Uitspraak oor Limpopo-handboeke verwag

handboeke2Die hooggeregshof in Pretoria sal na verwagting Dinsdag uitspraak lewer oor die handboekfiasko in Limpopo.

‘n Aansoek om die onderwysdepartement in Limpopo te dwing om uitstaande handboeke af te lewer, is by die hof ingedien.

Die gemeenskapsorganisasie Basic Education for All (Befa) het die aansoek gebring nadat die departement van onderwys erken het dat honderdduisende handboeke eers laat bestel is weens begrotingsbeperkings.

Die bestellings is eers in April ingedien. Volgens die departement wag hulle steeds vir die aflewering van 158 000 handboeke.

Befa het aansoek gedoen vir ʼn hofbevel om die departement te dwing om te hou by sy spertyd van 6 Junie om alle uitstaande handboeke af te lewer.

Hulle eis dat die departement in die toekoms soortgelyke situasies sal vermy deur die opstel van ‘n noodplan.

Die Departement se regspan het aangevoer dat net meer as twee persent van die sewe miljoen handboeke nie afgelewer is nie. Die skole het na bewering nagelaat om tekorte aan te meld.