Tuks-staking: Rektor ontvang meer as R3m per jaar

In ‘n stakingsbrief wat deur vakbonde aan die Universiteit Pretoria vrygestel is, word die vergoedingspakket van die huidige rektor, prof. Cheryl de la Rey, onder wie se leierskap die universiteit finaal verengels word, onthul. Sy ontvang altesaam meer as 3 miljoen rand, waaronder R2,2m aan salaris en R850 000 aan ‘n bonus, plus ander byvoordele.

Die stakingsbrief (sien hier onder) begin met die aanhef, “revolusionêre groete” en is deur NEHAWU, Solidariteit en UPWO onderteken. Blykbaar bied die universiteit net 8% verhoging aan, terwyl die vakbonde 8,8% eis teenoor 10% wat aan sommige universiteite toegestaan is.

Interessant is ook dat die universiteit oor R10 miljard se kontantreserwes beskik, afgesien van ander beleggings, terwyl gerugte deur Engelsgesindes versprei word dat hy nie “Afrikaans meer kan bekostig nie”.

Volgens die brief begin die staking vandag.

Tuks_stakingsbrief

Tuks heropen ná gister se ontwrigting deur swart studente

Die Universiteit van Pretoria heropen vandag nadat dié instelling gister weereens tot stilstand gekom het toe lede van die EFF, Sasco en opgeruide swart studente aktiwiteite ontwrig het. Blanke studente in die biblioteek is aangesê om die kampus te verlaat of daar sal geweld teen hulle gebruik word. Hierna het die universiteit ‘n Engelse boodskap aan alle studente per sms uitgestuur waarin verrigtinge vir die dag opgeskort is:

Students, academic activities are suspended for today, due to disruptions by students. Further info will follow on the web later today.

Blykbaar het die universiteit sedertdien met die radikale swart studente gesprek gevoer, want intussen het die rektor en visekanselier, prof. Cheryl de la Rey, die volgende boodskap op die UP-webblad in Engels en Afrikaans gepubliseer:

Die Visekanselier en Rektor van die Universiteit van Pretoria het vandag (26 Oktober 2015) indringende gesprekke met die verteenwoordigers van al die studenteliggame gevoer.

‘n Formele ooreenkoms tussen al die partye is onderteken, waarin daar ooreengekom is dat akademiese aktiwiteite op 27 Oktober 2015 sal hervat.

Die aangepaste skedule vir eksamens sal sou gou as moontlik gekommunikeer word.

Dekane sal verdere kommunikasie spesifiek tot hul fakulteite hanteer rakende reëlings vir die herskedulering van toetse, indiening van werksopdragte en ander akademiese aktiwiteite.

Alle amptelike inligting rakende toetse, werkopdragte en eksamens sal beskikbaar gestel word op die UP-webtuiste en ClickUP.

Soos ons terugkeer na normale akademiese aktiwiteite, vertrou ek dat studente en UP-personeellede sal fokus op die opkomende jaareindeksamens en die afsluiting van die akademiese jaar.

Prof CM de la Rey
Visekanselier en Rektor

Jonathan Jansen oor sy moedertaal

'Ras/kleur is die aanjaer ('turbo') vir transformasie; verandering wat geensins verbetering hoef te wees nie."
‘Ras/kleur is die aanjaer (‘turbo’) vir transformasie; verandering wat geensins verbetering hoef te wees nie.’

deur Leon Lemmer

In die nuwe Suid-Afrika is daar baie nuwe dinge waaraan gewoond geraak moet word. Een hiervan is die kitsrektor. Hierdie term verwys na iemand wat nie oor tyd deur die range (van junior lektor tot lektor tot senior lektor tot medeprofessor tot professor) gevorder en op elke vlak behoorlik ondervinding van die akademie opgedoen het nie. Nee, hierdie mense het hulle sommer gou in ‘n pos hoër as dié van professor (naamlik dekaan, viserektor of rektor) bevind. Op daardie senior vlakke is ‘n mens veronderstel om reeds grondige ervaring van en insig in die wese van die akademie te hê. Weens gebrekkige voorbereiding kan dit kwalik van kitsgevalle verwag word.

Dit is natuurlik moontlik om buitengewoon vinnig in die akademie te vorder as iemand akademies buitengewoon briljant is. In die nuwe Suid-Afrika gaan dit egter nie hierom nie. Dit gaan veel eerder om transformasie, wat insluit dat iemand op grond van ras/kleur en geslag vinnig na die boonste vlakke kan vorder; natuurlik mits hy/sy nie wit en manlik is nie. Dit kan op vordering in die akademie ten koste van die akademie dui.

Tradisioneel blanke Afrikaanse universiteite ly seker die ergste onder die kitsrektorverskynsel. Hierby kom ‘n tweede kenmerk eie aan die nuwe Suid-Afrika, naamlik dat die blanke rektore aan Afrikaanse universiteite plek vir bruin rektore moet maak. Hier geld veral twee oorwegings. Eerstens word gepoog om die indruk te wek dat ‘n bruin rektor ‘n mindere bedreiging as ‘n swarte vir die heil van Afrikaans as onderrigtaal inhou. Tweedens funksioneer die bruin rektor as oorgangsfiguur van die vorige wit rektore na die swart rektore wat noodwendig na die bruine kom. Eers met ‘n swart rektor in die stoel sal die transformasieproses volledig verwesenlik wees. Ras/kleur is die aanjaer (“turbo”) vir transformasie; verandering wat geensins verbetering hoef te wees nie.

Wat baie duidelik by die vulling van sodanige rektorskappe behoort te wees, is dat die politieke stert die akademiese hond swaai. Wat reeds net so duidelik is, is dat ‘n bruin rektor nie met die heil van Afrikaans vertrou kan word nie. Daar is die klassieke voorbeeld van Jakes Gerwel, ‘n hoogleraar in Afrikaans, wat om politieke redes sy intreerede in Engels gelewer het en as rektor die Universiteit van Wes-Kaapland om politieke redes van ‘n oorwegend Afrikaanse universiteit tot ‘n uitsluitlik Engelse universiteit getransformeer het. Hoeveel te meer sal bruin rektore uit ander dissiplines as Afrikaans nie met oorgawe dieselfde paadjie bewandel nie? Hier onder vestig ek die aandag op drie sodanige rektore wat onderskeidelik as ‘n sielkundige, teoloog en opvoedkundige beskou word.

Daar is net een tradisioneel Afrikaanse universiteit waar Afrikaans (nog) nie (erg) agteruit boer nie en dit is die Potchefstroom-kampus. Die rede hiervoor is dat dit die enigste sodanige inrigting is wat steeds ‘n wit rektor het, maar sy pos word vir vulling in 2014 geadverteer. Aan universiteite is die stragegie om die universiteitsraad te transformeer, dus demografies meer verteenwoordigend te maak, en dan die rektorstoel teen wil en dank met ‘n nie-witte te vul.

Sedert 2009 is Cheryl de la Rey die rektor van die Universiteit Pretoria. Sy het in 1983 die graad BA behaal en eers in 1999 die doktorsgraad. Ná drie jaar as onderwyseres het sy wel deur die range van junior lektor tot professor en daarna tot viserektor gevorder. Maar sy het twee nie-akademiese voordele geniet, naamlik sowel ras/kleur as geslag. Die aankondiging van haar aanstelling as rektor is met ongeloof begroet. Sy kon dit aanvanklik self ook nie glo nie. Naas geslag onderskei ‘n ander faktor haar van die twee gevalle hieronder, naamlik dat sy Engelssprekend wil wees omdat sy naskools uitsluitlik aan Engelsmedium-universiteite (Durban-Westville en Kaapstad) studeer het. Daar moet nie verwag word dat sy uit haar pad sal gaan om Afrikaans as onderrigtaal te bevorder nie.

Russel Botman is sedert 2007 die rektor van die Universiteit Stellenbosch. Hy het in 1978 die graad BA verwerf en eers in 1994 die doktorsgraad. Hy was twaalf jaar lank predikant waarna hy in 1994 senior lektor, in 1999 medeprofessor, in 2000 professor en in 2002 viserektor geword het. Ras/kleur/transformasie (die onderwerp van sy doktorale proefskrif), dus politieke oorwegings, het skynbaar so ‘n groot rol in sy vinnige vordering in die akademie gespeel dat sy aktivistiese UDF/ANC-verlede eerder as ‘n bate pleks van, soos dit hoort, as ‘n absolute diskwalifikasie gefunksioneer het. Hy is deurgaans in Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland onderrig, waaruit egter nie afgelei moet word dat hy enigsins met die heil van Afrikaans vertrou kan word nie.

‘Jonathan Jansen se doktorale proefskrif van skaars 200 bladsye handel oor ‘n dekade van Zimbabwe se skoolleerplanne’

Jonathan Jansen is sedert 2009 die rektor van die Universiteit Vrystaat. Hy het die graad BSc in 1979 aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi en ‘n biologie-onderwyser geword. Beurse het hom in staat gestel om ses jaar lank in Amerika te studeer, waar hy aan twee uiters linkse universiteite, Cornell en Stanford, studeer en onderskeidelik ‘n magister- en ‘n doktorsgraad (eers in 1991) voltooi het. Sy doktorale proefskrif van skaars 200 bladsye handel oor ‘n dekade van Zimbabwe se skoolleerplanne. Hierna het hy vinnig gevorder tot professor in 1994, dekaan in 1997, eers aan Durban-Westville en van 2001 af aan die Universiteit Pretoria.

Hy is in Montagu gebore en is van huis uit Afrikaans en ‘n NG Sendingkerk-mens. Op grond van Jansen se ses jaar in Amerika en natuurlik opportunistiese politieke oorwegings het hy sy moedertaal versaak en Engels tot sy “eerste taal” verhef. Dan is die volgende stap maklik: As hy so goed is deur Engels te word, waarom kan almal nie maar verengels nie? Sy standpunt is dan soortgelyk aan dié van Alfred Milner (1854-1925) wat probeer het om die Transvaal te verengels. In sy aansoek om die rektorskap het Jansen egter onderneem om Afrikaans te bevorder. In sy intreerede het hy genoem dat hy iedere swart student wil dwing om Afrikaans te leer. Wat het van hierdie voorneme geword? In sy bespreking van Jansen se 2009-boek het Chris (Boetman) Louw Jansen ‘n wolf in skaapsklere genoem. Hy is nog nie verkeerd bewys nie.

Oor die rol wat ras/kleur in Jansen se bevordering gespeel het, kan daar min twyfel wees, al verkondig hy dat sy aanstelling uitsluitlik aan sy besondere akademiese voortreflikheid te danke is. In sy boek, Knowledge in the Blood (2009), vertel Jansen dat Johan van Zyl, toe die rektor van die Universiteit Pretoria en tans die uitvoerende hoof van Sanlam, glad nie in die blanke kandidate vir die dekaanspos belanggestel het nie. Die pos is toe deur Jansen gevul. Voordat Jansen as rektor in Bloemfontein aangestel is, het die destydse voorsitter van die raad van die Universiteit Vrystaat, regter Faan Hancke, verkondig dat die volgende rektor nie-wit sal wees. Sodanig was die nie-akademiese ingesteldheid weens al die politieke stof wat met die Reitz-video (2008) opgeskop is.

Op 18 September het Jansen die Percy Baneshik-gedenklesing gelewer. ‘n Verkorte,vertaalde weergawe is in Die Burger (3 deser, p 17) gepubliseer, met die volledige teks op daardie koerant se webwerf. Ek gebruik die oorspronklike teks, maar vestig die aandag op net enkele aspekte.

Jansen het dit tereg teen die sotlike strategie van bv die Afrikaanse Taalraad (ATR) om Afrikaans en die “non-English languages under one political umbrella” te bring. Hy noem dit tereg “a very superficial scheme to advance” Afrikaans. ‘n Mens vra jou af: Waarom beywer al die taalaktiviste vir Afrikaans hulle nie ondubbelsinnig vir die heil van Afrikaans nie? Waarom die dekmantel van “ander inheemse tale” gebruik as hulle eintlike doel is (of behoort te wees) om Afrikaans te bevorder?

Jansen het dit tereg ook teen “black elites trumping the value of indigenous languages in schools while their own children attend … schools in English”. Dit laat my dink aan Wannie Carstens wat op 26 September in ‘n toespraak “gedroom” het van Afrikaanssprekendes wat “spontaan” hulle kinders na Afrikaanse skole stuur. (Die volledige teks is op 27 September op LitNet gepubliseer.) Maar dan bring Carstens terselfdertyd hulde aan mense wat reeds jare lank in die ATR dien en openlik dislojaal teenoor Afrikaans is omdat hulle hulle kinders in Engelse skole geplaas het.

Ingevolge sy droom behoort Carstens moreel verplig te voel om hom met woord en daad vir die ontsetelling van dislojale Afrikaanssprekendes in die ATR te beywer. Die beste beginpunt is immers om jou eie huis in orde te kry en die ATR is een van Carstens se huise. Waarom het hy nie die ruggraat om iets daadwerkliks hieraan te doen nie? Carstens se kernprobleem is dat hy te veel deur modegiere gebuig word. Ek verpes dit dat hy feminisme-onthalwe na Afrikaans as “haar”, dus vroulik, verwys. As taalkundige stel hy hier gewoon ‘n slegte voorbeeld. Dat Carstens van sy neo-linkse politieke etiket hou, val nie te betwyfel nie. Hy verwys na diegene wat hom met Piet Croucamp en Anton van Niekerk assosieer en vervolg dan: “Ek moet erken dis nie ‘n slegte geledere om te deel nie!” (Maroela Media, 2 deser).

Waar is die ATR se voorsitter, Michael le Cordeur, se kommentaar oor Jansen se jongste uitlatings? Hy het dikwels baie te sê oor Kaaps en politieke sake, maar swyg nou oor die dwase standpunt van Jansen, terwyl dit eintlik om verdoeming smeek. Op die ATR-webwerf word daar geen ATR-standpunt oor hierdie saak gestel nie. Lesers word bloot na kommentaar in ander bronne verwys.

‘Die aanstelling van Danny Titus as die kultuurhoof van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) was ten minste net so ‘n onvanpaste transformasieskuif as die aanstelling van die bogenoemde drie bruin rektore’

Die aanstelling van Danny Titus as die kultuurhoof van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) was ten minste net so ‘n onvanpaste transformasieskuif as die aanstelling van die bogenoemde drie bruin rektore. Hoe kan iemand wat klaarblyklik geen aanvoeling vir en simpatie met die Afrikaner, sy taal en die res van sy kultuur het aan die hoof van sodanige kultuur in enige respektabele onderneming staan? Titus funksioneer soms as regter in die ANC-regering se Menseregtekommissie. Daar het hy baie duidelik sy afsku van Afrikaners laat blyk. Hy is ook een van die Afrikaans-dislojales wie se teenwoordigheid reeds lank in die ATR geduld word.

Let op wat Titus oor Jansen se jongste uitlatings oor Afrikaans te sê gehad het. Titus sê: “Afrikaanssprekendes en Afrikaans het Jansen se uitlatings ondersteun. Hy het gesê mense moet na kritiese stemme soos dié van Jansen luister. ‘Afrikaans het inderdaad ‘n groot bydrae om te maak, al is dit net om van sy skynheiligheid ontslae te raak'” (Praag, 2 deser). Let op die vermetele en neerbuigende “al is dit net” en dan word die groot bydrae wat Afrikaans kan maak direk met skynheiligheid verbind. Hoe kan so ‘n element in die boesem van die ATKV en die ATR geduld word? Myns insiens het Titus hom in albei poste as uitnemend ongeskik bewys. In die nuwe Suid-Afrika het die gewoonte in glad te groot mate onder Afrikaners posgevat om beleefdheidshalwe alle beledigings, wat (grootliks) onverdiend na hulle kant toe kom, te verduur.

Jansen verwys in sy gewraakte toespraak na die voorbeeld wat die Universiteit Vrystaat stel. Daar is ‘n “trade-off” wat onderrigtaal betref. Swart studente aanvaar die nie-moedertaal Engels en Afrikaanse studente moet ingelyks dieselfde nie-moedertaal aanvaar. Hy hou dit as billik voor. Maar hy vergeet gerieflikheidshalwe dat diegene wat Engels as moedertaal het geen opoffering hoef te maak nie. “There is no discernible tension, anymore, about using English only in meetings of residences and other public meetings … by bringing black and white students into communion as human beings, and by transforming the learning commons (especially in the residences), the hard lines around rival language – English and Afrikaans – started to dissolve.” Hoekom? Omdat van die Afrikaanssprekendes verwag word om in FW de Klerk-modus toe te gee, dus Afrikaans te versaak en Engels as die primêre universiteitstaal te aanvaar.

Waarom nie tweetalige byeenkomste of om die beurt Afrikaanse en Engelse byeenkomste nie? Waarom voorkeur gee aan die voorkeurtaal van die nuwe indringers op die kampus en die voorkeurtaal van die groep wat die universiteit gestig en uitgebou het, minag? Is die speelveld gelyk as wit studente en dosente die grootste offers moet bring? Hulle sou akademies en kultureel veel beter daaraan toe gewees het as die universiteit eentalig Afrikaans gebly het. Waarom mag daar nie van die nuwe kampusbesetters ‘n billike teenprestasie verwag word nie, naamlik dat hulle Afrikaans moet aanleer as hulle kies om daar te studeer? Dit is immers presies hierdie vereiste wat dwarsoor die wêreld gestel word: Daar word van die student verwag om by die universiteit aan te pas en nie andersom nie.

‘n Soortgelyke ongebalanseerde en onbillike situasie doen hom in die breë Suid-Afrikaanse universiteitsituasie voor. Die tradisioneel Afrikaanse universiteite moet tweetalig of verkieslik eentalig Engels word, terwyl die tradisioneel Engelse universiteite ongesteurd soos voorheen kan voortgaan. Dit is net Afrikaans wat as ‘n uitsluitingsmeganisme geëtiketteer word, terwyl Engels in die praktyk dikwels op dieselfde manier funksioneer. Daarteen opper Jansen nie beswaar nie. Hy versuim ook om te noem dat dit net van die tradisioneel wit universiteite verwag word om nie-wittes op al hoe groter skaal te akkommodeer. Die tradisioneel swart universiteite mag maar sonder beswaar ongetransformeerd eksklusief swart bly.

Dieselfde onverkwiklike onbillikheid doen hom by skole voor. Nuwe indringers mag nie toegang tot tradisioneel wit skole geweier word nie en is in die gerieflike posisie dat hulle volle toegang verkry tot geriewe wat oor dekades deur wit onderwysers en wit ouers opgebou is. Mits hulle nie-wit en veral swart is, geniet hulle die verdere voordeel dat hulle nie verplig mag word om skoolgeld te betaal nie. Dit geskied alles in die naam van geregtigheid.

Christo Viljoen, ‘n viserektor van die Universiteit Stellenbosch (1993-1998), verwys na Jansen se “wasige logika”. As Jansen se redenasie tot sy volle konsewensies deurgevoer word en almal in dieselfde mate opofferings moet maak, het ons die volgende situasie: “Géén onderwyser/dosent mag in sy (die dosent se) moedertaal doseer nie, en alle studente moet in ‘n taal anders as hul moedertaal klas loop. Met dieselfde wasige logika stel ek voor: Kom ons voer Chinees in as enigste onderrigtaal in ons skole (en universiteite?). Chinees is per slot van sake die grootste wêreldtaal met verreweg die meeste huistaalsprekers. Dan is ons afgestudeerdes voorbereid daarop wanneer China die land klaar gekoloniseer het, en álle onderwysers en dosente én studente maak die opoffering om in ‘n ander taal as hul eie onderskeidelik onderrig te gee en te ontvang. Niemand word dus onbillik bevoordeel nie” (Die Burger, 5 deser, p 13).

‘Afrikaans has, rightly, been the target of political ridicule’ – Jansen

Jansen bied sy “one major solution to the long-term resolution of the crisis in education” in die volgende gevolgtrekking aan: “This is why Afrikaans-exclusive or even Afrikaans-dominant white schools and universities represent a serious threat to race relations in South Africa … it is English and not Afrikaans that could be the ‘taal van versoening’ … What English does is level the playing fields in the historically Afrikaans universities for common engagement … Afrikaans has, rightly, been the target of political ridicule.” Sy opsomming van ons geskiedenis is: “The scars of our violent past.” Die Jansen-ideaal is: “A school system that introduces English as early as possible, ideally in the Foundation Phase … this means making English a compulsory language course for all students.” Dat so ‘n verpligte kursus in Afrikaans die behoud van die eentalige Afrikaanse Universiteit Vrystaat van weleer kon verseker het, doen hom nie meer in Jansen se wasige logika voor nie.

Die skisofreniese bruin steun vir Afrikaans

Een van die groot mites wat veral deur Naspers versprei word, is dat blote getalle deurslaggewend sou wees vir die oorlewing van Afrikaans. Dit is dus volgens Naspers se ideologie lewensbelangrik dat bruines en Afrikaners “hande sou vat” (om nou ‘n polities-korrekte Azanië-isme te besig.)

Die probleem is egter dat daar niks noodwendig hieraan is nie. Blote getalle is geen versekering vir ‘n taal se oorlewing nie. Daar is baie meer Xhosas en Zoeloes in Suid-Afrika as wat daar Afrikaners is (digby die 16 miljoen in totaal vir die twee groepe saam), maar dit is ‘n feit dat beide Xhosa en Zoeloe op ‘n afwaartste trajek is, die oorweldigende getalle ten spyt. Bykans alle swart ouers dring aan op skoolonderrig in Engels. Bitter weinige akademiese geskrifte of letterkunde word in hetsy Zoeloe, hetsy Xhosa uitgebring.
Daar is andersyds amper presies soveel sprekers van die Baskiese taal as wat daar Afrikaners is, sowat 2,5 miljoen, maar die Baske se taal en kultuur floreer.

Die verskil tussen Xhosas en die Baskiese taal is natuurlik dat die Baske beide ‘n sterk sin vir nasionalisme het, en hul taal ‘n trotse deel van hul identiteit vorm, teenoor die Xhosas wat hulself byna skaam vir hul eie taal asook kultuur, en nie wil toelaat dat hul kinders in Xhosa opgevoed word nie. Die intelligentsia onder die Xhosas mors geen tyd om spoedig te verengels sodra hulle die geleentheid kry nie. Die Xhosas, wat waarskynlik voorheen die belangrikste deel van die ANC uitgemaak het, het agv Engelse sendingwerk in die Ooskaap ‘n soort Pan-Britse, multi-kulti, rigtinglose en grootliks betekenislose reënboognasie-identiteit begin aankleef.

Juis om hierdie rede is Naspers se nimmereindigende propagandaveldtog en misplaaste blydskap oor die enkele bruines wat hulle op louwarm en skynheilige wyse vir Afrikaans beywer (Lionel Adendorf en Christo van der Rheede, byvoorbeeld), uiters naïef. Dis louwarm want mens kan nie eens sê dat daar juis bruin deelname aan die stryd om Afrikaans is nie. Watter bruin stemme het opgegaan teen die gedwonge verengelsing van Hoërskool Ermelo? Watter bruin akademici se voorkeurtaal is Afrikaans? Jonathan Jansen steek weliswaar sy uiters irriterende preke teenoor Afrikaners af in Afrikaans, maar maak dan aanspraak daarop dat hy Engels as huistaal het. Ditto vir Cheryl de La Rey, die rektor van UP, wat om die dood nie Afrikaans wil praat nie. Dis skynheilig omdat daai einste sogenaamde bruin kampvegters vir die taal, nie skroom om hul eie kinders na Engelse skole te stuur nie. Dis alweer die ou storie: Moenie maak soos ons maak nie, maak soos ons sê.

Die stryd om die oorlewing van Afrikaans gaan oor meer as die blote praat van die taal. Dit gaan ook oor die behoud van ‘n kultuur en ‘n erfenis, waarvan Afrikaans ‘n integrale deel is. Wanneer die ANC dus Pretoria se naam wil verander, is dit ‘n aanslag op beide die taal Afrikaans maar ook op Afrikaners se kulturele erfenis. Ek sien geen bruin leiers opstaan en te velde trek teen die naamverandering van Pretoria nie. Waarop dui dit? ‘n Gebrek aan ‘n gedeelde kulturele erfenis, moontlik? Wat ek van die bruin kultuur sien, wissel van ‘n Arabies-beïnvloede Moslemkultuur tot by ‘n soort Amerikaanse ghetto-kultuur, kompleet met halfmasbroeke en straatrenne. Van ‘n gedeelde kultuur tussen die bruines en Afrikaners sien ek al hoe minder tekens. As iemand wil aanvoer dat ‘n blote gedeelde taal dít is wat mense saamsnoer, waarom beywer die Skotse Nasionale Party hom dan vir Skotse selfbeskikking?

Wanneer daar wel die louwarm bruin steun vir Afrikaans kom, wat Naspers so opgewonde maak, skep sulke steun dikwels groot agterdog by Afrikaners. Terwyl ek nou op die onderwerp is: Afrikaners is blanke Afrikaanssprekendes. Met laasgenoemde kategorisering sou min bruines verskil. Dis ondenkbaar dat Allan Boesak, Robert McBride, Trevor Manuel, Cheryl de la Rey of Jonathan Jansen hulself as Afrikaners aan iemand sou voorstel. Dit is slegs die skisofreniese, linkse blanke Afrikaner, wat een ding sê maar gans en al ‘n ander ding doen (hulle sal nooit in ‘n bruin buurt gaan woon of met ‘n bruin vrou trou nie) wat verward is daaroor.

Om terug te keer na die punt hierbo, wanneer daar wel bruin steun vir Afrikaans is, gaan dit dikwels gepaard met ‘n verskeidenheid eise en gedwonge skuldgevoelens. Afrikaners moet byvoorbeeld eers bieg dat hulle rassiste is (Jonathan Jansen se gunstelingstokperdjie) en hulle moet nimmereindigende verskonings vir slawerny en apartheid aanbied, voordat die bruines hul louwarm steun vir Afrikaans sal bied. Sodoende word daar grootskeepse agterdog gewek dat daar eintlik politieke agendas agter die sogenaamde bruin steun vir Afrikaans sou wees. Daar is heelwat kodespraak vanuit die sogenaamde bruin kampvegters vir Afrikaans hieroor. Afrikaans moet glo “die baggasie van die verlede agterweë laat” (lees: Afrikaners moet ons plek ken en ons neerbuig voor die nuwe bruin en swart heersers van die land.)

Voorts is die bruin steun vir Afrikaans ook ietwat skisofrenies van aard, omdat die ANC se oorheersende ideologie van rassistiese transformasie tot die bruines se onregverdige voordeel is. Transformasie behels o.a. die etniese reiniging van blankes uit poste . Bykans al die rektore van Afrikaanse universiteite is gevolglik bruin. Is al daardie aanstellings suiwer op meriete, of het die ANC bruines gekoöpteer in sy veldtog van etniese reiniging van blanke mans, met die bruin rektore as gewillige meemakers in hierdie veldtog?

Transformasie behels egter ook, benewens die etniese teikening van blanke mans die moord op Afrikaners se kultuur en taal – die naamverandering van Pretoria en die veldtog teen Hoërskool Ermelo se taalbeleid, byvoorbeeld. Die bruines sit dus met ‘n dilemma. Rassistiese transformasie is tot hul voordeel wanneer dit by hul beroepslewe kom. Hoe kan hulle dan wil deel word van ‘n groter taalkulturele stryd teen transformasie, wanneer Afrikaans ook deel is van dít wat geteiken word, benewens blanke mans?

Laat Naspers dus maar gerus begaan met hul naïewe opgewondenheid oor die sogenaamde bruin steun vir Afrikaans, steun wat al te dikwels met die albatros van verskuilde agendas om sy nek kom, en van Afrikaners verwag om gedweë ons plek as tweedeklasburgers te aanvaar, en nimmereindigende verskonings, ook van Afrikanerskinders wat na 1994 gebore is, vereis. Waarop ek sê: basta! Ek kruip voor niemand nie, veral nie Jonathan Jansen, Allan Boesak of Robert McBride nie. Afrikaans se oorlewing hang van jou en my, die Afrikaners, af. Dit sal in Pretoria se voorstede beklink word, nie op die Kaapse Vlakte nie.

Lees ook die res van Anton Barnard se bydraes op sy woernaal, SAmizdat.

архитектурного освещенияФильчаков Александр Васильевич

Bruines téén Afrikaners

Twee uit die drie gedrukte Afrikaanse dagblaaie beskik oor bruin redakteurs. Vier uit die vyf Afrikaanse universiteite wat tans onvermydelik besig is om te verengels, het bruin rektore (Russel Botman, Jonathan Jansen, Iron Rensburg en Cheryl de la Rey). Nasionale Pers, die grootste mediagroep in die land, beskik insgelyks oor ‘n aantal bruin direkteure en senior bestuurders.

Enkele jare gelede het bruin akademici soos Jakes Gerwel en Hein Willemse gepoog om die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat die taalreëls maak en die Hertzog-prys uitdeel, te laat “ontbind” om deur ‘n nuwe akademie onder bruin beheer vervang te word. Dit het misluk, maar ‘n nuwe aanslag teen die Akademie word sekerlik voorberei.

Die nuut verworwe magsposisie wat bruines by sogenaamd “voorheen Afrikaanse” instellings verwerf het, is besig om tot ‘n nuwe dinamiek te lei waar bruines hulself aanmatig om die toekoms van Afrikaans te bepaal. Onlangs het die kreet opgegaan dat Afrikaans “links moet hou”.

Die bruin joernalis Jason Lloyd skryf vandeesweek op ‘n poslys wat aan al die Afrikaanse koerantredakteurs en ‘n hele aantal meningsvormers versprei:

“…die regse elemente word dopgehou en diegene wat eerste beslag gegee het aan Afrikaans (sic) gaan nie toelaat dat Afrikaans vir politieke gewin misbruik word nie. Die behoud van Pretoria se naam is ‘n goedkoop politieke strategie, wat nie deur die meerderheid Afrikaanssprekendes ondersteun word nie. Dit het niks met Afrikaans uit te waai nie en regse elemente moet ophou om Afrikaans in hul “bring-terug-apartheid”- en “baas-skaap”-strategieë in te klits. Dit gaan nie werk nie.”

Vandat ek tien jaar gelede of so kommentaar gelewer het oor die gebrek aan helderheid rondom “regs” en “links” in Afrikaans, is dit nog steeds nie duidelik wat met ‘n sin soos “regse elemente” in Lloyd se skrywe bedoel word nie. In ‘n Europese konteks is die “regses” diegene wat die vryemarkstelsel aanhang, teenoor die linkses, die sosialiste en kommuniste. Word hier verwys na die oorblywende Afrikaanse kapitaliste, moontlik Johan Rupert of Christo Wiese, of dalk die Demokratiese Alliansie (hoewel dié party maak ook dikwels sosialistiese geluide)?

Vanuit die klassieke linkse oogpunt soos dit in die Manifes van die Kommunistiese Party deur Marx en Engels verwoord is, moet enige taalstryd of die oprigting van ‘n opvoedkundige instelling in ‘n taal soos Afrikaans as ‘n regse aksie gesien word. Soos hulle dit gestel het:

“‘Die arbeiders het geen vaderland nie. Jy kan nie van hulle afneem wat hulle nie het nie … Die nasionale skeidings en teenstellings van die volke verdwyn steeds meer en meer … Die heerskappy van die proletariaat sal dit nog meer laat verdwyn … Namate die uitbuiting van die een individu deur die ander opgehef word, word die uitbuiting van die een nasie deur die ander opgehef. Met die teenstelling van die klasse binne die nasie val die vyandige houding van die nasies teenoor mekaar weg.’

Die manifes is met die bekende leuse afgesluit: ‘Proletariërs van alle lande, verenig julle!'” (Aangehaal deur Leopold Scholtz.)

Die instelling van Engels as enigste openbare en opvoedkundige taal in Suid-Afrika, spruit uit die Britse kolonialisme maar ook uit die internasionalistiese linkse tradisie wat deur die regerende alliansie (ANC/SAKP) omhels is.

Enige pleidooi vir Afrikaans is dus per definisie “regs” en konserwatief, omdat dit bepaalde nasionale kulturele en taalkundige eienskappe behoue wil laat bly, in teenstelling met ‘n broederskap van prolatariërs of bevryde Afrikane waarvan daar 600 miljoen suid van die Sahara verkeer en wat 2 500 tale praat maar slegs Engels, Frans en Portugees as amptelike en opvoedkundige tale gebruik.

Ek weet nie of die tradisionele besorgdheid oor “die ander Afrika-tale” in Suid-Afrika eintlik hierdie versluierde regse, nasionalistiese strewe van Afrikaanse taalhandhawers besweer nie. Toevallig sien ek prof. Wannie Carstens van die Afrikaanse Taalraad sê in eergister se Beeld in reaksie op Breyten Breytenbach se stelling dat Afrikaans “besig is om te sterf” die volgende:  “Ek gee toe Afrikaans is onder druk, maar dit geld ook al die ander Afrika-tale.”

Sulke pogings om ‘n nie-regse, “internasionalistiese” karakter aan die Afrikaanse taalstryd te verleen, sal net ernstig opgeneem word indien die taalregte van buitelanders in Suid-Afrika insgelyks verdedig word, soos byvoorbeeld dié van Sjonas, Kongolese en Chinese. Sjona, Frans en Chinees behoort by die lys van elf amptelike tale gevoeg te word, want soos Max du Preez en diesulkes geredelik sal toegee: ‘n Sjona, ‘n Kongolees of ‘n Chinees is net so ‘n goeie Suid-Afrikaner soos (of dalk beter as) die gemiddelde Afrikaner.

President Zuma verkeer natuurlik onder ‘n heel ander indruk, met sy opmerkings dat Afrikaners “die enigste ware blanke Afrikane” is. Trouens, hy het dit tydens die onlangse dinee met ‘n groepie Afrikaners herhaal. Ook erken hy die besondere bydrae wat Afrikaners tot die stigting, bedryf en ontwikkeling van Suid-Afrika gemaak het en wat volgens hom dus ‘n spesiale skakelkantoor met Afrikaners sou regverdig. Vanuit ‘n Engelse of internasionalistiese oogpunt, is dit sekerlik “skokkend” soos Jason Lloyd in sy brief beweer, maar moontlik nie skokkender as tienermeisies wat vermoor word en waarvan die hande afgesny word soos nou die dag in Pretoria gebeur het of die miljoene verkragtingslagoffers in Suid-Afrika nie.

Die ANC het ook op 23 April 1994 ‘n ooreenkoms met die Vryheidsfront onderteken waarin vir verdere onderhandelinge oor ‘n Afrikanervolkstaat voorsiening gemaak word. Geen ander groepering in Suid-Afrika, behalwe die Basotho’s en die Swazi’s wat reeds oor onafhanklike state binne ons grense beskik, is so deur die nuwe bewind uitgesonder nie. Natuurlik het Brittanje aan Lesotho en Swaziland onafhanklikheid gegee, maar die ANC het tot dusver nie besluit om dié landjies as “oorblyfsels van die kolonialisme” te annekseer nie. Die voortbestaan van dié twee swart “volkstate” binne Suid-Afrikaanse grondgebied is, volgens die Jason Lloyd-logika, nog meer “skokkend” as Zuma se voorgenome skakelkantoor vir Afrikaners.

In vandag se By vaar Christo van der Rheede, nog ‘n selfaangestelde bruin kultuurleier, teen Max du Preez uit deur te sê: “Die uiters neerhalende aanmerkings deur Max du Preez oor bruin Afrikaanssprekendes wat kwansuis deur Afrikaners gebruik word, moet end kry.” Moontlik het Max du Preez vir die eerste keer in sy lewe ‘n punt beet, want ek kry knaend die indruk dat polities korrekte Afrikaners, veral in die Wes-Kaap, allerlei politieke speletjies met bruines speel en hulle heel dikwels as die “aanvaarbare, nie-rassige gesig van Afrikaans” voorhou. As sommige mense ‘n openbare vergadering of konferensie oor Afrikaans wil hou, dan bel hulle eers die “huur-‘n-bruine”-diens iewers op Stellenbosch.

Van der Rheede verklaar verder: “Korrupsie, swak dienslewering, selfverryking en politieke manipulasie vier hoogty; en dit, asook die idee van ’n eksklusiewe wit volkstaat, sal ons met hand en tand beveg.”

‘n Mens wil vra: Maar is “korrupsie, swak dienslewering en selfverryking” nie juis die gevolge van regstellende aksie, die verdrywing van blanke kundiges uit die staatsdiens en munisipaliteite, kortom, die ANC-bewind se beleid van sistemiese anti-blanke rassisme nie? Orania is ‘n volkstaateksperiment wat juis bewys het dat dienslewering volgens behoorlike standaarde selfs sonder belastinggeld van die sentrale regering en teen ‘n billike koste aan die inwoners gelewer kan word. Waarom moet die volkstaatgedagte, wat eie is aan die Afrikaner se eeue oue republikeinse tradisie wat na ons stryd teen imperiale Spanje in die sestiende eeu teruggevoer kan word en ons hele geskiedenis kenmerk, deur bruines soos Van der Rheede “beveg” word?

Soos my swart vriend Meshack Mabogoane vandeesweek oor middagete teenoor my opgemerk het, is die paswette destyds veel strenger in die Wes-Kaap toegepas, juis om die bruines teen die Xhosa-oormag te beskerm. Sonder apartheid sou daar vandag ‘n Xhosa-meerderheid en ‘n Xhosa-regering in die Wes-Kaap gewees het. Maar die bruines sanik steeds oor apartheid as dit by die Afrikaanse taalstryd kom.

Jakes Gerwel, ‘n direkteur van Naspers, was as akademikus die eerste bruin rektor wat ‘n Afrikaanse universiteit (UWK) verengels het. Tans is Russel Botman besig om stadig maar seker te sorg dat Stellenbosch insgelyks Engels as voer- en doseertaal aanneem. Pleks van, tesame met Hermann Giliomee en ander Stellenbossers, weerstand teen dié proses te bied, is Van der Rheede en ‘n ander groep besig om stemming te maak vir ‘n nuwe Afrikaanse universiteit in die Wes-Kaap, wat moontlik op Oudsthoorn gevestig sou word. Hierdie nuwe Afrikaanse universiteit, wat insgelyks onder bruin beheer gaan verkeer, so word ons verseker, gaan glo “vry en gratis” wees.

As so ‘n gratis Afrikaanse universiteit in die vooruitsig gestel word, duik die vraag op of dit hoegenaamd binne die huidige bestel en op Suid-Afrikaanse grondgebied bestaanbaar sou wees. Presies dieselfde argumente waarmee Stellenbosch, die universiteite van Pretoria of die Vrystaat tans verengels word omdat niemand op grond van taal sogenaamd “uitgesluit” mag word nie, sal op enige “nuwe” Afrikaanse universiteit van toepassing wees. Akademici aan ons “Afrikaanse universiteite” was laas in die tydvak van Verwoerd of dalk Vorster ywerig om in Afrikaans te publiseer en dit sou ‘n interessante oefening wees om te sien hoeveel akademiese artikels tans uit die penne van hierdie “Afrikaanse akademici” in Afrikaans verskyn… Die voorbeeld van die voormalige R.A.U. (niemand onthou seker meer dit het gestaan vir “Randse Afrikaanse Universiteit” nie) is in dié verband nogal frappant. Hierdie uitdruklik Afrikaanse universiteit wou-wou, toe dit deur Kader Asmal met Engelstalige instellings saamgesmelt is, dalkies ‘n hofaansoek bring om die samesmelting te verhoed. Let wel, hulle het nie weerstand oorweeg nie, bloot ‘n hof vir uitsluitsel wou nader, maar selfs daarvan het dadels gekom. Wat ‘n taalhandhawingsaksie kon gewees het, het toe geblyk ‘n soort geriatriese siddering van bejaarde wit Afrikaanse akademici te wees, ‘n soort rumatiekerigheid op die vooraand van glorieryke verengelsing wat toe soos mis voor die son verdwyn het. Hierna is die R.A.U alte heerlik tot die Engelse “Joe-Djy” getransformeer.

Selfs indien ‘n nuwe “Vrye Afrikaanse Universiteit” iewers sou verrys (wie dit sou befonds is ‘n ander vraag), sou “Afrikaans” in die naam daarvan kwalik so ‘n instelling van ‘n Engelse aanslag vrywaar. Veral ook ‘n aanslag van binne, soos op al die ander Afrikaanse kampusse gebeur het… deur akademici wie se professionele loopbane en goeie verhoudinge met die owerheid – enige owerheid – swaarder as enige beginsel weeg.

Soos ek al dikwels gesê het, regeer die bruines nie eens hulself in die Wes-Kaap waar hulle oor ‘n demografiese meerderheid beskik nie. Mev. Helen Zille, ‘n lid van die blanke Engelssprekende minderheid, is die provinsiale premier. Hoewel, Kaapstad beskik darem oor ‘n bruin burgemeester, Dan Plato. Maar ‘n mens vermoed dis alles maar oëverblindery deur liberale Engelse kliek binne die DA wat steeds die party met ‘n ysterhand regeer, wat van Plato ‘n simboliese, regstellende aaanstelling maak.

Alan Boesak, daardie welsprekende ou jakkals van die Kaapse politiek en ‘n meesterlike uitbuiter van Afrikanerskuldgevoelens oor apartheid, het insgelyks twee weke gelede in Die Burger ‘n rubriek met die titel Witmense toi-toi mos nie gepubliseer. Daarin formuleer hy weer ‘n nuwe aanklag teen die Afrikaner deur te beweer dat ons bloot vir ons eie belang opkom. “Afrikaner- etniese mobilisering is hier om te bly – hard en skaamteloos,” skryf Boesak.

My eerste reaksie is: Maar wat is verkeerd daarmee indien die Afrikaner oplaas, ná soveel jare waartydens hy willoos rondgeklap en -gedonder is deur elke moontlike groep in dié land, sy etniese en nasionale bewussyn herontdek? Elke ander groep mobiliseer op ‘n etniese grondslag, wat óf ras óf stamverband kan wees, soms sommer albei. Die manier waarop Jacob Zuma byvoorbeeld sowel sy Zoeloeskap as sy swart-Afrikaanskap gebruik, is eintlik verstommend bedrewe. As hy in Nkandla is, dans hy saam met die Zoeloes, maar op besoek aan Kampala, Uganda, ontpop hy in ‘n pan-Afrikanis en voorstander van dié vasteland se oeroue swart nasionalisme.

Die beswaar wat die Afrikanernasionaliste teen die Britse imperialiste byna ‘n eeu gelede tydens die Nat-Sap-stryd gemaak het, bly geldig: “Jy noem jou rassisme politiek, maar my politiek noem jy rassisme.” Dis aanvaarbaar om pro-swart, pro-bruin, pro-Indiër te wees en selfs te koop te loop met jou rassetrots, maar wee die persoon wat homself ‘n Afrikaner noem en vryheid vir Afrikaners nastreef. Dan is dit by implikasie pro-blank en per definisie onaanvaarbaar.

Boesak sluit sy tirade teen die Afrikaner af met die woorde: “En die Afrikaner maak weer die verkeerde keuse. Die nie-rassige demokrate met hul liefde vir die land sal ander bondgenote moet soek.” Heel moontlik geld dieselfde vir die Afrikaner, dat hy vir hom ander bondgenote as die Kaapse bruines met hul volgehoue ressentiment en rassegevoelens teen die Afrikaner sal moet soek.

Vanweë hul nie-wit status in ‘n anti-wit bestel, staan die bruines reeds in ‘n magsposisie teenoor die Afrikaner. Hulle beheer ons media (ook RSG), ons universiteite en eien hulle selfs ons taal, Afrikaans, toe.

Met sulke bondgenote, wie het vyande nodig?

фильтр влагоотделитель для компрессора ценаДанильченко Юрий Брониславович

Alles wat Afrikaans is, word onderdruk

Op Dan Roodt se woernaal, het sy stuk oor Nuwe Tuks-rektor sit rasseoorheersing oor Afrikaners voort heelwat kritiek ontlok. As mens die skille van jou oë afhaal, kan enige aap egter raaksien hoe die nuwe SA regering daarop fokus om alles waarvoor die Afrikaner staan en die geskiedenis wat hy opgebou het en die inrigtings en baanbrekerswerk – binnelands en internasionaal – wat hy voorsien en verrig het, af te takel. Al die slegte punte van die vorige bedeling word beklemtoon en alles wat die nuwe regering kwansuis bereik het, word opgehemel om alewig almal bewus te maak van die verskriklike verdrukking waarmee hulle voor 1994 moes saamleef. Hul donkere verlede word netjies weggesteek deur te fokus op die ou regering se foute en hul onbevoegheid word selfs 15 jaar na apartheid steeds op apartheid geblameer. Maar Emil, en al daardie draadsitters (and by the way, for the Engelse "boeties" in Londen or wherever you find yourself in an English or new SA loving government, I write this in English so you blokes would also grasp it), ek was ook in Engeland en glo my ek kan sien waar die nuwe bedeling al sy idees vandaan kry!

Maar kry vir julle. Engeland land is ook tops as dit kom by propaganda en is op dieselfde pad as Amerika en Frankryk. Om jou eie slegtighede te verbloem, wat doen jy? Produseer wêreldnuus en kontreinuus wat fokus op alle ander lande se probleme, waar Suid-Afrika of ander Oos-Europese lande of enige ander land behalwe hulself altyd die sondebokke in hul oë is. En gee aan alle nie-blanke vlugtelinge en kriminele die wêreld oor burgerskap op 'n besigheidsvisum. Snaaks genoeg in die apartheid-era was die Engelsmanne, die kleurlinge (nie bruines nie) en die koelies (nie Indiërs nie, dis 'n naam wat die Britte hulle gegee het lank voor ons hulle dit genoem het) juis die mense, wat baie meer bevoordeeld gelewe het saam met menige Jode en Sjinese in Suid-Afrika as die swartes, wat nou steeds so bevoordeel word in die nuwe era. 'n Groot menigte nuwebedelingministers het hul "minder bevoorregte jare" in Brittanje deurgebring in die topuniversiteite van daardie land, asook in Amerika, Nederland en Frankryk.

Ek weet nie van baie Afrikaners wat sulke bevoordeling ontvang het in enige tyd vanaf 1652 tot nou toe nie. Afrikaners is ná die Boere-oorlog net so gemarginaliseer deur die Britse owerheid van die Unie Van Suid-Afrika. Skole is net soos nou ook verengels deur die verbloeming van "tweetaligheid", waar Afrikaans verbied is. Dié dat baie Afrikanerorganisasies juis toe gestig is om na die belange van ons mense en ons kultuur en taal om te sien. Afrikaners het maar hul eie instellings moes oprig en met eie inisiatief en vernuf organisasies soos Volkskas, Evkom, Sasol, Yskor, M-Net, RAU, Sanlam, Santam, ens. help stig. Snaaks dat dié organisasies juis so geteiken is dat baie nie meer in Afrikaanse hande is nie, sommiges nie eens meer 'n enkele Afrikaanse direkteur of raadslid nie. Afrikaners het nie net die organisasies van ander kulture oorgeneem en dan as hul eie toegeëien nie. Hulle is ook nie aalmoese gegee deur ander lande soos Brittanje of Europa of Amerika of Swede en Denemarke of Kanada nie. En is beslis nie aangestel in poste as SEB-bevoordeelde kandidate nie. Hulle is aangestel op grond van hul prestasie en dit was dít. Elmboog-ghries.

Maar ek verstaan dis mos maar hoe Brittanje ook oorgeneem is deur die 1066-inval by Hastings. Neem oor en eien dit vir jouself toe. Die nuwe bedeling is mos kop in een mus met die Engelsman en alles waarvoor hy staan. Ek is seker meeste van hulle ken nie nie eers 'n kwart van die ongelooflike "beskaafde land" se geskiedenis nie. Eish! Klomp barbare en die huidige generasies jongelinge is nie veel beter daaraan toe as die destydse Wikinge van ouds nie. Die Afrikaner en sy lewenswyse word beslis deur die nuwe bedeling geteiken. Indien mens jou instellings en ondernemings in die nuwe SA op taal- en kultuurgrondslag wil bedryf en uniek wil behou, wat in alle ander lande die norm is – totaal aanvaarbaar en grondwetlik (werklike liberale en demokratiese lande, nie diktature nie) – word sulke instansies onmiddellik 'n teiken van die nuwe regering. Sonder dat diegene met skille op hul oë dit agterkom, word sulke instellings deur sogenaamde "minder bevoorregtes" geïnfiltreer wat uiteindelik die voet in die deur kry deur regstellende aanstellings en kort voor lank propagageer hulle dat die instelling rassisties van aard is en dat alle rasse se belange op die hart gedra moet word en veral dat 'n veelrassige en veeltalige kultuur gehandhaaf moet word. In so 'n mate dat die Afrikaanse topbestuur juis vervang moet word deur kleurlinge of Indiërs of swartes wat juis die grootste Afrikaanshaters – meer nog as blanke Engelse – is en slegs Engels magtig is. Neem maar die skool in Ermelo as tipiese voorbeeld en dis beslis nie uniek en die enigste geval nie.

Duitse, Joodse, Russiese en Italiaanse kultuurorganisasies mag wel bestaan

Duitse, Joodse, Russiese en Italiaanse en enige ander kultuurorganisasies wat in SA bestaan word nie op dié manier bedreig nie. Hulle instellings en skole floreer, snaaks genoeg, met uitsluitlike Duitse onderrig en Engels as tweede taal. Slegs Afrikaanse instellings verkeer in die visier. Ons mag nie sulke instellings van ons eie stig nie, want dis ongrondwetlik. Slegs ander kulture mag dit in SA doen.

Die hele doel van die ANC en sy makkers, wat almal insluit behalwe die Vryheidsfront en tot 'n mindere mate die DA, is om Afrikaans en sy geskiedenis en kultuur vir die geslagte wat volg dood te vee en vanuit die amptelike geskiedenis van SA en Afrika te verwyder. Die taal moet juis oor die volgende paar dekades wegkwyn. In die ou Soewjetunie is dieselfde taktiek gebruik. Propaganda het die ideologie laat voortleef tot in 1990. Vryheid is onderdruk. En die ANC is "comrades" van die Ystergordynbedeling. Oor 'n paar dekades van nou af sal die meeste Suid-Afrikaners glo dat die Zoeloes en die Xhosas en hulle "comrades" Kaapstad gestig het en alle ander stede in Suidelike Afrika en dat Afrikaners kriminele, agterlike burgers was. Ook dat alle beskaafde ontwikkeling (indien daar teen daardie tyd nog iets daarvan oor sal wees, as mens kyk na die res van Afrika se verval) deur die Nguni-mense gebring is.

Die Vlaminge van België voer baie dieselfde stryd om hul taal teenoor Frans as Afrikaners teenoor die oorheersing van Engels in SA. Net snaaks genoeg het die ou SA, wat volgens al die draadsitters en die nuwe regering en meeste oningeligte Europeërs en Britte, wat die propaganda vir waarheid opeet, 'n "mislukking" was, klopdisselboom gewerk, ten minste wat die ekonomie en infrasruktuur betref het. Selfs met geweldige sankies teen ons, het mens nie elke dag 'n verstopte drein gehad wat vir maande loop voor enige iets daaraan gedoen is nie. Paaie was in 'n toptoestand- beter as in Europa en Amerika. Vandag is meeste derdewêreldlande se infrastruktuur beter daaraan toe as die meeste van SA se paaie. En Gauteng is seker die provinsie met die slegste padinfrastruktuur in die land. Rioolwerke in die meeste munisipaliteite in SA is óf glad nie in werking nie, óf dit werk, maar stort rioolwater direk deur die suiwerkingswerke sonder enige suiwering, weer in die rivier in. Die water beland dan sonder meer weer in ons krane. Dié dat ek as 35-jarige man die eerste keer in my leeftyd in SA hoor van cholera-uitbrekings en kindersiektes soos polio wat voorheen nie meer by ons bestaan het nie. SA drinkwater was in die tagtigerjare, naas Kanada, van die skoonste in die wêreld; nou kan ek jou verseker haal SA nie eens die top 50 nie. In apartheid-SA was jou rand baie meer werd as vandag. Jou kos het nie elke maand met 10% gestyg nie, selfs al daal petrolpryse en rentekoerse konstant elke maand.

So glo maar al die twak soos julle wil. Al is Dan Roodt nie altyd die mees geliefste mens nie, stem ek saam met wat hy sê. En dis oral om te sien. Gaan kuier in eerstewêreldlande en kom dan terug na SA, dan onthou mens weer die tagtigerjare en hoe ons agteruitgegaan het vanaf 1994 in vergelyking met dié lande, in teenstelling met wat die nuwe bedeling mens wil laat glo.

Nêrens in die nuwe SA se amptelike geskiedenis word die Afrikaner se bydrae tot die ontwikkeling van die land tot en met 1994 korrek weergegee nie. Die minderbevoorregte lede van ons land se bydrae word groter uitgebeeld as die Afrikaner s'n en dit sluit natuurlik in 'n baie groot mate die Indiërgemeenskap en selfs die Sjinese gemeenskap in. Net snaaks dat dié gemeenskappe in 1880 deur die Britse setlaars as slawe na SA gebring is, respektiewelik in 1880 om in die Natalse suikerplantasies te werk en tussen 1910 en 1925 om in goud- en ander myne aan die Rand te arbei. Juis as 'n maatreël om Afrikaanse arbeiders te vermy. Dis juis een van die redes vir die ontstaan van die 1914-rebellie waar Engelse Uniepropaganda juis veroorsaak het dat mede-Afrikaners op hul eie mense geskiet het en hul dood veroorsaak het. Wie het daaronder gelei? Net Afrikaners self. Sulke vooroordele teen Afrikaners is geensins nuut nie. Die Slagternekrebellie het ook gevolg weens vooroordele teen Afrikaners. Gaan besoek gerus Brixton en Braamfontein se begraafplase in Johannesburg en sien vir uself hoe baie is doodgeskiet deur die Uniemagte wat hulle uitgekryt het as kriminele oortreders en opstokers. Dieselfde geld vir die destydse Britse owerheid tydens Slagtersnek. Die Britte het nes die nuwe regering en kleurlinge en koelies 'n haat vir alles wat Afrikaans is.

Afrikaners het hulself reeds hier gevestig sedert 1652; my familie is reeds hier vanaf ten minste 1666. Maar volgens die meeste draadsitters word Afrikaans en sy kultuur nie bedreig nie, dis maar net 'n regstelling om saam met alles wat nie Afrikaans is in te val en jou kultuur en taal en geskiendenis prys te gee vir 'n kultuur wat geen ordentlikheid nastreef en veral geen geduld of respek vir jou kultuur het nie.

Snaaks dat moorde op Afrikaanse plase steeds op 'n gereelde grondslag plaasvind. Maar dis nie nuus nie. Nee wat, solank 'n swartman die daad pleeg, is dit byna normaal en kwalik kritiseerbaar. (En ek verafsku die taalgebruik in die nuus wat altyd net noem dat die swart kriminele moordenaars, "mans" is en nie "swartmans" nie. Ons almal weet wat die ras is van 99,99% van die oortreders wat al die terreurdade teen witmense op hul plase, kleinhoewes, in die stedelike woonbuurte en deesdae sommer in inkopiesentrums helder oordag pleeg.)

Maar laat 'n witman net eenkeer hom vererg vir die doelbewuste propaganda van die nuwe regering en die laksheid waarmee hulle strafsake hanteer en die reg in eie hande neem en 'n paar swartes dieselfde behandeling gee as wat hulle op ons wittes in die nuwe SA toepas. Ek neem die seun van Swartruggens as voorbeeld. Snaaks genoeg, dan haal dit sommer oornag wêreldnuus, om nie eens te praat van die binnelandse nuus nie. Die man word onmiddellik gevang en gevonnis, nie soos die miljoene swart kriminele mans, ag ek bedoel "baie opgevoede, vredeliewende, hardwerkende, jong manne van die nuwe SA", wat elke dag en nag koelbloedig ons wittes en veral Afrikaners afmaai vir onbenullighede nie. Soms word daar nie eens iets gesteel nie. En dan word dit onmiddellik genoem dat die persoon 'n witman was wat op swartes moord gepleeg het. Ek dink die oningeligtes kan gerus 'n draai maak by die webwerf Boergenocide. Daar vind mens eerstehandse besonderhede en grusame foto's van die duisende moorde op Afrikaners wat nooit nuuswaardig genoeg is om uitgesaai te word nie. Kyk ook sommer elke oggend op die voorblad van Beeld, 'n Afrikaanse koerant vir die oningeligtes, vir die vele berigte oor grusame moorde en aanvalle voordat julle jul siening lug oor dinge waarvan julle glad niks weet of wil weet nie.

Droom voort, André en ander. Ek het nie 'n universiteitsgraad behaal by die Universiteit van HULL nie, maar mens het nie een nodig om te sien wat hier aan die gang is nie. Ons is vinnig oppad na 'n grusamer Zimbabwe as wat meeste mense besef en die nuwe era wêreldwyd is nie gebaseer op 'n Westerse lewenswyse en opvattings nie maar is Oosters en van Afrika, wat boekdele spreek oor wat die volgende paar dekades op SA en die wêreld en veral die bleekvelliges oraloor wag. Daarom is dit ook nie vreemd dat die wêreld ook nie regtig ag slaan op wat hier aangaan nie, want dis meer en meer 'n globale verskynsel.

Die nuwe regering is nie meer mensliewend as die vorige bewind nie, in die sin dat hy alle menseregte beskerm soos die grondwet kwansuis vereis nie. Indien mens regtig demokraties wil wees en regtig dinge wil laat werk, vergeet mens van die slegte dinge van vroeër, vergewe mens mekaar soos God dit wil en bou mens voort in geregtigheid en handhaaf mens eerlikheid en stel mens werkers op grond van hul vermoë en prestasies aan. Verder stel mens alle tale en kulture se belange voorop en doen die regering alles in sy vermoë om misdaad daadwerklik te bekamp. En is ras nie 'n kwessie nie. Ek voel dat – meer as ooit tevore – is ras 'n baie groot kwessie by veral swartes in die nuwe SA. En almal wat nie wit is nie, maar ook nie swart is nie, sit maar op die draad en soek witvoetjie in plaas van om die ou kwessies op te los en werklik 'n sukses van SA te maak. Ons reënboognasie is vinnig besig om een kleur te ontwikkel aan die einde van die reënboog en dis net donker en die taal is net Engels.

So kan mens voortgaan, maar ek laat dit daar.

люстры плоские потолочныеДанильченко Юрий Брониславович Харьков

Nuwe Tuks-rektor sit rasseoorheersing oor Afrikaners voort

Image

Hoewel die bruin bevolking van Suid-Afrika oor die laagste deelname aan tersiêre onderrig beskik, is hul besetting van rektorsposte die hoogste, veral as dit by voorheen Afrikaanse universiteite kom. Met die aanstelling van prof. Cheryl de la Rey as rektor van die UP, beskik vier uit die vyf "histories Afrikaanse universiteite" oor bruin of kleurlingrektore.

Indien enigiemand nog daaroor getwyfel het of daar rassekwotas by die aanstelling van rektore geld, kan hy of sy maar gerus wees: daar ís rassekwotas.

Blykbaar word 97% van alle akademiese publikasies in Suid-Afrika deur blankes geproduseer en meer as die helfte daarvan deur blanke mans. Geen blanke man kwalifiseer egter meer om as rektor van 'n Afrikaanse universiteit aangestel te word nie en veral geen blanke Afrikanerman nie. In dié opsig moet dr. Theuns Eloff van die Noordwes-universiteit seker besef dat hy 'n volslae anomalie binne die "nuwe orde" verteenwoordig en waarskynlik eersdaags op grond van sy ras van sy pos onthef sal word of andersins net nie weer 'n aanstelling sal verkry nie.

Afgesien van Nazi-Duitsland waar Jode nie universiteitsposte mag beklee het nie, is daar geen voorbeeld in die moderne geskiedenis van 'n rassebeleid en veral 'n diskriminerende rassebeleid wat so konsekwent teen 'n bepaalde etniese groep gevoer is soos tans teen Afrikaners geskied nie.

In dié opsig is die grappies wat sowel Beeld as RSG oor die nuwe rektor se van gevoer het, as sou sy 'n "De la Rey wees wat die Tukkies kom lei", in swak smaak en kwetsend vir baie Afrikaners wat nog waarde aan hul geskiedenis en hul helde heg.

Hoewel Cheryl de la Rey 'n van geërf het, het sy reeds tydens haar RSG-onderhoud duidelik gemaak dat sy verkies om Engels te praat en dus van geen Afrikaanse of Boeresentiment verdink kan word nie.

Prof. De la Rey, indien u geen sin vir taaletiket het nie: om op die nasionale Afrikaanse stasie Engels te praat terwyl u kennelik Afrikaans magtig is, sy dit dan vir u 'n tweede of derde taal, verteenwoordig vir ons almal 'n growwe belediging en is in die konteks uiters ongepoets. Dit voorspel niks goeds vir u vrome voornemens om sogenaamde "meertaligheid te bevorder" – wat in die SA konteks al 'n sinoniem vir verengelsing geword het – en om reg aan Afrikaans aan Tukkies te laat geskied nie.

Op sy beste sit die aanstelling van "die swart vrou" Cheryl de la Rey die aftakeling van alles wat Afrikaans is en deur Afrikaners in die land opgebou is, voort, want uit haar houding blyk reeds dat sy die status quo van onafwendbare verengelsing gaan handhaaf. Op sy slegste, het ons hier net nog 'n akademiese voorbeeld van etniese en rasseoorheersing waarmee Afrikaners in dié bose, onregverdige en rassistiese bestel vir lief moet neem.

Ons moet ook onthou dat Cheryl de la Rey 'n lang verbintenis met sowel die Universiteit van Natal as die Universiteit van Kaapstad het, twee universiteite wat reeds dekades lank met 'n volgehoue veldtog van Afrikanerhaat besig is en as't ware die akademiese sentra van die huidige etniese suiweringsveldtog teen Afrikaans en Afrikaners verteenwoordig. Akademici in die algemeen is tropdiere en aartskonformiste. Heel waarskynlik dink Cheryl de la Rey nie veel anders as haar kollegas aan dié  twee universiteite nie.

Die Vryheidsfront Plus se jeugtak op die kampus sal daarom dié nuwe rektor met 'n arendsoog moet dophou. Slegs voortgesette waaksaamheid en stryd sal Afrikaans nog hoegenaamd op die kampus laat oorleef. 'n Revolusie sal egter nodig wees om Afrikaans hoegenaamd weer vryheid en gelykheid te gee, dít wat taalgemeenskappe elders ter wêreld as vanselfsprekend aanvaar.

Veral moet Afrikaners nie so naïef wees om te dink dat die mooipraatjies oor "meertaligheid" enigiets anders as voortgesette verengelsing en die verdrukking van Afrikaans beteken nie.

Wil u kommentaar hierop lewer? Gaan na Dan Roodt se woernaal waar 'n kommentaarfunksie beskikbaar is. 

bridal tiara headbandтопкарго отзывы