wonderful but not for me, thanks. I can’t see the point. I can’t smell it, I can’t eat it.” Shockingly, David Latimer feels the same. Saying that the sealed bottle garden is pretty boring.

    Goed, ek sal toegee Sybella is ‘n tiener en haar brein is nog nie ten volle ontwikkel om te begryp jy moet elke bron benut wat hom by geleentheid voordoen nie.  Maar wat het die grootmense dan gedoen? Belangriker selfs: gaan Sybella dieselfde foute as haar voorgangers maak? Dit lyk my so.

    Slotsom

    Wat ek die meeste geniet het in hierdie roman is die ou 1990’s-sfeer afgeëts op Sunnyside. Die vetterige noedels, die vuilgrys vullisblikke buitekant wat omlê, die walmende rook, die olierige oppervlakke, die byna kuberpunk-hologramme en hierdie restaurant-szene (pp. 1 en 13):

    Die straat is verlate. Hologramnaamborde van daggakafees en avatarklubs flits, die ritme geweerkaats in reënboogpatrone op die nat straat. Vullisblikke staan saamgebondel tussen sakke rommel teen ‘n muur agter my.

    […]

    Die ritmiese techno-musiek, die reuk van groente en pasta en sojavleis in olie gebraai, die flitsende diskobal, die dansende tieners met hulle tatoes.

    Lilith Rox is in haar middel-vyftigs in 2045 (p. 41). Sy is dus, net soos ek, in 1990 gebore. Te jonk vir hierdie goed en is eintlik net suur omdat sy al hierdie pret misgeloop het. Gee die kind tog ‘n stokkielekker.

    Die boek is glo vir 12-14-jariges geskryf, maar ek voel dit is eerder gemik op my ouderdomsgroep as vir die huidige tieners wat in 2007-2009 gebore is. In 2045 beklee ons immers die eksekuteurstoel, of liewer, bevind ons onsself in die beskuldigdebank. Dit voel tog te aardig dat ‘n 17-jarige van die toekoms jou geslag klaar áfslag nog voordat jy ‘n vinger kon verroer het!

    Blykbaar het ons nog nooit van Ecosia se boomplantprojekte gehoor nie (ook nie van die brandstigters wat dit ongedaan maak nie), ons het nog nooit van Israel se suksesverhale met herbebossing gehoor nie, ens. ens. ens. Duidelik het my geslag, Generation Y, niks gedoen om die verwoestyning rondom Pretoria te keer nie (p. 23):

    Daardie deel van Afrika [Kongo] word aanhoudend geteister deur droogtes en oorstromings en veldbrande. Baie mense het uit die res van Afrika na Suid-Afrika gevlug die laaste jare. Nie dat hier nie dieselfde dinge gebeur nie. Groot dele van die land het in semi-woestyn verander. ‘n Mens kan deesdae Karoovetplante pluk net kort buite Brakpan. Dis een van die redes waarom Etswagoli so oorbevolk is.

    As mens tussen die reëls lees, sal ons geslag nooit daaraan dink om desentralisasie toe te pas om oorbevolkte stede teë te werk nie, ten spyte van die internet en e-handel. Tans het Europa (2021) self ontsaglike lang wagbeurte vir huur in die metropolitaanse gebiede. ‘n Mens sou juis ‘n groter uitwyk na die platteland toe verwag het. Waarom in verkeersknope of jou pad deurdruk na die moltrein as jy vanuit jou blommetuin kan werk met ‘n skootrekenaar langs die swembad? Die grond tussen jou tone kan voel? Maar dit gebeur nie! Waar is die inisiatiewe om dit moontlik te maak? Waarom nie ontvolking van die platteland stuit nie? Wat het van ROEP (Red Ons Eie Platteland, gestig deur George Craven) geword wat in die Panorama (Januarie 1987, 42-47) net lof toegeswaai is? En ook deur oud-pres. P.W. Botha sélf bedank is? Hoor net hierdie hartroerende verhaal (bl. 47):

    Mnr. Botha het bygevoeg dat die beleid van desentralisasie ‘n sukses is. In die afgelope jaar het die Regering finansiële aansporing vir 1 243 projekte in Suid-Afrika en in die aanliggende state voorsien. Dit verteenwoordig ‘n kapitaalbelegging van R1 500 miljoen en het 87 000 werkgeleenthede geskep.

    Liewe Boomers, dit spyt my, maar ons gaan alles wat julle deur die jare opgebou het, net so laat lê om te vergaan.

    Nog minder sal ‘n deeltjie van ons geslag ons snobisme staak en die waarheid vierkantig in die oë kyk. Ons gaan ons al hoe meer in ‘n geskepte wêreldjie terugtrek en in ons siel ronddelf, terwyl die dakpanne afwaai. Ons wegkruipertjie-werklikheid sal al hoe minder waarheidsgetrou wees. Ons sal daarbinne ‘n nirwana beleef (met behulp van bietjie walmende papegaaislaai) en daarin rondjol terwyl alle infrastruktuur verkrummel. Dat hulle [ons, ekskuus] van ‘n geslagtelange selfbehepte verbruikersamelewing na ‘n projekgedrewe samelewing sal oorskakel, van inwaarts na uitwaarts sal oorskakel, klink maar bra vêrgesog. Ons nakomelinge sal nie veel beter wees nie.

    Dit staan immers so op skrif.

    Vir die sorgelose tiener bied die boek ontspanning, vir die grootmense is die boek ‘n waarskuwing as jy dit soos Openbaring lees.

    Ek het my doelbewus nie uitgelaat oor die biogenetika en ander tegniese aspekte, soos beskryf deur ‘n dosent in die veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, nie. Dit is bokant my jakkals, doktor Scheepers. Ek glo u sal verstaan.

    Donkerbloed bly vir my ‘n heerlike parodie en ‘n tydsdokument van die Afrikaanse stedelike kultuur soos dit nou is. Iets waaroor ons kan lag, al is dit tragies. Omdat ek nie ‘n tydkapsule het nie, gaan ek die roman in ‘n plastieksakkie verseël teen die vismotte. Want oor 24 jaar gaan iemand hierdie boek oopmaak en geskok wees oor hoe min die samelewing verander het.

    Nee, wag… ons het darem nog 24 jaar tyd.

  • Suidpunt: Afrikaanse wetenskapsfiksie (onderhoud met Machiel Viljoen)

    Suidpunt: Afrikaanse wetenskapsfiksie (onderhoud met Machiel Viljoen)

    Welkom in die toekoms!

    Meneer Machiel Viljoen is die webmeester van Afrifiksie.com, ‘n webwerf, ook ‘n kuierwerf, wat hul beywer vir die uitbou van die Afrikaanse wetenskapsfiksie en fantasie.

    Ek het in 2020 aan hom ‘n paar vrae gestuur, en op Nuwejaarsdag sy vrae terug ontvang. Sommer slaggereed om 2021 op die regte manier aan te pak.

     Vraag 1

    Suidpunt: Ek wil u graag bedank vir hierdie onderhoud, maar ook vir u onderhoud van Afrifiksie.com as webmeester. Dink u daar behoort meer sulke, wel, “bewonderaarsklubs” of eerder “drukgroepe” te wees wat verskeie Afrikaanse genres moet bevorder? Want as mens nie jou mond oopmaak nie, as jy nie oop gesprekke voer nie, as daar geen diskoers is nie, dan kan daar mos onmoontlik nie ontwikkeling wees nie? Ek het op Telegram onlangs met ‘n Belgiese medewerker op Wikipedia gesels, en blykbaar het jy net twéé (2) mense nodig om ‘n organisasie te registreer in “Belgenland”.  Dis ‘n dwarsklap vir die Afrikaanse mentaliteit dat daar ten minste 1 000 mense moet deelneem voor dit ‘n sukses is, en daar ‘n konstante groeiende ledetal moet wees. Eenmanorganisasies het skynbaar groter slaankrag as ‘n reuse-organisasie van 200 000 lede waar één man of vrou in elk geval al die werk moet doen! Dit gebeur maar te dikwels: “ag, iemand anders sal die werk doen, ek is oorbodig”. En so lyk die resultaat as die ander 199 000 ook so begin voel. Ek meen maar as Christen: as ‘n eenmanorganisasie soos OGOD manalleen die hele land se tradisioneel Christen-staatskole op hulle agterpote gehad het, wat kan mens met dieselfde verwoede ywer nie alles uitrig om Afrikaanse kuns en kultuur uit te bou en te bevorder nie?

    Machiel Viljoen:

    Ek sou wetenskapfiksie, in die besonder in Afrikaans, nòg kuns nòg kultuur noem. Behalwe vir een of twee uitsonderings, is die wetenskapfiksie in Afrikaans maar baie ongeslaagd in terme van ‘n literêre bydra. En as mens in ag neem hoe uiters min daarvan oor tyd in Afrikaans die lig gesien het, sou mens dit kwalik as deel van ons kultuur kon sien.  Dis eintlik relatief ongewoon.

    Tog dink ek nie dat Afrikaanse skryfwerk eintlik swaar kry nie.  Daar is baie boeke wat te voorskyn kom, maar dis natuurlik hoofsaaklik in vertakkings wat bekend is vir sukses, soos misdaad, romantiese werke, avontuur, ens.  Maar iets soos ‘n hygroman is self maar redelik seldsaam en die verhale daarin vervat is dikwels so ongeloofwaardig dat dit ook net sowel saam met wetenskapfiksie gegroepeer sou kon word. Die vraag is egter of mens dit moet probeer verander (aanmoedig) aldan nie?

    Ek het nie regtig ‘n sterk mening daaroor nie – ek twyfel of meeste van die vertakkings enigsins hulp nodig sou hê.  Wat wetenskapfiksie anders maak as baie van die ander velde, is die aspek van terminologie.  ‘n Persoon sou die mees verbeeldingryke hygroman kon skryf wat alle grense sou verskuif, sonder dat ‘n enkele woord in Afrikaans sou ontbreek om uitdrukking te gee aan die gebeure wat in die storie verwoord word.  Maar wat van wetenskapfiksie?  Terminologie is ‘n wesentlike probleem.

    Afrikaans beskik oor vele vakwoordeboeke en tegniese woorde bestaan geredelik – maar selfs die erkende korrekte woord is dikwels (veral deesdae) vreemd vir mense omdat dit, basies weens luiheid van Afrikaanse sprekers, in onbruik verval (ten gunste van die Engelse term).  En dan is daar natuurlik nog daardie stel woorde wat nie eers tegnies van aard is nie– woorde wat skrywers van wetenskapfiksie uitdink maar wat bloot fiktief is.  Iets soos ‘n wringenjin uit Star Trek of die denkbeeldige en kwansuis uiters skaars materiaal “unobtainium” uit Avatar – woorde wat nie eers regtig as tegnies bestempel kan word nie want dit bestaan bloot in die wêreld van wetenskapfiksie.  Maar eens dit in Engels (byvoorbeeld) geskep is, sou ons ‘n ooreenstemmende woord in Afrikaans daarvoor benodig indien dieselfde idee in ‘n Afrikaanse verhaal benodig sou word.

    Om die probleem van terminologie te illustreer, vra jouself af hoe ons reg sou kon laat geskied, in Afrikaans, aan iets soos die volgende…

    “Ensign, why did the bulkhead collapse?

    Sir, the warp matrix destabilised causing a flux overload in the plasma conduit that caused a breach in the structural integrity of the containment field.”

    Dis definitief nie onmoontlik om te vertaal nie, maar mens gaan regtig moet sit en mooi daaroor nadink – en dit dan waarskynlik ‘n paar keer oorskryf voor dit in vloeiende Afrikaans leesbaar kan raak op só ‘n manier dat die leser dit nie self drie keer hoef te lees voor hý dit verstaan nie.  En dít, tot ‘n groot mate, het ons genoop om ‘n werf op te slaan.  ‘n Plek waar mense kan aanklop vir hulp en verwysing. En waar daar self skeppend opgetree kan word deur ‘n bydra te maak tot die kleurvolle wêreld van fantastika of tot die taal self deur woorde te toets onder lesers en dalk te vestig.

    Onder Gerhardus Thompson en sy vrou se leiding het die eerste wetenskapfiksiewoordeboek die lig gesien.  Afrifiksie is tans besig om daardie woordeboek te hersien en uit te brei met inagneming van moderne verwikkelinge in die internasionale landskap van die spekulatiewe fiksie genre.

    Die bedoeling van Afrifiksie is nie om ‘n bewonderaarsklub of drukgroep te probeer wees nie, dalk eerder ‘n uithangplek vir entoesiaste en diegene vir wie dié gogga gebyt het – dit het natuurlik ander nut ook.

    Vraag 2

    Suidpunt: Nou gaan ek minder diplomaties wees. Ek is bekend daarmee dat Afrifiksie in die lewe geroep is om onder andere aanvanklik as afsetgebied vir Thompson Boekdrukkery te dien, waarna ‘n gemeenskap daaromheen ontstaan het. Maar toe ek in 2008, dis nou in my matriekjaar, begin soek het na ‘n Suid-Afrikaanse wetenskapsfiksieklub, toe kom ek op SFFSA se webwerf af. Om die minste te sê, ek dink die ontstaan van Afrifiksie is om presies dieselfde geldige rede waarom PEN Afrikaans en PEN South Africa afsonderlik hul ontstaan gekry het. As mens praat van “Suid-Afrikaanse literatuur” word elke teks blykbaar net vir één taal ingepalm. En dis Engels. En basta! Dat daar toe ‘n afsonderlike Afrikaanse webwerf op die been sou kom is vir my nou maar net die noodwendige gevolge. Of dink u Afrifiksie is maar net suiwer desentralisering en spesialisering van ‘n spesifieke taal, by name Afrikaans?

    Machiel Viljoen:

    Ek hoop regtig dat ek die vraag reg verstaan – ek twyfel half.  Dit kom voor of daar ‘n sub-teks is wat ek nie presies insien nie.  Kom ek antwoord so ‘n bietjie in die algemeen.

    Afrifiksie poog nie om die enigste platform te wees in hierdie veld nie.  Ons glo dat ons ‘n plek het in die veld van fantastika, maar ons weet dat ons te klein is om aan álle aspekte van hierdie veld reg te laat geskied – ander wat wil deelneem is dus welkom.

    Ons het byvoorbeeld by geleentheid probeer, as ‘n proefneming, om ‘n oop gesprek te huisves op die Afrifiksie platform vir mense wat met mekaar wil praat en idees wil deel.  Wat ‘n mislukking!  Aanspreeklikheid blyk toe ‘n groot probleem te wees en dit het byna ‘n voltydse polisieman geverg om die gesprek te sensoreer.  So, indien iemand kans sou sien daarvoor om so ‘n gespreksplatform beskikbaar te maak vir dié doel, sou Afrifiksie dit heelhartig ondersteun.  Ons het geen ambisie om ‘n monopolie in hierdie gebied te hê nie.  Maar in dieselfde asem moet ek sê dat ons dinge voortdurend uitbrei, leemtes probeer vul en poog om relevant te bly vir almal wat belang het hierby.

    Vraag 3.1.

    Suidpunt: Afrifiksie se Kompetisie 2020 loop al lank. Dit moet 100 bladsye wees en moes voor 16 Desember 2020 ingelewer wees. Die wenner word einde 2021 aangekondig, nadat die hele paneel elke storie deurgelees het. Nou van die voorwaardes is dan ook:

    Soos altyd in vorige jare moet daar weggebly word van enige Engelse of anglisistiese terme, en die geleentheid moet juis gebruik word om goeie nuutskeppinge te vorm waar goeie Afrikaanse woorde nie bestaan nie.

    Ek weet daar is ‘n wet van die Meders en die Perse êrens in Die Afrikaanse Skryfgids opgeneem dat jy nie twee tale op dieselfde blad mag gebruik nie, omdat dit glo die leser vervreem, maar …

    O, ekskuus, hierbo staan slegs “Engels” en “Anglisismes”. Dis goed so. O, maar wat is dit hierdie:

    Deelnemers moet poog om sterk en oortuigende karakters te bou wat die Afrikaner se karakter en kultuur uitbeeld, met funksionele en praktiese dialoë tussen karakters. Brabbeltaal en uitheemse woorde moet ten alle tye vermy word. (my beklemtoning)

    Ek wil gou eers hierby stilstaan.

    Die Afrikaner dra al so swaar aan die etikette op sy reistassie, ek wonder of hy nog weet wat hy is. Party beskou hom as ‘n geharde pionier, ‘n baanbreker, ‘n wegbereider, ‘n boer. Vir ander is hy half verdierlik, soos op een T-hemp by ‘n informele stalletjie staan: “The toughest breed on earth”, met die beeld van die gelyknamige beesras daarby. Hy was al die dienskneg van sy/haar deurlugtige majesteit van Brittanje, vir die Dertigers die stamgenote van die Hollander en inherent dus by uitbreiding deel van die Groot-Nederlandse gedagte. Vir ander was hy die slagoffer en randeier van die Britse Imperialisme en hovaardigheid. Vir ander, die ekonomiese katalisator sedert 1948. Vir die Marxiste is hy sonder twyfel die onderdrukker, tegelyk die melkkoei en parasiet, die simbool van pynbesorging in die geskiedenis; ‘n las, ‘n steen des aanstoots wat uit die geskiedenisboeke so gou doenlik moet verdwyn. Terwyl die Sestigers probeer uitreik het na die Franse denkrigtings, op ‘n grand tournée in Europa, op soek na ‘n alternatiewe identiteit as wat die Dertigers, Veertigers en Vyftigers (met kontreikuns, dorpsheid, die wrede stad, plaasromans, ens. ens. ens.) hul dit voorgestel het, verwerp die Tagtigers hierdie Eurosentrisme en kruip soos ‘n slak in hul dop weg in ‘n bekrompe wêreldjie; nee, die Afrikaner is net nog ‘n “witboy in Afrika”, met die gevolg dat die letterkunde:

    ‘n sekere elegansie verloor vir ‘n brute en verwarde herwaardering van prioriteit in die Suider-Afrika waarin ons woon. – Jan Rabie, Parys se Sestigers – De Kat, September 1988 (Uit: Buidel. 1989. bl. 52).

     

    Vir gulsige ondernemings is die Afrikaner kleingemaak tot blote onversadigbare konsument, ‘n kontantmasjien sonder identiteit. Vir die groot monistiese mediahuise bestaan die struikelblokbegrip nie eens nie, nee, die Afrikaner moet in die Suid-Afrikaanse massa opgeneem word; dus, poef!, verdwyn. Of, maar bloot ‘n verlengingstuk bly van die reeds gevalle Pax Americana, met Suid-Afrika as die 51ste staat van die Verenigde State van Amerika.

    Vir my is die Afrikaner:

    1)      In wese ‘n Europeër van gees wat hom in Afrika, maar ook dwarsoor die wêreld bevind.

    2)      En is daarom, die wettige erfgenaam en deelgenoot in al die kultuurskatte wat strek vanaf so ver wes as Bjargtangar in Ysland (of Azores, ‘n Portugese Eiland in die Atlantiese Oseaan) tot so ver oos as die Diomede-eiland van Rusland. In die EU alleen praat ons dus van 160 kulture. Rusland het op sy eie 190 kulture. Ons praat dus van 350 kulture en geskiedenisse waarin die Afrikanerdeel het (buiten dié kulture wat in die slag van die geskiedenis ondergegaan het).

    3)      As erfgenaam het hy die volste reg om op hierdie intellektuele kultuurskatte aanspraak te maak.

    4)      Omrede die Afrikaner dus so ingelig in hierdie moderne tyd is, veral nog omdat die Europese tale wortelgeskiet het in Suid-Amerika en Afrika, het hy ‘n veel vollediger en nugterder blik en begrip watter tendense en programme wel geslaagd was en wat nie. Ons praat hier ook van die veelkantigheid van die waarheid.

    5)      Met die allergrootste selfvertroue  is hy dus ‘n tussenganger, ‘n agent, ‘n tussenhandelaar, uitruiler van onontdekte inligting en die wetenskap, wat nietemin lojaal bly aan sy eie mense, taal en kultuur. En juis omdat hy die Europese kultuurgoed, sy erfgoed, waardeer, kan hy ook met nuwe oë na sy eie wêreld rondom hom kyk en geleenthede raaksien.

    6)      Wat, omdat hy te besig is om inligting in te win en veronderstellings te ondersoek, nie tyd het vir goedkoop politiek, halfgebakte waarhede, of storietjies oor dwelmmisbruik op die Kaapse Vlakte wat hom in die eerste plek nie aangaan nie (want die sterre en ideale waarna hy streef is te hoog vir sulke banaliteite), of enige andere vorm van nivellering nie. Dis vir die voëls.

    7)      Soos mens ‘n olieboor in die grond sink, ondersoek die Afrikaner die verskillende strata van ontwikkeling, die verloop van die geskiedenis, om ‘n geheelbeeld te vorm, al moet daar teruggegaan word tot by die troon van die Sumeriese ryk en ander oerbeskawings wat tot niet gegaan het. En natuurlik, die boeke in Afrikaans word heel eerste afgestof en krities benader.

    8)      En wat ravemusiek, kleresmaak en Javakoffie aangaan: oor smaak val daar niks te beredeneer nie.

    Wat is u, of Afrifiksie, se definisie van die Afrikaner? Want dit gaan beslis bepaal watter rigting die verhaalgegewe inslaan.

    Machiel Viljoen:

    Sjoe, wat ‘n vraag…!

    Om te begin, ons weet beide dat daar nog nooit werklik ‘n volledige definisie saamgestel kon word vir ‘n Afrikaner (of Boer) nie.  Die SAUK het al werkswinkels hieroor gehou, met min konsensus.  Maar tog het ons almal ‘n idee van wat dit (in die algemeen) beteken.  En ek stem saam met jou siening van ‘n Europese herkoms, maar wat tog ook ‘n sterk aangepaste identiteit, wat uit ervaringe vanuit ons bestaan hier aan die suidpunt ( ) van die vasteland, op ons ingebrand en afgedwing het.

    Enkele dimensies wat dikwels nagelaat word (dalk nie doelbewus nie) uit die beskouing van ‘n Afrikaner, sluit die volgende elemente in:

    1. Die mense hier is nie bloot eks-Europeërs wat lus was vir ‘n verandering nie, maar ‘n groot gros van hulle het gevlug vir hul geloofsoortuigings en het spesifiek ‘n Calvinistiese tipe protestante geloof saamgebring wat in baie gevalle vir geslagte lankin stand gehou was – en soms steeds word.
    2. Dat mense wat bereid was om te vlug op vaartuie wat dikwels nie hul bestemming sou bereik nie, eerder as om bloot te konformeer of voor te gee, hardkoppige wesens is met sterk sieninge wat nie geredelik in ‘n sjabloon van ‘n samelewing wat eenvormigheid beloon, inpas nie.
    3. Dat die unieke omstandighede van die harde bestaan hier onder op die wêreldkaart, ‘n bestaan geverg het wat telkens slegs die taaistes en vindingrykstes laat slaag het.
    4. Dat die wil om as ‘n unieke groep gereken te word, wat afsonderlik is van dié wat steeds in hul lande van herkoms woon, en ook afsonderlik is van inheemse groepe en totaal ander immigrante-groepe, het al sterker geword en het uitgeloop op ‘n eie taal, onafhanklikheid, weerbaarheid, regering, plaaslike oplossings, ens.
    5. Dat hierdie groep, wat ten spyte van talle onderlinge verskille, tog hulself al hoe meer uitgesonder en afgebaken begin beskou het en ‘n groot klomp gemeenskaplike gewoontes as hul eie begin sien het, hulself begin beskou het as ‘n aparte volk met unieke kultuurbesit wat afsonderlik is van die ander – wat derhalwe hul bestaansreg as unieke volk beklemtoon het.

    Daar is egter geen twyfel dat, waar ons as Afrikaners onsself bevind, ons voortgesette bestaan vanuit verskeie bronne bedreig word.

    1. Vir die doel van dié onderhoud is die vernaamste bedreiging die superstratum wat Engels op Afrikaans verteenwoordig. Afrikaans, meer selfs as baie ander tale, het ongelooflik intieme kontak met Engels weens redes soos die feit dat Suid-Afrika ‘n voormalig Britse kolonie was en dat Engels die koloniale taal was wat nooit afgeskaal het in prominensie nie.Ook dat beide van Germaanse afkoms is en dat sinsbou daarom uiters ooreenstemmend is.
    2. Die toenemend eensydig liberale gedagtegang wat die meeste van die hoofstroom en sosiale media, die universiteite, uitsaaiwese, die rolprentwêreld, drukgroepe, ens. oorheers – wat juis protestante christenskap ondermyn.
    3. Die idealistiese en ietwat utopiese siening dat ons hier as ‘n reënboognasie bestaan wat ‘n kollektief verteenwoordig waarbinne daar nie regtig ruimte toegelaat word (in praktyk) vir die afsonderlike elemente waaruit die reënboog saamgestel is nie.(Bv. my Suid-Afrikaanse bank se internetbankwese is slegs in Engels beskikbaar – 11 amptelike tale se voet…)

    In die lig van dié (en ander soortgelyke) faktore, voel Afrifiksie om bydraes te reguleer deur behoudend (vanuit ‘n tradisioneel Afrikaner-waarde oogpunt) te stipuleer en eerder Afrikaans aktief te probeer bevorder.

    Tog wil ek byvoeg dat hoewel ons dié reëls stel, ons nie een keer die afgelope vier jaar enige bydra gediskwalifiseer het nie – ons probeer slegs sekere tipe inhoud ontmoedig.

    Oor die eerste deel van jou vraag die volgende.  Ons kompetisies vind jaarliks plaas, so mense weet natuurlik van die begin van die jaar af om te gaan kyk na wat die vereistes vir die bepaalde jaar gaan wees.  Die 100 bladsye (min of meer) is die kompetisie vir hierdie jaar, maar dis elke jaar anders.  En dis nie altyd geskrewe skeppings nie.  In die verlede het ons al grafiese kuns, rekenaarspeletjies, grimeerkuns, ens. gehad as kompetisies.  Ons is dus in afwagting om te sien wat dié jaar sal oplewer.  Dis terselfdertyd ‘n proefneming om vas te stel waarvan mense hou en waaraan hulle graag sal deelneem…

    Vraag 3.2.

    Suidpunt: Om nou aan te sluit by die vorige vraag:

    Deelnemers moet poog om sterk en oortuigende karakters te bou wat die Afrikaner se karakter en kultuur uitbeeld, met funksionele en praktiese dialoë tussen karakters. Brabbeltaal en uitheemse woorde moet ten alle tye vermy word. (my beklemtoning)

     

    Goed so. Ek hou ook nie van “power bank” nie, ek verkies “kragkassie”.

    Maar met my definisie hierbo nou in gedagte van die Afrikaner, waarom word ander onskuldige (kuns)tale met dieselfde swaard gestraf as Engels? Hoe kan mens byvoorbeeld wetenskapsfiksie skryf as jy nooit met ander groepe of wesens in aanraking kom nie? ‘n Ruimtewese sal sonder twyfel beswaar maak oor sy taalregte wat in die teks verontagsaam word.

    Hoe skryf ons oor Afrikaners in ‘n vreemde land of tyd? Ek sou dink dit is nie die rustige skink van moerkoffie op die agterstoep nie, maar juis in die vreemde in wat die eie op sy beste benadruk. Wanneer jy op jou eie bene moet staan en sin maak van hierdie “vyandelike omgewing van die vreemde”, dan is jou hele verwysingsraamwerk waarmee jy grootgeword het jou metgesel. Jou enigste metgesel.

    Die Thompsons self was tog in die Verre Ooste? ‘n Mens sou dus byvoorbeeld meer Oosterse bewoording verwag uit hul pen, veral met die stutbalke of iets soortgelyk van die besonderse argitektuur.

    Of mens weet teen dié tyd dinge verloop aansienlik vinniger as jy “xiāngshuǐ”  (reukwater) in die Chinese winkel op jou Afrikaanse dorp beleefd gebruik. En terwyl die winkelier deur sy negosieware rondkrap, sien jy daardie snaakse artefak teen die muur raak…

     

    En hoe gemaak met ‘n Afrikaner wat in Rusland sit? Sekere woorde, soos prof. T.J. Haarhoff al meer bepaald oor Latyn gesê het, is eenvoudig net onvertaalbaar en dan word dit maar leenwoorde of lompe omskrywings.  In Russies tref ons die woord (аврал) “awral” aan. Dit is op sy eie ‘n leenwoord uit die Hollands “overal” (volgens die Russiese Wiktionary) of Engels “overall” (volgens die Russiese Wikipedia) wat ‘n noodkreet op ‘n skip was in krisistyd.  Almal moet dan orals inspring. Nou het die definisie ‘n nuwe bybetekenis: dit is, weens swak ekonomiese beplanning, wanneer daar ‘n tekort of agterstand ontstaan en spesialiste of ‘n taakspan inderhaas nou moet inhaal daarmee.  So ‘n woord het ons eenvoudig nie in Afrikaans/Nederlands of Engels of Duits of Frans nie, en ek weet regtig nie hoe mens so ‘n omvattende begrip kan munt nie. Veral nie ‘n begrip wat presies dieselfde twee betekenisse saamvat soos in Russies nie.

    As mens in die hinterland van Transvaal is, gaan ‘n boorling doer op die platteland ‘n rapsie meer geneig wees om ‘n paar woorde uit ‘n Nguni-taal te leen, veral wat binne ‘n tradisionele kraal gebeur (vergelyk byvoorbeeld wyle H.S. van Blerk se Gotiese boek, Braakland van die Bose). Hier is weer sprake van ‘n lokale kleurtjie. Al sit ek in die Overberg en nies in die winter van die gifgeel kanolalande, is my kop daar êrens in die modderkleihut daar vêr.

    Net so sal die vermaarde argeoloog tog sekerlik nie die geleentheid laat verbygaan om met soveel panache en flair sy Franse of Italiaanse geleerde woordeskat te laat uitwoed om sy kwetterende metgesel op sy neus te laat kyk nie: u moet weet, hy is immers ‘n geleerde man!

    Ander kere, soos dr. Dan Roodt in Moltrein maak (bl. 69-70), praat twee vreemdes in Parys met mekaar in Frans totdat die een sê, “mais je suis sud-africaine, je viens du Cap” en die ander “C’est pas vrai! Moi aussi! Je viens de Pretoria”, gevolg met die vraag: “Jy is nie dalk boonop Afrikaans nie?” Van toe af slaan hul albei in hul moedertaal, Afrikaans, oor.

    Ons gebruik deesdae Google Translate en ander vertaalprogramme soos Reverso.net as ons vreemde tale teenkom.  Persoonlik voel ek dit is nie meer die 1990’s nie. Ek voel eintlik uiters gevlei as ‘n skrywer my met ‘n ander taal onkant betrap, want die boodskap word uitgestuur: “liewe leser, ek het so ‘n hoë dunk van jou, hier is ‘n hele paar eksotiese sinne in [enige Oosterse dialek] vir jou om mee te speel vir ekstra leesplesier”.

    As mens die eksotiese woorde baie, baie spaarsamig en sorgsaam soos speserye sou gebruik (nie te veel nie!), kan mens dan net ‘n voetnota byvoeg? Of ‘n glossarium agter? In Peter Berling se boekie van 1 278 bladsye (Der Schwarze Kelch: Roman) word 64 bladsye afgestaan aan “Anmerkungen”. Ek bedoel nou as mens graag wil begin voorberei vir die volgende kompetisie in 2021?

    Machiel Viljoen:

    Jy maak ‘n goeie punt, Suidpunt – ek kan insien dat dit ‘n teks kan bevorder en selfs optower.  Dit was egter nog nooit ‘n faktor gewees in enige inskrywing nie.  Deelnemers wil nóóit (ons ontvang dikwels navrae juis oor dié saak) ander tale gebruik nie.  Alleen maar Engels.  En dit gaan nooit oor speserye nie, dit gaan áltyd daaroor om ‘n gesprek te laat klink “soos dit daagliks op straat gehoor word sodat die leser makliker daarmee kan assosieer” – asof iemand dink dat mens nie reg sou kon verstaan as dit maar bloot in regte Afrikaans sou wees nie.

    Die ander moontlikheid is dat iemand juis ‘n Engelse karakter in ‘n teks wil voorstel.  In Deon Meyer se onlangse werk, Koors (hy skryf nie veel wat as wetenskapfiksie bestempel kan word nie, en dié een is so op die drempel), is die Engelse teks talle bladsye lank (ek sou raai amper die helfte van die ganse boek).  En natuurlik kan elke Afrikaanse persoon dit lees en verstaan (ek twyfel of elke Engelse persoon dit sou kon lees en dit ook verstaan), maar waarom? In so ‘n soortgelyke Engelse teks, indien die skrywer etlike bladsye sou wou deurgee waar iemand in Russies, Duits of Afrikaans aan die woord sou wees, sou die vreemde taal eenvoudig vir die leser in Engels geskryf word en bloot met aanhalingstekens of in kursief aangedui word – dis immers dan tog ‘n Engelse boek.

    En die Engels voeg min by tot die begrip of konteks van die verhaal of die dialoog.  Tewens, wanneer van die vroeëre Afrikaanse boeke uit die wetenskapfiksieboekeskat gelees word, is dit nie net heerlik om nie ‘n énkele Engelse woord te sien nie, maar verfrissend om te sien hoe skrander die skrywer die taal aangewend het om nie net die idee oor te dra nie maar ook om die leser in staat te stel om die omstandighede te visualiseer.  Baie moderne Afrikaanse skryfwerk onderneem om ‘n Engelse sin, woord-vir-woord na Afrikaans om te skakel – deur nie eens aan die woordorde te torring nie (amper ‘n tipe transliterasie). Ons samelewing het verander in mense wat in Engels dink deur Afrikaanse woorde te gebruik (of wat Afrikaanse woorde gebruik om Engelse sinne meer te vorm) – en hoe jonger die skrywer, hoe meer algemeen raak hierdie verskynsel.  In ‘n gesprek sou dit soms gevra word wat die Afrikaanse woord vir ‘n sekere Engelse woord is – die werklikheid is dat daar dikwels nie ‘n gepaste woord as sodanig is nie, maar eerder dat die sin verander behoort te word om ‘n dienooreenkomstige Afrikaanse weergawe van die Engels te wees.  Hierdie punt kom duidelik na vore wanneer ‘n Engelse teks vergelyk word met een wat deur ‘n vaardige Afrikaanse vertaler oorgesit is – die sinne se konstruksie verskil, en selfs die paragrawe se samestelling sien anders daaruit.

    Daar is ‘n reuse verskil tussen ‘n storie optooi met vreemde woorde of frases hier en daar, en die taal bloot swak en onsuiwer gebruik.  En dis die tweede van dié twee moontlikhede waarteen ons gekant is – nie die eerste nie.

    So, in opsomming sou ek sê dat ons gerus die reëls kan aanpas vir die redes wat jy aanvoer, maar dat dit kwalik ‘n verskil sal maak aan dít wat ons as inskrywings ontvang.  Ons het nog nooit so ‘n geval gehad of eers ‘n navraag daaroor gekry nie.

    Vraag 4

    Suidpunt: Een van die ouer kompetisievoorwaardes is ook:

    Inskrywings wat enige elemente van godslastering en die uitermatige gebruik van skelwoorde en uitgerekte sekstonele bevat sal onderhewig wees aan diskwalifikasie.

     

    En as mens in Frans vloek? Tel dit ook?

    Nou kyk, ek doen al lank navorsing in my vrye tyd oor sensuur en selfsensuur. Ek kan dus verstaan as mens ‘n boek of verhaal toeganklik en geskik wil maak vir ‘n 12-jarige of ‘n 10-jarige. Want wat het die kind anders om te lees? As mens weet wie die teikenleser is, dan weet mens hoe om dubbelsinnig genoeg te skryf om sowel die kind as die volwassene te vermaak.

    Oor die seks: tensy seker in ‘n langdurige voortplantingseksperiment, in ‘n laboratorium, soos tog so oorbekend in van die ontvoerdes se getuienis op ‘n ruimtetuig in Whitley Streber se boek Communion (of, moontlike drogbeelde, of wensdenkery, of verlange, of growwe fantasieë (?) in Elizabeth Klarer se outobiografie), of ‘n relaas oor ‘n robot-gigolo se doen en late, kan ek ook nie insien wat dit eintlik met wetenskapsfiksie uit te waai het nie.

    Tog, mens het seker ook die nodige diskresie hoe ver mens kan skimp en ogies maak. Anders sit jy met twee verstokte houtbeeldjies op ‘n intrige-skaakbord wat net rondgeskuif word. Daar is geen bindende gevoel of emosie nie.

    Maar bewoording het ‘n sekere betekenis en vir elke mens ‘n ander geladenheid of selfs funksionaliteit, dubbelsinnigheid, trippelsinnigheid, veelsinnigheid, en dit raak al hoe moeiliker vir mens om die punt te bereik waar jy sê: “dit is nou heeltemal onfatsoenlik en oorbodig”. As voorbeeld, laser-arsenaal oorgehaal in albei hande:

    “Kom uit daar, jou tweegatjakkals!”

    “Kom uit daar, jou vervlakste maaifoedie!”

    “Kom uit daar, jou wetter!”

    “Kom uit daar, jou satang!”

    “Kom uit daar, jou bliksem!”

    “Kom uit daar, jou donder!”

    “Kom uit daar, jou poeph–!”

    “Kom uit daar, jou moersk—!”

    “Kom uit daar, jou klein k—!”

     

    Elke woord hierbo roep beslis ‘n ander gevoel op.

    Hoe weet die beoordelaars dus waar om die perke te stel? Of, soos gestel word, moet jy maar net die webmeester kontak as jy onseker is?

    Machiel Viljoen:

    Ek skat so, ja.  Die een ding wat jy duidelik uitwys is dat ons reëls ver van volmaak is.  En ek gee toe dat jy op ‘n tegniese vlak korrek is.  Maar in praktyk is dit nie juis iets waarmee ons veel paaie kruis nie.  Mense wil meestal bloot blatante vuil taal inwerk wat ydellike gebruik, anatomiese terme of seksuele terme (waarvan die F-woord met sy vele wisselvorme natuurlik ‘n gunsteling is) behels – onder die vaandel dat dít is hoe mense deesdae praat.

    Baie skurwe tipe woorde laat ons gewoonlik maar deurglip – d.i. woorde uit die weer, algemene skel- en kras woorde, ens.

    Ek vermoed dat ons maar ‘n algemene verbod probeer plaas omdat dit té tegnies raak om presies elke denkbare kras woord en konteks daarvan te probeer definieer. En baie sou argumenteer dat ons onvermoë om dit behoorlik te omskryf beter hanteer sou kon word deur liewer niks hieroor te sê nie en dit eerder aan die skrywer oor te laat.

    Maar uit wat ons tot nou toe gesien het, sou dit eenvoudig lei tot ‘n versameling verhale waarin daar dikwels growwe misbruik voorkom (dikwels sonder enige funksionele nut of waarde – eenvoudig maar om een van die karakters van die ander te onderskei as ‘n vuil bek) of wat só vulgêr of banaal is dat ons dit sal móét sensor – dink nou maar aan neerhalende verwysings na ras of geslagsoriëntasie wat ook maar deel uitmaak van hierdie kwessie.

    In praktyk sou ons egter, in alle waarskynlikheid, al jou voorbeeldsinne hierbo toelaat behalwe altemit die laaste twee…

    Ons bly nou maar van mening dat vuil taal, soos vele ander vergrype, sonde verteenwoordig wat ons nòg kan ondersteun en verdra, en nòg ons naaste kan toelaat om dit te pleeg en ons platform te gebruik as podium om dit ten toon te stel of ander te beïnvloed.  Selfs die openbare uitsaaier skram weg van dié slaggat, en mens moet hard gaan soek na gevalle waar jou laaste twee voorbeeldsinne op RSG gebruik sou word – selfs tydens ure wanneer 10- of 12-jariges nie sou luister nie.  Nou waarom dan inskrywings oor ‘n ander kam skeer?

    Vraag 5

    Suidpunt: Wie dink u is die varke in die verhaal waarom die Afrikaanse wetenskapsfiksie so ‘n stadige opgang beleef het? Ek verskoon onmiddellik die universiteite, want in my tweedejaar (2010) het ons Afrikaanse wetenskapsfiksie as marginale Afrikaanse literatuur behandel. Die voorgeskrewe werk was C.J. Langenhoven se Loeloeraai en “Die Miljardplaatjies” en “Fofelooi is Sjorsjor” deur P.C. Haarhoff. Dus: is dit moontlik die uitgewers, soos Eben van Renen (2012) al genoem het, wat so uit pas met die leserspubliek se smaak is, die lesers se intellek onderskat, of volgens ‘n bepaalde doktrine moet werk, of so winsgedrewe is om die “laagste gemene deler” (middelmootliteratuur) te soek om die grootste omvang geld in te oes, dat hul selfs die manuskrip van ‘n fantasieskrif soos Harry Potter sou afgekeur het? As dit waar is, lê daar nog hoeveel goeie manuskripte daarbuite wat ons eintlik ontsê is.

    Machiel Viljoen:

    Ek wonder of daar ooit ‘n vark is – ek dink nie eintlik so nie.  Ek dink bloot dat ons (die Afrikaanse diaspora van die Europeërs) onsself nooit werklik deel gevoel het van die ruimtewedloop wat die Verenigde State en die Sowjetunie meegesleur het en wetenskapfiksie daar laat ontplof het nie.  Hier het dit nooit regtig ‘n vername veld geword nie – nie vir skrywers of lesers nie.  Op dieselfde noot, daar is baie min belangstelling by ons Afrikaanses in die veld van superhelde – ons het maar enkele voorbeelde daarvan. Weereens, dis bloot maar (histories) iets wat in die VSA en Japan gebloei het.

    Wetenskapfiksie in Afrikaans was nog nooit (onlangs) iets wat besonder winsgewend was nie.  Amper sonder uitsondering is die skeppers van Afrikaanse wetenskapfiksie bloot entoesiaste wat graag wil deelneem of iets nalaat – hulle is ook gewoonlik amateurskrywers sonder enige opleiding of ervaring in skryfkuns. Kommersiële skrywers vind nie juis wetenskapfiksie ‘n besonder winsgewende vertakking nie, en probeer soms hul hand een of twee keer daarin en fokus dan liewer op ander moontlikhede.

    Maar is dit verkeerd?  Móét Suid-Afrika byvoorbeeld ‘n internasionale bofbal- of yshokkiespan hê wat ons internasionaal kan verteenwoordig, of is dit aanvaarbaar dat enkele skole dit speel en dat dit nie op provinsiale of nasionale vlak bedryf word nie.  Is dit nie maar ‘n geval dat dit bloot die verbeelding van enkeles aangryp wat dan daarby inval nie?  Dalk verteenwoordig wetenskapfiksie bloot maar ‘n breukdeel van die verbeelding van die Afrikaner-samelewing.  Deesdae is daar so baie Engelse wetenskapfiksie (Sci-Fi, Syfy, SF), dat diegene wat daarvan hou dit bloot in Engels lees (want hul kan), en dit sou ‘n daadwerklike poging verg (meer nog as in enige ander vorm van fiksie) om bekwaam te raak in die lees of skryf van sodanige materiaal.

    Ek wens dit was anders, maar die koers waarteen Afrikaanse wetenskapfiksie geskryf word lyk min of meer konstant sedert die ontstaan daarvan – en dit bly ‘n klein deel van die totale aantal gepubliseerde Afrikaanse werke wat oor daardie tyd die lig gesien het. Waarom dan ‘n tipe eugenese toepas om die psige van die Afrikaner te probeer wysig?

    Vraag 6

    Of is dit die lesers wat die varke in die verhaal is? Is die Afrikaanse leser nog nie gesofistikeerd genoeg nie? Die onmiddellike vraag is dan: wanneer gaan dit dan nou eendag regkom?! Dis al 96 jaar sedert Afrikaans erkenning geniet. Of moet ons gelate aanvaar:

    “Maar ‘n volk leer stadiger as ‘n enkeling.” – P.C. Schoonees, Rondom die Woordeboek, 1958, bl. 84.

    Kyk, jy kry mos die mens wat op ‘n fossiel sal afkom (wel, diegene wat nie oopoë daaroor sou struikel nie), afbuk, dit optel, en bloot êrens op ‘n boekrak vir die mooiheid staanmaak om stof te vergader.  Soos die res van sy boeke. Dit is net nog ‘n versamelaarsitem. Hoeveel mense sal ‘n fossielkenner aan die universiteit kontak, ‘n foto of twee stuur, verwys word na ‘n deskundige, om uiteindelik die naam “Australocoelia tourteloti” te wete te kom? En daarna, met die prikkelende nuutverworwe kennis (want die naam ‘Australocoelia’ beteken min of meer Suiderhemel in Nieulatyn) – sal hierdie persoon na https://paleobiodb.org/navigator/ gaan, die einste ‘Australocoelia’ intik, en dan met ‘n skok besef: “Magtig! Hierdie groep is nie alleen in die Karoo, Knysna en Worcester te kry nie, maar daar is ook spore in Suid-Amerika. Die kontinente was een: nog ‘n puntjie vir Alfred Wegener!”. Opeens is daardie stuk nuttelose, nietige, brose brokkie aarde met skulppatrone op in sy kleinigheid van groot en besonder diepe betekenis.  Vastelande word verbind waar telefoonpale oor oseane nie meer kan nie. Daar is ‘n oergeskiedenis wat nou oor onbekende kontinente strek waar ewe onbekende tale en volke vandag wemel en maal. Die wêreld word rond, van soveel verskeidenheid, as maar net die stuk grond aan die voet van die berge waar die ding opgetel is. Die wêreld is skielik groot! So wyd gespan soos die hele sterbesaaide gewelf van die nagtelike suiderhemel…

    Maar vir die leek bly dit net ‘n mooi klip. En dis al wat hy sal bly.

    As mens Martie Preller se boek Hart van Zeebak (2004) lees, en jy kyk na van die ou resensies in die hoofstroomkoerante uit die jaar 2005, dan is dit vir my so duidelik soos daglig dat niemand nog kon insien die teks brul Jungiaanse sielkunde nie. Want die agtergrond is net nie daar nie. Niemand het skynbaar Preller se ander werke of haar kommentaar of skryfgids bekyk nie. En dus kry die boek ‘n swak of middelmatige punt. Mense lees goed te letterlik en kan die boek dus nie na waarde skat of beoordeel nie.  Moet die skrywer dan nou maar ‘n “bylaag” elke keer agterna begin byvoeg vir die onleerbare leke? Dis tog wat Preller gedoen het met In die tyd van die Esob – ‘n Gids (2000) vir haar Sanlam-pryswenner van 1996. Of moet mens so skryf dat die teks steurend “didakties” voorkom, soos daar al van Langenhoven se Loeloeraai gesê is? Of bied wetenskapsfiksie juis die geleentheid vir mense vanaf kleintyd om werklik te leer wat “uitlegkunde”/”hermeneutiek” beteken?

    Machiel Viljoen:

    Ek het nie die vrae vooruit gelees nie (ek antwoord hulle een-een soos ek afbeweeg), so ek sien ek het al gedeeltelik hieraan geraak in die antwoord op die vorige vraag – en in die eerste vraag.  Nietemin, ek dink dis wensdenkery om te dink dat mense (op groot skaal) die moeite sal doen om die nodige woordeskat aan te leer om ‘n vertakking van letterkunde te benut wanneer daardie mense reeds toegerus is om dit in Engels te lees waar daar ‘n feitlik onuitputbare bron beskikbaar is.

    Wat egter wel verstommend geslaagd is, is wanneer die skrywer algaande die nodige nuwe terme in die teks invoer deur dit telkens aan die leser uit te lê deur is stukkie dialoog of beskrywing – soortgelyk aan hoe nuwe karakters of unieke omgewings in ‘n verhaal ingevoer word.  Die skrywer moet dus nie die nuwe woord (tensy dit ooglopend bekend is) net begin gebruik asof dit maar net soos elke ander Afrikaanse woord is nie, maar dit uitlê deur van ‘n geskikte letterkundige metode gebruik te maak.

    Ek dink dis juis waarom gewone skrywers en hul tegnieke nie sondermeer sukses met wetenskapfiksie het nie – die aanslag moet anders wees, en dit verg oefening om vaardig te raak daarmee sodat dit nie vir die leser geforseerd voorkom nie.

    Vraag 7

    Suidpunt: Dan ook – is die skrywers nie dikwels maar self aandadig aan die ondergrawing van die Afrikaanse wetenskapsfiksie nie? Van die produkte wat deur van die uitgewers se drukkers gestoot is was dikwels net ‘n maklike storietjie vir ‘n maklike geldjie. Die verhaal is so yl, dit word met onsinnige woordekraam ‘n sware miskraam. En woeps! In die drom. Dit was een boek te veel. Dit word later die een teleurstelling na die ander, beskuldigings van uitbuiting, Boereverneukery, volksverraad, en so kry die genre, en weer eens Afrikaans in sy geheel, net nog ‘n lelike klad op sy naam.

    Machiel Viljoen:

    Dalk is jy reg.  Ek sien die saak egter anders.  Baie skrywers in dié veld droom nie van geld of rykdom nie.  Dis dikwels maar ‘n entoesias wat ‘n storie in sy kop het wat hy graag wil deel.  En met die nuwe verwikkelinge soos e-boeke, selfuitgewery, ens. raak dit al makliker om ‘n storie voort te bring en te deel. Maar, omdat dit nie meer deur ‘n groot uitgewery gaan nie, is die hersiening en verbetering van die produk dikwels maar treurig.  Ek dink die meeste mense besef nie hoe belangrik dit is om iets te laat proeflees en verbeter nie – jy moes eers ‘n slag daardeur gegaan het om die waarde daarvan in te sien. John Coetzee het my ‘n kykie agter die skerms van sy wêreld gegee deur my stap-vir-stap deur ‘n behoorlike proses van “boekmaak” te vat.  En spesifiek dít, die herhaaldelike iterasies van nasien en verbetering, is waarom die skrywer uiteindelik maar ‘n klein persentasie (tipies minder as 10%) van die verkope in sy eie sak kry – want die uitgewery het reeds so ongelooflik baie ure in die skrywer se skepping belê deur hul eie personeel aan te wend om die gehalte van die werk te poets en te verbeter tot ‘n produk wat hul eie naam nie skade sal aandoen nie.

    Maar sou ons eerder wou hê dat die bydra liewer glad nie bestaan het nie?  Is geen boek beter as ‘n swak boek? Hoewel sekere bydraes veel te wense oorlaat, deel dit dikwels tog ‘n interessante storie-idee of interessante konsepte as elemente van die skepping wat as artefakte deur ander skrywers gebruik of uitgebou kan word.  Dit voel vir my dat ‘n mens soveel moontlik moet aanmoedig aan die produksiekant en versigtig te werk moet gaan aan die kritiek en filterkant van die produksielyn.  Baie kritiek, hoe edel ook al die bedoeling, gee dikwels aanleiding tot ‘n algehele staking in deelname – en dít is altyd ‘n tragedie, siende dat daar in elk geval so min is wat hoegenaamd ‘n poging aanwend om by te dra.

    Vraag 8

    Suidpunt: Wat sou u sê sal die groot deurbraak in Afrikaanse wetenskapsfiksie weer oplewer soos met dr. P.C. Haarhoff in die 1970’s-1980’s? Goed, hy was ingenieur van beroep en ‘n hoëkop daarby. Daar moet seker karakterontwikkeling wees (en daarom moet jou aantal karakters so min moontlik wees), daar moet ‘n deeglike intrige wees, daar moet aksie wees, daar moet humor wees, daar moet ‘n duidelike mikpunt/doelstelling wees waarna gestreef of op afgepyl of op afgestuur word. En verder is daar die ou spreekwoord: rem tene, verba sequentur (ken jou storie, en die woorde volg [vanself]).

    Ek sou egter meer wil hê: as ‘n wetenskapsfiksieboek geen filosofie as stramien of onderbou het nie, dan is dit vir my ‘n storie oor ‘n buitjie reën. Het Afrikaanse wetenskapsfiksie sulke filosofie al opgelewer? Ja, dit het. Ongesiens, ja. Ek weet nie hoe uniek dit is nie, maar dit het ‘n onuitwisbare indruk op my gelaat.

    Planeet Malustra (Juan Sabie, 1981) skets ‘n samelewing waarheen aardlinge teen hul wil uit Australië ontvoer word (16 Junie 1979). Daar aangekom op Malustra, kom die aardlinge so ‘n beskaafde en uitgestrykte leefwêreld (waar alles elke keer perfek en seepglad verloop) teë dat hul net nie daarby kan aanpas nie. Onder andere, vir die geringste knik in die skedule of gedagteonderbreking hap hulle na mekaar. Ook voel hulle alles bekom hulle net te maklik, hulle wil ‘n stryd “vir” iets voer, hulle wil voel wat hul verkry moet met meriete verdien word. Om dit eenvoudig te stel: hulle voel te onbeskaafd en onwaardig in die nuwe wêreld.

    Dis ‘n filosofie wat mens lank laat nadink. Baie lank laat nadink en herkou. Want waarvoor leef ons dan? Tog om ‘n makliker, skoner, beter en doeltreffender leefwêreld agter te laat vir ons opvolgers en nakomelinge, natuurlik. En dan, as die mens uiteindelik nou hierdie hipotetiese volmaaktheid bereik het? Dan lyk die nageboorte soos die deursnit twitterati: uitgevrete, ongeletterde, onbeskaafde lummels, altyd nors, altyd suur, altyd kwaad, altyd ontevrede, altyd onvergenoegd, altyd aan die skel en kyf, altyd aan die beledig, altyd aan die skoorsoek, altyd sonder ‘n lewe, sonder ‘n doel en boonop ongoddelik lui, leeg en bedorwe… dit is dan wanneer jy besef Juan Sabie was vir sy tyd heeltemal in die kol!

    Machiel Viljoen:

    Sjoe – Planeet Malustra was my heel eerste wetenskapfiksieboek wat ek ooit in Afrikaans gelees het. Ek het dit in die veld opgetel waar iemand ‘n spul boeke weggegooi het en dié boekie was tussenin.  Wat ‘n plesier.  Wie sê morsjorse is ‘n euwel?

    Ja, Suidpunt, ek stem só volledig saam met jou.  En dis gedeeltelik juis dít waarom ons hierdie jaar besluit het op ‘n novelle as kompetisie – sodat ook juis dít ontwikkel kan word.  ‘n Kortverhaal is ongelukkig, wel, kort.  En baie deelnemers het in elk geval nooit verstaan dat ‘n kortverhaal nie bloot ‘n précis van ‘n langer storie is nie, maar ‘n unieke letterkundetipe in eie reg.  Meestal wil deelnemers bloot maar ‘n kort storietjie skryf teen ‘n wetenskapfiksie agtergrond – en dis tog duidelik nie die doel nie.  Só, kom ons gee ‘n bietjie meer ruimte vir denke, karakterontwikkeling – en hopelik filosofie…

    Ek moet darem net ook sê, dat hoewel filosofie heerlik is om teë te kom, daar darem wel soms ‘n blote vermaaklikheidswaarde is wat ook uiters bevredigend kan wees – dink maar aan die Engelse werke van Adams en Pratchett onderskeidelik.  Of lees die hoogs vermaaklike boek van Pieter Verwey, Clint Eastwood van Wyk en die Moordenaarsklok – uitnemend goed (al is die taalsuiwerheid voorwaar ‘n jammerte).

    Vraag 9

    Suidpunt: Gepraat daarvan. Te midde van die oumensies wat almal afskaal of afsterwe en hul erfstukke vir ons los op Gumtree, BidorBuy, Kakkerlak, Facebook en ander tweedehandse vlooimarkte vir ‘n Reliek-Raap… pla iets my. Geweldig. Dit is nou al algemene kennis dat die Renaissance moontlik gemaak is omdat die akademici in die Weste tekste uit Arabies vertaal het; eers deur die logika in die klaskamer beredeneer en toe maar later op ekspedisies gegaan om die waarheid tussen die stof en puinhope met ‘n kwassie af te poets. Afgesien van die oorloë en stamgevegte, moord en brand in die Middeleeue, het die papier in die nat en vogtige weer ook nie juis ‘n ewigheid gehou nie.

    In Blik op die Middeleeue (bl. 208) staan uit die hand van J.H. Potgieter geskryf:

    Alhoewel die Arabiere geen geniale innoveerders op kulturele gebied was nie, was hulle die erfgename van die ou beskawings wat in Mesopotamië en Egipte en ook aan die oostelike strande van die Middellandse See bestaan het. Na hulle militêre verowerings van hierdie gebiede neem hulle die belangrikste kenmerke van hierdie ou kulture op, verwerk dit en deur middel van die Arabiese taal bewaar hulle dit vir die geslagte wat sou kom.

    Wat my egter interesseer, afgesien van die Keiser van Mongolië wat Bagdad se biblioteke laat afbrand het en niemand, maar niemand weer gepoog het om ‘n biblioteek op te bou of in ere te herstel nie, is dit die hiërogliewe wat vir eeue aaneen onvertaald gebly het totdat ‘n Fransman, dis nou onse heer J.F. Champollion, opgedaag het.

    Dink u in: vir eeue, nee, millennia lank bly daar mense rondom die Nyldelta. Maar nee, dis Pierre Francois-Xavier Bouchards wat in 1799 hierdie Rosettasteen aan die lig bring, Champollion was toe maar 9 jaar oud, maar het reeds Grieks en Latyn op daardie ouderdom baasgeraak om Homerus en Vergilius te lees. Op 19-jarige ouderdom ken hy Persies, Ethiopies, Sanskrit, Zend, Pahlavi en Arabies. Só lyk ‘n wêreld sonder nivellerende Uitkomsgebaseerde Onderwys wat genii se geesdrif temper. Op dieselfde ouderdom werk hy aan sy eerste Koptiese woordeboek (Kopties is ‘n afstammeling van Oeregipties). En dit was met die laasgenoemde taal waarmee hy die hiërogliewe ontsyfer het. ‘n Lewende wonderwerk! Die volledige Franse teks kry mens hier (1828).

    Maar vir my gaan dit daaroor: wat de duiwel het die afgelope duisende jare dan gebeur? Hoe kon die kennis van hiërogliewe so maklik in die vergeetboek geraak het? Dat niemand belangstelling getoon het nie? Dat niemand die Rosettasteen vroeër ontdek het nie? Dat niemand uit die puin van vorige brande en aardbewings probeer red het wat daar nog te redde was nie? Dat niemand gedink het: “watter kennis kan ons uit die Farao’s se grafkelders te wete kom?”

    En dit bring ons by Afrikaans vandag. Met al bogenoemde in gedagte, het u ‘n greintjie vertroue in die Afrikaanse jeug om Afrikaans eendag verder uit te bou? Of te herontdek? Of dink u die werk, geesdrif en chronologie van Afrifiksie vergoed klaar hiervoor?

    Machiel Viljoen:

    Nee, ongelukkig is Afrifiksie nie ‘n piramiede nie – dit sal nie bly staan nie – dit weet ons beide.  Dis ‘n verskynsel in tyd – uitgedink en geïmplementeer deur enkelinge wat toevallig gebore is tydens die ruimteprogram en wat nooit groot geword het nie. Wat ‘n nis deel in belangstelling en wat pro-Afrikaans, pro-Afrikaner en pro-Boer is, en tog nie spesifiek anti-ander is nie.  Wat ‘n behoudende siening deel wat geanker is in die protestante geloof en volkstrots.  Wat graag droom maar nie liggelowig is en dít wat die hoofstroom aanbied sondermeer aanvaar nie, maar agterdogtig is oor die kontemporêre agenda – wat egter tog nie toelaat dat die werklikhede van ons bestaan inmeng met ‘n goeie verbeeldingsvlug nie.

    Kan die jeug gered word, ten minste in terme van Afrikaans?  Goeie vraag.  Almal sukkel hiermee, die Franse, Russe, Afrika-tale – en definitief Afrikaans.  Engels is eenvoudig só dominant dat al die ander daaronder ly. Frans en Russies is inherent meer immuun hierteen – hoewel hul Engelse woorde assimileer laat hul Latynse of Slawiese sinsbou (onder andere) nie regtig toe dat die sin self Engels naboots nie.  Die opname van Engelse woorde is hoofsaaklik beperk tot selfstandige naamwoorde siende dat die naamvalle van bv. werkwoorde, bywoorde en byvoeglike naamwoorde nie juis toelaat om die gebruik daarvan te verengels nie.

    Die Germaanse tale daarenteen is eenvoudig té soortgelyk en leen hulself by uitnemendheid daartoe om enige Engelse woord direk in (byvoorbeeld) ‘n Afrikaanse woord te vervang sonder dat die betekenis van die sin diepvreemd of onverstaanbaar raak.

    Tans sien ek die bedreiging van Afrikaans op twee fronte.  Die eerste is die versuim van die aanwending van Afrikaans vir hoër funksies soos akademiese, professionele en vak-spesifieke gebruik gepaardgaande met die realiteit dat dit toenemend nie meer as besigheidstaaldeur talle instansies aanvaar word nie – dink sommer aan etikette van produkte op ‘n winkelrak.  In die tweede plek is dit ‘n gevaarteken wanneer die gebruikers van die taal (veral die jongeres) nie meer idiomaties praat nie.  Wanneer my kinders vroeëre Afrikaanse wetenskapfiksie lees kom dit telkens na vore dat hul oor ‘n tipiese Afrikaanse uitdrukking, spreekwoord of idioom struikel alvorens dit aan hul verduidelik word. Die gevaar is nie bloot in terme van begrip nie, maar ook dat nuwe uitdrukkings (ens.) nie meer gevorm en tot die taal toegevoeg word nie – ‘n teken van agteruitgang.

    Ek dink dit sal ‘n wonderwerk verg vir ons jeug om hierdie golf teë te werk, veral waar daar geen nasionale poging vir daardie doel bestaan nie – maar ek glo in wonderwerke, en die meeste van die Afrifiksie-gemeenskap glo ook daarin (ons het ‘n opname gemaak 🙂 ).  Glo en hoop – en ons elkeen moet doen wat ons kan…

    Vraag 10

    Suidpunt: Met die uitsondering van C.J. Langenhoven se Loeloeraai wat veral vir die gebruik op universiteit herdruk is, lyk dit nie of daar enige nuwe lewe in ou tekste geblaas word nie, hoewel ek hoop Protea Boeke sal eendag werk daarvan maak. Daardie ou tekste, uitgelewer aan die elemente, sal met verloop van tyd skaaf, skif, verkrummel, verpoeier en vergaan. Dus, moet mens maar ‘n rakkie by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns reserveer en inrig waarop elke liewe kopie van Afrikaanse wetenskapsfiksie kan staan? Of moet mens, kompleet soos die monnike van ouds by Nag Hammadi in Egipte, ‘n reuse uitgevoerde erdepot vat en die Afrikaanse boeke diep in die vogvrye Karoo gaan begrawe? ‘n Soort tydkapsule? Vir ‘n duisend jaar om te verloop totdat ‘n bokwagtertjie hopelik per ongeluk, en heel toevallig, die eerste pot met ‘n knal stukkend gooi?

    Machiel Viljoen:

    Dalk.  Maar ek wonder of dit gered hoef te word indien Afrikaans self te gronde sou gaan.  As vertaalde werke sal die meeste daarvan nie ‘n skouspelagtige toevoeging maak tot die internasionale skat van wetenskapfiksie nie.  Daar is hordes meer Engelse wetenskapfiksie wat self deur tyd uitgewis gaan word omdat ander Engelse werke dit eenvoudig oorskadu.

    Hierdie werke (waarna jy verwys) bestaan vir die Afrikaner – dis ons skat.  As die Afrikaner nie meer is nie, is dié werke waarskynlik ewe irrelevant.

    Hopelik gebeur die teenoorgestelde: die Afrikaner floreer en sy taal word ‘n onafskeidbare aspek van hom waarin sy skrywers talle fantastiese verhale skryf wat saam met ander tale s’n op die rak kan staan – straks ‘n hoër rak, wie weet.  Wetenskapfiksie is niks sonder drome en verbeelding nie…

    Vraag 11

    Suidpunt: Skep wetenskapsfiksie na u mening nie soms valse verwagtinge nie? In Agon en die donker planeet – John Coetzee (1993) kom ons nou wel ‘n draagbare kamerafoon teë (in die boek wel ‘n bonkige “videofoon” genoem; bl. 54), maar dis amper 2025 en ‘n boek van Dorling Kindersley uit my kinderdae het my hand en mond belowe ons sal binnekort stuurlose motors hê en ‘n robot in elke huis. Ek sleep egter nog steeds die 1850 W Electrolux agter my aan wanneer ek stofsuig; op sekere gebiede het die tegnologie selfs stagneer. Maar wag u nie self ook al reeds ‘n klein ewigheid op ‘n stralerpak nie?

    Machiel Viljoen:

    Kom ek gee twee antwoorde, dan kies jy self watter een die meeste met jou praat…

    Antwoord 1:

    Baie van die tegnologie staan inderdaad stil, veral in terme van meganika.  Tans, anders as 25 jaar gelede, bestaan daar nie meer ‘n supersoniese passasiersvliegtuig nie.

    Op ander gebiede gaan dinge werklik vinnig vooruit –nanotegnologie, nuwe materiale, genetika, digitale produkte en dienste, hommeltuie, ens.

    My huis het kameras en ek hou vergaderings oor ‘n rekenaarnetwerk waar ons mekaar kan sien, ‘n swartbord kan deel en ‘n aanbieding gedoen kan word.  ‘n Slimfoon herken sy gebruiker deur sy eienaar se gesig te eien en weier toegang vir ander wat poog om dit te gebruik.  My vriend kuier (weens COVID) met sy vriende elke Woensdagaand oor ‘n netwerk en speel ‘n vasvra speletjie – en drink afsonderlik elkeen ‘n glasie wyn.

    En dan is daar die planne van Musk – ‘n kolonie op Mars en nog wat.

    Om nie te praat van die nuwe wapentuig wat jou laat sidder nie. Eksoskelette, robotkrygers, swerms hommeltuie, hipersoniese missiele, ens.

    Miskien het wetenskapfiksie en die werklikheid bloot verskillende roetes gekies by ‘n vurk in die pad…

    Antwoord 2:

    Verloop dinge (die ontwikkeling en pad wat die wêreld tans inslaan) op hul eie koers sodat dinge spontaan gebeur bloot volgens vordering wat dit vooraf gegaan het?  Of word die hele affêre in ‘n spesifieke rigting gestuur?

    Waarom sou ‘n mens in die eerste plek ‘n robot wou hê?  Is dit nie maar bloot om jou te dien of iets vir jou te doen nie?

    Maar wat daarvan as jý die robot is?  Is ons nie besig om, soos ‘n robot, iemand anders te dien nie?  Maar wat sou iemand wou hê dat ek vir hom moet doen?  Dalk sou hy graag wou hê dat ek vir hom geld moet gee.  Of dalk vir hom moet stem.

    Om mý as ‘n robot te gebruik sou hulle my moes kon programmeer (of beheer) om vir my instruksies te gee – ‘n beheerstelsel.  Maar is dit nie reeds hier nie?  Is die sosiale media, gedryf deur my rekenaar, vriende en slimfoon, nie presies dít nie?

    Ek het Swart-Vrydag ‘n paar goedjies aangeskaf wat ek andersins nie sou doen nie.  Drie jaar terug het ek nie eers geweet van Swart-Vrydag nie, maar dié jaar het hul robotjie in die ry gaan staan met sy maskertjie en geldjies oorhandig.

    Wetenskapfiksie skep nie valse verwagtinge nie, dit strek eenvoudig nie wyd genoeg nie – en dit het ‘n totaal ander uitgangspunt, naamlik dat die wêreld ‘n vrywillige gedoente is wat aan homself oorgelaat is om te ontvou soos dit wil.  Wetenskapfiksie is dalk ‘n bietjie naïef. Ons is dalk eerder besig met 1984 van Orwell…

    Vraag 12

    Suidpunt: Weet u, toe ek ‘n tiener was, het ek gereeld reklameboekies van Nokia-selfone versamel.  Ek kon vir dae lank net dagdroom hoe lekker dit moet wees om een van hierdie mooi skeppings te besit. Veral die Nokia 7610 het my mond laat water. En nou? Toe ek voor Erfenisdag hierdie jaar ‘n Samsung A10s koop, besef ek met die grootste verbystering hy kan meer as al my droomfone saam doen. Al my tienerdrome is nou daarmee heen! Dit was pure verniet! Maar wat sou u in die toekoms graag meer wil sien verder ontwikkel? Ek bedoel nou iets soos ‘n hommetuigtaxi, byvoorbeeld? Ek staan klaar in verwondering oor Google Lens waar jy jou foon oor ‘n vreemde taal soos ‘n vergrootglas hou, en dit vertaal die woorde sommer daar en dan: ‘n ruim verbetering as mens ‘n taal met ‘n ingewikkelde skryfstelsel soos byvoorbeeld Chinees wil leer.

    Machiel Viljoen:

    Ek is ‘n ingenieur van beroep, so tegnologie en ons interaksie daarmee lê na aan my hart – ek sal graag ‘n gedagte of twee met jou hieroor wil deel.

    Waarom sou ons wou weet wat in Sjinees geskryf is?  Haal dit nie juis die geheimenis uit die lewe nie?  Of om virtueel ‘n plek te besoek – wat is die nut daarvan?  ‘n Speletjie waar ek as held die hart (en liggaam) van die begeerlikste seksgodin verower, sonder dat ek iemand het wat saam met my ‘n onbekende plek kan besoek, saam met my die ure op die lughawe verwyl en saam die moltreinstelsel van Moskou probeer ontsyfer terwyl ek met die bombastiese persoon in die kaartjiekantoor probeer redekawel, is hol en leeg.

    Ons leef tans in ‘n tyd waar kennis en inligting ons hoogste vorm van vermaak geword het.  Daar is ‘n video oor net mooi elke saak gemaak – gereed vir my om te verslind.  Maar is dit bloot kennis, of is dit kennis wat verpak is in die perspektief van die persoon wat dit saamgestel het?  Is die kennis neutraal of is dit terselfdertyd ook eintlik propaganda?  En bestaan dit ooit uit feite of is dit hoofsaaklik persepsies met ‘n selektiewe feit hier en daar as garnering in die slaai van misinformasie?

    Mý droom, as antwoord op jou vraag, is as volg.  Ek sou graag ‘n wêrelddeel wou sien wat só afgesonder is, dat niemand ooit ‘n kiekie daarvan vir ‘n ander kan wys of ‘n video daarvan kan (of mag) maak nie.  ‘n Plek waarvan iemand jou persóónlik (in die vlees) moet vertel of wat jy persoonlik (fisies) self moet besoek. Waar die tegnologie só geslote is dat dit nie met enige van ons s’n versoenbaar is nie.  Waar jy die taal (of woorde daarvan) moet leer om daar jou eie weg te vind, want ons vertalers kan dit nie vertaal of die skrif daarvan ontsyfer nie.  Waar jou reis dus ‘n avontuur is met interessante kos, mense, plekke, ervarings en dinge waarvan jy ander self sal moet vertel wanneer jy terug kom – sonder dat jy vir hulle iets daarvan kan wys (of hulle vir jou).

    Baie van ons huidige tegnologie vernietig die inherente geheimenis wat die wêreld vanmelee ingehou het – nes die skok wanneer kinders besef daar is nie feë of ‘n Kersvader nie.  Waarom sou ons alles wat noodsaaklik is om self (in persoon) te leef, reis, ervaar en ontdek, wou laat verdamp sodat ek dit op my foon kan sien en beleef deur ‘n ander se menings en perspektiewe.

    Tegnologie moet ons lewens vergemaklik, maar dit mag nooit die misterie of die avontuur daaruit verdryf nie – min van ons kry dit reg om hierdie onderskeid te maak.  Almal is so ongelooflik ingelig deesdae, oor net mooi enigiets, dat die meeste dink hul kan (en behoort) daarom ‘n mening daaroor te hê wat met ander gedeel moet word.  Die delusie is so algeheel dat hul nie eens oorweging daaraan skenk om self eers ‘n paar boeke daaroor te soek en te lees nie, en asseblief tog net nie iemand te gaan opsoek wat daarvan weet en hulle daaroor uitvra nie.  Alles moet met Google (soekenjin, kaarte, vertaler, ens.), Wikipedia of YouTube ontrafel word.  Gesprekke word gereduseer tot tekste op WhatsApp en Twitter en jy hoef my nie persoonlik te leer ken nie want jy ken my reeds deur Facebook, Instagram, ens.  In plaas van verbeter, takel tegnologie ons lewens, ervarings en verhoudings af.

    In plaas van ophef en verbeter sal tegnologie ons ervaring van die lewe eerder verdun, afwater of besoedel – en ons boonop oortuig dat ons beter daaraan toe is as gevolg daarvan.

    Om met my motor op te styg en werk toe te vlieg is ‘n ongelooflike droom, maar om dit op my televisie, slimfoon of 3D-bril na te boots, is eintlik net ‘n lokval waarin baie trap.  Dis die eiland van die Lotus-eters waar Odusseusse soldate wou gaan rus het en dit toe nie weer wou verlaat nie.  Ons tegnologiese toekoms lê in die werklike avontuur van verkenning en ervaring van ons wêreld en nie in die nagebootste digitale simulasie van ‘n kunsmatige werklikheid nie.  Wetenskapfiksie moet dien as saad en aansporing tot die avontuur van ontdekking en ervaring – nie as plaasvervanger nie.

    Die huidige gang van tegnologie plaas ons in die holodek van ‘n ruimteskip waar ons voorgee dat ons lewe – terwyl die brug van die ruimteskip onbeman is.

    Vraag 13

    Suidpunt: In Langenhoven se boek, maar ook feitlik enige boek wat oor verlore beskawings of ruimtewesens handel, word die mens feitlik verbied om sekere gevorderde tegnologie terug te neem na menslike beskawing, aangesien “die mens nog nie gereed is hiervoor nie” of “die mens se gees nog saam met die tegnologie moet ontwikkel” of “die mens noodwendig die tegnologie sal misbruik”. Hierdie “maklike einde” raak net vir my nou lekker afgesaag, want dit lyk nie of die mensekarakters die ruimtewesens op ‘n enkele tegniese puntjie reghelp nie: ons, as suigelinge, is in sonde ontvang en gebore tussen tegnologie en die wetenskaplike wonders waarvoor ons nie een gewerk het nie; en ons moes maar net daarby aanpas en ons eie maak. Wat my betref kon die fiets in die Middeleeue al ontstaan het: hoe ekonomies, dit spaar immers hooi vir ‘n perd. Ek bedoel, ons sien hoe platgeskiet en agterlik het Suid-Korea van 1950 gelyk en hoe dit vandag daar uitsien. Wat dink u daarvan? Voel die ruimtewesens maar net bedreig deur die Wet van die Remmende Voorsprong?

    Machiel Viljoen:

    Dis ‘n goeie punt, en ja, ek is geneig om daarmee saam te stem.  Eintlik is dit so ‘n afgesaagde troop dat dit mens telkens opnuut verbaas dat ‘n skrywer dit vir die soveelste keerweer insleep.  Maar dit is bloot my instinktiewe reaksie op jou vraag.

    Miskien moet mens vir ‘n oomblik aan een of twee moontlikhede oorweging skenk.

    Ek pas uiterse dissipline toe sodat een van my kinders nie my vuurwapen aan die hande kan kry nie.  Ek doen dit want my pa het dit ook gedoen toe ek ‘n kind was en omdat ek al soveel keer met tragiese stories gekonfronteer was oor die gevolge wat dit gehad het toe ‘n kind ‘n wapen per ongeluk ontdek het en hoe absoluut die gevolge was op die lewens van soveel mense.  Daardie programmering het my so ver laat gaan dat ek nou nie eens meer ‘n wapen besit nie.

    Sou ek egter onbewus wees van die bestaan van iets soos ‘n vuurwapen omdat ek slegs ‘n knopkierie geken het, en skielik gee iemand vir my ‘n pistool of handgranaat, wonder ek of ek steeds die nodige voorsorg sou afdwing – al sou ek op ‘n kognitiewe vlak verstaan wat die teoretiese gevolge kon wees.

    Indien Shaka deur ‘n vriendelike VVV ‘n paar kernwapens as geskenk ontvang het, wonder ek of hy met dieselfde omsigtigheid daarmee sou omgaan as die huidige supermoondhede.  Sou hy nie dalk meen dat dit die oplossing vir sy probleme was sodat hy vir eens en altyd met die Boere kan afreken nie?

    Toe daar maar één nasie was wat die atoom getem het, toe gebruik hulle dit summier op hul vyande.  Twee keer! Asof die eerste keer nie reeds genoeg van ‘n indruk op hulle gemaak het nie.  Maar toe die geswore vyande ook daarvan het, is albei skielik uiters versigtig. Hulle het reeds die effek daarvan gesien en weet dat hulle self met die skerpkant daarvan te doen kan kry.

    Sou die VSA dit (kernwapens) nooit ontwikkel het nie, en dieselfde vriendelike VVV gee een oggend vir Stalin so 20 of so, wonder ek of hy sou dink dat dit oneties sou wees om sowat die helfte daarvan teen hoë spoed in die VSA af te lewer.  Maar omdat die ontwikkeling relatief langsaam was en beide kante daarvoor moes wedywer, het albei uit vrees (weens hul groeiende insig komende uit die resultate van hul chroniese toetse) besef hoe algeheel die gevolge van ‘n impulsiewe handeling sou wees – ‘n besef wat bes moontlik afwesig sou wees as hulle dit nie self ontwikkel het nie.

    Ons samelewing is dikwels nie voorbedag op die negatiewe effekte van nuwe tegnologie nie – veral wanneer dit baie vinnig ontwikkel het.  Daar is (redelik) streng regulasies oor kloning en genetiese ingenieurswese, maar basies niks oor die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie nie – te midde van Musk se herhaaldelike waarskuwings aan die regering van die VSA.  Die feit is dat ons nog nie reeds die lelike gesig van dié tegnologie gesien het nie – en wanneer ons dit wel raaksien is dit dalk te laat en is daar nie meer salf aan te smeer nie.

    Ons eie, en ons kinders se verhoudings ly erg onder die nadelige effekte van sosiale media, en een studie na die ander waarsku daarteen.  Tog kry weinig van ons dit reg om dit selfs maar in ons eie lewens af te skaal en te reguleer.  Dit het eenvoudig te vinnig gekom en ons het nie geleidelik, oor geslagte heen, daaraan gewoond kon raak nie – dis soos ‘n geskenk.  En, net soos my voorbeeld van die vuurwapen, verstaan ons die gevaar bloot op ‘n kognitiewe vlak – ons doen egter weinig daaraan.  Ons speel in die komedie mee, geblinddoek met die lamfer-lap wat selfs die son ‘n skadu gee…

    Maar ek moet erken, dié troop in wetenskapfiksie raak regtig vermoeiend en ek wens ook dat hulle ‘n bietjie meer oorspronklikheid aan die dag kan lê met storielyne…

    Vraag 14

    Suidpunt: Is daar van die Afrikaanse wetenskapsfiksieboeke wat u dink ‘n vertaling werd is? Of, dink u, soos Jan Rabie in Buidel geskryf het oor vertaling (bl. 83-86):

    En weet u, soms wil ek my teks eintlik onvertaalbaar hê. Ja, dis die gevoel wat ek soms oor my gekastyde taal kry. Om in ‘n oorvol, oorluide, oorveralgemeende wêreld ‘n klein hoekie onvervreembaar my eie te hê.  En las seker ook by toekrampende ouderdom, of seergemaakte trots omdat my boeke nie méér aandag in oorsese vertalings gekry het nie. Hoe ook al, soms voel ek in my ‘n intense behoefte om my Afrikaans vir myself te hou, om my boeke so verinnig, plaaslik, Afrikaans as moontlik te skryf dat hulle eintlik onvertaalbaar moet bly. Miskien ook uit irritasie wanneer die soveelste eentalige neul: “Why don’t you translate your book for Onrast?” [Onrus] Dit is juis op so ‘n oomblik dat ek ook die beneukte blydskappie voel: Goed so, laat my boek so Afrikaans wees dat jy dit in Afrikaans moet lees. […]

    Machiel Viljoen:

    Ek dink, soos jy seker kan aflei uit vorige antwoorde, dat hierdie woorde van Rabie nogal byval vind by my.  Tog, soos ek reeds aangedui het, is die letterkundige waarde van wetenskapfiksie in Afrikaans nie besonder groot nie, en is die skrywers daarvan dikwels maar amateurs.  So, hoewel hul boeke nie altyd waffers is nie, is die stories en ander elemente daarin dikwels nogal oorspronklik en vindingryk.

    Tog twyfel ek of dit eintlik veel van ‘n bydrae sou maak in Engels byvoorbeeld.  Ek dink terselfdertyd ook nie dat dit skade kan doen nie.  Van die heel moderne werke is wel deur die skrywers self in Engels vertaal, soos die Anna Atoom-reeks boekies vir kinders (Elizabeth Wasserman).  Maar by van die vroeëre werke was dit nogal raar – Seuns van die Wolke (August van Oordt) is in Engels vertaal, en Leon Rousseau se Fritz Deelman-reeks is in Nederlands vertaal.  Maar hierdie is uitsonderlike gevalle.

    Aan die ander kant moet ek toegee dat die talle wetenskapfiksie wat uit Europese tale na Afrikaans vertaal is, wel ‘n groot bydra in Afrikaans gemaak het en dié veld verder gestimuleer het.  Dis jammer dit vind nie juis meer plaas nie.  In fantasie het Narnia, Harry Potter en Heer van die Ringe relatief onlangs in Afrikaans verskyn – wetenskapfiksie suig maar aan die agterspeen wat dit betref.

    Vraag 15

    Suidpunt: Nou internasionaal: ek kry die indruk in Nederland, gegewe nou die bevolkingsgrootte en leserspubliek, gaan dinge nogal benard met hul eie wetenskapsfiksie, veral omdat Nederlands boonop oorspoel word met vertalings. Tog, ek het al die Afrikaanse vertaling van die elegante Tonke Dragt (Toringhoog en myle breed, wat in 2018 ‘n Hollandse herdruk beleef het) gelees en dit was glad nie sleg nie. Dis net ‘n gesukkel om Nederlandse tekste in die hande te kry, véél moeiliker as Duitse boeke; een titel wat my nogal laat nadink het is Overstroomd (2015) deur Eva Moraal – moontlik die Benelux van die toekoms [reeds vertaal in die Engels Currents en die Duits Zwischen uns die Flut] soos op Goodreads gestel word:

    “We bevinden ons in de tijd na de Grote Overstromingen. Het land is verdeeld in veilige, droge gebieden, en terreinen die gevaar lopen als het water weer stijgt. Ook de bevolking left strikt gescheiden: de Drogen vormen de rijke elite, de Natten het werkvolk dat een hard bestaan leidt om te overleven – en van waaruit steeds sterker verzet optreedt.

    Nina is een Droge, de dochter van de Gouverneur. Tijdens de laatste overstroming is haar school getroffen en haar zusje verdronken. Daardoor is ze gedwongen om, zij het onder een andere naam, lessen te volgen op een school in het Natte gebied.

    Op school wordt ze verplicht om met Max, een Natte, een werkstuk te maken. Wat met wederzijdse achterdocht begint, groeit al snel uit tot een fascinatie voor elkaars wereld en een ontluikende vriendschap. Maar de situatie is complex. Max’ vader is omgekomen bij de laatste overstroming, en er worden vraagtekens gezet bij de rol die de Gouverneur daar bijspeelde. Max’ broer Li is nauw betrokken bij een gewelddadige verzetsgroep.

    In afwisselende hoofdstukken lezen we door de ogen van Max en Nina hoe de situatie escaleert en uitmondt in een onontkoombare apotheose.”

    Ag, hemeltjie … soveel bloedvergieting, knoeiery, voortploetery en vergoddeliking op ‘n lappie modder, terwyl ‘n hoogliggender Frankryk tog so naby wink, nè?

    Het Afrifiksie miskien in die verlede al voelers uitgesteek na Nederlands Contactcentrum voor ScienceFiction (NCSF)? Of glo u die gewone Afrikaanse leser is steeds te bang om aan ‘die taal van die Bybel’ te vat? Dat ons nog nie heeltemal daarvoor reg is om soos die Swede, Dene en Nore boeke onder mekaar oor en weer uit te ruil nie?

    Machiel Viljoen:

    Ons het nie.  Dalk iets wat ons laat links lê het.

    Dankie daarvoor.  Ons sal dit op die agenda plaas vir die nuwe jaar– daar is niks om te verloor nie en dalkies net slaag dit.

    Ons het so iets probeer met ‘n Engelse wetenskapfiksieklub hier in SA – gesetel in Kaapstad.  Sonder sukses.  Ek is steeds verstom daaroor…

    Vraag 16

    Suidpunt: As u so deur die Italiaanse Wikipedia-artikel kyk rakende Italiaanse wetenskapsfiksie, sou u sê ons het ongelukkig baie van die cultura alta (hoë kultuur) misgeloop, of eerder gelukkig die bak spaghetti-pasta vrygespring? Om nou die koring van die kaf te skei?

    Machiel Viljoen:

    Ek dink nie jy kan van Europese afkoms wees sonder om ‘n dosis wetenskapfiksie in jou erfenis te hê nie.  Almal van ons het dit.  Seldsaam in die nie-Europese kulture.  ‘n Kommentaar een maal gelees waarin die bewering gemaak was dat dit ‘n definiërende eienskap is (al is dit nie ‘n uitsluitlike een nie) en dat dit kwalik onder Indiane, stamme uit Afrika, Suid-Amerika, Australië, Eskimo’s,ens. voorkom.  Hulle het egter wel legendes, mites, sprokies, fabels en fantasieë.  Die Oosterlinge het egter self ‘n goeie dosis hiervan weg.

    Die Italianers was nog altyd uiters skeppend, en ten spyte van hul huidige ekonomiese gesukkel maak hul tot vandag toe nog van die beste sportmotors en motorfietse.  Hul modes is tot vandag toe van die mees toonaangewende in die wêreld.  Hul siviele ingenieurswese is eenvoudig asemrowend, argitektuur, Venesië met sy gragte, van die beste paaie op aarde in die Romeinse tyd, ens.  En die verbeeldingryke wapentuig en strategieë van die Romeine self.  Dit is dus vir my geen verrassing dat hul ewe skeppend met die wetenskapfiksie omgegaan het nie.

    Maar ek twyfel of wetenskapfiksie enigsins as deel van die Afrikaner kultuur bestempel kan word – vergeet nog van hoë kultuur.  Dié wat dit nastreef is dalk eerder ‘n rariteit…

    Vraag 17

    Suidpunt:  Ek weet mens kan by Groep7 van die Afrikaanse wetenskapsfiksieboeke aankoop. Ek moet bieg ek het, tot my spyt, nog nie Eben van Renen of Gerrit van Dijk se boeke gelees nie, maar ek het wel François Verster se boeke op verskeie plekke in die hande gekry; met laasgenoemde se boek Deur na Nebula Nege is ek mee hoogs tevrede. Ek het eers sy boek in ons dorpsbiblioteek gekry en my toe voorgeneem om die boek te koop. En ek het ook.

    Maar nou: jy het nou die manuskrip geskryf, dit is steeds mooi afgerond, die hoofstroomuitgewers het jou ego gekrenk deur die teks af te keur en nou sit jy met die gekrabbel in jou hand, sopnat gehuil van die trane. En so sleg is dit darem nou wragtig ook nie, selfs jou skoonma moet dit toegee. Wat nou? Moet jy jou arbeid op Amazon.com gaan oplaai en as gratis proeflopie (veral as dit jou debuutwerk is) die waters toets? Of moet jy maar deurdruk en die privaatuitgewer met die platinum kredietkaart probeer omkoop?

    Machiel Viljoen:

    Groep 7 is formidabel.  Hulle is professioneel en uiters behulpsaam.  En verstommend bekostigbaar.  Ek twyfel of die platinum uitgehaal hoef te word.  Jy kan self besluit wat jy gedoen wil hê.  Proeflees, bladuitleg, bind, papier tipe, ens.  En jy betaal bloot volgens jou behoefte.  Onthou, hulle druk nie ‘n opgaaf daarvan nie – hul lys dit bloot.  Wanneer ek Eben se boek bestel, druk en bind hul vir my presies een enkele eksemplaar en pos dit vir my – hulle kry hul deel en die skrywer kry syne.  So maklik soos dit.

    Ja, volgens my is dít die manier.

    Die vangplek is egter, soos voorheen vermeld, dat die meeste nie insien hoe belangrik die nasien en proeflees stappe eintlik is nie, en daarom is sommige boeke se gehalte substandaard.  Maar dit gebeur eweneens met ‘n e-boek as jy nie versigtig is nie.

    Onthou weereens:  die meeste wetenskapfiksieskrywers skryf nie met rykdom as hul hoofdoel nie.  Anders sou hul van die begin af hul hand eerder aan iets meer lonend geslaan het.  Hulle doen dit vir die talle ander redes waarom mense skryf.  En Groep 7 maak dit vir amper elkeen moontlik.  En kom ons wees eerlik – ‘n papier boek bly nou maar net ‘n absolute plesier (en bly behoue vir jare op ‘n boekrak wat te betwyfel is van ‘n e-boek…).

    Vraag 18

    Suidpunt: As mens deur die lys Afrikaanse wetenskapsfiksie kyk… dan wil dit my voorkom of die meeste skrywers in die verlede die genre as ‘n penneproef gebruik het, ‘n soort rofwerk. Elkeen waag sy hand daaraan, maar dit bly ‘n bysaak, ‘n sybaantjie. ‘n Figment, ‘n hipotese wat dan op skrif gestel en uiteindelik in ‘n storie uitgebou word. Dit het sy voordeel: dit is ‘n vrye genre wat nooit deur ‘n sekere groep gekaap of besit is nie. Ek bedoel nou soos die eenvormigheid en herhalende, voorspelbare kenmerke van die Sestigers of Grensliteratuur in die Afrikaanse kringe – met ander woorde: ‘n literêre kringetjie eien die literatuur aan hulself toe. Sou u sê Afrikaanse wetenskapsfiksie is eintlik allemansbesit of bied groter diversiteit?

    Machiel Viljoen:

    Jy is reg –ons het nog nooit ‘n wetenskapfiksieskrywer opgelewer nie.  Die groot name het elk enkele werke tot stand gebring, en die onbekendes ook elk enkeles maar het toe algeheel opgehou sonder om eens na ander velde toe oor te skakel.  Maar ons het nooit ons eie Asimov, Verne, Clarke, Heilein of Wells geproduseer nie – voorwaar ‘n jammerte.

    Maar terselfdertyd wonder ek of dit ooit in allemansbesit (soos jy dit stel) is.  Die feit is dat amper geen van hierdie werke vir die gewone man op straat beskikbaar is nie. Biblioteke het selde eksemplare en dié wat nog het verkoop jaarliks hul ouer boeke tot niks daarvan op hul rakke sal oorbly nie.  Amper niks wat meer as ‘n paar jaar oud is kan in die algemene handel verkry word nie.  Dis slegs die tweedehandse handel waarop jy kan terugval – en dit klink of jy ook al van daardie kanaal probeer gebruik maak het – dis ‘n gesukkel van die eerste water en jy is afhanklik van dit wat toevállig beskikbaar raak en wat ewe toevallig oorleef het.  Ek soek vir jare al tevergeefs na sekere werke wat skynbaar nóóit weer gesien gaan word nie – hoe hartseer is dít?

    Ek het ‘n maand of so gelede ‘n wetenskapfiksieboek tweedehands ontdek wat totaal onbekend was tot op hede en wat skynbaar nog nooit in die formele tweedehandse boekhandel beskikbaar geraak het nie.  Dis ‘n boek wat deur ene Kobus Maritz geskryf is en in 1966 deur die Afrikaanse Pers-Boekhandel uitgegee is met die titel Tydvlug 2200.  Nou hoe op aarde is dit moontlik?  Wil jy my sê dat daar net een enkele eksemplaar daarvan nog bestaan wat die dekades oorleef het.  Was die opgaaf wat gedruk was dalk regtig baie klein?  Dankie tog dis gevind – ons kan ons rekord dienooreenkomstig opdateer, maar wie sal dit ooit weer kan lees as net één daarvan wat nog oor is?

    Daar is feitlik geen van hierdie werke wat ooit in herdruk gaan nie, behalwe vir een of twee (soos Loeloeraai) – so die meeste mense sou geregverdig wees om die mening te huldig dat Afrikaanse wetenskapfiksie eintlik nie bestaan nie (en ek het al telkens hierdie stelling gehoor by mense wie se monde oophang wanneer ek die teendeel uitwys).  Gerhardus het ‘n moedige poging aangewend met Thompson Uitgewers wat talle nuwe werke laat verskyn het en verskeie ouer werke as klassieke Afrikaanse wetenskapfiksie uitgegee het.  Maar dis ook nou iets van die verlede.

    En ek dink dít is een van die waardevolle eienskappe van Afrifiksie – ons is so ver van volmaak af dat dit mens bewoë laat, maar ten minste is dit (vir solank dit duur) ‘n tipe monument en rekord van Afrikaanse wetenskapfiksie (en fantastika in die algemeen).

    Maar my punt is dit:  amper niemand het toegang daartoe nie, en daarom kan mens kwalik sê dis in enigiemands-besit – wat nog te sê van allemansbesit.  Jy moet hemel en aarde beweeg om ‘n verteenwoordigende monster van dié skat onder oë te kry…

    (Dis terloops ook een van Afrifiksie se oogmerke vir 2021 – om ‘n begin te maak om dié desperate situasie te probeer verander.)

    Vraag 19

    Suidpunt: Ek het vergeet om te vra: het u enige voorkeure wat Afrikaanse wetenskapsfiksie aanbetref? Nie alleen boektitels nie, maar wat sou u graag in ‘n boek wil lees?

    Machiel Viljoen:

    Baie mense dink dat die enigste manier waarop ‘n werklike bydra tot wetenskapfiksie gemaak kan word, is om iets te skryf.  En natuurlik is dit uiters waardevol en ons moedig dit ten sterkste aan.  Maar ‘n ander manier waaraan daar dikwels nie gedink word nie, is om van die prominente wetenskapfiksie uit ander tale na Afrikaans te vertaal.  Dit maak ‘n ongelooflike bydra, en verg bloot ‘n goeie Afrikaanse aanslag en vereis nie die vermoë om self ‘n storie te kan skep of met die nodige verbeeldingryke inhoud vorendag te kom nie.  Ek het onlangs ‘n aantal van Shakespeare se werke in Afrikaans uitgesnuffel en gelees – wat ‘n fees.  En talle daarvan is deur blote amateurs vertaal.  My grenslose dank aan elkeen wat só ‘n taak tot uitvoer bring.  So, ek sou graag van die groter wetenskapfiksiewerke in my moedertaal wou lees, soos Asimov se Foundation.

    Daar bestaan ook ‘n ander idee jeens wetenskapfiksie – iets wat telkens oor die dekades heen in ander tale na vore gekom het, naamlik die idee dat wetenskapfiksie as spieël gebruik kan word sodat die huidige bestel daarin kan kyk en eienskappe van hulself daarin kan raaksien wat gevaarlik, skandelik of ongewens is.  Maar in Afrikaans kom dit nie juis voor nie (nugter weet waarom).  En omdat dit nie spesifiek oor Suid-Afrika of iemand werkliks handel nie, kan daar gekritiseer word sonder blaam of vervolging (tot op ‘n punt natuurlik).  Ons huidige werklikheid is op ‘n koers wat baie bekommer, maar tog word dié moontlikheid nie juis aangewend nie – ek sou só ‘n kommentaar oor ons samelewing wou lees in die vorm van ‘n goeie stukkie wetenskapfiksie.

    Vraag 20

    Suidpunt: Wat dink u persoonlik van die oerruimtevaartteorie? (Ancient Astronaut Theory – dink maar Erich von Däniken).

    Machiel Viljoen:

    Ag jong, dis net nóg ‘n interessante idee in die wetenskapfiksie (of hipotetiese wetenskaplike filosofie).  Maar ek wonder altyd waarom al hierdie vreemde moontlikhede oorweeg word.  Uiteindelik skuif dit bloot die probleem van een punt na ‘n ander – soortgelyk aan panspermia.

    Geen van hierdie hipoteses spreek uiteindelik die werklike probleem aan nie, naamlik: “hoe het dit nou eintlik ontstaan?”  En of dit nou hier was waar dinge begin het, of daar waar dit begin het en toe op die een of ander manier hierheen gekom het, die aanvanklike vraag bly onbeantwoord.  Ek gee toe dat die idee daarvan interessant is insigself, maar dit help kwalik om ‘n antwoord te gee vir iets wat nie werklik die vraag was nie.

    Die twee raaisels waarop beide dié wat die skeppingsleer sowel as dié wat die wetenskaplike verklaring aanhang van mekaar verskil, is die idee van die oerknal en die idee van die ontstaan (en ontwikkeling) van lewe.  En vele oulike teorieë faal daarin om hierdie vrae te beantwoord.  Soos die een wetenskapprofessor by geleentheid in ‘n debat gesê het vir ‘n aanhanger van die skeppingsleer aangaande die oerknal: “gun ons net die één wonderwerk en die wetenskap sal die res verduidelik”.

    So, dis ‘n vrugbare idee vir wetenskapfiksie, maar dis eintlik maar al…

    Bonusvraag

    Suidpunt: Is daar enige vraag wat niemand u al gevra het nie, wat u al so lank brand om te beantwoord?

    Machiel Viljoen:

    Dalk.  Die vraag sou iets in die volgende trantlui:  “waarom is jy persoonlik, as Afrikaanssprekende, so begeesterd deur wetenskapfiksie – dis dan ‘n atipiese eienskap vir ‘n Boer…?”

    My antwoord sal iets langs die volgende lyne geskied.

    Dit alles begin met ‘n slag.  ‘n Tipe oerknal self – ‘n slag so luid dat dit deur die eeue heen weergalm.  Die kerk skeur in Europa.  Europa word ‘n kruitvat wat hul ganse bestaan bedreig en talle word uitgemoor of soos diere gejag.  ‘n Aantal kry dit reg om plek te bekom op die weinige ontsnappingstuie om hierdie nagmerrie uit die hel te probeer ontsnap.  Ouers stuur hul kinders op hierdie ontsnappingstuie – wetend dat hul kinders waarskynlik nooit hul bestemming sou bereik nie, dat hulle hul kinders nooit weer sou sien nie, en dat hulle self (die ouers) binnekort self gevang, gemartel en vermoor sou word.  Maar dié kans, hoe klein ook al, is hoop – en dis beter as geen hoop.(In my eie stamregister is daar ‘n twaalf- en dertienjarige meisie en seun wat op die hawe aan mekaar getroud raak om na mekaar om te sien, hul ouers te groet en die reis te begin – ‘n reis om die vlam van hoop in hul ouers se harte te laat brand.)

    Baie maak dit nie en vergaan in storm na storm wat eintlik te veel is vir die tegnologie van die tuie waarin hul vlug.  Maar, feitlik ondenkbaar haal sommiges dit.  Land.  ‘n Plek waar die monsters nie meer op hulle jag sou maak nie.  Maar, vir blote kinders, hoe oorleef jy op ‘n stukkie grond wat aan jou oorhandig is, terwyl daar net núwe monsters is – siektes, vyandige volke, roofdiere, ongenaakbare klimaats­omstandighede, uitbuiting deur ander…  Tog weereens is daar dié wat dit maak en oorleef.

    Oorlog kom egter vinnig vanuit die oosgrens – niks minder nie as ‘n toneel uit ‘n Tolkien-film met duisende Uruk-hai wat roof, moor, plunder en veg soos besetenes.  Al word die vyand telkens verslaan, hergroepeer hul maar net weer, en ‘n volgende oorlog ontketen.

    Dan word die plaaslike regering oorgeneem – een van die grootste koninkryke op hul planeet besef die strategiese waarde van die nuwe kolonie en sak toe op die buitepos met gevegstuie en troepe wat die vorige regering oorweldig.  Die nuwe regering is drakonies en misbruik hul mag.  Sommiges kan dit nie aanvaar dat hulle weereens onderhewig sal moet wees aan dieselfde tipe oorheersing vanwaar hulle onlangs ontsnap het nie.  Talle besluit om weer te wyk, weg van die bietjie infrastruktuur en beskerming van die gemeenskap.  Primitiewe ontsnappingstuie word gebruik vir die doel – aangepaste vragtuie huisves gesinne wat met karige besittings in karavane saamtrek – aangedryf deur trekdiere beur hul om los te breek uit die greep van oorheersing waarvoor hul nie kans sien nie.

    Uiteindelik is hul vry – weereens word daar oor begin, maar baie het omgekom op hul ontvlugtings­reise deur vyandige gebiede waar daar ook talle karnivoriese monsters op hul jag gemaak het – oor die Berg van Drake.  Maar vryheid was soet.  Hulle ontwikkel die nuwe gebied en ontdek skaars middele – grondstowwe só raar dat baie daarvoor sou moor.  Selfs bose moondhede.  Die sterk en bose ryk waaruit hul sopas losgebreek het wil nou die seldsame stowwe vir hulself inpalm, en hul gierigheid lei uiteindelik tot ‘n volskaalse oorlog – ‘n oorlog waarin die vlugtelingkinders maar ‘n enkele kryger het vir elke vyf vyandige soldate.

    Vir jare hou die oorlog aan en die handjie vol krygers, die kinders van vlugtelinge, hou die sterkste moondheid van sy tyd in ‘n konflik gewikkel vir jare, en die vyandige oormag verloor meer as vier soldate vir elke vlugtelingkryger wat val. Uiteindelik, in desperaatheid, wend die bose owerheid hulself tot die mees immorele misdade wat tot nog toe in oorlogvoering toegepas was, misdade waardeur die vroue en kinders van die vlugtelinge uitgewis word (drie keer meer vroue en kinders sterf as hul mans wat in die oorlog geval het), sodat die vlugtelingkinders tot oorgawe gedwing word om algehele uitwissing deur volksmoord te vermy.

    Maar die kinders van die vlugtelinge weier om te gaan lê.  Teen dié tyd het hul taal al so ontwikkel dat dit afsonderlik is van die ander.  Uiteindelik raak dit vir die bose moondheid te moeilik en duur om voort te gaan met die langafstand beheer van die vlugtelingkolonie en verleen hul teësinnig onafhanklikheid aan ‘n hardnekkige en rebelse spul uitvaagsels wat telkens weier om onder Europese bewind te staan.

    Die nuwe regering van die voormalige vlugtelinge weier om geassimileer te word in die oorweldigende golf van dié wat nie deel was van hul eie voortdurende gevlug en verset teen meer gevorderde beskawings nie.  Hulle begin ‘n beleid om hulself te verskans teen die verstrooiing van hul identiteit en kultuur – ‘n beleid wat toenemend onaanvaarbaar sou word vir die regerings waarvandaan hul aanvanklik gevlug het.  Hierdie beskawings stuur dan ‘n nuwe veldtog van stapel – sonder die vlugtelinge af sodat hulle nie handel kan dryf nie.

    Die vlugtelinge, gedryf deur ‘n oorweldigende begeerte om te bly voortbestaan in weerwil van die sameswering van ander, bring die offers wat nodig is om hulself te mag handhaaf – raak selfonderhoudend, ontbeer dít wat die internasionale gemeenskap weerhou, raak weerbaar, ontwikkel infrastruktuur, belê in opleiding en navorsing, raak leiers op gebiede van nywerheid, mynwese, elektrisiteit, wapentuig, medisyne, landbou, kernkrag, klandestiene handel, intelligensie, die ontwikkeling van bondgenoot­skappe, beoefening van kunste, ens. – en ontwikkel die jongste taal op die planeet tot op die hoogste sport van aanwending vir akademiese- en letterkundige toepassing.

    Dan tree ‘n nuwe moondheid na vore, een wat voorheen neutraal was maar wat teen dié tyd een van die heel magtigstes op die planeet geword het, en tree toe tot ‘n nuwe oorlog met die voorsiening van  wapentuig, tegnologie en opleiding om ‘n nuwe golf van gewillige vegters toe te rus om oorlog te voer teen die vlugtelingbeskawing.  Weereens hou die vlugtelinge vol in ‘n lang en uitgerekte konflik met een van die magtigste nasies – een só magtig dat selfs die res van die wêreld nie gesamentlik teen hulle tot openlike konfrontasie sou toetree nie…

    En dís waarom.  Dit is die antwoord op die vraag hierbo.  Die verhaal van die Boer is ‘n verhaal van suiwer wetenskapfiksie en fantasie.  ‘n Verhaal wat die verbeelding aangryp.  Dit kon net sowel deur Lucas of Tolkien uitgedink gewees het.  Die verhaal van ‘n handjie vol mense wat teen die mees onwaarskynlike stel omstandighede oorleef het.  En net soos in Tolkien en Lucas se werke is daar nog ‘n element teenwoordig – nie towery of die fors (van die Jedi) nie, maar die Lig wat hulle vergesel het.

    Die vraag is nou:  “hoe gaan die volgende hoofstuk lyk in die verhaal van die vlugtelingkinders?”

    Reaksievraag:

    Machiel Viljoen: Ek sou graag, Suidpunt, ‘n wetenskapfiksieverhaal uit jóú pen wou lees.  Jy het duidelik opleiding gehad en het ooglopend al heelwat oor hierdie veld gedink en opgelees.  Jy is in alle waarskynlikheid in ‘n beter posisie om ‘n werklike bydra te maak as die gemiddelde skrywer in dié veld.  En hoewel ek nie die waarde van die goeie werk wat jy doen wil minag of onderskat nie, voel ek dat dit juis persone soos jyself is wat ‘n werklike bydra (nie alleen resensies, onderhoude, ens. nie) kan maak en ‘n boek op die wetenskapfiksierak van Afrikaans kan nalaat.  Ék dink jy kan.  Ek hoop jy sal. Sien jy kans om jouself te ontbloot deur te waag in die kantlyn van Afrikaans – waar die waters troebel en gevaarlik is en die loon skamel?  Waar daar maar enkele name op ‘n lys verskyn vir hul passie en waagmoed…

    Die meeste werke in Afrikaanse fiksie verg bloot behendigheid met die taal, want die stories is relatief gewoon – maar wetenskapfiksie verg meer.  Dit verg verbeelding en ‘n afwesigheid van talle grense wat baie laat huiwer – soos ‘n hoë voetbrug sonder ‘n handreling.  Min waag dit, want die beste stuurlui staan aan wal…

    Suidpunt: Baie dankie. Om die waarheid te sê was ek ‘n paar jaar terug ‘n finalis in ‘n sekere nasionale dramaskryfkompetisie, met hierdie spesifieke genre, maar ek weet ook waar die foute ingesluip het (dit kon ek ná twee jaar nugter uitpluis). Te min humor en kwinkslae na my sin op daardie stadium, die spreekbeurte (eintlik metafisiese debatte) is te lank, die karakters lyk ook te veel op mekaar; want op daardie tydstip het ek eers my eie persoonlikheid werklik leer ken en dus twee INTJ’s met hul eie foute teenoor mekaar gestel (en te veel van die stereotipes probeer ontwyk – nooit ‘n goeie resep vir Jan Publiek wat maar die gewone melktert by die koffie soek nie). En natuurlik het die groot bestanddeel ontbreek: die metafoor (of ou sprokie) as troop of simbool. ‘n Dier of ruimtewese, of ‘n dier/ruimtewese se handeling, wat byvoorbeeld die hele mense-ontwikkeling of -verhoudings in die kleine weerspieël. Dink byvoorbeeld aan ‘n walvis wat weer te water (vry)gelaat word, teenoor ‘n (logge) vrou wat sê nou maar uit ‘n ongelukkige huwelik bevry is. Jy kan dit werklik nie miskyk nie, dit weeg darem te swaar in die intrige. Dis maar gebou op dieselfde jukstaposisie as twee minnaars wat vurig soen en die witwarm ketel wat met ‘n gefluit die ore laat tuit.

    My grootste vrees is bowenal plagiaat. Dikwels as ek in ander tale soek na inligting wat ek vir ‘n Wikipedia-artikel versamel, kom ek op feite af wat al dekades voor my tyd al woord vir woord presies dieselfde op skrif staan as daardie “helder oomblik” wat ek gisteraand onder die stort beleef het. Net in ‘n ander taal. Dit is dus ou alge in ‘n anderman se kultuur se spreekwoordelike visdam wat deur die waterpomp aanhou in ‘n kringloop verkeer. En dan het mens nog nie eers boeke in eeue-oue tale soos Spaans of Portugees of Italiaans onder oë gehad nie. Of wat van tale soos Tsjeggies of Kroaties of Roemeens wat mens so dikwels oor die hoof sien? Sal ons ooit weet?

    Verder hou ek my maar besig om strategieë te soek hoe mens Afrikaans kan uitbou.

    Jy kry Afrikaners wat in Patagonië verspaans het, lui ‘n ondersoek twee maande terug by De Gruyter. Dis ‘n vraag wat lankal reeds beantwoord is. Wat’s nuut? Wat kan jy waaragtig nog byvoeg wat ons nie reeds in die Kaapse metro beleef en gesien het nie? Kinders wat hul pappie “dêrrie!” met so ‘n onmiskenbare plat Afrikaanse aksent.

    Maar dan kry jy die Duitse taalkundige, wyle prof. dr. Ulrich Ammon, wat in so ‘n ryke kultuur van 80 miljoen mense grootgeword het, wat ‘n enkele artikel geskryf het in Galicies, ‘n onbekende taal benoorde Portugal. Daardie taal bestaan slegs uit 3,5 miljoen sprekers. Maar die onderwerp handel juis oor die bedreiging wat Engels as enkele wetenskapstaal vir die wêreldgemeenskap inhou (Algúns efectos do predominio do inglés como lingua internacional da ciencia e sobre outras linguas e os seus falantes, 1998). Wat sou die man tog besiel het? Almal publiseer tog in Engels!, sal die Hollanders en Dene jou ook toevloek. Wie de hel lees Galicies? Dis slegs eenmaal ook aangehaal! Dis waansinnig! Dis ‘n vraag wat nog nie beantwoord is nie. Dis stroomop. Dis nuut! Hoe verklaar jy dit? Maar wat wéét hý wat daardie Patagoniërs, Kapenaars, Hollanders en Dene nie weet nie?

    Ek weet nie. Dalk ly ek nou eers aan die Dunning-Kruger-effek. Tans het ek nog te min antwoorde en lewenservaring, miskien skryf ek tog eendag weer iets. Iets met ‘n snoet, geronde ore, en ‘n stert.

     Suidpunt: Weer eens baie dankie vir die onderhoud, ek hoop Afrifiksie en die Afrikaanse Wetenskapsfiksie gaan van krag tot krag.

    Machiel Viljoen:

    Dankie.  Ek hoop om jou eendag te ontmoet, van aangesig tot aangesig – dalk vir ‘n koffie in ‘n eksotiese, ver plek – miskien iets soos ‘n kroeg op Tatoïen…

    Voorspoed en seën met jou werksaamhede – mag jy ook, soos my en jou voorgangers, in die Lig wandel…

  • Suidpunt: Red Afrikaans, verlos ons van die neerslagtige fiksie!

    Suidpunt: Red Afrikaans, verlos ons van die neerslagtige fiksie!

    Van die giftigste resensies sal jy nie tussen die datagrepe van Netwerk24, “Literator”, “LitNet”, “Tydskrif vir Letterkunde” of selfs jou dorpskoerant vind nie. Ook nie die Suid-Afrikaanse Engelse pers nie. Hoe kan iets giftig wees as dit nie van die rede gebruik maak nie? Dit noem ons gekyf. As jy genoeg durf het, of ‘n voyeuristiese sadis is, besoek gerus die Belgiese biblioteekdiens (www.bibliotheek.be) aanlyn, kies ‘n boek en geniet die doodeerlike, nugter resensie. Die webwerf gaan ongelukkig maar saggies met Afrikaanse tekste om, maar klim soms behoorlik met die knuppel onder van die Nederlandse tekste in. Met berekende martelmetodes word rasionaliteit benut om die boeke heeltemal te ontsiel tot ‘n woordekraam van lettertjies en syfertjies – of onsamehangende inkspatsels op papier. Na omtrent een uur van martelvertoning, besef jy gou watter sagte weekdiere die Suid-Afrikaanse akademici is, wat heeltyd middelmatige werke aanprys, vergeleke met die hondsdol helhonde uit die Lae Lande wat alle mooi skeppings voor die voet tot repe verskeur. So het ek geleidelik my boekesmaak aangeleer, aan die voete van die Vlaminge.

    Wat ek van www.bibliotheek.be hou is onder meer sy uitwys van byvoorbeeld Deon Meyer se “Feniks”: “Het is geheel in de hedendaagse Engelse traditie geschreven.” Nou toe nou – sou ons akademici dit opgemerk het? Wat mens dan opnuut laat wonder wat “Afrikaanse tradisie” sou beteken…

    Maar is sulke uiterstes aan weerskante van die ewenaar werklik opbouend? Van hoeveel Hollanders en Vlaminge weet jy wat die Nobelprys ingepalm het? En van hoeveel werke weet jy wat uit Afrikaans vertaal is?

    Soos ek op die internet rondtoer tussen Amazon.com, Goodreads en kommentaar op Facebook, wissel die resensies vanaf ‘n lakonieke “Regtig kak” (verbatim aangehaal by Goodreads oor “Aliens en engele” deur Leon de Villiers ] ), tot ‘n ewe niksseggende “hierdie verhaal was mooi”, tot ‘n breedvoerige, gekunstelde opstel waarin die leser elke fout en voordeel met groot diskresie oordra.

    Hoe jy ook al hierdie resensies deurkyk, die kleinste gemene deler van fiksiewerke is “tydmors”. Laat ons nou sommer baie nugter en eerlik met mekaar wees. Want onthou, fiksie bly leuens. Om iemand se tyd te mors moet jy die leuens of ten minste halwe waarhede die moeite werd maak. Meestal gebruik mense fiksie om ‘n onderliggende boodskap oor te dra. Maar met fiksie en esoteriese boeke kan jy ‘n wye Kaapse draai maak om die loodswaar bedrukte persoon in ‘n vlinderligte gees om te tower. Jy kan ‘n woestynlandskap in ‘n paradys verander, ‘n sandbank in ‘n blommeland. Iets positiefs. Iets opbouends. Amper soos ‘n foto van ‘n tropiese tuin, wat jou laat in ‘n rustiger luim.

    Wanneer jy ‘n resensie lewer, is jy geregtig om jou lewenservaring en leeservaring uit die verlede te gebruik om ‘n leesboek te benader. Dit is jou opinie. Soos jy meer soortgelyke boeke of genre lees, begin ‘n patroon in jou kop geleidelik gestalte aanneem; dalk hou jy daarvan (soos Sondagmiddagmelktert wat presies om 17:00 met koffie en dieselfde geselskap bedien word), dalk begin die herhalende intrige jou geweldig verveel en irriteer.

    Jy kan fokus op wat geskryf word, maar jy kan ook fokus op wat nie eksplisiet in die teks gesê word nie, maar tog herhaaldelik hom afspeel.

    Ek is nou vireers klaar met Weerwolfverhale. Ek is uitgekuier. Hoekom? Want ek het die kode ontsyfer. Dis ‘n gejaag na wind. Dit maak nou nie saak of jy “The Abused Werewolf Rescue Group” van Catherine Jinks, “The Wolf Gift” en “The Wolves of Midwinter” deur Anne Rice, die “Changeling”-reeks deur Steve Feasey, “Der Werwolf van Köln” deur Myriane Angelowski, “Die Werwölfe” deur Christoph Hardebusch, ens. lees nie, één ding staan soos ‘n paal bo water. Wanneer die mens eers dier word, of soos diere optree en dink, deur drange gedryf word, kan jy soveel stambome by MyHeritage.com tot by die dae van Adam (vir die kreasionis) of die eerste alge (vir die evolusionis) optrek om die bloedlinie te bepaal, ja, soveel bloedige veldslae tussen weerwolf en vampier/mens aanteken… of soveel mites wat daar omtrent hierdie gedrog ook mag bestaan… die feit bly soos ‘n trop beeste op ‘n Oos-Kaapse pad staan: hul doen en late het absoluut niks opbouend vir die geskiedenis of toekoms beteken nie.

    Ek praat ook van mensekarakters wat soos diere en weerwolwe “in die oomblik leef”, nooit dink aan ewige nalatenskap nie, impulsiewe besluite maak, deurbringers is van tyd, geld en bloed, woestaards, nooit van die rede gehoor het nie. En eintlik leef hierdie vervloekte mensdiere maar jaar in en jaar uit soos diere in die wildernis: sonder ‘n doel en sonder ‘n toekoms. Na drie geslagte is hulle vir die geskiedenis vergete. Verskriklik. Hierdie “taal” vind ek ook in “Wolf’s Rain”, die Japannese animasiereeks: ‘n klomp weerwolwe besluit om die mensdom vaarwel te roep, op soek na die paradys. Uit die staanspoor weet jy dit is ‘n mislukte ekspedisie, want niemand weet waar dit is nie. Vir tientalle episodes moet jy maar deursit waar berge, dale, gevegte, vriendskap en vyandskap tydens die swerftog uitgebeeld word. Elkeen van hulle sterf helaas ‘n gewelddadige gruweldood, maar bereik nietemin tog die verlore paradys op die een of ander onverklaarbare metafisiese wyse. Hoe hartroerend ook al – hul impak op aarde was nul. Alles tevergeefs. Die reeks is myns insiens ‘n ramp.

    Miskien is die diereryk juis daar om ons ‘n ewige teenbeeld van die mens te skets. Om ons konstant te herinner wat ons nie moet wees nie (sê dit vir die ekobeheptes…). In “Panther in Argyll” deur Lisa Tuttle ontmoet ons ‘n weerluiperdin in die mitiese Skotlandse platteland. Hoewel die hoofkarakter “vry” voel elke keer wanneer sy in die Skotse Hooglande haar menswees agterlaat en van die gebonde menswette weghardloop, weg van die skool, weg van haar voogde, weg van haar ouers wat op die punt staan om te skei, kom sy gou agter hierdie ontvlugting help nie. Jy word net aan ‘n ander stelsel uitgelewer – die Natuurwet. Onder die genadelose Natuurwet is jy voëlvry vir elke boer en jagter om geskiet of besitting te word; jou drange beheer jou onwillekeurig. Jy word uitgelewer aan die oneindige dwingelandystelsel (soos ook in “Die Jagd der Wölfin” deur Annette Bredendick verwoord) van geboorte, gebiedsafbakening, inwendige en uitwendige parasiete, tandbederf en vrot asem, vreet, veg en terugbaklei, emosielose paring, welpies grootmaak en afsterwe – alles volgens klokvaste natuurlike reëlmaat – sonder ‘n enkele werklik beduidende verandering wat jy in jou leeftyd nagelaat het. ‘n Skoolrapport waarop staan: “Hy was hier”. Punt. Behalwe miskien die bessiesaadjies wat jy deur bemesting saai elke keer wanneer jy jou knieë knak. Of die dieregetalle wat jy suksesvol kontroleer het sodra jy dikgevreet van die karkas wegstap. Of self later karkas word. Die ergste is: as dier is jy hoegenaamd nie eens hiervan bewus nie! Miskien vermy ek juis daarom onbewustelik die wildparke en dieretuine: hierdie eksistensialisme wat betref bokke, luiperds en hoenders maak my net neerslagtig. Dit is soos om ‘n gestig te besoek.

    Oor ander boeke kan jy ook soortgelyke ontwikkelingleemtes uitvoerig bespreek, soos by die bekroonde “Wonderboom” deur Lien Botha. Die boek, sover ek weet, is geskryf ter voltooiing van haar meestersgraad in skeppende stelwerk (“kreatiewe skryfkuns” proe soos ‘n Anglisisme vir “creative writing”).

    Was ek nou hoogs teleurgesteld in hierdie boek! Nee, ek het hierdie boek gelees nog lank voor die adjektiefoorlaaide en uiters vae Commendatio vir die  2016 KykNet-Jan Rabie-Rapportprys , omdat die Wes-Kaapse biblioteekdiens die boek as “wetenskapsfiksie” gekategoriseer het. Allermins! Daar is geen sprake van hoe die wetenskap die intrige beïnvloed nie. Ek besef mens moet elke boek op eie meriete beoordeel, en dit probeer ek ook. Maar wat moet ek maak met ‘n musikantkarakter, Magriet Vos, wat binne ‘n distopiese albinoregering haarself soos ‘n invalide gedra? Sy kla steen en been oor hongerte (en vreet spreeus), sy kla oor haar kêrel, sy mor oor verspeelde kanse, sy kla oor die toestand van die land, sy kla oor die Grensoorlog en die invloed daarvan op haar kinderjare, sy kla oor haar eensaamheid (hel, daar moet seker ‘n rede hiervoor wees?!), sy kla oor Apartheid wat tot hierdie toestande noodwendig aanleiding gegee het, sy kla oor rassisme, sy boemel op ‘n reistog voort na wie weet waar, sy verroer nie ‘n vinger wanneer die reisgeselskap aangeval word nie, en presies soos in “Horrelpoot” en “Wolf-Wolf” (deur Eben Venter) en al die ander distopiese romans eindig die karakter heeltemal met niks – kaalvoet op geboortegrond. As karakter het sy geen ontwikkeling getoon nie; die selfgesentreerde babatjie het nie ‘n snars moeite gedoen om die lewe vir haar medemens in hierdie moeilike omstandighede makliker te maak nie.

    Kyk, ek is nie ‘n voorstander van gesinsgeweld nie, maar jy sal my seker nie kwalik neem as ek so taks hierdie prêm met baba en al die afgrond afstoot nie? Dat die gesanik net kan ophou…

    Maar wag ‘n bietjie. Kan hierdie boek miskien as ‘n ironiese taai klap in die liberales se gesigte geïnterpreteer word (interpretasies is vry, onthou!), deur die uitbeelding van hul kinderagtige vloermoere wat geen uitwerking het op die werklikheid nie? Indien wel, aanvaar dan onmiddellik my plegtige verskoning, hartlike applous en dank. In daardie geval is hierdie boek voorwaar “’n merkwaardige toevoeging tot ons opbloeiende romanliteratuur in Afrikaans”… om nou Henning Snyman se woorde van LitNet te steel. My 0-ster op GoodReads word ‘n skitterende 5! En KykNET en Rapport het die boek ‘n prys gegee, sê jy? Ek kort Borstol Cough Remedy, ek het nou skoon ‘n hoesbui van die lag.

    Maar wat het in die wêreld skeefgeloop dat daar voortdurend na die ondermaanse geneig en daar troosteloos in die modder rondgeploeter word? Kan dit wees omdat ons nie meer pioniers is wat permanent boontoe kyk en ‘n optimistiese gees moet hê ten spyte van die swaar tye nie, maar inderdaad Westerse verbruikers geword het wat veronderstel is om skuldig of ontevrede te voel oor alles? Cyberpunk doen byvoorbeeld presies dieselfde: “high tech, low life” – in wese inderdaad ook distopies. Slaan maar oor. Ook boeke soos “Die ryk van die rawe” eindig waar Ratkas kort na sy hellevaart (wat in ‘n hedonistiese orgie ontaard) in Londen voor die millenniumwending selfmoord pleeg deur in die Teems te spring. Om juis die teendeel te doen wat hy vir ander preek: hy ontduik sy eie verantwoordelikheid. Volgende, asseblief. Ek het nie sulke literatuur nodig nie.

    Wanneer ek deur die biblioteek stap, word ek net bedruk soos ek na die klomp prosaïese Afrikaanse titels kyk. Kontreikuns is seker goed (soos landskapskilderye seker ook); bietjie seks herinner jou seker dat jy nog mens is van vlees, bloed, drange en hidroulika; bietjie Grensoorlogverhale herinner wat in die verlede in stof en sand gebeur het; bietjie speurverhale beeld elke misdaad in Suid-Afrika uit… maar… dis net te aards na my sin. Te plat op die aarde. Te banaal. Te selftevrede. Te ek-probeer-die-grootste-hoeveelheid-lesers-betrek-want-die-uitgewers-soek-geld. Te besmetlik. Te veel kommin kroeggrappies. Te gematig. Te gemiddeld. Hoe eksplisiet of ironies hierdie boeke ook al bedoel is – dit voel asof ek ‘n toekomsgerigte ruimteskip beman met ‘n toereteller in die rooi, dit skud, dit ruk, maar dit wil net nie opstyg nie. ‘n Helikopter waarvan die lemme al in die rondte draai en draai en draai, maar net nie van die grond af wil kom nie. Waarom moet ons met sulke neerslagtige, neerdrukkende en nivellerende boeke opgeskeep sit wat oortollige ballas is? Van waar hierdie probleemboeke wat kitsoplossings vir elke liewe sosio-ekonomiese probleem uitbeeld (asof ons nie Google ken nie)? Of beskuldigings links en regs uitdeel? Is hierdie maar net boeke wat simptome behandel? Waarom nie dan meer radikaal (uit Latyn: radix, die wortel) te werk gaan nie?

    Party sal die Sestigers verwyt vir die groot skade wat hulle die Afrikaanse letterkunde aangedoen het deur hul politieke en maatskaplike betrokkenheid en die eksperimentering met die marxisme en die eksistensialisme in die Afrikaanse letterkunde. Julien Benda het dit reeds in sy Franse opstel “La trahison des clercs” (1927) gewaarsku: die Franse literatuur is besig om te ontspoor. Toenemende nadruk is in die tekste geplaas op nasionalisme, xenofobie, rassisme, marxisme en militarisme, teenoor die temas wat eintlik behandel moes word: redelikheid, rasionalisme en internasionalisme of die universele gees wat opwaarts gestu word. Hoe om die gees te stig, met ander woorde. Ander, soos Jan Rabie, verwyt in “Buidel” die 1980’ers in die Afrikaanse letterkunde wat hul van die internasionale wêreld weggeskeur het en obsessief met Suider-Afrikaanse (politiese) belange bemoei en “herwaardeer” het. Rabie wat geglo het in die pionierskap van die Afrikaner in die ruimte-eeu (vandaar die etlike wetenskapsfiksie wat hy vertaal en self geskryf het). Rabie wat geglo het: Culture for export is culture no longer (uit: “Buidel” 1989. bl. 68 ). Die vernietigende golf het uiteindelik op die strand van die 1990’s gebreek, maar nog nie teen die 2010’s besluit om terug te trek nie. Nogal jammer.

    Ek hoop uit die diepte van my hart daar verskyn binnekort boeke wat hierdie distopiese en “weerwolfromans” (lees: nihilistiese romans!) sal parodieer. Ek hoop om ‘n stralende sterk karakter in daardie verhaal te vind, met matige testosteroonvlakke en harigheid, maar oorgenoeg dryfkrag, wat nie meer ‘n voorspelbare anti-held is nie, maar die spreekwoord “altiora semper” (streef altyd na hoër) of “per aspera ad astra” (deur die moeisame weg na die sterre; deur die nag na die lig), of “Non est ad astra mollis e terris via” (daar is geen gemaklike weg vanaf die aarde na die sterre toe nie) of “noli volentibus arduum” (niks is te moeilik vir hulle wat wil nie) in aller yl in sy bloedrooi habyt wil najaag. En die intrige na nuwe hoogtes voer. Hierdie ster is egter geen blinde doel of gier nie, maar ‘n middel tot ‘n doel. Met genoeg versoekings op sy pad. Moeilike versoekings. Listige versoekings. Mag dit ‘n wolf wees wat nolens volens mens wil word en sy verstandelike en geestelike vermoëns probeer oorskry, maar telkens deur die mens bedrieg word. En ten spyte daarvan tog in sy doel slaag: die wolf word mens, en streef nou na intellektuele bomenslikheid en beskaafdheid. Of verhale wat bo die materiële en stoflike welvaart uitstyg na die geestelike en intellektuele. Of wat van ‘n mens wat kyk hoeveel trappe hy tot bo kan opklim na die sware en ryp sterbehangende hemel? En die sterre van sukses een vir een afpluk? En ‘n paar in die vrugtemandjie oorhou vir ander om verder te benut? Hei, waarom die reistog alleen aanpak? Daarvoor is daar mos maats om jou te help en in die vreugde te deel, dan nie? Kom ons breek tog weg van die voorspelbare individualistiese isolasie en outsiderskap. Dis so 1950’s. 67 jaar te laat. Pioniers het mekaar nodig.

    ‘n Boek wat myns insiens dit amper-amper regkry is “Loeloeraai”, deur C.J. Langenhoven, in 1923. Hoewel die boek baie vermanend didakties, humanisties-humoristies (“ons sal slegs Eden bereik as ons hand in eie boesem steek”), antroposentries (mensgesentreerd) en opsigtelik sterk nasionalisties gekleur is (veral die reis na die maanparadys wat leierloos aan die kwyn is: neem leiding en beskerm dit wat joune is), was die ruimtewese op besoek, Loeloeraai, ‘n “voorbeeld” hoe die mensdom met bietjie meer verligting kan optree. Hierdie sjarmante heer (met sy beskaafde Franse diplomatiese humorsin) het o.a. oor telekinese beskik en ‘n fyn waarnemings- en beredeneringsvermoë. Loeloeraai versinnebeeld die entelechie, ‘n Aristoteliaanse begrip om na die “einddoel” of “eindproduk” van die mensdom te verwys as die strewe lank genoeg volgehou word – amper soos ‘n rusper wat skoenlapper word. Die hele mensdom baat by die vooruitgang.

    Daar was natuurlik boeke soos Paulo Coelho se veelbeduidende Jungiaanse titel, “Die alchemis”, wat hierdie tema egter gekaap het: die skaapwagter wat sy skat (individuasie) gaan soek. Die probleem met hierdie Jungiaans-besielde boeke is die ewe selfgesentreerde as selfsugtige neigings, met dieselfde herhalende Gnostiese leuen: jy moet eers jouself soek en ken, voordat jy van nut tot ander kan wees. Wel, dan gaan jy lank soek… en geen antwoord kry nie: want Carl Jung se werke is ook nie op die rede of logika gegrond nie, hoor. Sterkte, in elk geval.

    Net so het Sheila Cussons se spreker in haar digkuns ‘n mistieke eenwording met God gehad (soos etlike monnike en nonne glo al reggekry het), en in die proses van die heerlike omgang haar vingers verbrand as deel van die transformasieproses. Maar wat daarvan – wat het jy nou eintlik daarmee bereik? Nee wat, dit het absoluut niks vir die mense rondom jou gebaat nie. Ek beskou dit as persoonlike verwikkeling, maar geen ontwikkeling nie.

    Ek ken ongelukkig te min Frans om die beskeie  Quebecse letterkunde hier te bespreek, behalwe dat ons ook hier met ‘n groep te make het wat lyk my nog pionier-denkend is in hul wetenskapsfiksie/fantasie en hul eie taal en kultuur op hul taaleiland daardeur probeer beskerm; heelwat anders as hul meer dekadente metropoolgenote in Frankryk. Dit mag dalk later tot interessante artikels hier by Praag aanleiding gee. Ons weet eintlik maar min wat in daardie deel van Kanada aangaan.

    Die doodnormale sterflinge en pioniers soos ons plant maar saadjies (klein begin, aanhou win), ander mense maak die boomplantjies nat, ander bemes die bome, ander oes die vrugte van die bome vyf dekades of eeue later. Jy sien duidelike, geleidelike vordering; geen beeldestormlope, vloermoere of kamikaze-aanvalle bloot om ‘n niksseggende stelling te maak nie. Dit klink vir my heel billik en redelik genoeg. En die onbetrokke res staan eendag in verwondering en vervoering oor die digte, hemelhoë woud met talle kristalhelder kalm stroompies wat ongesiens op die onvrugbare woestyngrond van weleer aangegroei het. Maar êrens moet mens seker begin met die plantwerk. Konstruktiewe pogings werk nogal aansteeklik.