In ‘n stakingsbrief wat deur vakbonde aan die Universiteit Pretoria vrygestel is, word die vergoedingspakket van die huidige rektor, prof. Cheryl de la Rey, onder wie se leierskap die universiteit finaal verengels word, onthul. Sy ontvang altesaam meer as 3 miljoen rand, waaronder R2,2m aan salaris en R850 000 aan ‘n bonus, plus ander byvoordele.
Die stakingsbrief (sien hier onder) begin met die aanhef, “revolusionêre groete” en is deur NEHAWU, Solidariteit en UPWO onderteken. Blykbaar bied die universiteit net 8% verhoging aan, terwyl die vakbonde 8,8% eis teenoor 10% wat aan sommige universiteite toegestaan is.
Interessant is ook dat die universiteit oor R10 miljard se kontantreserwes beskik, afgesien van ander beleggings, terwyl gerugte deur Engelsgesindes versprei word dat hy nie “Afrikaans meer kan bekostig nie”.
Die dronk regter Nkola Motata ontvang reeds sewe jaar lank sy volle salaris al werk hy nie. Motata is sedert 2007 met spesiale verlof toe hy vir die eerste keer van dronkbestuur aangekla is.
Tydens sy inhegtenisname het Motata aan die polisie gesê: “Geen Boer gaan my ondermyn nie. Hierdie was eers ‘n witmansland, maar dit is nie meer nie.” Hy het ook aan die polisie gesê om nie ‘n witman, in wie se huis hy vasgery het, te “ondersteun” nie.
Die hoofregter wat deur president Zuma aangestel is, Mogoeng Mogoeng, het vandeesweek bevestig dat Motata steeds in die staat se diens is en maandeliks sy salaris ontvang al is hy nie naby die regbank nie.
Nkola Motata tydens een van sy hofverskynings
Regter Nkola Motata het in Januarie 2007 met sy Jaguar in die muur van sakeman Richard Baird se huis in Johannesburg vasgery terwyl hy onder die invloed van alkohol was. Die regter is in 2009 aan dronkbestuur skuldig bevind, maar het sedertdien gepoog om teen die bevinding te appelleer. In 2010 is hy toestemming tot appèl geweier.
Vanweë sy opmerkings aan die polisie oor blankes en dat hulle nie ‘n blanke man moet ondersteun nie, is ‘n klag van haatspraak teen Motata by die regterlike gedragstribunaal aanhangig gemaak. Die tribunaal sou intussen die klag ondersoek.
Die ondersoek is egter in Februarie vanjaar uitgestel omdat Motata die wetgewing wat die tribunaal daarstel, bevraagteken.
Intussen ontvang Motata sy volle regtersalaris van ongeveer twee miljoen rand per jaar. Dus het die dronk regter wat nie meer werk nie die staat oor die afgelope 7 jaar ongeveer R14 miljoen gekos. Dit sluit nie die fondse in wat die staat moet aanwend om die regter se aansoeke in die howe teen te staan nie.
Gill Marcus glimlag breed, asof sy wou sê: ‘R2 vir julle en R5 miljoen vir my!’ Foto: GCIS
Gill Marcus, wat self as ‘n begunstigde van die ANC se verowering van die land en sy instellings, R5 miljoen per jaar verdien, het so pas ‘n nuwe R2-muntstuk aangekondig om haar party se oorname van die Uniegebou te vier.
Hoewel die munt aangebied word om die eeufees van die Uniegebou te herdenk, is dit uit verklarings duidelik dat die Reserwebank die Uniegebou aan Nelson Mandela koppel. As gevolg van die bank se ideologies geïnspireerde note met Mandela se gesig daarop het dit in die mees onlangse boekjaar ‘n verlies van R1,27 miljard getoon.
Dit het egter nie die bank verhoed om Marcus se enorme salaris van R4 990 000 te betaal nie – twee keer soveel soos die staatspresident s’n. Selfs haar adjunkte verdien enorme salarisse. Daar is nie minder as drie van hulle nie, wat met die volgende vergoedingspakkette spog:
Daniel Mminele: R3,8m
Francois Groepe: R3.56m
Lesetja Kganyago: R3,81m
Groepe was voorheen by Naspers werksaam waar hy die uitvoerende hoof van Media24 was. Hy is egter weens onbekwaamheid deur mnr. Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, afgedank.
Volgens Marcus is dit nie nodig vir die Reserwebank om wins te maak nie. “Ons is nie ‘n instelling wat deur die winsmotief gedryf worrd nie. Niemand voel gemaklik met verliese nie, maar die oogmerk is nie om winste te maksimaliseer nie. Ons oogmerk is om ons werk te doen. Soms maak jy ‘n wins en soms ‘n verlies.”
Daar sal ook ‘n spesiale uitgif van sterlingsilwermunte geskied. Volgens Hlengani Mathebula, woordvoerder vir die SARB. sal die SA Munt in Midrand die munstukke vervaardig: “Die SA Munt sal die sterlingsilwer- R2-kroon uitreik as ʼn enkelmuntstuk met sy beperkte oplaag van 1 000, sowel as deel van ʼn versamelaarstelletjie wat die kroon, sirkulasiemuntstuk en 20 herdenkingseëls insluit,”
Daar sal slegs 700 stelle beskikbaar gemaak word. Die stelle en die R2-kroon sal by SA Mint en Coin World te koop aangebied word.
Die muntstuk het die landswapen, jaar van uitreiking, en die woorde “Suid-Afrika” in Afrikaans en isiXhosa op sy voorkant. ʼn Afbeelding van die Uniegebou verskyn op die rugkant, tesame met ‘n Engelse inskripsie.
Die R2-sirkulasiemuntstuk sal van vroeg 2014 af in omloop geplaas word.