Polisie span waterkanon teen klipgooiers in

waterkanonDie polisie het ‘n waterkanon ingespan om betogers uiteen te jaag in KwaMashu in die vroeë oggendure van Vrydagoggend, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê .

Woordvoerder kolonel Jay Naicker het gesê betogers het begin om ‘n deurpad, Dumisani Makhaye-rylaan, te versper, teen omstreeks 02:00 .

“Die polisie is met klippe bestook en versterkings is ingeroep. Hierdie boewe is verjaag met behulp van ‘n waterkanon,” het hy gesê.

Dit is nie duidelik waaroor die protes was nie, maar aanduidings is dat dit oor dienslewering nalv ‘n gebrek aan behuising gehandel het.

Hy het gesê voortgesette protes tap op die polisie se hulpbronne en verplaas waardevolle hulpbronne wat aangewend word om misdaad te beveg na skarebeheer.

“Wetsgehoorsame belastingbetalers uit verskeie gemeenskappe in die provinsie is ook ontstoke omdat dié misdadigers paaie na hul woonbuurte versper, eiendom beskadig en [ belastingbetalers ] versoek die polisie om beslis teen hierdie gewelddadige misdadigers op te tree,” het hy gesê.

Durban het die afgelope week in die Isipingo en Cato Crest-gebiede oproer beleef oor ‘n gebrek aan behuising. Maandag is ‘n 17-jarige meisie doodgeskiet deur twee polisiebeamptes na hul voertuig deur die betogers omsingel is, en hulle lewendige ammunisie moes gebruik om te ontsnap. – Sapa

Polisie skiet meisie in oproer

Cato Crest
Cato Crest

Die polisie het na bewering ‘n 17-jarige meisie wat onder ‘n groep oproermakers was, doodgeskiet. Hulle het teen die sloping van hul plakkershutte in Cato Crest, Durban betoog.

Vroeër vanjaar is sewe polisiebeamptes vrygespreek vir die 2011 moord op die Ficksburgse aktivis Andries Tatane.

Bandile Mdlalose, sekretaris-generaal vir NGO Abahlali baseMjondolo, het gesê: “Die gemeenskap is kwaad, hulle wil geregtigheid hê, hulle sal nooit hierdie sinnelose slagting vergeet nie. Die tiener is doodgeskiet sonder dat ‘n waarskuwingskoot geskiet is.“

Die provinsiale woordvoerder van die polisie, Jay Naicker sê die betogers het twee polisiebeamptes in ‘n hinderlaag gelei wat veroorsaak het dat hulle skote in die skare gevuur het, wat tot die dood van die meisie en ‘n ander persoon gelei het.

“Die skare van ongeveer 500 mense het die polisie omsingel. Hulle het die polisievoertuig in ‘n hinderlaag gelei en die voertuig met klippe bestook. Hulle het ‘n venster gebreek en groot skade aan die voertuig veroorsaak. Die verdagtes het na bewering probeer om die polisie te trek uit die voertuig. Maar toe die polisie ‘n skoot in die skare afvuur, het hulle weggehardloop“. – SABC