Suidpunt: Die opvallende raakpunt tussen Afrikaans en Korsikaans

Jy onthou seker my ellelange PRAAG-artikel waarin ek die verwerping van Nederlands bespreek het. Daar het ongelukkig een puntjie agterweë gebly. Soos onkruid in die blombedding of ‘n vlek op ‘n sitkamermat kan jy dit nie miskyk nie, maar met verloop van weke, maande en jare raak jy net gewoond daaraan en vergeet daarvan.

Afrikaans het sy ontstaan as amptelike taal nie eintlik te danke aan die Afrikanerdom, die Duitsers, die Hollanders, die Skandinawiërs – ag, die hele boel afstammelinge van sekere volke Europeërs nie.

Nog minder die Kaapse Maleiers. Dis nou afgesien van die feit dat in Nederlands daar beslis meer Indonesiese woorde opgeneem is as wat Afrikaans ooit sal kan hê. Het die Hollandse digter Gerrit Komrij ook lankal gesê – maar die Afrikaanse proffies is mos slim. Daar is selfs ‘n woordeboek uitgegee getiteld Indisch lexicon : Indische woorden in de Nederlandse literatuur : een vervliegende woordenschat deur Peter Mingaars in 2005 met CD-ROM. Ons praat hier van byna 19 000 woorde. En let wel: dit is maar woorde wat dikwels ook geleentheidshalwe op skrif gebruik is. As jy nog nie weet nie – die verskil tussen Maleisies en Indonesies is maar gering – die Hollands-Britse skeidslyn het die sprekers van die Maleisiese dialekkontinuum van mekaar geskei, net soos die Limburgers tussen Duitsland, Nederland en België. Of die Nederlandssprekendes al langs die grense van Frankryk, België en Nederland en Duitsland. Dis regtig nie te moeilik om te begryp nie.

Nog minder kon die Afrikataalsprekers Afrikaans vingeralleen tot stand gebring het.

Dames en here, die enigste groep wat werklik Afrikaans tot amptelike taal gedryf het is… die Britse owerheid en die Engelse pers. Lord Milner en gevolg self.

NOOIT! Dis Absurd! Onmoontlik.

Het ek ook gedink met die lees wie verantwoordelik was vir die oprigting van die Van Riebeeckstandbeeld (Veertien gedenktekens van Suid-Afrika, 1961, pp. 13-14):

Die Standbeeld van Jan van Riebeeck

(Geskryf deur Dr. A.J. Böeseken)

Cecil Rhodes die skenker en John Tweed die beeldhouer

Toe Rhodes in 1890 Eerste Minister van die Kaapkolonie geword het, was hy reeds in die besit van ‘n baie groot fortuin. Van al sy rykdom het hy egter byna nooit iets vir sy eie gerief of die veraangenaming van sy persoonlike lewe gebruik nie [sic!].  Nou het hy gevoel dat hy ‘n woonplek wou hê wat meer in ooreenstemming sou wees met sy status as eerste minister. In 1891 het hy gehoor dat een van die ou Hollandse huise in die mark sou kom en het hy besluit om dit te koop en daar te gaan woon. Spoedig was hy ook eienaar van die omringende gebied, wat destyds omtrent ₤60,000 gekos het. Aan hierdie landgoed het hy die oorspronklike naam teruggegee en dit “Groote Schuur” genoem.

[…]

In weerwil van sy politieke bedrywighede – hy het in 1893 sy tweede kabinet saamgestel – het Rhodes ‘n breë belangstelling vir die kuns, veral vir die bou- en beeldhoukuns, aan die dag gelê. Die enorme fortuin waaroor hy beskik het, het hom in staat gestel om meer as net belangstelling te toon, en so is dit aan hom te danke dat verskeie ou Hollandse huise herstel en ander in dieselfde styl herbou is.

Sy bewondering vir oudhede het hom ook ‘n geesdriftige versamelaar van ou Kaapse meubels gemaak.  Toe hy na sy tweede kabinetsvorming nouer aansluiting met Jan Hendrik Hofmeyr en sy volgelinge gesoek het, het hy onwillekeurig nog meer klem en nadruk gelê op sy bewondering vir die oud-Hollandse tradisies, waarin die Kaap gewortel was. In 1895 is die Rhodes-prys vir geskiedenis bv. nie slegs vir die studie en kennis van die Britse Ryk uitgeloof nie, maar ook vir die bestudering van die geskiedenis van ons land vir die tydvak 1648 tot 1688.

Die besluit om ‘n standbeeld van Jan van Riebeeck te laat maak, was dus in ooreenstemming met hierdie ideale. […] Kaapstad, het hy aan een van sy vriende gesê, sou spoedig die hoofstad van ‘n verenigde Suid-Afrika wees, en dus wou hy help om dit ‘n pragtige en sierlike hoofstad te maak. Tweed is opnuut genader met die versoek om ‘n meer as lewensgrote [sic] beeld van Jan van Riebeek te maak. Rhodes was gewillig om die beeldhouer ₤1,000 te betaal[…]

Nou breekt mijn klomp. Jy wil die hele wêreld van Kaap tot Kaïro verower vir Haar/Sy Majesteit, maar raak liries oor ‘n paar skrootmeubels – van die afstammelinge/voorgangers van die einste mense wat hul kultuur juis deur jou dade aan die kwytraak is.

Of dalk is ek net te krities: argeologie [van uitgestorwe stamme], opgrawings en artefakte, die studie rondom die opbloei en verval van beskawings en ryke, skattejag op relieke, en skoenlappervang was immers daardie tyd van die fin-de-siècle mos hoogmode. Hoe skaarser, hoe beter. Dit was nou voordat Paulo Coelho minder as ‘n eeu later met Die Alchemis (1988) se soektog na die “skat van die hart” die hele Jungiaanse popsielkunde op loop gesit het – dat die mens dieper in sy onbewuste moet delf en grawe; sommer net daar op die sielkundige se rusbank. Al wat van daardie versamelsug-dae van weleer oorgebly het is Indiana Jones en Lara Croft op DVD. En ‘n paar toeriste op begeleide safari- en staptoere tussen die stomende, fermenterende buffelmis deur. Die res van ons dwaal maar in die kuberruimte of biblioteke rond.

Maar hierdie restourasiedrome van Rhodes was natuurlik vóór die Jameson-inval (wat sy planne vir ‘n verenigde Suid-Afrika opgedonder het), sy bedanking as eerste minister in 1896, sy vriendskap met onse Jan Hendrik Hofmeyr en die Afrikanerbond wat versuur het, die openbare mening wat skerp teen hom gedraai het, sy huisie Groote Schuur wat in 1896 deur die brand verwoes is (en hom in die put van ellende, stilstuipe, selfbejammering en selfopgelegde slagofferskap laat beland het: “What with raids, rebellion, famine, rinderpest and now my house burnt, I feel like Job, all but the boils” (p. 16)).

Ek is seker die standbeeldprys wat ondertussen óók gestyg het was dan seker maar ‘n kleinigheidjie.

Boonop [kon ek ook vir jou met of sonder ‘n Garmin sê!] het niemand geweet waar Van Riebeeck nou eintlik sy eerste spoor in die sand getrap het nie. Uiteindelik, in Oktober 1898, het Rhodes maar self die plekkie aangewys waar die beeld moes staan. Soos die tyd aangestap het, het hy belangstelling in sy Sondagmiddagprojekkie verloor – sy drome was immers toe aan skerwe. Rhodes was buitendien in Europa toe hy ‘n kabelbriefie aan die burgemeester gestuur het om met die onthulling voort te gaan, aangesien die datum van sy terugkeer onseker was. Met soveel sware las wat op sy skouers rus, wat selfs Atlas seker met simpatie sou betrag, het Rhodes die loopplank eers op 18 Julie in Kaapstad laat les opsê (p. 17-22).

Die standbeeld is op 18 Mei 1899 onthul, met die burgemeester van Kaapstad, miester Ball, wat sonder ironie in Ingels met die grootste lofliedere oor Jan van Riebeeck gekoer het [wat dooi’ Jan in die hiernamaals geen woord van sou verstaan nie]; oor pionierskap en so. Alles was, eweneens sonder ironie, in rooi getooi – rooi was die tapyte, rooi die omheinings wat die eregaste van die hoi polloi geskei het, en, net soos ons huidige parlementsopening, was die orkes geklee in… raai? Rooi.

Groot was die toeval, toe ‘n Nederlandse oorlogskepie, die Ajax, nou juis daardie dag, asof ‘n bestiering, die Kaapse vaarwater binnegevaar het. Die skip het immers so netjies ingepas by die dekor en rekwisiete – asof Van Riebeeck en sy manne self die Britte op land met die hand kom groet het. Die offisiere en manskappe is vriendelik by die verrigtinge verwelkom.

Na al die spietses van die burgemeester [wat niemand in elk geval kon hoor nie, want by niemand het gedink om die verkeer tot stilstand te bring tydens die plegtigheid nie…boonop het Ball sag gepraat] en dankies vir de heer Rhodes in absentia en skaregejuig, het die Britse orkes [die First Liverpool Regiment] die Britse volkslied gespeel en daarna “het drie hoera’s weerklink vir die burgemeester en vir die heer Rhodes” (p. 17-22) en almal het maar weer huis toe gegaan.

Sedertdien het elke seevoël uit pure verveling ook sy draai, sagte landing, buiging en merk gelaat op die standbeeld. Die feit bly egter staan – hoe onaangenaam die waarheid op jou kop ook al moet kwets – dit was nie die Afrikaner wat daardie beeld van Jan van Riebeeck in die Kaap opgerig het nie. DIT WAS DIE ENGELSE!

Nou kyk, om ‘n standbeeld op te rig is een ding, maar om nou nog die Afrikaans taal ook “staan te maak”? Dis mos waansin?

Ontkenning bly egter die mees voorspelbare reaksie van ‘n menslike antwoord.

Paps was onlangs in Italië. Tydens sy werksbesoek was hy op Sardinië, ‘n eiland benoorde Sisilië. By sy tuiskoms het ek ‘n boek gekry en ‘n rooierige geldnoot wat ek eers aangeneem het ‘n vyftigrandnoot is. By nadere ondersoek sien ek dis ‘n tieneuronoot – omtrent drie keer die waarde. Dit is egter die boek, getiteld S’Istòria de Sardinna (2000, pp. 45, €6,00) deur Frantziscu Tzèsare Casula wat my belangstelling geprikkel het. Ja, “Die geskiedenis van Sardinië.” Die onherkenbare woorde soos “limbra”, “sos” en die allervreemdste gebruik van die gravisaksent en akute aksent het my klaar oortuig dis geen Standaarditaliaans hierdie nie. Bietjie google bring my by ‘n boekinventaris wat sê: “Sardo logudorese”, oftewel, “Die Logudorese subdialek van Sardies/Sardinies, self ‘n dialek van Italiaans.” Omrede Sardinies self uit vier hoofsubdialekte bestaan, is dit vir my juis interessant dat hierdie spesifieke subdialek wat tot literêre skryfidioom verhef is, Logudorees, aangrensend aan Katalaans in die weste, juis redelik ver in die noorde en ook baie ver van Cagliari, die (hoof)hawestad doer onder in die suide van die eiland geleë is.

Sommer uit pure stuitigheid probeer ek kyk of Google Translate hierdie taal sal herken. Sonder om enige moeite te doen met akuut- en gravistekens en met ‘n doelbewuste spelfout aan die einde begin ek oortik: “Sos primos omines chi si sunt istabilidos in Gaddura e in sa Sardinna sent…”. Google Translate herken die teks as Korsikaans. Glad nie sleg nie – dit is die eiland net noord van Sardinië.

Korsika, sover ek reg onthou, is mos die eiland waar Napoleon gebore is. En dis mos ‘n Franse eiland? Voorheen wel Italiaans (ja, dit was eers in besit van die Republiek Genua vanaf die 13de eeu, en selfs ‘n ouer deel van Italië, Etrurië vanaf die jaar 539 v.C.)?

Die een vraag lei na die volgende:

Kan die Franse en Italianers Korsikaans verstaan? Hoe verwant is Korsikaans aan Italiaans, as dit so naby lyk op Sardies? En dit bring my uiteindelik by ‘n antwoord op Quora.com :

Italians can understand Corsican very well,.Among the italian dialects( linguistically Corsican cannot be considerated a separated Language also if many people like to call it Lingua ), it’s one of the closest to standard italian.Just Tuscan is the only one dialect closer to standard Italian than Corsican.The only big difference among Italian and Corsican is the use of U where Italian use O.It was so also in medieval Italian and it’s still so in many Italian dialects , bit not in standard Italian or in Tuscan that have transformed U in O. Other difference is the strong french accent of the Young Corsican generations, but old generations had a completly italian accent..One accent that seemed a mix of Tuscan and South Italian. Cismontano or better, northern dialect is totally Tuscan, the Southern dialect has a stronger presence of the pre-tuscan romance Language, that I supose was similar to Sardinian, but is still highly intelligibile for Italians.

En dan, tref die groot aha!-oomblik:

Despite the efforts of the French government to separate Corsicans from Italians ( absurdly fearing Italian interferences in the island ) telling them, in the schools, and everywhere, that their Language is a separated romance language, Corsican is just a variety of Italian very close to Tuscan and to standard Italian.You change the U with O, and avoid the modern french accent of the new generations and Corsican is perfectly Italian.Corsican is so far from Italian as Parisian slang from French.

French, of course, is not intelligible with Corsican, the only similarity derives from the far same origin in Latin Language.

Nou toe nou. Terwyl die Italiaanse owerheid aan al sy dialekte dieselfde voorregte gee, maar Duits in Suid-Tirool tog vir jare onderdruk het, sien ons by die Franse owerheid iets wat my baie herinner aan koerante wat vuur spoeg teen “Kitchen Dutch”.

Aan die een kant wil dit lyk of ‘n (nuwe) veroweraar met ‘n vreemde taal heel eerste ‘n taal van sy onderdane ‘n ruk lank sal verduur. Vier rigtings kan ingeslaan word: (1) gedwonge assimilasie, (2) om die taal aan sy eie sprekers oor te laat, (3) of om die taal van die vreemde volke verder te ontwikkel of (4) om soos Duitsland ‘n lingua franca wat reeds bestaan het in Duits-Oos-Afrika (naamlik Swahili)  ongesteurd sy gang te laat gaan of uit te bou, terwyl die administrasietaal steeds Duits bly.

Die Koning van Frankryk het byvoorbeeld met die uitroep van die Ordonnance de Villers-Cotterêts in 1539 ‘n uiters vrygewige stap gevolg, al was dit maar punt (2) – alle tale in Frankryk was voor die reg gelyk. Of jy nou Elsassies gepraat het, Bretons, dit maak nie saak nie: alle tale is voor die regter gelyk. Elkeen moet in sy moedertaal verhoor en ondervra word. Ek dink geen mens in die huidige Suid-Afrika kon ooit so “liberaaldenkend” wees nie. Soos die konings en die adel se koppe gerol het na afloop van die Franse Revolusie het ‘n drakoniese taalbeleid in Frankryk opgestaan wat doelbewus klein taaltjies begin onderdruk het. Veral Bretonssprekers het swaar gely [Bretons is boonop ‘n Keltiese taal, wat hom nog meer die omega-wolf maak waarop die ander pik]. Deesdae is die Franse minder stief op hul taalonderdane.

Nederland volg ‘n Punt (2)-(3) met sy dialekte en Fries. Ja, jy mag maar jou boek in Twents (dialek) en Fries (taal) skryf. Die onus rus op die sprekers om die dialekontwikkeling verder te voer. Ja, ons gee elke jaar hordes geld aan die Friese Instituut. Maar tog verhollands die Friese teen ‘n skrikwekkende tempo. Ons was ons hande in onskuld.

Apartheid-Suid-Afrika het ook nommer (2)-(3) gevolg, met ‘n skerper neiging na nommer 3. As mens kyk na al die vreemdetaalwoordeboeke wat voor 1990 tussen Afrikaans en ander Afrikatale geskryf is, te midde van al die sanksies en te midde van die ekonomiese boikotte… moet ek regtig my sin voltooi? Daar is werklik moeite gedoen om tale te ontwikkel en om Afrikatale te leer ken. In Transvaal was ‘n Afrikataal op ‘n stadium selfs verpligtend. Daarteenoor het ek my sterkste bedenkinge of Fries vandag as pligvak noodwendig in Amsterdam doseer word. Of Wallies en Gaelies in Londen.

Die ‘ontstaan’ van Afrikaans toon wel ‘n raakpunt met Korsikaans. Heel eerste kom die “nuwe” heersers af op ‘n dialek van ‘n taal. Dialekvorming en die ontstaan van dorps- en streekstale is so algemeen soos môre heeldag – ‘n moedertaalspreker, soos ek reeds tevore geskryf het, is meer gepla oor die bloutong onder die skape as om elke vyf sekondes na ‘n woordeboek te hol om tog die korrekte bewoording te gebruik. Taalverandering is normaal. Taalverloedering is wel iets anders.

Maar die uitsondering word gemaak – hierdie dialek word vir die een of ander rede óf sleggemaak (“Kitchen Dutch”) óf ‘n bastertaal genoem óf verkleineer óf word onderwerp aan taalpartikularisme. Enigiets word gedoen om hierdie dialek van die stamtaal te onderskei. En te skei. Dit kan wees omrede diegene wat NIE in Suid-Afrika gebore is nie [net om duidelikheid: ek praat nie noodwendig van die gebore Franssprekendes op Korsika of gebore Engelssprekendes in Suid-Afrika nie], dikwels moeite het om hierdie dialek onder die knie te kry. Nie dat ek weet waaroor die bohaai gaan nie, want as jy Italiaans op Korsika [‘n klipgooi ver van Italië] sou praat, of Nederlands in Suid-Afrika, is dit ewe gangbaar. As jy nou regtig belangstel in die dialek kan jy ‘n taalboekie daaroor skrywe. Maar dikwels is die heerserstaal se sprekers net onwillig en dwars om enige ander taal aan te leer.

Ironies genoeg word geen onderskeid getref tussen Korsikaanse Frans (en kreool) en Standaardfrans of Suid-Afrikaanse Engels (en kreool) en Britse Engels nie. Frans is mos Frans en Engels bly Engels. Daarvoor sou ‘n mikroskoop oorbodig wees.

Dan begin die volk homself anders of uniek en veral broos en afgesonderd van die wêreld sien. Weer weet ek nie waarom nie, want met al die tekste in Romaanse, Germaanse en Slawiese tale en selfs Latyn daarbuite voel mens glad nie so op ‘n taaleiland vasgekeer of alleen nie. Elkeen het wel sy eie rasionele en irrasionele insigte op die plek waar hy hom bevind – en dis die rede wat die groot bindingsmiddel tussen lesers en eeue is. “Daar is lewe anderkant [dorpsnaam]”, is ‘n spreekwoord waarmee ek grootgeword het.

Dalk is dit Stockholmsindroom, dalk is dit die pers wat met herhaling op herhaling mense breinspoel. Want uiteindelik vind die skeuring tog maar plaas. Ons sien dit onder die Vlaminge wat ook onder Franse bewind was [en Brussel wat steeds verfrans] wat tog nie daardie “halfjoodse” Hollands van die Nederlanders wou praat nie. Soos Guido Gezelle aangehaal word in Van Eeden (1995) se boek Afrikaans hoort by Nederlands:

“Ik ben geheel zeker dat de tijd allengskens gekomen is dat wijlieden, al te maal katholieke nederlanders, behooren op malkaar te steunen, liever als voortdurend naar het half joodsch, half heidensch Hoog-Holland te gaan om steun en goedkeuring!” Hollands het Gezelle gesien as ‘n wangeskape ‘bastaardtaal’. Ook die oorname van Franse leenwoorde in Hollands was vir hom ‘n gruwel, want ook Frans het hy as ‘n ontaarde taal gesien. Vir Gezelle was Vlaams die ware Nederduitse taal, die Katolieke taal van de Katolieke Vlaminge, en het “West-Vlaamsch, zooals het in het dialect voortleeft, onverbasterd gebleven; het bezit nog de zeggingskracht der oude, zuivere natuurtalen”.

Dis nou wragtig interessant. Klaarblyklik begin die onderdaan later soos die maghebber self klink. Maar nou vind ‘n ommeswaai plaas: die dialek probeer homself “verskoon”, “regverdig”, “op ‘n voetstuk plaas”, “heiliger as heilig”, beter as die “oorwinnaarstaal se opponente” maak. Miskien moet ek jou weer herinner aan my onderhoud met Dr. Roodt:

In die Taalgenoot van Somer 2016 kom ek op ‘n gedig (Getiteld: “Eie in sy soort”) af met die volgende drie inleidende verse: “Dit is beter as Spaans / En selfs beter as Frans / Dit is Afrikaans.” Die gediggie lys dan ‘n klomp Afrikaanse skrywers en genres. Dat die digter, ‘n tydskrifleser, seker niks van die Franse of Spaanse taal, letterkunde, wysheid of Franse aanhang deur Brusselaars weet nie kan ‘n blinde met ‘n stok aanvoel. Soos die dwangrym. Dit is wat nié in die gedig staan nie wat my pla. Die digter het onbewustelik haar onderdanigheid aan die superieure Engels bely. Of moet ek dankbaar wees sy het nie Nederlands, Duits en Russies saamgesleep nie?

En vreemd genoeg, is die vreemdtalige owerhede tog te bly oor hierdie skeuring. Want nou is die ‘groot vyand’ aansienlik kleiner gemaak en geen bedreiging meer nie.

Maar waarom daar altyd ‘n wen-verloor in stede van ‘n wen-wen– of gelykop-situasie moet wees het niemand skynbaar ooit oor nagedink nie.

Nou bly die interessante vraag wat die Korsikane gaan maak. In die verlede het die Franse probeer om die taal te onderskei van Italiaans, maar die Korsikane het net elke keer gesê: “DUH, L’HONORABLE CHÂTELAIN de POEPHOL! ONS IS ‘N DIALEKGROEP VAN ITALIAANS! AL MILLENNIA LANK. Rome is skaars 400 km hiervandaan, met ‘n bietjie see en ‘n paar skeepswrakke tussenin… weet jy ooit hoe om ‘n atlas te gebruik? Nee? Gebruik dan jou maatband.” Tog het Korsikaans sy eie skryftaal gekry sedert die Fransman met sy sleeptassie aangeland het op die Aéroport d’Ajaccio Napoléon Bonaparte. En hier ontstaan die problematiek: noudat Korsikaans sy eie skryfwyse gekry het, is dit ‘n taal of dialek? Asof ons nooit Limburgs en Twents onder oë gehad het nie – natuurlik kan elke dialek besluit om sy eie spelreëls te ontwikkel.

Maar – die teerling is gewerp.

Afrikaans is die uitvloeisel van die botsing met ‘n entiteit wat as ‘n bedreiging beskou is/word. Sonder Engels sou alle Afrikaanssprekendes waarskynlik vandag steeds “Hollands” gepraat het. Van Boet en Saartjie en Sus en Daan sou niemand op skool gehad het nie – wel Annie M. G. Schmidt se Jip en Janneke. Want, soos ek voorheen geskryf het rondom Frans – die Franse het tot 813 n.C. geglo hulle praat Latyn of Romeins (“Gallo-roman”). Totdat die vergelyking tussen die Klassieke Latynse en Oudfranse tekste gemaak is en – “haai, ons het ons vir eeue lank vergis, wil jy nou meer!” As jy glo jy praat Hollands, dan praat jy mos Hollands. Niemand gaan jou anders kan oortuig nie.

Daar is ‘n tweetalige boek getiteld: Problemi e prospettive della pianificazione linguistica in Sardegna (2016) [Probleme en perspektiewe rondom die taalbeplanning op Sardinië] wat ek op my wenslysie geplaas het. Uit wat ek aflei kry hierdie taal/dialek ook maar modderige tweederangse status op die eiland self – dis die Standaarditaliaans wat deurgaans respekteer word. Ek twyfel of Afrikaans, as dialek, die bietjie prestige sou bekom het wat hy selfs tans geniet.

Wat op taalpolitieke terrein sou gebeur kan mens lank oor spekuleer – enigiets vanaf ‘n taalmodel soortgelyk aan Suriname [Nederlands word daar as prestigetaal erken en is hoog aangeskrewe] tot totale uitwissing [soos in Indonesië die geval is]. Dis nou voor die aankoms van die Engelse of sedert ‘n verdrag onderteken is wat die Kaap permanent aan Nederland sou teruggee. Of ‘n Nederlandse avonturier in die monarg se oor sou fluister om na die binneland uit te brei, lyk hoogs onwaarskynlik. Dis nou alles vóór die uiteindelike onafhanklikheidsverklaring in die 1960’s tot 1970’s, volgens die postkoloniale mode.

Maar selfs al sou ‘n Britse kolonie en die gevolglike Groot Trek deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en al sou die Anglo-Boereoorlog gewen word deur die Boererepublieke – die uiteinde van volk en taal staan alles reeds in Steve Hofmeyr se boek, Die verste uur (2011), klaar ondubbelsinnig uitgepluis (pp. 73 & 78):

“Watter boek soek u?”

[…]

“Enigiets oor die geskiedenis van die Afrikaner oor die afgelope honderd jaar.”

“Die wie, meneer?”

O fok, dink ek. Iemand val van ‘n perd af in die Modderrivier en vee ‘n hele nasie uit?

“Daar is eers onlangs ‘n meer ordentlike boekstawing van Afrikane-geskiedenis, deur die Keniaan, Grinzane Rouki. Sy spesialiteit is Sahara-Suid. Maar van die Afrikaners weet ek niks nie. Is dit die werk waarna u soek?”

[…]

“O, ek het die Afrikaners opgespoor. ‘n Kleinerige stam voor die groot verengelsing in die Kaapkolonie. Maar dit is nie NZAR-geskiedenis nie. Daar was wel wedersydse taalbande en -forums…”

Die Boervolk het oorgebly, die Afrikaners het heeltemal verengels.

Die gevolgtrekking waartoe die karakter Jamie dan uit die naslaangidse kom, word in uiters dubbelsinnige taal verwoord (p. 77):

Die Tweede Aanslag op Boeregrond vanuit swart buurlande misluk en loop uit op die Sub-Sahara-federasie, deels in weerwil van Europese bure en deels in pogings om die Boere deur beter handel as handelsvennoot te betrek. Betrekkinge bly louwarm.

So ook, aanvanklik, betrekkinge tussen die Afrikaners en Boere. Daar is wel Prellers, Celliers’s, Leipoldts, Malherbes en ‘n Totius, maar literatuur sonder die swaar juk van Britse propaganda en Engelse infiltrasie wat ons taal vlerke sou gee. Daarom ook geen Ossewabrandwag, geen ANC…”

Het die swaar juk van Britse propaganda en Engelse infiltrasie as noodwendige katalisator, die aandrywer gedien vir die Afrikaanse taal? Of het Die Taal juis later, dus in die verhaalhede, in medias res, wél nuwe grense deurbreek en floreer, as gevolg van hierdie las wat ontbreek en die ekonomiese opbloei van die Boererepublieke – waarin Jamie hom tans bevind? Die boek laat die leser self besluit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.