Jonathan Jansen is ’n wolf in skaapsklere, resensie

Deel op
Wyle Chris Louw
Wyle Chris Louw

deur Chris Louw

As Kovsies glo dat hul nuwe rektor, Jonathan Jansen, hom gaan beywer vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan hul universiteit, gaan hulle lelik ontnugter word. Rassetransformasie is Jansen se primêre doelwit. Afrikaans is hoogstens ’n instrument om dié doel te bereik en aan die einde van die proses sal Afrikaans die slagoffer wees.

In Knowledge in the Blood vertel Jansen hoe hy as dekaan van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria Afrikaans strategies ingespan het om Afrikaners se vertroue te wen terwyl hy terselfdertyd die grondreëls doelgerig so verander het dat die taal as onderrigtaal noodwendig moes kwyn en verdwyn.

Jansen se vertrekpunt is dat Afrikaner-kultuur so deurtrek is van rassisme dat dit eenvoudig moet plek maak vir die vollediger inklusiwiteit en toeganklikheid van Engels. Die kernvraag is hoe om dit te doen sonder om Afrikaners te vervreem.

Die boek bied ’n merkwaardige insig in Jansen se benadering tot Afrikaners en sal waarskynlik as ’n teleurstelling kom vir lesers van sy gereelde rubrieke in Afrikaanse koerante. Waar hy in dié rubrieke bekend geword het vir skerp maar regverdige kritiek, spreek die boek ’n totale veroordeling uit oor Afrikaners as onredbare rassiste – minstens in hul verband as herkenbare etniese groepering.
Jansen se argument kan in kort soos volg weergegee word:

In 1994 is Suid-Afrika bevry van die bose stelsel van apartheid, wat ’n misdaad teen die mensdom was. Swart nasionalisme het finaal ge­seëvier en Afrikaners – die vaandeldraers van wit meerderwaardigheid en rassisme – is oortuigend verslaan.

Terwyl die openbare lewe reeds grootliks getransformeer is, word die verskansing van Afrikaner­nasionalisme in wit kerke, skole en universiteite voortgesit. Hy sê Afrikaners klou desperaat vas aan dié laaste politieke ruimte om ras, kultuur en taal te verdedig. Dis juis hier waar die “kennis in die bloed” onkrities oorgedra en bevestig word.

Wat ter sprake is, skryf Jansen, is “oorgedraagde kennis” – in wese rassisme – van die ouer geslag na ’n jonger geslag wat nie self eerstehandse ervaring van die verlede het nie, maar in wie die ou vooroordele voortleef.

Dié “oordrag van kennis” berus op gebrekkige insigte in die verlede. “Daar bly ’n diepe ontkenning van ’n kriminele apartheidsverlede onder wit Afrikanerkinders en hul lewende ouers,” skryf Jansen.

Dit is moontlik omdat die Afrikanerkind die produk is van ’n intense stel geslote interaksies – taal, skool, kerk, boeke, tydskrifte, radio en televisie, wat dieselfde waardes voortdurend herbevestig.

Kultuurorganisasies en kunstefeeste soos die KKNK en Aardklop – en selfs die jaarlikse Oppikoppi-rockfees – staan volgens Jansen in diens van ’n eksklusiewe beves­tiging van die geslote Afrikaner-kultuur. Hier word “stryde en prestasies van die verlede” as “nostalgiese verheerliking [van] vervloë helde en gebeure” kragtig aan die nuwe geslag oorgedra.

Noudat kru rassisme nie meer aanvaarbaar is nie, vind dit volgens Jansen by Afrikaners uitdrukking in verwysings na kultuur, taal en groepsidentiteit.

Afrikaanse media soos Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad is volgens Jansen deurtrek van stories oor die bedreiging van die Afrikaner-identiteit; die aftakeling van die Afrikaanse taal; hoe Afrikaanse skole geteiken word; die verlies aan werksgeleenthede ten gunste van swart mense; en die einde van Afrikaanse plekname.

Etniese oervrese word vir kommersiële redes uitgebuit, met “skreeuende opskrifte” oor wreedaardige moorde op wit mense wat oor en oor herhaal word. So word misdaad voorgestel as volksmoord.

Die vraag is dan, volgens Jansen, hoe Afrikaners se ongewenste narratief verbreek kan word sodat lede van ’n eksklusiewe en geïsoleerde gemeenskap konstruktief in ’n nie-rassige samelewing geassimileer kan word. Anders gestel: Hoe kan die oorwonne Afrikaner-gemeenskap gelei word om sonder verset “tuis te voel” in die transformasie-agenda?

As akademikus val Jansen se fokus uiteraard op die rol van universiteite, en in dié geval die Universiteit van Pretoria. Sy ervaring by Tukkies word as ’n gevallestudie aangebied wat vermoedelik ook op ander universiteite van toepassing gemaak behoort te word.

In Jansen se argument was Tukkies die bakermat van ’n kultuur van wit meerderwaardigheid en Afrikaner-patriargie, wat in ’n sterk outoritêre ingesteldheid gegrond is. Die insulêre aard van die Afrikaner-kultuur – aangehelp deur jare van akademiese sanksies – het uiting gevind in die ondemokratiese bestuurstyl en ’n verstokte kurrikulum-inhoud.

Jansen se basiese vertrekpunt is dat die Afrikaner-kultuur in wese onhervormbaar is, maar dat dit strategies onvanpas is om dit direk te konfronteer. Hy glo elemente van dié kultuur – die respek vir meerderes en outoritêre besluitneming – moet eerder ingespan word as instrumente om die transformasie-agenda te bespoedig.

Implisiet aan dié argument is die wenslikheid daarvan dat die proses onder die leiding van ’n (generies) swart persoon moet geskied wat ’n deurleefde insig in nie-rassigheid het; ’n wit Afrikaner-leier loop die gevaar van opportunisme wat tot onegte transformasie en selfs onbedoelde aberrasies kan lei.

Die swart leier moet deur sy optrede ’n onberispelike voorbeeld stel. Afrikaners se rassevooroordeel sal op dié wyse ondergrawe word deur die respek vir gesag wat deel van hul kultuur is, en hulle sal inkoop by die agenda.

Afrikaners se aandrang op Afrikaans as onderrigmedium het, volgens Jansen, eintlik maar ten doel om ’n “language barrier” te skep; dis ’n dekmantel om wit bevoorregting te verskans en lede van ander rassegroepe op die kampus te vervreem.

Die groot kuns is hoe Afrikaners se goedgesindheid behou kan word terwyl ’n agenda deurgevoer word wat strydig is met ’n anachronistiese kultuur wat ondermyn moet word. Jansen se oplossing vir die dilemma is gesetel in die konsep van “beleefdheid”, wat hy as ’n kernbeginsel by Afrikaners ervaar. Beleefdheid as strategiese opsie behels ’n empatiese benadering tot Afrikaners se weerstand teen verandering.

Terwyl Afrikaans – minstens voorlopig – as onderrigmedium behou word, en mense in hul eie taal by gesprekvoering betrek word, word die konteks doelgerig verander: Swart studente met ’n voorkeur vir Engels word op groot skaal tot die universiteit toegelaat en dosente word van oral in die (Engelse) wêreld gesoek en aangestel op grond van bewese akademiese kundigheid.

Jansen sê in sy ervaring is die kwaliteit van universiteitsonderrig vir die meeste Afrikaner-­ouers ononderhandelbaar. Afrikaners is “voorwaardelike pragmatiste”; solank bepaalde standaarde en waardes verseker is, bly hulle lojaal.

In hierdie konteks was dit nie nodig om Afrikaans as onderrig­medium by Tukkies af te skaf en onwelkome konflik te skep nie. Die demografiese grondverskuiwing het ’n nuwe dinamika losgemaak en die reëls van die spel onherroeplik verander.

Engels, skryf Jansen, het markwaarde vir die nuwe mobiele en globale klas van kenniswerkers onder Afrikaners, en Afrikaner-pragmatisme sal in dié konteks self sorg vir die finale uitfasering van Afrikaans as universiteitstaal. By Tukkies was die taalvoorkeur van die meerderheid studente uiteindelik beslissend Engels.

“Geleë in een van die mees kosmopolitiese stede in Afrika, op die kruispaaie van vele internasionale kulturele strominge, sal die UP onafwendbaar in die rigting van ’n Engelsmedium-universiteit beweeg. Binne die volgende dekade sal daar baie min Afrikaans wees by hierdie eertydse bastion van Afrikaner-nasionalisme.”

Jansen sê wat hy by Tukkies veral roerend gevind het, was dat jong, wit Afrikaanse studente hom bedank het vir sy leidende rol in ’n postkonflik- pedagogie en die transforma- sie wat dit in hul lewe gebring het.

Dit is duidelik dat Jansen Afrikaner-studente in ’n dialoog wil betrek wat geen “oop gesprek” is nie. Hy het hulle by voorbaat kollektief aan growwe rassisme skuldig bevind. Wat hy bied, is ’n empatiese oor om hulle te lei na sy eie insigte.

Die afloop van die gesprek is reeds bepaal: Dat Afrikaners hulle taal en kultuur sal prysgee in die volle kennis van die sondigheid wat daarin vervat is sodat hulle kan opgaan in die ideaal van ’n Engels-georiënteerde nie-rassigheid soos deur swart nasionalisme versinnebeeld.

Knowledge in the Blood: Confronting Race and the Apartheid Past, deur Jonathan D. Jansen. UCT Press/Stanford University Press. 2009.

Hierdie resensie het in 2009 vir die eerste keer in Rapport verskyn.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.