Dit het tydens die hoogverraadverhoor in Bloemfontein aan die lig gekom dat Afrikanerr-informante wat deur die polisie gebruik word om op ander Afrikaners te spioeneer hoofsaaklik deur geld gemotiveer word.
Mnr. Jaco Scherman het vir die staat getuig dat sy “onderneming geldelike probleme ondervind en dat hy vir elke verslag wat hy vir sy hanteerder geskryf het, betaal is. Volgens hom “het hy nie baie geld ontvang nie, maar hoe meer inkriminerend die verslag is, hoe meer geld word ek betaal.”
Scherman getuig tans in die hoogverraadverhoor van mnr. Johan Prinsloo, wat na bewering deel van die “Bloemfontein-komplot” sou wees. Dié groep sou die ANC se nasionale kongres in Desember 2012 met mortiere en ander wapens aanval.
Volgens Scherman het hy “egter nie die groep vir die geld geïnfiltreer nie, maar omdat hy in reg en verkeerd glo”.
Prinsloo staan tereg op aanklagte van hoogverraad, sameswering om aan terreurdade deel te neem, asook die besit van onwettige ammunisie. Hy is in Desember tesame met Martin Keevy, Mark Trollip en Hein Boonzaaier in hegtenis geneem.
Die saak teen Boonzaaier is intussen teruggetrek en hy sy verhaal elders hier op praag vertel. Hy is besig om die staat vir miljoene rande weens wederregtelike arrestasie en gevangenskap te dagvaar.
Scherman het verder getuig dat hy Prinsloo in 2011 opgesoek het, nadat sy hanteerder hom aangesê het om ‘n organisasie genaamd die Vrye Burger-weerstandsbeweging binne te dring.
Die verhoor van die laaste van die regses wat daarvan beskuldig word dat hulle beplan het om ANC-leiers tydens die party se verkiesingskonferensie in Bloemfontein in 2012 te vermoor, sal vandag in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein begin.
Die beskuldigde, Johan Prinsloo was deel van ‘n groep mans wat ná die Mangaung-konferensie in hegtenis geneem is.
Nog ‘n verdagte, Mark Trollip het vroeër skuldig gepleit op aanklag van sameswering om terreurdade te pleeg. Hy het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is tot 8 jaar tronkstraf gevonnis.
‘n Derde verdagte, Martin Keevy was medies ongeskik verklaar om verhoor te word, terwyl aanklagte teen die vierde verdagte, Hein Boonzaaier laat vaar is. – RSG
Hein Boonzaaier in Mississippi, tydens een van sy twee besoeke aan die VSA. Foto: Brenda Booker
deur Hein Zaayman (alias Hein Boonzaaier)
Jy staan een oggend op met ‘n lied in jou hart, en gaan stap deur jou tuin met jou getroue ou boerboel aan jou sy. En ewe skielik sien jy voor jou omtrent dertig polisiebeamptes met masjiengewere op jou gerig. Jou boerboel se hare rys, sy begin vorentoe hardloop, en ‘n swart man met ‘n “hawk”-T-hemp aan rig sy pistool op haar en beveel jou om jou hond onder beheer te kry en weg te sit, anders word sy geskiet.
Sommige polisie rig hulle aanvalsgewere op die hond, ander hou dit op jou, nog ander het reeds jou vrou die voordeur laat oopmaak, en hou hulle gewere op haar gerig. Sy gee ‘n gil en vra vir jou wat aangaan. Die man met die “hawk”-hemp stel homself voor as kolonel So-en-so, en oorhandig twee hofbevele aan jou. Een is om jou huis te deursoek, en die ander is magtiging tot jou inhegtenisname vir hoogverraad. Hy vertel vir jou dat enige iets wat jy sê of doen teen jou in die hof gebruik kan word, en dan word jy geboei. Alles binne twee minute. Jou lewe het ewe skielik verander en jy weet nie hoekom nie, en só begin ‘n agt maande lange “komedie” van skokke, vernedering, onthullings en soms komiese oomblikke, wat verreikende gevolge vir jou en jou geliefdes bring.
Dit is, kortom, hoe hierdie sage in my lewe begin het, en wat ‘n ontsaglike invloed op soveel fasette van my lewe oor die afgelope agt maande gehad het. Ek kan nou onthul dat ek die rubriekskrywer Heinrich B Zaayman is, of party mense ken my as Hein Zaayman. Ek het al vele artikels vir Praag geskryf tot en met 2011.
Maar ek wil nie hier my hele hartseer en verstommende reis deur Suid-Afrika se swak strafproseswette, regstelsel en politieke intimidasie vertel nie. Ek wil vertel van die verstommende ondersteuning wat ek, my vrou en my familie vanuit soveel oorde en onverwagte plekke gekry het, en om daarvoor dankie te sê. Ondersteuning wat mens staande gehou het, my laat besef het ek is nie alleen nie, en wat as engele deur my vrou beskryf is. Dit sal onmoontlik wees om almal by die naam te noem, maar hulle weet wie hulle is, en ek is dankbaar vir Dan Roodt om deur middel van Praag aan hulle ons dank oor te dra.
Behalwe vir die plaaslike mense in die sogenaamde “regse” politiek, was daar familie waarvan ons jare laas iets gehoor het, vriende wat nooit saamgestem het met my politieke standpunte nie, ou skoolvriende, oudstudentemaats, oudkollegas oor ‘n hele dertig jaar, kennisse uit verskeie fasette van ons lewens, huidige kollegas van beide my en my vrou, die maatskappy vir wie sy werk, en baie swart mense met wie ek deur die jare te doen gekry het as personeel, projeklede en kliënte. Daar was vele mense wat bidgroepe vir my en my medebeskuldigdes gestig het.
Vanuit Amerika is daar ook bidgroepe gestig, en almal wat ek daar leer ken het ná twee besoeke aan die VSA wou op eie koste na SA vlieg om vir my te kom getuig. Daar was die menseregtedrukgroep in Ierland wat die regering so op hol gejaag het, dat die gevangenis elke twee ure aan die minister oor ons verslag moes doen. Vanuit Kanada, Australië, Europa en Suid-Amerika het ek persoonlik soveel ondersteuning gekry, dat ek net verstom kon staan.
En dan seker die belangrikste was daar die Hemelse Vader, wat my onderskraag het, regop gehou het, en my eie waardigheid vir my opgepas het, terwyl daar ‘n korrupte stelsel en meewerkende pers was, wat my probeer afbreek en beskryf het as ‘n dom Boer wat ‘n bose terroris is. Vir dié wat nie aan God glo nie,voel ek jammer. Hy is waaragtig en almagtig, en kan namens jou, wat jouself op Sy altaar lê, alle onmoontlike hindernisse uit jou pad vee.
Ná al die ontberings en hartseer, wil ek vir almal wat ons ondersteun het dankie sê, en weet dat elkeen ‘n spesiale plek in ons harte het. Ons sal dit nooit vergeet nie.
Mnr. Hein Boonzaaier, een van die aangeklaagdes in die sogenaamde “Bloemfontein-4-terreursaak” het vandag ontslag gekry in die Bloemfonteinse landdroshof weens ‘n gebrek aan enige getuienis teen hom. Die staat het die saak teen hom teruggetrek.
Volgens mnr. Boonzaaier, het hy op Geloftedag, 16 Desember 2012 met sy hond in sy tuin gaan stap. Hy woon in Centurion. “Dit was presies kwart voor agt die oggend,” vertel hy. “Die volgende oomblik verskyn daar 30 swaar gewapende polisiemanne met volle lyfpantser en semi-outomatiese gewere wat op my gerig word. Ek het nie geweet wat aangaan nie, of ek moes hardloop of uitbars van die lag nie.”
Die volgende oomblik is mnr. Boonzaaier op ‘n klag van “terrorisme” in hegtenis geneem. Hy moes byna twee maande in die tronk deurbring voordat hy borg kon kry. Die staat het sy borgaansoek, asook dié van die ander drie aangeklaagdes, Johan Prinsloo, Mark Trollip en Martin Keevy, teengestaan.
Volgens sy regspan, “moes hy nooit gearresteer gewees het nie”. “Ek dink dit het suiwer daarom gegaan om my te probeer diskrediteer, ‘n doel waarin die staat en die media geslaag het,” sê hy.
Mediaverhoor
Sowel die Naspersgroep as die Mail & Guardian het teen Boonzaaier losgetrek met ‘n “mediaverhoor” waarin dié finansiële konsultant van Centurion as “regse ekstremis”, “staatsgreepbeplanner” en dergelike meer beswadder is.
Volgens Boonzaaier is daar gepoog om getuienis teen hom te vervals deur stellings wat hy tydens ‘n vergadering in die VSA gemaak het te verdraai sodat dit klink asof hy “presies die teenoorgestelde gesê het van wat hy eintlik gesê het”.
Voor sy inhegtenisname was Boonzaaier betrokke by die stigting van ‘n nuwe politieke party, die Federale Vryheidsparty en is hy ook tot president van die party verkies. “My poging om aan die demokratiese politiek deel te neem, is egter beantwoord met hardhandige, wederregtelike arrestasie,” het hy gesê.
Boonzaaier meen dat die bevel om hom in hegtenis te neem, vanuit ANC-geledere gekom het. “Die vreemdste was dat die Nasionale Vervolgingsgesag, wat luidens die grondwet ‘n onafhanklike liggaam is, my nie wou vrylaat nie allhoewel daar geen behoorlike klag of getuienis teen my was nie. Eers toe die minister daartoe ingestem het, is ek vrygelaat.”
“Ek dink dit was alles deel van ‘n plan om ons politieke party te diskrediteer, afgesien daarvan dat dit teen my persoonlik gerig was. Ek kry die indruk die regering wou nie hê dat ek aan die politiek moes deelneem nie,” sê Boonzaaier.
Die saak teen sy drie mede-aangeklaagdes gaan voort. Mnr. Martin Keevy is vir ‘n tweede keer na die Bloemfonteinse psigiatriese inrigting vir ‘n waarnemingstydperk van 30 dae verwys.
Twee mans wat aangehou word weens poging tot moord, Johan Prinsloo en Mark Trollip, het tronkowerhede amptelik in kennis gestel van hul voorneme om van Maandag af op te hou eet.
Die twee is van ander verhoorafwagtende gevangenes in die Grootvlei-tronk buite Bloemfontein geskei, omdat hulle tans amptelik op ‘n eetstaking is.
Woordvoerder vir die Vrystaatse departement van korrektiewe dienste, Puleng Mokhoane, het gesê hulle word in afsondering aangehou sodat hulle gemonitor kan word.
Volgens Mokhoane is die twee ongelukkig oor die swak gehalte kos wat hulle in die tronk ontvang, en dat hulle meen die ondersoeke neem te lank om tot ‘n punt te kom.
Prinsloo het verlede week in ‘n brief aan OFM-nuus gesê sy grondwetlike regte word in die tronk geskend en dat sy gesondheid daagliks agteruit gaan.
Prinsloo en Trollip word saam met Hein Boonzaaier en Martin Keevy daarvan verdink dat hulle beplan het om tydens die ANC se Mangaung-kongres verlede jaar, top-leiers te vermoor. – OFM