Boer doodgemartel

Sarel Janse van Rensburg, 75, is Donderdag op die plaas Froggy Pond naby Dullstroom doodgemartel. Hy is die vyfde slagoffer van ‘n plaasmoord in Limpopo die afgelope twee maande.

Twee jaar gelede is Van Rensburg se broer en skoonsuster in ‘n plaasaanval in Limpopo vermoor.

Sy ouer broer, Johan en skoonsuster, Gloudien, is in Junie 2012 op hul plaas naby Baltimore vermoor.

Claudine van Wyk, Janse van Rensburg se dogter, was in 2012 Mev. Verenigde Nasies vir die provinsie.

Haar pa is herhaaldelik met ‘n ysterstaaf teen die kop geslaan, met ‘n mes in die bors gesteek en in die kop geskiet. Die wewenaar sou in November sy 76ste verjaardag gevier het.

Hy was alleen toe twee swartes wat kom water vra het, hom oorval het. Janse van Rensburg is volgens die polisie eers met ’n staalstaaf geslaan voordat hy met sy eie skoenveters vasgebind is.

Hy is daarna deur die swart aanvallers met ‘n mes in die bors gesteek en in die kop geskiet.

Die twee swartes – 21 en 25 – wat onder meer ‘n geldtrommel gesteel het, is intussen gearresteer. Die polisie het die twee met die trommel betrap.

Een was voorheen gevang vir huisroof.

Eskom: Kragagterstand sal nog 5 jaar duur

Die kragreus Eskom het gewaarsku dat dit tot vyf jaar kan neem om die agteruitgang in sy aantal kragstasies om te keer, het RSG berig.

Die kragvoorsiener se waarnemende uitvoerende hoof, Collin Matjila, sê die beskikbare energiefaktor sal eers teen 2019 tot bo 85 persent styg.

Matjila het aan die Parlement se Energiekomitee gesê die eerste eenheid by die nuwe Medupi-kragstasie in Limpopo sal na verwagting op 24 Desember vanjaar, ná ‘n vertraging van drie jaar, begin krag lewer aan die nasionale netwerk.

Die tweede kragstasie, Kusile in Mpumalanga sal vroeg in 2016 begin krag lewer. Matjila sê hulle het verskeie eise ingedien teen kontrakteurs by Medupi vir die nie-lewering van dienste.

Dit is ook gedeeltelik die rede vir die stygende koste.

Johannesburg Water gaan watertenks in ‘n aantal voorstede beskikbaarstel nadat kragprobleme by Randwater se Eikenhof-pompstasie tot ontwrigtings in watervoorsiening gelei het.

‘n Woordvoerder van Johannesburg Water, Millicent Kabwe, sê Randwater het die kragprobleem herstel, maar opgaardamme is leeg en moet nog volgepomp word.

Watertenks sal by die Coronationville hospitaal geplaas word, asook by Crown Gardens, Sophiatown, Quellerina, Bergbron, Winchester Hills en Campus Square in Aucklandpark.

Inwoners in die gebiede wat wel water het, is gevra om dit spaarsamig te gebruik totdat opgaardamme volgetap is.

Verdagte ontsnap in polisie-uniform

‘n Verdagte wat uit die polisieselle by Thohoyandou in Limpopo ontsnap het, is weer aangekeer.

Tshilidzi Nelson Masindi het twee weke gelede ontsnap en is tans onder polisiebewaking in die hospitaal, het RSG berig.

Hy het ernstige beserings opgedoen toe hy deur lede van die gemeenskap aangerand is oor die beweerde poging tot verkragting van twee vroue in Muledane Saterdag.

Masindi het daarna ontsnap vermom in ‘n polisie-uniform. ‘n Interne proses is aan die gang om vas te stel hoe hy die uniform bekom het.

Hospitaal se water besmet

‘n Saak van poging tot moord is geopen nadat die Jane Furse-hospitaal in Limpopo se water besmet is.

Die hospitaal is Maandag heropen nadat dit vir drie dae gesluit was, het die provinsiale gesondheidsdepartement gesê.

“Ons het weer die hospitaalbedrywighede hervat en die pasiënte is terug,” het Macks Lesufi, woordvoerder, gesê.

Vrydagoggend is 72 pasiënte uit die hospitaal ontruim nadat die hospitaal ontdek het dat daar diesel in die watervoorraad is.

“Ons het die reservoir gekontak. Vandag [Maandag] kry ons weer pasiënte in.”

Hy het gesê dit is nog nie seker wat tot die besmetting gelei het nie, maar die saak is aan die polisie oorhandig.

Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n saak van poging tot moord ondersoek word. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Geen vordering in ondersoek na boer wat Maandag doodgeskiet is

Daar is nog geen vordering om die die swart aanvallers wat ‘n boer van Groblersdal doogeskiet het, vas te trek nie. Dit was die sesde plaasaanval in dié gebied in Limpopo.

Die aanvallers is glo op die plaas afgelaai en weer opgelaai na die aanval.

Rudolph Pretorius (54) is dood nadat hy Maandag in die vroeë oggendure in sy gesig geskiet is.

Vier swart aanvallers het glo eers sy honde vergiftig en toe by ’n badkamervenster die huis binnegedring.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Pretorius se vrou is met ’n geweer oor die kop geslaan.

Na ’n skietery tussen die aanvallers en Pretorius is hy in die gesig geskiet. Die aanvallers wapens en juwele gesteel.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het aan Beeld gesê “daar moet iets gedoen word aan die tekort aan mannekrag, voertuie en hulpbronne by polisiekantore”.

AfriForum sal ‘n ontleding doen van wat die polisiekantoor nodig het.

Sommige swart skole teken 2% in wiskunde aan

City Press het gister berig dat daar ‘n “groot wiskundekrisis in die land heers met leerlinge regoor die land wat nie in staat is om 30% op ‘n gestandaardiseerde wiskundetoets te behaal nie”.

Daar is in 2013 ‘n nasionale assesseringstoetse geskryf om te bepaal hoe goed leerlinge kan lees en reken. In graad 9 kry 96% van leerlinge minder as 50% in wiskunde.

Daar is ook ‘n lys van skole gepubliseer wat die swakste gevaar het. Al die skole is Engelstalig en in swart woonbuurte geleë, met die uitsondering van die “Nuwe Hoop Sentrum” op Worcester in die Wes-Kaap waar leerlinge in graad 6 ‘n gemiddeld van 17% in wiskunde aanteken en drie jaar later in graad 9 slegs 3%. Sover praag kon vasstel, is die Nuwe Hoop Sentrum ‘n skool vir hoofsaaklik bruin doofstom kinders

In Gauteng is die “Kwa-Thema Skills School” een van die skole wat die swakste in wiskunde gevaar het. Die graad sesse is gemeet op 10%, terwyl hul ouer eweknieë in dieselfde skool, die graad 9’s, slegs 2% in die toets behaal het. Kwa-Thema is die swart woonbuurt tussen Springs en Brakpan.

Nkandla haal ook die nuus vir wiskunde en optel-en-aftrek, want in Kwazulu-Natal figureer die graad 3’s van die Enhlababo Comprehensive op dié dorpie heel onder in die provinsie met 7%.

Oor die algemeen het “slegte skole” in die wiskunde-assessering “tussen 1% en 5%” behaal. Volgens City Press toon die data wat hulle onder oë gehad het dat 2 411 skole landwyd se graad 9’s tussen 0% en 30% vir wiskunde behaal het. Dieselfde druipsyfer is deur graad 6’e in 429 skole aangeteken terwyl alle graad 3’s in 59 van die laerskole ook minder as 30% gekry het.

Limpopo is blykbaar die provinsie wat die swakste van almal vaar, want in die graad 9-toetse het 96% van alle leerlinge 30% of minder in wiskunde behaal. Ook die Noord-Kaap is nie ‘n provinsie wat wiskunde-PhD’s op groot skaal gaan oplewer nie, want 92% van leerlinge het insgelyks minder as 30% ontvang. Mpumalanga is net ‘n kortkop agter die Noord-Kaap met 91% wat onder 30% “presteer”.

Die onderwysdepartement blameer die swak wiskundepunte op “leerlinge wat toetse in Engels aflê terwyl die terme wat hul onderwysers in die klas gebruik anders is”.

Volgens Servaas van den Berg, ‘n ekonoom van die Universiteit van Stellenbosch, “vaar skole in Limpopo besonder swak volgens sekere standaarde.”

“Ons sien dit nie altyd in die matriekuitslae nie, want baie kinders verlaat die stelsel lank voordat hulle by matriek uitkom. Dis ‘n baie arm provinsie wat histories nie goeie opvoedingsvlakke gehad het nie.”

 

Limpopo-boere met miljoene beboet

Minstens tien boere in Limpopo is deur arbeidsinspekteurs beboet omdat hulle hul werknemers te min betaal.

Volgens die departement van landbou beloop van die boetes tot ’n miljoen rand.

Arbeidsinspekteurs wat plase besoek het, het glo op “ernstige oortredings” van die wet op basiese diensvoorwaardes afgekom.

“Ons verwag nie luukse behuising nie maar wat ons hier gevind het is nie eers geskik vir honde nie, het ‘n woordvoerder, Joe Mokou, gesê.

Die plaaswerkers het in sommige gevalle glo R1 427 per maand te min ontvang en werkgewers het nie tot die werkloosheidsversekeringsfonds bygedra soos die wet vereis nie.

Die minimumloon vir plaaswerkers is R 2 227 per maand.

Limpopo-boere stel duisende seisoenale werkers aan om te help met sitrus- en tamatie-oeste.

 

Swart jeugdiges val buitelanders aan in Limpopo

saps5Die polisie in Limpopo het vyf-en-twintig mense, onder wie verskeie tieners, is in hegtenis geneem na ‘n plundertog teen buitelanders.

In Gilead, buite Ellisras (Lephalale) in Limpopo is die winkels van buitelanders aangeval en besteel.

Die polisiewoordvoerder, Hangwani Mulaudzi, sê die skare het die winkels aangeval nadat hulle die buitelanders van misdaad beskuldig het.

Mulaudzi sê die verdagtes sal binnekort op aanklagte van openbare geweld en roof in die hof op Gilead verskyn.

Onrus in Limpopo en Oos-Kaap dag voor verkiesing

sterkspruit2Diegene wat vir spesiale stemme geregistreer is, sal vandag landwyd voortgaan om te stem.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê die proses het to dusver hoofsaaklik sonder probleme verloop ten spyte van onrus op Lorainne en Malamulele in Limpopo en Sterkspruit in die Oos-Kaap.

In die Wes-Kaap het bykans 34.000 mense vir spesiale stemme geregistreer.

Die provinsiale kiesbeampte, Courtney Sampson, sê hulle maak gereed vir verkiesingsdag Woensdag.

Die Oos-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Mlibo Qhoboshiyane, het sy kommer oor die hoë vlakke van intimidasie op Sterkspruit uitgespreek.

Inwoners, veral UDM-lede, eis ‘n alleenstaande munisipaliteit omdat hulle nie die Senqu Plaaslike Munisipaliteit bedien wil word nie.

‘n Skoolbiblioteek wat as stemlokaal gebruik sou word, is vroeër aan die brand gesteek terwyl winkels en banke in die sentrale sakegebied gesluit is. Die gebied het 76 stemlokale.

Qhoboshiyane het kiesers gevra om kalm te bly.

 

Uitspraak oor Limpopo-handboeke verwag

handboeke2Die hooggeregshof in Pretoria sal na verwagting Dinsdag uitspraak lewer oor die handboekfiasko in Limpopo.

‘n Aansoek om die onderwysdepartement in Limpopo te dwing om uitstaande handboeke af te lewer, is by die hof ingedien.

Die gemeenskapsorganisasie Basic Education for All (Befa) het die aansoek gebring nadat die departement van onderwys erken het dat honderdduisende handboeke eers laat bestel is weens begrotingsbeperkings.

Die bestellings is eers in April ingedien. Volgens die departement wag hulle steeds vir die aflewering van 158 000 handboeke.

Befa het aansoek gedoen vir ʼn hofbevel om die departement te dwing om te hou by sy spertyd van 6 Junie om alle uitstaande handboeke af te lewer.

Hulle eis dat die departement in die toekoms soortgelyke situasies sal vermy deur die opstel van ‘n noodplan.

Die Departement se regspan het aangevoer dat net meer as twee persent van die sewe miljoen handboeke nie afgelewer is nie. Die skole het na bewering nagelaat om tekorte aan te meld.

Oproer in Giyani, Limpopo strand motoriste

giyaniOproeriges van ses nedersettings buite Giyani in Limpopo het die hoofpad met takke versper en het ‘n sloot in die pad gegrawe.

Hulle sê die departement van vervoer het al jare gelede beloof om ‘n pad tussen Maphalle en Babangu te bou, maar daar het dadels van gekom.

Die oproermakers eis dat ‘n teerpad gebou word.

Vier klinieke is ook gesluit en skole is deur die oproer ontwrig.

Hulle sê die pad, wat ‘n aantal dorpe verbind, is al vir meer as tien jaar op ‘n lys om geteer te word, maar niks word daaraan gedoen nie.

Motoriste in die gebied is gestrand nadat die ontevredenes die deurgange onbegaanbaar gemaak het.

Die oproermakers gaan hul blokkade volhou totdat die LUR vir vervoer ‘n spesifieke datum kan gee vir wanneer bouwerk aan die pad in aanvang neem.

De Hoopdam vandag amptelik geopen

De Hoopdam
De Hoopdam

Die De Hoopdam, wat die dertiende grootste dam in die land sal wees, sal na verwagting ‘n 347 miljoen kubieke meter reservoirkapasiteit hê.

President Jacob Zuma sal vandag die multi-miljoen-randse dam in Limpopo open.

Dit het vyf jaar geduur om die dam te bou. Die minister van Waterwese, Edna Molewa en die premier van Limpopo, Stanley Mathabatha sal Zuma vergesel.

Die dam sal ook water verskaf aan myne in die Burgersfort-omgewing.

Dié dam is die hart van die regering se projek om die Olifantsrivier wat deur Limpopo en Mpumalanga vloei, te ontwikkel om water aan verbruikers te bring, het die Departement van Waterwese gesê.

Die dam is geleë naby Steelpoort in Limpopo se Sekhukhune-distrik, in die noord-oostelike deel van die Bosveld-kompleks, ‘n geologiese gebied wat die grootste reserwes van die platinumgroepmetale in die wêreld bevat.

Die dam sal dus die groeiende mynbedryf in die area dien, en 2 miljoen tot 3 miljoen mense in die huishoudelike sektor in die distrik van water voorsien.

Dit sal ongeveer R3.4bn kos om te voltooi.

Die Olifantsrivierwaterhulpbronprojek is deel van die presidensie se strategiese 18 geïntegreerde projekte wat daarop gemik is om ontwikkeling en groei in die land aan te help, werksgeleenthede te skep en basiese dienslewering te verbeter.

Die projek is gemik op die ontwikkeling van die “noordelike mineraalgordel” wat die Waterberg as sy middelpunt het.

Die Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing skat die Olifantsrivier is Suid-Afrika se rivier wat die derde hardste werk en ‘n span van 30 wetenskaplikes het bevind dat mynbou-, nywerheids -, landbou- en rioolbesoedeling reeds sorg vir ‘n giftige sop wat sy toekoms bedreig.

Die De Hoopdam sal een van die grootste betondamme in Suid-Afrika wees. Verskeie eerste plekke het tydens die bou daarvan na vore getree.

Een van hulle was die eerste gebruik van rollergekompakteerdebeton (rollcrete), met 129,000 m³ wat oor 30 dae in ‘n enkele operasie gedoen is. Die gietproses het vir ‘n Suid-Afrikaanse rekord gesorg.

Skole in Gauteng, Wes-Kaap oorval

schoolkidsNavorsers waarsku dat skole in Gauteng en die Wes-Kaap oorval word deur leerders wat uit ander provinsies instroom, het RSG berig.

Die Nasionale Instituut vir Rasse-betrekkinge het in onlangse navorsing bevind dat dié twee provinsies die eerste keuses is vir kinders wat beter onderwysgeleenthede soek.

Limpopo en die Oos-Kaap het die meeste leerlinge wat padgee weens swak prestasies en gebrekkige skoolgeriewe.

Die verslag toon dat meer as 150.000 skoolgaande kinders tussen 2001 en 2007 skole in die Oos-Kaap, Limpopo, die Vrystaat en Noordwes verlaat het.

Tussen 2000 en 2012 het die leerlinggetalle by staatskole in die Oos-Kaap en Limpopo met meer as 400.000 afgeneem.

Groot vloedskade in Limpopo en Noordwes

belabelaSwaar reën in Limpopo, Noordwes en veral op Mogwase naby Sun City het groot skade aangerig.

Brûe in Mogwase is onder water en voertuie het ook in vloedwater vasgeval.

Premier Thandi Modise Sal Vrydag die rampgebied besoek.

Nooddienste werk onverpoosd in verskeie dele van Limpopo met talle mense wat in Warmbad (Bela Bela) deur die vloede geraak word.

In Ellisras (Lephalale) is noodsentrums ingerig om vloedgeteisterdes van hulp te voorsien.

Dele van die dorp is onder water nadat twee damwalle vroeër weens swaar reën meegegee het.

‘n Woordvoerder van die provinsiale Departement van Samewerkende Regering, Motupa Selomo, het die noodtoestand in die Waterberggebied naby Nylstroom en in die Capricorn-distrik in die Polokwane-omgewing as baie ernstig bestempel.

Selomo sê nooddienste is ook na mense in die Thabo Mbeki-gebied gestuur.

Motoriste word aangeraai om die N1 te gebruik en Warmbad (Bela Bela) te vermy.

Die R101 tussen Warmbad (Bela Bela) en Nylstroom (Modimolle) is onbegaanbaar. Dit is die die enigste pad in die omgewing wat gesluit is nie, aangesien talle paaie tans onbegaanbaar is.

‘n Woordvoerder vir die Moses Kotane plaaslike munisipaliteit in Noordwes sê twee kinders word ook vermis nadat vloedwater by Mogwase hulle vermoedelik meegesleur het.

Dit is nie bekend hoe oud die kinders is nie.

Ses brûe in die Madibeng plaaslike munisipaliteit het onder die oorstromings deurgeloop en vier het weggespoel by Klipgat, Maboloka en Jericho.

In Pretoria sal die soektog na drie kinders wat vroeër die week in Mamelodi vermoedelik deur vloedwater meegesleur is, ook hervat word.

Hulle het vermoedelik in ‘n stormwaterafvoerpyp, wat in die nabygeleë Moretele-rivier inloop, gespeel.

Die Kruger Nasionale Park het tien kampe weens oorstromings gesluit. Maar owerhede hou vol dat die wildtuin min gevaar of risiko’s vir toeriste inhou.

Die wêreldbekende park is hard getref deur die vloede. Verskeie paaie in die park sal gesluit bly.

Sommige riviere van beide Limpopo en Mpumalanga vloei deur die park na die naburige Mosambiek.

Toeriste het sedertdien verhuis na ander kampe.

Die swaar reënval gedurende die eerste tien dae van Maart het rekords in dele van die land gebreek, volgens die SA Weerdiens.

“Die noord-oostelike helfte van die land het meer as 100 persent van wat normaalweg vir die eerste 10 dae van Maart verwag word, ervaar,” het die klimaatinligting-eenheidbestuurder Elsa de Jager in ‘n verklaring gesê.

“Verder het Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, sowel as dele van Noord-Wes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal meer as 200 persent ondervind van wat normaalweg verwag word.”

Twaalf stede in Limpopo, Mpumalanga en Gauteng ervaar die swaarste reën in tien jaar of meer.