Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het Woensdag gesê Suid-Afrika moet Nigerië berispe sodat die land wetgewing teen gays kan hersien.
Talle oorteders is sedert 18 Januarie in Nigerië in hegtenis geneem ingevolge ‘n nuwe wet wat gay seks verbied. Die nuwe wetgewing verbied ook huwelike tussen paartjies van dieselfde geslag.
Die wetgewing maak voorsiening vir ‘n maksimun van 14 jaar gevangenisstraf vir oorteders en 10 jaar gevangenisstraf vir enigiemand wat gay-groepe of –klubs ondersteun.
Dié streng, maar gewilde maatreëls word beskou as ‘n vredesbrug tussen strydende Moslem- en Christenfaksies wat albei ewe sterk gekant is teen gays.
Isaac Mangena, woordvoerder van die MRK, het egter in ’n verklaring gesê hulle glo die Suid-Afrikaanse regering moet ander Afrika-lande aanspoor om gays te aanvaar
Die MRK se houding verteenwoordig nie die meerderheid Suid-Afrikaners se siening oor gays nie. Die meeste swart inwoners is erg gekant daarteen dat die LGBT-gemeenskap uit die kas kom.
Die Europese Unie, Kanada en Amerika het die Nigeriese wetgewing gekritiseer en gesê dit druis in teen basiese menseregte.
“Die MRK is bekommerd oor die groei van staatsondersteunde homofobie wat wêreldwyd plaasvind, en veral op die Afrika-vasteland,” het Mangena gesê.
“Ons doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om meer te doen om diplomaties met Afrika-lande in gesprek te tree wat fundamentele vryhede en menseregte onwettig wil maak.”
Daar word dikwels gesê dat die liberalisme een van die grootste ideologiese gevare vir Afrikaners inhou. Maar wat word hiermee bedoel?
Nou, alvorens misverstand alles beduiwel, wil ek dit hier reg aan die begin so duidelik as moontlik stel. Ek stem met hierdie uitspraak saam. Trouens, dit kan nog sterker verwoord word:
Die liberalisme (en in die besonder sy hedendaagse variant, die neo-liberalisme) is die grootste ideologiese uitdaging waarvoor ons – maar ook talle ander kultuur-gemeenskappe dwarsoor die wêreld – te staan gekom het. Selfs ’n veel groter bedreiging as dinge soos vyandige state; die korporatiewe globalisme met sy dwang tot eenvormigheid; die verkrummeling van gemeenskapstrukture en die gevolglike verlies aan politieke inspraak in eie sake; die tirannie van politieke korrektheid en die selfveragting waaraan die intellektuele elites in die Westerse wêreld (maar ook onder Afrikaners) ly; die onvermoë om ‘nee’ vir vreemdelinge te sê en grense tussen gemeenskappe, kulture en tradisies te respekteer; die druk waaronder die politieke lewe en ’n sin vir die goeie oordeel verkeer (onder meer vanweë die burokratisering van die alledaagse ervaring en die vertroue op die sogenaamde klas van eksperts), ensovoorts.
Uiteraard beteken dit nie dat die liberalisme van hierdie lys van ‘bedreiginge’ geïsoleer kan word nie. Trouens, hierdie dinge – vyandige state, globalisme, verlies aan politieke deelname, ensovoorts – kan juis as ’n effek van die ideologiese liberalisme beskou word. As ons hulle egter wil begryp, moet die liberalisme ten grondslag daarvan verstaan word. Laasgenoemde verteenwoordig die dikwels onuitgesproke ideële agtergrond wat genoemde dinge aanmoedig en bevorder. Trouens, die liberalisme maak hierdie dinge moontlik.
Maar, en hieroor gaan die artikel, wat bedoel ons as ons van die liberalisme praat? Gebruik ons dié woord korrek wanneer ons dit dikwels kwistig rondgooi? Nog erger, is ons nie dikwels net so liberaal soos diegene wat ons graag van liberalisme beskuldig nie?
Wat is die liberalisme? In die gewone omgangstaal word die liberalisme dikwels verbind aan politieke dinge soos ’n konstitusionele regeringsorde en alles wat dit kenmerk: die verdeling van regeringsmagte, die oppergesag van die wet, ’n handves van menseregte, ensovoorts. Die meeste van hierdie dinge was egter reeds kenmerkend van die sogenaamde pre- en dikwels anti-liberale Middeleeue. As sodanig kan dit nie die wese van die liberalisme verteenwoordig nie. Daarvoor sal verder gesoek moet word.
Ons gaan hieronder uit van die standpunt dat die wese van die liberalisme blyk uit die spesifieke opvatting van die mens wat ten grondslag daarvan lê. Gemeet aan hierdie mensbeeld is die liberalisme ’n moderne verskynsel, want dit is eers in die moderne era dat die liberale opvatting van die mens na vore kon tree. Tydens die Klassieke wêreld van die Grieke en die Romeine, maar ook tydens die Christelike Middeleeue (’n tydperk wat glad nie so donker was as wat die liberale cliché lui nie) was die liberale mensbeeld onbekend. Waarna verwys ons?
Die wese van die liberale mensbeeld blyk uit twee vooronderstellings wat ten grondslag daarvan lê. Volgens die liberale opvatting is die mens eerstens van nature ’n vryswewende individu en nie ’n gemeenskapswese nie, en tweedens is die mens vry wanneer hy oor die keusevryheid beskik om sy lewe volgens sy eie individualistiese wil in te rig.
Geleerd geformuleer: die liberalisme word deur sowel ’n atomistiese as ’n voluntatiewe opvatting van die mens gekenmerk. Volgens die liberalisme kan die menslike toestand met ’n alleenstaande eiland vergelyk word waarop die individu (’n soort Robinson Crusoe) kan maak soos wat hy wil, solank hy nie – en dit is die tipiese kwalifikasie van die liberalisme – ‘andere’ benadeel nie (Die feit dat die liberalisme ander mensbeskouinge as die liberale lewenshoudinge minag, word daarmee gerieflikheidshalwe vergeet).
As ons die liberalisme wil verstaan, moet die implikasies van hierdie mensbeeld – ’n rewolusie in die geskiedenis van mensbeelde – behoorlik onder oë gekry word. Wat presies word daarmee bedoel? Indien ons nie hierdie vraag antwoord nie, loop ons die risiko om onder die slagspreuk dat ons anti-liberaal is dieselfde mensbeeld te handhaaf.
Laasgenoemde gebeur juis dikwels in sogenaamde anti-liberale kringe. Soos onder neo-konserwatiewe politici en intellektuele in die Verenigde State. Alhoewel neo-konserwatiewes in dié land dikwels ’n stryd teen die liberalisme voer, is ook hulle tot ’n individualistiese opvatting van die mens verbind. Ironies genoeg gee hulle daarmee juis kontinuïteit aan die liberalisme. Geen wonder dat die stryd tussen die twee groot politieke partye in die VS ’n mens dikwels met die gevoel laat dat hulle geen werklike alternatiewe vir mekaar bied nie. Vanweë hulle gedeelde mensbeskouing lyk die Demokratiese Party (die sogenaamde liberale party) en die Republikeinse Party (waar die meeste neo-konserwatiewes hulself bevind) dikwels na spieëlbeelde van mekaar, kante van een en dieselfde dieperliggende ideologiese munt.
Ten minste die volgende kort opmerkings moet oor die liberale opvatting van die mens gemaak word. Hopelik sal iets van die wese van die liberalisme duideliker daaruit blyk.
1. Historiese oorspronge van die liberalisme
Die historiese oorspronge van die moderne individualisme kan na 17de eeue figure soos Thomas Hobbes en John Locke teruggevoer word. Die liberale rewolusie wat Hobbes en Locke ingelei het, rus op die gedagte dat die mens van nature as ’n vryswewende individu verstaan moet word. Alvorens ek as mens dus as ’n lid van enige familie, dorp, stad, etnos of kultuur beskou kan word, is ek ’n individu. Hiervolgens behoort my veelheid van gemeenskapsbinding nie tot die wese van my as mens nie. Inteendeel, hierdie bindinge word deur die liberalisme is sekondêr tot my eie self beskou, ’n soort toevallige addendum tot wie ek eintlik is.
Kortom, as my verbintenis tot bepaalde gemeenskappe – my familie, my etnos, my kerk, ensovoorts – hoegenaamd iets oor myself as mens te vertel het, is dit dinge wat bloot ekstrinsiek tot my menswees behoort. Hulle is nie intrinsiek deel daarvan nie. Trouens, as ek my menswees wil verstaan, moet ek hierdie dinge van my afgooi.
As sodanig verskil die liberale mensbeeld van die Klassieke Griekse, Romeine en uiteindelik Christelik-Middeleeuse opvatting van die mens. Volgens laasgenoemde is ons as mense van nature gemeenskapswesens. Vanuit hierdie perspektief beskou is my verskillende gemeenskapsbindinge daarom ook nie ’n toevallige – ekstrinsieke – toevoegsel tot my menswees nie. Inteendeel, hulle behoort intrinsiek tot wie en wat ek is. Die feit dat ek tot hierdie of daardie familie, dorp, stad of etnos behoort, vertel iets wesenlik omtrent myself as mens. My menswees bestaan nie in abstraksie daarvan (en dus in ’n soort gemeenskapsvrye sone) nie. Inteendeel, my menswees bestaan slegs in en deur hierdie gemeenskapsbindinge.
Indien hierdie bindinge dus misken word, word my menswees as sodanig daardeur misken.
Daarmee het die outyd natuurlik nie gesê dat ek met slegs een gemeenskapsbinding – soos byvoorbeeld die feit dat ek tot ’n bepaalde etnos of kultuurgemeenskap behoort – saamval nie. As mens word ek altyd weer deur ’n veelheid van sodanige bindinge gekenmerk. Maar hoeveel gemeenskapsbindinge ook al kenmerk, ek is nooit – soos in die liberale mensbeeld – daarsonder voor te stel nie. Ek bestaan in en deur my gemeenskappe.
2. Die liberale idee van vryheid
Die liberale mensbeskouing word deur ’n spesifieke opvatting van vryheid gekenmerk. Daarvolgens is ek vry wanneer ek oor die keusevryheid beskik om te handel soos ekself goeddink, en nie soos wat enige gemeenskap, tradisie of kultuur aan my voorskryf nie.
Laasgenoemde opvatting is vandag die mees gesaghebbende opvatting van vryheid. Nog meer, dié vryheidsopvatting word vandag – by grasie van die verlies aan alternatiewe – dikwels tot die ekstreme toe deurgevoer. Laasgenoemde blyk onder meer uit die feit dat selfs onvolwassenes vandag as vry geag word slegs wanneer hulleself (en nie bowe-individuele kragte soos die ouerlike gesag, die tradisionele skool, universiteit of kultuur nie) besluit hoe hulle opgevoed moet word, watter kurrikulum hulle op skool of universiteit moet volg, of watter dinge as reg/verkeerd, mooi/lelik of waar/vals beskou moet word. Onvolwassenes moet self oor hierdie dinge besluit.
Ten grondslag van hierdie vryheidsopvatting staan die idee dat die individu outonoom (en dus onafhanklik van enige ander gesag) oor homself kan besluit. In die proses word nagelaat om aan te toon dat die liberale vryheidsopvatting ’n pure fiksie is. Waarom? Omdat die liberale individu, in weerwil van sy pretensie om self te besluit, inderwaarheid deur ’n magdom liberale kragte voorgeskryf word wat om te doen en wat nie: dit is kragte soos die liberale staat, die liberale ekonomie, die liberale regswese, die liberale akademie, die liberale media, ensovoorts.
Kortom, daar word nagelaat om aan te toon dat die liberale vryheidsidee deur ’n verlammende kontradiksie gekenmerk word. Terwyl die outonome individu dink dat hy oor alles besluit, word hy deur ’n netwerk van liberale kragte – tot in die fynste detail rondom dinge soos lewenstyle, beroepskeuses, etiese voorkeure, hoogste waardes, godsdienstige oortuigings, ensovoorts – ingelig, bestuur, voorgelig, voorgeskryf.
Teenoor die liberale vryheidsopvatting staan die tradisionele vryheidsopvatting vanuit die ou wêreld. Daarvolgens is ek vry wanneer ek saam met my gemeenskapsgenote deelneem aan die verwesenliking van wat as die gemeenskaplike goed beskou word. Laasgenoemde vryheidsidee vooronderstel nie, soos in die liberalisme, dat daar ’n spanning is tussen my vryheid en wat die tradisie as ‘goed’ aan my as individu voorhou nie. Inteendeel, volgens die tradisionele opvatting is ek as individu eers vry wanneer ek juis in ooreenstemming lewe met wat deur die tradisie (familie, skool, universiteit, kerk, ensovoorts) as goed beskou word.
’n Tipiese voorbeeld hiervan kan in die ou republikeinse tradisie (waaronder ook onder Afrikaners in veral die vroeë Boererepublieke) opgespoor word. Republikeine is nie vry omdat hulle in die eerste plek self besluit oor hoe hulle hul lewe as individue wil inrig nie, maar omdat hulle op ’n gesamentlike grondslag (en op die ‘verhoë’ van die eie gemeenskap, soos die eie parlement, die eie gemeenskapsraad, die eie stadsraad, die eie skool en universiteit, ensovoorts) deelneem aan die verwesenliking van wat hulle as die gemeenskaplike goed beskou. Laasgenoemde sluit onder meer dinge in soos ’n eie taal, kultuur en tradisie, asook die ‘waardes’ wat deur laasgenoemde dinge oorgedra word (dit is dinge soos dapperheid, geregtigheid, waarheid en skoonheid).
Liberale woordvoerders, ook in Suid-Afrika, wat aanvoer dat die beroep op individuele regte ook vir ’n volk soos die Afrikaners voldoende is, verstaan glad nie bogenoemde republikeinse vryheidsidee nie. Trouens, die mensbeeld waarop die republikeinse gedagte rus, naamlik dat ons gemeenskapswesens is wat op ’n gesamentlike grondslag aan die openbare sake deelneem, val volledig buite hulle verwysingsraamwerk. ’n Blote beroep op regte – en die gevolglike juridifisering van die politieke lewe – is vir hulle voldoende.
Uiteraard beteken dit nie dat die tradisie die belangrikheid van ‘keusevryheid’ ontken het nie. Maar die keusevryheid van die individu is altyd weer ondergeskik geag aan wat deur die tradisie as goed, waar en skoon beskou is. Trouens, ’n mens kan praat van ’n goeie wisselwerking tussen individu en gemeenskap in die outyd: Sonder die gemeenskap was die individu nie moontlik nie, maar die gemeenskap is op sy beurt ook hernieu deur die skeppingskrag en ondernemingsgees van die individu.
Alhoewel die liberale vryheidsopvatting vandag dominant is, is die tradisionele vryheidsopvatting orals aanwesig waar protes teen die hegemonie van die bestaande orde aangeteken word; waar nuwe vorme van gemeenskaplike deelname, inspraak en saamwees opgesoek word; waar die strewe na die gemeenskaplike goed wakker gehou word. Sowel onder sogenaamde ‘linkse’ as ‘regse’ populistiese groeperinge kan dit raakgesien word.
3. Liberalisme en die moderne territoriale staat
Omdat die artikel nou reeds te lank is, sluit ons met ’n laaste eienskap van die liberale mensbeeld. Dit hou met die politieke en ekonomiese orde verband wat deur dié mensbeeld vooronderstel word.
Geen ander politieke orde pas so by die liberale mensbeeld as die moderne territoriale staat nie. Trouens, die staat wat Hobbes en Locke, grondlêers van die moderne liberalisme, in die vooruitsig gestel het, was juis die moderne territoriale staat. Ons kan sê dat laasgenoemde ‘ontwerp’ is om aan die behoeftes van die moderne individu te voldoen.
Waarom? Ten diepste is die moderne liberale staat in wese niks anders as ’n kontrak tussen vryswewende individue nie. Laasgenoemde kontrak het ten doel om die ruimte vir die individu te skep waarbinne hy, nou onder die beskerming van die almagtige staat, ‘vrygestel’ word om sy lewe volgens sy eie individualistiese voorkeure in te rig.
Anders as wat dikwels gedink word, is dit daarom ook nie die individu wat die grootste historiese vyand van die territoriale staat is nie, maar eerder die gemeenskappe. Robert Nisbet het in sy onvergelyklike The Quest for Community die rede daarvoor gegee. Volgens Nisbet het die veelheid van gemeenskappe met hulle tussenliggende instellings (kerke, skole, dorpsrade, gilde, universiteite, ensovoorts) nog altyd in die pad van genoemde kontrak gestaan. Daarom moes hulle ook verwyder word.
Hoe het die liberale state te werk gegaan? Die antwoord daarop hou verband met die feit dat die state hulle onderskeie grondgebiede aan ’n soort kille en lewelose vorm van standaardisering onderwerp het. Ons kan ook sê dat die moderne state hulle onderskeie grondgebiede geometries ingedeel en so aan ’n abstrakte ruitpatroon onderwerp het. Waarom? Alhoewel dit ’n verwikkelde antwoord verg, hou dit verband met die feit dat die state met behulp van standaardisering daarvoor gesorg het dat die ruimte vir die individu vrygestel word waarbinne hy vrylik kon rondbeweeg. Kortom, in die geskiedenis van die moderne staat het standaardisering en individualisering hand aan hand geloop.
Alhoewel die proses van standaardisering om vanselfsprekende redes ook groot voordele gebring het, het gemeenskappe met hulle tradisies, tale en instellings in die pad daarvan gestaan. Daarom het die moderne liberale territoriale state ook uit hulle pad gegaan om die plekke en instellings van gemeenskappe te verwyder. Enigeen wat die geskiedenis van die territoriale state ken, sal weet dat dit presies is wat vanaf die 16de en 17de eeue in die moderne Europa gebeur het.
Kyk in hierdie verband na die wyse waarop die moderne liberale Engeland en Frankryk (vanaf die eerste dekades van die 16de eeu) ter wille van die standaardisering oorlog teen ’n groot hoeveelheid tale, kulture en tradisies binne hulle onderskeie grondgebiede aangeknoop het. In die proses het beide state onder meer van die meerderheidstale, naamlik Engels en Frans, gebruikgemaak om een standaard op alles af te dwing.
In Suid-Afrika voltrek dieselfde logika homself vandag. (Interessant dat apartheid-Suid-Afrika, anders as die territoriale state, juis die veelheid van tale erken het). In naam van ’n liberale verdraagsaamheid jeens die veelheid van tale (‘elf amptelike tale’) word Engels op ’n bruut onverdraagsame wyse as instrument gebruik om ’n abstrakte eenvormigheid op alles af te dwing. Die staat se teoretiese pretensie om elf amptelike tale te hê, word deur die praktyk van radikale eentaligheid ontbloot vir wat dit is, naamlik ’n liberale pretensie van openheid.
Gepraat van die kontradiksies van die liberalisme! Terwyl dit voorgee om ruimtes van vryheid te wees, voer dit ’n verstikkende onverdraagsaamheid jeens die gemeenskappe by die agterdeur in. Alhoewel verskeie state intussen aan die hand van federale beginsels inderdaad ruimtes vir ’n veelheid van gemeenskappe geskep het (dink maar aan Switserland, Spanje, België en Kanada), gee die Suid-Afrikaanse staat min blyke daarvan dat hy dit begryp. Inteendeel, die proses van standaardisering (een taal, een ideologie, een gesentraliseerde gesagstruktuur, ensovoorts) gaan onverpoosd voort.
Geen ander ekonomiese orde pas egter ook so goed by die liberale mensbeeld as die hedendaagse globale ekonomiese orde nie. Soos met die territoriale state poog die globale ekonomiese orde om die geheel – nou die ganse internasionale orde – aan ’n eenvormige standaard te onderwerp. Waarom?
Net soos met die territoriale staat gaan dit vir die globale ekonomiese orde oor die ambisie om ’n soort abstrakte ruimte te skep waarbinne die individu en hulle goedere vrylik oor die grense van gemeenskappe, kulture en tradisies kan beweeg. Indien hier nog enige vorm van erkenning jeens laasgenoemde kragte opgesluit lê, gaan dit slegs oor die mate waarin dit binne die ekonomiese logika van die orde betrek en daaraan dienstig gestel kan word.
Anders as wat dikwels gesê word, verteenwoordig die staatlike liberalisme vanuit hierdie perspektief beoordeel nie ’n alternatief op die globale orde nie. As daar van ’n verskil sprake is, is dit slegs kwantitatief van aard: ruimtelik gesproke is dit veel groter as die territoriale state. Ten diepste deel hulle egter dieselfde wil tot standaardisering en vyandskap teen die veelheid van gemeenskappe.
4. Steve Hofmeyr as kontra-liberale krag
Bogenoemde opmerkings bring ons by Steve Hofmeyr. Nou, die private persoon is nie hier ter sake nie. In weerwil van die hedendaagse obsessie met die private lewe van sterre is laasgenoemde eintlik die mins interessante aspek van enige mens, Steve ingesluit. Trouens, net ’n wêreld wat deur verveling bedwelmd is, kan die private lewe van sterre boeiend vind.
Steve Hofmeyr
Nee, ek wil eerder teen die agtergrond van bogenoemde opmerkings oor die liberalisme na die openbare Steve Hofmeyr verwys. Wat verteenwoordig Steve? My vermoede is dat die openbare aandag op die private die aandag aflei van ’n betekenisvolle openbare feit, naamlik dat Hofmeyr ’n belangrike – miskien selfs die heel belangrikste – kontra-liberale krag onder Afrikaners verteenwoordig. Waarna verwys ek?
Een van die boeiendste verskynsels in die politieke lewe vandag is die populistiese bewegings vanuit sowel ‘links’ as ‘regs’. In verskeie Wes-Europese lande geniet hulle – tot groot ontsteltenis van die liberale establishement – reeds ’n beduidende deel van die kiesersteun. Gebore uit ’n diepe ontevredenheid met die liberale staat en die globale ekonomiese orde, maak talle populistiese groepe vandag juis vir groter vorme van deelname en inspraak in eie sake voorspraak.
In aansluiting by die uiteensetting hierbo, die nuwe populisme word gevoed deur anti-liberale oortuigings, en in die besonder deur die idee dat die reduksie van ons as mense tot blote individue nie voldoende is nie. Ons is in die eerste plek gemeenskapswesens wat selfstandig oor ons eie sake wil besluit, lui sy boodskap.
Geen wonder dat die populisme so negatief deur die liberale establishment (en in die besonder deur liberale intellektuele, die ‘voorhoede’ van die status quo) ontvang word nie. Laasgenoemde weet bykans instinktief (as hulle nog ’n instink het), dat die populisme ’n wesenlike gevaar vir hulle inhou. In die besonder daag die nuwe populisme die antropologiese, politieke en ekonomiese vooronderstellings van die orde uit. Kortom, dit stel ’n era anderkant liberale staat en ekonomie in die vooruitsig, ’n era waarin gemeenskappe tot hulle reg kan kom.
Steve Hofmeyr moet vanuit hierdie konteks verstaan word. Soos waarskynlik geen ander figuur onder Afrikaners nie versinnebeeld hy die wete dat ons as volk, kultuur-gemeenskap of groep deur die liberale orde met sy dwang tot standaardisering uitgesluit word; dat ons geen sinvolle inspraak in sake het wat vir ons van belang is nie; dat ons deur die bestaande ordes tot ’n posisie van radikale onmag gereduseer word;
En soos in die nuwe populistiese bewegings wêreldwyd besef Hofmeyr dat indien die eie gemeenskap nie by wyse van protes van homself laat hoor nie, die staatlike orde eenvoudig sy wil tot standaardisering roekeloos sal deurvoer. Teenoor die abstrakte wêreld van staat en ekonomie word daarom ook die partikuliere gemeenskap, die spesifieke plek, die besonder instelling geplaas. Deur hierdie dinge op te eis, kan die tirannieke abstraksie wat die ordes is, weggedruk en weer ruimtes vir kollektiewe vryhede oopgemaak word.
Kortom, ten grondslag van die populistiese Hofmeyr lê die gedagte dat gemeenskappe ruimtes sal moet oopmaak tussen die staat en die individu waar gemeenskappe ’n gemeenskaplike lewe kan voer; waar hulle selfstandig oor hulself kan besluit, en vanwaar hulle op ’n sinvolle wyse kontinuïteit aan hulself sal kan gee.
Geen wonder dat Hofmeyr met soveel agterdog deur die media bejeën word (of die aandag dikwels weg van die openbare sake na sy persoonlike lewe verplaas word) nie. In die populistiese kragte wat hy beliggaam, lê ’n enorme uitdaging vir die bestaande kontrak opgesluit.
In die hart van die argument teen die populisme staan die gedagte dat dit ‘onverdraagsaam’ is (hoor wie praat!). In der waarheid word die populisme gevoed deur die gedagte van ’n plurale demokrasie waarin die veelheid erken en nie aan die verstikkende dwang tot eenvormigheid onderwerp word nie.
Laasgenoemde is ook van Hofmeyr waar. In weerwil van die dikwels moedswillige indruk wat van hom geskep word asof hy ’n soort onverdraagsame politiek voorstaan, word die ‘Hofmeyr-populisme’ deur radikale demokratiese – of pluraal-demokratiese – impulse gemotiveer. In hierdie sin verteenwoordig hy ’n alternatief op sowel die era van apartheid as die bestaande liberale hegemonie.
Enigeen wat soek na alternatiewe op die liberale bedeling van vandag, moet in die populisme bemoedigende tekens van ’n alternatief raaksien. Dit is ook waar van Steve Hofmeyr en die populistiese kragte wat hy beliggaam.
Indonesiërs het dié week van woede gekook oor die verraad van hul bure ná onthullings dat Australië se Seine-direktoraat die selfone van senior Indonesiese regeringsamptenare , insluitend President Susilo Bambang Yudhoyono afgeluister het, en die ergste van alles, sy vrou, Ani Yudhoyono s’n ook.
Aussie-intelligensie het op die einste senior Indonesiese kabinetsamptenare gespioeneer wat, soos die president, as stoere bondgenote van die VSA en Australië beskou word.
Hierdie elektroniese spioenasie is deel van die nou berugte geheime Vyf Oë wat die gesamentlike intelligensie insameling tussen die VSA, Brittanje, Kanada, Australië en Nieu-Seeland behels: Die sogenaamde “witman se spioenasie-agentskap” wat Suid-Afrika uitsluit.
Vyf Oë word gelei deur die Amerikaanse National Security Agency, en sy ander Anglelsaksiese lede tree as lojale junior vennote op wat op hul eie mense spioeneer. Hoeveel van hulle plaaslike data oorgedra word na Washington is onbekend, maar dit is waarskynlik aansienlik.
Dit is onlangs aan die lig gebring dat die Amerikaanse NSA inligting oor Amerikaanse burgers aan ‘n ander bondgenoot, Israel, beskikbaar stel.
Die redakteur van die Jakarta Post, Meidyatama Suryodiningrat, voel diep beledig en persoonlik geraak deur die onthullings.
Indonesië en Australië werk al vir die afgelope twintig jaar aan ‘n beter verhouding.
Indonesië, met 248.000.000 mense is die naaste aan Australië se 23 miljoen mense, ‘n feit wat dikwels die hoogs xenofobiese Aussies senuweeagtig maak.
Australië se verdediging word deesdae deur Washington gewaarborg wat binnekort gestasioneer sal wees in die noorde van Australië, naby Indonesië.
Hierdie militêre besluit om Amerikaanse Seesoldate in die noorde te plaas hou min voordeel vir Australië in en het alleen daarvoor gesorg dat Indonesië en China op hul hoede gestel is.
Australië se nuwe konserwatiewe eerste minister, Tony Abbot, se arrogante houding nadat dit bekend geraak het dat hy op sy vriende spioeneer, het betrekkinge verder versuur.
President Yudhoyono het sy ambassadeur in Australië beveel om terug te keer, en talle gesamentlike projekte met die Aussies opgeskort.
Die belangrikste is dat Australië die betaling aan Indonesië van US$ 608.700.000 jaarliks as ‘n “hulpmiddel” om desperate asielsoekers uit die Midde-Ooste en Afghanistan na Australië te stop, opgeskort is. Dit sal egter net Australië ten nadele strek, alhoewel konserwatiewe kiesers verheug is.
Australië sukkel reeds met hul beeld weens hul “hartelose beleid” teenoor nie-blanke vlugtelinge. Omdat die land nog nooit daarin kon slaag om ‘n eie buitelandse beleid te formuleer wat onafhanklik van die Statebond is nie, sal hulle voortaan waarskynlik verder sukkel.
Kritici sê Australië is ‘n apartheidstaat. Terwyl Suid-Afrika deurentyd aangeval is, het Australië in dieselfde tyd ‘n uitsluitlik wit immigrasiebeleid nagestreef.
Intussen kry die VSA die skuld van Indonesiërs vir AussieGate. Amerika het groot beleggings in die hulpbronryke Indonesië, die wêreld se vierde mees bevolkte land met die grootste Moslembevolking.
Amerikaanse meningsvormers het uitgevaar teen Australië dat hulle nalatig en teenproduktief was om so ‘n belangrike bondgenoot en groeiende ekonomiese reus te antagoniseer en te beledig.
En dit alles net om uit te vind dat die president rugpyn het en sy vrou ‘n argument met haar dogter.
Die polisie het Suid-Afrika se grootste kinderpornografienetwerk glo oopgevlek na die arrestasie van die ses mense. Die netwerk het skakels na Kanada, die Verenigde Koninkryk, die VSA, Wes-Europa en Australasië.
‘n Skoolhoof (wat ook ‘n bekroonde skrywer is), twee onderwysers, ‘n prokureur, ‘n dermatoloog en sakemanne van regoor die land is in hegtenis geneem.
Die polisie ondersoek ‘n verdere 26 mense en meer arrestasies sal volg.
Die polisie-ondersoeke het seksuele uitbuiting van honderde kinders blootgelê.
In ‘n operasie wat ervare speurders beskryf as “siek”, word kinders so jonk as vyf ingespan om seks te hê met mekaar en volwassenes.
Hulle ondersoek tans of enige kinders uit Suid-Afrika betrokke is by die netwerk se bedrywighede.
Baie van die kinders ly ook onder uiterste vorme van geweld. Wetstoepassers ondersoek of enige van die kinders vermoor is.
Diegene na aan die ondersoek het aan The Times gesê dat die Suid-Afrikaanse polisie deur ‘n buitelandse polisiëringsagentskap, deur middel van Interpol, bygestaan is.
Daar is op rekenaars tydens klopjagte beslag gelê en die polisie het die adresse van honderde beweerde pedofiele van regoor die wêreld bekom.
Ervare plaaslike beamptes van verskillende eenhede het ‘n hoë-profiel-taakspan gevorm.
Onder toesig van die nasionale speurhoof is lasbriewe om huise, skole, regs-en mediese praktyke en besighede te deursoek, uitgereik.
Donderdag, het die polisie die hoof van ‘n elite-privaatskool in Nelspruit, Mpumalanga, ‘n onderwyser in Florida, wes van Johannesburg, ‘n onderwyser in Carletonville, ‘n Pretoriase dermatoloog, en ‘n senior regsbeampte in Noordwes vasgevat.
Huise in KwaZulu-Natal, Oos-Kaap, Wes-Kaap en die Vrystaat, is besoek en daar is beslag gelê op rekenaars, DVD’s, boeke, tydskrifte, rekenaargeheuestokkies, kameras, videokameras en ander digitale opneemtoestelle . Die 43-jarige skoolhoof is glo in besit gevind betrap van DVD’s van kinderpornografie. Hy is die ontvanger van ‘n nasionale letterkundeprys. ‘n Woordvoerder van die polisie luitenant-generaal Solomon Makgale het gesê almal wat in hegtenis geneem is, is mans. Diegene wat in hegtenis geneem is, het skakels na ‘n globale kinderpornosindikaat. – timeslive.co.za
Die probleem met blanke Suid-Afrikaners – kode vir Afrikaners – is dat hulle veralgemeen, verduidelik “politieke ontleder” en dosent, dr. Piet Croucamp, en hy sê dit sonder dat die lagwekkende ironie op enige waarneembare manier by hom registreer, en daar het ons dit, die woord, verkry vanuit die hoogte, per bromponie afgelewer, uitgedink onder ‘n kopdoek van die soort wat gewild is onder fiktiewe seerowers en kombuisbediendes.
Daar is nie ruimte vir ironie in sy uitsprake nie, nie soos hy dit sien nie, want, en hier’s die ding: Piet Croucamp is ‘n liberalis en liberaliste is ernstige mense, deurdronge soos hulle is met verontwaardiging en die vaste sekerheid oor wat ander mense moet doen. ‘n Liberale “politieke ontleder” is te verhewe om self aan politieke prosesse deel te neem – dit is vir die prole. Die goeie doktor is daar om kommentaar te lewer, baie soos ‘n bioloog wat opmerkings maak oor bakterieë wat hy deur ‘n mikroskoop dophou.
Piet Croucamp het baie raad vir die bakterieë. Hulle moet ‘n afkeer hê van segregasie, byvoorbeeld, maar daar is nie ‘n “ons” in sy “renons” nie, daarom gaan sy seun nie skool in Diepkloof nie, maar by Laerskool Louw Geldenhuys. So, as onse Piet eers begin veralgemeen oor blankes wat veralgemeen kan hy in die algemeen nie ophou om te veralgemeen nie.
Die algemene Afrikaner is in die algemeen te bang vir algemene dinge, beduie hy volgens ‘n berig in Beeld, aan ‘n AHI kongres. Self, lei ons af, is die kopdoekridder nie bang vir “Zuma en Malema, wat ná Mandela se dood gaan gebeur, die instroming van onwettige immigrante, nasionalisering en regstellende aksie” nie. Wat is daar nou te vrese aan die finale aftakeling van die ekonomie, swart-teen-swartburgeroorlog, swart-teen-witburgeroorlog, hongersnood en volksmoord? Mense wat teëstribbel om in hulle beddens vermoor te word, is gewoonweg kortsigtig. Hulle sien eenmaal nou maar net nie die “groot prentjie” nie.
Wat is hierdie “groot prentjie?” vra jy die liberalis. Hy weet nie, maar die groot prentjie is gewis belangrik en liberaliste het besitsreg daaroor. Een ding waarvan hulle ewe seker is, is dat blanke mense verkeerd is. Waaroor? Dit maak nie saak nie. Hulle is net verkeerd. En hoekom is hulle verkeerd? Want hulle is blank. Maklik.
Swart mense is “in die algemeen gematig en het gewone middelklasbehoeftes. Hulle ontwikkel weerstand teen swak landbestuur. Aktivisme verloor momentum.” Natuurlik, Dok, en dis hoekom tweederdes van hulle volgende jaar weer vir die ANC gaan stem, al daardie goeie gematigde swart middelklasmense.
“Die regse element onder wittes is waarskynlik groter as die linkse element onder swartes,” postuleer hy sonder om te blik of te bloos. Hy weet dit is só want hy het op sy eie al die blanke regses en al die swart linkses gaan tel en afgetrek en gemaal en gedeel. Of hy sou moes, as hy nie ‘n liberalis was nie, maar nou is hy een so hy mag veralgemeen. Niemand verwag in elk geval dat die liberalis hom aan waarheid en werklikheid sal steur nie.
Daar is darem wel uitsprake wat hy op statistiek baseer, soos byvoorbeeld dat ‘n vrou se kans statisties groter is om deur haar man vermoor te word as deur ‘n swart mens. Jip. Dis wat die doktor sê, en as die doktor so sê, hoe kan dit anders wees? So, kou weer aan hierdie brokkie: Meer vroue, blank en swart, word deur hulle blanke mans vermoor as wat in die – errr – algemeen deur swart mense vermoor word. Tyd het net nie toegelaat dat Croucamp vir die gehoor kon wys waar hy dié statistiek raakgeloop het nie. Boonop het ‘n blanke vrou die gerusstelling om te weet wanneer sy wel deur ‘n swart man vermoor word, dat dit darem nie deur haar man is nie.
Regstellende aksie, sê hy, en hy kan praat want hy is mos ‘n liberalis wat nie sy pos deur regstellende aksie verloor het nie, “berokken wit mense ook min skade”. Net 5,7% van hulle is werkloos (en dis vir die doeleindes van die gesprek onnodig om te noem dat honderdduisende van dié wat nie werkloos is nie in Australië, Nieu-Seeland, Kanada, die Midde-Ooste en Brittanje werk. Heeltemal onnodig.) Croucamp voel ook nie gelei om te meld dat die werklike roes van regstellende aksie te sien is in slaggate, riool in die strate, grootskaalse vermorsing, ineenstorting van gesondheidsdienste en onderwys en veiligheidsmagte en staatsinstellings en die mynbedryf en landbou en die omgewing en… wel, eintlik alles nie.
Maar bekommer julle nie, kleingelowiges, is sy oproep. Al wat moet gebeur, is dat “wit grond”, (natuurlik nie syne nie, want hy is ‘n liberalis) oorgedra moet word na swart mense en húlle sal dan in een helder oomblik ontkiem in woekerende, wakker, winsspuwende entrepreneurs en – siemsallabiem! – die ekonomie is gered en daar is oor die algemeen vrede in die algemene Republiek van Paradyszanië.
“Moenie vir die regering wag om dinge te laat gebeur nie,” sê hy. “Maak byvoorbeeld self voorsiening vir jou kind se onderwys.” Soos vermoedelik om hulle Laerskool Louw Geldenhuys toe te stuur.
“Tegnologie,” gaan hy voort, “gaan die verskil maak tussen arm en ryk.” En natuurlik, as daar ‘n verskil tussen arm en ryk is, weet ons, moet blankes vir swart mense geld gee.
Hy reken “ons land het tegniese mense met sakevaardighede nodig”. Dis nou mense heeltemal anders as kopdoekdraende “politieke ontleders”. Nou is dit ook so dat ons sulke “tegniese mense met sakevaardighede” het. Weens regstellende aksie werk hulle in Auckland, Sydney en Londen.
Volgens Croucamp, berig Beeld, is die “kleinsakesektor die antwoord om werkloosheid te bekamp”. En hiér het hy gerusstellende nuus: “Die staat besef nou dat mense wat die ekonomie kan bevorder, in staat gestel moet word om meer werk te skep.” Ja, wel, nou, kyk, as die ANC so besluit sal dit mos so wees. Waarvoor is die algemene blanke dan so in die algemeen bekommerd?
Maar miskien is Croucamp tóg reg. Miskien kan daar iets goeds selfs uit regstellende aksie kom. Laat UJ gerus ‘n swarte as “politieke ontleder” en dosent aanstel – met of sonder ‘n jaarlikse kopdoektoelaag. Die vet weet, hy kan nie swakker wees as die huidige aanstelling nie – oor die algemeen.
Kanada se Ontario-provinsie het gister ‘n regsgeding teen ‘n groep tabakmaatskappye aanhangig gemaak om naastenby R400-miljard in tabakverwante gesondheidsorgonkonstes te herwin.
Die eis verteenwoordig die gesondheidsorgkostes wat deur Ontario se belastingbetalers sedert 1995 gedra is, sê die Ontario-regering in ‘n verklaring.
Die tabakmaatskappye, wat nie deur die provinsie geïdentifiseer is nie, het tot 60 dae om ‘n verweer in te dien.
Die geding volg op die passering van ‘n wet vroeër vanjaar wat die regte van betrokke partye verklaar en stel ‘n wettige raamwerk vir sulke aksies daar.
Kanada se hooggeregshof het in 2005 beveel dat provinsies tabakmaatskappye kan vervolg om gesondheidskostes wat met tabakgebruik verbind is, te herwin.
Sedertdien het twee ander provinsies, Britse Columbië en Nieu Brunswick, tabakmaatskappye vervolg maar in weerwil van jare se hofverrigtinge en onderhandelinge, is nie een van die sake al opgeklaar nie.
” Ontario neem hiermee die volgende stap om belastingbetalers se dollars wat gebruik is om tabakverbonde siektes te beveg, terug te kry,” het Ontario se prokureurgeneraal, Chris Bentley, in ‘n verklaring gesê.
Volgens die regering is rook die nommer een oorsaak van voortydige dood en siekte in Ontario, en is verantwoordelik vir 13,000 sterftes per jaar.
Ek sien Afriforum wil ook nou op die Huntley-wa klim om te probeer munt slaan uit die beslissing van 'n Kanadese instansie wat glo "asiel" aan die man verleen het. Daar is ook mense hier op Praag wat sterk steun vir Huntley bepleit.
Dis 'n fout! Dit kan sleg boemerang.
Die vent is 'n tipiese Engelsman wat hier padgegee het toe die dinge begin skeefloop, maar nie verblyfreg in Kanada kon verkry nie. Hy het toe met 'n groot storie gekom van hoe bang hy vir sy lewe is. Ons weet amal hoe moontlik en waar dit wel kan wees, maar hy erken nou in koerantberigte dat hy nooit enige van die sewe gevalle waarin hy glo aangerand of beroof is by die polisie aanhangig gemaak het nie.
Om 'n skelm Engelsman nou te gebruik om steun vir Afrikaners te werf is nie alleen onaanvaarbaar nie, maar dit kan ons saak net kwaad doen.
Nee, ek het die Rapport nie gekoop nie, maar by my pa op die plot gekuier en nes sigarette is Rapport vir party mense 'n slegte ou gewoonte wat mens sukkel om af te leer.
Een volle bladsy word toe Sondag afgestaan aan artikels aangaande Brandon Huntley. Die sub-opskrif van die eerste artikel deur Marthinus van Vuuren lui, “Afriforum wil toetree, wys op ras-obsessie”. Dit laat dit met die eerste oogopslag vir die leser voorkom asof Afriforum 'n ras-obsessie veroorsaak deur hul toetrede tot die saak. Eers aan die heel einde blyk dit dat Afriforum wil toetree aangesien die ANK-adjunksekretarisgeneraal se kommentaar daarop was dat “rasse-aanvalle eerder andersom (wit teen swart) geskied.”
Die onderstaande artikel, ook geskryf deur Marthinus van Vuuren vra: “Kan Huntley se lot met die vlugtelinge s’n vergelyk word?” Daar word dan verskriklik op die las van Zimbabwiese asielsoekers ingegaan. Dit word so emosioneel aangebied dat as jy nie huil nie, moet jy rou uie en sout in jou oë smeer, die leser moet onmiddellik Huntley se vermeetelheid insien, hoe waag 'n blanke man om op beskerming aanspraak te maak terwyl swartes onder misdaad en verdrukking onder hul eie mense lei. Dit is nie net transformasie en die uiteindelike herverdeling van rykdom wat blankes moet kry nie maar ook 'n meer regverdige herverdeling van roof, moord en verkragting, en verdoem is die een wat hom teensit, wel…volgens Rapport in elk geval.
Die derde artikel weereens deur Marthinus van Vuuren, kondig dan hardop aan: “Misdaad word selde deur velkleur gemotiveer”. Hierin word die eienaardige standpunt gestel dat die meeste rassistiese aanmerkings tydens aanvalle slegs die misdadiger se terugsnou is op 'n rassistiese aanmerking deur die slagoffer is, m.a.w. as 'n swartman jou verkrag en jy noem hom 'n hond of enige ander belediging, is jý die oorsaak van sy rassisme. Laat my toe om dit in Rapport se terme aan te bied, as jy verkrag word, bly net stil anders is jy n rassis. Dan word komm. Bheki Cele, nasionale polisiehoof as finale bewys aangehaal “…misdadigers is nie rasgedrewe nie". En daar is hy – Die Klinkklare Finale Bewys, waarvoor hoef blankes dan nog verdomp te wonder, Bheki Cele het dan so gesê, man.
Laastens word sogenaamde statistieke gegee nog steeds deur Marthinus van Vuuren. Dis nie landswye statistieke nie, dis ook nie statistieke wat al die rasgroepe akkuraat uitbeeld nie, nee! Hy vergelyk Sandton en Alexandra: dit is sy statistiese steekproef om by sy werklikheid uit te kom. Interessant genoeg is daar by die grafiek 'n stille byskrif: “Soorte misdaad wat meer voorkom in Alexandra.” Goeie genade, wat het met die res van die data gebeur, miskien moet universiteite ernstig oorweging daaraan gee om statistiek as 'n verpligte vak vir joernaliste aan te bied in stede van etiek; duidelik mors hulle hul tyd met daarmee.
As Marthinus van Vuuren met 'n ou HNP “Bly Blank by Volk”-T-hempie en 'n ou republieksvlag in Alexandra afgelaai word en hy kom iets oor, is dit dan nie ook n statistiese bewys dat blankes geteiken word nie? Die mense van Alexandra kan immers nie teen sy herkoms en kultuur diskrimineer nie. Ek bedoel geensins dat ek kwade bedoelings teenoor die man het nie, maar probeer slegs die perversiteit van sy statistieke illustreer. 'n Mens wonder ook waarom dit vir Marthinus van Vuuren nodig was om drie verskillende artikels oor dieselfde onderwerp op dieselfde bladsy te hê, hy kon sy drek in een sin opsom: Jy is blank, dis jou skuld, kry vir jou.
Die waarheid staan soos volg: Die nodige statistieke bestaan eenvoudig nie; baie misdade word eenvoudig nie aangemeld nie, want dis n mors van tyd en emosies. Ek ken nie 'n enkele blanke persoon wat bereid is om 'n sensusvorm in te vul nie, a.g.v. vertrouensbreuk – want wie kry die data en waarvoor gebruik hulle dit?
Afriforum het dus twee keuses: hulle kan van regeringstatistiek probeer gebruik maak, of n webblad opstel en die volk vra om historiese misdade wat hulle ervaar het vanaf swartes daarop aan te meld, en dit dalk in kombinasie met regeringstatistiek te gebruik. Die statistiek moet ook per capita verwerk word as slegs een twintigste van alle moorde op blankes is en ons is 9% van die land se populasie, dan word ons teen dubbel die koers as swartes afgemaai. En al sou dit nie so blyk nie, kan daar nog steeds geredeneer word dat ons 'n ontmagtige minderheid is wat op beskerming geregtig is ongeag die historiese konteks, die beskerming van minderhede moet plaasvind voordat etniese suiwering plaasvind, nie ná die tyd nie. Die waarheid is dat alle misdaad en geweld oor die rasgrens as rassisme verklaar moet word, hoe kan dit wees, dat om iemand te beledig erger is as om vermoor te word?
Blankes word landuit gedryf en alhoewel ons nie in treintrokke na gaskamers vervoer word nie, is dit steeds etniese suiwering. Ek sal wil sien dat Brandon Huntley se saak suksesvol is; ek sal nie wil sien dat blankes nog vinniger landuit stroom nie, maar dit kan die nodige internasionale druk bring wat nodig is en in n mate het dit reeds daarin geslaag.
Julle het `n wye verskeidenheid onderwerpe en (seer) punte wat julle aanraak. Tog wil ek net vra vir versigtige optrede. Iemand noem dat Brandon Huntley nie werklik aangeval was nie, geen van sy gevalle is by die polisie aangemeld nie. Ons weet almal in watter haglike toestand ons land is.
Maak dus seker dat die regte saak ondersteun word. Die magte betrokke by Suid-Afrika se huidige situasie is nie net dié van "swart korrupsie en rasse suiwering" nie. Dit word net as aanmoediging gebruik om `n baie groter doel te bereik as die uitwissing van blanke Afrikaners.
Daar is groepe wat beslis slimmer is as die huidige regering, wat weet dat die Taal, Godsdiens en die Grond teer punte vir die blankes van Suid-Afrika is. En dit word doeltreffend teen ons gebruik. Ons land is ryk aan minerale wat reeds die oorsaak van `n oorlog teen die Britse regering was. Wat het verander? Amerika se inval in Irak, vir olie of uit menslikheid? Hoekom nie hier ook nie? Wat van Rusland en China, nie een van hulle sal omgee om in beheer van Suid-Afrika te wees nie.
Dit is eerder tyd dat ons (ongeag kleur) saamstaan en die verwronge element uit ons samelewing verwyder. Dit is immers nie net blankes wat wreed vermoor en verkrag word nie.
Brandon Huntley, die Suid-Afrikaner wat vlugtelingstatus in Kanada toegeken is, het nie een van die sewe keer wat hy na bewering by sy huis aangeval is, ‘n saak by die polisie gemaak nie.
Volgens die koerant, The Star, het Huntley nooit die aanvalle aan die polisie gerapporteer nie.
Huntley het aan Kanada se immigrasieamptenare gesê dat swart mense hom sewe verskillende geleenthede in sy huis aangeval het en dat wit mense nie veilig is in Suid-Afrika nie.
‘Ek het die publiek se oë oopgemaak oor wat aangaan”, het Huntley aan The Star gesê.
Huntley het gesê hy sal weier om met Suid-Afrikaanse owerhede oor die saak te gesels.
Kanadese owerhede het vlugtelingstatus aan Huntley toegeken sonder dat Suid-Afrika se regering gevra is om enige insette oor die saak te lewer.
William Davis, die hoof van die paneel wat die besluit gemaak het, het gesê Huntley is ‘n slagoffer as gevolg van sy ras.
"Die bewyse toon die land en polisie se afsydigheid en onvermoë om wit Suid-Afrikaners teen misdaad van swart Afrikane te beskerm“, het Davis gesê.
Ronnie Mamoepa, ‘n woordvoerder vir binnelandse sake, het gesê die besluit is gebaseer op absolute onsin en die ANC het dit as rassisme verklaar.