Twee polisiebeamptes is in Elsburg, Germiston, in hegtenis geneem nadat hulle ‘n vragmotor gekaap en drank ter waarde van R2 miljoen gesteel het, het die Valke gesê.
Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder, het gesê ‘n adjudant-offisier en ‘n konstabel het op 1 November ‘n vragmotor op die N3 afgetrek.
Die vragmotorbestuurder en sy passasiers is by ‘n polisiekantoor aangehou terwyl die polisiebeamptes die drank by ‘n onbekende plek afgelaai het. Die groep is later vrygelaat.
“Hulle is aangekla van vragmotorkaping. Daar is ‘n moontlikheid dat ‘n aanklag van diefstal bygevoeg kan word,” het Ramaloko gesê.
Drank ter waarde van R100 000 is teruggevind.
Die mans sal na verwagting Donderdag in die Germiston-landdroshof verskyn. – Sapa
Die moord van ‘n 20-jarige swart man in Bekkersdal, wes van Johannesburg, is nie gekoppel aan gewelddadige betogings in die gebied nie, het die polisie Donderdag gesê.
Woordvoerder konst Elsie Tshonte het gesê: ” Die voorval kan nie gekoppel word aan die protes nie want twee mans was buite hul krot Woensdagnag toe ‘n voertuig met vier insittendes hulle genader het.”
Volgens ‘n ooggetuie , het die motor met die vier insittendes aangekom om 23:00 .
Twee passasiers het uitgeklim en die twee mans wat buite die hut gesit het beledig, waarna vier skote afgevuur is wat een van die mans noodlottig gewond het.
Die aanvallers het terug in die motor gespring en weggejaag .
Die man wat geskiet is, is op die toneel dood.
Die vermoorde man, Themba Khumalo en sy vriend het na bewering gebots met die ondersteuners van ‘n plaaslike raadslid wat inwoners afgedank wil hê.
Die area is getref deur oproer oor dienslewering oor die afgelope week. Inwoners eis dat die Westonaria munisipaliteit ontbind en onder administrasie geplaas word.
Woensdag is ‘n buitelandse winkel eienaar in hegtenis geneem nadat hy na bewering op ‘n ander man geskiet het. Hy staan tereg op ‘n aanklag van poging tot moord .
Verlede week is 35 mense in hegtenis geneem en aangekla van openbare geweld nadat ‘n petrolbom en klippe gegooi is na die polisiestasie .
Drie polisievoertuie en ‘n rampbestuurvoertuig is beskadig in die aanval.
Die onrus het Donderdag na die naburige township, Simunye oorgespoel.
Gemeenskapslede sê dit sal ‘n sterk boodskap stuur aan die regering om spoedig op te tree en skole sal ook geteiken word.
Vanoggend moes ‘n polisiebeampte vir sy lewe vlug nadat ‘n groep woedende inwoners hom wou aanval. Hulle glo dat die polisie verantwoordelik is vir die dood van die 20-jarige man.
Vroeër is bespiegel dat die onrus na omliggende gebiede soos Simunye en Thusanang kan uitbrei, maar die polisie het die intussen die orde herstel. – Sapa
Beeldmateriaal wat voorheen nie beskikbaar was nie en wat die polisie se verklarings weerspreek oor hulle rol in die moorde is deur die Marikana se ondersteuningskommittee verkry.
Die beeldmateriaal wys glo hoe polisiebeamptes hulle pistole uithaal voor die beweerde aanval deur mynwerkers.
Dit wys ook hoe mynwerkers rustig aangestap kom en nie op die polisie afgestorm het soos voorheen beweer is nie.
Sowat 270 Lonmin-myners, wat op 16 Augustus verlede jaar in hegtenis geneem is toe 34 mynwerkerks by Marikana in Noordwes doodgeskiet is, sal ook vandag in die Garankuwa-landdroshof noord van Pretoria verskyn.
Die myners staan tereg op aanklagte van openbare geweld wat tydens ‘n onbeskermde staking by die Lonmin Platimun-myn plaasgevind het.
Die Marikana-kommissie van ondersoek na die dood van 44 mense tydens die voorval sal ook in Pretoria voortduur. – RSG
Die polisie hetna bewering‘n 17-jarigemeisie watonder‘n groep oproermakers was, doodgeskiet. Hulle het teen diesloping vanhulplakkershutteinCatoCrest, Durban betoog.
Vroeër vanjaaris sewepolisiebeamptesvrygespreekvir die2011moord op die Ficksburgse aktivisAndriesTatane.
BandileMdlalose, sekretaris-generaalvirNGOAbahlalibaseMjondolo, het gesê:“Die gemeenskapis kwaad, hulle wilgeregtigheid hê, hulle sal nooithierdiesinnelose slagting vergeet nie. Die tiener isdoodgeskietsonder dat ‘nwaarskuwingskoot geskiet is.“
Die provinsialewoordvoerder van die polisie,JayNaickersê diebetogers het tweepolisiebeamptes in ‘n hinderlaag gelei wat veroorsaak het dat hulleskotein die skare gevuur het,wat tot die dood van diemeisie en‘n ander persoon gelei het.
“Die skarevan ongeveer 500mense het die polisie omsingel.Hullehet die polisievoertuig in ‘n hinderlaag gelei endie voertuigmet klippe bestook.Hulle het‘n venster gebreek en groot skadeaan die voertuig veroorsaak.Die verdagteshet na beweringprobeer om diepolisiete trek uitdie voertuig. Maartoe die polisie‘n skoot indie skare afvuur, het hulleweggehardloop“. – SABC
Twee mense is Woensdagmiddag beseer toe ‘n groep swartes wat besig was om van veiligheidswagte in die Johannesburgse middestad af weg te vlug, begin skiet het, het die polisie gesê.
“‘n Audi Q7 het ‘n blou BMW M1 gejaag toe die insittendes van die BMW op die Audi Q7 begin skiet het, wat deur veiligheidswagte op die hoek van Anderson- en Sauerstrate bestuur is,” het die woordvoerder, adjundantoffisier Xoli Mbhele Donderdag gesê.
“Die veiligheidswagte het daarna hul vuur beantwoord en die BMW se band stukkend geskiet,” het hy gesê.
Mbhele sê die vyf het hierna uit hul motor gespring en te voet weggevlug terwyl hulle op die veiligheidswagte losbrand. Hul skote het twee passasiers in ‘n stilstaande Quantum-taxi op die hoek van Breë- en Lovedaystrate getref.
“Daarna het die groep ‘n wit Nissan Tiida gekaap en van die toneel af weggejaag,” sê Mbhele.
Die motor is later in Turffontein teruggevind.
“Die beseerdes, ‘n man en ‘n vrou, is op die toneel behandel, maar die vou is hospitaal toe geneem met ‘n wond in die nek,” sê Mbhele.
“Die veiligheidswagte het die groep se motor agternagesit toe hulle nie wou stilhou in die aangesig van aankomende verkeer nie,” sê Mbhele.
Volgens hom is die polisie na die misdadigers op soek. – Sapa
Mnr. Hein Boonzaaier, een van die aangeklaagdes in die sogenaamde “Bloemfontein-4-terreursaak” het vandag ontslag gekry in die Bloemfonteinse landdroshof weens ‘n gebrek aan enige getuienis teen hom. Die staat het die saak teen hom teruggetrek.
Volgens mnr. Boonzaaier, het hy op Geloftedag, 16 Desember 2012 met sy hond in sy tuin gaan stap. Hy woon in Centurion. “Dit was presies kwart voor agt die oggend,” vertel hy. “Die volgende oomblik verskyn daar 30 swaar gewapende polisiemanne met volle lyfpantser en semi-outomatiese gewere wat op my gerig word. Ek het nie geweet wat aangaan nie, of ek moes hardloop of uitbars van die lag nie.”
Die volgende oomblik is mnr. Boonzaaier op ‘n klag van “terrorisme” in hegtenis geneem. Hy moes byna twee maande in die tronk deurbring voordat hy borg kon kry. Die staat het sy borgaansoek, asook dié van die ander drie aangeklaagdes, Johan Prinsloo, Mark Trollip en Martin Keevy, teengestaan.
Volgens sy regspan, “moes hy nooit gearresteer gewees het nie”. “Ek dink dit het suiwer daarom gegaan om my te probeer diskrediteer, ‘n doel waarin die staat en die media geslaag het,” sê hy.
Mediaverhoor
Sowel die Naspersgroep as die Mail & Guardian het teen Boonzaaier losgetrek met ‘n “mediaverhoor” waarin dié finansiële konsultant van Centurion as “regse ekstremis”, “staatsgreepbeplanner” en dergelike meer beswadder is.
Volgens Boonzaaier is daar gepoog om getuienis teen hom te vervals deur stellings wat hy tydens ‘n vergadering in die VSA gemaak het te verdraai sodat dit klink asof hy “presies die teenoorgestelde gesê het van wat hy eintlik gesê het”.
Voor sy inhegtenisname was Boonzaaier betrokke by die stigting van ‘n nuwe politieke party, die Federale Vryheidsparty en is hy ook tot president van die party verkies. “My poging om aan die demokratiese politiek deel te neem, is egter beantwoord met hardhandige, wederregtelike arrestasie,” het hy gesê.
Boonzaaier meen dat die bevel om hom in hegtenis te neem, vanuit ANC-geledere gekom het. “Die vreemdste was dat die Nasionale Vervolgingsgesag, wat luidens die grondwet ‘n onafhanklike liggaam is, my nie wou vrylaat nie allhoewel daar geen behoorlike klag of getuienis teen my was nie. Eers toe die minister daartoe ingestem het, is ek vrygelaat.”
“Ek dink dit was alles deel van ‘n plan om ons politieke party te diskrediteer, afgesien daarvan dat dit teen my persoonlik gerig was. Ek kry die indruk die regering wou nie hê dat ek aan die politiek moes deelneem nie,” sê Boonzaaier.
Die saak teen sy drie mede-aangeklaagdes gaan voort. Mnr. Martin Keevy is vir ‘n tweede keer na die Bloemfonteinse psigiatriese inrigting vir ‘n waarnemingstydperk van 30 dae verwys.
Volgens die Wes-Kaapse polisie, sal ‘n man Donderdag in die Ceres-Landdroshof verskyn in verband met die verkragting van ‘n vier-maande oue baba en ‘n sewe-jarige seun.
Lt-Kol Andre Traut sê die 25-jarige man, wat ook ‘n lokale plaasarbeider is, is Woensdag gearresteer.
Hy sê: “Kriminele oortredinge teenoor kinders word deur ons as topprioriteit beskou. Ons sal geen steen onaangeraak laat om ‘n verdagte in sodanige verband op te spoor nie.”
“Ons is baie tevrede met die resultate wat in ons ondersoeke tot op datum behaal is, en wil ook ons waardering uitspreek teenoor die Ceres-gemeenskap wat ons gedurende die afgelope paar weke ondersteun het.”
Volgens die plaaslike polisiekommissaris, Arno Lamoer, het die baba saam met haar ouers in ‘n bed geslaap toe ‘n man haar op 3 Augustus gegryp en verkrag het.
‘n Seun wat in dieselfde huis woon, is ook verkrag.
Die ANC-Vroueliga het Dinsdag gesê dat die baba besis is om te herstel ná haar vierde rekonstruktiewe chirurgiese operasie.
Die woordvoerder van die ANCWL, Nosipho Ntwanambi het gesê: “Die afskuwelike en onmenslike dade van verkragtings wat hierdie kinders getref het, is teleurstellend, en moet onverbiddelik en konsekwent deur elke lid van die gemeenskap veroordeel word.”
Ntwanambi het verder gesê dat die liga sal voortgaan om protesaksies te organiseer ten einde te poog om mans wat seksuele oortredinge begaan, uit die samelewing verwyder te kry.
‘n 32-jarige man wat voorheen gearresteer is, is vrygelaat nadat hy nie met die saak verbind kon word nie. – Sapa
Die nege polisiebeamptes wat van die moord op die Mosambiekse taxibestuurder Mido Macia beskuldig word, het Dinsdag in die Benoni-landdroshof borgtog gekry.
Die nege beamptes het weer om borg aansoek gedoen nadat hul regsverteenwoordigers aan die hof gesê hulle beskik oor nuwe bewyse. Die hof het vroeër borgtog aan die beamptes geweier.
Macia is op 26 Februarie aan ’n polisievoertuig vasgebind en in ’n straat in Daveyton aan die Oos-Rand gesleep. Hy het ure later in polisie-aanhouding gesterf.
‘n Selfoon-video-opname is van die insident gemaak.
Die beskuldigdes is Meshack Malele (45), Thamsanqa Ncema (35), Percy Mnisi (26), Bongumusa Mdluli (25), Sipho Ngobeni (30), Lungisa Ewababa (31), Bongani Kolisi (27), Linda Sololo (56) en Motome Walter Ramatlou (37). – Sapa
Twee berigte oor nuwe universiteite het onlangs in Die Burger verskyn. Op 16 deser is berig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sy akademie in die Paarl met ingang 2014 in ‘n universiteit gaan omskep. Grade van baccalaureus tot doktor sal daar verwerf kan word. In veral die VSA is daar groot sake-ondernemings wat hulle eie akademiesoortige opleiding doen omdat universitêre programme nie aan hulle spesifieke vereistes voldoen nie. Die SAPD is egter een van die onwaarskynlikste instansies plaaslik, eintlik wêreldwyd, wat so ‘n onderneming suksesvol kan bedryf.
Die SAPD se interne afrigting van polisiebeamptes was in die ou Suid-Afrika uitstekend. Daar is toe van kandidate vereis om bv behoorlik geletterd en in redelike mate tweetalig (Afrikaans en Engels) te wees. Die rekrute is geleer om te swem, perd te ry en moes ook ‘n bekwaamheidstoets in voertuigbestuur (bv vir motors en motorfietse) slaag. Omdat die keuring van kandidate vir die polisiediens deesdae ooreenkomstig die ANC se demografies-rassistiese en seksistiese beginsels geskied, is die vereistes wat aan rekrute gestel word, drasties afgewater. Baie polisiebeamptes kan of wil nie Afrikaans praat en skryf nie en ‘n groot persentasie van hulle kan nie wettig ‘n voertuig bestuur nie.
Al is die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) akademies nie meer naasteby wat dit eens was nie, is dit steeds vir enige polisiebeampte wat oor die nodige vermoëns en toewyding beskik moontlik om daar toepaslike grade van baccalaureus tot doktor te verwerf. Daar is myns insiens feitlik geen moontlikheid dat die voorgestelde polisie-universiteit akademies respektabele standaarde kan handhaaf nie. Daar word beweer dat gesprekke met ‘n “beroemde” universiteit [dalk die beruggeworde Universiteit Stellenbosch (US)] gevoer word in ‘n poging om die akademiese aansien van die onderneming in die Paarl ‘n hupstoot te gee.
Die moontlikheid van US-betrokkenheid word nie net deur sy geografiese nabyheid versterk nie, maar ook omdat die Botman-US graag die ANC in alles ter wille is. Dit is waarom die US steeds die akademiese gehalte van die grade van die Militêre Akademie op Saldanha onderskryf. Dít terwyl sowel die gehalte van die onderrig as dié van die studente kommerwekkend is. Dalk word die kloutjie by die oor gebring met die opmerking van die SAPD-woordvoerder, Zweli Mnisi, dat die Militêre Akademie as model vir die voorgestelde polisie-universiteit gaan dien. Dit is om van te ween.
‘n Voor die hand liggende voordeel wat ‘n polisie-universiteit vir politici en linkse aktiviste gaan hê, is dat dit nog ‘n instansie daarstel wat akademies waardelose ere-doktorsgrade aan dese en gene kan uitdeel. Dit sal sorg dat daar in ons jong demokrasie pleitbesorgers vir ons eie polisie-universiteit sal wees, al is hierdie instansie akademies pateties.
Daar is ook ‘n berig oor die nuwe universiteite te Kimberley en Nelspruit, wat met ingang 2014 met onderrig begin (Die Burger, 26 deser). Eersgenoemde gaan die Sol Plaatje-universiteit en die ander een die Universiteit van Mpumalanga heet. Die ANC was so gretig om Plaatje ten koste van die goeie naam van die universiteit te vereer dat nie eens toestemming van Plaatje se familie verkry is nie (Die Burger, 27 deser). Die Plaatje-naam dui daarop dat hierdie inrigtings gestig word om ANC-waardes te vergestalt. Dit blyk ook duidelik uit die name van die raadslede. In die geval van albei universiteitsrade is net een of twee van die benoemdes nie-swart. In die Suid-Afrika van weleer, was dit hoofsaaklik Afrikaners wat hulle in die onderwys, hetsy universiteit of skool, onderskei het. Deesdae word hulle by voorkeur uitgesluit.
In die goeie ou dae was daar vyf Afrikaanse universiteite, naamlik te Bloemfontein, Johannesburg, Potchefstroom, Pretoria en Stellenbosch. Al vyf het sedertdien in groot mate hulle Afrikaanse karakter ingeboet. Die Militêre Akademie is deur die ANC-regering en met die hartlike samewerking van die US tot ‘n Engelse instansie getransformeer. Weens demografie-gebasseerde rassediskriminasie sal die studente aan die polisie-universiteit, soos aan die Militêre Akademie, minstens 80% swart wees. Dit beteken ingevolge ANC-mentaliteit dat die onderrigtaal in die Paarl ook Engels sal wees. Die Burger rep geen woord hieroor nie. Dít terwyl die SAPD in sy doeltreffende era oorwegend Afrikaans was. Daar word sonder meer aanvaar dat Afrikaans weens ANC-ideologie in Saldanha en in die Paarl (die bakermat van die Genootskap van Regte Afrikaners en dus Afrikaans) nie tot sy reg hoef kom nie.
Sedert dit bekend geword het dat ‘n nuwe universiteit in die Noord-Kaap en nog een in Mpumalanga beoog word, het ek talle kere aan Naspers-koerante geskryf en gevra dat hulle ‘n veldtog voer om te verseker dat hierdie twee universiteite Afrikaans sou wees. Nie ‘n enkele van my skrywes is gepubliseer nie. In geen Naspers- of ander publikasie het ek ‘n pleidooi gesien vir onderrig in die medium van Afrikaans aan hierdie universiteite nie. Erger, Afrikaans het, sover ek weet, in hierdie konteks nooit eens ter sprake gekom nie. Blykbaar word sonder meer aanvaar dat hierdie universiteite eentalig Engels gaan wees. Dít terwyl die Noord-Kaap oorwegend Afrikaans is en daar in Mpumalanga ‘n sterk Afrikaanse teenwoordigheid is.
‘n Mens sou dink dat Naspers se Afrikaanse publikasies vir Afrikaans in die bres sou tree, al sou dit dan bloot deur voor die hand liggende eie belang gemotiveer word. Pleks daarvan word die een Afrikaanse boek na die ander met onnodige Engelse woorde in die titel en in die teks gepubliseer. By die koerante maak ‘n mens tevergeefs teen vrot Afrikaans beswaar. Joernaliste hou aan om te skryf van “stappe neem”, “siekfonds”, “soomloos”, “lektor” wanneer “dosent” bedoel word, ens. Afrikaans is nie meer vir Naspers en ander politiek-korrekte meelopers erns nie. Om finansiële gewin word daar in die koerant Son in uitgawe na uitgawe die allerbedenklikste “Afrikaans” gepubliseer. Sodanige mengeltaal, wat ‘n bespotting van Afrikaans maak, word egter deur die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), Michael le Cordeur, gepropageer pleks daarvan dat hy en die ATR die heil van Standaardafrikaans bevorder.
By Naspers loop die kanker veel dieper as bloot die sug na politieke korrektheid. Daar word dikwels agteroor na die ANC gebuig, soos pas tydens die verjaardag van Nelson Mandela, wat sonder skroom as ‘n volmaakte mens voorgehou is. In Die Burger word uitvoerig oor die jaarlikse herdenking van die bomontploffing in 1996 te Worcester berig omdat dit die werk van wittes was. Die groot menseregte-aktivis, Leon Wessels, daag graag by daardie geleenthede op en lees die leviete oor versoening voor. In daardie konteks word die verwyte uiteraard veral aan die wittes gerig.
In die Worcesterse ontploffing is 4 mense dood. Daar was ander terreurdade wat egter min publisiteit kry omdat hulle deur die ANC en PAC gepleeg is, bv Kerkstraat, Pretoria (1983, 19 mense dood), Amanzimtoti-winkelsentrum (1985, 5 dood) en Helderberg Taverne, Observatory (1993, 4 dood). In die St James Kerkslagting, Kenilworth, is 11 mense in 1993 gedood. Na verloop van 20 jaar is hierdie gebeurtenis op 25 deser gedenk. Terwyl dit nodig geag word om die Worcester-ontploffing jaarliks te gedenk, word die ander vier terreurdade hoogstens elke dekade in herinnering geroep en dan kry dit weinig, indien enige, publisiteit.
Die rede hierrvoor is dat wittes vir die gebeure in Worcester verantwoordelik is, terwyl die vier ander terreurdade, twee elk, deur die ANC en PAC gepleeg is. Anders as in die geval van Worcester, is nie ‘n woord in Die Burger oor die herdenking op 25 deser van die St James-slagting gerep nie. Ek wonder steeds of die PAC-lid en burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, die verrigtinge bygewoon het. Nog ‘n opvallende verskil is dat die wittes wat die Worcester-bom geplant het in die tronk sit, terwyl diegene wat die genoemde ander terreurdade gepleeg het deur Desmond Tutu se WVK van alle blaam onthef is.
Naspers se simpatie met die ANC het begin nadat FW de Klerk in 1990 ANC-bedrywighede wettig verklaar het. Daar is blykbaar destyds deur die Naspers-redakteurs ooreengekom om De Klerk se magsdelingsinisiatiewe sonder meer te ondersteun en dit aan hulle lesers op te dring; ook nadat dit geblyk het dat De Klerk se magsdeling in werklikheid algehele oorgawe aan swartmag is. Daar is so baie mense wat daarop aanspraak maak dat hulle gehelp het om die nuwe Suid-Afrika tot stand te bring. Hierdie redakteurs kan deel in daardie roem. Mense soos Ton Vosloo, Tim du Plessis en Hennie van Deventer was seker deel van hierdie sameswering. Waarom klink daar nie stemme uit Melkbos en elders op om ons te vertel van die bedrywighede en toekomsvisie van hierdie uitgelese groepie joernaliste nie? Klop hulle hulleself en mekaar steeds op die skouer, of is hulle ontgogel en wil hulle daarom liewer om verskoning vra en om vergiffenis pleit?
‘n Polisiekaptein is in Worcester in hegtenis geneem nadat hy na bewering ‘n 46-jarige vrou in ‘n polisievoertuig verkrag het, het die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) gesê.
“Die klaagster beweer sy is op 20 Junie omstreeks 23:30 verkrag deur die verdagte wat ‘n gemerkte SAPD-voertuig gery het terwyl hy aan diens was,” het Moses Dlamini, woordvoerder van die Opod, gesê.
“Die verdagte het na bewering gedreig om die slagoffer en haar seun te skiet indien sy saak aameld, wat daartoe gelei het dat sy nie die saak onmiddellik ná die voorval aangemeld het nie.”
Dlamini het gesê die 46-jarige man is Donderdag in hegtenis geneem nadat die vrou ‘n saak teen hom aanhangig gemaak het.
Die man verskyn Maandag in die Worcester-landdroshof op aanklag van verkragting. – Sapa
Die Johannesburgse Metropolisie soek hoog en laag na ‘n blogger bekend as Pigspotter. Dis terloops snaaks dat hulle nie onpadwaardige taxi’s en hul bestuurders met heeltemal dieselfde ywer as Pigspotter probeer vervolg nie. Pigspotter het mense op Twitter gewaarsku teen padblokkades en spoedlokvalle, en volgens die Metropolisie kom dit neer op dwarsboming van die gereg.
Ongelukkig vir die Metropolisie is hulle verkeerd op verskeie vlakke.
Eerstens was daar enkele jare gelede ‘n hofsaak waarin ‘n motoris aangekla is omdat hy ander motoriste mbv flitsende ligte gewaarsku het oor ‘n spoedlokval. Hy is toe aangekla van dwarsboming van die gereg. In die hofsaak was sy verweer dat die doel van spoedlokvalle hoort te wees om motoriste kry om die spoedperk te gehoorsaam, en dat sy flitsende ligte ook dieselfde ten doel gehad het. Hy is onskuldig bevind op grond van hierdie verweer.
Tweedens gaan dwarsboming van die gereg van die veronderstelling uit dat die gereg benadeel word deur iemand se optrede. Daar is dus twee partye: een wat die gereg moedswillig dwarsboom, en tweedens iemand wat die gereg verteenwoordig. Dis met laasgenoemde dat daar ‘n enorme probleem is waar dit by die Metropolisie kom. Hulle noem hulself kennelik ‘n polisiemag, maar om hulle as die vaandeldraers van reg en geregtigheid te wil voorhou, is eenvoudig absurd. Die taxi-bestuurders wat absolute minagting vir die reëls van die pad het, lyk soos engeltjies in vergelyking met die fundamenteel-korrupte en misdadige Metropolisie.
Wie kan ooit vergeet van die skietery enkele jare gelede tussen die Metropolisie en die gewone polisie op een van Johannesburg se snelweë? Die Metropolisie is sedert 1994 getransformeer na ‘n spul misdadige skuim, wat bloot daarop uit is om hetsy hulself, hetsy hul werkgewer te verryk. Korrupsie is aan die orde van die dag, en dit is moeilik om te bepaal of daar selfs een eerlike lid van die Metropolisie is.
Ek is al persoonlik in Midrand voorgekeer omdat ek versuim het om ‘n veiligheidsgordel te dra. Ek was skuldig. Die individu wat my voorgekeer het, het sy naamplaatjie doelbewus afgehaal, sy voertuig of motorfiets moedswillig iewers versteek, en toe vir my gevra: “What do you have for me?” Ek het my dom gehou en uiteindelik is ek meegedeel dat ek hetsy ‘n paar honderd rand aan ‘n boete kon betaal, hetsy vir hom R50 kon gee. Ek het hom toe laat weet ek verkies die boete-kaartjie, iets wat hom só gegooi het dat ek uiteindelik sonder om die omkoopgeld te betaal én sonder ‘n boete gery het.
Dit is ‘n welbekende feit dat padblokkades gehou word om motoriste af te pers om omkoopgeld te oorhandig. Dit lyk byvoorbeeld op die oog af of Bees Roux voorgekeer is met die doel om hom af te pers, wat stellig ‘n geweldige misrekening was aan die kant van die oorlede vermeende afperser. Waar dit die Metropolisie aanbetref, is die hou van ‘n padblokkade dus op sigself ‘n kriminele handeling aan die Metropolisie se kant.
Pigspotter se optrede kan dus maklik gesien word as synde misdaad-voorkoming. Hy waarsku motoriste immers teen die Metropolisie se kriminele optrede en verhoed sodoende dat motoriste die slagoffers word van die endemiese misdaad en korrupsie waaraan die Metropolisie homself skuldig maak.
Die Metropolisie voel hom waarskynlik gekrenk omdat iemand soos Pigspotter hulle so openlik minag. Baie soos die ANC-regime hom gekrenk voel oor die minagting waarmee elke denkende, wetsgehoorsame Suid-Afrikaner hom beskou, en derhalwe die pers se mond probeer snoer. Ek is persoonlik nie hoopvol dat die ANC of die Metropolisie ooit tot die besef sal kom dat respek iets is wat verdien moet word nie.
‘n Blanke motoris van Durbanville naby Kaapstad is deur ‘n groep polisiemanne aangerand wat ook aan hom gesê het: “Jy dink jy is spesiaal omdat jy wit is. Ons gaan al julle f***en wittes doodmaak.”
Die blanke, mnr. Stewart Robinson, is van die pad afgedwing deur ‘n groep polisiemanne. Hulle het hom in die gesig geslaan en sodoende sy bril gebreek.
Robinson is die eggenoot van Denise Robinson, ‘n DA-LP en woordvoerder oor vroue, jeug, kinders en mense met gestremdhede.
Volgens Robinson het hy Maandag in Durbanville gery teen die spoedgrens van 60 kpu, al langs Wedrenbaanweg.
‘n Polisievoertuig het agter hom stelling ingeneem en hom oor ‘n soliede wit streep probeer verbysteek.
“Daar was geen harde skouer waarop ek kon aftrek nie. Hulle het vlak agter my begin ry en gepoog om my te dwing om stil te hou.”
Robinson het by die Total Durbanville-vulstasie ingetrek en sy motor tot stilstand gebring. “Hulle het my uit my motor gesleep, sonder enige verduideliking. Hulle het my in die gesig geslaan en my bril gebreek.” Robinson moes agterna ‘n kliniek besoek om deur ‘n dokter ondersoek te word.
Blykbaar was die polisiemanne “kwaad” omdat hy nie onmiddellik stilgehou het nie.
Robinson het gesê: “Daar was ‘n halfdosyn getuies. Toe die polisie besef wat hulle gedoen het, het hulle weggery.”
Robinson kon nie hul naamplaatjies of die voertuig se registrasienommer lees nadat sy bril gebreek is nie. Onmiddellik ná die insident het jy ‘n klag van aanranding by die Durbanville-polisiestasie gaan lê.
Cobus Mostert, die eienaar van Total Durbanville, was binne sy vulstasie se kantoor toe hy van ‘n onderonsie buite bewus raak. “Toe ek buite gekom het, was die polisie besig om te vertrek,” het hy gesê. “Daar was vyf of ses van hulle in ‘n Mercedes-minibussie. Ek het die man gehelp. Hy het in die gesig gebloei. Hulle het sy bril afgeruk en hy kon nie behoorlik sien nie. Ek het gehelp om hom na die Durbanville-polisiestasie te neem.”
Volgens Mostert het hy die aanvallers gevra om nie die vulstasie te verlaat nie en ‘n offisier was onbeskof met hom voordat hulle vertrek het.
“Ons het daarin geslaag om die registrasienommer van die voertuig neer te skryf. Hulle was almal in polisie-uniform geklee.”
Mostert meen dat ‘n hele aantal mense die voorval gadegeslaan het en agterna “bang” was om die polisiemanne te oortuig om die aanranding te staak. “Almal was baie bang. Hulle was baie aggressief. Hulle het geweet daar was ‘n klomp getuies.”
Die voorval is egter nie op geslotebaantelevisie by die vulstasie opgeneem nie omdat die kamera deur ‘n afleweringsvoertuig verberg is.
Nog ‘n inwoner van Durbanville, Johan Smit, het die aanranding gesien en het probeer inmeng toe die groep Robinson uit sy voertuig gesleep het.
“Ek het by die vulstasie stilgehou en hy (Robinson) het agter my stilgehou. Agter hom het die polisievoertuig stilgehou. Ek het gesien hoe hulle die sleutels uit sy motor neem en die man begin slaan.” Dit was toe dat ‘n polisieman gesê het: “Jy dink jy is spesiaal omdat jy wit is. Ons gaan al julle f***en wittes doodmaak.”
Smit het gesê hy het aan Mostert gesê om die polisie te bel waarna die polisiemanne in hul voertuig gespring en weggery het.
Die woordvoerder van die polisie in Durbanville, Bernice Laas-Bezuidenhout, het nie gister haar selfoon beantwoord nie.
‘n Beampte by die polisiestasie het bevestig dat ‘n klag gelê is. Die provinsiale polisiewoordvoerder Frederick van Wyk het die voorval bevestig en het gesê dat ‘n polisieondersoek tans aan die gang is.