Groot probleme by Medupi-kragstasie

Groot probleme word blykbaar ondervind met Eenheid Ses by die Medupi-kragstasie in Limpopo, het RSG berig.

Die minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, is intussen versoek om duidelikheid oor die kwessie te gee.

Eenheid Ses is veronderstel om sowat 800 megawatt aan die kragnetwerk te lewer. Michael sê egter daar is na bewering ‘n groot probleem met die ontwerp van die pypstelsel, wat sal verhoed dat die eenheid behoorlik werk.

Eskom het intussen gesê hy hoop dat dit vandeesweek nie nodig sal wees om beurtkrag in te stel nie. ‘n Woordvoerder, Khulu Phasiwe sê die kragnetwerk is redelik stabiel, indien niks onvoorsiens gebeur nie.

Eskom: Kragagterstand sal nog 5 jaar duur

Die kragreus Eskom het gewaarsku dat dit tot vyf jaar kan neem om die agteruitgang in sy aantal kragstasies om te keer, het RSG berig.

Die kragvoorsiener se waarnemende uitvoerende hoof, Collin Matjila, sê die beskikbare energiefaktor sal eers teen 2019 tot bo 85 persent styg.

Matjila het aan die Parlement se Energiekomitee gesê die eerste eenheid by die nuwe Medupi-kragstasie in Limpopo sal na verwagting op 24 Desember vanjaar, ná ‘n vertraging van drie jaar, begin krag lewer aan die nasionale netwerk.

Die tweede kragstasie, Kusile in Mpumalanga sal vroeg in 2016 begin krag lewer. Matjila sê hulle het verskeie eise ingedien teen kontrakteurs by Medupi vir die nie-lewering van dienste.

Dit is ook gedeeltelik die rede vir die stygende koste.

Johannesburg Water gaan watertenks in ‘n aantal voorstede beskikbaarstel nadat kragprobleme by Randwater se Eikenhof-pompstasie tot ontwrigtings in watervoorsiening gelei het.

‘n Woordvoerder van Johannesburg Water, Millicent Kabwe, sê Randwater het die kragprobleem herstel, maar opgaardamme is leeg en moet nog volgepomp word.

Watertenks sal by die Coronationville hospitaal geplaas word, asook by Crown Gardens, Sophiatown, Quellerina, Bergbron, Winchester Hills en Campus Square in Aucklandpark.

Inwoners in die gebiede wat wel water het, is gevra om dit spaarsamig te gebruik totdat opgaardamme volgetap is.